South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria >> 2014 >> [2014] ZAGPPHC 1027

| Noteup | LawCite

Dannhauser N.O. and Others v Van Der Walt N.O. and Others (68959/2014) [2014] ZAGPPHC 1027 (19 December 2014)

Download original files

PDF format

RTF format




SAFLII Note: Certain personal/private details of parties or witnesses have been redacted from this document in compliance with the law and SAFLII Policy



IN DIE HOË HOF VAN SUID-AFRIKA

GAUTENG AFDELING, PRETORIA

SAAKNOMMER: 68959/2014

REPORTABLE

NOT OF INTEREST TO OTHER JUDGES

DATE: 19 DECEMBER 2014

In die saak tussen:

MARIJKE DANNHAUSER N.O. …....................................................................................Eerste Applikant

LIZEL DANNHAUSER N.O. …........................................................................................Tweede Applikant

JOHAN WESSELS N.O. …...................................................................................................Derde Applikant

JOHANNES CHRISTIAAN DANNHAUSER N.O. …......................................................Vierde Applikant

v

CORNELIA SUSANNA VAN DER WALT N.O. ….......................................................Eerste Respondent

THOMAS RICHARD DANNHAUSER N.O. …............................................................Tweede Respondent

GIDEON GEORGE VAN DER WALT N.O. …..............................................................Derde Respondent

DERICK KUUN N.O. …....................................................................................................Vierde Respondent

VERDERE TRUSTEES VAN DIE DERICK

KUUN FAMILIETRUST....................................................................................................Vyfde Respondent

DIE REGISTRATEUR VAN AKTES: PRETORIA........................................................Sesde Respondent

DIE MEESTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF.......................................................Sewende Respondent

AANGEHOOR: 9 Oktober 2014

GELEWER: 19 Desember 2014

UITSPRAAK

A.A.LOUW R

Agtergrond

[1] Sentraal tot hierdie dispuut is 'n pa en sy dogter, twee trusts en twee plase. Dit is Johannes Christiaan Dannhauser (“Dannhauser”) en sy dogter Cornelia Susanna van der Walt (“Nila van der Walt”), die JC Dannhauser Trust, die Skaaphoek Trust en die plase Rietfontein en Rietbult.

[2] Dannhauser was ‘n welgestelde boer wat verskeie plase in Mpumalanga en Gauteng besit het. Hy is tans 89 jaar oud en, soos uit ‘n mediese verslag blyk wat ek later sal aanhaal, nie meer by sy voile positiewe nie. Hy en sy vrou (“Mev Dannhauser”) het drie kinders gehad naamlik, Org Dannhauser, Richard Dannhauser en Nila van der Walt. Mev Dannhauser is oorlede op 15 September 2006 en Org Dannhauser gedurende November 2011.

[3] Dannhauser het aan Org Dannhauser plase gegee in die distrikte Amersfoort en Balfour en aan Richard Dannhauser drie plase in die distrik Amersfoort.

[4] Nila van der Walt sê1 dat daar, volgens haar pa, vir haar voorsiening gemaak sou word uit die opbrengs van die Dannhauser Trust in welke trust sy as die enigste “begunstigde” gedefinieer is. Hierdie trust is in 1997 opgerig en die aanvanklike trustees was Dannhauser, Mev Dannhauer en Nila van der Walt. Ook gedurende 1997 is twee plase naamlik ‘n gedeelte van die plaas Rietbult, Mpumalanga en ‘n gedeelte van die plaas Rietfontein, Gauteng deur Dannhauser aan die trust getransporteer.

[5] Die Skaaphoek Trust is in 2005 opgerig en by die Meester van die Hooggeregshof, Bloemfontein geregistreer. Die aanvanklike trustees was Dannhauser, Mev Dannhauser en Christoffel Johannes Brits. Die begunstigdes van hierdie trust is gedefinieer as Org Dannhauser en/of sy wettige afstammelinge.

[6] Die dispuut tussen die twee trusts het in 2005 begin toe die Dannhauser Trust ‘n koopkontrak met die Skaaphoek Trust aangegaan het in terme waarvan gemelde twee plase aan die Skaaphoek Trust verkoop is vir ‘n totale som van ongeveer R810 000. Hierdie besluit is geneem op ‘n vergadering te die kantoor van prokureur Claasen in Frankfort op 6 Julie 2005. Dannhauser en Mev Dannhauser het ten gunste van hierdie besluit gestem en die teenstem van Nila van der Walt is genotuleer.

[7] Nila van der Walt het sonder versuim hierdie hof genader in Desember 2005 vir ‘n interdik om oordrag van gemelde plase te verhoed hangende die instel van ‘n aksie vir ‘n verklaring dat die koopkontrak tussen die twee trusts ongeldig is. Op 29 Mei 2007 het sy sodanige bevel gekry. Die volledige bevel word later in hierdie uitspraak aangehaal.

