South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria >> 2014 >> [2014] ZAGPPHC 618

| Noteup | LawCite

Addis and Another v Minister van Polisie and Another (19096/2012 , 19099/2012) [2014] ZAGPPHC 618 (7 August 2014)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(GAUTENGSE AFDELING, PRETORIA)

DATUM: 7/8/2014

Saaknommer: 19096/2012

19099/2012

In die saak tussen:

MICKEY ADDIS....................................................................................................................Eerste Eiser

TADROS ADONIA..............................................................................................................Tweede Eiser

en

DIE MINISTER VAN POLISIE................................................................................. Eerste Verweerder

SERSANT A B THAVHAKHILI..............................................................................Tweede Verweerder



UITSPRAAK



POTTERILL R

[1] Vier eisers se aksies teen die verweerders is gekonsolideer vir verhoor aangesien al vier voortspruit uit ‘n skietvoorval op 15 Mei 2010 te Musina.  Die tweede verweerder het in diensbestek van die eerste verweerder die eisers aangerand deur hul te skiet. Twee van die gekonsolideerde sake is tydens die verhoor geskik. Die oorblywende twee eisers het voortgegaan op verhoor met elk 2 deliktuele eise teen die verweerders; die een vir beserings opgedoen tydens die skietvoorval en die ander eis weens beweerde onregmatige arrestasies en onregmatige aanhouding van die eisers. Dit is gemeensaak dat ‘n verdere persoon, wat nie deel uitmaak van die konsolideerde sake nie, gedood is in die skietvoorval en hy sal na verwys word as “die oorledene”.

[2] Die verweerders het gepleit dat die tweede verweerder regmatiglik in selfverdediging opgetree het en nie die perke van noodweer oorskry het nie.  Na ‘n wysiging van die pleit is ‘n verdere verweer van putatiewe noodweer gevoeg.

[3] Die verweerders het die beginlas gedra. Dit was gemeensaak dat die tweede verweerder in diensbestek van die eerste verweerder opgetree het in die uitvoering van sy pligte.

[4] Die quantum en meriete van die eise is by ooreenkoms geskei en en ek het dit gevolglik so gelas.

[5] Die tweede verweerder het getuig dat hy ‘n sersant in die Suid Afrikaanse Polisiediens is en tydens die voorval gestasioneer te Musina was. Hy het inligting van ‘n informant onvang dat by die Impala Lily Hotel [“hotel”] te Musina persone “counterfeit” T-hemde verkoop. Hy en ander polisiemanne is na die hotel om ongeveer kwart voor twaalf die aand. Hy is alleen in die hotel in terwyl die ander lede buite by die motorhawe, die perseel langs die hotel, gewag het. Die informant het hom ingelig dat die persone in die kroeg is. In die kroeg merk hy die informant op en merk ook op dat daar ‘n vroumens in die kroeg sit naby aan die toilet. Die informant het in die kroeg met ‘n knik van sy kop vir hom gewys wie die persone was. Die getuie kon in casu slegs die persone/eisers identifiseer aan die hand van “beskuldigdes 1, 2, 3 en 4”. Dit vloei voort uit ‘n strafsaak waarin die tweede verweerder die klaer was in ‘n poging tot moord strafsaak teen die vier eisers in casu. Die eiser Mickey Addis was besk. 4 en Tadros Adonia was besk. 3. Al vier die eisers asook die oorledende was in die kroeg saam met ‘n groot groep mense. Hy observeer die mense vir 10-15 minute want hy wag vir die verskyning van die T-hemde, omdat hy ingelig is dat dit daar sal wees, maar hy sien nie die T-hemde in die kroeg nie. Die oorledene, en nog een wat aan hom uitgewys is, verlaat die kroeg. Hy volg hulle en verlaat die kroeg om die ander polisie te skakel.

[6] Hy let nie op wat doen die twee buite die hotel en kroeg nie, want hy is besig met die oproep terwyl  hy sy ongemerkte amptelike voertuig se deur oopsluit. Sy voertuig was geparkeer omtrent 3 parkeerplekke van die ingang  tot die hotel. Die parkeerarea het straatligte. Sy geparkeerde voertuig was tussen die hotel/kroeg  en homself. Die oorledene en ‘n ander persoon wie hy dink besk. 4 is nader hom en vra hom hoekom die getuie agter hul aan is. Die getuie antwoord dat hy nie agter hul aan is nie. Benewens die woordewisseling onstaan daar ook ‘n fisiese bakleiery met die oorledene wat aan die getuie stoot en die getuie wat die oorledene met ‘n oop hand slaan. Tydens die woordewisseling word die getuie geslaan of gesteek agter sy oor. Dit kon die oorledene gewees het wat hom agter die oor beseer het. Hy toon die litteken aan die hof wat die vorm van ‘n halfmaan het en onder die hele oor strek. Hy getuig dat hy baie bloei van die wond. Hy word ook geslaan deur hierdie twee persone. Die oorledene hou hom van agter af vas en pen sy hande aan sy bo-arms langs sy sye vas. Met dié voel die oorledene dat die getuie se vuurwapen voor in sy broek ingedruk is en hul stoei om besit van die vuurwapen. Terwyl die oorledene hom vashou word hy op sy linkerbobeen gesteek. Hy dink nie dit is die oorledene wat dit gedoen het nie, want die oorledene hou hom vas.  Hul stoei vir die vuurwapen en die getuie kry die vuurwapen in die hande, draai die vuurwapen op en skiet tussen sy bene deur na die oorledene. Hy ontken nie dat hy die oorledene in die maag geskiet het nie, maar ontken dat hy die oorledene van voor geskiet het. Die ander persoon hardloop na die skietery weg en skuil agter ‘n boom.

