South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria >>
2014 >>
[2014] ZAGPPHC 1041
| Noteup
| LawCite
Loots and Another v Lubbe (71481/2011) [2014] ZAGPPHC 1041 (20 November 2014)
Download original files |
DIE GAUTENG AFDELING VAN DIE HOOGGEREGSHOF,
PRETORIA
SAAK NR: 71481/2011
DATUMS GEHOOR: 7, 10, 12 NOV. 2014
DATUM: 20 NOVEMBER 2014
In die saak tussen:
P H LOOTS..............................................................................................Eerste eiser
C B NEL.................................................................................................Tweede eiser
en
C LUBBE.................................................................................................Verweerder
UITSPRAAK
J W LOUW. R
[1] Op 18 Julie 2003 het Avello (Edms) Bpk ("Avello"), toe bekend as Waterberg Unique (Edms) Bpk, 'n skriftelike kredietooreenkoms gesluit met Straight Lines Trading 14 (Edms) Bpk ("Straight Lines") ingevolge waarvan Avello landbou gifstowwe aan Straight Lines sou verskaf. Laasgenoemde se naam is later verander na Avello Letaba en nog later na Avello Blyde.
[2] Op 21 Julie 2003 het Avello en Straight Lines 'n skriftelike konsessie ooreenkoms gesluit ingevolge waarvan Avello vir Straight Lines gelisensieer het om 'n besigheid vir die verspreiding en bemarking van Avello se reeks produkte op te rig en te bedryf in die area wat aangetoon word op 'n kaart wat by die ooreenkoms aangeheg is en wat die Hoedspruit en Letsitele distrikte ingesluit het. Die lisensie het Straight Lines gemagtig om Avello se bedryfstelsel en immaterieel goedereregte (wat onder andere Avello se handelsmerke ingesluit het) te gebruik.
[3] Dit is gemene saak dat Mnr. Ehrus Lubbe, wat op daardie stadium die enigste direkteur en aandeelhouer van Straight Lines was, homself teenoor Avello as borg verbind het vir die verpligtinge van Straight Lines ingevolge die kredietooreenkoms en die konsessie ooreenkoms.
[4] Op 25 Februarie 2004 het Avello en Avello Letaba (voorheen Straight Lines) 'n nuwe skriftlike konsessie ooreenkoms en skriftelike kredietooreenkoms gesluit. Op dieselfde datum het die verweerder, Mnr. Conrad Lubbe, die broer van Mnr. Ehrus Lubbe, 'n borgakte onderteken ingevolge waarin hy homself as borg teenoor Avello verbind het vir die behoorlike nakoming deur Straight Lines en Avello Letaba van hul verpligtinge "in terme van die Konsessie-ooreenkoms en Kredietooreenkoms". Dit is gemene saak dat die verweerder op daardie stadium 'n direkteur en aandeelhouer van Avello Letaba was. Dit is verder gemene saak dat die tweede stel ooreenkomste die eerste stel ooreenkomste vervang het, maar dat enige skuldverpligting wat op 25 Februarie 2004 ingevolge die eerste stel ooreenkomste aan Avello verskuldig was, nie deur die aangaan van die tweede stel ooreenkomste op 25 Februarie 2004 uitgewis is nie.
[5] Op 1 November 2004 het Avello Blyde (voorheen Avello Letaba) 'n skriftelike konsessie ooreenkkoms en 'n skriftelike kredietooreenkoms met Avello gesluit. Die terme van hierde derde stel ooreenkomste is bykans identies aan die tweede stel ooreenkomste. Dit is gemene saak tussen die partye dat die derde stel ooreenkomste die tweede stel vervang het maar dat enige skuld wat Avello Blyde op 1 November 2004 teenoor Avello gehad het in terme van die tweede stel ooreenkomste nie uitgewis is deur die aangaan van die derde stel ooreenkomste nie. Dit is verder gemene saak dat die verweerder op 1 November 2004 nie meer 'n direkteur of aandeelhouer van Avello Blyde was nie.
[5] Op 22 Februarie 2011 het Avello al sy regte teen sy debiteure, insluitend Avello Blyde, aan die eisers gesedeer. Op 30 September 2011 het Avello sy regte voortspruitend uit die borgakte wat deur die verweerder onderteken is aan die eisers gesedeer. Die eisers dagvaar die verweerder op grand van die borgakte vir die bedrae wat Avello Blyde aan Avello verskuldig was en nou, uit hoofde van die sessie, aan die eisers verskuldig is. Dit is gemene saak tussen die partye dat a lie bedrae wat op 1 November 2004 deur Avello Blyde verskuldig was, gedelg is voor uitreiking van dagvaarding. Die vraag is dus of die borgakte wat op 1 Novemebr 2004 deur die verweerder onderteken is ook geld ten aansien van Avello Blyde se verpligtinge uit hoofde van die derde stel ooreenkomste.