[8] In Julie 2008 het sy die voorgenome aksie ingestel waarin sy die volgende regshulp teen beide trusts versoek het:

1. ‘n Verklarende bevel ingevolge waarvan verklaar word dat die kooptransaksie aangegaan tussen eerste verweerder, ooriedene [Mev Dannhauser] in hul hoedanighede as trustees van die JC Dannhauser Trust en die derde en vierde verweerders in hul hoedanighede as trustees van die Skaaphoek Trust nietig verklaar word;

2. dat die eerste verweerder [Dannhauser] verwyder word as trustee van die JC Dannhauser Trust, IT 2480/1997;

3. dat die vyfde verweerder [die Meester van die Hooggeregshof, Pretoria] gemagtig en gelas word om uitvoering te gee aan die werking van bede 2 hierbo, deur die uitreiking van ‘n magtigingsbrief aan die eerste eiseres as die alleen-trustee van die JC Dannhauser Trust, IT 2480/1997."

[9] In hierdie aksie is sy in haar persoonlike en verteenwoordigende hoedanighede die eerste tot derde eisers en haar man George van der Walt is die vierde eiser in sy hoedanigheid as ‘n inkomste-en kapitaalbegunstigde van die Dannhauser Trust. Die eerste en tweede verweerders is gedagvaar in hul hoedanighede as die ander trustees van die Dannhauser Trust terwyl die derde en vierde verweerders gesiteer is in hul hoedanighede as trustees van die Skaaphoek Trust.

[10] Die eerste tot vierde verweerders het ‘n pleit afgelewer in Maart 2009. Daar is ook ‘n teeneis deur die derde en vierde verweerders namens die Skaaphoek Trust vir skade in die bedrag van R4,3 miljoen teen Nila van der Walt aangesien sy na bewering so ingemeng het met die kontraktuele verhouding tussen die twee trusts dat die Skaaphoek Trust nie oordrag van die eiendomme kon neem teen 31 Desember 2005 nie. In die stukke voor my is nie ‘n pleit op die teeneis nie, maar dit word beweer dat die pleitstukke gesluit het. Die aksie is egter nooit ter rolle geplaas vir verhoor nie. Die rede hiervoor blyk uit korrespondensie wat ek later sal aanhaal.

[11] In die huidige dringende aansoek (dringendheid is nie in dispuut nie) eis die vier applikante as trustees van die Skaaphoek Trust ‘n interdik teen die eerste tot derde respondente as trustees van die Dannhauser Trust om oordrag van die plase Rietfontein en Rietbult te verhoed. In bede 2 word hierdie regshulp gespesifiseer as hangende die finalisering van die 2008 aksie. Soos hieronder sal blyk is hierdie aksie egter nie meer hangend nie.

[12] Die vierde en vyfde respondente (“die koper”) is die Derick Kuun Familietrust wat op 30 Julie 2014 die gedeelte van die plaas Rietfontein gekoop het vir die bedrag van R11 miljoen. Die koper het reeds die deposito van R1 miljoen aan die oordragprokureur Couzyn, Hertzog & Horak betaal sowel as die oordragkoste en hereregte. Daarbenewens is ‘n waarborg gelewer vir die betaling van die balans van R10 miljoen teen registrasie van oordrag.

[13] Die prima facie reg waarop die applikante hierin staatmaak is die reg om oordrag van die plase te verkry in terme van die 2005 koopkontrak. Die kern van die antwoordende eedsverklaring is dat die 2008 aksie reeds op 18 Augustus 2010 teruggetrek is en dat enige vordering wat die Skaaphoek Trust mog gehad het verjaar het.

[14] Ek gaan vervolgens oor tot ‘n bespreking van die Verjaringswet Verjaringswet, 68 van 1969 (“die Wet”)

[15] Ingevolge artikel 12(1) van die Wet begin verjaring loop sodra die skuld opeisbaar is.

[16] Daar is geen definisie van “skuld” in die Wet nie. Dit is egter deur vele regspraak gedefinieer en vir huidige doeleindes is dit voldoende om aan te haal uit die standaardwerk van Loubser in hierdie verband.2 Hy stel die regsposisie as volg:

The term ‘debt’ commonly refers to the relationship between parties where the one has a duty to render some performance and the other has a correlative right to such a performance, in this sense ‘debt’ is the correlative of a claim by another; and the claimant may impose the duty on the debtor to behave in a certain way, for example to pay, to deliver or to allow.”3

[17] Ek haal vervolgens die artikels van die Wet aan wat relevant is vir die doeleindes hiervan:

13. Voltooiing van verjaring onder sekere omstandighede uitgestel

(1) Indien -

(a) die skuldeiser minderjarig of kranksinnig of ‘n persoon onder kuratele is of deur oormag, met inbegrip van ‘n wetsbepaling of ‘n hofbevel verhinder word om die loop van verjaring te stuit soos in artikel 15 (1) bedoel;

...

(e) die skuldeiser ‘n regspersoon is en die skuldenaar ‘n bestuurslid van daardie regspersoon;

...

(i) die toepaslike verjaringstermyn, as dit nie vir die bepalings van hierdie subartikel was nie, voltooi sou word voor of op, of binne een jaar na, die dag waarop die betrokke beletsel in paragraaf (a), (b), (c), (d), (e), (f), (g) of (h) bedoel, opgehou het om te bestaan,

word die verjaringstermyn nie voltooi voordat ‘n jaar na die in paragraaf (i) bedoefde dag verstryk het nie.

