South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria >>
2014 >>
[2014] ZAGPPHC 473
| Noteup
| LawCite
African Environmental Drilling CC v Almega Finansiele Dienste (47753/08) [2014] ZAGPPHC 473 (10 July 2014)
Download original files |
Republiek van Suid-Afrika
REPUBLIC OF SOUTH AFRICA
IN HOOGGEREGSHOF VAN SUID AFRIKA
(NOOORD GAUTENG AFDELING: PRETORIA)
SAAK NR: 47753/08
DATUM: 10 JULIE 2014
6 JULIE 2014
VOOR SY EDELE REGTER RABIE
In die saak tussen:
AFRICAN ENVIRONMENTAL DRILLING CC..........................................................................Applikant
en
ALMEGA FINANSIëLE DIENSTE.............................................................................................Respondent
UITSPRAAK
1. In hierdie aksie het die Eiser skadevergoeding in die bedrag van R2 025 183.03 van die Verweerder geëis vanweë die beweerde nalatigheid van die Verweerder wat na bewering daartoe gelei het dat die Eiser die genoemde bedrag minder ontvang het uit hoofde van 'n versekeringskontrak nadat eiendom van die Eiser beskadig is.
2. Die Eiser was die eienaar van 'n sekere Schramm T586 boormasjien en 'n kompressor wat beide bo-op 'n vragmotor monteer was. Ek verwys voortaan na al drie hierdie items as "die boor".
3. Gedurende November 2006 het die Eiser en die Verweerder, 'n verseke-ringsmakelaar, 'n mondelinge ooreenkoms gesluit ingevolge waarvan die Verweerder die Eiser moes bystaan met die verkryging van versekering vir die boor asook vir twee ander boormasjiene. Ek sal voortaan slegs na die betrokke boor verwys tensy dit spesifiek nodig is om na die ander twee te verwys. Tydens die sluiting van die ooreenkoms was die Eiser verteen-woordig deur mnr M. van Biljon en die Verweerder deur mnr H.B. van der Schyff. Die partye is dit nie eens oor al die terme van hierdie ooreenkoms nie. Volgens die Eiser was die uitdruklike, alternatiewelik, stilswyende terme die volgende:
- Die Verweerder sou toesien dat die boor verseker word by 'n versekeraar van die Verweerder se keuse op mutatis mutandis dieselfde terme en voorwaardes as waarteen die ander twee boormasjiene op daardie stadium onder 'n Santam korttermyn versekeringspolis verseker was.
- Die boor moes verseker word vir die redelike en billike markwaarde daarvan, alternatiewelik, vir die aankoopprys daarvan.
- Die boor moes verseker word teen alle risiko's wat skade of algehele verlies daarvan mag teweeg bring.
- Die termyn van versekering sou strek vanaf 22 November 2006 tot 30 November 2007 of enige daaropvolgende termyn waarop ooreengekom word.
- Die Eiser sou die ooreengekome premie aan die Verweerder, alternatiewelik, die verekeraar, betaal.
- Die Verweerder sal sy verpligtinge onder die mandaat met behoorlike sorg en sonder nalatigheid uitvoer.
- Die Verweerder sal die Eiser van enige veranderde of verdere vereistes deur die versekeraar in kennis stel en toesien dat die Eiser daaraan voldoen.
4. Gedurende Desember 2006 het daar deur die toedoen van die Verweerder 'n versekeringskontrak tussen die Eiser en South African Eagle Insurance Company Limited tot stand gekom. Gedurende Julie 2007 het hierdie maatskappy se naam na Zurich Insurance Company South Africa Limited (hierna "Zurich") verander. Ingevolge die versekeringskontrak is die boor vanaf 22 November 2006 tot 30 November 2007 verseker.
5. Volgens die Eiser het die versekeringskontrak bepaal dat die bedrag waarvoor 'n betrokke bate verseker moet woord, te alle tye gelykstaande moet wees aan die bate se nuwe vervangingswaarde, tensy anders gestel. Volgens die Eiser was die nuwe vervangingswaarde van die boor, volgens die versekeringskontrak, as R3,5 miljoen gestel. Verder het die Eiser aangevoer dat ingeval die versekerde bedrag ten tyde van die verlies of skade minder is as die vervangingswaarde, die versekeringskontrak bepaal dat die Eiser as sy eie versekeraar geag word vir die verskil en moet die Eiser dienooreenkomstig na verhouding 'n eweredige deel van die verlies of skade dra. Ek verwyder weer hieronder na hierdie aspek.
