South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria >> 2014 >> [2014] ZAGPPHC 1044

| Noteup | LawCite

B.J.V.D.W v M.V.D.W (18890/13) [2014] ZAGPPHC 1044 (9 December 2014)

Download original files

PDF format

RTF format




SAFLII Note: Certain personal/private details of parties or witnesses have been redacted from this document in compliance with the law and SAFLII Policy



IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(GAUTENGSE AFDELING, PRETORIA)

Saaknommer: 18890/13

Date: 9 December 2014

Not reportable

Not of interest to other judges

In die saak tussen:

B[...] J[...] V[...] D[...] W[...] ...........................................................................................Eiser/

Applikant in Verlof tot Appél/

Respondent in Reël 42 aansoek

en



M[...] V[...] D[...] W[...] ......................................................................................Verweerderes/

Respondent in Verlof tot Appél/

Applikant in Reël 42 aansoek

UITSPRAAK



POTTERILL R

Aansoek in terme van Reël 42(1)(b)

[1] Die applikant, die verweerderes in die egskeidingsaksie, doen aansoek in terme van Reël 42(1)(b) van die Unforme Hofreëls vir die wysiging van my bevel gedateer 16 Oktober 2014.  Die respondent (eiser in die egskeidingsaksie) het ‘n kennisgewing van opponering geliasseer maar geen opponerende stukke geliasseer nie.  Die aansoek is dus ongeopponeerd voor my.  Die respondent se advokaat het egter op die stukke geargumenteer.

[2] Daar is egter deur die respondent aangevoer dat die hof nie by magte is om die aansoek aan te hoor nie aangesien die aansoek om verlof in terme van artikel 17 van die “Superior Courts” Act 10 van 2013 die bevel opskort en dus nie gewysig staan te word nie.  Die argument word verwerp.  ‘n Aansoek om verlof tot appél skort die uitvoering van die bevel op, maar skort nie die wysiging van die bevel op nie.  ‘n Aansoek om verlof tot appél kan eers na die wysiging aangehoor word om dan behoorlik die gewysigde bevel, indien gewysig, dan aan te spreek deur middel van die kennisgewing van verlof tot appél.  Dit is juis te meer so waar die aansoek om wysiging ongeopponeerd voor die hof is.

[3] Die eerste wysiging handel om ‘n klaarblyklike fout met betrekking tot die tydperk waarvoor die rehabiliterende onderhoud toegestaan.  In die uitspraak word ‘n tydperk van 6 jaar rehabiliterende onderhoud toegestaan (paragraaf [12]).  Paragraaf [13] van die uitspraak dui die periode aan as 7 Desember 2014 tot Desember 2019.  Die eerste jaar van die 6 jaar periode het reeds 2014 ingesluit weens die feit dat die verweerderes reeds haar eerste jaar van haar studies voltooi het einde 2014.  Die datum in bede 2 van die bevel lees tot my skande 7 Januarie 2019 en is inderdaad ‘n tikfout.  Dit is ‘n ooglopende tikfout en kan mero motu gewysig word en word dan ook in ooreenstemming met die konsepbevel gewysig.

[4] My bevel maak ook nie voorsiening vir die mediese uitgawes van die verweerderes nie.  Volgens die pleitstukke, die verweerderes se getuienis en selfs die aanbod van die eiser wat gemaak is met benadeling van regte, word haar mediese uitgawes aangebied.  In die lig van die getuienis verg die uitspraak dus ‘n bevel met betrekking tot die mediese getuienis en is dit ‘n ooglopende weglating.  Die mediese uitgawes is ‘n integrale deel van onderhoud.  Die respondent voer nie aan dat die hof nie functus officio is met betrekking tot die mediese uitgawes ten aansien van die applikant nie, maar voer bloot aan dat dit nie billik is in die lig van die bedrag rehabiliterende onderhoud reeds toegestaan nie.  Soos reeds gemeld, daar is geen opponering ten aansien van die aansoek in terme van Reël 42 nie.  In die lig van die getuienis met betrekking tot die mediese afhanklikheid van die applikant is die weglating van ‘n bevel met betrekking tot mediese uitgawes ‘n klaarblyklike fout en moet dit ook reggestel word soos uiteengesit in die bevel hierby aangeheg as aanhangsel “X”. 

[5] Wat die Mercedes Benz betref is dit in die getuienis behandel.  Dit is weereens deur die eiser aangebied in sy tender.  Dit is so dat dit aangebied is met ‘n laer maandelikse bedrag onderhoud, maar die verweerderes kan tog nooit sonder ‘n voertuig gelaat word nie.  Dit is in die getuienis behandel dat sy haar eie voertuig verkoop het en dat die eiser dit vervang het met ‘n nuwe voertuig synde uiteindelik die Mercedes waarvan sy ‘n gedeelte afbetaal het.  Daar is nêrens in die getuienis voor die hof deur die eiser getuig dat die verweerderes nie geregtig sou wees op die Mercedes Benz voertuig nie.  Die onverskoonbare weglating moet deur hierdie aansoek bygevoeg word en die Mercedes Benz word dus deel van die bevel soos uiteengesit op die aangehegde bevel gemerk aanhangsel “X”.

