South Africa: South Gauteng High Court, Johannesburg Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: South Gauteng High Court, Johannesburg >> 2010 >> [2010] ZAGPJHC 177

| Noteup | LawCite

S v Smith and Another (CC 18/10) [2010] ZAGPJHC 177 (4 November 2010)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA


(Rondgaande Plaaslike Afdeling vir die Oostelike Rondgang Distrik)





Saaknr. CC 18/10

Date:04/11/2010



In die saak van:


DIE STAAT


versus



BERNARDUS EDWARD SMITH en CINDY ANNE SNYMAN




UITSPRAAK

_

MEYER, R


[1] Beskuldigde nr 1, Mnr Bernardus Edward Smith, en beskuldigde nr 2, Me Cindy Snyman, staan elk tereg op ‘n aanklag van moord (aanklag 1) en ‘n aanklag van roof met verswarende omstandighede soos omskryf in artikel 1 van die Strafproseswet Nr 51 van 1977 (aanklag 2). Dit word in die akte van beskuldiging beweer dat die beskuldigdes op of omtrent 3 tot 4 November 2009 en te of naby Beyerstraat, Ermelo, Johannes Gerhardus Snyman (‘die oorledene’) wederregtelik en opsetlik gedood het en ook dat hulle hom wederregtelik en opsetlik aangerand het en met geweld ‘n Samsung E250 selfoon, wat sy eiendom of in sy regmatige besit was, uit sy besit geneem het.

[2] Die beskuldigdes het aan die ten laste gelegde misdrywe onskuldig gepleit. Beskuldigde nr 1 het egter ‘n pleit van skuldig aan aanranding aangebied, maar sodanige pleit was vir die staat onaanvaarbaar. Die beskuldigdes het verkies om verklarings te doen wat die basisse van hulle verdediging uiteensit. Hulle pleitverduidelikings is beliggaam in skriftelike bekentenisse wat hulle op 8 November 2009 voor ‘n landdros afgelê het (bewysstukke ‘A’ en ‘B’).

[3] Die beskuldigdes het formele erkennings in terme van art 220 van die Strafproseswet gemaak. Hulle het die oorledene se identiteit erken. Beskuldigde nr 2 het erken dat die oorledene op die datum en plek in die akte van beskuldiging gemeld gesterf het as gevolg van beserings wat hy opgedoen het en dat hy, vanaf die toedien van die beserings, tot sy liggaam op 5 November 2009 nadoods ondersoek is deur Dr Anthonie Kraft, geen verdere beserings opgedoen het nie. Die korrektheid van die feite en bevindings soos genotuleer tydens die lykskouing is ook erken (bewysstuk ‘D’). Die verdere erkennings het betrekking op ‘n foto-album van die toneel en sleutel daartoe (bewysstuk ‘E’) en ‘n foto album van die lykskouing (bewysstuk ‘F’).

[4] Dit is gepas om ter aanvang die verhoudings en verwantskappe tussen die beskuldigdes onderling en tussen hulle en die staatsgetuies uit te lig. Beskuldigde nr 2 is ‘n 24-jarige vrou en sy was getroud met die oorledene ten tye van sy dood. Hulle het twee kinders, ‘n seuntjie van vier en ‘n dogtertjie van drie jaar oud. Die staatsgetuie, Me Veronica Steyn (‘Veronica’), is tans 18 jaar oud. Sy het ‘n paar weke voor die oorledene se dood by hom en beskuldigde nr 2 ingetrek nadat sy ‘n uitval met haar pa gehad het. Haar ma woon in Australië. Haar getuienis dat sy vir beskuldigde nr 2 ken sedert sy ‘n dogtertjie van ongeveer 9 jaar oud was, was nie in geskil geplaas toe sy kruisondervra was nie. ‘n Redelike afleiding uit die getuienis is dat sy en beskuldigde nr 2 ook baie dinge saamgedoen het gedurende die tyd wat Veronica by hulle ingewoon het. Die oorledene, wat 31 jaar oud was ten tye van sy dood, was vir haar soos ‘n pa. Sy het nie gewerk nie en die oorledene en beskuldigde nr 2 het na haar omgesien. Daar is vier woonstelle op die perseel waar die oorledene, sy gesin en Veronica ten tye van sy dood gewoon het. Die staatsgetuie, Mnr Lucas van der Schyff (‘Lucas’), het in een van die ander woonstelle op die perseel gewoon. Hy het die oorledene en sy gesin redelik goed geken en hulle was gereeld saam. Lucas en Veronica het gedurende November 2009 ‘n verhouding met mekaar gehad. Die staatsgetuie, Mnr Johan Stapelberg (‘Stapes’), is 24 jaar oud. Hy en beskuldigde nr 1 het mekaar sowat vier maande geken voor die dood van die oorledene. Hulle was baie goeie vriende. Beskuldigde no 1 het dikwels by Stapes oorgebly vir selfs langer as ‘n week en ook andersom. Onder kruisverhoor het beskuldigde nr 1 getuig dat hy en Stapes ‘alles saamgedoen het’ en ter uitbreiding daarvan het hy genoem dat hulle onder andere saam motorfiets gery en saam uitgegaan het. Beskuldigde nr 2 en Veronica het beskuldigde nr 1 en Stapes Vrydagaand, 31 Oktober 2009, ontmoet. Hierdie ontmoeting en die daaropvolgende gebeurtenisse het veroorsaak dat die twee beskuldigdes teregstaan op die klagtes vervat in die akte van beskuldiging. Beskuldigde nr 1 was ook bevriend met ene Chantel. Hulle vriendskap het daartoe gelei dat beskuldigde nr 1 en die staatsgetuie, Mnr Eugene Ahlfeldt (‘Eugene’), wie op daardie stadium in ‘n verhouding met Chantel betrokke was, mekaar sowat twee tot drie weke voor die dood van die oorledene leer ken het waarna beskuldigde nr 1 gereeld by Eugene gaan kuier het. Eugene en die staatsgetuie Veronica het voorheen ook ‘n verhouding van korte duur gehad. Dr Anthonie Kraft praktiseer as mediese dokter reeds vir die afgelope 30 jaar en as patoloog vir die afgelope 25 jaar. Hy, soos wat ek reeds gemeld het, het die oorledene nadoods ondersoek. Kaptein Schmulian is die ondersoekbeampte in hierdie saak.

[5] Dit is gemenesaak dat beskuldigde nr 2 en die oorledene Vrydagaand, 31 Oktober 2009, ‘n uitval gehad het. Veronica het getuig dat die rede vir die uitval was dat sy en beskuldigde nr 2 na ‘n vermaaklikheidsplek genaamd Rebels wou gaan om te dans en die oorledene daarteen kapsie gemaak het. Beskuldigde nr 2 daarteenoor het getuig dat sy nie saam met Veronica na Rebels wou gaan nie, maar dat die oorledene aangedring het dat sy gaan omdat hy nie wou hê dat Veronica alleen moes stap nie. Dit, volgens haar, was die rede vir die woordewisseling tussen haar en die oorledene. Die uiteinde was dat beskuldigde nr 2 en Veronica wel saam uitgegaan het. Veronica het getuig dat beskuldigde nr 2 haar onderweg na Rebels vertel het dat die oorledene in haar pad was en dat sy van hom wou skei, maar dat sy bang was dat sy hulle twee kinders in die proses sou verloor. Sy het Veronica ook vertel van ‘n buite-egtelike verhouding tussen haar en ‘n buurman, ene Michael. Beskuldigde nr 2 het ontken dat sy Veronica van so ‘n buite-egtelike verhouding vertel het of dat sy een gehad het. Veronica se getuienis dat hulle so teen middernag by Rebels opgedaag het en daar gebly het tot sluitingstyd, wat so teen 2:00 vm was, was nie in geskil geplaas nie. Beskuldigde nr 2 het nietemin getuig dat hulle so om en by 10:00 nm by Rebels opgedaag het en dat hulle weer so teen middernag of 1 uur vm daar weg was.

