South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria >> 2014 >> [2014] ZAGPPHC 122

| Noteup | LawCite

Pretorius v Meyer N.O. and Others (A723/2010) [2014] ZAGPPHC 122 (18 February 2014)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE NOORD GAUTENG HOOGGEREGSHOF

GEHOU TE PRETORIA


Saak nommer: A723/2010

Datum: 18 Februarie 2014

In die saak tussen:


ANDRIES PETRUS PRETORIUS.......................................................................APPELLANT

en

PETRUS CORNELIUS MEYER N.O.

ABRAHAMA DE KLERK N.O.

(MAHEMSRUS TRUST).................................................................................RESPONDENT


UITSPRAAK

PRELLER R:


Hierdie saak kom voor ons met die verlof van die Hoogste Hof van Appel. Geriefshalwe word na die partye verwys soos hulle was in die verhoorhof. Die eiser het die verweerder gedagvaar vir sy beweerde ooreengekome vergoeding voorstpruitend uit die hantering van 'n versekeringseis wat die verweerder ingestel het teen die versekeraar van die verweerder se onroerende eiendom. Die eis is afgewys deur die verhoorhof (Makgoba R) en die appel is gemik teen daardie beslissing.


Paragragraaf 3 van die besonderhede van eis bevat die eenvoudige bewering dat die verweerder te alle relevante tye verteenwoordig is deur Petrus Cornelius Meyer, wat in sy hoedanigheid as trustee gesiteer is as een van die twee verteenwoordigers van die verweerder. In antwoord op hierdie bewering lees paragraaf 3 van die pleit : "Die inhoud daarvan word ontken." Meyer se magtiging om namens die verweerder op te tree was een van die twee hoofdispute in die verhoorhof en ook voor ons.


Die ander tersaaklike dispuut ontstaan uit paragraaf 4 van die besonderhede van eis, waarin die eiser beweer dat die partye op 29 November 2006 te Klerksdorp 'n mondelinge ooreenkoms gesluit het. Hy beweer dat hy namens verweerder 'n versekeringseis sou "hanteer en tot finaliteit deurvoer" wat voorgespruit het uit 'n brand in die verweerder se onroerende eiendom. Wanneer die versekeraar die eis uitbetaal sou die verweerder aan die eiser 'n vergoeding betaal gelykstaande aan 10% van watter bedrag ook al uitbetaal mag word.


Die antwoord hierop is vervat in paragraaf 4 van die pleit wat byna drie bladsye lank is. Dat die opsteller van die pleit nie veel van 'n idee gehad het waarmee hy besig is nie, blyk onder andere uit sy onbeholpe geworstel met sy eie moedertaal, sy gebruik van die woord "kwansuis" waarvan hy duidelik nie die betekenis ken nie en wat geen verstaanbare rol speel in die sinsverband waarin dit gebruik is nie en die insluiting van betekenislose uitdrukkings soos "...die eiser word tot die bewys van iedere en elke bewering daarin vervat geplaas.". Met die gebruik van verbeelding kan die volgende relevante bewerings daaruit gedistilleer word:

- Die inhoud van paragraaf 4 van die besonderhede van eis word ontken;

- Die eiser het te kenne gegee dat hy deur van sy kundigheid en kontakte gebruik te maak hy met die versekeraar sou kon beding dat

'n vorige aanbod deur laasgenoemde gemaak verhoog word na R 4 500 000, wat meer was as die versekerde bedrag;

- Omdat laasgenoemde kennelik nie haalbaar was nie, is "spottenderwys" 'n vergoeding van R 500 000 aan die eiser aangebied indien hy wel so 'n uitbetaling sou kon beding en op dieselfde basis 'n vergoeding van R 250 000 indien hy 'n uitbetaling van R 4 000 000 sou kon beding;

  • Die eiser is verder meegedeel dat hy geen koste moet aangaan nie en dat hy nie daarvoor vergoed sou word nie;

Dit is opmerklik dat wat laasgenoemde twee bewerings betref dit lyk of die pleitbesorger doelbewus vermy het om aan te dui of dit die verweerder dan wel Meyer persoonlik was wat hierdie twee aanbiedinge gemaak en die voorwaarde gestel het.


Daar is verder ook 'n uitdruklike ontkennning dat die eiser enige invloed gehad het op die bedrag wat die versekeraar uiteindelik aangebied het. Hierdie ontkenning is egter irrelevant in die paragraaf waarin dit gemaak word, aangesien daar geen sodanige bewering gemaak word in die tersaaklike paragraaf van die besonderhede van eis nie.


Die besonderhede van eis gaan dan verder om te beweer dat die eiser sy mandaat uitgevoer het en dat die versekeraar 'n betaling van R2 524 951.20 aan die verweerder gemaak het op 8 Maart 2007. Dit volg uit sy ander bewerings dat hy dan geregtig sou word op 'n vergoeding van R252 495.12. Hy gaan voort om te beweer dat die verweerder slegs R4 596.57 hiervan aan hom betaal het en dat hy geregtig is op die balans van R247 898.55.


Die betaling deur die versekeraar was gemene saak en die verweerder ontken die res van die bewerings op sy gewone eienaardige en omslagtige manier. Wat die beweerde gedeeltelike betaling betref erken verweerder dat daar onverskuldigde premies ten bedrae van R4 596.57 aan die versekeraar betaal was wat terugbetaal sou word en dat die verweerder opdrag gegee het dat dit aan die eiser betaal moet word. Die verweerder ontken uitdruklik dat dit 'n betaling uit hoofde van enige ooreenkoms was.


Namens die partye het slegs die eiser en die voormelde Meyer getuig. Behalwe vir een aspek waarop ek weldra sal terugkom het daar niks noemenswaardig aan die lig gekom in die loop van hulle getuienis nie en hulle getuienis is min of meer in ooreenstemming met die pleitstukke. Volgens Meyer se identiteitsnommer was hy tydens die verhoor 68 jaar oud en dit was merkbaar uit die wyse waarop hy vrae geantwoord het. Veral as daar 'n lang vraag aan horn gestel was, het hy die trant van die vraag heeltemal verloor en dit was dikwels nodig om 'n vraag te herhaal of aan horn te verduidelik wat die die punt van 'n vraag is. Dit affekteer egter nie sy geloofwaardigheid nie. Die verhoorhof het geen nadelige bevinding omtrent horn gemaak nie en daar is ook nie betoog vir so 'n bevinding nie.


Dit blyk uit die onbetwiste getuienis van Meyer dat sy verbintenis met die eiser begin het toe 'n besigheid van Meyer, Transvaal Hotel, gelikwideer is. Die eiser, wat kennis het van likwidasies uit hoofde van sy werk by 'n firma van likwidateurs, het Meyer bygestaan in die proses. Die saak het vir Meyer 'n ongelukkige afloop gehad en hy beweer dat die eiser hom meer as R1 miljoen gekos het. Sy getuienis dat hy nie weer met die eiser in besigheid sou wou betrokke raak is dus nie verrassend nie. Vandaar ook die voorwaarde dat geen koste wat die eiser in die proses van die eis mag aangaan, betaal sou word nie.


Tydens die eerste gesprek tussen die eiser en die verweerder het die eiser gevra dat die verweerder hom van sekere dokumentasie voorsien. Dit het ingesluit die betrokke trustakte en afskrifte van die eisdokumente wat toe reeds ingedien was. Die eiser het die trustakte nagegaan en gemerk dat daar twee trustees was. Hy het die tweede trustee, wat 'n praktiserende prokureur in Klerksdorp is, gekontak om ook haar magtiging te kry om namens die trust op te tree. Sy het hom meegedeel dat die huis wat afgebrand het Meyer se "eie opset" is en dat hy sy eie goed bestuur. Die gevolg daarvan was dat hy die volmag aan hom om met die versekeraar te onderhandel namens die versekerde, opgestel het in die naam van Meyer in sy persoonlike hoedanigheid. In die uitspraak van die verhoorhofhof is die teks van die volmag verbatim aangehaal en dit is opvallend dat daar geen verwysing na die verweerder, synde die trust, in voorkom nie. Dit ten spyte daarvan dat die eiser geweet het dat die eindom aan die trust behoort het en nie aan Meyer nie en dat dit dus die trust se eis was.


