South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria >> 2014 >> [2014] ZAGPPHC 258

| Noteup | LawCite

Rossgro Chickens (Pty) Ltd v Cold Chain (Pty) Ltd (11563/2011) [2014] ZAGPPHC 258 (24 April 2014)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOË HOF VAN SUID-AFRIKA

(GAUTENG AFDELING, PRETORIA)



SAAK NR: 11563/2011

DATUM: 24/4/2014

In die saak tussen:



ROSSGRO CHICKENS (PTY) LTD.........................................................................................Eiser

en

THE COLD CHAIN (PTY) LTD........................................................................................Verweerder



UITSPRAAK



FOURIE, R:



[1] Die Eiser vorder betaling in die bedrag van R1,553,883.57 wat na bewering deur die Verweerder in terme van ‘n verspreidingsooreen-koms verskuldig is. Die Eiser produseer hoenderprodukte en die Verweerder versprei sodanige produkte namens sy prinsipale aan kleinhandelaars. Dit is gemeensaak dat die partye op 4 April 2008 ‘n skriftelike verspreidingsooreenkoms gesluit het waarkragtens die Verweerder as verspreidingsagent vir die Eiser opgetree het om laasgenoemde se hoenderprodukte aan Shoprite Checkers te versprei. Daar is ook sprake van ‘n ander ooreenkoms wat tussen die Eiser en Shoprite Checkers tot stand gekom het, maar waarby die Verweerder nie ‘n party is nie. Die Eiser se vordering staan hoofsaaklik op twee bene: Die eerste een het betrekking op gelde wat na bewering verskuldig is vir aflewerings wat deur die Verweerder as verspreidingsagent gedoen is, terwyl die tweede een betrekking het op gelde wat na bewering verskuldig is ten opsigte van aflewerings wat die Eiser self gedoen het.

DIE VERSPREIDINGSOOREENKOMS:

[2] Die verspreidingsooreenkoms wat in die vorm van ‘n brief onderteken is, bevat onder andere die volgende bepaling:

The Cold Chain is appointed as a Distribution Agent and will order and receive stock from MPC Chickens. The Cold Chain has the duty of ‘custodianship’ of the stock and will insure the stock. The stock shall remain the property of MPC Chicks whilst it is handled by The Cold Chain. Ownership of the stock shall pass from MPC Chicks to The Cold Chain to the Retailers upon invoicing and delivery.

[3] Die ooreenkoms maak verder voorsiening vir die verspreiding van vars sowel as gevriesde hoenderprodukte, maar in hierdie saak gaan dit hoofsaaklik oor die verspreiding van vars produkte. Vir die versprei-ding van hierdie produkte is daar op ‘n vergoeding van 11,5% bereken op die netto faktuurwaarde (BTW uitgesluit) ooreengekom. Produkte sou deur middel van kruisbestelling (“cross-docking”) hanteer word. Skade aan of diefstal van produkte in die Verweerder se pakhuis sou vir die rekening van die Verweerder wees, maar voorraad wat in die Verweerder se pakhuis sou verval, sal vir die rekening van die Eiser wees. In hierdie verband is daar by die ooreenkoms ingeskryf “refer to the swell allowance agreement with Shoprite”.

[4] Wat kredietbestuur en die administrasie van rekeninge betref, het die partye soos volg ooreengekom:

The Cold Chain will perform a debtors’ administration service on behalf of MPC Chicks. Any deductions by the retailers from The Cold Chain’s payment (e.g. rebates, promotional fees, advertising charges) will be for the account of MPC Chicks.

[5] Wat betaling sowel as aftrekkings en ander eise betref, het die partye die volgende ooreengekom:

The Cold Chain strives to operate on a principle of balanced working capital. MPC Chicks will provide monthly statements to The Cold Chain for the stock delivered during the preceding month. The Cold Chain will pay these invoices after 30 days from the date of the statements. Any trade deductions, claim-backs and administrative fees that are levied against MPC Chicks will be payable within 7 days from date of statement.

Die ooreenkoms is namens die Eiser deur Mnr Nell Wiid onderteken en namens die Verweerder het Mnr Chris de Beer geteken.

[6] Die Eiser voer in sy Besonderhede van Vordering aan dat die skriftelike ooreenkoms gedurende ongeveer September 2008 mondeling, alternatiewelik deur gedrag, soos volg gewysig is:

7.1 The Defendant would henceforth be entitled to issue orders for delivery of goods directly to the retailers as opposed to the designated DC’s (called direct dumps);

7.2 The Plaintiff would be liable for a commission on the direct dumps at a reduced rate of 9,5% of the net invoice value (excluding VAT) derived from gross sales in respect of which direct delivery was effected by the Plaintiff;

7.3 The Plaintiff would issue separate statements, supported by the relevant invoices and proofs of delivery to the direct dump issuing DC for the goods delivered on account of such direct dumps.

[7] Die Verweerder ontken die voormelde bewerings en pleit dat die Eiser sonder sy toestemming gedurende of omtrent September 2008 direkte aflewerings begin doen het, maar dat die partye wel op 7 Januarie 2008 ooreengekom het dat die Eiser op sekere voorwaardes self direkte lewerings sou kon maak. Hierdie weergawe is soos volg gepleit:

6.1.1 The Plaintiff commenced with direct deliveries to retailers from about September 2008, without the Defendant’s consent;

6.1.2 During or about October 2008 the Plaintiff approached the Defendant for assistance to recover monies owing by the retailers in respect of direct deliveries made by the Plaintiff to them;

6.1.3 The Defendant, in order to assist the Plaintiff, presented invoices to the retailers in respect of delivery notes provided by the Plaintiff;

6.1.4 The Defendant presented the invoices to the retailers for payment and duly paid monies to the Plaintiff as and when payment was received from the retailers;

6.1.5 On 7 January 2009 at Bedfordview, alternatively at Delmas the Plaintiff, represented by Wiid and the Defendant, represented by De Beer agreed that the Plaintiff would be allowed to deliver orders directly to the retailers provided that the Plaintiff would generate invoices directly from the Defendant’s information technology systems and on the Defendant’s stationery;

6.1.6 The parties agreed on the commission rate of 4% in respect of the direct dump service;

6.1.7 The Plaintiff would issue separate statements, supported by the relevant invoices and delivery notes in respect of the goods delivered by way of direct dumps.

DIE WESENLIKE GESKILPUNTE:

[8] Gedurende die verloop van die verhoor het die Eiser die eisbedrag van R1,553,883.57 na R1,250,019.98 verminder. By hierdie bedrag is daar ingesluit R26,983.45 wat die Verweerder in sy Verweerskrif erken het “blyk verskuldig te wees” en betaling daarvan getender het onderhewig aan die voorlegging van oorspronklike fakture en afleweringsbewyse. Die partye het ook tydens die verhoor ‘n skedule opgehandig wat sekere ooreenkomste tussen hulle boekstaaf, sonder om die beginsel van verskuldigdheid toe te gee. Ek sal later weer na hierdie dokument verwys.

