South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria >> 2012 >> [2012] ZAGPPHC 90

| Noteup | LawCite

Voogt NO and Another v Pienaar (35634/2010) [2012] ZAGPPHC 90 (4 June 2012)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOE HOF VAN SUID-AFRIKA

(NOORD-GAUTENG, PRETORIA)

Saaknommer: 35634/2010

DATUM:04/06/2012


In die saak tussen:

STOFFELINA SUSANNA VOOGT N.O....................................................... EERSTE EISERES

ALETTA MARIA PIENAAR.............................................................................MEV PIENAAR


en

DAWID JOHANNES PIENAAR.....................................................................VERWEERDER


UITSPRAAK


HIEMSTRA WR

[1] Die eerste eiseres, in haar hoedanigheid as eksekutrise van die boedel van wyle Willem Francois Pienaar (die oorledene), en die tweede eiseres in haar persoonlike hoedanigheid, het twee eise ingestel teen die verweerder vir terugbetaling van gelde wat die verweerder na bewering aan die oorledene verskuldig was. Die verweerder is die seun van die tweede eiseres en die oorledene. Die oorledene is op 6 Junie 2009 oorlede. Gerieflikheidswyse sal ek na die tweede eiseres verwys as mev Pienaar.


[2] Die oorledene en mev Pienaar was buite gemeenskap van goedere getroud. Ingevolge fn gesamentlike testament erf mev Pienaar die restant van die boedel van die oorledene na cn bemaking van belange in twee beslote korporasies aan een van die seuns van die egpaar.


[3] Ten opsigte van die eerste eis beweer die eiseresse dat die verweerder 'n 2003 Mercedes Benz E270 met registrasienommer PRM 753 GP van die oorledene ge-koop het vir cn bedrag van R150 000 en dat hy weier of versuim om die koopprys aan die boedel van die oorledene of aan mev Pienaar te betaal.


[4] Die tweede eis is gegrond op 'n beweerde lening van R27 000 wat die oorledene aan die verweerder gemaak het om 5 elande te koop, welke lening die verweerder weier of versuim om terug te betaal.


[5] Mev Pienaar het getuig dat die Mercedes Benz die eiendom van die oorledene was en dat hy die voertuig wou verkoop. Die voertuig is by 'n handelaar in Vander-bijlpark ingehandig om verkoop te word. Die voorgestelde koopprys was R180 000. Nadat die motor vir ongeveer tjen dae by die handelaar gestaan het, het die ver-weerder aan die oorledene gemeld dat hy die voertuig wou koop. Die oorledene het ingestem en aan die verweerder gese dat hy die dit teen R175 000 kon koop. Een van die ander seuns, Danie Pienaar, het die voertuig by die handelaar gaan haal en gebring na die woning van die oorledene en mev Pienaar. Die verweerder het saam met sy eggenote die voertuig kom haal en is daarmee weg na hulle wildplaas naby Fochville.


[6] Daarna het die verweerder vir die oorledene gese dat dit nodig is om vier nuwe bande aan die motor te sit en dat die koopprys daarom verminder moet word tot R170 000. Nog later het die verweerder aan die oorledene gese dat die voertuig cn nuwe ratkas benodig teen byna R20 000. Die oorledene het ingestem en daar is ooreengekom dat die koopprys daarom verminder sou word tot R150 000.


[7] Volgens mev Pienaar het die verweerder na 'n paar dae aan die oorledene gese dat hy nie meer die voertuig wil koop nie, maar dat hy sal sorg dat dit verkoop word. Geeneen van die advokate het mev Pienaar verder oor hierdie stelling ondervra. Die verdere getuienis van mev Pienaar kom daarop neer dat die kooptransaksie nie gekanselleer is nie, maar dat die verweerder en die oorledene voortgegaan het asof die verkoping wel deurgegaan het.


[8] Die verweerder is gedurende ongeveer Maart 2009 in die hospitaal opgeneem. Mev Pienaar het getuig dat die verweerder by twee geleenthede, terwyl die oorle-dene in die hospitaal was, vir haar gese het dat hy die geld sou inbetaal sodra sy daarvoor vra. Mnr Danie Pienaar, soos vermeld 'n ander seun van die oorledene en mev Pie-naar, het bevestig dat die verweerder aan sy moeder eenmaal by die hospi-taal en eenmaal tydens 'n ontbyt by 'n Wimpy-restaurant gese het dat sodra sy dit benodig, hy die geld vir die motor sou inbetaal. Sy het aan horn gese hy kan wag tot sy vader gesond is.