6. Die Eiser het verder aangevoer dat die versekeringskontrak vir 'n verdere 12 maande verleng is op dieselfde voorwaardes en dat tydens hierdie verlenging, op 12 Februarie 2008, die boor tydens 'n rit op 'n openbare pad, die pad verlaat en omgeslaan het. Die boor was sodanig beskadig dat dit nie ekonomies herstelbaar was nie. Die Eiser het daarop 'n eis van R3 085 385,00 teen Zurich ingestel op grond van die algehele verlies van die boor.
7. Zurich het egter net R1 060 198,97 aan die Eiser uitbetaal en wel op die basis dat die algehele verlies minder was as die nuwe vervangingswaarde van die boor. Volgens die Eiser was Zurich van mening dat die nuwe vervangingswaarde van die boor net meer as R9 miljoen was en dat die Eiser derhalwe onderverseker was. Zurich het daarom slegs ongeveer 'n derde van die Eiser se eis aan horn aangebied. Die Eiser het besluit om vir daardie bedrag met Zurich te skik en het vervolgens die huidige eis teen die Verweerder ingestel vir betaling van sy skade wat nie deur Zurich uitbetaal is nie.
8. Meer in besonder het die Eiser die volgende ten aansien van sy eis gepleit: Eerstens, dat die Verweerder nalatig was deur te versuim om die boor te verseker op mutatis mutandis dieselfde terme en voorwaardes as waarteen die ander twee boormasjiene verseker was. Tweedens, dat die Verweerder nalatig was deur nie toe te sien dat die boor teen sy redelike en billike markwaarde of sy aankoopprys verseker was nie. Derdens, dat die Verweerder nalatig was deur nie te verseker dat die versekeringskontrak die korrekte voorwaardes bevat nie en ook nagelaat het om vas te stel dat die boor nie volgens sy mandaat verseker was nie.
9. Vervolgens het die Eiser gepleit dat as gevolg van die Verweerder se voornoemde nalatigheid, die boor nie vir die redelike en billike markwaarde of aankoopprys verseker was nie; dat die Eiser onderverseker was; dat die Eiser geag was sy eie versekeraar te wees ten aansien van die verskil tussen die versekerde waarde en die nuwe vervangingswaarde; en dat die boor nie op dieselfde terme en voorwaardes as die ander boormasjiene verseker was nie. Die Eiser het derhalwe beweer dat as gevolg van die Verweerder se nalate, hy skade gely het in die bedrag van R2 025 183,03. Die bedrag is bereken met verwysing na die R3 500 000,00 markwaarde van die boor plus die herwinningskoste minus die skrootwaarde en die bedrag vanaf Zurich ontvang.
10. Namens die Eiser het die enigste lid, mnr W.G. Krige, en sy vennoot, mnr M. van Biljon, getuig. Die Verweerder het geen getuienis aangebied nie en sy saak gesluit. Volledigheidshalwe wys ek daarop dat die Eiser nie daarin geslaag het om sy deskundige getuie wat blykbaar oor die waarde van bore sou getuig, by die hof aanwesig te kry nie. Die partye het toe 'n ooreenkoms bereik dat in terme van Hofreël 33(4) dit gelas word dat die bepaling van 'n redelike en billike markwaarde van die boor, en dus die quantum van Eiser se eis, geskei word van die vraag na die Verweerder se aanspreeklikheid om skadevergoeding te betaal, indien enige, en dat eersgenoemde later bereg sal word. Daar is ook ooreengekom dat vir doeleindes van bepaling van die Verweerder se aanspreeklikheid, dit beskou sal word dat die boor 'n totale verlies is soos bedoel in die Zurich versekeringskontrak. Die ooreenkoms is 'n hofbevel gemaak.
11. Volgens die Verweerder was dit sy opdrag om kwotasies ten opsigte van versekering vir die Eiser te kry. Dit is gedoen en die Eiser het die kwotasie van Zurich aanvaar. Die versekeringskontrak het op 21 September 2006 tot stand gekom. Die Eiser het die versekeringskontrak ontvang en daarna die polis hernu. Die Verweerder het die Eiser se strydige bewerings ten aansien van sy mandaat asook van die terme van die versekeringskontrak ontken.
