South Africa: South Gauteng High Court, Johannesburg

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: South Gauteng High Court, Johannesburg >>
2011 >>
[2011] ZAGPJHC 163
| Noteup
| LawCite
S v Vermaak (SS70/2010) [2011] ZAGPJHC 163 (14 October 2011)
Download original files |
NOT REPORTABLE
SUID GAUTENG HOOGGEREGSHOF
JOHANNESBURG
SAAK NO:SS70/2010
DATUM:14/10/2011
In die saak tussen
DIE STAAT
en
CHRISTIAN FRANS VERMAAK..................................................................Beskuldigde
U I T S P R A A K
(VONNIS)
VAN OOSTEN R: Die beskuldigde is skuldig bevind aan twee uiters ernstige misdade. By die oorweging van 'n gepaste vonnis poog die hof om 'n werkbare balans te handhaaf tussen die doel en oogmerke van straftoemeting. In dié proses word in ag geneem die erns van die misdrywe waaraan die beskuldigde skuldig bevind is, die beskuldigde se persoonlike omstandighede, die gemeenskapsbelang, asook enige ander faktore wat die morele blaamwaardigheid van die misdade waaran hy skuldig bevind is, mag beïnvloed.
Wat die erns van die misdrywe aanbetref is daar weinig wat ten gunste van die beskuldigde aangeteken kan word. Daar is geen getuienis wat op voorbedagte rade of voorafbeplanning van die misdade dui nie. Wanneer egter die omstandighede as 'n geheel beoordeel word, maak ek die bevinding nie sonder huiwering nie. Hoe dit ook al sy, die Staat het die pleit van skuldig, op die basis soos wat dit deur die beskuldigde aangebied is op die aanklag van moord aanvaar, en volg dit dat die oplegging van vonnis benader moet word op die basis dat daar geen voorafbeplanning was nie.
Die beskuldigde en die oorledene het mekaar ontmoet deur middel van 'n sogenaamde "date club" wat daarop ingestel is om mense van die teenoorgestelde geslag aan mekaar voor te stel met die oog op ‘n verhouding. Vóór die ontmoeting het die beskuldigde op 'n soortgelyke wyse in kontak gekom en in 'n verhouding betrokke geraak met Me Grobbelaar, wat vandag getuienis namens die Staat afgelê het. Dié verhouding het egter skipbreuk gely.
Nadat die beskuldigde en die oorledene mekaar ontmoet het, het hulle dikwels oor en weer gekuier. Volgens die beskuldigde was die oorledene 'n standvastige, "fantastiese mens" wat sterk Christelike beginsels gehandhaaf het en van wie hy geen kwade woord kan spreek nie. Dié persoonlikheidskwaliteite van die oorledene is bevestig in die getuienis van haar suster, Me Wilhelmina van Staden. Die oorledene was 'n onderwyseres van beroep en baie geliefd by die privaat hoërskool waar sy aktief by die leerders betrokke was en as 'n steunpilaar vir die gemeenskap en ouers van die leerders, haar plek volgestaan het. Die oorledene was 42 jaar oud, sy was nooit getroud nie en het alleen gewoon waar sy dan ook uiteindelik aan haar einde gekom het.
Die dag voor die moord op die oorledene het die beskuldigde by haar gekuier in haar meenthuis in Camelia Gardens, Verwoerdpark, Alberton. Die beskuldigde het te kenne gegee dat hulle 'n aangename dag saam belewe het. Die oorledene het aandete vir hulle voorberei, waarna hulle gaan slaap het in die dubbelbed in haar slaapkamer. Later die nag het die beskuldigde wakker geword. Hy het nie geweet "wat oor hom gekom het nie" en of dat hy dalk gedroom het nie maar hy het ‘n mes, wat in die kamer was, opgeneem het en die oorledene, wat steeds geslaap het, veskeie kere daarmee toegetakel.
Die oorledene het blykens die nadoodseondersoekverslag, en soos weergee word op die fotos van die nadoodse ondersoek, die volgende beserings opgedoen:
‘1. Four cm penetrating incised wound left anterior triangle of the neck. This wound passes backwards through the muscles of the neck and severs the left carotid artery.
2. Two cm superficial penetrating incised wound just below the left side of the jaw.
3. One cm superficial penetrating incised wound left cheek.
4. Two cm penetrating incised wound medial aspect of the left nipple. This wound passes backwards, enters the left chest cavity and terminates in the upper lobe of the left lung.’
Om terug te keer na die gebeure. Ná die aanval op die oorledene, en nadat hy besef het dat sy dood was, het die beskuldigde getuig, het hy nog sowat vir 'n uur in die kamer, soos hy dit gestel het "rondgedwaal". Hy was geskok en verward oor wat met hom gebeur het, en het daar en dan op sy knieë gegaan het om die Allerhoogste te vra wat hy nou eintllik gedoen het, en vergifnis daarvoor gevra.