14. Stuiting van skuidverjaring deur erkenning van aanspreeklikheid.

(1) Die loop van verjaring word gestuit deur ‘n uitdruklike of stilswyende erkenning van aanspreekiikheid deur die skuidenaar.

(2) indien die loop van verjaring gestuit word soos in subartikel (1) bedoel, begin die verjaring van nuuts af loop vanaf die dag waarop die stuiting plaasvind of, indien die partye ten tyde van die stuiting of te eniger tyd daarna die opeisbaarheidsdatum van die skuld uitstel, vanaf die dag waarop die skuld weer opeisbaar word.

15. Geregtelike stuiting van skuidverjaring

(1) Behoudens die bepalings van subartikel (2), word die loop van verjaring gestuit deur die betekening aan die skuidenaar van ‘n prosesstuk waarin die skuldeiser betaling van die skuld vorder.

(2) Tensy die skuldenaar aanspreeklikheid erken, verval die stuiting van verjaring ingevoige subartikei (1), en word die loop van verjaring nie geag gestuit te gewees het nie, indien die skuldeiser sy aanspraak ingevoige die betrokke prosesstuk nie met welslae tot finale vonnis deurvoer nie of indien hy sy aanspraak aldus deurvoer maar afstand doen van die vonnis of die vonnis ter syde gestel word.

(3) Indien die loop van verjaring gestuit word soos in subartikei (1) bedoel, en die skuldenaar aanspreeklikheid erken en die skuldeiser sy aanspraak nie tot finale vonnis deurvoer nie, begin die verjaring van nuuts af loop vanaf die dag waarop die skuldenaar aanspreeklikheid erken of, indien die partye ten tyde van die erkenning van skuld deur die skuldenaar of te eniger tyd daama die opeisbaarheidsdatum van die skuld uitstel, vanaf die dag waarop die skuld weer opeisbaar word. ”

Toepassing van die Wet op die feite.

[18] Die skuld wat hier te sprake is, is die verpligting van die Dannhauser Trust om oordrag van die plase te lewer aan die Skaaphoek Trust teen die nakoming van die Skaaphoek Trust se wederkerige verpligting om die koopprys te betaal of te tender soos uiteengesit in die koopkontrak gedateer 6 Julie 2005.

[19] Insake die betaling van die koopprys bepaal die kontrak as volg:

"2.1 Die kooppryse sal teen registrasie van Transport van die eiendom in naam van die KOPER aan die VERKOPER betaalbaar wees. Vir hierdie bedrag sal die KOPER deur die VERKOPER goedgekeurde waarborg lewer; betaalbaar teen registrasie van transport van die eiendom in naam van die KOPER en op die skriftelike advies van CLAASEN PROKUREUR, Strydomstraat 11, Frankfort. Hierdie waarborg moet in besit van die oordraggewende Prokureurs geplaas word binne 14 (VEERTIEN) dae vanaf datum wat Koper kennis gekry het daartoe. ”

[20] Die kontrak bepaal dus geen spesifieke datum vir die lewering van ‘n waarborg vir die kooppryse nie. Dit moet gelewer word binne 14 dae nadat die Skaaphoek Trust kennis gekry het vanaf prokureur Claasen om dit te lewer. Namens die Skaaphoek Trust is geargumenteer dat die Dannhauser Trust dus steeds onder geen verpligting is om te lewer nie aangesien daar geen bewering is dat Claasen sodanige kennis gegee het nie. Dit is inderdaad ook Claasen se siening in sy eerste brief aan prokureur Oosthuizen gedateer 13 Februarie 2012, soos volg:

Ons opdrag is dus om u in kennis te stel, soos ons hiermee doen, dat ons kliënte die koopkontrak tussen die JC Dannhauser Trust en Skaaphoek Trust steeds as bindend en afdwingbaar beskou met die koopprys wat gewysig is soos onderling geskik.”

Dit is nie vir my uit die stukke duidelik wat die koopprys is wat gewysig is soos na bewering onderling geskik nie.

[21] Hierdie argument is myns insiens onhoudbaar. Behalwe indien die verkoop bloot ‘n skyn was, strook dit nie met die realiteit van die uitvoering van handelstransaksies dat sodanige oordrag na byna 10 jaar steeds in die lug hang nie. Verder strook dit in ieder geval nie met die Skaaphoek Trust se eie weergawe in die 2008 aksie oor wanneer dit sou oordrag neem nie. In die teeneis in die aksie eis die Skaaphoek Trust inderdaad skade van Nila van der Walt in haar persoonlike en verteenwoordigende hoedanighede in die bedrag van R4,3 miljoen aangesien sy die oordrag van die eiendomme vertraag het. Dit word beweer dat sy opsetlik en onregmatig ingemeng het met die kontraktuele verhouding tussen die twee trusts met die gevolg dat die Skaaphoek Trust nie oordrag kon neem, soos dit na bewering sou doen teen laastens einde 2005 nie. Derhalwe word gemelde skade in die teeneis geëis vanaf die begin van 2006. Die volgende paragrawe in die teeneis verdien aanhaling:

25.

