South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria >>
2014 >>
[2014] ZAGPPHC 1049
| Noteup
| LawCite
Laurence v Dischem and Another (44071/2011) [2014] ZAGPPHC 1049 (12 September 2014)
Download original files |
IN DIE NOORD GAUTENG HOE HOF,
PRETORIA REPUBLIEK VAN SUID AFRIKA
SAAKNOMMER: 44071/2011
DATE: 12 SEPTEMBER 2014
In die saak tussen:
MAR THA MARIA LAURENCE...................................................................................................................................Eiseres
En
DISCHEM...................................................................................................................Eerste Verweerder
CHARL FRANK PRETORIUS.............................................................................................................Tweede Verweerder
UITSPRAAK
DE VOS, R
[1] In hierdie saak eis die Eiseres, ‘n 70-jarige dame, skadevergoeding van die Eerste en Tweede Verweerders. Die eis is die gevolg van beserings wat sy na bewering op die 19de Augustus 2009 opgedoen het, toe sy en haar niggie na die Eerste Verweerder se apteek gegaan het om aankope daar te doen.
[2] Die Eiseres se skuldoorsaak is gebaseer op die bewering dat die Tweede Verweerder, ‘n diensnemer van die Eerste Verweerder, haar na bewering op die betrokke dag nalatiglik gestamp het, wat daartoe gelei het dat sy geval het en beseer is. Die besering deur haar opgedoen bestaan uit ‘n heupfraktuur. Op die pleitstukke word beweer dat die skade wat sy gelei het uitsluitlik te wyte was aan die nalatigheid van die Tweede Verweerder handelend binne sy diensbestek.
[3] By ooreenkoms tussen die partye is die meriete en die kwantum van die eis van mekaar geskei en is slegs die meriete van die eis voor die Hof. Die Verweerders se pleit is een van blote ontkenning. Na aanleiding van vrae gevra deur die Eiseres tydens die voorverhoorkonferensie, is die Verweerders se verweer verder toegelig.
Daarvolgens ontken beide Verweerders dat die Eiseres op enige stadium deur die Tweede Verweerder gestamp is en/of dat daar enige kontak met mekaar was. Die
Verweerders beweer verder dat die Eiseres duiselig geword het nadat sy ‘n item van ‘n rak afgehaal het en geval het.
[4] Dit is gemene saak dat:
4.1 Die locus standi van die ander partye nie in geskil is nie;
4.2 Dat die Eerste Verweerder 'n apteek bedryf en dat die Tweede Verweerder ‘n werknemer van die Eerste Verweerder is, en te alle relevante tye binne sy diensbestek met die Eerste Verweerder opgetree het;
4.3 Die Eiseres beseer is op die tyd en plek genoem in die besonderhede van vordering.
[5] Die enigste vraag wat di Hof dus moet beantwoord en beslis, is of die Tweede Verweerder die Eiseres gestamp het en gevolgeiik daartoe aanleiding gegee het dat sy geval het en beseer is.
[6] Ter aanvuliing van die feite wat gemene saak is tussen die partye, is die volgende by wyse van erkenning voor die Hof geplaas:
6.1 ‘n Erkenning deur die Verweerders dat die inhoud van ‘n verslag opgestel deur ene Hanna (Hannetjie) Moolman, op die 17de Augustus 2009, korrek is. Die verslag verskyn op bladsy 168 van die hofbundel en lees soos volg:
“Ek het in die gang afgeloop en gesien hoe die dame val en omrol. Ek het daarnatoe gegaan en gesien dat Chari van die ander kant af teruggestorm kom om die dame op te help. Ons het ‘n stoel nadergetrek en die dame kon op haar voete staan, sy wou eers nie sit nie. Die dame het gestaan en met haar arm op die stoel gedruk. Haar dogter het nader gekom en aangedring om met die bestuurder te praat. Die dame wat geval het, het aan my gese: “Ek het nie eens geweet wat gebeur het nie, ek het ‘n produk op die Natura- rak gevat en ek het skielik duiselig geword. Ek weet nie dat ek in iemand vasgeloop het nie. ” Ek het die ambulans gebel nadat die dame se dogter aangedring het. Gerrit het toe gese ons moet bel, en die ambulans het gekom”.
6.2 Beeldmateriaal van die voorval, as bewysstuk "A" ingedien, is deur die partye en die Hof ingesien, waarop die volgende gesien kan word, soos genotuleer in 'n gesamentlike verslag opgestel deur die partye:
“Frame 1: Depicts Plaintiff in black trousers, grey shirt and with black handbag, entering the shop with her daughter-in-law. There are no signs of any bruises and/or health problems. She is also pushing a trolley.
Frame 2: Depicts Plaintiff walking down the isle with her daughter-in-law, once again without any indication of injuries and/or health problems. She is also pushing a trolley.
Frame 5: Depicts on the bottom right-hand corner of the frame (on approximately 44 seconds) the Plaintiff pulling backwards with her head and arm coming backwards. The frame also depicts a person with a piece of paper in his hand immediately assisting her or being by her side. The person with the piece of paper comes from the Plaintiff’s front.
Frame 7: Depicts the assistance given to the Plaintiff after the incident as well as the uncomfortable manner in which she was moved from the scene”.
6.3 ‘n Plan van die apteek, wat die resepteringsarea asook die kliniek aantoon, as bewysstuk “B”.
