South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria >>
2012 >>
[2012] ZAGPPHC 35
| Noteup
| LawCite
Buhrmann v Land and Agricultural Development Bank of South Africa (45190/2010) [2012] ZAGPPHC 35 (9 March 2012)
Download original files |
IN DIE NOORD GAUTENG HOE HOF.
PRETORIA /ES (REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA)
SAAKNO: 45190/2010
DATUM:09/03/2012
IN DIE SAAK TUSSEN
GIDEON WILHELMUS BUHRMANN................................................................................EISER
EN
THE LAND AND AGRICULTURAL DEVELOPMENT
BANK OF SOUTH AFRICA............................................................................... VERWEERDER
UITSPRAAK
PRINSLOO. R
[1] Hierdie kort uitspraak moet gelees word saam met die "toetssaak" van Ryton Estates (Pty) Ltd v Die Land Bank saakno 33482/2010 se volledige uitspraak ("die hoofuitspraak").
[2] Hierdie is een van vier kort uitsprake wat te doen het met ander eise wat saam met die "toetssaak" verhoor is en ook in die hoofuitspraak vermeld is.
[3] Die enigste onderwerp wat eie is aan drie van die vier kort uitsprake en wat nie in die "toetssaak" onder die loep gekom het nie, is die spesiale pleit van verjaring.
[4] In die kort uitspraak van Le Roux v Die Land Bank, saakno 42140/2010 is die spesiale pleit van verjaring volledig behandel. Daardie spesiale pleit is vir praktiese doeleindes dieselfde as die een in hierdie saak. In Le Roux se saak is daar verwys na die tersaaklike beginsels. die gesag en die voorskrifte van die Verjaringswet, 68 van 1969. Ek is nie voornemens om die opmerkings wat in hierdie verband in Le Roux se saak gemaak is weer in hierdie kort uitspraak te herhaal nie. Hierdie uitspraak moet saamgelees word met die uitspraak in Le Roux se saak.
Inleiding
[5] Op 30 November 1983 het die eiser 'n lening van R257 000,00 by die Land Bank bekom.
[6] Die eiser het te alle relevante tye in die Ermelo distrik geboer op die plaas De Emigratie.
[7] Volgens die betoogshoofde wat namens die eiser aangebied is, het die eiser 'n totale bedrag van R449 382,69 aan die Land Bank terugbetaai ter vereffening van hierdie lening. Die laaste paaiement is op 4 Mei 2004 betaal.
[8] Aksie is in Augustus 2010 ingestel.
Die spesiale pleit van verjaring
[9] Soos ek reeds aangedui het, kom die pleit ooreen met die in Le Roux se saak.
Daar word ook gepleit dat die aksie meer as drie jaar nadat die skuld betaalbaar geword het ingestel is en in die alternatief word gepleit dat die eiser, deur die uitoefening van redelike sorgsaamheid, betyds die feite kon vasstel waarop sy eis oorsaak gebaseer moes word soos bedoel in artikel 12(3) van die Verjaringswet, 1969.
[10] Die eiser se getuienis kom ook in wese ooreen met die van Le Roux.
Hy het ook sy lening vanaf Boland Bank oorgeplaas na die Land Bank waar hy meer gunstige rentekoerse kon beding.
[11] Hygetuig
"... ons het groot geword met die Land Bank as 'n waardevolle, korrekte en konstitusionele bank wat jy ten alle tye kon vertrou met enige van jou onderhandelings met hulle, hetsy skriftelik of mondelings. Dit is 'n instelling wat ons as boere geweldig gerespekteer het."
[12] Op 'n vraag waarom hy gewag het tot 2010 voordat hy aksie ingestel het antwoord hy
"... omdat Land Bank 'n gerespekteerde instelling was wat absoluut vir die boere se behoud geveg het en dit ook 'n geweldige groot bydrae in die platteland gedoen het, het ek nie navrae gedoen rondom die rentekoerse tot op daardie stadium nie ..."
[13] Hy het ook vir die eerste keer lont geruik toe hy prokureur Botha se advertensie in die Landbouweekblad van November 2009 gelees het. Na die herberekening, en lank voor die drie jaar na November 2009 verstryk het, is aksie ingestel.