[9] Die Eiser se verminderde vordering in die bedrag van R1,250,019.98 het betrekking op sekere komponente of sub-vorderings wat tydens die verhoor uitgekristalliseer het (soos ook deur die Eiser se advokaat in sy hoofde van argument uiteengesit ) en waarvoor die volgende bedrae geëis word:

    • R517,189.30 vir produkte wat na bewering teruggestuur is (“returns”);

    • R26,983.45 ten opsigte van betalings wat die Verweerder erken het verskuldig blyk te wees;

    • R66,699.52 vir vars produkte wat na bewering deur die Eiser aan die Verweerder gelewer is;

    • R600,003.36 vir vars produkte wat die Verweerder na bewering direk aan kleinhandelaars gelewer het (“direct drops”);

    • R39,144.35 vir vars produkte afgelewer, maar waarvoor daar nie ‘n stelselnommer (GRN-nommer) van die kleinhandelaar verkry is nie.

[10] Behalwe vir die gekwalifiseerde erkenning van aanspreeklikheid ten opsigte van R26,983.45, ontken die Verweerder aanspreeklikheid vir die betaling van enige ander bedrag. Die Eiser se bewering dat die skriftelike ooreenkoms later gewysig is om vir direkte aflewerings (“direct drops”) voorsiening te maak, is ook in geskil tussen die partye. Ander geskilpunte wat hiermee verband hou, het betrekking op die uitleg van sekere klousules in die skriftelike ooreenkoms waarna ek mettertyd sal verwys. Alvorens ek die geskilpunte oorweeg, sal ek eers ‘n opsomming van die tersaaklike getuienis gee

GETUIENIS VIR DIE EISER:

[11] Mnr Wiid het getuig dat hy ‘n besigheidsman is wat ‘n meestersgraad in Landbou het. Hy beskik ook oor ‘n bestuursdiploma. Hy is gedurende Maart 2008 as die hoof uitvoerende beampte van die Eiser aangestel. Hy het die skriftelike ooreenkoms namens die Eiser met Mnr Chris de Beer van die Verweerder onderhandel en dit op 4 April 2008 onderteken. Voor die sluiting van hierdie ooreenkoms het hy met ‘n verteenwoordiger van Shoprite Checkers oor die verskaffing van hoenderprodukte samesprekings gevoer. Hy is na die Verweerder verwys wat namens produsente die verspreiding van produkte behartig. Die handgeskrewe gedeelte in die skriftelike ooreenkoms wat verwys na die “swell allowance agreement” is deur hom ingevoeg. Volgens hom beteken so ‘n ooreenkoms dat die kettingwinkel onderneem om self die verantwoordelikheid te dra vir voorraad wat verval. Daarvoor is ‘n vergoeding van 5% van die faktuurprys ten gunste van die kettingwinkel ooreengekom.

[12] Wat die werking van die stelsel in die praktyk betref, het hy getuig dat verskillende takke van die kettingwinkel elk hul eie bestelling by die Verweerder plaas. Die Verweerder sal dan ‘n lys van takke met hul bestellings aan die Eiser deurgee vir lewering die volgende dag aan die Verweerder. Wanneer lewering aan die Verweerder plaasvind, is die kratte klaar gemerk vir spesifieke takke ooreenkomstig hulle bestellings. Hierdie bestellings word dan deur die Verweerder by die verskillende takke afgelewer. Die Verweerder sou dan die rekening tussen die Eiser en die kettingwinkel bestuur. Dit beteken dat die Verweerder betaling van die kettingwinkel sal vorder en dit wat aan die Eiser verskuldig is, aan hom oorbetaal. Wanneer daar ‘n verskil tussen die bestelprys en die faktuurprys voorgekom het, het dit tot ‘n eis (“claim-backs”) op die rekening aanleiding gegee.

[13] Mnr Wiid het verder getuig dat met die aanbreek van die somer het daar sekere probleme ontstaan. Dit is moeiliker om gedurende somermaande met vars produkte te werk. Dit moet voortdurend onder 5ºC gehou word. Volgens hom het daar ‘n probleem met die “koue ketting” ontstaan en winkels het begin kla dat vars produkte voor hulle vervaldatum begin sleg word het. Tot op daardie stadium is die Eiser se produkte deur die Verweerder as verspreidingsagent by die verskillende winkels afgelewer, maar weens die frustrasie van die kleinhandelaars het die Eiser toe begin om self winkels van produkte te voorsien.

[14] Op ‘n vraag van die Eiser se advokaat of die getuie dit enigsins met die Verweerder bespreek het voordat hierdie werkswyse plaasgevind het, het hy geantwoord: “vir seker ja” en aangedui dat hy dit met Mnr Chris de Beer bespreek het. Volgens hom is daar toe ooreengekom dat die Eiser self sy produkte “in sekere krisisgevalle” sal gaan aflewer, terwyl die administrasie steeds deur die Verweerder gekanaliseer sal word. Hy het verder verduidelik dat die enigste dispuut of gesprek gehandel het oor ‘n nuwe kommissie wat beding moes word, maar dat hy nie meer kan onthou hoeveel dit beloop het nie. Volgens hom is hierdie wysigingsooreenkoms gedurende September/November 2008 ooreengekom. Ten einde betaling te kon kry, moes die Verweerder ‘n faktuur, met die Eiser se aflewerings-bewys, aan die kettingwinkel lewer aangesien die Eiser nie op die kettingwinkel se sisteem geregistreer was nie. Hy het die toepassing van hierdie reëling soos volg verduidelik:

Aanvanklik was dit per faks gedoen. Met ander woorde ons sou Cold Chain laat weet by watter winkel ons gaan aflewer sodat hulle ‘n faktuur kan uitreik, met die beplanning dat op die … Later in die jaar is ooreengekom dat Cold Chain, of die Verweerder, ‘n stelselpunt by die slagpale sal installeer …

[15] Volgens hom het kleinhandelaars nog altyd van ‘n elektroniese bestelsisteem gebruik gemaak. Dit beteken dat elke winkel plaas sy eie bestelling deur die bestelling asook die bestelnommer elektronies aan die Verweerder te stuur. Daarna word die bestelling en die bestelnommer deur die Verweerder aan die Eiser gekommunikeer. Hy het weer getuig dat dit per faks of selfs elektronies geskied. Die Eiser maak dan die bestelling op, lewer dit self by die winkel af en kry daarvoor ‘n bewys van aflewering. Die Eiser lewer dat die bewys van aflewering aan die Verweerder wat op sy beurt weer ‘n faktuur vir die groothandelaar genereer.