[9] Die eiseresse steun verder op 'n dokument met die titel "TOEVOEGING TOT TESTAMENT", gedateer 25 Mei 2009. Hierdie dokument bevat fn handtekening wat voorgee die van die oorledene te wees. Mev Pienaar en haar suster, mev M. Eramus, het albei getuig dat die oorledene dit in sy hospitaalbed in hulle teen-woordigheid onderteken het en dat hulle daar en dan as getuies geteken het. Hulle het ook getuig dat mnr Francois Pienaar, die seun van die verweerder, die dokument ook by dieslefde geleentheid by die oorledene se hospitaalbed onderteken het. Mnr Francois Pienaar het egter in sy getuienis namens die verweerder getuig dat hy die dokument onderteken het by die kantoor van mnr Danie Pienaar. Hoewel hy nie sy oupa se handtekening ken nie, het hy gese dat hy aanvaar dat die handtekening bo-kant die oorledene se naam die van die oorledene is. Hy het gese dat mev Pienaar en mev Erasmus teenwoording was in Danie Pienaar se kantoor toe hy dit onderteken het. Volgens horn was aldrie die ander handtekeninge reeds op die dokument. Hy weet nie waar en wanneer die handtekeninge aangebring is nie.


[10] Die betrokke dokument lui onder die titel "TOEVOEGING TOT TESTAMENT" as volg:


"Hiermee bevestig ek Willem Francois Pienaar Id no 3906115021086 dat my seuns soos hier onder benoem geld by my geleen het.

1. Dawid Johannes Pienaar

2. Cornelius Petrus Johannes Pienaar


Die geld geleen word soos volg uiteenqesit DJ Pienaar

1. Mercedes Benz.........................R150 000

2. Elande gekoop.................... ….R27 000 TOTAAL R177 000 CPJ Pienaar


1. Bokke aangekoop 3/3/04 …. R32 000

2. Bokke aangekoop...................R62 000

3. Geld geleen 16/11/05..............R248 000

TOTAAL......................................R342 000

My versoek is dat hulle indien ek iets oorkom die geld binne 30 dae aan my eggenoot Aletta Maria Pienaa ID Nr 4309130046080 sal betaal.

Ek versoek ook dat die geboue Delfos no 10,11,12 Delfos straat Vanderbijlpark NW7 nou aan my seun Jacobus Daniel Pienaar bemaak word.

Geteken op 25 Mei 2009 WF Pienaar"


[11] In die verweerskrif word beweer dat die verweerder geen kennis dra van die egt-heid van die dokument nie en plaas die eiseresse tot die bewys daarvan. Daar word verder gepleit dat indien die dokument wel deur die oorledene onderteken is, dit nie 'n toevoeging tot die testament daarstel nie aangesien die oorledene nie by magte was om cn betaalverpligting aan die verweerder op te le nie. Hy pleit vervolgens dat insoverre die dokument voorgee om 'n betalingsverpligting op die verweerder op te le, dit ongeldig is en dat dit geen aanspreeklikheid daarstel nie.


[12] Die verweerder se verweerskrif, soos geformuleer, gaan egter van 'n foutiewe vooropstelling uit, naamlik dat die eiseresse se eise op hierdie dokument gegrond is. Die eise is gegrond op die beweerde koopooreenkoms tussen die oorledene en die verweerder en £n geldlening. Die dokument is aangebied as stawende getuienis vir die koopooreenkoms en lening. Of dit aan die formaliteite van 'n geldige kodisil of addendum tot 'n testament voldoen, is nie ter sake nie. Die hof moet op 'n konspek-tus van al die getuienis bepaal of die oorledene sy Mercedes Benz aan die ver-weerder vir R150 000 verkoop het en of hy R27 000 aan horn geleen het.