[7] Die oorledene val na die skietery en die getuie is duiselig en val met sy rug teen sy motorvoertuig in ‘n sittende posisie. Die persoon wat agter die boom skuil hardloop weer terug in die rigting waar hy lê. Die persoon het ‘n voorwerp in sy hand, maar hy kon dit nie identifiseer nie. Hy skiet skote in die rigting van die persoon wat aangehardloop kom. Hy sien die voorwerp in die persoon se hand en hy is “mos ‘n mens, ek kry ook seer, ek bang.”  Hy het gedink hulle wil hom doodmaak en hy probeer homself beskerm. Hy weet nie hoeveel skote hy geskiet het nie maar kan nie ontken dat 9 doppies op die toneel gevind is nie. Hy wil hul waarsku om nie nader te kom nie en hy getuig dat hy nie mik na hulle nie;  hy skiet net.

[8] Twee ander persone kom agterom sy voertuig gehardloop en hy weet dit is ook twee persone wat vroeër in die kroeg was. Hy kan nie onthou watter van die beskuldigdes in die strafsaak die twee persone agterom die voertuig was nie, behalwe om te sê dat een lank was en een dikkerig. Hulle praat nie terwyl hul na hom hardloop nie. Hy kan nie onthou of hulle iets in hulle hande gehad het nie. Hy skiet toe ook na hulle rigting en hy skat hul was toe 5-6 meter van hom af. Hy mik nie om hul dood te skiet nie, hy skiet want hy is bang hul maak hom seer. Hy mik grond se kant toe en afwaarts, maar hy mik nie om die grond raak te skiet nie. Hy kon hul raakskiet maar hy skiet opsetlik mis;  hy waarsku net. Hy dink hul gaan hom seermaak omdat hy hul familie geskiet het.  In kruisverhoor getuig hy ook vir die eerste maal dat onbekende mense wat uit die hotel kom, hom gewaarsku het dat die twee agterom die bakkie hom gaan seermaak. Dit is ook ‘n rede hoekom hy na hul geskiet het.

[9] Hy is na die hospitaal geneem waar hy hegsteke gekry het vir sy been en agter sy oor. Sowat ‘n jaar na die voorval het hy erge pyn agter sy oor gevoel en daar het glasskerwe uitgekom.

[10] In kruisverhoor sê hy dat hy die twee vrouens in die kroeg noem, omdat hy met hulle gepraat het, al ken hy hulle nie. Hy getuig prontuit dat die dames in hul verklarings “lieg”, want hy dra nie ‘n bril in die aand nie, hy drink nie bier nie en hy was in die kroeg om te werk, hy was dus nie dronk nie. Hy het ook nooit met die oorledene in die kroeg gepraat nie.  Hy het erken dat hy nege skote afgetrek het in ‘n openbare plek en dat hy onskuldige mense kon getref het maar hy het net na mense geskiet wat hy geken het.  Alhoewel daar na die eerste skote baie mense uit die hotel gekom het, het hy nie na hul geskiet nie.  Die ander polisie was op die perseel langsaan gereed vir aksie. Hy kon nie antwoord of hul dopgehou het wat gebeur by die hotel en kroeg nie.  Hy ontken dat die eisers nie aangekla is van “counterfeit”- goed nie. Hy aanvaar nie die eisers se weergawe dat hul hom nie wou beseer of beseer het nie; hy het dan sigbare beserings aan hom.  Dit is gemeensaak dat al vier die eisers onskuldig bevind is aan poging tot moord op hom.