[16] Op ‘n vraag of die sisteem goed gewerk het, was die getuienis dat hierdie stelsel van direkte aflewering nie goed gewerk het nie. Volgens die getuie was daar hoofsaaklik “baie administratiewe administrasies” gewees. Na vele gesprekke met die Verweerder en die kleinhandelaars is daar uiteindelik besluit dat die Verweerder ‘n sisteempunt by die Eiser moes implementeer. Die gedagte was dat dit by die slagpale gedoen moes word, maar dit het nooit gebeur nie. Hy kon nie sê wanneer die reëling oor die installasie van die sisteem-punt getref is nie, maar volgens hom was dit gedoen nadat die eerste wysigingsooreenkoms in hierdie verband aangegaan is. Hy het sy getuienis in hoof afgesluit deur te meld dat die ooreenkoms tussen die partye gedurende Februarie 2009 beëindig is en dat daar wel betaling vir direkte aflewerings aan die Eiser gemaak is.

[17] Die Eiser se tweede getuie was Mev Van Deventer. Sy was voorheen by die Eiser werksaam. Sy het in die rekeninge-afdeling met krediteure gewerk en toe die vars produkte-reeks later bygekom het, het sy ook die bestellings en produksie daarvan behartig. Volgens haar het die stelsel met betrekking tot vars produkte aanvanklik soos volg gewerk: Die Verweerder het ‘n elektroniese bestelling aan die Eiser gestuur. Dit is dan aan die produksie-afdeling gegee om die volgende dag verwerk en verpak te word. By die Eiser se versending-afdeling is die verpakking geweeg waarna die gewig op ‘n faktuur aangedui word. Die bestelling word dan per vragmotor na die Verweerder se verspreidingsafdeling vervoer. Daar word die bestelling aan die Verweerder oorhandig waartydens een van die Verweerder se werknemers die een faktuur asook ‘n bewys van aflewering onderteken en van ‘n stempel voorsien. Dit word dan aan die Eiser terugbesorg, by die rekeninge-afdeling verwerk en later met die uitstuur van ‘n staat opgevolg. Die Eiser het dan 30 dae om te betaal.

[18] Nadat die kontrak tussen die partye beëindig is, het hulle gepoog om die uitstaande rekening te rekonsilieer. Soos wat daar telkens inligting aangevra is, is daar weer ‘n rekonsiliasie gedoen. Dit het so aangehou totdat die getuie gedurende Oktober 2009 ‘n opsomming van al die uitstaande betalings gemaak het. Afskrifte van hierdie opsommings is as Bylae “B” tot “H” by die Besonderhede van Vordering aangeheg. Sy het na elk van hierdie bylae verwys en dit verduidelik.

BYLAAG “B”:

[19] Hierdie bylaag bevat verskeie inskrywings en dit het op die Verweerder se City Deep-tak betrekking. Die bedrag uitstaande word as R616,688.53 aangedui. Hierby is daar aangeheg ‘n rekonsiliasie-staat gedateer Oktober 2009 wat deur die Verweerder voorberei is (p.20A). Volgens die getuie was daar verskeie vergaderings nadat die kontrak beëindig is. Dit was gedoen om die rekeninge te probeer rekonsilieer. Hierdie was die laaste rekonsiliasiestaat wat sy van die Verweerder ontvang het. Op die rekonsiliasiestaat verskyn daar ‘n aftrekking van R1,031,745.56. Die resultaat blyk dan ‘n nul balans te wees. Volgens die getuie het sy hierdie aftrekking op Bylaag “B” oorgedra en weer bygetel. Daarbenewens bevat Bylaag “B” ook nog fakture wat volgens haar nie betaal is nie. Die somtotaal daarvan beloop R80,017.50. Sy het toegegee dat ‘n bedrag van R423,633.57 (vir “claim-backs”) asook R71,440.96 (vir “pricing”) van die Eiser se eis afgetrek moet word. Wanneer alles teen mekaar verreken word, dan is die uitstaande balans volgens die getuie R616,688.53.

[20] Die getuie het ook na ‘n ander dokument verwys wat by hierdie bylaag aangeheg is (p. 20B – 20F). Hierdie dokument is ook Oktober 2009 gedateer en dit bevat ‘n uiteensetting van hoe die aftrekking ten bedrae van R1,031,745.56 saamgestel en bereken is. Hierdie dokument is ook deur die Verweerder voorberei en dit verwys na drie komponente, “claim-backs, pricing & returns”. Volgens haar het die “claim-backs & pricing” se syfers betrekking op dit wat sy reeds toegegee het, maar die syfers wat op die “returns” betrekking het, gee sy nie toe nie aangesien dit volgens haar nog betaalbaar is. As rede hiervoor het sy aangevoer dat die Eiser ‘n “no return policy gehad (het) met ‘n swell allowance waarvoor ons betaal het”. Sy het in die verband ook na ‘n e-pos verwys wat sy op 12 Junie 2008 aan die Verweerder se Mev Hartzenberg gestuur het. Daarin het sy die volgende gesê:

Graag wil ek dit net onder julle aandag bring dat geen produkte deur julle teruggeneem moet word van enige Checkers Hyper af nie. As daar enige probleme met verpakking is kan hulle Nico Scheepers direk kontak …

[21] Al die faktuurinskrywings op Bylaag “B” het op direkte aflewerings betrekking. In hierdie verband het die getuie spesifiek na die laaste twee inskrywings gedateer 9 Februarie 2009 verwys. Die aflewerings-bewyse daarvoor toon aan dat die een aflewering by Checkers Little Falls en die ander een by Checkers Southgate gedoen is. Volgens ‘n belastingfaktuur wat deur die Verweerder aan Checkers uitgereik is, blyk dit dat die aflewering wat by Little Falls gedoen is wel deur die Verweerder op sy stelsel geregistreer is (bestelnommer 42272/3914 op p. 29 en p. 229). Die uitstaande bedrag daarvoor beloop R1,975.91 en volgens die getuie is dit nog steeds nie betaal nie. Die ander aflewering wat by Checkers Southgate gemaak is se hoeveelhede stem volgens die getuie ooreen met die Verweerder se een faktuur wat hy aan Checkers gelewer het, maar sy het toegegee dat die bestelnommers daarvan nie ooreenkom nie (p. 30 en p. 228).

BYLAAG “C”:

[22] Hierdie opsomming van betalings wat na bewering nog uitstaande is, het op die Verweerder se Midrand-tak betrekking. Dit verwys na slegs twee transaksies waarvolgens die uitstaande bedrag R46,699.88 beloop. Die eerste transaksie verteenwoordig produkte wat by die Verweerder se pakhuis afgelewer is. As bewys daarvoor het die getuie na ‘n faktuur verwys (p. 32) wat deur ‘n werknemer van die Verweerder onderteken is. Op hierdie faktuur is die hoeveelheid kissies van 100 tot 87 verminder, maar die prys het onveranderd gebly. Die tweede transaksie verteenwoordig ‘n direkte aflewering wat deur die Eiser self gedoen is.