12. Volgens die Verweerder was dit nie sy opdrag om 'n versekeringskontrak soortgelyk aan die Santam versekeringskontrak te verkry nie. Hy moes slegs kwotasies vir versekering verkry waarna die Eiser homself van die terme en die premies daarvan sou vergewis het. Die wese van die Verweerder se saak was egter dat die Verweerder in geen opsig nalatig was nie, dat die Eiser behoorlik verseker was en dat awery nooit deur Zurich toegepas moes gewees het nie. Volgens die Verweerder was die Eiser derhalwe verkeerd om bloot Zurich se aanbod van betaling te aanvaar en kan gevolglik nie die balans van sy skade van die Verweerder verhaal nie.
13. 'n Ontleding van die pleitstukke toon dat ten einde met sy eis te kon slaag, die Eiser die volgende sou moes bewys: Eerstens, dat die Verweerder se mandaat was soos deur die Eiser gepleit; tweedens, dat daar 'n verbreking van daardie mandaat was; en, derdens, dat Zurich geregtig was om awery toe te pas en die bedrag aan te bied wat dit wel het.
14. Daar was vele verskille tussen die getuienis van mnr Krige en mnr van Biljon en oor die algemeen het hulle getuienis nie beindruk nie. Dit is egter nie nodig om na sodanige aspekte te verwys nie aangesien die verskille en enige uitsluitsel daaroor, nie wesenlik is vir die beregting van hierdie saak nie.
15. Ten aansien van die mandaat het dit uit uiteindelik uit die getuienis van mnr van Biljon geblyk dat die hoof grondslag van die mandaat aan die Verweerder, naamiik dat hy soortgelyke versekering moes verkry as die bestaande Santam versekeringskontrak, nie kan opgaan nie. Die Santam versekeringskontrak waarna die Eiser verwys het, en wat by sy besonder-hede van vordering aangeheg was, het tydens die verhoor geblyk eers die fig te gesien het nadat die Verweerder sy mandaat van die Eiser ontvang het. Sy mandaat kon dus nie na daardie ooreenkoms verwys het nie en die kontrak self kon nooit aan die Verweerder gegee gewees het soos wat namens die Eiser getuig is nie. Die Santam kontrak voor die hof was van 'n later datum en daar was geen getuienis oor die terme van 'n vorige of 'n ander Santam kontrak nie. Die eerste wesenlike element van die Eiser se saak is derhalwe nie bewys nie. Aangesien die mandaat nie bewys is nie, kan ook nie bepaal word of die Verweerder van die beweerde mandaat afgewyk het of nie daaraan voldoen het nie.
16. Die verdere getuienis van mnr Krige dat die Santam versekeringskontrak 'n "gewone motorpolis" was en dat die Verweerder so 'n tipe polis moes verkry het, gaan ook nie op nie. Die Zurich versekeringskontrak se relevante gedeeltes het hoegenaamd nie na motors verwys nie en dit moes vir die Eiser duidelik gewees het dat hier geen sprake van sogenaamde "motorversekering" is nie, wat dit ook al mag beteken. As hierdie aspek wel deel van die Verweerder se mandaat was, sou die Eiser dit onmiddellik besef het en iets daaraan gedsoen het.
17. Maar selfs al word hierdie aspek oorgesien, bevat die aangehegde Santam versekeringskontrak ook geen afdeling wat die grondslag van vergoeding van enige motor versekering uiteensit nie. Wat wel deel van die kontrak is, en waarna tydens die verhoor verwys is, is 'n afdeling getiteld "Sake Alle Risiko's". Daardie afdeling maak breedvoerig voorsiening vir "Omskrewe gebeurtenisse", Spesifieke uitsonderings"; ''Spesifieke voorwaardes”; en "Spesifieke uitbreidings". In die gedeelte "Spesifieke voorwaardes" word die grondslag van die dekking uiteengesit en die beginsel van awery behandel. Soos genoem, is daar geen soortgelyke afdeling ten aansien van motor versekering nie en is dit dus, selfs ten aansien van hierdie aangehegde dokument, totaal onduidelik wat die versekering ten aansien van die sogenaamde motorversekering sou kon behels het. Dit dien gelet te word dat volgens hierdie aangehegde versekeringskontrak self, die Eiser gedek was onder die polisafdeling "Motor" en nie onder die polisafdeling "Sake alle risiko's" nie. Maar, soos ek reeds aangedui het, het die aangehegde versekeringskontrak geen motorafdeling gehad nie. Dit is derhalwe duidelik dat die Eiser se getuienis ten aansien van die beweerde mandaat aan die Verweerder, sowel as die beweerde nie-uitvoering daarvan, nie bewys is nie. Die Eiser het dus nie daarin geslaag om die Verweerder se aanspreeklikheid te bewys nie.