Die beskuldigde se daadwerklike optrede na die moord op die oorledene spreek egter boekdele tot die teendeel. Hy het van meet af aan fyn berekende en goed beplande stappe gevolg om sy wandade te verdoesel, en in die proses aan niemand anders as homself gedink nie. Eerstens het hy die mes waarmee hy die oorledene gedood het, gewas en teruggeplaas in die kombuis waar dit gehoort het. Daarna het hy die oorledene se liggaam bedek met die beddeken of duvet, en kussings daar bo-op gerangskik, ooglopend om alles so normaal moontlik te laat voorkom. Dit is dan ook in dié toestand waarin die liggaam van die oorledene aangetref is op Sondag 4 April 2010, toe die oorledene se suster en haar ouers, wat toe al ‘n soektog na haar op tou gesit het, niks vermoedend op haar liggaam in die bed afgekom het.
Die fotos wat van die toneel van die moord geneem is toon aan dat die liggaam van die oorledene dwars op haar rug oor die bed gelê het, met haar nagrok opgetrek tot op die maag. Waarom dit juis só was kon die beskuldigde nie verduidelik nie.
Vervolgens het die beskuldigde die oorledene se selfoon, wat in die slaapkamer was, geneem, aangesien, volgens hom, die battery van sy selfoon op daardie stadium pap was en hy dalk oproepe sou moes maak. Daarna het die beskuldigde die sleutels van die oorledene se voertuig geneem, na die motorhuis waar die voertuig parkeer was, gegaan, die voertuig uitgetrek en die deur van die motorhuis gesluit. By Me Van Staden se aankoms dié Sondag was die motorhuisdeur steeds gesluit en het sy toegang tot die huis gekry met 'n duplikaat sleutel wat sy altyd in bewaring gehou het.
Volgens die beskuldigde was die oorledene se skootrekenaar in die kattebak van haar voertuig. Hy het later beide haar selfoon en skootrekenaar weggegooi. Die beskuldigde het met die oorledene se voertuig na sy tuiste in Vanderbijlpark gery. Daarna, op een of ander stadium, het hy met die voertuig na Klerksdorp gery om sy kinders gebore uit sy eerste huwelik, wat daar gewoon het, te besoek. Intussen het hy die GP (Gauteng) nommerplate van die voertuig afgehaal en vervang met vals FS (Vrystaat) nommerplate.
Op 7 April 2010 het die beskuldigde telefonies kontak gemaak met sy vorige "date club" vriendin, Me Grobbelaar. Me Groblaar het getuig dat sy aanvanklik nie die oproep wou beantwoord nie aangesien dit van 'n onbekende selfoonnommer af gekom het. Toe sy dit uiteindelik wel beantwoord het was dit ‘n oproep van die beskuldigde. Hy het haar versoek of hy saam met haar vader, Mnr Lukas van Tonder, kon gaan visvang. Mnr van Tonder het getuig dat hy en die beskuldigde voorheen saam visgevang het gedurende die tydperk wat die beskuldigde en sy dogter nog in 'n verhouding betrokke was.
Later die dag het die beskuldigde by Van Tonder se huis opgedaag. Mnr van Tonder het op daardie stadium reeds die polisie in kennis gestel van die beskuldigde se voorgenome besoek, wat volgens hulle kennis toe al soek was. Die beskuldigde het in die oorledene se voertuig, met die vals nommerplate daaraan, by die huis van Mnr van Tonder opgedaag. Die beskuldigde het Van Tonder meegedeel dat hy ‘n "plan moes maak" om die voertuig aan te skaf en dat hy die voertuig gekoop het, waarmee Mnr van Tonder hom geluk gewens het en om hom na binne genooi het om saam met hulle koffie te drink. Kort daarna het Adjudant Janse van Rensburg, van die SAPD, daar opgedaag en het hy die beskuldigde arresteer.
Die oorledene is op 'n sinnelose, wrede en koelbloedige wyse om die lewe gebring. Haar keel is afgesny. Die beskuldigde het blykens die psigiatriese verslag die wederregtelikheid van sy handelinge besef en was daar geen sprake van 'n gestesgebrek nie. Die beskuldigde se verduideliking dat hy wakker geword het en vir geen rede hoegenaamd nie besluit het om die oorledene met die mes te steek, is so inherent onwaarskynik dat dit nie redelik moontlik waar kan wees nie. Dié verduideliking is onteenseglik ontdaan van die waarheid. Dit is duidelik dat die beskuldigde verkies het om nie die volle waarheid aan hierdie hof te openbaar nie.