[6] Die uitsluitlike eiendomsreg van die Lumi-slim masjien is ook nie deur die eiser in sy getuienis ontken nie.  Ek het ook weereens nagelaat om dit pertinent in ‘n bevel uiteen te sit en is dit nie iets nuuts of ‘n wysiging van die substansie van die getuienis nie.  Daar is in elk geval ook feitlik geen opponering van hierdie byvoeging tot die bevel nie.  Die uitsluitlike eiendomsreg van die Lumislim masjien word dus gevolglik ook bygevoeg tot my bevel soos uiteengesit in die konsepbevel aanhangsel “X”.

[7] Ek is tevrede dat nie een van die gewysigde bevele teen die geykte beginsel van functus officio inbreuk maak nie.  In Firestone South Africa (Pty) Ltd v Gentiruco AG 1977 (4) SA 298 (A) op 308H-309A word die volgende bevind:

... it suffices merely for me to assume without deciding in Firestone’s favour that a court does retain a general discretion to correct, alter or supplement its judgment or order in appropriate cases other than those listed above.  But, I should add, the assumed discretionary power is obviously one that should be very sparingly exercised, for public policy demands that the principle of finality in litigation should  generally be preserved rather than eroded – interest reipublicae ut sit finis litium.”

[8] Ek is egter tevrede dat nie een van die bevele so gewysig buite die grense van Reël 42(1)(b) val nie.

[9] Die applikant in die Reël 42 het ‘n voorwaardelike teen appél, maar laat vaar dit indien die wysiging toegestaan word.

Die aansoek om verlof tot appél

[10] Die applikant in die aansoek om verlof tot appél is die mening toegedaan dat daar uitstekende vooruitsigte op appél is en dat ‘n appél na die volbank van hierdie hof toegestaan behoort te word.

[11] Die argument is in hoof dat die aanbod/tender ‘n billike aanbod was en dat die hof dit ‘n bevel van die hof moes gemaak het.  Dit is veral so in die lig van die feit dat die applikant al die kinders se uitgawes betaal, uitgesluit nog die kontantbedrag van R10 000 per maand. 

[12] Daar is geen feite voor die hof geplaas deur die kruisverhoor van die verweerderes of getuienis van die eiser dat die rehabiliterende onderhoud bloot ‘n poging was om te ontsnap van die gevolge van die huweliksvoorwaardekontrak nie.  Daar is in die appél asook in die argument van die eiser se advokaat ‘n groot gewag van hierdie punt gemaak.  Hierdie argument is egter verbysterend as in ag geneem word dat die eiser self 2 jaar se rehabiliterende onderhoud aangebied het.  Die eiser self is dus die mening toegedaan dat daar rehabilitering van die verweerderes in die werksplek nodig is.  Die enigste geskil was dus rondom die tydperk en die bedrag.  Dit was onbetwis voor die hof dat die verweerderes slegs met haar huidige kwalifikasie ‘n inkomstepotensiaal van R10 000 het.  Die geloofwaardigheidsbevinding van die hof word nie aangeval nie en die inkomstepotensiaal van die eiser is dus korrek bevind.  Die hof het pertinent die R10 000.00 onderhoud vir die kinders in gedagte gehou met die toestaan van die bedrag rehabiliterende onderhoud.  Geen hof sal bevind dat vir ‘n enkelouer om in die nagte na-ure te studeer ‘n luukse is nie.  Dit word juis gedoen om die verweerderes se inkomstepotensiaal te verbeter en na 6 jaar kan daar ‘n skoonbreuk tussen die partye bewerkstellig word.  Daar is geen bevinding gemaak dat die onderhoud gegee is om die verweerderes se lewenstandaard op dieselfde vlak as die eiser te plaas nie.

[13] Gevolglik is daar geen redelike vooruitsigte op appél nie.  In die lig van die Reël 42 aansoek staan die hof nie penaliserende koste toe vir die aansoek om verlof tot appél nie.  Die aansoek om verlof tot appél word dus van die hand gewys met koste.

[14] Die volgende bevel word gemaak:

14.1 Die konsepbevel gemerk “X”, soos gewysig, word ‘n bevel van die hof gemaak.



____________________

S. POTTERILL

REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF

SAAK NR: 18890/13

DATUM VAN VERHOOR: 8 Desember 2014

NAMENS DIE EISER/APPLIKANT IN VERLOF TOT APPéL/RESPONDENT IN REëL 42 AANSOEK: ADV. K.T. JORDT

IN OPDRAG VAN: Van der Berg Koekemoer

NAMENS DIE VERWEERDERES/RESPONDENT IN VERLOF TOT APPéL/APPLIKANT IN REëL 42 AANSOEK:  ADV. L.C. HAUPT

IN OPDRAG VAN: Van Heerden & Krugel Prokureurs

DATUM VAN UITSPRAAK: 9 Desember 2014