18. Vir sovêr as wat ek verkeerd mag wees in my beskouing van die getuienis hierbo na verwys, bevind ek dat die Eiser om 'n ander rede ook nie kan slaag nie. Die laaste element van die Eiser se saak berus op die bewering dat Zurich nie die boor teen sy redelike en billike markwaarde verseker het nie maar teen sy nuwe waarde; dat die Verweerder derhalwe onderverseker was; en dat Zurich geregtig was om awery toe te pas en die bedrag geld aan te bied wat dit wel het. Ek verwys vervolgens na hierdie aspek.
19. Die Zurich versekeringskontrak bestaan uit 'n eerste gedeelte wat algemene uitsluitings en algemene bepalings bevat, en 'n tweede gedeelte wat die verskillende afdelings van versekering bevat wat beskikbaar is. Een van laasgenoemde gedeeltes is die "Plant All Risk Section". Dit is gemene saak dat die Eiser dekking ingevolge die bepalings van Gedeelte I van hierdie afdeling geniet het.
20. Gedeelte I van die "Plant All Risk Section" bevat 'n "Insuring clause" wat bepaal dat: "The insurance is in respect of physical loss or damage to the insured property as described in the schedule occuring within the territorial limits from any cause not hereinafter excluded." Dit is nie nodig om na die uitsluitings ten aansien van hierdie afdeling te verwys nie.
21. Die volgende opskrif in die afdeling is die "Basis of Indemnification". Die sub-opskrifte ten aansien van, onder andere, genoemde Gedeelte I is die volgende: "(1) Partial Loss"; "(2) Total Loss"; en "Memo to basis of Indemnification Section I and III (A)". In die omstandighede van hierdie saak is dit net nodig om kripties na die bepalings onder "Partial Loss" te verwys. Daar word bepaal dat in die geval van hierdie tipe skade, die basis van skadeloosstelling die koste en uitgawes is wat redelik en noodsaaklik is om die beskadigde eiendom te herstel in die werkende toestand wat dit voor die skade was, plus sekere bypassende items. Sekere ander beperkende bepalings word ook hierin vervat.
22. Die gedeelte wat relevant is in die huidige saak is die geval waar daar 'n totale verlies van die versekerde eiendom is. In daardie verband word die volgende bepaal:
"(2) Total Loss
In the event that the Insured Property is totally lost or destroyed the amount payable shall be the costs of removing the damaged property (limited to removal costs of 15% of the claim) less the value of the remains plus
(a) the cost of replacing or reinstating on the same site property of equal performance capacity and age but not superior to or more extensive than the insured item in so far as is practicable or
(b) the local open market value of the insured item immediately before the damage took place such value to be calculated by deducting reasonable equitable depreciation from the installed new replacement value of the item (always subject to a minimum value of 25% of the installed new replacement value but subject proportionately where applicable in terms of condition 11)
which ever is the lower.
The insured item shall be regarded as totally destroyed if the repair costs (as defined under partial loss) equal or exceed the value as defined in 2 (b) above immediately before the accident.
Memo to basis of Indemnification Section I and III (A)
(i) Should the basis of insurance on this policy be related to a market value sum insured then should the insured property be of greater market value at the time of any loss than the sum insured hereon then the insured shall be considered as being their own insurer for the difference and shall bear a rateable proportion of the loss accordingly.
(ii) Should the basis of insurance be related to first loss or agreed value sums insured then payment in the event of loss or damage will only be made up to such sums insured or the market value whichever is the lower unless special arrangement by endorsement has been made.
In all cases of sums insured reflecting anything other than new replacement value any reference to payment in settlement of a minimum % value of the installed new replacement value is deleted."
23. Dit is dus duidelik dat die basis van skadeloosstelling ("Basis for Indemnification") in die geval van totale verlies, verwys na of die koste van vervanging met 'n item wat van 'n soortgelyke kapasiteit en ouderdom is en nie beter is as die versekerde item nie, of die markwaarde van die item net voor dit vernietig is, wat ook al die minste is. Ten opsigte van laasgenoemde word die markwaarde bepaal met verwysing na die nuwe vervangingswaarde minus depresiasie.