[11] Konstabel Chiloane was die ondersoekbeampte in die poging tot moord saak teen die eisers; MAS 226/05/2012 en 227/05/2012. Toe hy die dossiere ontvang was twee verdagtes reeds in hegtenis. Hy weet dat hul in die selle was en dat A/O Becker skryf in die SAPS 5 dat hul gearresteer is. Hy weet nie wie hul gearresteer het nie en daar behoort eintlik ‘n verklaring van die lid wat arresteer het, gewoonlik die ondersoekbeampte, in die dossiere te wees. Daar is ‘n inskrywing in die voorvalleboek van die arrestasie, A/O Sigama, maar die persoon is onbekend en die persoon het nie ‘n verklaring gemaak nie. Abebe en Yusuf was reeds in die selle, die twee eisers teen wie sake geskik is, en Adonis en Addis was in die hospitaal in Musina. Hy besoek die twee in die hospitaal die Maandag (16de) na die voorval. Alhoewel hy hulle toe besoek het het hy hulle nog nie gearresteer nie, want hulle het baie pyn gehad. Die selregister dui aan dat beskuldigdes 3 en 4 op 15 Mei 2012 om 9 uur gearresteer is. Slegs verdagtes wat in die selle aangehou word word in die selregister ingeskryf. Die selregister is dus verkeerd want hulle is direk hospitaal toe. Hy het nie geweet hiervan nie, want die dossier is eers later na hom toe. Hy kan dit ook nie verstaan nie, want daar is vir hom gese hulle is van die toneel direk na die hospitaal toe. Hy was nie op die 17de teenwoordig met hul hofverskyning nie. Die aanklaer het vir hom met die eerste verskyning gesê om die twee in die hospitaal te arresteer, maar hy kon nie.  Hy is op die 25ste hospitaal toe waar hy besk. 3 (Adonis) aankla. Hy verduidelik wie hy is en dat hy ‘n verdagte in ‘n poging tot moord saak is. Hy verduidelik sy regte en neem ‘n waarskuwingsverklaring. Hy verneem toe dat besk 4 oorgeplaas is na die Polokwane hospitaal. Hy besoek hom in die hospitaal en neem sy waarskuwingsverklaring en vingerafdrukke. Hy was onder arrrestasie. Hy het nie gesien dat beskuldiges drie en vier onder polisiebewaking was nie. Hulle was nie vasgeboei aan die bed nie. Hy het nie ‘n arrestasieverklaring ten opsigte van die twee eisers gemaak nie. Hy gee toe dat alle amptelike polisiedokumente aandui dat hulle gearresteer is voor hy die dossier ontvang het. Hy getuig dat hul dan moontlik vroeër gearresteer is, maar hy het hulle ook gearresteer. Hul is gearresteer op grond van die verklaring van Sersant Thavhakhile. Hy het redelike gronde gehad vir die arrestasies en die verdagtes was by die hospitaal.

[12] Meneer Adonia het getuig dat hy, John sy broer, Jamal, Nicky en die oorledene na die hotel is vir “happy hour.” Hulle het alkohol geniet en hyself het bier gedrink. Mickey en die oorledene het die kroeg verlaat om huis toe te gaan. ‘n Rukkie later het iemand vir hom kom se dat sy broer buite met iemand baklei. Besk. 2 (John) het nie gehoor van die bakleiery nie want hy het “pool” gespeel.  Besk. 2 en 1 (Jamal) is nie saam met hom om uit te vind wat gaan aan nie.  Oppad uit die kroeg, terwyl hy in die middel van die gang is, het hy 3-4 skote gehoor. Toe hy buite is soek hy die bakleiery, hy kyk links en toe regs en toe draai hy heeltemal na sy linkerkant toe en sien sy broer en Mickey lê. Hulle lê links soos jy uit die hotelperseel kom, baie naby aan die restaurant ongeveer 10 meter van hom af. Hy hoor en voel iets en hardloop na sy woonplek langs die hotel. Alhoewel in pyn hardloop hy om weg te kom. Hy het nie gesien wie hom geskiet het nie en waar die skoot vandaan gekom het nie. Hy het vandat hy die kroeg verlaat het tot hy geskiet is met niemand gepraat nie. Sy familie neem hom na die hospitaal. Hy word daar behandel vir ‘n skietwond op sy regterkantste been net bo die enkel en is in die hospitaal vir 11 dae. Sy linkerenkel en linkerarm is beide aan die bed vasgeboei. Hy was slegs nie geboei wanneer hy badkamer toe moes gaan. Hy was ook onder 24 uur polisiebewaking. Hy het volhard met die bewerings ten spyte van die ondersoekbeampte wat getuig het dat hy nie met sy besoeke aan die hospitaal gesien dat hy geboei was nie. Hy het vir Mickey in die hospitaal gesien voor hy na Polokwane hospitaal vervoer is.

[13] Hy het ‘n klagte by die polisie gelê vir poging tot moord en het vir doeleindes daarvan ‘n verklaring afgelê. Sekere gedeeltes van die verklaring is korrek en sekere gedeeltes nie. Die redes daarvoor is dat hy toe nie goeie Engels gepraat het nie, hy was in pyn en die verklaring is nie vir hom teruggelees nie. Wanneer gekonfronteer word met paragraaf 2 van sy verklaring ontken hy dat hy die volgende aan die polisiebeampte gesê het: “... I immediately rushed to see what was happening when I arrived there I saw black guy beating my brother I then tried to ask what was wrong. The guy who was assaulting my brother never listened to me he was very drunk. He pulled the gun and started shooting at us. I was shot at my right leg and he continued shooting at my brothers.”  Hy het in kruisverhoor volhard dat niks sy uitsig belemmer het nie en hy kon sien waar sy broer gelê het. Hy kon nie ontken dat die voertuig van die sersant geparkeer was tussen hom en waar sy broer gelê het nie. Hy kon ook nie antwoord hoekom hy in die strafsaak teen die sersant getuig het dat die sersant hom geskiet het terwyl hy nou getuig dat hy nie geweet het wie hom geskiet het nie. Hy kon ook nie verduidelik hoekom hy in die strafsaak getuig het dat die Sersant staande na hom geskiet het nie. Hy het later gesê hy het in die strafsaak seker maar “geraai”.  Hy het egter homself deurentyd weerspreek oor of hy die sersant staande na hom sien skiet het en of hy slegs sy broer sien lê het. Dit is aan hom gestel dat hy nie wil erken dat hy die sersant gesien het nie, want dit sou die eiser se saak staaf dat hy om die voertuig na die sersant beweeg het.  Hy moes dus om die sersant se voertuig beweeg het om sy broer te kon sien lê.  Hy ontken ook dat paragraaf 2 in die verklaring van Mickey Addis korrek is waarin dit beweer word dat hy en Mickey saam die kroeg verlaat het. Hy ontken ook dat hy met ‘n ambulans tesame met Mickey vervoer is na die hospitaal.  Sy eie familie het hom hospitaal toe geneem. Sy verklaring is dus verkeerd waarin dit beweer word. Hy ontken ook dat in sy waarskuwingsverklaring hy gemeld het dat hy buite toe is om die probleem tussen sy broer en die polisie uit te sorteer, “... but the guy was not tollerating. He produced a fire-arm and he shoot [sic] us and he shot me on the right foot.” Hy erken dat sy waarskuwingsverklaring gedateer 25 Mei 2010 en sy verklaring gedateer 15 Mei 2010 deur twee verskillende beamptes geneem is en in beide dit verklaar word dat hy na sy broer toe is om die probleem op te los.  Hy het ontken dat hy dit vir die polisie gesê het.  Hy het in kruisverhoor eers volhard dat hy nooit gesê het waarvoor hy hof toe gaan en dat hy formeel aangekla of gearresteer is nie. Later het hy gestuig dat die ondersoekbeampte hom kon gearresteer het maar dat hy nie verstaan het wat hy gesê het nie.