[13] Die verweerder se getuienis is dat.hy aanvanklik die voertuig van die oorledene wou koop vir sy eggenote se gebruik. Hy beweer daisy ouers die voertuig na sy plaas toe gebring het. Volgens horn het die oorledene vir horn gese dat hy dit vir 12 tot 14 dae moet bestuur en dan besluit of hy dit wil koop. Sy eggenote het die motor vir 'n paar dae gebruik en toe vir die verweerder gese dat hy nie goed trek nie en dat daar 'n klapgeluid in die enjin is. Hy het dit self bestuur en bevestig dat dit so is. Hy het toe die oorledene geskakel en gese dat hy nie meer die motor wou koop nie, maar dat hy sou sorg dat hy verkoop word. Hy het daarna die voertuig oorhanding aan Unicus Motors, n saak van £n baie goeie vriend. Daar kon nie onmiddellik fn ko-per gevind word nie, en die oorledene het "op sy nek gele" oor die verkoop. Uiteinde-lik is cn koper gevind, maar die koper het aangedring dat vier nuwe bande opgesit word en dat die ratkas vervang word. Hy het die oorledene dienooreenkomstig ingelig en die oorledene het ingestem tot die vervanging van die bande en ratkas. Dit het die prys afgebring tot R150 000. Unicus Motors is egter gelikwideer voordat die koopprys betaal is.


[14] Die verweerder se verweer ten opsigte van die beweerde lening vir die koop van die elande is volgens die verweerskrif dat die oorledene die geld aan horn geskenk-het. Sy getuienis in hierdie verband verskil egter hemelsbreed van sy verweerskfrif. Hy het getuig dat hy en sy vader op die verweerder se plaas op 'n wildbesigtigingsrit was toe 'n wildhandelaar die verweerder op sy selfoon geskakel het. Die handelaar het gese dat hy tien elande op 'n voertuig het wat hy dringend wil verkoop en het hulle aangebied vir R54 000. Die verweerder het die aanbod van die hand gewys. Die oorledene het egter voorgestel dat hulle elkeen vyf elande koop wat dan almal op die verweerder se plaas sou loop. Al die aanteel sou aan die verweerder toekom. In mil daarvoor moes die verweerder elke jaar aan die oorledene 'n geslagte eland le-wer vir die res van die oorledene se lewe. Hy het ingestem en die wildhandelaar geskakel en die transaksie beklink. Volgens die verweerder het hy een geslagte eland aan die oorledene gelewer voor sy dood. Na die oorledene se dood het hy geen elande aan mev Pienaar gelewer nie. Mev Pienaar het ten sterkste ontken dat die verweerder ooit 'n geslagte eland aan die oorledene gelewer het en sy weet niks van so 'n ooreenkoms nie.


[15] Hier is twee onversoenbare weergawes en dit is die taak van die hof om hulle op te weeg. Die bewyslas rus op die eiseresse.


[16] Dit blyk uit die getuienis dat daar 'n besonder bitter familietwis bestaan het tus-sen die verweerder en sy een broer, mnr C.P.J. Pienaar aan die een kant, en die oorledene, mev Pienaar en Mnr Danie Pienaar aan die ander kant. Die twis tussen die verweerder en mev Pienaar duur skynbaar steeds voort. Die verweerder het sedert die begrafnis nog geen woord met haar gepraat nie. Mnr Danie Pienaar het getuig dat die verweerder en sy broer, C.P.J. Pienaar, by hulle vader se begrafnis in die kerk aangekondig het dat hulle weier om as draers van die kis op te tree. Hierdie familietwis is egter hoegenaamd nie gedurende die verhoor uitgepluis nie, en geeneen van die partye het die twis voorgehou as 'n motief vir die een of die ander om leuenagtige getuienis te lewer nie. Ek is egter bewus daarvan dat die voile ver-haal nie in die hof geopenbaar is en dat die getuienis gestroop is van emosies en nuanses.


BEOORDELING VAN DIE GETUIENIS

[17] Adv. H. Kriel, wat namens die verweerder opgetree het, het op grond van mev Pienaar se getuienis betoog dat die kooptransaksie gekanselleer is. Soos gemeld, het mev Pienaar getuig dat 'n paar dae nadat die voertuig aan die verweerder gele­wer is, hy die oorledene meegedeel het dat hy nie meer die voertuig wil koop nie. Dit stem tot 'n groot mate ooreen met die verweerder se getuienis. Adv. H.C. Bothma, namens die eiseresse, het egter betoog dat die koop teen daardie tyd reeds perfecta was. Dit skyn ook die mening van die oorledene te gewees het, want op 25 Mei 2009 het hy op skrif verklaar dat die verweerder horn R150 000 skuld vir die motor. Mev Pienaar het getuig dat die oorledene baie ongelukkig was daaroor dat die verweerder horn nie betaal nie.