24. Die eerste aspek wat uitgelig moet word uit die voorgaande is dat die markwaarde van die versekerde eiendom wel deeglik die basis van die uitbetaling ingevolge die kontrak vorm. Die versekeraar is nie verplig om die nuwe vervangingswaarde uit te betaal soos wat die Eiser voorgehou het nie. In hierdie opsig voldoen die Zurich versekeringskontrak dus aan die vereistes wat die eiser sê hy gestel het.
25. Die volgende vraag is dan of die beginsel van awery hoegenaamd toegepas kan word op 'n eis soos wat die Eiser ingestel het. Geen hofbeslissing is aan my voorgehou, en ek kon ook geen vind, waar hierdie kwessie direk deur ons howe aangespreek is nie. In LAWSA, Eerste Uitgawe, Volume 12 op p206 word klousules in versekeringskontrakte bespreek wat aanspreeklik-heid van die versekeraar beperk. Een so 'n klousule is die sogenaamde "awery" klousule ("average clause"). Ten aansien van hierdie tipe klousule word, onder andere, die volgende in paragraaf 207 gesê (my beklemtoning):
"A clause which is commonly found in fire insurance as well as houseowners' and householders' policies is the so-called average clause. Apart from Marine insurance the normal rule in the case of under-insurance is that the insured can claim up to the limit of the sum insured whether his loss is total or partial. This may be to the disadvantage of insurers. The purpose of an average clause is to avoid this disadvantage and to encourage prospective insured persons to insure up to the full value of the subject-matter concerned. A typical average clause reads as follows: "Where immediately prior to its loss or damage the market value of property separately insured hereunder is greater than the sum for which such property is insured, the insured shall be deemed to be his own insurer for the difference and the company's liability shall be limited to that sum which bears the same proportion to the amount of the loss or damage as the sum insured bears to the aforesaid value." Such a condition is sometimes referred to as the "first" or "pro rata condition of average". The word average in this context points to proportionality and must be distinguished from the meaning it bears in marine insurance in the expressions "general and particular average". A policy may be subjected to average simply by stating that it is subject to average, that is, without incorporating a clause such as the above.
An average clause applies only where the insured is under-insured (that is, where the sum insured (limit of liability) is less than the total value of the subject matter of the insurance) and he suffers a partial loss. If a loss occurs in these circumstances, the insured is entitled to compensation only for a proportion of the loss suffered. This proportion is calculated by dividing the sum insured by the true value of the subject-matter of the insurance. Thus, if the insured has ensured the contents of his house against burglary for R20 000,00, whereas the real value is R25 000,00 and he suffers a loss of R15 000,00, he is entitled to claim four-fifths (or 80%) of his loss, that is, R12 000,00. For the balance he is said to be his own insurer. On the other hand, if the insured suffers a total loss he is ipso facto entitled to claim up to the limit of these insurance."
26. In 'n artikel in Modern Business Law, 1981 getiteld Under-Insurance and Average deur J.P. van Niekerk word die awery klousule bespreek en is die gevolgtrekkings dieselfde as dié reeds hierbo aangehaal. Die volgende gedeelte kan na verwys word (my beklemtoning):
"The effect of the average clause in the event of under-insurance in a "conventional" indemnity policy may now be illustrated by way of a few examples. Where property with a value at the time of loss of R10 000,00 is insured for R5 000,00, the insured will, in the event of a total loss, only recover R5 000,00, which is the sum insured and also happens to be that proportion of his loss of R10 000,00 which the sum insured bears to the value at risk. It is clear that the average clause has no effect in the event of a total loss - the insured's recovery is limited to the full sum insured although he will have to bear the difference between that and the value of the property. The average clause therefore only has any effect in the event of a partial loss."
27. Ten aansien van die Engelse Reg kan verwys word na die gedeelte in Birds' Modern Insurance Law, Seventh Edition, waar Professor Birds in 'n bespreking van die probleme van onder-versekering die volgende op p294 sê (my beklemtoning):
"Quite apart from this, the insurer in a case of under-insurance may be able to rely upon the principle of average. This is irrelevant to a total loss, because the sum insured is the maximum recoverable. But the insured may suffer a partial loss below the sum insured with the property is under-insured. If so, and the policy is subject to average, he will recover only that part of the loss which the sum insured bears to the value of the property; the insured is deemed to be his own insurer with respect to the balance."