Dit bring my by die beskuldigde se pleit van skuldig en die vraag wat gevolglik ontstaan of hy berou toon vir dit wat hy gedoen het. Tydens sy getuienislewering het die beskuldigde onder sigbare emosionele opwelling verskoning en vergifnis teenoor die oorledene se familielede, wat in die hof gesit het, gevra vir sy wandade. Oor die egtheid daarvan spreek ek my ernstige twyfel uit. Die pleit van skuldig, opsigself genome, is geen aanduiding van berou nie. Soos Ponnan AR dit gestel het in S v Matyityi 2011 (1) SACR 40 (SCA) para 13:
‘In order for the remorse to be a valid consideration, the penitence must be sincere and the accused must take the court fully into his or her confidence. Until and unless that happens, the genuineness of the contrition alleged to exist cannot be determined. After all, before a court can find that an accused person is genuinely remorseful, it needs to have a proper appreciation of, inter alia: what motivated the accused to commit the deed; what has since provoked his or her change of heart; and whether he or she does indeed have a true appreciation of the consequences of those actions.’
Die beskuldigde was in besit gevind van die oorledene se voertuig en kon in die omstandighede van hierdie saak nouliks enige ander pleit as skuldig aangebied het. Sy vertoon in die hof weerklink soos ‘n klinkende simbaal teen die agtergrond van sy optrede direk na die pleging van die moord. Die beskuldigde het, soos ek reeds na verwys het, op 'n koel, berekende wyse die spore van sy dade probeer verdoesel en met sy lewe voortgegaan asof niks gebeur het nie. Die minagting wat hy teenoor die oorledene betoon het word bevestig deurdat hy haar selfoon en skootrekenaar goedsmoeds weggegooi het. Daar is niks te bespeur in die optrede van die beskuldigde ná die moord wat op enige wyse met opregte berou versoen kan word nie. Die teendeel is veel eerder waar.
Die arrestasie van die beskuldigde is nie deur homself teweeggebring nie, maar wel deur die wakker optrede van Mnr van Tonder en sy dogter. Die uitspreek van berou, noudat die beskuldigde voor oop tronkdeure staan, kom my nouliks as opreg voor.
Vervolgens behandel ek die beskuldigde se persoonlike omstandighede wat in sy getuienis na vore gebring is. Hy is tans 40 jaar oud en ongetroud, alhoewel hy twee keer vantevore getroud was, welke huwelike beide deur egskeiding beëindig is. Uit die eerste huwelik is daar twee kinders gebore, 'n dogter tans 16 jaar oud en 'n seun van 18/19 jaar oud. Die beskuldigde het voorgegee dat hy onlangs eers verneem het van die bestaan van sy dogter wat uit die eerste huwelik gebore is. Tydens die gebeure was die beskuldigde werksaam by 'n maatskappy wat subkontrakteurswerk, meestal in die buiteland, vir Eskom verrig het. Hy het 'n salaris van R28 000 per maand verdien.
Die beskuldigde het drie vorige veroordelings erken, wat insluit aanranding en diefstal. Die laaste veroordeling, een van diefstal, is so lank terug as in 1992 opgedoen. Ek is van oordeel dat die vorige veroordelings, weens tydsverloop, nie teen die beskuldigde in berekening gebring behoort te word nie, behalwe in dié opsig dat hy reeds voorheen met die gereg gebots het en nie daaruit ‘n les geleer het nie.
Die beskuldigde is vanaf die datum van sy arrestasie in hegtenis as verhoorafwagtende. 'n Tydperk van een en 'n half jaar waarby in berekening gebring moet word die beskuldigde se verwysing na Sterkfontein, as verhoorafwagtende, is geensins buitensporig nie en kom ooreen met die gemiddelde tyd wat dit neem om 'n saak van hierdie aard op verhoor te stel.
Laastens, het die beskuldigde getuig dat hy medikasie gebruik vir epileptiese aanvalle, depressie en hoë bloeddruk. Niks hiervan word vermeld in die verslag deur die psigiaters wat die beskuldigde ondersoek het nie. Hoe dit ook al sy, die beskuldigde beweer in elk geval nie dat enige van hierdie kwale bygedra het of verantwoordelik was vir die pleging van die misdrywe nie.
Laastens, die gemeenskapsbelang. Geweld teenoor vroue verdien die strengste afkeuring van hierdie hof (Vgl S v Baloyi (Minister of Justice & another Intervening) [1999] ZACC 19; 2000 (2) SA 425 (CC)). Die gemeenskap verwag tereg dat vergrype teenoor vroue, veral waar dit so ernstig is soos in die onderhawige saak, met erns deur ons howe bejeën moet word. Die beskuldigde se persoonlike omstandighede word totaal oorskadu deur die erns van die misdrywe. Daar is na my oordeel geen omstandighede geopenbaar wat enige vonnis minder as die maksimum straf wat hierdie hof kan oplê, regverdig nie. In hierdie verband bevind ek dat selfs die afwesigheid van voorafbeplanning nie 'n mindere vonnis regverdig nie.
Bygevolg word die beskuldigde soos volg gevonnis:
1. Op aanklag 1, moord, lewenslange gevangenisstraf.
2. Op aanklag 2, diefstal, ses jaar gevangenisstraf.
000//000
Vir die Staat Adv (Me) DE Zinn
Vir die beskuldigde Adv (Me) J Henzen-Du Toit