[14] In kruisondervraging het hy bevestig dat die boere nie die rentekoers van Land Bank enigsins betwyfel het nie en nie verwag het dat dit foutief sal wees nie.
[15] Oor hierdie getuienis, en dat hy eers in November 2009 agtergekom het wat gebeur het, is hy glad nie gekruisvra nie. Hy is net gekruisvra oor sekere dokumentasie wat hy van tyd tot tyd in die pos sou ontvang het. Hy het wel toegegee dat hy op 'n stadium verbaas was oor die vermelding van 'n agterstallige administrasie fooi en 'n boete fooi in sy state "maar omdat ek nie opgelei is in rekenkundige situasies nie het ek nie ag geslaan daarop nie".
[16] Hy het ook getuig oor die inligting wat later deur die Land Bank self openbaar is, naamlik dat daar foute gemaak is met die rente berekenings en dat sekere gelde aan die boere terugbetaal sou word. Hy het bevestig dat hy, na gesprekke met me Cilliers van die Land Bank in Ermelo, meegedeel is dat hy ongeveer R32 000,00 terug sou kry ten opsigte van die rekening van sy beslote korporasie, Uitgezocht Beleggings Bk, en ongeveer R700,00 ten opsigte van sy eie rekening. Hy het hierdie betalings onder protes aanvaar.
[17] Die kontrak in terme waarvan die eiser die lening met die Land Bank beding het, bepaal dat die rentekoers 11% per jaar beloop "en die lening is terugbetaalbaar met rente, gereken op die balans van tyd tot tyd op die kapitaal uitstaande ..." Hierdie onderwerp het ek reeds behandel in die hoofuitspraak en die bewoordings van die onderskeie kontrakte is ook aangehaal.
Gevolgtrekking
[18] Soos in die saak van Le Roiix. het ek tot die gevolgtrekking geraak dat die verweerder nie daarin geslaag het om sy bewyslas te kwyt dat die eis verjaar het en dat hierdie eiser, deur die uitoefening van redelike sorg, betyds die ware omvang en besonderhede van sy eis oorsaak kon bepaal ten einde binne die voorgeskrewe tydperk te dagvaar nie. Die spesiale pleit word dus van die hand gewys.
Die toekenning wat gemaak moet word
[19] Volgens die oornag berekening, wat volledig in die hoofuitspraak behandel is, en wat deur die deskundiges Whelpton en Strydom gesamentlik bereken is, is die bedrag van R18 661,28 aan die eiser betaalbaar. Die bedrag wat aan horn terugbetaal is, en wat afgetrek moet word, is R714,59. Die toekenning moet dus R17 946,69 beloop.
Mora datum
[20] Die partye is dit eens, na aanvanklike meningsverskille, dat die mora datum, vir die aanvang van 'n rente berekening op die toekenning, die datum van die betekening van die dagvaarding moet wees.
[21] Die dagvaarding is beteken op 10 Augustus 2010.
Koste
[22] Ek het hierdie onderwerp reeds behandel in Le Roux se saak. Vir die redes wat daarin genoem is, is ek voornemens om die koste van twee advokate toe te laat.
Die bevel
[23] Ek maak die volgende bevel:
1. Vonnis word toegestaan ten gunste van die eiser teen die verweerder vir betaling van die bedrag van R17 946,69.
2. Rente is op die vonnis bedrag betaalbaar teen 15,5% per jaar bereken vanaf 10 Augustus 2010 tot datum van betaling.
3. Die verweerder word gelas om die eiser se koste te betaal wat die koste van twee advokate sal insluit, asook, waar van toepassing, die kwalifiserende fooie van die deskundiges Roodt en Whelpton.
WRC PRINSLOO
REGTER VAN DIE NOORD GAUTENG HOE HOP
45190-2010
GEHOOROP: 21 NOVEMBER TOT 12 DESEMBER 2011 (11 DAE)
VIR DIE EISER: A F ARNOLDI SC EN C F J BRAND
IN OPDRAG VAN: BOTHA COETZER & SMITH INGELYF
VIR DIE VERWEERDER: T W BECKERLING SC EN M SAWYER
IN OPDRAG VAN: VELILE TINTO EN VENNOTE ING