[7] Die Eiseres het daarop die getuienis van die Eiseres, Martha Maria Laurence, aangebied. Sy het getuig dat sy ‘n afgetrede verpleegkundige is met 44 jaar ondervinding in verpleegkunde. Haar weergawe is dat sy en haar niggie, Jakoba, op die 17de Augustus 2009 na die Dischem apteek gegaan het om sekere items daar te koop. Dit was ongeveer 10h30 in die oggend. Die beeldmateriaal wat vertoon is, dui aan hoe die Eiseres by die ingang van die apteek, gemerk “X” op bewysstuk “B”, afgeneem is waar sy besig is om ‘n winkeltrollie te stoot. Sy getuig verder dat haar niggie daarna na die resepteringstoonbank is om vir haar foliensuur te koop, terwyl sy self na 'n ander toonbank is om “Tissue Salts” te koop. Op hierdie stadium is dit noodsaaklik om te verwys dat die Eiseres getuig het dat sy 5 voet, 7 duim lank is. Sy het ook op daardie stadium die trollie agtergelaat, omdat sy dit nie wou saamneem in die gangetjie waarin die rak is waarop die “Tissue Salts” gebere word nie. Nadat sy die “Tissue Salts”, wat ooghoogte gepak was, van die rak afgehaal het, het sy ‘n 180 grade draai gemaak, dit wil se sy het omgedraai, om
terug te beweeg uit die rakgedeelte uit. Die botteltjie wat sy geneem het was in haar regterhand en haar handsak oor haar linkerskouer. Nadat sy omgedraai het, het sy in die rigting gekyk waar haar niggie was. Sy het gesien hoe haar niggie na haar toe stap en toon die posisie aan as punt “B” op bewysstuk “B”. Haar niggie, wat besig was om in haar rigting te stap, was op daardie stadium besig om op haar selfoon te praat. Daar was ‘n afstand van ongeveer 10 meter tussen hulle. Die Eiseres het daarop twee tot drie tree uit die gangetjie beweeg in die rigting van haar niggie. Sy het die Tweede Verweerder uit die hoek van haar regteroog opgemerk. Hy het vinnig gestap met ‘n papier in sy hand. Toe sy hom opmerk, was hy reeds op haar. Sy het besef dat hy haar nie gesien het nie, maar sy kon niks daaraan doen nie. Die Tweede Verweerder het haar vanaf haar regterkant genader en sy wys die rigting vanwaar hy kom uit as punt “C” op bewysstuk “B”. Die Tweede Verweerder het haar gestamp, waarop sy geval het. Sy het op haar linkersy te lande gekom. Die botteltjie wat in haar hand was het uitgeval. ‘n Dame wat daar naby was het gese dat sy opgehelp moet word, waarna die dame en die Tweede Verweerder haar opgehelp het. As gevolg van die val het sy heupbeserings opgedoen. Sy het ook pyn in haar skouer ondervind. Sy het verder getuig dat haar niggie ontsteld was na die gebeure, en die Tweede Verweerder daarvan beskuldig het dat hy haar omgestamp het. Haar niggie het ook daarop aangedring om die bestuurder te sien. Haar niggie het die ambulans en haar familie gekontak. Die getuie ontken dat sy duiselig geword het of dat sy ooit van tevore duiselig was. Sy het getuig dat alhoewel sy aan lae bloeddruk ly, en medikasie in tabletvorm daarvoor neem, sy nie duiselig word nie. Volgens haar gee hoe bloeddruk aanleiding tot duiseligheid, maar nie lae bloeddruk nie. Sy het verder ook getuig dat haar niggie intussen oorlede is, en derhalwe nie as 'n getuie in die saak geroep kan word nie.
Onder kruisverhoor is dit aan die Eiseres gestel dat sy gebuk het om die medisyne van die rak af te haal. Sy het ontken dat sy gebuk het. Dit is ook aan haar gestel dat sy nie by punt “A” geval het nie, maar aan die einde van die kort gang, waar die “Tissue Salts” op die rak gestaan het. Sy het die stelling ontken. Sy het getuig dat sy gestamp is net toe sy reeds uit die kort gang beweeg het. As gevolg van die stamp het in sy in die nou gang ingeval. Volgens haar weergawe het sy nie direk agteroor geval nie, maar meer op haar linkersy. Dit is ook aan die Eiseres gestel dat haar niggie nie gesien het wat gebeur het nie. Die Eieseres was vasbeslote dat haar niggie wel kon sien hoe sy gestamp is, en dat hulle besig was om na mekaar toe te stap toe die voorval plaasgevind het. Dis verder aan die Eiseres gestel dat sy aan die Tweede Verweerder gese het dat sy weet nie wat gebeur het nie, en dat die Eiseres gese het dat sy duiselig geword het. Die Eiseres het dit ook ontken. Sekere mediese verslae wat betrekking het op haar bloeddrukprobleem is ook aan haar gestel. Sy het gehou by haar onkenning dat sy nie duiselig word as gevolg van lae bloeddruk nie.
Die Tweede Verweerder se weergawe is ook aan haar gestel, naamlik dat hy geloop het vanaf punt “C” op bewysstuk “B”. Dit is aan haar gestel dat hy gesien het dat sy buk, dat hy die area genader het en ‘n slag gehoor het. Toe hy omdraai het hy haar sien le. Dit is aan haar gestel dat die Tweede Verweerder nie die Eiseres gestamp het nie. Die Eiseres het weereens sy ontkenning betwis. Dit is daarop verder aan haar gestel dat die Tweede Verweerder en ‘n ander dame haar opgehelp het, wat sy erken het. Dit is ook aan die Eiseres gestel dat Mnr Bothma, wat namens die Tweede Verweerder sal getuig, sal se dat die Tweede Verweerder haar nie gestamp het nie, en dat Me Lydia Barnard ook sal getuig dat die Eiseres aan haar gese het dat sy weet nie wat gebeur het nie. Die Eiseres het die
bewerings weereens ontken. Dit is ook aan die Eiseres gestel dat die Tweede Verweerder sal getuig dat die Eiseres op die toneel gese het dat sy ‘n heupvervanging nodig het. Die Eiseres het dit onken en gese dat sy op die toneel niks gese het nie, aangesien sy niks gehad het om te se nie. Dit het die getuienis van die Eiseres afgesluit. Die Eiseres het daarna die getuienis van Mnr Alistair Laurence, die Eiseres se seun, aangebied. Dis gemene saak dat hy na die ongeluk eers verwittig is van wat gebeur het en nie self op die toneel teenwoordig was nie. Daar is sekere mededelings aan horn gemaak wat die Hof vir doeleindes van hierdie uitspraak nie in ag neem nie aangesien dit duidelike hoorse getuienis is. Sy getuienis neem die saak van die Eiseres nie verder nie.