As gevolg van voormelde onregmatige optrede is die oordrag van die eiendomme aan die trustees van die Schaaphoek Trust vertraag en het dit nog nie plaasgevind nie.

26.

Indien dit nie was vir die optrede van die Eisers nie, sou die Schaaphoek Trust oordrag van die eiendomme kon neem binne 'n redelike tyd na Julie 2005, naamlik nie later nie as 31 Desember 2005 en sou die Schaaphoek Trust die eiendomme daarna kon benut as eienaar daarvan.

[22] Ek verwerp dus die applikante se argument dat die skuld nog nooit opeisbaar geword het nie. Ek aanvaar die betoog namens die eerste tot derde respondente dat verjaring begin loop het op 1 Januarie 2006.

[23] Dit beteken dus dat tensy enige van die applikante se verwere gegrond op die bepalings van die Wet, waarmee hieronder gehandel sal word, water hou, verjaring voltooi is aan die einde van 2008. In so ‘n geval is die Dannhauser Trust dus onder geen verpligting meer om oordrag van die plase te lewer aan die Skaaphoek Trust nie. Ek handel egter eerstens met die applikante se argument dat die 2007 hofbevel steeds geldig is.

Die 2007 hofbevel

[24] Die bevel wat Nila van der Walt onder saaknommer: 41127/2005 op 29 Mei 2007 bekom het lees soos volg:

1. Hangende die instel (voor 30 Junie 2007) en afhandeling van ‘n aksie deur die Applikante teen Respondente vir:

1.1 die verwydering van Eerste Respondent as trustee van die JC Dannhauser Trust, IT2480/97 en;

1.2 ‘n verklarende bevel dat, gegewe die koopprys, die verkoopstransaksie tussen JC Dannhauser Trust en die Skaaphoek Trust nietig verklaar word, word:

(a) Die Eerste Respondent verbied om aan die Derde en Vyfde Respondent, oordrag te verleen van Gedeelte 19 (Gedeelte van Gedeelte 1) van die plaas Rietfontein 508, Registrasie Afdeling IR, Provinsie Gauteng en Gedeelte (Gedeelte van Gedeelte 2) van die plaas Rietbult Estates 505, Registrasie Afdeling IR, Provinsie Mpumalanga.

(b) Die koste van hierdie aansoek word voorbehou vir beregting in die voorgenome aksie deur die Applikante.

[25] Die beoogte aksie is nie voor 30 Junie 2007 ingestel nie maar eers ongeveer ‘n jaar later naamlik gedurende Julie 2008. Die Skaaphoek Trust se uiteindelike stand punt is dat die 2007 verbiedende interdik steeds geld en dat oordrag van die plase dus nie mag geskied nie. Of hierdie argument geldig is hang af van ‘n behoorlike interpretasie van die 2007 bevel.

[26] Prokureur Claasen se houding insake die geldigheid van die tussentydse interdik is ryke stof vir ‘n teater van die absurde. Prokureur Janeke skryf op 26 Julie 2010 aan Claasen en sê daarin dat dit sy kliënt, Nila van der Walt, se instruksies is om beide die 2005 en 2008 sake terug te trek op die basis dat elke party sy eie koste betaal. Dit word skriftelik aanvaar deur Claasen in sy brief van 9 Augustus 2010. ‘n Kennisgewing van terugtrekking van die aksie is op 18 Augustus 2010 beteken. Aangesien die aansoek aksessoor tot die aksie was, beteken dit natuurlik die einde van die aansoek ook.

[27] Toe Oosthuizen in Julie 2011 namens Nila van der Walt begin optree het, het hy aan Claasen geskryf dat Janeke geen goedkeuring of mandaat gehad het om die aksie terug te trek nie. Hy skryf weer aan Claasen op 15 Augustus 2011 en sê dat dit sy opdrag is om die saak te “heropen”.

[28] Claasen se reaksie op 13 Februarie 2012 is ondubbelsinnig. Hy skryf:

Ons het ook die saak weereens met Mnr. Janeke opgeneem wie (sic) ons die versekering gegee het dat dit inderdaad sy instruksies was om beide sake terug te trek op die basis dat elke party sy eie koste betaal. Hy is bereid om in enige Hof so te getuig.”

In sy volgende brief van 21 Mei 2012 volstaan hy met die standpunt dat die terugtrekking regmatig gedoen was. Op 11 Maart 2013 skryf hy soos volg aan Oosthuizen:

Ons opdrag is om op rekord te plaas dat Mev. Nila vd Walt, volgens vorige skrywers van u kantoor, volstaan dat sy nie opdrag aan Mnre. Trollip, Cowling en Janeke van Brakpan verleen het om ‘n Terugtrekkings Kennisgewing namens die Applikante in Saak nr. 41127/05 Gauteng Hooggeregshof en namens die Eiser in die saak nr. 36215/08 ook in die Hooggeregshof Gauteng te liasseer nie.