BYLAAG “D”:

[23] Hierdie opsomming het op die Verweerder se Nelspruit-tak betrekking. Daarvolgens blyk dit dat twee fakture vir ‘n totale bedrag van R24,886.34 nog steeds uitstaande is. Die eerste inskrywing het op ‘n direkte aflewering betrekking, terwyl die tweede een ‘n aflewering by die Verweerder se Nelspruit-tak verteenwoordig. Wat die eerste inskrywing betref, het die getuie na afleweringsbewyse verwys (p. 35 – p. 37) wat aantoon dat aflewerings direk by twee verskillende winkels gedoen is. Volgens haar is hierdie afleweringsbewyse na die Verweerder se Nelspruit-tak gefaks of per e-pos versend. Sy het in hierdie verband ook verwys na ‘n faktuur van die Verweerder wat aan Checkers uitgemaak is (p. 233). Daarvolgens blyk dit dat die faktuurnommer (I-0463564) met die een afleweringsbewys ooreenstem. Die bedrag wat op die Verweerder se faktuur verskyn (p.233) beloop R3,256.75. Vir die ander aflewering het die getuie na ‘n soortgelyke faktuur (p. 235) van die Verweerder verwys. Die faktuurnommer daarop stem ook met die nommer op die aflewerings-bewys ooreen (p. 37, nr. I-0463567) en dit toon ‘n bedrag van R39,088.59 aan. Die tweede inskrywing op hierdie bylaag is ook van ‘n afleweringsbewys vergesel (p. 38) en dit toon aan dat die produkte by die Verweerder se Nelspruit-tak afgelewer is. ‘n Werknemer van die Verweerder het daarvoor geteken. Die bedrag beloop R1,922.50.

BYLAAG “E”:

[24] Hierdie opsomming van betalings wat na bewering ook nog uitstaande is, het op die Verweerder se City Deep-tak betrekking. Daarop word verskeie transaksies aangedui. Slegs die eerste inskrywing het betrekking op ‘n aflewering wat by die Verweerder gemaak is, terwyl die ander direkte aflewerings verteenwoordig. Die totale bedrag wat daarvolgens verskuldig is, beloop R168,366.23. Die getuie het in hierdie verband na verskeie dokumente (p. 40 – p.53) verwys wat volgens haar afleweringsbewyse is van aflewerings wat die Eiser direk by verskillende winkels gedoen het. Geen fakture van die Verweerder is aangeheg nie, maar sy het verduidelik dat in al hierdie gevalle het die Eiser ‘n bestelling vanaf die Verweerder ontvang. Geen afskrifte van hierdie bestellings is aangeheg nie.

BYLAAG “F”:

[25] Die getuie het ook hierdie dokument self opgestel en dit verteenwoor-dig volgens haar verdere fakture wat nog nie betaal is nie. Dit het op die Verweerder se Midrand-tak betrekking en verwys deurgaans na direkte aflewerings wat deur die Eiser self gedoen is. Daarvolgens beloop die bedrag uitstaande R657,449.27. Daarby aangeheg is verskeie afleweringsbewyse (p. 56 – p. 122) van produkte wat by die verskillende winkels afgelewer is. Geen fakture van die Verweerder wat aan Checkers uitgemaak is, is aangeheg nie.

BYLAAG “G”:

[26] Hierdie bylaag bevat twee inskrywings en dit het op die Verweerder se Nelspruit-tak betrekking. Dit verwys weereens na direkte aflewerings. Die getuie het na ‘n afleweringsbewys verwys (p. 124) wat aantoon dat produkte direk deur die Eiser by ‘n winkel afgelewer is. In hierdie geval het die Verweerder op sy rekonsiliasiestaat aangedui dat ‘n bedrag van R15,853.81 afgetrek moet word (“claim to be deducted”) en dit word met die afleweringsbewys (p. 124) verbind. Volgens die getuie is daar geen rede vir hierdie aftrekking nie en behoort die Verweerder gemelde bedrag te betaal.

BYLAAG “H”:

[27] Hierdie dokument bevat weereens ‘n opsomming van transaksies wat na bewering nog nie betaal is nie. Dit het op die Verweerder se Klerksdorp-tak betrekking. Daarvolgens beloop die uitstaande balans R22,419.86. Die getuie het na twee afleweringsbewyse (p. 126 en p.127) verwys wat aandui dat albei direkte aflewerings was. Daarby is aangeheg twee fakture wat deur die Verweerder uitgereik is. Hierdie fakture het volgens die getuie op beide aflewerings betrekking, aangesien die bestelnommers daarvan telkens ooreenstem. Die bedrae stem egter nie ooreen nie en volgens die getuie kan dit aan prysverskille toegeskryf word.

[28] Hierna het die getuie na ‘n dokument (p. 225 – p. 227b) verwys wat by ooreenkoms tussen die partye opgestel is, maar wat nie bedoel is om enige vorm van verskuldigdheid te weerspieël nie. Dit dui fakture aan wat onvoldoende inligting bevat en wat deur die Eiser laat vaar word. Dit dui ook fakture aan wat volgens die Eiser nog betaal moet word. Die somtotaal van daardie eise wat die Eiser laat vaar, beloop R144,015.92 wat tot gevolg het dat die eisbedrag verminder tot R1,386,483.60.

[29] Laastens het die getuie weereens na sekere fakture verwys wat, soos die advokaat dit gestel het, die volledige kringloop behoort aan te dui. Dit is fakture wat deur die Verweerder aan Checkers uitgemaak is en wat op direkte aflewerings betrekking het (pp. 126A, 233, 235 asook 39N1 en 39HH1). Sommige van hierdie fakture is reeds tevore deur die getuie in haar getuienis behandel. Daar is ook ‘n staat (p. 55I) wat volgens die getuie aandui watter rekeningstate (wat op direkte aflewerings betrekking het) reeds deur die Verweerder betaal is. Sy het ook daarop gewys dat al die transaksies waarvan die faktuur-nommer met die syfer 3 begin, direkte aflewerings verteenwoordig. Dit was die saak vir die Eiser.

GETUIENIS VIR DIE VERWEERDER:

[30] Mnr Chris de Beer is die enigste getuie wat vir die Verweerder getuig het. Hy was voorheen die rekenaar direkteur, maar is tans die kommersiële direkteur van die Verweerder. Hy is vroeg gedurende 2008 deur Mnr Wiid gekontak. Volgens hom sou Mnr Wiid met Mnr Willie Hess van Shoprite Checkers ‘n ooreenkoms gesluit het waarby die Verweerder nie ‘n party was nie. Die aflewering sou volgens hom soos volg moes plaasvind: Wanneer die Verweerder voorraad by ‘n winkel gaan aflewer, moet dit van ‘n belastingfaktuur vergesel wees. ‘n Werknemer van die winkel sal die faktuur stempel en dit van ‘n GRN nommer voorsien. Verpakkings wat nie aanvaar word nie, word teruggestuur. Daar was volgens hom “geweldig baie gevalle” waar dit teruggestuur is. Dit het betrekking op voorraad wat by ontvangs beskadig is asook voorraad wat by aflewering nie deur die winkels aanvaar word nie. Die winkelverteenwoordiger wat voorraad in ontvangs moet neem, is baie krities oor die tipe voorraad wat hulle ontvang. Dit wat wel aanvaar word, word dan in die stelsel van die winkel ingevoer. Die Verweerder se faktuur en die winkel se GRN nommer word daar en dan elektronies geboekstaaf. Die vragmotorbestuurder word dan van ‘n “POD” (‘n bewys van aflewering) voorsien. Dit bestaan uit ‘n afskrif van die Verweerder se faktuur met ‘n stempel en GRN nommer daarop.

