South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria >>
2014 >>
[2014] ZAGPPHC 929
| Noteup
| LawCite
Kleinfontein Boerebelange Kooperatief Bpk v Zeevaart (65949/2013) [2014] ZAGPPHC 929 (27 October 2014)
Download original files |
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(GAUTENG AFDELING, PRETORIA)
SAAK NR: 65949/2013
DATUM: 27/10/2014
In die saak tussen:
KLEINFONTEIN BOEREBELANGE KOÖPERATIEF BPK …........................................Applikant
en
ANTON JAN ZEEVAART …................................................................................................Respondent
UITSPRAAK
DAVIS, WnR
INLEIDING:
[1] Al die eedsverklarings in hierdie aansoek is in Afrikaans en die Respondent, wat in persoon verskyn het, het ook verkies om die hof in Afrikaans toe te spreek. Gegewe die persoonlike aard van die gevolge van hierdie uitspraak en bevel asook die vorige litigasie tussen die partye, word hierdie uitspraak gevolglik in die taal van die keuse van die “in-persoon” Respondent gelewer.
[2] Hierdie is ‘n bestrede sekwestrasie-aansoek.
[3] Die Applikant is ‘n skuldeiser van die Respondent ten aansien van twee getakseerde kosterekeninge voortspruitend uit vorige litigasie tussen die partye, welke kosterekeninge onderskeidelik getakseer en toegelaat is in R328 349,26 en R17 750,85.
[4] Ten aansien van die uitvoering van ‘n lasbrief van eksekusie gebaseer op die eerste van voormelde kostebevele lees die Balju se relaas as volg:
“Dat op 2013/04/29 om 12:35 te 58 Kleinfontein synde die eksekusieskuldenaar se aangeduide woonplek is ‘n afskrif van die lasbrief vir eksekusie beteken deur te oorhandig aan Mnr A J Zeevaart. Ek was in kennis gestel deur Mnr A J Zeevaart dat hy geen bates het nie en dat alles aan sy vrou Mev M G Zeevaart behoort. Mnr A J Zeevaart en Mev M G Zeevaart is op 29 April 1971 getroud buite gemeenskap van goedere. verder sertifiseer ek dat na ‘n ywerige soektog en navrae by die gegewe adres 58 Kleinfontein, kon ek geen roerende en vervreembare bates vind ter voldoening aan die lasbrief of ‘n gedeelte daarvan nie. Daar kon ook nie vasgestel word of die skuldenaar oor enige onroerende eiendom beskik nie. My relaas is dus een van nulla bona.”
[5] Die Applikant voer aan dat hy ‘n “nedersetting” bedryf op van die plase Donkerhoek en Kleinfontein buite Pretoria en dat hy in die proses is om ‘n dorp te stig. Die Applikant beweer verder dat die betrokke gemeenskap wat op die nedersetting woon hul besigheid en bates binne ‘n koöperasie-vorm bedryf en dat die Applikant geregistreer is as ‘n koöperasie in terme van die Koöperasiewet, Nr. 91 van 1981.
[6] Die Respondent was voorheen ‘n lid van die koöperasie en die beëindiging van sy lidmaatskap het gelei tot uitgebreide litigasie tussen die partye. Aangesien die uiteinde van daardie litigasie ‘n finansiële of monetêre waarde vir die Respondent tot gevolg gehad het, is dit relevant tot hierdie aansoek om sekwestrasie van sy boedel.
DIE VORIGE LITIGASIE:
[7] Vervolgend op die beëindiging van die Respondent se lidmaatskap van die Applikant het hy ‘n aksie ingestel teen die huidige Applikant as Eerste Verweerder en die Registrateur van Koöperasies as Tweede Verweerder. In die aksie is onder andere gevra vir die hersiening en tersydestelling van die besluit waardeur hy as lid geskors is asook die soortgelyke hersiening en tersydestelling van ‘n latere besluit om hom uit die eiendom van die Applikant uit te sit.
[8] Die Applikant het in die aksie ‘n teeneis ingestel teen die huidige Respondent waarin onder andere gevra is vir ‘n uitsettingsbevel uit die eiendom wat deur hom bewoon word te Erwe 44 en 45 Kleinfontein ook bekend as Patryssingel 58, Kleinfontein, Gauteng.
[9] Die voormelde litigasie in saak nr. 51715/2007 in hierdie hof is op 3 Mei 2011 tot ‘n einde gebring deur ‘n bevel van Louw R wat as volg lees:
“Bevel
[47] Ek gelas dus soos volg:
(a) Die eis word van die hand gewys met koste.