[18] Die sogenaamde toevoeging tot die testament bied sterk ondersteuning vir die saak van die eiseresse. Dit is getuienis dat op 25 Mei 2009 die oorledene van mening was dat die verweerder aan horn R177 000 verskuldig was op grond van die verkoop van die motorvoertuig en die lening vir die aankoop van elande. Hoewel dit aan mev Pienaar in kruisverhoor gesuggureer is dat die oorledene tydens sy siekte by tye nie by sy voile positiewe was nie, is daar geen sodanige getuienis nie. Mev Pienaar, asook Danie Pienaar, het dit ten sterkste ontken. Buitendien het die verweerder die oorledene vir die laaste twee maande voor sy oorlye gladnie besoek nie.


[19] Omdat dit 'n uitwerking op my beslissing ten opsigte van die Mercedes Benz het, handel ek eers met die beweerde lening vir die elande. Ek het geen huiwering om die verweerder se getuienis in hierdie opsig te verwerp nie. Sy getuienis hou geen ver-band met sy verweerskrif nie. Dit is duidelik dat hy sy regsverteenwoordiger van cn ander weergawe voorsien het vir die doeleindes van die opstel van die verweerskrif as die wat hy aan die hof voorgehou het. Mnr Kriel het betoog dat word "skenking" losweg in die verweerskrif gebruik is, en dat die verweerskrif andersins met die verweerder se getuienis strook. Dit kan hoegenaamd nie aanvaar word nie. (n Verweerskrif. is 'n pleitstuk wat deur 'n regsgeleerde opgestel word met die doel om die geskille duidelik en noukeurig te formuleer. Daar is geen ruimte vir die los gebruik van terme nie. Indien die opsteller van die verweerskrif sulke los taal gebruik het, is hy skuldig aan ernstige pligsversuim.


[20] Mnr Bothma het gesag aan my voorgele tot die effek dat daar £n vermoede bestaan teen 'n skenking. Ek neem kennis daarvan, maar weens die weerspreking tussen die verweerder se verweerskrif en sy getuienis, verwerp ek sy getuienis, en is dit nie nodig om op 'n vermoede te steun nie.


[21] Die waarskynlikhede ten opsigte van die Mercedes Benz is op 'n mespunt ge-balanseer. Die skaal swaai egter in die guns van die eiseresse weens die klaarblyk-like leuenagtigheid van die verweerder ten opsigte van die elande. Sy geloofwaar-digheid in geheel is hierdeur ernstig besoedel.


GEVOLGTREKKING

[22] Ek bevind derhalwe op 'n oorwig van waarskynlikhede dat die eiseresse hulle van hulle bewyslas gekwyt het ten opsigte van beide eise.


Gevolglik maak ek die volgende bevel:


1. Die verweerder word gelas om aan die eerste eiseres in haar hoedanigheid as
eksekutrise van die boedel van wyle Willem Francois Pienaar die volgende te betaal:


1.1 Ten opsiqte van Eis 1:

1.1.1 R150 000;

1.1.2 Rente op die bedrag van R150 000 vanaf 7 Julie 2009 tot datum van betaling teen 15,5% per annum.


1.2 Ten opsiqte van Eis 2:
1.2.1 R27000;

1.2.1 Rente op die bedrag van R27 000 vanaf 7 Julie 2009 tot datum van betaling teen 15,5% per annum.

2. Koste van die geding.


J. HIEMSTRA

WAARNEMENDE REGTER VAN DIE HOE HOF



Datum van verhoor: 31 Mei 2012

Datum van uitspraak: 1Junie2012

Advokaat vir die eiser:Adv. H.C. Bothma

Prokureur vir die eiser:Tim du Toit & Kle Ing.

Advokaat vir die verweerder: Adv. H. Kriel

Prokureur vir die verweerder: PSN Inc, c/o Van der Merwe & du Toit