[31] Voorraad wat nie deur die winkel aanvaar word nie, word teruggestuur. Dit is byvoorbeeld voorraad wat beskadig is of waarvan die kleur nie reg is nie. Volgens die getuie het dit ongeveer 10 tot 14% van die totale aflewering behels. Dit word “on invoice return” of kortweg net “returns” genoem wat ‘n gefaalde aflewering aandui. As voorbeeld het hy na ‘n kredietnota (p. 234) verwys asook na ‘n geval waar die hele besending deur die betrokke winkel teruggestuur is. In so ‘n geval sal die Verweerder ‘n krediet op daardie faktuur aan die winkel deurgee en terselfdertyd die Eiser met ‘n “returns claim” faktureer. Die resultaat is dan ‘n verminderde bedrag wat deur die winkel aan die Verweerder betaal sal word wat insgelyks ‘n verminderde oorbetaling aan die Eiser tot gevolg het. Die getuie het toe na Bylaag “B” verwys waarby ‘n lys van sogenaamde “returns” waarop die datum, dokumentnommer en bedrag telkens aangedui word.

[32] Die getuie het vervolgens na ‘n e-pos verwys (p. 205) wat deur hom aan Mnr Hess van Shoprite Checkers gestuur is. Dit het onder andere op direkte aflewerings betrekking. Dit is gedateer 11 Mei 2009 en lees soos volg:

MPC Chickens have supplied us with a large proportion of the delivery documentation of stock that was delivered directly by MPC Chickens to the Checkers stores. Anthony van Zyl and his team have captured the invoices on our system. These invoices will appear on the next statement to Shoprite and as soon as we have received payment from Shoprite, we will pay MPC Chickens.

There are also claims from Checkers stores for stock that was returned to TCC despite the swell allowance that have been negotiated between Checkers and MPC Chickens. We are currently investigating these queries and will discuss the details of the claims with you as soon as we have all our documentation ready.

Then there are claims for stock that was rejected by the Checkers stores at the back doors as ‘not ordered’. This was returned by TCC to MPC Chickens and also constitute a large portion of the claims. This is also under investigation and we will discuss the details with you as soon as we are ready. Let me know of you require more information.

Die getuie het ook na Mnr Hess se antwoord op hierdie e-pos verwys. Dit is gedateer 12 Mei 2009 en lees soos volg:

Referring to your second paragraph, the stock returned to TCC were not returned but bad quality, referring to your third paragraph, sometimes the quality were so bad that stock had to be rejected at the back doors. Any queries regarding these issues please contact me.

[33] Wat die betekenis van die sogenaamde “swell allowance” betref, het die getuie verduidelik hoe hy dit verstaan. Volgens hom is dit ‘n ooreenkoms tussen die produsent en die winkel ten opsigte van produkte wat ‘n kort rakleeftyd het. Dit het betrekking op produkte waarvan die vervaldatum die rakleeftyd oorskry het. Sulke produkte sal dan nie deur die winkel teruggestuur word nie en daarvoor kom die partye gewoonlik ‘n persentasie vergoeding ten gunste van die winkel ooreen. Die teenoorgestelde van so ‘n “swell allowance” is ‘n volle terugsendingsbeleid waar die winkel dit wat na die vervaldatum oorgebly het, aan die produsent sal terugstuur.

[34] Wat direkte aflewerings betref, het die getuie getuig dat volgens hulle rekords bestaan daar geen sodanige transaksies tot aan die einde van Januarie 2009 nie. Dit was eers daarna dat die Verweerder begin het om direkte aflewerings op sy stelsel te prosesseer. Hy het die ooreenkoms in hierdie verband, soos deur die Eiser beweer, ontken. Volgens hom sou daar eers ‘n reëling getref moes gewees het om ‘n netwerk met ‘n drukker op die Eiser se perseel te laat installeer. Wanneer direkte aflewerings dan gemaak sou word, moes die produkte vergesel wees van ‘n faktuur wat lyk soos een van die Verweerder se fakture, maar wat deur die Eiser gegenereer is. Die winkel sal dan by aflewering daardie faktuur stempel en van ‘n GRN nommer voorsien waarna dit dan aan die Verweerder oorhandig moet word. Betaling geskied dan eers wanneer die Verweerder betaling ontvang. Dit is ook die verantwoordelikheid van die prinsipaal om in sulke gevalle seker te maak dat alles reg is en om probleme uit te sorteer, want “dit was uit ons hande uit gewees om hierdie faktuur te prosesseer”.

[35] Na Januarie 2009 het die Verweerder begin om inligting ten opsigte van direkte aflewerings op sy rekenaarstelsel in te voer. Dit was gedoen met die doel om die Eiser behulpsaam te wees om sy administrasie uit te sorteer, aangesien die Eiser direkte aflewerings op sy eie dokumentasie gedoen het. Die Verweerder het dan, soos wat hy betaling van die winkels ontvang het, oorbetalings aan die Eiser gemaak. In baie van hierdie gevalle het daar navrae gevolg. Die getuie het in hierdie verband na die Verweerder se rekonsiliasiestaat (p. 206) verwys waarop daar verskeie inskrywings “POD please” (“proof of delivery”) voorkom. Volgens die getuie is hierdie bewys van aflewering noodsaaklik, aangesien die Verweerder geen betaling van die winkel sal ontvang sonder so ‘n dokument nie. Hy het verder verduidelik dat later gedurende 2009 was die Verweerder besig om die Eiser met die invordering van uitstaande betalings te help. Volgens die aanhangsel wat by die Verweerder se rekonsiliasiestaat van Oktober 2009 aangeheg is, verteenwoordig al die “returns” voorraad wat nie deur die winkels aanvaar is nie. Dit was die getuienis vir die Verweerder.

OORWEGING VAN DIE GESKILPUNTE EN DIE GETUIENIS:

[36] Die Eiser voer aan dat die skriftelike ooreenkoms gedurende ongeveer September 2008 mondeling, alternatiewelik deur gedrag gewysig is om vir direkte aflewerings voorsiening te maak. Volgens die Verweerder sou die Eiser gedurende of omtrent September 2008 sonder sy toestemming begin het om direkte aflewerings te maak. Namens die Eiser is daar in hierdie verband aangevoer dat Mnr De Beer tydens kruisverhoor sekere toegewings gemaak het: Daar was probleme met aflewerings ondervind en Shoprite Checkers het gekla dat hulle nie voldoende voorraad kry nie; die maak van “direct drops” deur die Eiser, sonder dat hy daartoe versoek was, ‘n totale malligheid sou wees; dit nog meer onsinnig sou gewees het vir die Eiser om teen die agtergrond van ongevraagde “direct drops” aan die Verweerder fakture te stuur; daar reeds in November 2008 twee volledige kringlope van dokumente en betaling ten aansien van “direct drops” uit dokumente voor die hof blyk en dit slegs met die samewerking van die Verweerder kon geskied het. Met inagneming van die getuienis wat reeds in hierdie verband gelewer is, asook voormelde toegewings wat deur Mr De Beer onder kruisverhoor gemaak is, is daar betoog dat die waarskynlikhede die Eiser bevoordeel en daar bevind moet word dat so ‘n wysigingsooreenkoms wel tussen die party aangegaan is.