Na aanleiding van regsadvies ingewin volstaan ons kliënt egter met die huidige stand van sake naamlik dat daar wel ‘n behoorlike Kennisgewing van Terugtrekking in beide die twee sake hierbo na verwys liasseer is. ”

[29] Verstommend in ‘n brief van 15 Julie 2014 maak Claasen ‘n totale bollemakiesie toe hy as volg skryf aan Oosthuizen:

1.4 Mev. Vd Walt het inderdaad in saak nr. 36215/2008 in die Noord Gauteng Hoë Hof ‘n aksie ingestel maar is hierdie aksie nog nie afgehandel nie en staan die Bevel in saak nr. 41127/2005 steeds, wat oordrag van die eiendomme verhoed”

Dit was net nadat Claasen bewus geword het dat daar ‘n moontlike koper vir Rietfontein is.

[30] Aan die anderkant is Nila van der Walt se instruksies aan Oosthuizen deurentyd dat Janeke geen mandaat gehad het om enige litigasie namens die Dannhauser Trust of haarself terug te trek nie.4Sy het egter geen aansoek gebring om die kennisgewing van terugtrekking herroep of tersyde te stel te kry nie en is ook duidelik nie van plan om dit te doen nie. In die lig van tussentydse verwikkellinge sou dit vir haar sinneloos wees om die 2008 aksie voort te sit. Dit staan dus as ‘n onomstootlike feit dat die aksie op 18 Augustus 2010 tot ‘n einde gekom het.

[31] Derhalwe kan daar geen sprake daarvan wees dat die tussentydse interdik steeds geld nie. Op ‘n behoorlike interpretasie van die 2007 bevel is ek dit in ieder geval met Mnr Vorster namens die eerste tot derde respondente eens dat die werking daarvan verval het op 30 Junie 2007 toe die aksie nog nie ingestel was nie. Daar sou geen rede gewees het om te gelas dat die aksie ingestel moes word voor 30 Junie 2007 indien dit nie gekoppel was aan die geldigheid van die interdik nie. Trouens, indien dit niks met die interdik te doen het nie, mag ‘n aksie tog ter eniger tyd ingestel word. Praktisyns en die howe is welbekend met die tirannie van ‘n tussentydse interdik. Indien die instel van die aksie en die afhandeling daarvan nie binne die kortste moontlike tyd geskied nie, word die nadeel vir die party wat deur die interdik geraak word al hoe groter.

[32] Mnr Stoop namens die applikante het in sy teenargument verwys na ‘n pasasie in ‘n uitspraak van Milne R in Ex parte Venter.5 Die passasie lees soos volg:

In my view, having regard to the terms of the order, it must be read as a whole. The mere fact, however, that there was a breach of the order, which there would only be if the period of 30 days referred to in para 4 of that order means calendar days, would not mean that the order fell away. There was no provision to that effect in the order, nor does it seem to me to be properly implied from any of the facts put before me.”6

[33] By wyse van analogie was die argument dan dat daar ook niks in die 2007 bevel is wat sê dat dit onder sekere omstandighede sou verval nie. Ex parte Venter bied egter geen steun vir die huidige argument nie. In daardie saak was geen tussentydse interdik ter sprake nie en is daar bloot in ‘n voorafgaande bevel deur Mostert R gelas dat in likwidasieverrigtinge sekere partye binne 30 dae vanaf daardie hofbevel aksie moes instel teen sekere ander partye vir die verhaling van kostes in die tersaaklike likwidasies. Terloops, was die aanmerking van Milne R obiter aangesien hy in ieder geval bevind het dat ‘n tydperk van 30 dae in ‘n hofbevel 30 hofdae beteken en nie 30 kalenderdae nie.

[34] Die 2007 hofbevel verskil wereldwyd van die bevel in die aangehaalde saak. Vir die redes uiteengesit in para 17 hierbo is dit duidelik dat die verbiedende interdik geen werking gehad het na 30 Junie 2007 nie. In my ervaring is die praktyk dat daar gewoonlik ‘n paragraaf in so ‘n hofbevel ingevoeg word wat uitdruklik bepaal dat die tussentydse regshulp sal verval indien ‘n aksie nie voor ‘n bepaalde datum ingestel word nie. Dit is sekerlik wenslik en ruim enige twyfel uit die weg maar ek is nie van mening dat die feit dat dit nie hier gedoen is enigsins fataal is vir die eerste tot derde respondente se argument nie. Daar is myns insiens slegs een redelike interpretasie vir die insluiting van die datum 30 Junie 2007 in die bevel.

[35] As laaste argument in hierdie verband word die naakte bewering in die repliserende eedsverklaring gemaak dat beide trusts die laat instel van die aksie gekondoneer het en hulle sake gereguleer het op die basis dat die tussentydse regshulp steeds bindend was.7 Die feite is egter tot die teendeel. Soos reeds hierbo in detail aangetoon was dit Claasen, wat te alle relevante tye namens die Skaaphoek Trust opgetree het, se uitdruklike standpunt dat sedert 2008 daar geen beletsel was teen die oordrag van die plase aan Skaaphoek Trust nie. Hy het dit bloot nie gedoen nie. Soos reeds hierbo uiteengesit, is dit eers in Julie 2014 dat hy tot die radikaal teenoorgestelde siening gekom het dat dit nie mag gebeur nie.