[14] Meneer Addis getuig dat hy by die hotel was en bier gedrink het. Na middernag het hy en die oorledene die kroeg verlaat. Hy was egter nog besig om sy bier klaar te drink met die gevolg dat die oorledene 6 meter  voor hom die kroeg verlaat. Hy het nie gesien dat die oorledene aan iemand stamp voor die bakleiery begin het nie. Toe hy buitekant kom sien hy drie mense baklei en stry. Een van die drie was sy broer, een het “dreadlocks” gehad en hy het nie die ander persoon geken nie. Hy wou uitvind wat gaan aan maar die “rasta” het vir hom gesê hulle gaan nie baklei nie, dit is nie sy besigheid nie en hy moet gaan. Terwyl hy toilet toe loop stry hul nog. Hy het geloop want hy het gedink hul sal dit uitsorteer, hul stry net en die “rasta” was beleefd. Hy gaan toilet toe en toe hy terugkom sien hy die oorledene lê en ‘n ander man baklei nou fisies en stry nie net meer nie. Hulle kyk na mekaar en hou mekaar vas. Die oorledene was ‘n groot man en groter as die sersant. Hy sien nie ander mense daar nie. Hy was 5-6 meters van hul af en hy kon hul duidelik identifiseer. Hy sien nie dat iemand bloei nie. Die oorledene het niks in sy hande gehad nie. Hy antwoord op ‘n stelling dat die oorledene nie die sersant kon gesteek het nie omdat die oorledene die sersant vashou, en op sy getuienis was daar niemand ander op die toneel nie:  “No it wasn’t me, had no reason to do it.”  Alhoewel net hy nog op die toneel was ontken hy dat dit hy was.  Hy maak ‘n selfoon oproep na Jimali om te sê die oorledene baklei. Hy sien iets soos ‘n weerligstraal en hoor ‘n skoot. Hy skreeu onmiddelik en ervaar pyn in sy maag. Hy val neer langs die restaurant langs ‘n groot boom. Hy val en voel weer pyn in sy linkerbobeen.  Dit voel of iemand warm water oor hom gooi.  Hy het sy bewussyn verloor.

[15] Hy het in die hospitaal wakker geword.  In die hospitaal was hy geboei met sy regterbeen aan die bed.Hy is na 2 dae oorgeplaas na die Polokwane hopitaal. Hy het skietwonde gehad op sy linkerbobeen bokant sy knie en op sy linkerheup. Hy was deurgaans onder polisiebewaring. Hy was aan die bed vasgeboei aan sy regterbeen. Hy het nooit gehardloop na die sersant nie en hy het nie ‘n voorwerp in sy hand gehad nie. Hy vermoed die polisie raai hieroor.

[16] In kruisverhoor ontken hy dat hy die getuieverklaring soos gereflekteer op p163 van A3 van die stukke gemaak het. Hy kan nie Engels praat nie en hy het die dokument geteken omdat hul vir hom gesê het hy gaan hospitaal toe. In die verklaring word vertel hoe hy sien dat sy broer iemand stamp in die kroeg. Die persoon trek toe sy broer buite toe. Hy en Teros volg hul buite toe. Toe hulle buite kom het die persoon sy vuurwapen getrek en op hul begin skiet.

[17] Mnr. Abebe getuig dat hy niks weet van die voorval nie, want hy het geslaap by sy woonplek in die karavaanpark reg langs die hotel. Hy ken egter vir Mnr. Tadros Adonia want hul is familieverwant en Adonia woon ook in die karavaanpark. Hy is wakker gemaak deur Adonia wat hom inlig dat hy geskiet is. Hy het self waargeneem dat Mnr. Adonia geskiet is en hy neem hom met sy eie voertuig na die hospitaal. Behalwe vir die mediese personeel was daar baie ander polisielede wat in en uit die hospitaalkamer beweeg het. In die kamer was ook Mickey. Hul was die tye wat hy hul besoek het geboei met hul een arm skouerhoogte aan die “glukosedrip”  en een been aan die hopitaalbeddens vas. Hy het later getuig dat hy nie presies seker was waaraan die arm vasgeboei was nie, maar hul arms was vasgeboei.