[8] Die Eiseres is daarna herroep om sekere punte op die plan uit te wys en dit dienooreenkomstig te merk. Sy het punt “A” op bewysstuk “B” uitgewys as die plek waar die Tweede Verweerder was toe hy haar gestamp het. Punt “B” is waar Jakoba was, en Punt “C” is uitgewys as die rigting waarin die Tweede Verweerder gestap het onmiddelik voordat hy met haar gebots het. Daar is ook ‘n rak ingeteken op die plan, as die rak waarop die botteltjie "Tissue Salts" was wat sy daarvan afgeneem het. Volgens die stellings het Mnr Bothma waargeneem dat die Eiseres by punt “E” was toe sy geval het. Daarna het die Tweede Verweerder se advokaat, Mnr Egan, ‘n regstelling gemaak en dit aan die Eiseres gestel dat sy in die omgewing van die skuins rak was toe sy geval het. Die Eiseres het ontken dat sy teen die rak geval het, maar bygevoeg dat sy "tussen die rakke in” geval het. Onder kruisverhoor het sy dan ook toegegee dat beide sy en die Tweede Verweerder in beweging was toe die Tweede Verweerder haar gestamp het, en “ons kon niks doen nie”, waarop sy bygevoeg “want hy het gladnie gestop nie”. Volgens die Eiseres was die beserings wat sy oopgedoen het uitsluitlik te wyte aan die nalatige optrede van die Tweede Verweerder wat nie ‘n behoorlike uitkyk gehou het nie, aangesien hy besig was om op ‘n papier te kyk. Sy het ook getuig dat indien hy wel behoorlike uitkyk gehou het, hy haar sou gesien het. Hy het ook onder die omstandighede vinnig geloop, wat veroorsaak het dat hy nie ag geslaan het op haar teenwoordigheid nie - veral in ag genome die feit dat ‘n groot hoeveelheid van die apteek se voorraad as selfbedieningsvoorraad aan kliente beskikbaar gestel world. In wese kom haar getuienis daarop neer dat die Tweede Verweerder haar gladnie gesien het nie en teen haar vasgeloop het. Die Eiseres se saak is daarna gesluit.
[9] Die Verweerders het die volgende getuienis aangebied. Die eerste getuienis was die van Mnr Chari Frank Pretorius, die Tweede Verweerder. Hy het getuig dat hy op die dag van die voorval in diens was van die Eerste Verweerder as assistentbestuurder. Op daardie stadium het hy drie jaar daar gewerk, waarvan hy die laaste jaar aangestel was as assistentbestuurder. Sy dagtake/pligte behels onder andere die bestel van voorraad. Om dit te kan doen beweeg hy tussen die rakke deur om te bepaal wat benodig word. Hy spandeer ongeveer 80 persent van sy werksdag op die vloer. Die uitleg van die winkel was vir die tydperk wat hy daar gewerk het onveranderd en lyk soos die plan, bewysstuk “B”. Net voordat die voorval plaasgevind het, het hy ‘n vergadering bygewoon. Hy was besig om notas op ‘n papier aan te bring soos wat hy stadig tussen die rakke deurbeweeg het. Hy het die Eiseres opgemerk by punt “E”, ‘n rak wat hy beskryf het as 'n skuinsrak. Sy was in ‘n vorentoe gebukte posisie by die skuinsrak. Op daardie stadium was hy besig om te stap in die rigting van die stoor, wat gelee is aan die agterkant van die skuinsrak. Die volgende oomblik het hy op sy klere aan die heup/boud gedeelte van sy liggaam kontak gevoel, amper soos ‘n hou. Hy het onmiddelik omgedraai en die Eiseres sien vai. Hy het ‘n 180 grade draai gemaak, oor die Eiseres gebuk en haar saam met ‘n kollega opgetel. Hy het daarop aan die Eiseres gevra wat gebeur het, waarop sy gese het dat sy nie weet nie. Die volgende oomblik was ‘n jong dame (die Eiseres se niggie) by hulle. Sy was aan die Tweede Verweerder se linkerkant. Sy het hom gekonfronteer en bewerings teenoor hom gemaak. Hulle het toe ‘n rolstoel vir die Eiseres laat haal. Hyself het hom daarna gedistansieer van die situasie as gevolg van die bewerings wat teen hom gemaak is. Die niggie het vir hom gese: “Jy het haar heup gebreuk! Jy het haar heup gebreuk!”. Hy se dat hy die bewering onmiddelik ontken het en gewonder het hoe die niggie weet dat die Eiseres haar heup gebreek het. Op ‘n vraag van sy advokaat of hy die Eiseres gesien het voor die voorval, het hy geantwoord dat hy “gladnie bewus [was] dat ons kan bots nie, ek kon haar nie vermy nie want sy was in die vloerspasie gewees”. Hy het ook ontken dat die Eiseres ooit in sy pad was. Dit het sy getuienis in hoof afgesluit. Hy is daarna onder kruisverhoor geplaas. Dit is aan die Tweede Verweerder gestel dat sy weergawe bots met die weergawe soos gepleit in die pleitstukke, deurdat daar geen melding in die pleit gemaak is van enige kontak met die Eiseres nie. Dis ook nooit aan die Eiseres gestel dat daar wel kontak tussen haar en die Tweede Verweerder was nie, terwyl die getuie sy weergawe aan sy