Artikel 13(1 )(a) van die Wet

[36] Ek het onder die vorige rubriek gehandel met die gedeelte van hierdie subparagraaf wat voltooiing van verjaring sou uitstel indien ‘n hofbevel prestasie verhoed het. Daar word nie ‘n argument uitgemaak dat Dannhauser kanksinnig was tydens die tydperk wat verjaring geloop het nie. Dit is so dat ‘n sielkundige, Johan Liebenberg, na ‘n konsultasie met Dannhauser op 12 Desember 2013 tot die gevolgtrekking gekom dat Dannhauser se kern verstandelike funksies betekenisvol agteruit gegaan het. Hy bevind verder dat hy dementia onderlede het. En spreek dan die volgende opinie uit:

"Dit spreek vansetf dat ‘n person met sodanige organiese brein-disfunksie soos wat deur mnr Dannhauser ervaar word, onder geen omstandighede verantwoordelike en toerekeningsvatbare besluite en gedrag kan pleeg nie."

[37] Alhoewel ek aanvaar dat so ‘n toestand nie oornag ontstaan nie, is daar geen bewering deur enige van sy kennisse of familie of selfs sy prokureur Claasen, met wie hy ‘n jarelange verbintenis gehad het, dat hy (Dannhauser) bv. reeds een of twee jaar voor die Desember 2013 ondersoek aan sodanige toestand gely het nie. Daar is ‘n vae beweering in die repliserende eedsverklaring dat “already sometime prior to his resignation as trustee [wat gedurende 2013 was]” hy reeds gely het aan ‘n vlak van kognitiewe disfunksie.8Die bewering is so vaag dat dit onaanvaarbaar is dat dit bloot in die mandjie gegooi word vir oorweging met die verdere submissies dat, blykbaar, kranksinnigheid in terme van artikel 13(1)(a) gegeld het en dat dit moontlik deur deskundiges so by ‘n verhoor bewys sal word. Die applikante het versuim om die hof te versoek dat hierdie geskilpunt vir getuienis verwys word.

[38] In ieder geval is dit vir my duidelik dat daar tot ná verjaring ingetree het aan die einde van 2008 geen probleem met die funksionering van Dannhauser was nie. Hy het inderdaad in Maart 2009 steeds aktief opgetree in die aksie deur namens beide trusts die skade eis van R3,4 miljoen teen Nila van der Walt in te stel. Hierdie feit bring ook ‘n einde aan die verdere punt in die repliserende eedsverklaring dat Dannhauser tot so ‘n mate onder die invloed en kontrole van Nila van der Walt was dat hy nie verjaring geregtelik sou gestuit het soos bedoel in artikel 15 van die Wet nie.

Artikel 13(1 )(e) van die Wet

[39] Dit is so dat Dannhauser tot in met sy bedanking op 25 September 2013 ‘n trustee van beide trusts was. Ek verstaan egter nie hoe hierdie feit hierdie subartikei kan laat geld nie. Op ‘n eenvoudige lesing van hierdie subartikei beteken dit dat die skuldeiser (Skaaphoek Trust) ‘n regspersoon is en dat die skuldenaar (Dannhauser Trust) ‘n bestuurslid van eersgemelde regspersoon moet wees. Hoe een trust ‘n bestuurslid van ‘n ander trust kan wees is vir my duister. In ieder geval is dit geykte reg dat ‘n trust nie ‘n regspersoon is nie.9

Artkel 14 van die Wet

[40] Dit word betoog dat beide die Skaaphoek Trust en die Dannhauser Trust in die aksie aanspreeklikheid erken het en dat verjaring dus gestuit is. Die relevante gedeelte van die pleit van Maart 2009 lees soos volg:

20.3 In die vooropstelling pleit die verweerders dat die trustees van die JC Dannhauser Trust geregtig is om oordrag van die genoemde eiendomme te verleen aan die trustees van die Skaaphoek Trust.

2.4 Die verweerders pleit voorts dat die genoemde onroerende eiendomme inderdaad verkoop is aan die trustees van die Skaaphoek Trust teen ‘n markverwante prys.”

[41] Dit moet ingedagte gehou word dat hierdie erkenning gemaak is in die litigasie teen Nila van der Walt en dat sy as trustee van die Dannhauser Trust, geen rol in die erkenning gespeel het nie. Die erkenning is gemaak, in die gaval van die Danhauser Trust, deur Dannhauser handelende saam met sy mede-trustee synde sy seun Richard Dannhauser. In die geval van die Skaaphoek Trust is dit gemaak deur Dannhauser handelende saam met sy mede-trustee CJ Brits.

[42] Selfs indien hierdie as ‘n geldige erkenning van aanspreeklikheid beskou word is dit dan so dat verjaring de novo begin loop het vanaf gemelde datum. Op hierdie konstruksie is verjaring dan voltooi in Maart 2012.

Artikel 15 van die Wet

[43] Dit blyk gemene saak te wees dat die loop van verjaring ook nie gestuit is deur die betekening van enige prosesstuk waarin die Skaaphoek Trust oordrag van die plase eis nie. Sodanige eis bestaan nie in die hoofeis of in die teeneis in die 2008 aksie nie.

[44] Die verste wat die submissie in terme van hierdie artikel gaan is dat, onafhanklik van die geestestoestand van Dannhauser sedert sy vrou oorlede is op 15 September 2006, hy sodanig onder die invloed van Nila van der Walt was dat hy nie ‘n aksie sou instel soos bedoel in artikel 15 nie.

[45] Ek meen ek het reeds hierbo aangedui hoekom hierdie argument nie geldig is nie. Duidelikshalwe herhaal ek my siening. Eerstens kon Dannhauser in Maart 2009 geensins onder die invloed van Nila van der Walt gewees het nie aangesien hy inderdaad teen haar gelitigeer het en die teeneise namens beide trusts ingestel het. Op daardie stadium was verjaring reeds voltooi. Tweedens is die enigste getuienis waarop staat gemaak word vir hierdie stelling van beinvloeding dat Nila van der Walt op 10 Mei 2012 Dannhauser oorreed het om die plaas Rietfontein aan haar te verkoop vir die bedrag van R600 000. Sodanige datum is in ieder geval ook na die tweede datum van die moontlike voltooiing van verjaring, dit wil sê Maart 2012 -gebaseer op die veronderstelling dat daar ‘n erkenning van aanspreeklikheid was in Maart 2009.

Die aantal trustees van die Skaaphoek Trust

[46] Gemelde Trust bepaal dat daar te alle tye ten minste twee trustees moet wees. Soos per die magtigingsbrief van die Meester: Bloemfontein gedateer 31 Mei 2005 is die trustees Dannhauser, sy oorlede vrou en Christoffel Johannes Brits.

[47] Mev Dannhauser is op 15 September 2006 oorlede latende die oorblywende twee trustees. Daar is egter nou die bewering in die funderende eedsverklaring dat Brits bedank het op 15 Junie 2005. Dit is deur Nila van der Walt erken in die antwoordende eedsverklaring. In ‘n aanvullende eedsverklaring gedateer een week voor die aanhoring hiervan handel sy egter volledig met hierdie erkenning. Daar was geen beswaar teen die aanvaarding van hierdie verdere eedsverklaring nie.

[48] Sy verduidelik dat sy hierdie erkenning verkeerdelik gemaak het en dat haar aandag daarna gevestig is op artikel 21 van die Wet op die Beheer oor Trustgoed, 57 van 1988. Gemelde artikel lees soos volg:

Bedanking van trustees

Ongeag of die trustdokument vir die bedanking van die trustee voorsiening maak at dan nie, kan die trustee bedank deur die Meester en die trustbevoordeeldes wat bepaal en regsbevoeg is, of die voogde of kurators van die trustbevoordeeldes onder voogdy of kuratele, skriftelik kennis van sy bedanking te gee. ”

[49] In die trustakte van die Skaaphoek Trust word Brits beskryf as ‘n rekenmeester en hy behoort dus duidelik bewus te gewees het van sy verpligtinge as trustee asook die formaliteite by bedanking as trustee. Hy het bloot soos volg aan Claasen prokureurs geskryf op 6 Augustus 2008:

Meneer/Mevrou

SKAAPHOEKTRUST-IT 585/05

Met verwysing na bovermelde saak berig ek soos volg:

Ek, Chrisstoffel Johannes Brits - Id no. [...] amptelik bedank as trustee van Bovermelde Trust Ek het reeds ‘n skrywe gedateer 15 Junie 2005 aan Pienaar Prokureurs van Balfour gestuur waarin ek hulle versoek het om my bedanking as trustee deur te stuur na die Meester van die Hooggeregshof, wat tot datum nie plaas gevind het nie.

Ek het kontak met Mnre Org Dannhauser gehad en bevestiging gekry dat u die regsfirma is wat met die trust en sy regsake werk, vandaar die versoek om my bedanking as trustee deur te stuur na die meester.

Ek dank u.”

[50] Uit hierdie brief is dit duidelik dat hy nie op 15 Junie 2005 bedank het nie maar op daardie datum bloot ‘n brief aan Pienaar prokureurs van Balfour gestuur het. Hierdie prokureurs het niks daaromtrent gedoen nie.

[51] In hierdie brief vra hy nou vir Claasen om die nodige te doen. Sy gedrag om net hierdie twee versoeke te rig aan verskillende prokureurs is totaal onaanvaarbaar en onvoldoende om ‘n bedanking as trustee daar te stel.

[52] Nerens blyk daar voldoening te wees aan artikel 21 deurdat beide die Meester en die trustbevoordeeldes skriftelik kennis van sy bedanking gekry het nie. Ek aanvaar dus dat te alle relevante tye wat die verjaring geloop het die trust inderdaad twee trustees gehad het en dus regsgeldig kon optree.

Inderdaad is dit ook die siening van die Skaaphoek Trust self aangesien hy (Brits) as vierde verweerder in die pleit en teeneis van Maart 2009 figureer.