[18] Die volgende feite is gemeensaak met betrekking tot die voorval self:

18.1 Dat die eerste eiser (Addis), die tweede eiser (Adonia) en die se broer John, die oorledene en Jamal by die hotel was op 15 Mei 2010 te Musina. Die tweede verweerder was ook daar in privaatdrag.

18.2 Dat die oorledene en die eerste eiser eerste die kroeg verlaat het.

18.3 Dat die tweede verweeerder ook toe die kroeg verlaat.

18.4 Dat die oorledene en die tweede verweerder met mekaar praat buite die hotel.

18.5 Dat die oorledene en die tweede verweerder in ‘n fisiese bakleiery betrokke geraak het waarin die tweede verweeerder die oorledene noodlottig wond.

18.6 Dat die tweede verweerder langs sy oor asook in sy linkerbobeen met ‘n skerp voorwerp gesteek is.

18.7 Dat die eerste eiser deur die tweede verweerder op sy linkerbobeen en sy linkerheup geskiet is.

18.8 Dat die tweede verweerder die eerste eiser gewond het op sy regterbeen net bo sy enkel.

11.9 Dat die tweede eiser in die omgewing van die struweling was tussen die tweede verweerder en die oorledene.

[19] Sersant Thavhakhile het ‘n goeie indruk op my gemaak, al is daar kritiek dat sy getuienis nie in alle opsigte bevredigend was nie. Daar is ook niks inherent onwaarskynlik aan sy feitlike weergawe nie. In die lig van die feit dat dit gemeensaak is dat hy hotel toe is in die uitvoering van sy pligte aanvaar ek dat die doel van sy besoek was dat ‘n informant persone aan hom sou uitwys. Hy bly 10-15 minute in die kroeg om te kyk of die T-hemde nie te voorskyn kom nie en in die tyd observeer hy die persone aan hom uitgewys. Twee van die persone wat aan hom uitgewys is beweeg uit die kroeg en hy beweeg agter hul uit om die ander polisielede te skakel wat op die perseel langsaan is.  Tewyl hy skakel en sy voertuig se deur oopmaak word hy genader deur twee persone en word hy gekonfronteer oor hoekom hy agter hul aan is. Dit is gemeensaak dat een van die persone in die kroeg wat voor hom die kroeg verlaat die oorledene is en in ‘n woordewisseling en fisiese geveg met die tweede verweerder betrokke raak. Dit is dus ‘n redelike afleiding en waarskynlik dat die oorledene die tweede verweeerder konfronteer oor die uitwysing; dit is nie nodig om te spekuleer hoe die eisers dan nou van die utwysing sou uitgevind het nie. Die eisers kon geen rede gee vir die bakleiery nie ten spyte van ‘n suggestie in die eerste eiser se verklaring dat die oorledene iemand gestamp het in die kroeg wat tot ‘n alterkasie kon gelei het. Die eerste eiser ontken egter die bewering in sy verklaring.

[20] Daar is by my geen twyfel dat waar dit gemeensaak is dat die oorledene en die eerste verweeerder fisies baklei het die wonde aan die tweede verweerder toegedien is tydens hierdie bakleiery. Dit is gemeensaak dat die oorledene ‘n groot man was en daar is niks inherent onwaarskynlik in die tweede verweerder se weergawe dat sy bo-arms van agter teen sy lyf vasgedruk is terwyl hy besig is om sy voertuig se deur oop te sluit nie. Die getuienis van die tweede verweerder dat hy en die oorledene baklei vir sy wapen is ook waarskynlik.  Dat die tweede verweerder deur sy bene met ‘n opwaartse draaibeweging van die wapen skote afvuur na die oorledene en hom in die maag tref is ook waarskynlik. Ek is ook tevrede dat nie slegs die oorledene tydens hierdie bakleiery die wonde aan die tweede verweerder toedien nie. Dit is gemeensaak dat die oorledene en ‘n ander persoon tegelyk die kroeg verlaat net voor die tweede verweerder die kroeg verlaat. Die tweede verweerder getuig dat twee persone hom konfronteer. Die eerste eiser stem saam dat drie persone besig was om te baklei. Die tweede verweerder het getuig dat hy dink dat besk. 4 in die strafverhoor [eerste eiser] die persoon was wat saam met die oorledene was. Die eerste eiser plaas net homself, die tweede verweerder en die oorledene op die toneel tydens die bakleiery. Ek is op waarskynlikhede tevrede dat die eerste eiser en die oorledene die tweede verweerder aangeval het. Dit was opvallend in die getuienis van die eerste eiser hoe hy spontaan verklaar sonder dat daar nog so ‘n vraag aan hom gevra is dat hy nie die tweede verweerder aangeval het nie want hy het nie ‘n rede gehad nie; met vergunning van Shakespeare “the lady [eerste eiser] doth protest too much, me thinks.” Op waarskynlikhede het die eerste eiser die tweede verweeerder met ‘n skerp voorwerp op sy been gesteek omdat die oorledene se hande om die arms van die tweede verweeerder was en dus logieserwys nie die steekbeweging kon uitvoer met twee hande om die tweede verweerder nie.