[37] Namens die Verweerder is daar aangevoer dat die bewyslas op die Eiser rus om die sluiting van die beweerde wysigingsooreenkoms te bewys. Volgens die Verweerder is dit om verskeie redes onwaarskynlik dat so ‘n ooreenkoms aangegaan sou gewees het: Mnr Wiid het toegegee dat volgens Shoprite Checkers se vereistes aflewerings op die skryfbehoeftes van die Verweerder gemaak moes word alvorens betaling kon geskied; die Eiser was bloot ‘n verskaffer en sou volgens die skriftelike ooreenkoms sy administrasie en die lewering van rekenings deur middel van die Verweerder moes doen; Volgens Mnr De Beer sou die Verweerder nie verantwoordelikheid vir die betaling van rekenings vir direkte aflewerings aanvaar het nie omdat die aflewering van produkte en die druk van fakture nie onder die beheer van die Verweerder gestaan het nie; Mnr Wiid het toegegee dat die Verweerder die Eiser betaal het waar die Verweerder betaling van Shoprite Checkers ontvang het.

[38] Daar is egter ook ander getuienis, van ‘n meer objektiewe aard, wat eweneens van belang is. Volgens Mnr Wiid se getuienis in hoof is daar ooreengekom dat die Eiser self sy produkte “in sekere krisisgevalle” sal gaan aflewer. Dit blyk egter volgens die getuienis, asook die dokumentasie, dat baie meer direkte aflewerings plaasge-vind het as slegs daardie wat in sekere krisisgevalle nodig sou wees. Dit skep die indruk dat daar aanvanklik en by wyse van uitsondering miskien wel vir sekere direkte aflewerings voorsiening gemaak is, maar dat dit later in ‘n praktyk ontwikkel het sonder dat die partye uitdruklik of by wyse van gedrag dit ooreengekom het. Hierdie afleiding word versterk deur ‘n kontemporêre e-pos wat gedurende Mei 2009 deur Mnr De Beer aan Mnr Hess van Shoprite Checkers gestuur is. Daarin word onder andere die volgende gesê:

MPC Chickens have supplied us with a large proportion of the delivery documentation of stock that was delivered directly by MPC Chickens to the Checkers stores. Anthony van Zyl and his team have captured the invoices on our system. These invoices will appear on the next statement to Shoprite and as soon as we have received payment from Shoprite, we will pay MPC Chickens.

Hierdie paragraaf skep die indruk dat die Eiser dokumentasie met betrekking tot direkte aflewerings eers op ‘n baie laat stadium aan die Verweerder verskaf het en nie soos wat Mev Van Deventer getuig het, op ‘n deurlopende basis nie. Ook die feit dat slegs enkele dokumente beskikbaar gestel is wat twee volledige kringlope ten aansien van direkte aflewerings moet staaf, is eerder ‘n aanduiding van direkte aflewerings wat met die samewerking van die Verweerder “in sekere krisisgevalle” gemaak is. Dit beteken nie noodwendig dat die partye toe ooreengekom het om die skriftelike ooreenkoms te wysig nie.

[39] Ook Mnr De Beer se toegewing dat die maak van direkte aflewerings deur die Eiser sonder dat hy daartoe versoek was, ‘n malligheid sou wees, moet in die regte konteks beoordeel word. Hierdie antwoord is gegee teen die agtergrond dat die Eiser nie enige direkte aflewerings sou gedoen het as hy nie “deur die Verweerder daartoe versoek was nie”. Dit is gemeensaak dat die Verweerder nie die Eiser versoek het om self direkte aflewerings te gaan doen nie. Wat wel gebeur het, is dat die Verweerder steeds die bestellings wat hy van die verskillende winkels ontvang het, aan die Eiser deurgegee het. Met daardie inligting beskikbaar sou dit nie ‘n malligheid gewees het om direkte aflewerings te doen nie – vir die eenvoudige rede dat dit male sonder tal wel gebeur het. Die toegewing, soos ek dit verstaan, is derhalwe op ‘n hipotetiese veronderstelling gebaseer: Indien die Verweerder geen inligting oor enige bestellings aan die Eiser deurgegee het nie, dan sou dit ‘n malligheid gewees het om onverwags met ‘n ongevraagde bestelling by ‘n bepaalde winkel op te daag. Dit is egter nie wat volgens die getuienis gebeur het nie.

[40] Ek stem saam met die Verweerder se advokaat dat die bewyslas om die wysigingsooreenkoms te bewys, op die Eiser rus. Wanneer al die tersaaklike getuienis soos hierbo na verwys oorweeg word, dan is ek nie oortuig dat die Eiser sy weergawe op ‘n oorwig van waarskynlik-hede bewys het nie. Daar bestaan myns insiens onvoldoende getuienis, asook omringende omstandighede van ‘n objektiewe aard, om die spreekwoordelike skaal sigbaar na die Eiser se kant te laat kantel. Om dit anders te stel, wanneer die waarskynlikhede teen mekaar opgeweeg word, is ek nie in staat om die Eiser se weergawe as die meer oortuigende een te aanvaar nie (Govan v Skidmore 1952(1) SA 732 (N) op 734C-D). Daar bestaan ook geen rede om ‘n geloofwaardigheidsbevinding teen enige van die getuies te maak nie. Ek het op geen stadium die indruk gekry dat enige een van hulle gepoog het om valse getuienis te lewer of om die hof te mislei nie. Ek is daarom nie in staat om te bevind dat die een weergawe waar en die ander een vals is nie (National Employers Mutual General Insurance Association v Gany 1931 AA 187 op 199). Ek is derhalwe van mening dat die Eiser nie daar in geslaag het om te bewys dat die skriftelike ooreenkoms gewysig is soos in die Besonderhede van Vordering beweer nie.

[41] Die volgende geskilpunt het op die omvang van die Eiser se vordering betrekking. Mnr De Beer het tydens die verhoor toegegee, nadat die nodige dokumentasie aan hom getoon is, dat die bedrag van R16,039.75 ten opsigte van faktuur nr. 010275 en R1,922.50 ten opsigte van faktuur nr. 010412 wel verskuldig is. Dit geld ook die bedrag van R9,021.20 soos in paragraaf 8.1 van die Verweerskrif toegegee. Dit bring die totaal op R26,983.45 te staan. Hierbenewens is daar namens die Eiser aangevoer dat die ander bedrae soos in paragraaf 9 hierbo na verwys, ook nog verskuldig is. Ek sal vervolgens elk van hulle afsonderlik behandel.