Die trustakte was ook voor die hof en die inhoud daarvan is gedebatteer met Meyer toe hy in die getuiebank was. Daarvolgens is dit duidelik dat geen afbreuk gedoen word nie aan die normale beginsel dat die samewerking van beide trustees vereis word vir enige handeling voordat dit bindend kan wees op die trust. Hierdie presiese punt is geopper deur Mnr. Klopper namens die verweerder tydens sy aansoek om absolusie aan die einde van die eiser se saak. Hy het aangevoer dat een trustee nie sonder die samewerking van al die ander enige ooreenkoms namens 'n trust kan sluit nie en dat die ooreenkoms waarop die eiser steun dus regtens onafdwingbaar was. Die geleerde verhoorregterregter het hom gevra of die afwesigheid van die toestemming van die ander trustee nie spesifiek gepleit moes gewees het nie. In stede van eenvoudig te verwys na paragraaf 3 van die pleit was sy antwoord dat die bestaan van die ooreenkoms betwis was. Die debat het daarna oorgegaan in 'n bespreking van die magtigingsbrief van die Meester en die magte wat die trustees het ingevolge die terme van die trustakte. Blykbaar het almal die bewering misgekyk in paragraaf 3 van die besonderhede van eis dat Meyer te alle tyd namens die trust opgetree het en die uitdruklikke ontkenning daarvan in paragraaf 3 van die pleit.


In sy antwoord op die aansoek om absolusie het Mnr. Le Grange namens die eiser aangevoer dat die gebrek aan magtiging nie in die pleitstukke geopper is nie. As ek sy argument reg verstaan was dit dat dit nodig is dat Meyer gekruisvra word om vas te stel of die trust sy alter ego is en of die korporatiewe skerm gelig moet word. Die argument is die volgende dag voortgesit nadat Mnr. Le Grange die regsposisie nagevors het en die gevoel van onwerklikheid het net sterker geword met die lees van die res van sy argumente.


Hierdie onbehulpsame debat het uitgeloop op 'n kort uitspraak deur die verhoorhof waarin die aansoek geweier is. Die hof het eerstens op rekord geplaas dat die afwesigheid van magtiging van die ander trustee nie in die pleitsukke geopper is nie. Tweedens het die hof beslis dat die bestaan al dan nie van magtiging 'n feitevraag is en dat al die feite voor die hof moet wees voordat die hof tot 'n beslissing kan kom oor die regsvraag of daar magtiging was of nie. Wat dit betref verskil ek met eerbied van die hof o quo - dit is 'n eenvoudige feitevraag of die ander trustee die ooreenkoms gemagtig het. Indien nie, is die enigste regsvraag wat daaruit voortvloei of die ooreenkoms wat gesluit is sender magtiging, geldig en bindend is.


In paragraaf [3] van die finale uitspraak van die verhoorhof het die geleerde regter met eerbied korrek verwys na die bewering in paragraaf 3 van die besonderhede van eis dat Meyer die verweerder te alle tye verteenwoordig het en die ontkenning daarvan in die pleit. Die hof bevind dan in paragraaf [6] dat die bewyslas op eiser was om te bewys dat Meyer die trust behoorlik verteenwoordig het en ook dat die ooreenkoms gesluit is in die terme wat die eiser beweer. Die kern van die ratio decidendi van die verhoorhof is te vinde in paragrawe [27] tot [31] van die uitspraak, nadat die hof die tersaaklike uitsprake van die Hoogste Hof van Appel oorweeg het en waarmee geen fout te vind is nie. Die bevinding kan soos volg opgesom word:


- 'n Party wat 'n trust gebonde wil hou aan 'n kontrak moet die magtiging bewys van die persoon wat volgens hom namens die trust opgetree het;

- Die eiser het die volmag en die gepaardgaande dekbrief aan die versekeraar persoonlik opgestel nadat hy die trustakte nagegaan het;

- Uit die inhoud van die twee dokumente is dit duidelik dat nadat die eiser die trustakte nagegaan het en na sy gesprekke met Meyer en die ander trustee, hy onder die indruk was dat hy met Meyer in sy persoonlike hoedanigheid onderhandel het;

- Die inhoud van die volmag verwys glad nie na die trust nie en dui aan dat Meyer in sy persoonlike hoedanigheid opgetree het;

- In die lig van die bevinding dat Meyer nie die magtiging gehad het om die trust te bind nie, is dit nie nodig om te bevind of daar 'n bindende ooreenkoms tussen die eiser en Meyer persoonlik was nie.

So 'n bevinding sal aan niks 'n verskil maak nie aangesien Meyer in sy persoonlike hoedanigheid nie voor die hof was nie;

- Indien die beweerde ooreenkoms ooit bestaan het, is dit nietig en onafdwingbaar teen die trust omdat dit nooit deur die trust gemagtig was nie. Die bestaan van die magtiging is in die pleit ontken en die eiser het geen getuienis aangebied dat dit ooit bestaan het nie.