[6] Stapes en beskuldigde nr 1 het getuig dat hulle dié Vrydagaand ook by Rebels was. Veronica was nie seker of beskuldigde nr 1 en beskuldigde nr 2 mekaar daar ontmoet het nie. Veronica het met haar eie vriende gekuier. Dit het Stapes ook bevestig. Stapes het getuig dat hy reeds by Rebels voorgestel is aan beskuldigde nr 2 en aan Veronica. Hy het opgemerk dat beskuldigde nr 1 en beskuldigde nr 2 die heeltyd saam was en dat hulle ook saamgedans het. Beskuldigde nr 1 het ook bevestig dat hy en beskuldigde nr 2 mekaar by Rebels ontmoet het. Hy het egter ontken dat hulle saamgedans het en het getuig dat hulle net oor motorfietse gesels het. Sy getuienis in hierdie verband is teenstrydig met ‘n stelling wat namens hom onder kruisverhoor aan Veronica gemaak is dat hy en beskuldigde nr 2 mekaar eers later by ‘n na-geselligheid (die sogenaamde ‘after-party') ontmoet het. Beskuldigde nr 2 het getuig dat sy nie beskuldigde nr 1 of Stapes by Rebels ontmoet of gesien het nie. Sy het hulle eers by die na-geselligheid ontmoet.

[7] ‘n Klomp mense gaan na die na-geselligheid wanneer Rebels so teen 2:00 vm op ‘n Saterdagoggend sluit. Op hierdie geleentheid was die na-geselligheid in die buitelug by ‘n plaaslike dam genaamd ‘Petdam’. Daar is ook ‘n vermaaklikheidsplek by name ‘Upstairs’ net langs Petdam. Veronica het getuig dat beskuldigde nr 2 begerig was om die na-geselligheid by te woon. Hulle was eers na Upstairs en daarvandaan na ‘n braaiplek by Petdam waar hulle die na-geselligheid gevind het. Veronica het nie lus gehad om te gaan nie. Dit was egter namens beskuldigde nr 2 aan Veronica gestel dat dit sy was wat aangedring het om te gaan. Beskuldigde nr 2 het ook dan getuig dat sy die plekke nie geken het nie en dat sy Veronica vergesel het om te ‘... gaan kyk.’ Veronica se getuienis dat sy swanger was, dat sy moeg was, dat sy koud gekry het en dat sy vir hulle ‘n geleentheid huistoe gereël het terwyl hulle by Petdam was, maar dat beskuldigde nr 2 nie wou huistoe gaan nie, was egter nie in geskil geplaas nie.

[8] Dit is gemenesaak dat Stapes en beskuldigde nr 1 reeds by die na-geselligheid was toe beskuldigde nr 2 en Veronica daar opgedaag het. Stapes en beskuldigde nr 1 het ‘n vuur gemaak en beskuldigde nr 2 en Veronica het by hulle aangesluit. Die ontmoeting het begin met ‘n algemene gesprek wat oorgegaan het in een aangaande motorfietse. Stapes het ‘n wit motorfiets gery. Beskuldigde nr 2 het vertel dat haar pa ‘n wit motorfiets gehad het wat hy wou verkoop. Beskuldigde nr 1 het genoem dat hy ‘n motorfiets wou koop en hy wou by beskuldigde nr 2 weet of sy nie ‘n foto van haar pa se motorfiets vir hom kon wys nie. Sy het nie een gehad nie, maar het aangebied om haar pa se telefoonnommer vir hom te gee sodat hy hom self kon kontak. Beskuldigde nr 1 het egter verkies dat sy eerder haar nommer vir hom gee wat sy toe gedoen het.

[9] Veronica het op ‘n bankie gaan sit. Sy was, soos reeds gemeld, swanger en moeg. Sy het getuig dat die beskuldigdes en Stapes op ‘n stadium weggeraak het en dat sy na hulle gaan soek het. Sy het hulle sien stap uit ‘n bos wat sy onder kruisverhoor verduidelik het gewoon lang gras te wees. Sy het gesien hoe die beskuldigdes mekaar soen. Veronica het getuig dat sy beskuldigde nr 2 daaraan herinner het dat sy ‘n man en kinders het.

[10] Stapes het getuig dat die beskuldigdes na ‘n area met gras gegaan het wat sowat 20 - 30 meter van die vuur af weg was. Stapes het later bekommerd geraak en na hulle gaan soek. Hy het hulle gevind waar hulle in die gras teen ‘n walletjie by die dam sit en soen en vry. Hy het by hulle aangesluit. Dit was aan Stapes gestel onder kruisverhoor deur beskuldigde nr 1 se advokaat dat beskuldigde nr 2 op ‘n stadium op sy skoot gaan sit het en hy het geredelik toegegee dat dit bes moontlik gebeur het. Stapes het getuig dat beskuldigde nr 2 gedurende hierdie gesprek vertel het van haar man wat haar slaan en hulle kinders molesteer. Sy het Stapes gevra dat hy haar man vir haar ‘moet uithaal’. Sy het hom ook ‘n beloniging van R10, 000.00 daarvoor aangebied. Vir Stapes beteken ‘n versoek om iemand uit te haal eenvoudig ‘n versoek om die persoon te dood. Sy interpretasie is myns insiens juis. Stapes het die versoek en aanbod geweier. Stapes het getuig dat beskuldigde nr 1 die gesprek gehoor het maar dat hy net stilgebly het. Stapes het voorts getuig dat die drie van hulle daarna terug vuur toe gestap het en onderweg daarheen het beskuldigde nr 2 weer dieselfde versoek aan hom gerig en het hy dit nogmaals geweier.

[11] Stapes is onder kruisverhoor uitgevra waarom beskuldigde nr 2 hom kwansuis sou vra om haar man ‘uit te haal’ op die eerste geleentheid waarop sy hom ontmoet. Sy antwoord was dat beskuldigde nr 2 daarvan bewus was dat hy ‘n ‘biker’ of motorfietsryer is en dat die embleem van die motorfietsryklub ‘Max’ op sy baadjie te siene was. Hy het getuig dat Max een van die grootste motorfietsryklubs in Suid-Afrika is. Max - Secunda, waarvan hy ‘n lid was, het, aldus Stapes, ‘n reputasie dat hulle ‘rowwe ouens’ is en dat ‘... mense is bang vir bikers’.

[12] Tydens sy hoofgetuienis het beskuldigde nr 1 getuig dat beskuldigde nr 2 hom en Stapes eenkant toe geroep het. Sy het beskuldigde nr 1 gevra ‘... om haar man ‘n pak slae te gee want hy mishandel haar en die kinders.’ Hy het getuig dat die aangeleentheid net daar gelaat is en dat hulle verder gekuier het. Beskuldigde nr 2 en Veronica het volgens hom so teen 5:00 vm huistoe vertrek. Onder kruisverhoor het beskuldigde nr 1 met meer breedvoerige en teenstrydige weergawes na vore gekom. Hy het onder andere getuig dat beskuldigde nr 1, Stapes en hyself eenkant toe gestap het. Beskuldigde nr 2 het hulle vertel hoe haar man haar en hulle kinders mishandel en sy het hulle versoek om hom ‘n pak slae te gee. Beskuldigde nr 1 het omgedraai- weggeloop en beskuldigde nr 2 en Stapes alleen gelaat. Hy het na die vuur teruggekeer en Veronica gevra of beskuldigde nr 2 regtig so swaar kry soos wat sy vir hulle pas vertel het. Veronica het dit bevestig. Beskuldigde nr 1 het getuig dat hy gevolglik nie teenwoordig was tydens die gesprek wat beskuldigde nr 2 met Stapes gehad het nie en dat hy nie weet wat presies sy vir Stapes gevra het nie. Sy getuieinis in hierdie verband is natuurlik teenstrydig met dié van Stapes, wat nie in geskil geplaas is toe hy namens hom kruisondervra is nie. Die aard en inhoud van die versoek en die aanbod van ‘n geldelike teenprestasie waaroor Stapes getuig het is in geskil geplaas, maar nie sy getuienis dat beskuldigde nr 1 stom bygestaan het toe beskuldigde nr 2 ‘n versoek aan Stapes gerig het nie. Beskuldigde nr 1 het voorts getuig dat hy weer by beskuldigde nr 2 en Stapes gaan aansluit het nadat hy met Veronica by die vuur gesels het. Ook op hierdie punt het hy homself weerspreek deur te getuig dat Veronica hom vergesel het toe hy na Stapes en beskuldigde nr 2 teruggekeer het. Daar opgedaag, het Stapes hulle verlaat en terug vuur toe gegaan. In Stapes se afwesigheid het beskuldigde nr 2 en hy die aangeleentheid verder bespreek. Beskuldigde nr 2 het hom versoek om haar man ‘n pak slae te gee. Hy het geglo wat sy van haar man vertel het en die aangeleentheid is daar gelaat. Bo en behalwe die interne teenstrydighede in sy getuienis was die weergawe waarmee hy onder kruisverhoor vorendag gekom het nóg aan Veronica nóg aan Stapes gestel toe hulle kruisondervra was. Onder kruisverhoor het beskuldigde nr 1 eers toegegee dat daar wel ‘n vryery tussen hom en beskuldigde nr 2 kon wees soos wat Stapes getuig het, maar hierdie toegewing het hy onmiddelik weerspreek deur te getuig dat hy bloot vir haar ‘n soengroet gegee het.

[13] Beskuldigde nr 2 het getuig dat sy alleen gaan stap het na die aanvanklike gesprek rondom die vuur. Beskuldigde nr 1 het haar gevolg en die twee van hulle het oor Veronica gepraat. ‘n Rukkie later het Stapes opgedaag en gevra waar hulle was. Die drie van hulle het teruggestap vuur toe. Met hierdie weergawe het beskuldigde nr 2 eers vorendag gekom toe sy getuig het en dit was nie aan óf Veronica óf beskuldigde nr 1 gestel toe hulle kruisondervra was nie. Beskuldigde nr 2 het ook enige vryery of soenery tussen haar en beskuldigde nr 1 ontken en ook aangevoer dat beskuldigde nr 1 haar net ‘n soengroet op die wang gegee het. Sy het beide Stapes en beskuldigde nr 1 se weergawes ontken dat sy hulle van haar ongelukkige huwelik en van haar man se wandade vertel het, dat sy Stapes gevra het om haar man ‘uit te haal’, dat sy hom geld daarvoor aangebied het, of dat sy beskuldigde nr 1 versoek het om vir haar man ‘n pak slae te gee. Haar tydskatting was dat sy en Veronica so teen 4:00 – 4:30 vm terug huistoe gestap het en dat hulle so teen 5:00 vm tuis aangekom het. Dié van Veronica was so tussen 5 en 6 uur vm. Beskuldigde nr 1 en Veronica het beide getuig dat daar met hulle tuiskoms weer ‘n woordewisseling tussen beskuldigde nr 2 en die oorledene was omdat hulle toe eers tuisgekom het.

[14] Ek onderbreek die chronologie van die gebeure kortliks om na ‘n ander geskilpunt te verwys. Veronica het getuig dat beskuldigde nr 2 beskuldigde nr 1 ‘biker’ genoem het. Dit was namens beskuldigde nr 1 aan Veronica gestel dat hy nooit die bynaam ‘biker’ gehad het nie. Stapes het daarna getuig dat hy beskuldigde nr 1 geken het by name ‘biker’ en ook ‘appy’. Beskuldigde nr 1 het nie ‘n motorfiets gehad nie. Dit was op sy eie getuienis ‘n ‘probleem’ vir hom en hy wou graag een bekom het om dan ook ‘n volwaardige lid van die Max motorfietsryklub te wees. Stapes het getuig dat beskuldigde nr 1 onder die Max motorfietsryers bekend gestaan het as ‘biker’ en ook ‘appy’. Hy het nie ‘n motorfiets gehad het nie en daarom dan ook die bynaam ‘appy’. Teenstrydig met wat vroëer in die verhoor aan Veronica gestel is het beskuldigde nr 1 sy weergawe aangepas en is dit aan Stapes gestel dat ‘biker’ nie ‘n algemene bynaam van beskuldigde nr 1 was nie, maar dat dit slegs onder die Max motorfietsryers gebesig was.

[15] Beskuldigde nr 2 het getuig dat beskuldigde nr 1 haar Maandagoggend, 3 November 2009, geskakel het en dat die oorledene haar selfoon beantwoord en aan haar oorhandig het. Beskuldigde nr 1 wou weet of sy al met haar pa gepraat het en ‘n foto van die motorfiets gekry het. Sy het ontkennend geantwoord. Beskuldigde nr 2 het getuig dat hierdie oproep veroorsaak het dat die oorledene haar van ‘n buite-egtelike verhouding met beskuldigde nr 1 beskuldig het. Sy en die oorledene het die aangeleentheid uitgepraat nadat sy aan hom verduidelik het dat die man wat haar gebel het bloot navraag gedoen het oor haar pa se motorfiets. Beskuldigde nr 1 het onder kruisverhoor toegegee dat hy beskuldigde nr 2 Maandag, 3 November 2009, ‘geskakel’ het om uit te vind of sy ‘n foto van die motorfiets gekry het. Onder kruisverhoor van beskuldigde nr 2 namens beskuldigde nr 1 het dit geblyk dat, wat beskuldigde nr 1 skynbaar met sy toegewing bedoel het, was dat hy aan haar ‘n sms boodskap gestuur het. Ongeag daarvan of beskuldigde nr 1 haar gebel of aan haar ‘n sms boodskap gestuur het, het beskuldigde nr 2 se weergawe, dat haar man haar selfoon beantwoord het, eers tydens haar getuienis na vore gekom. Dit was nóg in haar pleitverduideliking beweer nóg was dit aan beskuldigde nr 1 gestel toe hy namens haar kruisondervra is.

[16] Veronica en beskuldigde nr 2 was dit eens dat hulle Dinsdagoggend, 4 November 2009, so teen 8:00 vm na die Dros restaurant gegaan het om werk te soek. Hulle moes ‘n bietjie wag vir die eienaar of bestuurder om op te daag. Beskuldigde nr 2 het vir Veronica gesê dat sy afgespreek het om ‘biker’ oftewel beskuldigde nr 1 om 9:00 vm by die Spur restaurant te ontmoet. Beskuldigde nr 2 het getuig dat beskuldigde nr 1 haar weer Dinsdagoggend insake haar pa se motorfiets gebel het en dat hy haar gevra het om hom by die Spur te ontmoet. Sy het glo ingestem omdat sy hom van-aangesig-tot-aangesig wou vra om haar nie weer te skakel nie oor die probleem wat die oorledene die vorige dag met sy oproep aan haar gehad het. Beskuldigde nr 1 het hierdie weergawe van beskuldigde nr 2 ontken en getuig dat dit sy was wat hom so teen 7 uur Dinsdagoggend gebel het en dat sy hom versoek het om haar 9:00 vm agter die Spur te ontmoet. Beskuldigde nr 1 se weergawe wat hierdie aspek aanbetref is meer waarskynlik as dié van beskuldigde nr 2. Indien dit wel beskuldigde nr 1 was wat beskuldigde nr 2 weer in verband met haar pa se motorfiets geskakel het en indien sy nie verdere oproepe van hom wou ontvang nie, kon sy dit tog eenvoudig telefonies gesê het, of kon sy hom versoek het om voortaan regstreeks met haar pa oor die motorfiets te kommunikeer. Onder kruisverhoor kon sy geen aanvaarbare verduideliking aanbied waarom sy ingestem het om ‘n man wat sy nouliks geken het agter die Spur te ontmoet nie. Verder het sy en die oorledene die aangeleentheid op haar eie weergawe tog uitgepraat nadat sy aan die oorledene verduidelik het dat die oproep ‘n navraag oor haar pa se motorfiets was. Waarom dit vir beskuldigde nr 1 nodig was om haar agter die Spur te ontmoet is vir my duister. Uit wat volg blyk dit dat sy egter ‘n rede gehad het waarom sy hom sou wou ontmoet het.

[17] Dit is gemenesaak dat Veronica beskuldigde nr 2 na die Spur vergesel het. Veronica het getuig dat onderweg daarheen het beskuldigde nr 2 haar vertel dat sy ‘moeg’ was vir die oorledene en dat sy iemand gevind het om hom ‘dood te maak’. Hierdie beweerde mededeling aan Veronica was deur beskuldigde nr 2 ontken.

[18] Veronica het getuig dat beskuldigde nr 1 en beskuldigde nr 2 buite die Spur en in haar teenwoordigheid beplan en afgespreek het om die oorledene dood te maak. Beskuldigde nr 2 se uitgesproke woorde aan beskuldigde nr 1 was ‘maak dit stadig en pynvol.’ Die beskuldigdes het afgespreek dat die oorledene daardie aand doodgemaak sou word. Die oorledene was werkloos en het werk gesoek. Veronica het getuig dat beskuldigde nr 2 vorendag gekom het met die idee om die oorledene te laat uitnooi vir ‘n werksonderhoud wat sogenaamd daardie aand sou plaasvind in die industriële gebied van Ermelo voor ‘n besigheid bekend as ‘Leaders’. Die afgespreekte plan was dat beskuldigde nr 1 hom daar sou inwag en doodmaak. Veronica was terstond betrek. Sy is deur beskuldigde nr 2 aangesê om die oorledene daar en dan te skakel, wat sy dan ook gedoen het met beskuldigde nr 2 se selfoon, wat sy aan Veronica oorhandig het. Veronica het vir die oorledene gesê ‘...hier is ‘n man wat vir jou kan werk gee’ en die selfoon aan beskuldigde nr 1 oorhandig. Hy het gesê dat hy die oorledene slegs daardie aand kon ontmoet aangesien hy Pretoria toe moes gaan, dat hy hom om 8 uur nm by ‘Leaders’ sou ontmoet en dat die oorledene sy curriculum vitae moes saambring. Dié reëling het die oorledene klaarblyklik gepas.

[19] Beskuldigde nr 2 het getuig dat by die Spur aangekom het beskuldigde nr 1 reeds buite gewag. Sy het hom gevra om haar nie weer te kontak nie omdat sy en die oorledene ‘n rusie gehad het oor sy oproep en dat die oorledene haar beskuldig het van ‘n buite-egtelike verhouding met hom. Sy het hom ook vertel dat die oorledene haar geslaan het, dat hy nie juis lief was vir hulle kinders nie, dat hy hulle verstoot en dat hy hulle dogtertjie molesteer. Beskuldigde nr 1 se reaksie was dat ‘so ‘n person moet ‘n les geleer word.’ Beskuldigde nr 2 het saamgestem. Die plan wat hulle toe beraam het was dat beskuldigde nr 1 die oorledene daardie aand ‘‘n goeie pak slae’ sou gee. Beskuldigde nr 1 het vir beskuldigde nr 2 gesê dat haar man op soek was na werk. Hierna het Veronica, aldus beskuldigde nr 2, al die reëlings eiehandig oorgeneem. Veronica het op eie inisiatief beskuldigde nr 2 se selfoon gevat en die oorledene daarmee geskakel. Veronica het vir die oorledene gesê dat sy vir hom werk gekry het. Sy het voorts vir hom gesê dat die voornemende werkgewer hom net daardie aand kon spreek of anders eers oor ‘n paar dae. Daarop het Veronica die selfoon aan beskuldigde nr 1 oorhandig en hy het bevestig dat hy die oorledene net daardie aand te woord kon staan of anders op ‘n ander dag. ‘n Werksonderhoud daardie aand het die oorledene klaarblyklik gepas. Veronica het beskuldigde nr 1 gevra of hy weet waar die ‘dieseldepot’ was wat hy bevestig het en sy het onderneem om hom te laat weet waar hy en die oorledene mekaar sou ontmoet. Ek moet byvoeg dat die dieseldepot ook in die industriële gebied van Ermelo geleë is. Beskuldigde nr 2 het getuig dat sy geneë was met die plan. In haar verklaring aan ‘n landdros wat ter aanvang van hierdie verhoor as haar pleitverduideliking aangebied is, het beskuldigde nr 2 nóg Veronica daarvan beskuldig dat die wyse waarop die oorledene uitgelok sou word na die beoogde ontmoeting tussen hom en beskuldigde nr 1 haar geesteskind was, nóg het sy haar daarvan beskuldig dat sy terstond al die reëlings betreffende die beplande aanval op die oorledene oorgeneem en op eie inisiatief getref het.

[20] Beskuldigde nr 1 se getuienis aangaande die ontmoeting by die Spur is dat beskuldigde nr 2 en Veronica hom gevra het om die oorledene ‘n pak slae te gee. Die beplanning aldus hom was deur beskuldigde nr 2 en Veronica gedoen. In sy verklaring aan ‘n landdros, wat ook ter aanvang van hierdie verhoor as sy pleitverduideliking aangebied is, het hy ook nie Veronica daarvan beskuldig dat sy óf by die versoek om die oorledene aan te val óf by die beplanning daarvan betrokke was nie. Beskuldigde nr 1 was dit ook eens dat Veronica die oorledene gebel het. Hy het getuig dat beskuldigde nr 2 onderneem het om vir hom ‘n foto van die oorledene te stuur, want hy het nie geweet hoe die oorledene lyk nie. Sy getuienis in hierdie opsig was nie in geskil geplaas nie. Beskuldigde nr 1 het getuig dat beskuldigde nr 2 hom ook gevra het om ‘n foto te neem van hoe haar man uitsien nadat hy hom ‘n pak slae gegee het en om dit aan haar te stuur. Sy getuienis in hierdie opsig was ook nie deur beskuldigde nr 2 in geskil geplaas toe hy namens haar kruisondervra was nie. Tydens haar getuienis het beskuldigde nr 2 egter haar weergawe aangepas en ontken dat sy beskuldigde nr 1 gevra het om so ‘n foto van haar man te neem en om dit aan haar te stuur. Beskuldigde nr 1 het voorts getuig dat beskuldigde nr 2 hom aangesê het om die oorledene se selfoon te neem sodat die voorval soos ‘n roof voorkom. Sy getuienis in hierdie opsig was ook nie deur haar in geskil geplaas nie.

[21] Veronica en die beskuldigdes was dit eens dat die drie van hulle van die Spur na ‘n vriend se woonstel gegaan het. Veronica het getuig dat beskuldigde nr 1 en beskuldigde nr 2 Vodka en Coca Cola gedrink het. Die beskuldigdes het net erken dat die twee van hulle Coca Cola gedrink het. Veronica en die beskuldigdes was dit ook eens dat hulle daarvandaan na Rebels toe gegaan het waar hulle biljart (‘pool’) gespeel het. Daarna het hulle teruggekeer na die vriend se woonstel. Veronica het getuig dat sy op die beskuldigdes in die slaapkamer afgekom het waar hulle seksuele gemeenskap gehad het. Veronica het aangedring dat sy en beskuldigde nr 2 huistoe gaan. Hierdie getuienis van Veronica was nie deur beskuldigde nr 1 of deur beskuldigde nr 2 in geskil geplaas toe sy namens hulle kruisondervra was nie. Beskuldigde nr 1 het erken dat hy en beskuldigde nr 2 by hierdie geleentheid seksuele gemeenskap gehad het. Hy het ook getuig dat beskuldigde nr 2 reeds die Vrydagaand by Petdam vir hom daartoe aanleiding gegee het en hy het daarop gewys dat sy by Petdam ook vir Stapes aanleiding gegee het deur op sy skoot te sit. Sy getuienis in hierdie opsig was nie in geskil geplaas toe hy namens beskuldigde nr 2 kruisondervra was nie, behalwe dat sy ontken het dat sy reeds die Vrydagaand vir hom aanleiding tot seksuele gemeenskap gegee het. Onder kruisverhoor het beskuldigde nr 2 uit die bloute met ‘n weergawe na vore gekom wat ook Veronica die blaam gee vir die seksuele gemeenskap wat die beskuldigdes gehad het kort nadat hulle ‘n afspraak betreffende die oorledene bereik het. Beskuldigde nr 2 het in hierdie opsig getuig dat sy en Veronica teen beskuldigde nr 1 en ‘n ander persoon vroeër die oggend by Rebels biljart gespeel het. Sy het getuig dat Veronica en beskuldigde nr 1 voor die spel ooreengekom het dat beskuldigde nr 1 na eie keuse óf met Veronica óf met beskuldigde nr 2 seksuele gemeenskap kon hê indien Veronica en beskuldigde nr 2 die spel verloor. Hulle het verloor en beskuldigde nr 1 se keuse het op beskuldigde nr 2 geval. Hierdie weergawe was nooit aan óf Veronica óf aan beskuldigde nr 1 gestel toe hulle namens beskuldigde nr 2 kruisondervra was nie en is opsigtelik ‘n versinsel.

[22] Veronica het getuig dat onderweg huistoe het sy en beskuldigde nr 2 die oorledene raakgeloop. Beskuldigde nr 2 het die moontlike werksbetrekking aan hom verduidelik. Hierdie getuienis van Veronica was nie in geskil geplaas nie. Lucas het getuig dat gedurende die loop van die dag het beskuldigde nr 2 en Veronica hom vertel dat toe hulle die oggend gaan werk soek het hulle iemand ontmoet wat moontlik vir die oorledene ‘n werk kon aanbied. Hulle het hom vertel dat die oorledene daardie aand vir ‘n werksonderhoud by die dieseldepot sou gaan en dat hy sy curriculum vitae moes saamneem. Lucas het voorts getuig dat die oorledene baie opgewonde was oor die moontlikheid van ‘n werksbetrekking en dat hy reeds 7 uur daardie aand gereed was om te gaan. Hy het getuig dat Veronica hom gevra het om nie saam met die oorledene te gaan nie sodat sy en hy hulle verhoudingsprobleme kon uitsorteer. Veronica het getuig dat sy op hierdie wyse gepoog het om te verhinder dat Lucas die oorledene vergesel. Veronica het getuig dat voor die oorledene se vertrek het beskuldigde nr 2 vir hom gesê dat daar ‘n wit Escort motorvoertuig vir hom sou wag. Beskuldigde nr 2 het die oorledene aangemoedig om na die onderhoud te gaan. Hierdie getuienis van Veronica is ook nie in geskil geplaas toe sy namens beskuldigde nr 2 kruisondervra was nie. Veronica het die oorledene se selfoon aan hom oorhandig om saam met hom te neem.

[23] Beskuldigde nr 1 het getuig dat beskuldigde nr 2 ‘n ‘please call me’ sms aan hom gestuur het. Hy het haar geskakel en sy het vir hom gesê om die oorledene voor ‘SMP Logistics’ te ontmoet. SMP Logistics is ook in die industriële gebied van Ermelo. Beskuldigde nr 2 het hierdie getuienis van beskuldigde nr 1 ontken en getuig dat Veronica vir die oorledene gesê het ‘dat hy die man by die dieseldepot’ moes ontmoet en dat Veronica ook beskuldigde nr 1 met beskuldigde nr 2 se selfoon daarvan verwittig het. Veronica is egter nie met hierdie getuienis van beskuldigde nr 2 konfronteer toe sy kruisondervra was nie.

[24] Kapt. Schmulian het getuig dat beskuldigde nr 1 erken het dat die selfoon wat uitgebeeld is op bewysstukke E.11 – E.16 syne was. Beskuldigde nr 1 het Kapt. Schmulian ingelig dat die sms boodskap wat op die selfoon verskyn (bewysstukke E.11 – E.13) ‘n boodskap is wat beskuldigde nr 2 aan hom gestuur het. Hierdie boodskap gee voor om afkomstig te wees van ‘Cindy biker’ en lees:

Lat wet my as dit kla is onthou ek soek ‘n pic van ho as dit kla gedoen is en di foon hy het ho no sam’.

Beskuldigde nr 1 het Kapt. Schmulian ook ingelig dat die foto van die manspersoon wat op die selfoon verskyn (bewysstukke E.14 – E.15) die foto van die oorledene is wat beskuldigde nr 2 aan hom gestuur het om vir hom aan te toon hoe die oorledene lyk. Dit blyk verder uit hierdie bewysstukke dat die sms boodskap om 13:01 en die foto om 13:02 ontvang was. Beskuldigde nr 1 se advokaat het dit op rekord geplaas dat die toelaatbaarheid van Kapt. Schmulian se getuienis nie in geskil is nie en dat beskuldigde nr 1 erken dat dit sy selfoon is wat uitgebeeld word op bewysstukke E.11 – E.16. Kapt. Schmulian se getuienis was ook nie deur enigeen van die partye in geskil geplaas nie. Beskuldigde nr 1 het dit uitdruklik bevestig toe hy getuig het. Hy het onder andere getuig dat beskuldigde nr 2 by wyse van die sms boodskap hom weereens versoek het om ‘n foto van die oorledene te neem wanneer hy met hom afgereken het en om die oorledene van sy selfoon te beroof sodat die insident soos ‘n roof voorkom. Hy het egter getuig dat die sms boodskap nie om 13:02 gestuur was nie, maar net na 7:00 nm. Veronica het ook getuig dat beskuldigde nr 2 haar daarvan vertel het dat beskuldigde nr 1 aan haar ‘n foto sou stuur van hoe die oorledene uitsien nadat beskuldigde nr 1 met hom klaar was.

[25] Beskuldigde nr 2 het tydens haar getuienis erken dat sy die foto van die oorledene aan beskuldigde nr 1 gestuur het net voordat die oorledene na sy ontmoeting met beskuldgde nr 1 vertrek het. Sy het egter ontken dat sy die sms boodskap aan hom gestuur het. Sy het enige kennis daarvan ontken en getuig dat Lucas en Veronica op daardie tydstip ook toegang tot haar selfoon gehad het. Die suggestie dat Lucas die sms boodskap sou gestuur het is met inagneming van al die getuienis verregaande en die suggestie dat Veronica dit sou gestuur het onwaarskynlik. Dit is beskuldigde nr 2 wat beweer dat die oorledene haar en die kinders tenagekom het en dit is sy wat begerig was om die oorledene in haar eie woorde ‘... ‘n les te leer’. Sy was die een met ‘n belang van hoe die oorledene uitsien nadat daar met hom afgereken was. Verdermeer het die die sms boodskap sowat een minuut na die foto gevolg wat sy erken sy wel gestuur het. Beskuldigde nr 2 se onkenning dat sy die sms boodskap aan beskuldigde nr 1 gestuur het is opsigtelik leuenagtig. Veronica se getuienis en dié van beskuldigde nr 1 aangaande die sms boodskap was nie in geskil geplaas toe hulle namens haar kruisondervra is nie. Haar ontkennende weergawe aangaande die sms boodskap het eers te voorskyn gekom toe sy getuig het.

[26] Die oorledene het te voet gegaan na wat vir hom vertel was ‘n werksonderhoud te wees. Beskuldigde nr 2, Veronica en Lucas het in die woonstel agtergebly. Dit is gemenesaak dat beskuldigde nr 1 die oorledene aangeval het. In sy pleitverduideliking het beskuldigde nr 1 die aanval soos volg beskryf:

Toe haar man daar aankom het ek hom gevra hoekom mishandel hy sy vrou en sy kinders want dis die inligting wat Cindi vir my gegee het. Toe het hy aan my gestamp en gesê dit het niks met my uit te waai nie. Dis toe ek hom 2 keer in die gesig slaan met die vuis. Hy het toe geval. Ek skop hom toe op sy lyf. Toe ek hom op sy mond wil skop draai hy sy kop en ek skop hom toe agter op sy kop. Toe het ek sekuriteitswagte sien nader kom. Toe het ek gevoel of hy nog pols het en asem gehaal het. Als was nog reg. Ek het toe weggevlug.’

Ek keer aanstons terug na beskuldigde nr 1 se getuienis aangaande die aanval op die oorledene.

[27] Dit is gemenesaak dat die oorsaak van die oorledene se dood [v]eelvuldige skedelfrakture, brein laserasies, sub-durale hematome verspreid’ was. Die ‘sub-durale hematome verspreid’ is ‘n verwysing na bloeding wat veroorsaak was deur gebarste are net onder die buitenste membraan wat die brein binne die skedel omring. Die skedelfrakture wat die oorledene opgedoen het was ingedrewe en oop frakture van die linker en regter slape en agterhoofs. Dr Kraft het verduidelik dat in die geval van elk van die drie skedelfrakture is die oorledene se skedel van buite na binne gebreek. Dr Kraft het getuig dat breinweefsel uitgepeul het uit die agterkop skedelbreuk. Daarbenewens was die oorledene se regteroog blou en geswel, het hy laserasies aan die binnekant van die bo- en onderlip gehad en was daar kneuswonde sigbaar op sy vel aan beide kante van sy bors en ook oor sy maag. Inaggenome al die beserings wat die oorledene opgedoen het is dit die mening van Dr Kraft dat die oorledene in sy gesig geslaan was, dat hy geval het en dat hy geskop was terwyl hy op die grond gelê het. Dr Kraft het die mening uitgespreek dat elk van die drie skedelfrakture waarskynlik deur dieselfde voorwerp veroorsaak was omdat elkeen presies dieselfde omvang gehad het. Elk was ‘n 7 x 4 cm laserasiewond. Na die mening van Dr Kraft was ‘n veiligheidskoen die waarskynlike voorwerp wat al drie skedelfrakture veroorsaak het. Inaggenome die beserings wat die oorledene opgedoen het kon Dr Kraft hom duidelik nie weerhou om in die lykskouingsverslag te notuleer dat die oorledene erg aangerand was ‘met opset om te vermoor.’ Wat Dr Kraft waarskynlik met hierdie stelling probeer oordra het is dat die beserings aandui dat die oorledene nie eenvoudig aangerand was nie maar dat hy doodgeskop was. Die kleur van die oorledene se bloed soos uitgebeeld op die fotos wat van die oorledene geneem was nadat sy liggaam op 4 November 2009 gevind was, is, na die mening van Dr Kraft, ‘n aanduiding dat die oorledene vir ten minste twaalf ure gelê het waar sy liggaam gevind was.

[28] Beskuldigde nr 1 het getuig dat hy veiligheidstewels aangehad het ten tye van sy ontmoeting met die oorledene. Dit is harde en swaar skoene wat aan die voorkant met staal versterk is en wat in die werksplek bedoel is om ‘n persoon se voete te beveilig. Beskuldigde nr 1 het getuig dat hy die oorledene gevra het hoekom hy sy vrou slaan en sy kinders mishandel waarop die oorledene hom gestamp het. ‘n Woordewisseling het gevolg. Wat presies gesê was kon beskuldigde nr 1 nie meer onthou nie, maar dit het volgens hom ingesluit die oorledene wat vir hom in Engels sê ‘I will kill you’ en beskuldigde nr 1 wat dieselfde in Afrikaans vir hom sou sê. Hierdie beweerde oor en weer uitlatings verskyn nie in die verklaring wat beskuldigde nr 1 aan ‘n landdros gemaak het en wat hy as pleitverduideliking ter aanvang van hierdie verhoor aangebied het nie (bewysstuk ‘A’). Beskuldigde nr 1 het getuig dat hy die oorledene twee keer in die gesig geslaan het met die vuis waarop die oorledene geval het. Beskuldigde nr 1 het toe vir die oorledene met sy veiligheidstewels een keer op sy lyf en een keer agter sy kop geskop. Hy het getuig dat die oorledene steeds ‘n polslag gehad het en ook nog kon asemhaal toe hy met hom klaar was. Beskuldigde nr 1 was uitgevra hoekom hy dit nodig geag het om die die oorledene se polslag en asemhaling na te gaan en in antwoord daarop het hy getuig dat die oorledene sy bewussyn verloor het nadat hy hom geskop het, maar dat hy dit weer herwin het voordat hy die oorledene verlaat het.

[29] Beskuldigde nr 1 het egter reeds tydens sy hoofondervraging toegegee dat daar ‘n ‘baie’ goeie moontlikheid bestaan dat hy die oorledene meermale geskop en erger aangerand het as wat hy aanvanklik voorgegee het. Onder kruisverhoor deur die staatsadvokaat het beskuldigde nr 1 getuig dat hy kwaad was en dat hy sy kop verloor het. Hy het ook toegegee dat hy die oorledene geskop het met ‘n stewel met ‘n staalpunt wat ‘n mens kan doodmaak as jy te hard daarmee geskop word. Hy het aanvaar dat hy die oorledene se dood veroorsaak het. Beskuldigde nr 1 se toegewing in hierdie verband strook in geheel met die opinies en getuienis van Dr Kraft asook met beweerde mededelings wat beskuldigde nr 1 ‘n paar dae later aan sy vriende Stapes en Eugene gemaak het. Ek keer later terug na die beweerde mededelings.

[30] Veronica het getuig dat beskuldigde nr 2 haar vertel het dat beskuldigde nr 1 haar met sy eie selfoon geskakel het en haar gevra het om die oorledene se selfoon te skakel. Toe beskuldigde nr 2 dit doen was dit beskuldigde nr 1 wat die oorledene se selfoon antwoord. Hierdie getuienis van Veronica was deur die beskuldigdes ontken. Dit is gemenesaak dat beskuldigde nr 1 in terme van die voorafgaande afspraak die oorledene van sy selfoon moes beroof en dat hy dit inderdaad gedoen het. Beskuldigde nr 1 het ook getuig dat hy nie aan beskuldigde nr 2 ‘n foto van die oorledene gestuur het nadat hy sy opdrag of die versoek wat aan hom gerig was uitgevoer het nie. Beide beskuldigdes het getuig dat daar na die aanval op die oorledene nie weer kontak tussen hulle was nie. Dit is myns insiens meer waarskynlik dat beskuldigde nr 1 die wyse gevolg het soos deur Veronica getuig om beskuldigde nr 2 te verwittig dat sy opdrag volvoer was.

[31] Beskuldigde nr 2 het getuig dat sy lief vir die oorledene was en dat sy probeer verhinder het dat hy die afspraak met beskuldigde nr 1 bywoon. Die vanselfsprekende vraag is natuurlik hoekom sy dan ‘n foto van die oorledene aan beskuldigde nr 1 gestuur het net voordat die oorledene vertrek het of selfs hoekom sy nie eenvoudig beskuldigde nr 1 geskakel het en gepoog het om die afspraak te kanselleer nie. Veronica en Lucas het getuig dat beskuldigde nr 2 so om en by 9 uur bekommerd voorgekom het omdat die oorledene nog nie tuis was nie. Beskuldigde nr 2 het getuig dat sy die oorledene probeer bel het, maar dat sy selfoon af was. Die vraag wat hier opduik is hoekom sy dan nie eenvoudig beskuldigde nr 1 gebel en hom gevra het wat hy met die oorledene aangevang het nie. Dit is gemenesaak dat beskuldigde nr 2 aktief betrokke was by ‘n soektog na die oorledene vanaf ongeveer 9:00 nm daardie aand en dat sy die persoon was wat die oorledene se liggaam uiteindelik die volgende oggend iewers in ‘n sloot in die industriële gebied van Ermelo gevind het. Die onafwendbare en enigste redelike afleiding is dat beskuldigde nr 2 se sogenaamde bekommernis oor die oorledene, soos wat Veronica tereg getuig het, bloot toneelspel aan haar kant was, veral inaggenome dat Veronica se vriend Lucas ook teenwoordig was.

[32] Eugene Ahlfeldt het getuig dat beskuldigde nr 1 die oggend na die voorval by sy woonstel opgedaag het. Hy het vir Eugene gesê dat ‘... hy dink hy het iemand doodgemaak.’ Hy het hom vertel dat hy die persoon geslaan het en dat die persoon agteroor geval het. Beskuldigde nr 1 se plan was, aldus Eugene, om na Secunda te vlug, want hy ‘sal uit Ermelo moet verdwyn.’ Dit is namens beskuldigde nr 1 aan Eugene gestel dat hy bloot inligting dat hy iemand aangerand het aan Eugene bekend gemaak het en dat hy nie voornemens was om uit Ermelo te vlug nie, maar dat hy vir ‘n werksonderhoud na Secunda sou gaan. Stapes het ook getuig dat beskuldigde nr 1 hom die Vrydagaand na die voorval vertel het dat hy ‘in die moeilikheid’ was. Onder kruisverhoor namens beskuldigde nr 1 is dit aan Stapes gestel dat wat beskuldigde nr 1 vir hom gesê het was dat hy ‘in die moeilikheid’ was omdat hy nie ‘n motorfiets gehad het nie. Beskuldigde nr 1 het ook getuig dat wat hy vir Stapes gesê het was dat hy ‘probleme’ gehad het omdat hy nie ‘n motorfiets gehad het nie. Stawing vir Eugene se getuienis aangaande beskuldigde nr 1 se mededeling aan hom is tot ‘n mate te vinde in die getuienis van Stapes aangaande die mededeling aan hom en ook andersom. Hulle getuienis in hierdie opsig strook dan ook met beskuldigde nr 1 se toegewing en aanvaarding dat hy die oorledene se dood veroorsaak het. Beskuldigde nr 1 se getuienis aangaande die mededelings is in die lig van al die getuienis ‘n poging aan sy kant om sy voor-arrestasie mededelings aan sy goeie vriend Stapes en aan sy vriend Eugene valslik te temper.

[33] Eugene het ook getuig dat kort na beskuldigde nr 1 se besoek aan hom hy ‘n selfoon wat aan hom onbekend was ontdek het agter ‘n blompot op die yskas in sy woonstel. Dit is later vasgestel dat hierdie selfoon aan die oorledene behoort het. Dit is namens beskuldigde nr 1 aan Eugene gestel dat hy die selfoon by beskuldigde nr 1 wou koop, welke stelling Eugene ontken het. Die vasstelling dat die selfoon aan die oorledene behoort het is natuurlik ontoelaatbare hoorsê getuienis wat ek gevolglik nie in ag neem nie. Dit is egter gemenesaak dat beskuldigde nr 1 die oorledene se selfoon van hom beroof het. Kapt. Schmulian se getuienis dat beskuldigde nr 1 arresteer was op 8 November 2009 nadat die oorledene se selfoon gevind was, is ook nie in geskil geplaas nie. Kapt. Schmulian het beskuldigde nr 2 arresteer op 8 November 2009 as gevolg van die sms boodskap en foto wat op beskuldigde nr 1 se selfoon gevind was.

[34] Inaggenome dat Veronica ‘n enkelgetuie is en dat sy jonk, onvolwasse en ook ‘n medepligtige is wat gewaarsku was in terme van art 204 van die Strafproseswet voordat sy as staatsgetuie getuig het, is dit gepas om haar getuienis met groot omsigtigheid te benader. Beoordeel in die lig van al die getuienis was sy na my oordeel ‘n goeie en geloofwaardige getuie wat eerlike en betroubare getuienis afgelê het. Haar getuienis, soos wat ek reeds aangetoon het, was in verskeie wesentlike opsigte deur die ander staatsgetuies en ook deur die beskuldigdes gestaaf. Sy het haar medepligtigheid aan die moord en roof van die oorledene erken en getuig dat sy ‘jonk en dom’ was. Haar getuienis in hierdie verband strook met my waarneming en beoordeling van haar in die getuiebank. Haar hoogste tersiêre kwalifikasie is standerd 6 en sy het maar bra onvolwasse voorgekom.

[35] Veronica het self-inkrimenerende getuienis gegee in die verwagting dat sy moontlik vrywaring teen vervolging as medepligtige mag ontvang. Sy het getuig dat die beplanning en uitdruklike ooreenkoms wat bereik was, waarby sy erken het sy ook betrokke was, was om die oorledene dood te maak en nie om hom bloot ‘n pak slae te gee soos wat die beskuldigdes getuig het nie. Haar getuienis in hierdie verband was potensieel erg self-benadelend. Sy het haarself by ‘n voorbedagte en beplande moord van die oorledene betrek teenoor bloot ‘n afspraak van gewone aanranding. Sy het ‘n besondere verhouding met die oorledene en beskuldigde nr 2 gehad en daar skyn geen rede te wees waarom sy veral beskuldigde nr 2 van moord sou beskuldig indien sy dan net betrokke was by ‘n gewone aanranding van die oorledene nie.

[36] ‘n Faktor wat aanduidend is van ‘n ooreenkoms of sameswering om die oorledene te dood en wat die getuienis van Veronica in ‘n wesentlike opsig staaf, is die versoek wat beskuldigde nr 2 die Dinsdagoggend by die Spur aan beskuldigde nr 1 gerig het en die sms boodskap wat sy later aan hom gestuur het om ‘n foto te neem van hoe die oorledene uitsien nadat hy met hom afgereken het en om dit aan haar te stuur. Indien die afspraak eenvoudig was om die oorledene ‘n pak slae te gee dan sou beskuldigde nr 2 tog gesien het hoe haar man lyk wanneer hy met ‘‘n blou oog’ tuisgekom het. In antwoord op ‘n kruisvraag het beskuldigde nr 1 gesê dat ‘n goeie pak slae laat ‘n persoon met ‘n blou oog.

[37] Die mediese getuienis staaf Veronica se getuienis en toon die vewerplikheid van die beskuldigdes se weergawes van ‘n afspraak om die oorledene ‘n pak slae te gee. Beskuldigde nr 1 het goed geweet dat ‘n persoon doodgemaak kon word as hy of sy te hard geskop word met die tipe stewel waarmee hy die oorledene geskop het. Die enigste redelike afleiding in die lig van al die getuienis is dat beskuldigde nr 1 die oorledene se skedel op drie plekke inmekaar geskop het. Die oorledene se breinweefsel het selfs by die agterkopskedelfraktuur uitgepeul. Die oorledene was tog duidelik nie maar net ‘n pak slae gegee nie. Die onafwendbare en enigste redelike afleiding is dat die oorledene doelbewus en opsetlik doodgeskop is deur beskuldigde nr 1. Dit is gemenesaak dat beskuldigde nr 1 ‘n opdrag of versoek uitgevoer het. Die aard van die oorledene se beserings ondersteun Veronica se getuienis dat die opdrag of versoek aan beskuldigde nr 1 en die uitdruklike ooreenkoms tussen die beskuldigdes was om die oorledene dood te maak.