VOORRAAD TERUGGESTUUR:

[42] Namens die Eiser is daar betoog dat vir sogenaamde “returns” ‘n bedrag van R517,189.30 verskuldig is. Hierdie bedrag vorm deel van die Eiser se eis soos in Bylaag “B” uiteengesit. Dit het betrekking op die aanhangsel wat deur die Verweerder voorberei is (p. 20B – 20F). Die Eiser het in hierdie verband toegegee dat die debiete ten aansien van “claim-backs” en “pricing” vir onderskeidelik die bedrae van R443,115.30 en R71,440.96 van die bedrag van R1,031,745.56 afgetrek moet word wat dan ‘n balans van R517,189.30 sal laat.

[43] Daar is in hierdie verband namens die Eiser aangevoer dat die volgende faktore van belang is: Die oorgang van eiendomsreg in die produkte; die Verweerder se verpligting om die produkte te verseker; die Verweerder se bewaringsplig (“custodian”) van die produkte; die Verweerder se verpligting om die risiko ten aansien van die produkte vanaf ontvangs daarvan te dra; die bestaan van die sogenaamde “swell allowance agreement” met Shoprite Checkers; die bestaan van ‘n geen “reverse logistics”-ooreenkoms tussen die Eiser en die Verweerder; en die e-pos van Mev Van Deventer gedateer 12 Junie 2008 aan Mev Hartzenberg van die Verweerder.

[44] Die vraag ontstaan op wie rus die bewyslas wanneer dit kom by ‘n vordering van hierdie aard? Wanneer daar op die skriftelike ooreenkoms tussen die partye gelet word, is dit belangrik om die volgende in gedagte te hou: Volgens klousule 1 sal die voorraad die eiendom van die Eiser bly terwyl dit deur die Verweerder hanteer word. Eiendomsreg sal eers oorgaan van die Eiser na die Verweerder en na die betrokke winkel “upon invoicing and delivery”. Volgens Mnr Wiid se getuienis (op vrae wat die hof aan hom gestel het) vind hierdie oorgang van eiendomsreg plaas by fakturering en lewering van die produk aan die betrokke winkel. Hierdie interpretasie blyk redelik en sinvol te wees, aangesien dit deurgaans die bedoeling was dat die Eiser sy produkte aan Shoprite Checkers sou verkoop en nie aan die Verweerder wat bloot as sy verspreidingsagent opgetree het nie. Klousule 4 van die ooreenkoms bepaal verder dat: “Any deductions by the retailers from The Cold Chain’s payment” sal vir die rekening van die Eiser wees. Wat betaling betref, bepaal klousule 6 dat die Eiser rekeningstate aan die Verweerder sal lewer “for the stock delivered during the preceding month”. Volgens ‘n behoorlike uitleg van die ooreenkoms, met spesifieke verwysing na die klousules so pas aangehaal, wil dit my voorkom of lewering van die produkte betrekking het op lewering aan die betrokke winkel en nie aan die Verweerder nie. So ‘n interpretasie pas ook in by klousule 4 van die ooreenkoms waar die partye ooreengekom het dat enige aftrekkings vir die rekening van die Eiser sal wees. Dit behoort in te sluit aftrekkings wat op sogenaamde “returns” betrekking het. Die feit dat sodanige aftrekkings vir die rekening van die Eiser sal wees, impliseer dat die Verweerder nie vir betaling daarvoor teenoor die Eiser aanspreeklik is nie. Ek sal ten gunste van die Eiser aanvaar (sonder om dit te beslis) dat die bewyslas op die Verweerder rus om aan te toon dat sekere lewerings nie deur die betrokke winkel aanvaar is nie, met ander woorde dat dit as ‘n sogenaamde “return” hanteer moet word.

[45] Mev Van Deventer het na ‘n dokument verwys wat as aanhangsel tot Bylaag “B” aangeheg is. Hierdie dokument is gedurende Oktober 2009 deur die Verweerder opgestel en dit bevat ‘n uiteensetting van al die sogenaamde “returns”. Volgens haar is dit nog steeds betaalbaar en as rede hiervoor het sy aangevoer dat die Eiser ‘n “no return policy gehad (het) met ‘n swell allowance waarvoor ons betaal het”. Mnr De Beer het egter getuig dat voorraad wat nie deur die winkel aanvaar word nie, word teruggestuur. Dit is byvoorbeeld voorraad wat beskadig is of waarvan die kleur nie reg is nie. Volgens hom het dit ongeveer 10 tot 14% van die totale aflewering behels. Dit word “returns” genoem wat op ‘n gefaalde aflewering dui. Daar was volgens hom “geweldig baie gevalle” waar dit gebeur het. Hierdie is nie gevalle waar die voorraad deur die winkel aanvaar is, op die rak geplaas is en dan later teruggestuur word nie. Volgens Mnr De Beer is dit gevalle waar die aflewering reeds by die agterdeur van die winkel geweier is. Dit word glad nie op die sisteem aanvaar nie. Dit het met ander woorde niks met die sogenaamde “swell allowance ooreenkoms” te doen nie. Hierdie is soos hy dit genoem het, ‘n gefaalde aflewering. Daar is stawing vir Mnr De Beer se getuienis. Dit word gevind in Mnr Hess se e-pos gedateer 12 Mei 2009. Daarin merk hy soos volg op:

Referring to your second paragraph, the stock returned to TCC were not returned but bad quality, referring to your third paragraph, sometimes the quality were so bad that stock had to be rejected at the backdoors.

n Lys van al hierdie gevalle verskyn in die dokument wat by Bylaag “B” aangeheg is. Elke geval word gelys en geïdentifiseer met verwysing na die datum, dokumentnommer en die bedrag ter sprake. Die Eiser se vordering in hierdie verband beloop R517,189.30. Met inagneming van die getuienis hierbo na verwys, is ek van mening dat die Verweerder daarin geslaag het om te bewys dat hierdie vordering betrekking het op voorraad waarvan die lewering geweier is en dit as ‘n “return” teruggestuur is. Mev Van Deventer se e-pos wat sy op 12 Junie 2008 aan Mev Hartzenberg gestuur het, verander myns insiens niks aan hierdie situasie nie, aangesien hierdie nie gevalle is wat onder die sogenaamde “swell allowance” hanteer moes word nie. Ek is derhalwe van mening dat die Eiser nie geregtig is op enige betaling wat op die sogenaamde “returns” betrekking het nie.



DIREKTE AFLEWERINGS:

[46] Ek het reeds in hierdie verband bevind dat die Eiser nie daarin geslaag het om die wysigingsooreenkoms soos in die Besonderhede van Vordering gepleit, te bewys nie. Die gevolg hiervan is dat ek Mnr De Beer se getuienis moet aanvaar dat die Verweerder die Eiser behulpsaam was met die invordering van uitstaande betalings en dat betaling aan die Eiser eers sou geskied wanneer die Verweerder betaling van Shoprite Checkers ontvang het. Die Eiser se vordering in hierdie verband beloop R600,003.36. Ten einde met hierdie vordering te kan slaag, rus daar ‘n bewyslas op die Eiser om aan te toon dat die Verweerder wel vir hierdie direkte aflewerings ‘n faktuur aan Shoprite Checkers uitgereik het en dat hy daarvoor betaal is.

[47] Mnr Wiid het getuig, ten einde betaling te kon kry, moes die Verweerder ‘n faktuur, met die Eiser se afleweringsbewys, aan die kettingwinkel lewer aangesien die Eiser nie op die winkel se sisteem geregistreer was nie. Mev Van Deventer het getuig dat sy hierdie afleweringsbewyse na die Verweerder gefaks of per e-pos versend het. Mev Van Deventer het tydens kruisverhoor toegegee dat sy nie afskrifte van hierdie versendings aan die hof voorgelê het nie. Hier-teenoor is daar die getuienis van Mnr De Beer dat hy op 11 Mei 2009 ‘n e-pos aan Mnr Hess gestuur het. Volgens die eerste paragraaf daarvan blyk dit dat die Eiser op ‘n baie laat stadium dokumentasie van direkte aflewerings aan die Eiser voorsien het. Dit word soos volg in die e-pos gestel:

MPC Chickens have supplied us with a large proportion of delivery documentation of stock that was delivered directly by MPC Chickens to the Checkers Stores. Anthony van Zyl and his team have captured the invoices on our system. These invoices will appear on the next statement to Shoprite and as soon as we have received payment from Shoprite, we will pay MPC Chickens.

Die inhoud van hierdie e-pos weerspreek die getuienis van Mev Van Deventer dat sy op ‘n deurlopende basis die afleweringsbewyse aan die Verweerder gefaks of per e-pos gestuur het. Dit wil my dus voorkom of die waarskynlikhede eerder die Verweerder se weergawe ondersteun dat die Verweerder op ‘n laat stadium gepoog het om die Eiser met die invordering van uitstaande betalings behulpsaam te wees. Daar is egter namens die Eiser betoog (met verwysing na verskillende itemnommers asook uitstaande bedrae) dat die items soos gelys en waarvoor daar onder die opskrif “stamp” en “GRN nommer” ‘n bevestiging van aflewering verskyn, dit as bewys aanvaar moet word van direkte aflewerings wat wel gemaak is. Ek is van mening dat hierdie betoog die Eiser se saak nie verder neem nie. Al wat dit aantoon, is dat daar wel sekere direkte aflewerings gemaak is waarvoor daar ‘n bewys van aflewering bestaan. Die vraag is egter of die Eiser daarin kon slaag om te bewys dat die Verweerder hiervoor fakture aan die verskillende winkels gelewer het en dat die Verweerder daarvoor betaal is. Ek is nie in staat om volgens die getuienis so ‘n bevinding te maak nie en ek is van oordeel dat die Eiser nie daarin kon slaag om hierdie deel van sy vordering te bewys nie.

VERDERE UITSTAANDE FAKTURE:

[48] Die Eiser vorder in hierdie verband R66,699.52 vir vars produkte wat na bewering deur die Eiser aan die Verweerder gelewer is asook R39,144.35 vir produkte afgelewer, maar waarvoor daar nie ‘n stelselnommer (GRN-nommer) van die kleinhandelaar verkry is nie. Nie een van hierdie gevalle het op direkte aflewerings betrekking nie, maar aflewerings wat by die Verweerder se plaaslike takke of distribusiesentrums gemaak is. Om sake te vergemaklik, het die partye ‘n dokument voorberei (p. 296 – p. 298) wat onder andere aandui watter fakture wel van ‘n stempel en ‘n GNR-nommer voorsien is. Dit beteken dat die partye dit eens is dat daardie goedere wel by een van die Verweerder se distribusiesentrums afgelewer is asook dat daar ‘n bewys van aflewering bestaan. Daar is egter ‘n bedrag van R6,342.23 wat in hierdie kolom voorkom maar wat reeds deur Mev Van Deventer in haar getuienis geabandoneer is. Dit laat die balans van hierdie items (item nrs. 19, 22, 25, 91, 92, 93 en 95) op R66,699.52 te staan kom. Volgens die getuienis wat vir die Eiser gelewer is, is hierdie bedrag nog steeds uitstaande. Daar is geen getuienis om dit te weerspreek nie. Ek is gevolglik van oordeel dat die Eiser wel daarin geslaag het om hierdie deel van sy vordering te bewys.

[49] Wat die ander uitstaande faktuur vir die bedrag van R39,144.35 betref, is die partye dit eens dat daar vir hierdie aflewering geen GRN-nommer bestaan nie. Dit blyk ook volgens die ander dokument wat deur die partye voorberei is (p. 225 – p. 227b) dat hierdie deel van die vordering as item nr. 25 op die lys aangetoon word. Daarvolgens bestaan daar ook geen bewys van aflewering nie. Die gevolgtrekking is derhalwe onvermydelik dat die Eiser nie daarin geslaag het om hierdie deel van sy eis te bewys nie.

SAMEVATTING EN GEVOLGTREKKING:

[50] Met inagneming van die tersaaklike getuienis asook die bevindings oor die bewyslas wat ek reeds gemaak het, word daar by wyse van ‘n samevatting bevind dat die Verweerder teenoor die Eiser aanspreeklik is vir die volgende betalings:

    • R26,983.45 ten opsigte van betalings wat die Verweerder erken het verskuldig blyk te wees;

    • R66,699.52 vir vars produkte wat deur die Eiser aan die Verweerder gelewer is, maar nog nie betaal is nie.

Wat die res van die Eiser se vorderings betref, is daar reeds bevind dat die Eiser nie daarin geslaag het om te bewys dat die Verweerder vir betaling daarvoor aanspreeklik is nie.

[51] Wat koste betref, het ek dit ernstig oorweeg om slegs koste op die toepaslike Landdroshofskaal toe te laat. Ek het egter ook in ag geneem dat hierdie saak omvangryk was en dat dit ingewikkeld vir die Eiser was om selfs net ‘n deel van sy vordering te bewys. Vir hierdie redes is ek van mening dat die Eiser nie daarvoor verkwalik moet word dat hy aksie in die Hooggeregshof ingestel het nie. Dit is belangrik om in ag te neem dat die Eiser se vordering aanvanklik op R1,553,883.57 gestaan het en dat hy derhalwe geen ander keuse gehad het om sy eis in hierdie hof aanhangig te maak nie. Gevolglik is ek van oordeel dat die Eiser op die gewone kostebevel geregtig is.

[52] Ek maak die volgende bevel. Daar word vonnis teen die Verweerder toegestaan vir:

(a) Betaling van R93,682.97;

(b) Rente op voormelde bedrag bereken teen 15,5% per jaar vanaf datum van betekening van dagvaarding tot datum van betaling;

(c) Koste van die geding.



_____________________

D S FOURIE

REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF


23 APRIL 2014