regsverteenwoordigers voor die verhoor geopenbaar het. Hy is verder daarmee gekonfronteer dat die Eiseres spesifiek die Verweerders versoek het om hulle weergawe te stel oor hoe die voorval plaasgevind het tydens die voorverhoor, waarop die Verweerders geantwoord het “she felt dizzy... she was not touched or bumped by anyone”. Dis verder aan hom gestel dat sy regsverteenwoordiger tog nie ‘n ander weergawe sou stel as dit wat in konsultasie aan hom gese is nie. Daarna het die Eiseres se advokaat, Mnr Uys, die verskillende punte op die plan met die Tweede Verweerder behandel. Dis verder ook aan hom gestel dat nieteensteende die feit dat hy ‘n insidentverslag aan sy werkgewer gemaak het, die betrokke verslag nooit deur die Verweerders blootgele is nie, en dat sekere gedeeltes van die beeldmateriaal ook ontbreek soos deur die Verweerders aan die Eiseres blootgele. Die getuie het verder ontken dat hy besig was om ‘n papier te lees toe die voorval plaasgevind het. Dit is aan horn gestel dat sy advokaat geensins ‘n stelling gemaak het waarin ontken is dat hy nie besig was om die papier te lees toe die voorval plaasgevind het nie. Die getuie het volgehou dat hy in die hof getuig het presies wat hy in sy verslag aan sy werkgewer gese het. Dis weereens aan hom gestel dat die pleit direk in stryd daarmee is. Die getuie het geen antwoorde gehad op hierdie vrae nie. Hy was duidelik nie in staat om te verduidelik waarom die pleit verskil van sy getuienis nie. Hy was ook nie in staat om te verduidelik waarom sy weergawe, soos in sy verslag geopenbaar, nie aan die getuie gestel is nie.
[10] Die Verweerders het daarop die getuienis aangebied van Mnr Adriaan Bothma. Op die 17de Augustus 2009 was hy werksaam by die Eerste Verweerder as ‘n konsultant. Sy daaglikse pligte het behels die bystaan en assistering van kliente indien nodig. Hy beweer dat hy ten tye van die gebeure gestaan het op punt “B” op die plan ingedien as bewysstuk “B”. Hy het in die rigting van ‘n televisiestel gekyk wat aangeskakel was. Die een stel staan by punt “C” gemerk “5” en daar is ‘n tweede televisiestel gemerk “4”, ook op punt “C” op bewysstuk “B”. Hy beweer dat hy in die rigting van die voorval gekyk het toe dit plaasgevind het. Hy het die Eiseres gesien toe sy verbygaan, na ‘n rak gemerk “3” op bewysstuk “B”, om ‘n produk daarvan af te haal. Hy het gesien hoe die Eiseres ‘n item van die rak afneem. Hy het teruggekyk na die televisie gemerk “5”. Terwyl hy na die televisie gekyk het, het hy die Tweede Verweerder, wat by punt “C” was, opgemerk. Hy het die Tweede Verweerder sien beweeg tot by punt “3” waar hy die klient sien beweeg het. Die volgende oomblik het hy gesien hoe die klient val, en met haar regterhand vir Chari getref het op sy regterboud. Hy het daarop omgedraai om die Eiseres te assisteer nadat sy geval het. By sy naderkoms was Chari en ‘n ander dame reeds besig om die dame regop te help. Toe hy by die Eiseres aankom, was daar reeds ‘n rolstoel nader gebring waarop sy kon sit. Hy het daarna teruggekeer na sy afdeling toe. Hyself het nooit met die Eiseres gepraat nie. Hy het geen verdere betrokkenheid met die saak gehad nie, tot ongeveer twee of drie weke voor die aanvang van die verhoor. Hy ontken ook dat hy ‘n verklaring gemaak het na die voorval. Hy het gese dat hy nie gedink het dit is nodig om ‘n verklaring af te le nie. Dit was die taak van die Tweede Verweerder en Hannetjie om verklarings af te le aangesien hulle die klient gehelp het. Onder kruisverhoor het hy toegegee dat die eintlike persoon is wat presies weet gebeur het, die Tweede Verweerder was. Hy het toegegee dat die Tweede Verweerder by hom verbygestap het en dat die voorval daarna plaasgevind het. Dit is ook aan hom gestel dat hy nie weet wat die Tweede Verweerder gevoel of beleef het toe die Eiseres geval het nie. Hy het geantwoord dat hy gesien het daar is ‘n aanraking. Dit is daarop aan hom gevra of hy dit aan die Verweerders se advokaat meegedeel het, waarop hy "ja" geantwoord het. Dis ook aan hom gestel dat sy weergawe nooit aan die Eiseres gestel is nie. Hy het geen antwoord op die vraag gehad nie. Hy het wel onder kruisverhoor toegegee dat die Eiseres se niggie op die toneel beweer het dat die Eiseres beseer is deur die Tweede Verweerder. Mev Lydia Barnard het ook getuig. Sy het nie die voorval gesien nie. Dit is duidelik uit haar getuienis onder kruisverhoor dat die bewering dat die Eiseres duiselig geword het, ‘n afleiding is wat sy gemaak het nadat sy gehoor het wat die ander getuies oor die voorval se.
[11] Ek het die getuies wat voor die Hof getuig het, waargeneem. Die Eiseres het ‘n goeie indruk op die Hof gemaak in die getuiebank. Sy is ‘n redelike bejaarde dame wat goed versorg is. Sy is van gemiddelde bou. Sy het getuig oor ‘n voorval wat bykans drie jaar gelede plaasgevind het. Sy het die vrae wat aan haar gevra is openlik en spontaan geantwoord. Sy was bereid om toegewings te maak oor aspekte waarvan sy nie kennis dra nie, maar het terselfdertyd by haar getuienis in hoof gebly staan dat die Tweede Verweerder haar gestamp het wat gelei het tot haar besering. Na my mening is daar geen rede waarom haar getuienis nie aanvaar kan word nie. Die Hof bevind haar ‘n goeie en geloofwaardige getuie wie se weergawe gestaaf word deur die omringende omstandighede soos aan die Hof voorgehou. Die getuienis van Mnr Allistair Laurence neem nie die saak enigsins verder nie. Dit is derhalwe nie nodig om enige geloofwaardigheidbevinding omtrent hom te maak nie. Dit bring my by die getuienis van die Eerste en Tweede Verweerders. Die getuienis van Mnr Chari Frank Pretorius het die Hof nie beindruk nie. Dit is duidelik dat sy weergawe wesenlik verskil van die pleit soos geliasseer, asook van die antwoorde verskaf tydens die voorverhoorkonferensie. Daarvolgens was daar geen kontak tussen hom en die Eiseres nie, terwyl hy in die hof getuig het dat daar inderdaad kontak was. Dit is ook opmerklik dat hy nie ‘n insidentsverslag volgens sy weergawe voltooi het nie, en is daar ook nie so ‘n verslag blootgele nie. Na alle waarskynlikheid sou so ‘n verslag juis van hom verkry word na aanleiding van die beskuldigings wat op die toneel teen hom gemaak is. Dit is verder ook opmerklik dat feite wat sy weergawe kon staaf, ontbreek op die beeldmateriaal wat vertoon is. Alhoewel hy getuig het dat hy sy weergawe aan sy regsspan geopenbaar het, word sy weergawe gladnie aan die Eiseres gestel nie. Die enigste afleiding wat die Hof hieruit kon maak, is dat hy ‘n ongeloofwaardige getuie is en dat daar geen waarde aan sy getuienis geheg kan word nie. Na my mening moet die Eiseres se getuienis teen die van die Tweede Verweerder opgeweeg word. Dit is duidelik dat die Eiseres getuig het, welke getuienis die Hof aanvaar, dat sy besig was om in die rigting van haar niggie te stap toe die Tweede Verweerder teen haar vasgeloop het. Die Tweede Verweerder was op daardie stadium besig om vinnig te stap terwyl hy op 'n papier gelees het. Die getuienis van Mnr Adriaan Bothma het die Hof ook nie beindruk nie. Dit is duidelik dat sy aandag toegespits was op ander gebeure in die winkel toe die voorval plaasgevind het. Hy het dan ook toegegee dat die voorval drie jaar terug gebeur het en dat hy nie werklik kan onthou wat gebeur het nie. Wat wel insiggewend is volgens sy weergawe, hy wel gesien het dat daar kontak was tussen die Eiseres en die Tweede Verweerder. Dit is onverklaarbaar dat hierdie weergawe nie aan die Eiseres gestel is nie. Die enigste afleiding wat die Hof hieruit kan maak is dat Mnr Bothma nie die waarheid in die hof vertel het toe hy oor die gebeure getuig het nie en sy getuienis aangepas het om by die van die tweede Verweerder in te pas. Dit is insiggewend dat hy beweer dat die trollie langs haar was toe sy die item van die rak afgehaal het. Die Eiseres se getuienis is dat sy die trollie op ‘n ander plek gelaat het. Daar is geen stawing vir hierdie weergawe nie. Hy weet ook nie of sy ‘n handsak by haar gehad het toe sy geval het nie. Hy weet ook nie of sy ‘n produk van die rak afgehaal het nie. Hy dra ook nie kennis dat sy na bewering duiselig geword het of dat die Tweede Verweerder haar inderdaad gestamp het nie. Sy getuienis neem die Eerste of Tweede Verweerders se saak nie enigsins verder nie. Me Lydia Barnard se getuienis neem ook nie die Verweerders se saak enigsins verder nie. Sy het nie die voorval gesien toe dit gebeur het nie. Die Hof is dus gelaat met slegs een weergawe, naamlik die van die Eiseres. Haar weergawe is onbetwis. Die Hof aanvaar haar weergawe van wat op daardie dag gebeur het.
[12] Die Verweerders se weergawe bestaan in werklikheid uit drie verskillende weergawes: eerstens, ‘n algehele ontkenning van ‘n botsing/kontak soos uiteengesit in die Verweerders se pleit; tweedens, die weergawe vervat in die voorverhoorkonferensie notule naamlik dat die Eiseres gebuk het om ‘n produk van die rak af te haal, opgestaan het, duiselig geword het, en geval het; en derdens die Tweede Verweerder se weergawe terwyl hy getuig het naamlik dat hy verby die Eiseres gestap het, ‘n hou gevoel het, omgedraai het, en gesien het hoe die Eiseres besig was om op haar rug te val. Dit is opmerklik dat die weergawe van die Tweede Verweerder gedurende sy getuienis inderdaad die weergawe van die Eiseres staaf. Die kontak of impak tussen die Eiseres en homself het veroorsaak dat hy omgekyk het en gesien het hoe sy val. Sy het dus geval as gevolg van die kontak en nie vanwee duiseligheid nie. Verder bevestig die Tweede Verweerder dat hy ‘n papier in sy hand gehad het toe hy die Eiseres genader het. Sou die Tweede Verweerder behoorlik uitkyk gehou het, sou ek verwag het dat hy getuig het dat hy die Eiseres voor die impak waargeneem het. Hy sou dan kon getuig het hoe sy hom genader het terwyl hy self in haar rigting beweeg het. Hy sou kon se hoe ver hulle van mekaar af was en wat daarna gebeur het. Van die drie weergawes is die enigste weergawe wat gestaaf word, die weergawe van die Eiseres. Die Tweede Verweerder se getuienis stem ooreen met die weergawe soos verskaf deur die Eiseres, naamlik dat daar kontak tussen hulle was waarop die Tweede Verweerder omgekyk het en gesien het hoedat die Eiseres op die grond val. Dit was dus die kontak tussen hulle wat versoorsaak het dat die Eiseres geval het en nie en enige duiseligheid aan haar kant nie. Hy bevestig dat hy ‘n papier in sy regterhand gehad het en dat hy besig was om te stap in 'n bepaalde rigting. Die rigting waarin hy gestap het moes noodwendig die rigting waarin die Eiseres gestap het, kruis. Sou die Tweede Verweerder die Eiseres vroegtydig opgemerk het, was daar voldoende tyd vir hom om tot stilstand te kom en/of die botsing te vermy. Die ander weergawes deur die Verweerders voorgehou kan sonder meer verwerp word as ‘n fabrikasie.
[13] Die waarskynlikhede wat betrekking het op die gebeure moet ook in ag geneem word. Volgens die Tweede Verweerder het hy geen insidentsverslag voltooi nie. Dit is ook nooit blootgele nie. Ek vind dit total onwaarskynlik dat die Tweede Verweerder nie ‘n ongeluksverslag sou voltooi in omstandighede waar hy op die toneel beskuldig is dat hy die Eiseres omgestamp het nie. Na my mening het die Eiseres daarin geslaag om op ‘n oorwig van waarskynlikhede te bewys dat die Tweede Verweerder sy weergawe soos geopenbaar aan sy regsverteenwoordigers en daarna soos getuig in die hof, wesenlik verander het. Toe hy uiteindelik besluit het om gedeeltelik die waarheid te praat, was dit in elkgeval te laat, aangesien sy geloofwaardigheid totaal vernietig is. Tesame hiermee moet die getuienis van Mnr Bothma in oenskou geneem word. Op ‘n vraag van die Hof waarom hy nie ‘n insidentverslag voltooi het nie, was dit sy antwoord dat hy dit nie gedoen het nie uit vrees vir die gevolge wat daarop mag spruit. Hierdie toegewing van Mnr Bothma kan niks anders as ‘n toegewing wees dat die botsing tussen die Eiseres en die Tweede Verweerder veroorsaak is deur die Tweede Verweerder nie. Dieselfde kan van die getuienis van Me Barnard gese word. Sy het nie gesien hoe die voorval plaasvind nie, maar is geroep om te kom getuig dat die Eiseres na die voorval aan haar gese het dat sy duiselig geword het. Haar getuienis is in direkte teenstryd met die getuienis van die Tweede Verweerder. Hierteenoor moet die stelling deur die Verweerders se advokaat aan die Eiseres opgeweeg word, wat dit aan haar gestel het dat Me Barnard sal getuig dat die Eiseres aan haar gese het dat sy duiselig geword het. Hierdie getuienis is in direkte teenstryd met die getuienis van die Tweede Verweerder. Dit is ook aan die Eiseres gestel dat Me Barnard sal getuig dat die Eiseres aan haar gese het dat sy weet nie wat gebeur het nie, en die Eiseres se ontkenning daarvan. Hierdie duidelike weerspreking vernietig na my mening ook die geloofwaardigheid van Me Barnard.
[14] Die is geykte reg dat nalatigheid van ‘n persoon bepaal word deur die optrede van ‘n persoon te meet teenoor die normale gedragspatroon van die redelike man - anders gestel, sou die redelike man in die posisie van die Tweede Verweerder voorsien het dat sy optrede ‘n ander persoon kon beseer en daardeur sodanige persoon skade berokken en sou die redelike man redelike stappe geneem het om te voorkom dat beserings en skade sou volg uit sy optrede. Selfbedieningswinkels, en in hierdie geval selfbedieningsapteke, word so ontwerp dat kliente hulself help deur produkte wat op die rakke ten toon gestel word van sodanige rak te neem en daarna by ‘n sentrale betaalpunt daarvoor te betaal. In sodanige verkoopslokale beweeg kliente vryelik rond en kruis mekaar gedurig in hulle soektog na produkte. Die betrokke winkels word dan ook so ontwerp dat kliente op hulle eie tyd en in ‘n rustige atmosfeer hulle aankope kan doen. In hierdie saak is geen getuienis aangebied oor hoe die beweging van kliente en/of personeel van die apteek moet beweeg nie. Daar is ook geen getuienis aangebied om te bepaal of kliente slegs in ‘n bepaalde rigting mag beweeg nie. Die Hof lei van die getuienis af dat kliente vryelik kan rondbeweeg terwyl hulle besig is met hulle inkopies. Daar is ook geen getuienis aangebied oor die beweging van diensnemers van die Eerste Verweerder gedurende besigheidsure nie. In ag genome die beeldmateriaal wat vertoon is, asook die getuienis voor die Hof, is daar nie ‘n voorgeskrewe prosedure van beweging vir werknemers nie. Indien daar wel voorgeskrewe prosedures bestaan sou die Hof verwag dat die Verweerders getuienis daaroor sou bied. In die algemeen vind verkope op so ‘n verkoopsvloer plaas in 'n rustige atmosfeer terwyl mense rondbeweeg sonder enige geskrewe reels. Daar kan van enige persoon wat dus op so ‘n vloer is, kan van verwag word om ten alle moontlike tye met die nodige sorgsaamheid teenoor ander aanwesiges op te tree. Hierdie sorgsaamheid sluit ook die plig in om met die nodige versigtigheid op die vloer rond te beweeg, met inagneming van die belange van ander persone. Die Hof sal ook aanvaar dat die beweging tussen mense vereis dat daar altyd ‘n gegewe graad van oplettendheid moet wees om te voorkom dat ander gebruikers nie beseer word nie. Die redelike man sou dus sodanig optree dat enige van sy handelinge nie ‘n ander persoon in enige gevaar stel nie.