(b) Die teeneis word toegestaan met koste.
(c) ‘n Uitsettingsbevel word verleen teen die Eiser en alle persone wat Erwe 44 en 45 Kleinfontein deur hom okkupeer.
(d) Dat die Eiser ‘n tydperk van ses weke gegun word om die twee erwe wat gekoppel was aan sy aandeelhouding in die Eerste Verweerder te verkoop.
(e) Indien die Eiser onsuksesvol is om die twee erwe te verkoop, word die Eiser en die Eerste Verweerder ‘n tydperk van twee weke gegun om op ‘n billike vergoedingsbedrag ooreen te kom.
(f) Indien die partye nie suksesvol is om op so ‘n bedrag ooreen te kom nie, word beide partye gelas om, op hulle eie koste, elk ‘n waardeerder aan te stel ten einde ‘n vergoedingsbedrag vas te stel met inagneming van wat ‘n gewillige verkoper aan die Eiser sou betaal indien hy sy aandele in die Eerste Verweerder sou verkoop met inagneming van die verbeterings wat op die twee erwe aangebring was. Die waardasieverslae moet binne twee weke na die verstryking van die tydperk in paragraaf (e) bekom word. Die twee waardeerders moet binne een week nadat hulle hul waardasieverslae uitgebring het, met mekaar ‘n vergadering hou ten einde om te poog om ‘n vergoedingsbedrag op ooreen te kom. Beide partye sal gebonde wees aan so ‘n ooreenkoms tussen die twee waardeerders.
(g) Indien die twee waardeerders nie in staat is om op ‘n bedrag ooreen te kom nie, sal die twee waardeerders voor Adv G L Grobler SC verskyn wat die waardasies met die twee waardeerders sal debatteer en sal poog om by wyse van mediasie ‘n ooreenkoms te bereik tussen die waardeerders oor die vergoedingsbedrag, by gebreke waarvan gemelde Adv Grobler SC die bevoegdheid verleen word om die vergoedingsbedrag vas te stel. Die ooreenkoms tussen die waardeerders of die vasstelling deur Adv Grobler SC sal bindend wees op die partye.
(h) Die Eiser word gelas om die Kleinfontein nedersetting te verlaat binne twee maande nadat die vergoedingsbedrag soos hierbo bepaal by ooreenkoms of vasstelling deur die waardeerders of Adv Grobler SC aan hom uitbetaal is.
(i) Die Eerste Verweerder word gemagtig om die uitsettingsbevel uit te voer indien die Eerste Verweerder na die verloop van die tydperk in paragraaf (h) nie die eiendom verlaat het nie.
(j) Vir doeleindes van verhaling van enige kostebevel ten gunste van die Eerste Verweerder van die Eiser, sal die Eerste Verweerder nie geregtig wees om beslag te lê op enige woning wat die Eiser aanskaf met die vergoedingsbedrag nie of op daardie gedeelte van die vergoedingsbedrag wat die Eiser benodig vir die aanskaf van so ‘n woning nie.”
[10] Die Respondent het hom nie berus by die bogemelde uitspraak en bevel nie en het aansoek om verlof daarteen geloods wat op 22 Julie 2011 van die hand gewys is met koste.
[11] Die Respondent het hom daarna na die Hoogste Hof van Appèl gewend en sy aansoek om verlof tot appèl (en kondonasie vir die laat indiening daarvan) is op 14 Maart 2013 van die hand gewys met koste.
[12] Nadat die Respondent se aansoek om verlof tot appèl afgewys is deur die Hoogste Hof van Appèl is die vergoedingsbedrag ooreenkomstig die voormelde bevel van Louw R tussen die partye vasgestel op R820 000,00.
[13] Dit is gemeensaak dat hierdie bedrag nog nie deur die Applikant aan die Respondent betaal is nie en dat die Respondent en sy gade steeds die eiendom bekend as Patryssingel 58, Kleinfontein okkupeer.
DADE VAN INSOLVENSIE:
[14] Die Applikant steun op die nulla bona relaas van die Balju soos reeds hierbo na verwys.
[15] Saam met die nulla bona relaas het die Balju die Applikant in besit gestel van twee verklarings, een van die Respondent en een van sy gade.