[6] Die verweerder het verskeie verwere hierteen geopper. Die verweerder het egter ook 'n spesiale pleit van verjaring geopper. Daarin word beweer dat die onderskeie bedrae wat geëis word reeds opeisbaar en betaalbaar was op 30 Junie 2008, alternatiewelik op 16 Julie 2008, alternatiewelik op 13 Oktober 2008. Die eisers se dagvaarding is op 15 Desember 2011 op die verweerder beteken. Die verweerder pleit dat daar derhalwe meer as drie jaar sedert die gemelde datums verloop het op datum van betekening van die dagvaarding en dat die eisers se eis gevolglik verjaar het.
[7] Die eisers het 'n repliek op die spesiale pleit van verjaring geliasseer. Daarin word gepleit dat Avello Blyde op 29 April 2009 ingevolge die Wet op Beslote Korporasies omgeskakel is na 'n beslote korporasie, dat Mnr. Ehrus Lubbe, wat te alle relevante tye 'n lid van die beslote korporasie was, op 21 Mei 2009 skriftelik bevestig het dat Avello Blyde BK teenoor Avello aanspreeklik is vir betaling van die bedrae wat nou van die verweerder gevorder word en dat Avello Blyde BK op 1 Julie 2009 by wyse van 'n spesiale besluit gelikwideer is. Die eisers pleit dat die skriftelike bevestiging 'n erkenning van aanpreekllikheid soos bedoel in art. 14(1) van die Verjaringswet 68 van 1969 was wat verjaring gestuit het. Die skriftelike bevestiging waarop die eisers steun is 'n vorm CM 100, synde 'n uiteensetting van die toestand van sake (statement of affairs) van die beslote korporasie soos deur art. 363 van die Maatskappywet 61 van 1973 ("die Wet") vereis by vrywillige likwidasie en wat op 21 Mei 2009 deur Mnr Ehrus Lubbe onderteken is. Die bedrae wat Avello Blyde BK aan Avello verskuldig is blyk uit die CM 100.
[8] Die partye is dit eens dat indien die CM 100 nie 'n erkenning van aanspreeklikheid soos bedoel in art. 14(1) van die Verjaringswet is nie, die eisers se eis teen die verweerder verjaar het. Die partye is dit verder eens dat 'n erkenning van aanspreeklikheid, ten einde effektief te wees, gemaak moet word aan (teenoor) die skuldeiser of sy verteenwoordiger.1 Die verweerder het erken dat die CM 100 deur Mnr. Ehrus Lubbe onderteken is vir doeleindes van die besluit om Avello Blyde BK vrywillig te likwideer, dat die dokument voor die lede van die beslote korporasie gedien het wat die besluit geneem het en dat die besluit by die Meester ingedien is soos vereis deur art. 356(2) van die Wet. Die verweerder het egter ontken dat die erkenning van aanspreeklikheid aan of teenoor Avello gemaak is.
[9] Dit is namens die eisers geargumenteer dat daar aan die vereiste dat die erkenning van aanspreeklikheid aan of tenoor Avello gemaak moes gewees het, voldoen is deurdat die vorm CM 100 by die Meester ingedien is, die Meester ingevolge art. 363(5) van die Wet by die aanstelling van 'n likwidateur 'n afskrif van die vorm CM 100 aan die likwidateur moet voorsien, en enige persoon ingevolge art. 363 (6) van die Wet geregtig is om, teen betaling van die voorgeskrewe gelde, die vorm CM 100 in te sien of aansoek te doen om 'n afskrif daarvan of 'n uittreksel daaruit.
[10] Na my mening is daar geen meriete in hierdie argument nie. Artikel 363 vereis nie dat die CM 100 deur die betrokke beslote korporasie of deur die Meester aan die krediteure van die beslote korporasie voorsien moet word nie. Daar is ook geen verpligting op 'n krediteur om, indien hy van die vrywillige likwidasie van die beslote korporasie bewus sou word, aansoek te doen om die CM 100 in te sien of om 'n afskrif daarvan aansoek te doen nie. Die eisers het geen getuienis aangebied dat die vorm CM 100 op enige stadium tot die kennis van Avello gekom het nie. Dit volg dat die eisers nie bewys het dat die vorm CM 100 die loop van verjaring gestuit het nie. Die gevolg daarvan is dat die eisers se eis teen die verweerder verjaar het.
[10] In die lig van hierdie bevinding is dit nie nodig om die ander verwere wat deur die verweerder geopper is te oorweeg nie.
[11] Die eisers se eis word gevolglik van die hand gewys met koste, insluitend die koste van twee advokate.
1 Sien Markham v South African Finance & Industrial Co Ltd 1962 (3) SA 669 (AD) 676E-G; Pentz v Government of the Republic of South Africa 1983 (3) SA 584 (AD) 594B-E.