28. Awery, selfs al bevat die versekeringskontrak so 'n klousule, kan derhalwe nie toegepas word in die geval waar daar 'n totale verlies van die versekerde eiendom is nie, selfs al was die eiendom onder-verseker. Dat dit so moet wees, is bloot logies. Die versekerde was immers van meet af die "versekeraar" van die gedeelte wat hy onder-verseker was en hy sal daardie gedeelte van die uiteindelike verlies self moet dra. Die versekerings-maatskappy ly geen nadeel nie. In die eerste plek is die premies bereken op die bedrag verseker en, in die tweede plek, is die versekerde bedrag die maksimum van die versekeringsmaatskappy se aanspreeklikheid en is dit nie in verhouding meer as die verhouding waartoe die versekerde bedrag in die eerste plek ten opsigte van die voile waarde van die versekerde eiendom gestaan het nie. Ek stem saam met Adv J.D. Maritz SC, namens die verweerder, dat hierdie siening geen gevoel van onbillikheid verwek in die geval van totale verlies nie aangesien die versekerde en die versekeraar albei in is vir die somtotaal van die skade, en weliswaar in presies dieselfde verhouding as waartoe hulle aanvanklik verbind was ten opsigte van die waarde van die versekerde eiendom.
29. Namens die Eiser het Adv Roestoff, onder andere, betoog dat klousule 11 van die Algemene Voorwaardes wel die betekenis het dat Zurich se uitleg korrek was. Daardie klousule lees soos volg:
"The sum insured stated against each item of insured property must at all times be equal to the installed new replacement value unless otherwise stated. If the insured property is at the commencement of any loss or damage to such insured property by an indemnifiable event be of greater value than the sum insured thereon then in the insured shall be considered as being their own insurer for the difference and shall bear a rateable share of the loss accordingly. Every item if more than one shall be separately subject to this condition." (sic)
30. Na my mening gaan die betoog namens die Eiser nie op nie. Die eerste sin van die paragraaf verwys na die versekerde bedrag. Dit is 'n losstaande sin met geen sanksie gekoppel aan die nie-nakoming daarvan. Boonop kan dit klaarblyklik geen rol speel ten opsigte van eise van die aard waarna reeds hierbo verwys is nie. Die basis van skadeloosstelling in die spesifieke afdeling van versekering bepaal uitdruklik en breedvoerig hoe die uiteindelike bedrag bepaal word en die genoemde eerste sin van paragraaf 11 in die voorafgaande algemene afdeling kan hoegenaamd nie daarmee versoen word nie. As 'n kwessie van uitleg moet daar uitvoering gegee word aan die bepalings wat uitdruklik op die betrokke geval van toepassing is.
31. Benewens die voorgaande het Adv Maritz betoog dat die bepaling, volgens die bewoording daarvan, nie geld indien die waarde anders gestel word nie ("unless otherwise stated"), en dat dit juis in die kontrak anders gestel is. Gedagtig aan die bewoording van die kontrak is daar sekerlik meriete in hierdie argument.
32. Wat betref tweede sin, wat 'n verwysing na die beginsel van awery is, kan dit om dieselfde redes ook nie afbreuk doen aan die spesifieke terme van die betrokke afdeling wat die Eiser se versekering beheers nie. Boonop kan dit nie awery van toepassing maak in die geval van 'n totale verlies soos wat in casu die geval was nie.
33. Ek stem dus nie saam met die submissie namens die Eiser dat Zurich korrek bevind het dat die Eiser onderverseker was en dat hulle in hierdie geval
awery kon toepas nie. Die regsbeginsels ten aansien van awery laat dit nie toe nie en nog minder die spesifieke kontraktuele terme in die afdeling getiteld "Plant All Risks Section" wat op die Eiser se versekering van toepassing was. Die Eiser het self besluit om Zurich se aanbod te aanvaar en dit was die oorsaak van enige verlies wat gely is. Die Verweerder se optrede het dit nie veroorsaak nie.
34. Bygevolg het die Eiser nie daarin geslaag om te bewys dat die Verweerder se optrede hom enige skade berokken het nie en is die Eiser derhalwe om hierdie rede ook nie teenoor die Verweerder aanspreeklik vir die betaling van enige skadevergoeding nie. In die lig van hierdie bevinding behoort die Eiser se eis van die hand gewys te word.
35. WESHALWE word die volgende bevel gemaak:
1. Die Eiser se eis word van die hand gewys.
2. Die Eiser word gelas om die verweerder se koste te betaal welke koste insluit die koste van Senior Advokaat.
C.P. RABIE
REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF
2 JULIE 2014