[38] Veronica se getuienis word ook tot ‘n mate gestaaf deur Stapes se getuienis dat beskuldigde nr 2 hom die voorafgaande Vrydagaand in die teenwoordigheid en ten aanhore van beskuldigde nr 1 gevra het om haar man ‘uit te haal’, of anders gestel, dood te maak. Stapes was ‘n geloofwaardige getuie en sy getuienis is betroubaar wanneer dit in die lig van al die getuienis beoordeel word. Beskuldigde nr 1 het bevestig dat hy en Stapes baie goeie vriende was en dat hulle nooit probleme met mekaar gehad het nie. Daar was ook geen suggestie van enige kwaadwilligheid aan sy kant jeens beskuldigde nr 2 nie. Stapes se getuienis dat beskuldigde nr 2 hom tweemaal gevra het om haar man dood te maak is betroubaar en dit is onwaarskynlik dat beskuldigde nr 2 op dieselfde geleentheid ‘n ander versoek om hom bloot ‘n pak slae te gee aan beskuldigde nr 1 sou gerig het.

[39] Die beskuldigdes se getuienis in die lig van al die getuienis is in wesenlike opsigte leuenagtig. Ek het vroeër in hierdie uitspraak breedvoerig gehandel met hoe hulle weergawes in verskeie wesenlike opsigte aangepas is soos wat die verhoor aangegaan het en die leuens waarmee hulle vorendag gekom het in hulle onderskeie pogings om die staatsaak te ontmoet wat die moordklagtes teen hulle aanbetref. Verder het hulle die betrokkenheid van Veronica valslik oordryf. Beskuldigde nr 1 het wel verskeie toegewings en erkennings eerlik gemaak, maar hy het volhard met sy leuenagtige weergawe dat hy en beskuldigde nr 2 net saamgesweer het om die oorledene ‘n pak slae te gee. Beskuldigde nr 2 was ‘n baie swak getuie en sy het geen goeie indruk in die getuiebank gemaak nie.

[40] Wanneer Veronica se getuienis dan met die nodige omsigtigheid benader word en al die relevante aspekte wat aanduidend is van die beskuldigdes se skuld aan moord opgeweeg word teen daardie aspekte wat aanduidend is van hulle onskuld daaraan, bewys die geheel van die getuienis na my oordeel die skuld van beskuldigde nr 1 en van beskuldigde nr 2 aan die moord van die oorledene bo enige redelike twyfel. Veronica se getuienis word voldoende gestaaf in verskeie wesenlike opsigte om haar getuienis as eerlik en betroubaar te aanvaar en om die moontlikheid van ‘n valse implikasie van die beskuldigdes bo enige redelike twyfel uit te sluit. Ook Eugene en Lucas was geloofwaardige getuies en hulle getuienis is, wanneer dit in die lig van al die getuienis beoordeel word, betroubaar. Die getuienis as geheel bewys bo enige redelike twyfel dat die beskuldigdes se verontskuldigende weergawes insoverre dit die moordklagtes aanbetref leuenagtig en nie redelik moontlik waar is nie. Die onafwendbare en enigste redelike afleiding is dat beskuldigde nr 1 en beskuldigde nr 2 die nodige mens rea gehad om ‘n skuldigbevinding aan die moord van die oorledene te ondersteun en dat hulle met direkte opset opgetree het.

[41] Beskuldigde nr 2 was nie teenwoordig toe die oorledene om die lewe gebring is nie, maar dit verontskuldig haar nie. Die beskuldigdes het saamgesweer en uitdruklik ooreengekom om die oorledene dood te maak. Beskuldigde nr 2 het ongetwyfeld die hoofrol beklee in die aangaan van die ooreenkoms en sy was aktief betrokke in die bevordering van hulle gemeenskaplike misdadige oogmerk. Sy het dan ook die hoofrol beklee in die beplanning van die aanval op die oorledene en sy het verder aktief hulp verleen in die uivoering van die moordafspraak en gevolglike gemeenskaplike misdadige oogmerk. Dit was ongetwyfeld beskuldigde nr 2 wat vir beskuldigde nr 1 en Veronica betrek het. Beskuldigde nr 1 het in opdrag van of op versoek van beskuldigde nr 2 opgetree. Beskuldigde nr 2 se deelname aan die doodslag van die oorledene het onder andere ingesluit dat sy haar selfoon aan Veronica oorhandig het om die oorledene te bel en hom bedrieglik uit te lok na die plek waar beskuldigde nr 1 hom sou aanval. Sy het met beskuldigde nr 1 seksuele gemeenskap gehad nadat die moordafspraak getref was. Sy het aan die oorledene die moontlikheid van ‘n werksbetrekking bedrieglik voorgehou en hom aangemoedig om na die plek te gaan waar sy geweet hy ingewag en aangeval sou word. Sy het aan beskuldigde nr 1 ‘n foto van die oorledene gestuur ten einde hom instaat te stel om die oorledene aan te val. Haar aktiewe deelname was voortdurend en sy het haarself op geen stadium van die aanval op die oorledene onttrek nie.

[42] Beskuldigde nr 1 en beskuldigde nr 2 se skuld aan roof met verswarende omstandighede soos omskryf in artikel 1 van die Strafproseswet is ook bo enige redelike twyfel bewys. Die pleging van hierdie misdryf het deel gevorm van die sameswering en uitdruklike ooreenkoms wat tussen die beskuldigdes aangegaan is en, hoewel die handeling deur beskuldigde nr 1 verrig is, het beskuldigde nr 2 aktief deelgeneem aan die beplanning en uitvoering van die roof. Hierdie misdryf was gepleeg om die moord van die oorledene die voorkoms van ‘n roof te gee wat so algemeen in ons land voorkom. Beskuldigde nr 1 het erken dat hy geweld teenoor die oorledene gebruik het en dat hy sy selfoon afgevat het. Dit het hy ook in opdrag of op versoek van beskuldigde nr 2 gedoen.

[43] Ten gevolge word:

(a) beskuldigde nr 1 skuldig bevind aan die moord op die oorledene, Mnr Johannes Gerhardus Snyman, soos aangekla in klagte 1 van die akte van beskuldiging;

(b) beskuldigde nr 1 skuldig bevind aan die roof van die oorledene se selfoon met verswarende omstandighede soos omskryf in artikel 1 van die Strafproseswet 51 van 1977, soos aangekla in klagte 2 van die akte van beskuldiging;

(c) beskuldigde nr 2 skuldig bevind aan die moord op haar oorlede eggenoot, Mnr Johannes Gerhardus Snyman, soos aangekla in klagte 1 van die akte van beskuldiging;

(d) beskuldigde nr 2 skuldig bevind aan die roof van die oorledene se selfoon met verswarende omstandighede soos omskryf in artikel 1 van die Strafproseswet 51 van 197 7, soos aangekla in klagte 2 van die akte van beskuldiging; en

(e) aan die staatsgetuie, Me Veronica Steyn, hiermee vrywaring verleen van vervolging op aanklagtes van die moord op die oorledene, Mnr Johannes Gerhardus Snyman, en van die roof van sy selfoon met verswarende omstandighede soos omskryf in artikel 1 van die Strafproseswet 51 van 1977.



P.A. MEYER

REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF

VAN SUID-AFRIKA

4 November 2010