[15] Op die waarskynlikhede is dit dus my bevinding dat die botsing tussen die Eiseres en die Tweede Verweerder veroorsaak is deur die nalatigheid van die Tweede Verweerder, wie nalatig was in een of meer van die volgende aspekte:
15.1 Hy het versuim om behoorlik uitkyk te hou terwyl hy besig was om teen ‘n vinnige pas deur die apteek te stap;
15.2 Hy besig was om iets op 'n papier te lees en nie behoorlik aandag gegee het aan ander persone wat in die apteek rondbeweeg het nie;
15.3 Dat hy versuim het om redelike sorg aan die dag te le om ‘n botsing/kontak te vermy;
15.4 Dat hy versuim het om betyds ontwykende aksie te neem.
[16] Gevolglik moet die Hof ook bepaal of die Verweerders se optrede as onregmatige gedrag beskou kan word. Dit is geykte reg dat in die afwesigheid van onregmatigheid, ‘n Verweerder nie deliktueel aanspreeklik gehou kan word nie. Die vraag na onregmatigheid vereis ‘n tweeledige ondersoek - eerstens, of die handeling iemand leed toegedien het; en tweedens of die leed wat aangedoen is deur die reg beskou word as onaanvaarbaar en onredelik onder die omstandighede. Die Verweerders se advokaat het betoog dat onregmatigheid nie spesifiek deur die Eiseres in haar besonderhede van vordering gepleit is nie. Dit is natuurlik nie nodig dat dit gepleit hoef te word nie, aangesien die Hof onregmatigheid kan aflei uit die pleitstukke. Die Verweerders se advokaat voer aan dat die Eiseres getuig het dat dit ‘n ongeluk was. Gevolglik word dit betoog dat die Eiseres self van oordeel was dat die Verweerders nie moreel blaamwaardig is nie, en derhalwe nie regsaanspreeklikheid opgedoen het as gevolg van die voorval nie. Die Hof deel nie die seining van die Verweerders se advokaat nie soos hieronder meer volledig na verwys.
[17] Nieteenstaande die Verweerders se betoog dat onregmatigheid deur die Eiseres bewys moet word, blyk dit uit die notule van die tweede voorverhoorkonferensie, gehou op die 29de Julie 2013, dat die vraag na onregmatigheid en kousaliteit nie deur die Verweerder in geskil geplaas is nie. Sien in die verband paragrawe 10.5.1, 10.5.3, en 10.5.4 van die voorverhoornotule en die gedeeltes daarin wat deurgehaal is. Die Hof sou verwag dat indien dit die Veweerder se verweer was dat die Eiseres beseer is as gevolg van ‘n blote ongeluk, die Verweerders dit sou gepleit het. Sodanige pleit sou onregmatigheid ‘n geskilpunt gemaak het. Dit is ook opmerklik dat dit nie die Verweerders se saak is dat die Tweede Verweerder geregtig was om vinnig te loop terwyl hy na ‘n papier gekyk het, soos beskryf deur die Eiseres, nie. Die Verweerders pleit slegs dat daar geen kontak tussen die Tweede Verweerder en die Eiseres was nie en daar is geen sprake van ‘n ongeluk nie.
[18] Daar bestaan ‘n regsplig op die okkupeerder van ‘n perseel om te verseker dat persone wat redeliker wys en voorsienbaar toegang tot so ‘n perseel het, nie beseer word deur ‘n gevaarlike toestand op die perseel nie. In die onderhawige geval is daar by die Hof geen twyfel dat beide die Eerste en Tweede Verweerders voor die dag van die voorval bewus was van die feit dat daar ‘n potensiele gevaar van besering bestaan waar persone vryelik tussen rakke gevul met goedere bymekaar verbybeweeg, dan weer stilstaan, en voortbeweeg nie. Die toestand wat geskep word is die direkte gevolg van die wyse waarop die Eerste Verweerder se produkte bemark word. Hierdie bepaalde omstandighede het ‘n regsplig geskep wat vereis dat die Eerste Verweerder en sy werknemers redelik moet optree. Sodanige redelike optrede sluit in dat die werknemers ten minste moet kyk wat om hulle aangaan as hulle besig of om op die vloer rond te stap. Sou hulle dit nie doen nie, verhoog dit die risiko dat hulle iemand mag stamp wat beserings tot gevolg mag he. Die selfhelpwinkel-konsep en in hierdie geval ‘n apteek, kies ‘n bepaalde metode om sy produkte te bemark en skep daardeur ‘n spesiale verhouding tussen homself en die klient deur die vorm van die besigheid wat hy bedryf.