[16] Die verklaring van die Respondent lees as volg, naamlik dat hy:
”…
die volledige inhoud van my huis en
buitegeboue op Erf 45 aan die Patryssingel 58 in Kleinfontein
nedersetting aan my eggenote Maria
Geertruida Zeevaart
identiteitsnommer 3610250021188 waarmee ek buite gemeenskap van
goedere getroud is verkoop het op 1 Maart 2012
vir die bedrag van
R45 000,00 ter delging van die lenings wat sy aan my verskuldig
is.”
[17] Die Respondent se eggenote verklaar in haar verklaring onder eed dat sy:
“… die eienaar is van al die items in die woonhuis en buitegeboue op Erf 45 Patryssingel 58, Kleinfontein. Ek het die items verkry by my eggenote Anton Jan Zeevaart op 1 Maart 2012 ter delging van R45 000,00 se lenings wat ek aan hom toegestaan het.”
[18] Die Applikante beweer gevolglik dat die Respondent verdere dade van insolvensie gepleeg het deur óf sy een krediteur (sy eggenote) te bevoordeel het deur betalings aan haar te maak in insolvente omstandighede óf deur vervreemdings sonder teenwaarde te gemaak het indien die verkoping van die huisinhoud nie ‘n ware verkoping was nie of indien sy eggenote nie ‘n ware krediteur was nie. Ter onder-steuning van hierdie submissie steun die Applikant op die volgende verklaring deur die Respondent in sy Opponerende Eedsverklaring gemaak:
“My vrou en ook van my kinders het in die meriete van my saak geglo en aan my geld geleen. Hulle is saam met my teleur-gesteld in die uitkoms van die regsproses. Hulle het die lenings afgeskryf. Hulle dink nie daaraan om as skuldeiser teen my op te tree nie. Applikant is die enigste skuldeiser. So eenvoudig is dit.”(Respondent se beklemtoning).
FEITELIKE INSOLVENSIE:
[19] Dit blyk uit die stukke dat die Respondent nie feitelik insolvent is nie: Hy het ‘n onbetwiste eis vir R820 000,00 teen die Applikant en waarskynlik nog ‘n eis vir moratore rente daarop vanaf die datum van vasstelling daarvan, synde die datum waarop die verpligting tot betaling ontstaan het.
[20] Aan die ander kant het hy óf die skuldlas teenoor die Applikant wat, so is ek in die hof meegedeel, die bedrag van nagenoeg R466 000,00 beloop indien die twee getakseerde kosterekeninge saam met rente bymekaar getel word.
[21] Op ‘n stadium gedurende sy betoog, het die Respondent ‘n verdere onbeëdigde verklaring van sy eggenote aan my opgehandig waarin sy beweer dat sy by verskillende geleenthede aan haar man “… geld gegee het om onder andere sy regskostes in sy jare lange stryd met die direksie van KBK te help delg …”. Sy lys dan ‘n aantal oorplasings vanaf 1 Januarie 2011 in die totale bedrag van R342 458,40. Sy lys ook twee ander betalings direk aan die prokureurs in ‘n totale bedrag van R35 000,00. Selfs al sou aanvaar word dat hierdie bedrae almal lenings daarstel (wat duidelik nie die bedoeling was tussen die eggenote nie) dan is al die bedrae wat in 2011 voorgeskiet is, synde R190 000,00 ouer as 3 jaar en sou eise ten aansien daarvan waarskynlik al verjaar het. Hoogstens is daar dus ‘n potensiële las van R187 458,40.
[22] Indien die Applikant se betoog aanvaar word dat die huisraad ten bedrae van R45 000,00 ook in die Respondent se boedel behoort te val, dan oorskry sy bates sy laste.
BESPREKING:
[23] Dit is duidelik uit die bevel van Louw R en die uiteensetting van die Respondent se bateposisie dat, uitgesonder ‘n sekwestrasiebevel, die Applikant se remedies vir die verhaal van die kostebevele uitgeput is. Om hierdie rede meld die Applikant se deponent in paragraaf 16.3 van die Funderende Verklaring gevolglik die volgende:
“Ingeval van sekwestrasie sal die Respondent se vergoeding vir sy aandele in die Applikant of enige eiendom wat hy daarmee mag koop, nie meer beskermd wees nie en kan dit tot voordeel van die skuldeisers van die insolvente boedel te gelde gemaak word.”
[24] Op my versoek is ek deur Mnr Zeevaart in besit gestel van die uitspraak van Louw R. Nadat die geleerede regter met die reglemente van die Applikant en die Respondent se destydse gronde vir hersiening gehandel het, het hy bevind dat die besluite waardeur die Respondent as lid geskors is en besluit is om hom uit die eiendom van die Applikant te sit, nie op substantiewe of prosedurele gronde hersienbaar is nie.
