South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria >>
2012 >>
[2012] ZAGPPHC 36
| Noteup
| LawCite
Uitgezocht Investments BK and Another v Land and Agricultural Development Bank of South Africa (45192/2010) [2012] ZAGPPHC 36 (9 March 2012)
Download original files |
IN DIE NOORD GAUTENG HOE HOF.
PRETORIA /ES (REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA)
SAAKNO: 45192/2010
DATUM:09/03/2012
IN DIE SAAK TUSSEN
UITGEZOCHT INVESTMENTS BK........................................................................ 1STE EISER
GIDEON WILHELMUS BUHRMANN........................................................................2DE EISER
EN
THE LAND AND AGRICULTURAL DEVELOPMENT
BANK OF SOUTH AFRICA............................................................................... VERWEERDER
UITSPRAAK
PRINSLOO. R
[1] Hierdie kort uitspraak moet gelees word saam met die hoofuitspraak in die "toetssaak" van Ryton Estates saakno 33482/2010 en dit moet ook saamgelees word met die uitsprake van Le Roux, saakno 42140/2010 en Buhrmann saakno 45190/2010.
[2] Ek is nie voornemens om alles wat reeds in daardie uitsprake gese is te herhaal nie. Hierdie saak is saam met die ander oorweeg in die verhoor en in die hoofuitspraak is daar ook reeds melding van hierdie saak gemaak, so ook in die Buhrmann uitspraak.
[3] Waar Buhrmann se getuienis ontleed is in sy saak, geld dit ook vir hierdie saak wat te doen het met sy beslote korporasie, Uitgezocht, en in sy getuienis het hy ook na hierdie saak verwys.
Inleiding
[4] Dit kom voor asof die verweerder die betrokke lening wat die onderwerp van hierdie eis vorm aan Buhrmann en sy Bk, Uitgezocht, gesamentlik toegestaan het. Hierdie verskynsel is nie van belang vir doeleindes van die beregting van die saak nie.
[5] Op 27 Oktober 1997 is 'n lening van Rl miljoen deur die Land Bank aan die twee eisers toegestaan.
[6] Die tersaaklike deel van die toekenningsbrief lees soos volg:
"Vir die huidige beloop die rentekoers 17% per jaar en die lening is terugbetaalbaar met rente, gereken vanaf die datum van registrasie van die verband, teen die koers van 17% per jaar op die saldo van tyd tot tyd op die kapitaal uitstaande ..."
Die betekenis hiervan is reeds ontleed in die hoofuitspraak.
[7] Blykens die betoogshoofde wat namens die eisers voorgele is, het hulle die bedrag van R2 033 483,45 aan die Land Bank terugbetaal ten opsigte van die lening van Rl miljoen. Die laaste betaling is op 26 April 2005 gemaak.
[8] Aksie is ingestel in Augustus 2010.
Die spesiale pleit van verjaring
[9] Ek het hierdie onderwerp volledig behandel in die saak van Le Roux. Ek het ook daarna verwys in die uitspraak in die saak van Buhrmann.
[10] Die spesiale pleit van verjaring kom, vir praktiese doeleindes, ooreen met die spesiale pleite wat geliasseer is in Le Roux en Buhrmann. In Le Roux het ek die tersaaklike bewoording van die pleit ook aangehaal.
[11] In Le Roux, het ek volledig oorweging geskenk aan die gesag en die voorskrifte van die Verjaringswet, 1969. Ek gaan dit nie herhaal nie. Hierdie uitspraak moet daarmee saamgelees word.
[12] Buhrmann se getuienis, wat betrekking het op hierdie saak van Uitgezocht, is ook in Buhrmann se saak ontleed. Soos ek daarin gemeld het, was daar geen kruisondervraging ten opsigte van wat myns insiens die tersaaklike gedeeltes van daardie getuienis was nie.
Gevolgtrekking
[13] Vir al die redes wat genoem is, en soos die geval was in Le Roux en Buhrmann, het ek tot die gevolgtrekking geraak dat die verweerder nie die bewyslas gekwyt het dat hierdie eis verjaar het nie. Ek bevind dienooreenkomstig.
Die mora datum
[14] Die ooreengekome mora datum is die datum van betekening van die dagvaarding, synde 10 Augustus 2010.
Die koste
[15] Soos in Le Roux en Buhrmann, is ek voornemens om die koste van twee advokate toe te staan vir die redes wat reeds vermeld is.
Die bedrag wat toei>eken staan te word
[16] In terme van die oomag berekening, soos beskryf in die hoofuitspraak, is daar 'n bedrag van Rl 19 635.59 aan hierdie eisers betaalbaar.
[17] Die verweerder het 'n bedrag van R32 564,18 aan die eisers terugbetaal en nadat dit afgetrek is van die beoogde toekenning, laat dit 'n eind bedrag van R87 071,41
Die bevel
[18] Ek maak die volgende bevel:
1. Vonnis word toegestaan ten gunste van die eisers teen die verweerder vir betaling van die bedrag van R87 071,41.
2. Die verweerder word gelas om rente op die genoemde bedrag te betaal teen 15,5% per jaar bereken vanaf 10 Augustus 2010.
3. Die verweerder word gelas om die koste te betaal wat die koste van twee advokate sal insluit, asook, indien van toepassing, die kwalifiserende fooie van die deskundiges Roodt en Whelpton.
W R C PRINSLOO
REGTER VAN DIE NOORD GAUTENG HOE HOF
45192-2010
GEHOOR OP: 21 NOVEMBER TOT 12 DESEMBER 2011 (11 DAE)
VIR DIE EISER: A F ARNOLDI SC EN C F J BRAND
IN OPDRAG VAN: BOTHA COETZER & SMITH INGELYF
VIR DIE VERWEERDER: T W BECKERLING SC EN M SAWYER
IN OPDRAG VAN: VELILE TINTO EN VENNOTE ING