Ek kan geen fout vind met die hof se uiteensetting van die tersaaklike gedeeltes van die getuienis, die vereistes van die trustakte en die vertolking van die uitsprake van die Hoogste Hof van Appel in onder andere Nieuwoudt and Another NNO v. Vrvstaat Mielies (Edms) Bpk.. 2004 (3) SA 486 (HHA) nie. Die appellant het ook nie in argument betoog dat daar enige wesenlike wanvoorligtings deur die hof a quo begaan is nie.


Die geleerde verhoorregter is na my respekvolle mening heeltemal reg dat as dit vasstaan dat Meyer nie die magtiging van sy mede-trustee gehad het om die ooreenkoms te sluit nie, dit die einde van die appel is en dat dit dan nie nodig is om in te gaan op enige van die ander dispute nie.


In die kennisgewing van appel word verskeie gronde aangevoer waarop die verhoorhofhof sou fouteer het. Ek vind dit nodig om met slegs die volgende te handel:


Soos ek paragraaf 1 van die kennisgewing verstaan is die appellant (verkeerdelik na verwys as die applikant) se argument dat die hof fouteer het deur nie te bevind nie dat Meyer die nodige "volmag" (bedoelende "magtiging") van die trust gehad het, deurdat die appellant nie nodig gehad het om dit te bewys nie, aangesien:


1.1 Dit nie op die pleitsukke in geskil was nie. — Die antwoord is te vinde in paragraaf 3 van die besonderhede van eis wat duidelik genoeg betwis word in paragraaf 3 van die verweerskrif.

1.2 Dit nie tydens kruisondervraging van die appellant in geskil geplaas is nie en gevolglik as bewese gestaan het. -- Die appellant verstaan nie die posisie omtrent die bewyslas in die saak nie. Die bestaan van die magtiging is lets wat die appellant moes bewys deur getuienis. Hy het geen getuienis daaromtrent aangevoer nie en daar was eenvoudig niks waaroor hy gekruisvra kon word nie.

1.3 Dit nie 'n geskilpunt voor die hof was nie. -- Die antwoord hierop blyk uit die vorige twee subparagrawe.

In paragraaf 2 voer die appellant aan dat die hof fouteer het deur te belis dat die magtiging in dispuut geplaas is nadat die teendeel beslis sou gewees het in die uitspraak in die aansoek om absolusie. Wat die geleerde regter in sy uitspraak in die aansoek om absolusie gese het, was klaarblyklik nie bedoel om 'n finale bevinding te wees waaraan die hof gebonde was nie. In elk geval staan dit vas dat die magtiging duidelik betwis is soos reeds hierbo aangetoon. Indien dit wel 'n finale beslissing was en die eis op grond daarvan geslaag het, sou die respondent met sukses daarteen kon appelleer.


Ek vind dit moeilik om te verstaan wat die appellant bedoel met paragraaf 3 van die kennisgewing. Die bewering is dat die hof fouteer het deur 'n bevinding omtrent die magtiging te maak sonder om die appellant die geleentheid te bied om die geskilpunt volledig te ondersoek en getuienis daaroor aan te bied en sonder dat die geskilpunt volledig voor die hof gedien het. Die eiser as dominus litis was volkome geregtig om die nodige getuienis voor die hof aan te bied en hy is in geen opsig beperk nie. Die feit van die saak is dat hy eenvoudig nie gebruik gemaak het van die geleentheid wat hy gehad het nie.


Die appellant voer ook aan dat hy bo redelike twyfel (sic) bewys het dat Meyer die nodige magtiging gehad het, omdat die mede-trustee hom sou meegedeel het dat Meyer sy eie huis hanteer, wat dan sou impliseer dat hy 'n algemene onbeperkte volmag gehad het. Daardie getuienis van die eiser was suiwer hoorse en die feit dat die respondent hom nie daaroor gekruisvra het nie maak dit nie toelaatbaar nie.


Die ander gronde aangevoer in die kennisgewing gaan oor die ooreenkoms waarvoor daar geen magtiging was nie en is dus irrelevant.


My slotsom is dat die verhoorhof in geen opsig fouteer het nie en dat daar geen rede is om in te meng met die bevel nie. Die bevel wat ek voorstel is dus die volgende:


Die appel word van die hand gewys met koste."


F. G. PRELLER

REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF


Ek stem saam


P.P. T.M. MAKGOKA

REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF


Ek stem saam


V.V. TLHAPI

REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF


Dit word so gelas.