Die Verweerders se betoog dat dit op die Eiseres se weergawe aanvaar moet word dat dit ‘n blote ongeluk was, gaan ook nie op nie. Die Eiseres se weergawe moet in die konteks van die gebeure geplaas word. Volgens die Eiseres se weergawe het sy onmiddelik voordat sy gestamp is, besef dat die Tweede Verweerder haar nie raaksien nie. Sy is daarop gestamp deur die Tweede Verweerder en sy het geval. Hierteenoor moet in gedagte gehou word dat dit verskeie kere aan die Eiseres gestel is, toe sy die eerste keer getuig het, dat die Tweede Verweerder haar nie gestamp het nie. Daar is ook geen melding gemaak dat daar enige kontak tussen haar en die Tweede Verweerder was nie. Nadat die Eiseres herroep is en nadat die Verweerders se advokaat verskeie verkeerde stellings aan haar gemaak het oor waar sy sou gestaan het, wat telkens herroep is en opgevolg is deur ‘n nuwe stelling, is die Eiseres weereens gevra om haar weergawe te herhaal. Sy het daarop getuig dat sy omgedraai het waarop sy 3 tot 4 tree gestap het. Toe sy by die hoek van die rak kom “sien sy die persoon". Beide sy en die persoon het beweeg. “Albei was in beweging... toe ons mekaar tref. Ons kon niks daaraan doen nie. Ek glo nie hy kon iets doen nie want hy het gladnie gestop nie. Ons loop teen mekaar vas. Dit het vir my gelyk of hy nie ‘n behoorlike uitkyk gehou het nie. Dit lyk vir my hy kyk op die papier”. Hierop is sy gevra: “As hy ‘n behoorlike uitkyk gehou het, sou hy u gesien het?” en sy het geantwoord “Ja”.
[19] Die Eiseres se weergawe is duidelik. As die Tweede Verweerder behoorlike uitkyk gehou het en nie op die papier gekyk het terwyl hy vinnig gestap het nie, sou hy haar nie omgestamp het nie, maar juis omdat die Tweede Verweerder opgetree het soos deur haar beskryf, kon hulle niks doen nie, want hy het gladnie gestop nie terwyl sy klaar in die gangetjie was. In hierdie konteks moet haar verduideling - “dit was ‘n ongeluk maar ek is defnitief gestamp” - beoordeel word.
[20] Na my mening is die woord ongeluk nie deur die Eiseres gebruik om die afwesigheid van onregmatigheid aan te dui nie, maar is dit bloot beskrywend van aard van die gebeure soortgelyk aan die geval waar ‘n bestuurder van ‘n voertuig in ‘n botsing betrokke was en dit beskryf as ‘n ongeluk sonder om enigsins te verwys na onregmatigheid. Die Eiseres se weergawe kan nie geinterpreteer word dat sy daardeur te kenne gee dat die Tweede Verweerder se optrede nie moreel blaamwaardig of regtens geregverdig is nie. Dit is derhalwe my bevinding dat die Eiseres haar van haar bewyslas gekwyt het deur op ‘n oorwig van waarskynlikhede te bewys dat die Tweede Verweerder onregmatig en nalatig opgetree het toe hy haar omgestamp het.
[21] Die Eiseres se advokaat het aangevoer dat die Hof in hierdie saak ‘n spesiale kostebevel moet maak op grond van die feit dat die Verweerders nie oop kaarte met die Hof gespeel het nie. Dit is ook betoog dat die verweer gefabriseer is en het dit daartoe aanleiding gegee dat die Eiseres groot kostes moes aangaan, tot haar eie ongerief, om hierdie saak af te handel. Die Hof is nie daarvan oortuig dat hierdie saak ‘n spesiale kostebevel regverdig nie. In die eerste plek het die Eerste Verweerder hom bloot verlaat op verklarings van persone wat drie jaar gelede by ‘n sekere voorval betrokke was, hetsy as ooggetuies en/of persoonlik. Die Eerste Verweerder was geregtig om die aksie te verdedig. Wat die Tweede Verweerder aanbetref, het hy nie gedurende die verhoor ontken dat daar wel kontak tussen hom en die Eiseres was nie. Gevolglik kan die Hof ook nie die afleiding maak dat die Verweerders kwaadwillig was in hul verweer nie.
[22] Na my mening vereis die bones mores van die samelewing dat enige persoon wat in ‘n selfbedieningswinkel beweeg, dit op so ‘n wyse sal doen dat dit nie ander persone in gevaar stel nie. Dit geld soveel te meer vir ‘n werknemer van ‘n selfbedieningsapteek waartoe lede van die publiek toegang het. Na my mening het die Eiseres voldoende getuienis voor die Hof geplaas om aan te toon dat die onregmatige en nalatige optrede van die Tweede Verweerder, handelend binne sy diensbestek, tot gevolg gehad het dat sy geval het en beserings opgedoen het. Haar beserings is kousaal verbind met die optrede van die Tweede Verweerder.
EK MAAK DUS DIE VOLGENDE BEVINDING:
1 Dat die beserings opgedoen deur die Eiseres op die 17de Augustus 2009 te die perseel van die Eerste Verweerder veroorsaak is deur die uitsluitlike nalatigheid van die Tweede Verweerder, tydens die Tweede Verweerder se diensbestek by die Eerste Verweerder.
2 Dat die Eerste en Tweede Verweerders gesamentlik en afsonderlik aanspreeklik is vir die betaling van die Eiseres se skade, die een betaal die ander vrygestel te word.
3 Dat die Verweerders gesamentlik en afsonderlik gelas word om die koste van hierdie aksie te betaal, die een betaal die ander vrygestel te word.
DE VOS R REGTER VAN DIE NOORD EN SUID GAUTENG HOe HOF
Namens die Eiseres:Adv. PL Uys
In opdrag van: Savage Jooste & Adams
Boshoffstraat 141 Nieuw Muckleneuk Pretoria
Namens die Eerste en Tweede Verweerders: Adv. GR Egan
In opdrag van: Gildenhuys Lessing Malatji
GLMI Huis
Harlequins Kantoorblok Totiusstraat 164 Groenkloof Pretoria