[53] In die eedsverklaring van 2 Oktober 2014 word Claasen uitgenooi om per eedsverklaring uiteen te sit wat sy reaksie op die versoek van Brits was. Hierdie is natuurlik kennis wat binne die uitsluitlike veld van Claasen sou val. Claasen het nie gereageer op hierdie aanvullende eedsverklaring nie. Die Skaaphoek Trust kan dus nie van die gevolge van sy doen of late ontdaan word omdat dit op enige stadium nie die vereiste aantal trustees gehad het nie.

Gevolgtrekking

[54] Ek is deur mnr Stoop namens die applikante ernstig versoek om nie op hierdie stadium hierdie “difficult questions of law and fact” te beslis nie. Dit is deur hom aan die hand gedoen dat die vereistes van die toestaan van tussentydse regshulp bevredig is. Hy het na die volgende passasie in Olympic Passenger Service verwys:

it thus appears that where the applicant's right is clear, and the other requisites are present, no difficulty presents itself about granting an interdict. At the other end of the scale, where his prospects of ultimate success are nil, obviously the Court will refuse an interdict. Between those two extremes fall the intermediate cases in which, on the papers as a whole, the applicants’ prospects of ultimate success may range all the way from strong to weak. The expression 'prima facie established though open to some doubt’ seems to me a brilliantly apt classification of these cases. In such cases, upon proof of a well grounded apprehension of irreparable harm, and there being no adequate ordinary remedy, the Court may grant an interdict - it has a discretion, to be exercised judicially upon a consideration of all the facts. Usually this will resolve itself into a nice consideration of the prospects of success and the balance of convenience - the stronger the prospects of success, the less need for such balance to favour the applicant: the weaker the prospects of success, the greater the need for the balance of convenience to favour him. I need hardly add that by balance of convenience is meant the prejudice to the applicant if the interdict be refused, weighed against the prejudice to the respondent if it be granted. ”10

[55] Hierdie toets is natuurlik welbekend en beklemtoon ook die feit dat ek ‘n regterlike diskresie moet uitoefen. Ek handel eerstens met my diskresie. Dit sou myns insiens heeltemal onvanpas wees om die applikante tegemoet te kom in ‘n situasie waar die Skaaphoek Trust vir ongeveer ‘n dekade niks gedoen het om sy vordering af te dwing nie. Vera I die periode sedert die terugtrekking van die aksie in 2008 strekkende tot 2014 tel sterk teen die applikante. Ek moet ook in ag neem dat die Derick Kuun Trust ‘n bona fide koper is wat reeds sedert 1 September 2014 die plaas okkupeer. Die koper het reeds die deposito van R1 miljoen betaal asook die balans van R10 miljoen verseker deur die lewering van ‘n waarborg. Verder is meer as ‘n R1 miljoen ook reeds spandeer op die ontwikkeling van die plaas deur bemesting met kunsmis, mis en kalk op die lande sowel as gepaardgaande vervoerkoste en koste verbonde aan brandstof. Dit is duidelik dat die koper geen gras onder sy voete laat groei nie en van voorneme is om ernstig te boer. Sou ek die aansoek toestaan sal die posisie van die koper natuurlik hoogs onseker bly vir etlike jare. Dit sou, myns insiens, sterk benadelend wees vir die koper en ook teen die publieke belang wat verband hou met die effektiewe benutting van plaasgrond. Interest reipublicae ut sit finis litium.

[56] Wat die beweerde prima facie reg betref is dit myns insiens onderworpe aan soveel twyfel dat dit nie die geykte toets slaag nie.

[57] Die aansoek kan dus nie slaag nie.

[58] In ieder geval kan bede 2 nie toegestaan word nie aangesien die 2008 aksie nie meer bestaan nie.

[59] Wat die voorwaardelike teenaansoek van die koper betref het mnr Steyn dit duidelik gemaak dat die regshulp in daardie aansoek slegs vereis sou word as ek die aansoek toestaan. In die geval waar ek die aansoek van die hand wys word geen regshulp benodig nie. Verder is koste aangevra slegs teen sodanige party wat die voorwaardelike teenaansoek sou opponeer. Geen party het dit geopponeer nie en dit is dus nie nodig om enigiets verder oor hierdie aansoek te sê nie.

Koste

[60] Beide partye het van die dienste van ‘n senior advokaat gebruik gemaak en die koste van ‘n senior advokaat behoort dus toegestaan te word.

Bevel

[61] Ek gelas dus soos volg:

1. Die aansoek word van die hand gewys met koste.

2. Die koste sluit die koste van ‘n senior advokaat in.

A.A. LOUW

REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF



1 Antwoordende eedsverklaring para 6.2

2 Loubser Extinctive Prescription (Juta, 1996)

3 Te p 26

4 Verwys na die korrespondensie in die algemeen asook para 14 van die antwoordende eedsverklaring

5 Ex parte Venter and Spain NNO: Fordom Factoring Ltd and others intervening Venter and Spain v Povey and others 1982 (2) 94 (D & CLD)

6Te p 99 G- H

7 Para 39 van die repliserende eedsverklaring

8 Repliserende eedverklaring para 16

9 Land and Agricultural Bank of South Africa v Parker 2005(2) SA 77 (SCA) para 15

10 Olympic Passenger Service (Pty) Ltd v Ramlagan 1957 (2) SA 382 (D) te 383 C - G