[21] Die tweede verweerder getuig dat na die skote op die oorledene val hy neer langs die bakkie en die ander persoon, die eerste eiser, hardloop weg en skuil agter ‘n boom. Dit is gemeensaak dat die tweede eiser geskiet is langs ‘n groot boom. Dit is dus ‘n verdere waarskynlikheid dat die eerste eiser die persoon is wat die tweede verweerder aanval met ‘n skerp voorwerp en toe hardloop om te skuil by ‘n boom. Die tweede verweerder getuig dat die persoon by die boom weer in sy rigting hardloop met ‘n onbekende voorwerp in sy hand en dat hy na hom skiet. Hy is nou bang en wil die persoon van hom weghou. Die weergawe is waarskynlik en ek aanvaar dit. Ek vind dit nie eers nodig om die weersprekings en onwaarskynlikhede in die eerste eiser se getuienis verder aan te spreek nie.

[22] Die tweede verweeerder getuig dat benewens die aanval van die twee persone beweeg daar nadat hy die skote op die oorledene en die persoon by die boom gevuur het ook twee mense van agter om die bakkie na hom toe. Hy kan hulle onder die bakkie deur sien want die bakkie is hoog. Hy besef dit is ook twee persone wat hy vroeër in die kroeg gesien het. Die een persoon was lank en een was dikkerig. Hy kon nie onthou of hul voorwerpe in hul hande gehad het nie en hul sê niks tewyl hul om die bakkie kom nie. Hy skiet in die rigting van die grond na hul kant toe. Dit is gemeensaak dat hy die tweede eiser tref in sy voorbeen net bokant die enkel.

[23] Dit kon nie deur hierdie eiser ontken word dat die tweede verweerder se voertuig geparkeer was tussen hom en die bakleiery  tussen sy broer en die tweede verweerder nie. Dit is dus waarskynlik dat hy om die bakkie moes loop om die oorledene te sien lê. Ek vind dit ook hoogs onwaarskynlik dat twee verskillende lede van die polisie op twee verskillende datums beide verkeerdelik in die tweede eiser se verklarings sal neerskryf dat hy die bakleiery waarneem en na die bakleiery hardloop om dit op te los en gevolglik sien dat dit die sersant is wat hulle skiet. Daardie opsomming van die gebeure is meer waarskynlik as sy getuienis in hierdie hof, ook in die lig van sy getuienis in die strafsaak dat hy weet wie hom skiet.  Die tweede verweerder se weergawe is ook versoenbaar is met die skietwond voor op die tweede eiser se enkel.

[24] Die vereistes vir noodweer is weereens saamgevat en behandel in Snyders v Louw 2009 (2) SASV 463 (KPA). Op hierdie bewese feite is ek tevrede dat die tweede verweerder in die omstandighede in noodweer opgetree het. Hy is deur twee persone wat aan hom uitgewys is  wederregtelik aangeval en ernstig beseer. Een van die persone het hom met ‘n skerp voorwerp beseer en ten spyte van die skote wat hy aftrek nader die persoon hom weer met ‘n voorwerp in sy hand. Nog  twee van die persone wat aan hom uitgewys is hardloop om die bakkie na hom. Hy is nou al sittend, bloei baie, duiselig en sien dat mense van die groep hom in gelid nader en hy skiet grondlangs in hul rigting om nog ‘n moontlike aanval af te weer. In hierdie omstandighede waar hy aangeval is het hy redelike gronde gehad om te glo hy was in gevaar. H

[25] Die vraag wat beantwoord moet word is of die tweede verweerder die perke van noodweer oorsky het. Ek is tevrede dat sy geweldstoepassing in die omstandighede redelik was. In S v Trainor 2003 (1) SASV 35 (SCA) in par [12] en [13] haal die hof met goedkeuring aan uit Snyman:

[12] In dealing with the requirement (when assessing a claim of private defence) that there must be a reasonable connection between an attack and a defensive act, C R Snyman in Criminal Law 4th ed states the follwing at 107:

It is not feasible to formulate the nature of the relationship which must exist between the attack and the defence in precise, abstract terms.  Whether this requirement for private defence has been complied with is in practice more a question of fact than of law.’

[13] At 109 the learned author states:

It is submitted that the furthest one is entitled to generalise, is to require that there should be a reasonable relationship between the attack and the defensive act, in the light of the particular circumstances in which the events take place.  In order to decide whether there was such a reasonable relationship between the attack and defence, the relative strength of the parties, their sex and age, the means they have at their disposal, the nature of the threat, the value of the interest threatened, and the persistence of the attack are all factors (among others) which must be taken into consideration.  One must consider the possible means or methods which the defending party had at her disposal at the crucial moment.  If she could have averted the attack by resorting to conduct which was less harmful than that actually employed by her, and if she inflicted injury or harm to the attacker which was unnecessary to overcome the threat, her conduct does not comply with this requirement for private defence.’”

Hy gebruik sy wapen en skiet grondlangs. Hy skiet na die persone wat hy in die kroeg gesien het en wat hom ernstig aanrand en wat aanhou kom. Hy skiet nie na vreemdes nie, maar na die aanvallers. Hy skiet 7-8 skote maar daar is geen getuienis dat hy enigiemand anders as die aanvallers afweer of in gevaar stel nie. Daar was niemand anders op die toneel voordat hy skiet na die twee wat om die voertuig beweeg nie. Daar is geen getuienis dat hy die mense wat toe uit die hotel kom in gevaar stel nie. Die tweede verweerder se optrede in die omstandighede is redelik. Hy kan niks anders doen as skote in hul rigting grondlangs te vuur nie. Dit is onbetwis dat hy nie poog om hul raak te skiet nie maar om hul nader kom te stuit. Hy is reeds beseer en kan nie vlug, of  andersins fisiese weerstand bied nie. Die verhouding tussen die aanval en die afweershandeling is redelik. ‘n Redelike persoon in sy omstandighede sou dieselfde opgetree het en sy optrede is gevolglik regmatig. Daar is namens die eisers gesteun op Coetzee v Fourie and Another 2005 (1) SACR 382 (SCA) as gesag dat die verweerder nie redelik onder die omstandighede opgetree het nie. Die feite in die Coetzee-saak supra verskil hemelsbreed van die feite in casu en handel inderwaarheid met putatiewe noodweer.

[26] Die verweerders het gevolglik bewys dat die tweede verweerder in noodweer opgetree het en die eisers se eis vir die skadevergoeding op grond van die aanranding word van die hand gewys. Al sou ek verkeerd wees in dat die perke van noodweer is oorskry sou die eisers se eise misluk op grond van putatiewe noodweer aangesien die tweede verweerder se skuld hom verskoon sal word.

[27] Dit is in geskil wanneer die eisers gearresteer is en of die arrestasie en daaropvolgende aanhouding regmatig was. Dit is gemeensaak dat die eisers die bewyslas dra om die datum van arrestasie te bewys. Die eisers self getuig nie dat hul op 15 Mei 2010 gearresteer is nie.  Hul plaas voor die hof dat hul direk na hul geskiet is by die hospitaal deur onbekende lede van die SAPD geboei is aan hul hospitaalbeddens en onder 24 uur bewaking was. Hul roep ‘n getuie Mr Abebe wat getuig dat die twee eisers aan hul een arm en een been te alle tye vasgeboei was met sy besoeke aan die hospitaalbed en of glukose drip. Hul maak ook staat op die selregister van Musina Polisiesstasie waarin hul arrestasie datum as 15 Mei 2010 gereflekteer word. Op dieselfde dag word ‘n dossier geopen op sterkte van ‘n aanklag van poging tot moord. Die klagstate reflekteer die datum van arrestasie as 16 Mei 2010. Die eisers is onderskeidelik vrygelaat op 26 Mei 2010 en 31 Mei 2010 na hul eerste hofverskyning en borg vasgestel is.

[28] Daarteenoor getuig Konstable Chiloane dat toe hy die dossier ontvang op 15 Mei 2010 om 13:00 was twee verdagtes in hegtenis en twee verdagtes in die hospitaal. Hy sien dit ook so uit die aantekening in die ondersoekdagboek van A/O Becker wat sê dat twee “in custody” is en twee gewond in die hospitaal. Hy het verstaan dat die twee eisers direk van die toneel hospitaal toe is; dit is inderdaad gemeensaak. Hy getuig dat die selregister dus verkeerd is wat reflekteer dat die twee in die selle was, want slegs persone wat in die selle is word in die selregister gereflekteer. Op 15 Mei 2010 is daar in die voorvalle boek ‘n inskrywing deur A/O Sigama dat die “the suspects are somalis who also detained at Musina cells.” Die persoon is egter onbekend en daar is geen verklaring van die persoon nie. Daar is ook geen arrestasieverklarings van lede wat verklaar dat die twee eisers inderdaad op 15 Mei 2010 gearrresteer is nie. Konstabel Chiloane getuig dat hy die tweede eiser op 25 Mei 2010 arresteer en ook sy waarskuwingsverklaring neem wat op die dossier is en gedateer is 25 Mei 2010. Dit is die ondersoekbeampte wat gewoonlik die funksie vervul en hy doen dit. Hy het egter nagelaat om sy arrestasieverklaring te maak en op die dossier te liasseer. Die eerste eiser is na die Polokwane hospitaal oorgeplaas en daarom arresteer hy hom eers op 31 Mei 2010 in Polokwane. Hy neem ook sy waarskuwingsverklaring. Hy gee toe dat die amptelike polisiedokumente aandui dat die eisers op 15 Mei 2010 gearresteer is, maar volhard dat hy as ondersoekbeampte hulle dan weer gearresteer het. Hy het hul gearresteer op grond van die verklaring van Sersant Thavhakhile. Hy het redelike gronde gehad gebaseer op die verklaring om hul te arresteer. Hy het ook met die ander twee verdagtes gepraat en hul het vir hom gesê dat die twee in die hospitaal is die twee betrokke by die voorval. Hy het nie die besoek en die inligting so verkry in die ondersoekdagboek aangeteken nie, want die dossier was reeds hof toe.

[29] Die vraag ontstaan of ek die weergawe van die eisers met betrekking tot die vryheidsberowing kan aanvaar in die lig van die feit dat ek hul weergawe verwerp het met betrekking tot die aanranding. Hul roep ‘n getuie wat nie betrokke was by die voorval nie, maar wat familie is van die tweede eiser en saam met hom woon in die karavaanpark. Hy staaf die eisers se weergawe dat hul te alle tye geboei is vir die hele periode wat hul onder hospitaalbehandeling was. Hul was ook onder 24 bewaking met die polisiebeampte wat permanent in die hospitaalkamer teenwoordig is. Daarteenoor het Konstabel Chiloane getuig dat terwyl hy hulle in die hospitaal besoek, by meer as een geleentheid, hul nie geboei of onder bewaking was nie. Al gee hy toe dat hul dalk die tye wat hy nie teenwoordig was geboei kon gewees het, staaf dit nie die eisers se weergawe dat hul deurgaans geboei was nie. Ek vind die bewaking en bykans onmenslike boei van die eisers vreemd in die lig van die gemeensaak feit dat die polisie nie borg opponeer nie die oomblik toe die medici die eisers uit die hospitaal ontslaan. Hul word onmiddellik na die hof geneem en verkry sonder teenstand borg. Ek is heeltemal tevrede dat ek die selregister inskrywing nie as stawing vir hul arrestasie op 15 Mei 2010 kan aanvaar nie. Hul was nie in die selle, die ander twee verdagtes was in die selle en op waarskynlikhede is die twee in die selle se name verwar met die twee in die hopitaal. Die klagstaat dien nie as stawing vir die datum van arrestasie nie want die datum daarop is 16 Mei 2010.

Geen aantekening in die ondersoekdagboek reflekteer dat die twee verdagtes in die hospitaal gearresteer is nie. Daar is ook geen verklarings wat aantoon dat hul gearresteer is nie. Daarteenoor staaf die waarskuwingsverklarings van die eisers die weergawe van Konstabel Chiloane dat hul op onderskeidelik 25 Mei en 31 Mei 2010 gearresteer is, alhoewel ek bedag is daarop dat Konstabel Chiloane ook nie ‘n arrestasieverklaring maak en liasseer op die dossier nie.

As ek op die beste vir die eisers hul weergawe met betrekking tot die vryheidsberowing nie per se ongeloofwaardig bevind ten spyte van die verwerping van hul weergawe met betrekking tot die aanranding nie, is daar nie ‘n oorwig van waarskynlikhede in die guns van die eisers  nie; inteendeel die waarskynlikhede steun eerder die verweerders se weergawe. Ek vind gevolglik dat die eisers nie die datum van arrestasie bewys het as synde 15 Mei 2010 nie.

[30] Die vraag is dan of die arrestasies uitgevoer op onderskeidelik op 25 en 31 Mei 2010 voldoen aan die vereistes van Artikel 40(1)(b) van die Strafproseswet soos uitgekristaliseer in die gesag met spesifieke verwysing na Duncan v Minister of Law and Order 1986 (2) SA 805 (A) op 818G-H:

(1) The arrestor must be a peace officer.

(2) He must entertain a suspicion

(3) It must be a suspicion that the arrestee committed an offence referred to in Schedule 1 to the Act (other than one particular offence)

(4) That suspicion must rest on reasonable grounds.“

Konstabel Chiloane, ‘n vredesbeampte, het getuig dat met die ontvangs van die dossier was die klaer se verklaring (A1) reeds daarop geliasseer. Poging tot moord is ‘n bylae 1 misdryf. Hy het ook ‘n gesprek gevoer met die twee verdagtes wat in die selle aangehou was en hul het die twee in die hopitaal geïdentifiseer as betrokke by die poging tot moord op die klaer. Alhoewel daar in die A1 verklaring geen verwysing na spesifieke persone was nie, was dit toe reeds bekend dat die twee persone in die hospitaal kom van die toneel waar die skietery plaasgevind het en dat hul deur die sersant geskiet is. Dit is beslis ‘n redelike vermoede dat die twee verdagtes in die hospitaal die persone was wat die klaer aangeval het en geskiet is deur die klaer. 

[31] Die aanhouding van die tweede eiser vanaf arrestasie 25 Mei 2010 tot 26 Mei 2010 is nie onregmatig nie en behoef geen verdere betoog nie. Die arrestasie van die eerste eiser op 31 Mei 1010 en sy vrylating op 31 Mei 2010 stel nie onregmatige aanhouding daar nie en behoef enersyds geen verder betoog nie.

[32] Die bevel is dus as volg:

32.1 Die eerste en tweede eisers se twee eise word van die hand gewys met koste.

32.2 Die koste sluit in die koste van twee advokate.



____________________

S. POTTERILL

REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF

SAAK NR: 19096/2012 en 19099/2012

DATUM VAN VERHOOR: 22 APRIL 2014, 24 APRIL 2014 AND 25 APRIL 2014

NAMENS DIE EISERS: ADV. J.G. CILLIERS SC

ADV. G. SCHEEPERS

IN OPDRAG VAN: Erwee Prokureurs

NAMENS DIE VERWEERDERS:  ADV.  M.M.W. VAN ZYL SC

ADV. C.G.V.O. SEVENSTER

IN OPDRAG VAN: Staatsprokureur, Pretoria

DATUM VAN UITSPRAAK: 7 Augustus 2014