[25] Handelende met die kwessie van uitsetting het Louw R daarna opmerkings gemaak oor die geldigheid van ‘n sekere statuut van die koöperasie wat sou neerkom op arbitrêre onteiening sonder vergoeding. Sy uitspraak hiervan lees egter daarna as volg:
“Ek hoef egter nie oor die geldigheid hiervan te beslis nie aangesien die Verweerder [die Applikant in die aansoek om sekwestrasie] deurgaans nie van voorneme was om in terme daarvan op te tree nie. Op die pleitstukke word vergoeding soos deur ‘n waardeerder bepaal aan die eis getender. In debate tydens betoog het ek die kommer geopper dat enige bedrag wat aan die Eiser uitbetaal mag word, nie onderhewig moet wees aan eksekusie vir die koste van hierdie geding nie aangesien die Eiser daarmee in staat gestel moet word om ‘n ander woning te bekom. Die gedetailleerde voorstel van die Verweerder vervat in die skriftelike betoog deur Mnr Havenga SC maak hiervoor voorsiening … Ek verstaan dat dit gemene saak is tussen die partye dat, indien die hersiening nie slaag nie, die bevel soos voorgestel deur die Verweerder aanvaarbaar sou wees…”
[26] Hierna het Louw R die geheel van die huidige Applikant se betoog ten aansien van die teeneis aangehaal in sy uitspraak en daarmee akkoord gegaan. Hy het ook akkoord gegaan met die bevel soos voorgestel. Dit is hierna wat hy die bevel gemaak het soos in paragraaf [9] supra aangehaal. Dit staan ook vas dat hierdie uitspraak en bevel nie aan verdere appelprosedures onderworpe is nie. Nie alleen is alle aansoeke om verlof tot appel van die hand gewys nie. (Sien paragrawe [10] en [11] supra), maar is ‘n aansoek van die huidige Respondent om direkte toegang tot die Konstitutionele Hof, op 7 Augustus 2014 geweier, aldus ‘n bevel in hierdie verband aan my opgehandig deur die Respondent.
[27] Dit is duidelik (en dit was ook vir die Applikant te alle relevante tye duidelik) dat hulle nie hul kostebevele mag uitvoer teen die vergoedingsbedrag nie. Om hierdie rede vorder hulle in beide hul eedsverklaring en hul Kennisgewing van Mosie in die alternatief indien ‘n sekwestrasiebevel nie toegestaan word nie, dat óf die Applikant gemagtig word óf die hof self “… in die hof se algemene diskresie …” skuldvergelyking mag toepas tussen die bedrag verskuldig deur die Respondent aan die Applikant en die vergoedingsbedrag van R820 000,00, synde die bedrag verskuldig deur die Applikant aan die Respondent. Daar is nie in betoog voor my volhard met hierdie alternatiewe versoek nie maar dit is presies wat die sekwestrasie tot gevolg sou hê: Die vergoedingsbedrag sal deur ‘n kurator gevorder word as ‘n bate in die insolvente boedel. Daarna sal die kurator sy en die Meester se kostes aftrek asook die kostes van die sekwestrasie-aansoek as deel van die administrasie van die bereddering van die insolvente boedel en die balans sal dan aangewend word om die Applikant se eis te delg. Ten spyte van verskeie lukrake bewerings in die stukke, is daar nie sprake van enige ander krediteure van die Respondent nie.
[28] Indien die vergoedingsbedrag op een of ander wyse uit die hande van die kurator gehou kon word, is al voordeel wat moontlik uit die boedel mag blyk die tersydestelling van die vervreemding van die R45 000,00 se huisraad. Selfs hierdie blyk gronde vir vrugbare litigasie te wees. Die ander beweringe ten aansien van ‘n ondersoek van verhaal van moontlike ander bedrae wat moontlik aan die Respondent se prokureur betaal is tydens die litigasie as synde vernietigbare voorkeure, is sonder enige feitelike basis en in baie vae terme deur die Applikant geopper. Daar is onvoldoende aanduiding dat daar enige verdere voordeel vir die krediteure hieruit sal spruit.
DISKRESIE:
[29] Dit is gemeensaak dat, selfs waar ‘n applikant die essensiële vereistes vir ‘n sekwestrasie-aansoek nagekom het, die hof steeds ‘n diskresie het om ