South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria >> 2014 >> [2014] ZAGPPHC 811

| Noteup | LawCite

B.J.V.D.W v M.V.D.W (18890/2013) [2014] ZAGPPHC 811 (16 October 2014)

Download original files

PDF format

RTF format


SAFLII Note: Certain personal/private details of parties or witnesses have been redacted from this document in compliance with the law and SAFLII Policy

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(GAUTENGSE AFDELING, PRETORIA)



Saaknommer: 18890/2013

DATUM: 16/10/2014

In die saak tussen:

B[...] J[...] V[...] D[...] W[...]

ID NO:  6[...] .......................................................................................................................................Eiser

en

M[...] V[...] D[...] W[...]

ID NO:  8[...]..........................................................................................................................Verweerderes

UITSPRAAK

POTTERILL R

[1] Die eiser dagvaar die verweerderes vir ‘n egskeiding.  Tydens die verhoor is die onderhoud, primêre sorg en residensie van die tweeling seuns, G[...] en B[...]  (6 jaar oud) asook die kontakregte as volg geskik:

1.1 Albei partye behou volle ouerlike regte en verantwoordelikhede ten opsigte van die twee minderjarige kinders met dien verstande dat die primêre sorg en residensie van die kinders by die verweerderes vestig;

1.2 Die eiser se kontakregte is as volg:

1.2.1 Die eiser neem die kinders elke Woensdag vanaf 14h00 tot 18h00;

1.2.2 Elke alternatiewe naweek vanaf Vrydag na skool tot Sondag 17h00;

1.2.3 Neem die kinders elke Dinsdag en Vrydagoggend skool toe;

1.2.4 Vakansiebesoeke die helfte van elke alternatiewe lang en kort skoolvakansie, Kersfees om te roteer;

1.2.5 Telefonies kontak te alle redelike tye;

1.2.6 Alternatiewe publieke vakansiedae of alternatiewe langnaweke.

1.3 Die eiser sal voortgaan om die volgende direkte betalings ten opsigte van G[...] en B[...] te maak tot en met hulle selfonderhoudend is:

1.3.1 Skoolgelde, insluitende registrasiegelde, skoolklere, skoolbenodighede en ander verwante skooluitgawes;

1.3.2 Koste verbonde aan die kinders se sport en buitemuurse aktiwiteite;

1.3.3 Ekstra klasse;

1.3.4 Registrasie op die eiser se mediese fonds en betaling van alle redelike en billike mediese uitgawes wat nie deur die mediese fonds betaal word nie op aanvraag te betaal;

1.3.5 Uitgawes verbonde aan verdere tersiêre of universiteitsopleiding, insluitend boekgelde, registrasiegelde, vervoer, verblyf en ander verwante uitgawes;

1.3.6 Onderhoud in die bedrag van R5 000 per maand per kind tot hulle selfonderhoudend is, betaalbaar voor of op die laaste dag van elke maand;  en

1.3.7 Enige van die partye is geregtig om die onderhoudshof te nader vir ‘n verhoging of verlaging.

[2] In geskil is of die koste verbonde aan die kinders se sport en buitemuurse aktiwiteite die kwalifikasie van “redelikheid” moet byhê.  Ek vind dit nie nodig in hierdie omstandighede nie.  Daar is nie ‘n basis daarvoor gelê dat die verweerderes die kinders onnodig aan sport en buitemuurse aktiwiteite laat deelneem nie.  Dit was ook in dispuut of die onderhoud se eskalasie 10 % per jaar moet wees, of die verbruikersprysindeks.  Dit is ‘n feit waarvan geregtelik kennis geneem kan word dat die verbruikersprysindeks baie laer is as die werklike inflasiekoers en daarom is 10 % in die omstandighede ‘n baie beter maatstaf vir jaarlikse eskalasie.  By paragraaf 1.3.6 moet dus gevoeg word dat die bedrag onderhoud jaarliks eskaleer met 10 % op datum van egskeiding. 

[3] Wat in dispuut is, is die bedrag en tydperk van die verweerderes se rehabiliterende onderhoud asook of die verweerderes geregtig is op ‘n bedrag vir hervestigingskoste.

[4] As agtergrond lys ek die volgende gemeensaak feite:

4.1 Die eiser (45 jaar) en verweerderes (34 jaar) was vir ses jaar getroud buite gemeenskap van goed met uitsluiting van die aanwasbedeling.  Hulle het een jaar voor die huwelik saamgewoon en het in aparte kamers begin woon in Maart 2012 en nie meer saamgewoon nie sedert einde 2012;

4.2 Die eiser was die primêre broodwinner en het ‘n inkomste potensiaal van tussen R80 000 en R90 000 ‘n maand.  Hy is ‘n gedrewe besigheidsman wat van sy besighede ‘n sukses maak;

4.3 Die verweerderes is ‘n gekwalifiseerde skoonheidsterapeut en ‘n refleksoloog wie se inkomste potensiaal ‘n plafon bereik het en die plafon is ‘n maksimum van R10 000 per maand.  ‘n Meer realistiese beeld van haar inkomste potensiaal is R8 200 per maand.  Sy het ‘n bydrae tot die huishouding gemaak, maar dit was proporsioneel baie min.  Die Lumi-slim masjien wat sy aangekoop het is nie meer kompeteerbaar in die mark met ander masjiene nie en dit help nie om haar verdienvermoë ter verhoog nie;

4.4 Die partye het ‘n luukse lewenstandaard gehandhaaf.  Die eiser het die lewenstandaard bepaal en hulle het gereeld oorsee gereis en byvoorbeeld ski-vakansies gehou.  Sy is gereeld met juwele en parfuum bederf.  Hulle het beide gejag en baie geld is aan dié stokperdjie bestee;

4.5 Die verweerderes het ‘n meenthuis en ‘n voertuig gehad toe hul getroud is.  Die voertuig is verkoop en die eiser het vir die verweerderes ‘n Mercedes Benz voertuig gekoop na die Voyager voertuig wat hul besit het.  Sy het vir ‘n tydperk R2 000 ‘n maand help betaal aan die Mercedes, maar hulle het eintlik voor die aankoop van die Mercedes besluit op ‘n Polo voertuig.  Die eiser het aangedring dat hul die Mercedes koop. Die wins wat uit die verkoop van haar meenthuis gegaan het, is in die rekening van die eiser gestort, maar hy het vir haar R15 000 gegee om haar kredietkaart af te betaal;

4.6 Dit is verder gemeensaak dat die verweerderes se lewenstandaard gedaal het na sy die gemeenskaplike woning verlaat het.  Sy besit nie ‘n DStv nie en het in teendeel geen televisie.  Sy het slegs ‘n videomasjien gekoppel aan haar TV.  Sy moes aan haar eie skoonheidsbehandelinge sny;  dit hou nadeel in want sy moet haarself vir haar besigheid bemark.  Sy moet by goedkoop  winkels klere koop soos Meltz en Hub.  Van uitstappies en uiteet is daar nie sprake nie.  Sy kan in die klein meenthuis waar sy nou woon nie troeteldiere aanhou nie en dit is vir die kinders ‘n groot gemis terwyl hulle ‘n groot tuin en troeteldiere by hul vader het.  Die meenthuis is in ‘n kompleks van 100 eenhede wat een swembad deel.  Die tuin het sy beskryf as ‘n “graspol”.  Sy het ‘n lys van al haar uitgawes geboekstaaf en kwitansies daarvoor verskaf.  Nie een van hierdie uitgawes is werklik gekritiseer nie.  Sy het ook state van haar besigheid aangeheg en in kruisverhoor is dit ook nie aangeval nie;

4.7 Die eiser het erken dat sy lewenstandaard daarteenoor glad nie geval het nie.  Sy bankstaat dui talle uiteet betalings aan.  Hy koop nog duur “brand” klere.  Hy het bedank as direkteur van ‘n maatskappy wat die naam van Lebohlano Trading 6 (Pty) Ltd asook as direkteur van Legacy Medical.  Hy het sy aandele verkoop vir ‘n bedrag van R3.5 miljoen.  Van die bedrag het hy R1.6 miljoen in die verband inbetaal wat sy maandelikse verbandverpligting verminder het na R5 530.00 per maand.  Hy het R470 000 belê vir die belasting betaalbaar op die verkope transaksie betaalbaar in die volgende belastingjaar.  Hy het die verweerderes se voertuig afbetaal met ‘n bedrag van R100 000.  Hy het R200 000 in sy oortrokke rekening betaal en hy het ‘n R180 000 in sy “revolving credit” inbetaal.  Hy het R550 000 spandeer inter alia om sy nuwe besigheid te vestig en ook aan die onderhoud wat hy betaal ten opsigte van sy vrou en kinders.  Hy kon geen bewyse vir die hof voorhou vir die R550 000 se uitgawes nie.  Hy het net in Junie 2014 alleen R20 000 spandeer aan jag.  Hy woon in die groot gemeenskaplike woning met ‘n groot erf met swembad en koi dam.  Hy het ‘n groot voëlhok en twee honde wat die kinders s’n is en hulle vra na honde by die verweerderes se woning.  Hy het DStv.

[5] Die verweerderes poog om haar inkomstevermoë te verbeter.  Sy het ingeskryf vir studies by Unisa en haar eerste semester geslaag met twee onderskeidings.  Sy het dié stap geneem want as sy haar Honneurs ook voltooi is daar ‘n groot moontlikheid dat sy aangestel kan word as dosent by óf Unisa óf ‘n ander universiteit.  Dit hou vir haar die voordeel in dat sy dan fleksi-tyd kan werk en aandag aan haar twee seuns kan gee, terwyl sy ‘n vaste inkomste verdien.  Dit hou ook die voordeel in dat sy met privaatberading ekstra inkomste sal kan verdien. Dit gaan egter ‘n tydperk van 6 jaar neem.  Sy het dus rehabiliterende onderhoud nodig vir 6 jaar.

[6] Op bewysstuk D is die verweerderes se uitgawes uiteengesit as opsie A of opsie B.  Opsie A is as sy ‘n woning sou huur en opsie B indien die eiser haar R1.3 miljoen hervestigingskoste betaal en sy ‘n woning van haar eie het.  Na kritisering van haar eie uitgawes is haar tekort op opsie A R23 788.00 en op opsie B R13 288.00.

[7] Daarteenoor voer die eiser aan dat hy werkloos is en dat sy maandelikse uitgawes R64 796.00 beloop uitgesluit die onderhoud van R16 500 wat hy reeds betaal het in terme van die Reël 43 bevel.  Gesamentlik is sy uitgawes dus die bedrag van R81 296.00.  Hierdie uitgawes is soos uiteengesit in sy Reël 43(6) aansoek.  Tydens die verhoor is bewysstuk “F” opgehandig.  Hiervolgens is sy totale uitgawes huidiglik R79 391.00.  Hy het getender dat hy R8 000 per maand rehabiliterende onderhoud vir 24 maande aan die verweerderes betaal.  Hy sal haar vir 24 maande op sy mediese fonds behou.  Hy bied aan dat sy die alleen eienaar van die Mercedes Benz B-klas word en sal ook die oordrag op haar naam op sy kostes laat geskied.  Hy tender verder ook dat sy alleen eienaar van die Lumi-slim masjien word en hy tender ook die party en party koste van die geding tot en met die dag van die tender. 

[8] Die eiser is die mening toegedaan dat weens die duur van die huwelik, die feit dat sy nou gerieflik woon, haar verdienvermoë, en dat sy die rede was vir die verbrokkeling van die huwelik sy nie geregtig is op enige ander eise nie.

[9] Wat die verbrokkeling van die huwelik betref het die eiser aangevoer dat die verweerderes ‘n buite-egtelike verhouding met ene K[...] gehad het.  Daarteenoor het die verweerderes aangevoer dat die eiser haar aangerand het as ‘n stryery nie na sy wense geloop het nie.  Die verweerderes het ‘n baie goeie indruk op die hof gemaak.  Sy het toegewings gemaak waar dit nodig was en kon vir elke finansiële bewering wat sy gemaak het ‘n bewys daarvan aan die hof voorlê.  Daarteenoor het die eiser glad nie ‘n goeie indruk op die hof gemaak nie, inteendeel hy was vir die hof ‘n ongeloofwaardige getuie.  Hy kon nie vir een van sy uitgawes behoorlike bewys lewer nie.  Alhoewel hy volhard het dat hy al sy inkomste voor die hof geplaas het, is dit baie duidelik dat hy nie sy Discovery kredietkaart of sy Diners kaart se rekeninge voor die hof geplaas het nie.  Inteendeel, hy het te kenne gegee dat die Dinersklub net ‘n jaarlikse heffing dra en hy dit net gebruik as hy vlieg terwyl die state kennelik weerspreek dat hy wel die kaart gebruik het.  Dit het die hof opgeval dat toe dit kom by sy getuienis oor die verbrokkeling van die huwelik hy nie dadelik, soos wat mens van ‘n verontregte man sou verwag, gemeld het dat sy ‘n buite-egtelike verhouding gehad het nie, maar onmiddellik gesê het dat dit ‘n probleem was dat hy te veel werkstres huis toe gebring het.  Dit is nooit ontken dat die eiser die verweerderes aangerand het nie.  Wat die verbrokkeling van die huwelik betref is ek dus tevrede dat die verduideliking deur die verweerderes verskaf met betrekking tot haar kliënt en dié se man, Kevin, aanvaar moet word en dat sy geen buite-egtelike verhouding gehad het nie.  Die kliënt en haar man is nie meer kliënte van haar nie nadat die eiser Kevin fisies met ‘n “spanner” gedreig het.

[10] Dit is nooit ontken dat die verweerderes lang ure werk nie en laatnag na sy die kinders in die bed gesit het studeer nie.  Die naweke wanneer die seuns by haar man is poog sy soveel moontlik inkomste genereer deur tot laat op die Saterdag te werk.  Die verweerderes het bewys dat ‘n groter meenthuis wat haar nog nie naastenby op die standaard van die eiser in sy groot woning plaas nie, haar ± R2 000 ‘n maand meer sal kos nie.  Dit is nog steeds minder as die bedrag wat die eiser hom goed gedink het om te spandeer aan ‘n woning toe hy die gemeenskaplike woning verlaat het.  In Pillay v Pillay 2004 (4) SA 81 (SE) het die hof rehabiliterende onderhoud toegestaan vir ‘n vrou wat werkloos was maar besig was om haarself vir ‘n beroep voor te berei.  Hier is die verweerderes besig om steeds inkomste te verdien en laatnag te studeer.  In Zwiegelaar v Zwiegelaar 2001 (1) SA 1208 (SCA) is bevind dat in terme van artikel 7(2) van die Egskeidingswet, Wet 70 van 1979 ‘n hof ‘n wye diskresie het met betrekking tot die toestaan van onderhoud vir ‘n gade en dat dit in omstandighede regverdig en billik sal wees om die akkommodasie behoeftes van die gades as deel van redelike onderhoud te sien.  Die hof neem in ag dat die bedrag van R10 000 wat die eiser aanbied as onderhoud vir die kinders ‘n gedeelte pro rata kan betaal vir die akkommodasie van die verweerderes.  Dit is egter in hierdie omstandighede bewys dat die verweerderes nie die eiser sien as wat in algemene terme bekendstaan as die sogenaamde “meal ticket” nie.  Dit is heeltemal onderskeibaar van Botha v Botha 2009 (3) SA 89 (WLD).  Hierdie is by per excellance ‘n geval waar die uitoefening van die diskresie op ‘n grond van aksie vir rehabiliterende onderhoud positief uitgeoefen moet word.

[11] Die eiser het bedank van ‘n maatskappy wat hy help stig en bou het waarvan hy in die laaste jaar ses jaar minstens R80 000 tot R90 000 per maand verdien het.  Hy bedank in die tydperk van die egskeiding en beroep hom nou op werkloosheid.  Hy vlieg egter gereeld Namibië toe.  Hy het in September, as ‘n werklose man, R3 800 aan ‘n taksidermis betaal.  Op 10 September 2014 het hy R14 300 vir jag uitgegee en R17 225 betaal aan parkering vir sy nuwe besigheid.  Hy trek gereeld kontant by die ATM’s waarvoor geen verrekening gegee is nie.  Daar is by hierdie hof nie twyfel dat die eiser nie optree soos ‘n werklose nie en dat hy ‘n bron van inkomste het.  Hy het kapitaal tot sy beskikking in sy verbandlening.  Hy het in kruisverhoor hom weerspreek en gepraat van kliënte versus potensiële kliënte wat as ‘n besigheidsman nie bloot ‘n oorsig was nie.  Hy het ook nie sy konsultasiefooi aan die hof openbaar nie.  Hy het nie die trust aan die hof openbaar nie, wat die maklikste ding was om te doen juis as soos hy beweer die trust geen bates het nie.  Al sou die hof aanvaar dat daar ‘n handelsverbod in die aandele verkooptransaksie is, is dit gemeensaak dat die handelsverbod net strek tot die eerste kwartaal van 2015 en nie van toepassing is op Namibië en Botswana nie.  Dit is duidelik dat hy ‘n besigheid in Namibië wou begin.  Dit is ook gemeensaak dat hy twee aanbiedinge in sy werklose tyd van die hand gewys het omdat hy sy eie besigheid wil begin.  Die eiser sou nie hierdie aanbiedinge van die hand wys as hy besig is om op die broodlyn te lewe nie.  Uit sy getuienis was dit vir die hof baie duidelik dat die enigste rede hoekom die eiser nie rehabiliterende onderhoud wil betaal nie is omdat hy eintlik nie wil skei nie en versoening wou bewerkstellig.     

[12] Dit is so dat die verweerderes 34 jaar oud is en dus ‘n verdienvermoë het.  Sy het egter vir nou haar plato bereik maar maak daadwerklik plan om haar verdienvermoë te verbeter.  Die huwelik was 6 jaar wat ‘n relatiewe kort tydperk is.  Sy het in die tyd ‘n voertuig en ‘n woning opgegee as bates van haar eie.  Gegewe haar toekomstige vermoë sonder dat sy haar posisie verbeter, is haar verdienvermoë beperk.  In aggenome dus die huidige en toekomstige verdienvermoë van die partye, asook die huidige behoeftes en verpligtinge van die partye moet die eiser vir 6 jaar aan die verweerderes rehabiliterende onderhoud betaal.  Die verweerderes het haar lewenstandaard laat val en met die rehabiliterende onderhoud word haar lewenstandaard geensins verhoog na dié van die eiser nie.  Ek is tevrede dat op al die feite voor my die redelike en billike bevel sal wees om opsie A aan die eiseres toe te ken.  ‘n Hof probeer altyd die skoonbreuk beginsel toepas, maar selfs met ‘n eie huis wat die eiser betaal sal die skoonbreuk nie hier heeltemal bewerkstellig word nie.  Ek is egter tevrede dat ‘n huurhuis met ‘n bedrag van R11 500 per maand huur die eiseres beter daartoe in staat sal stel om haar kinders bloot te stel aan ‘n beter lewenstandaard alhoewel nog glad nie op die standaard van die eiser nie.  Die hof neem in ag dat die verweerderes R10 000 per maand kontant ontvang vir die onderhoud van die kinders en dat die eiser al die noodsaaklike skool en naskoolse aktiwiteite vergoed.  Dit is egter so dat daar alreeds geluide is dat hy nie die R10 000 kan bekostig nie en ‘n onderhoudshof sal nader vir vermindering.  Die hof kan dus nie reken op pro rata gedeelte van die R10 000 om te help betaal vir die huisvesting nie.

[13] In die omstandighede beveel ek dus die eiser om rehabiliterende onderhoud aan die verweerderes te betaal waarvan die eerste paaiement betaalbaar is voor of op die 7de November 2014 en elke maand daarna tot en met Desember 2019.  Die bedrag wat die eiser aan die verweerderes moet betaal vir rehabiliterende onderhoud is die bedrag van R21 500.00.

[14] Die bevel is gevolglik as volg:

1. n Egskeidingsbevel word toegestaan.

2. Die eiser moet aan die verweerderes die bedrag van R21 500.00 per maand onderhoud betaal waarvan die eerste paaiement is voor of op 7 November 2014 en elke maand daarna tot en met 7 Januarie 2019.

3. Die eiser moet die verweerderes se getakseerde kostes betaal.

____________________

S. POTTERILL

REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF

SAAK NR: 18890/2013

DATUM VAN VERHOOR:  9-10 Oktober 2014

NAMENS DIE EISER:  ADV. K.T. JORDT

IN OPDRAG VAN:  D Koekemoer van Van den Berg Koekemoer Prokureurs

NAMENS DIE VERWEERDERES:  ADV. L.C. HAUPT

IN OPDRAG VAN:  JJ van Heerden van Van Heerden & Krugel Prokureurs

DATUM VAN UITSPRAAK:  16 Oktober 2014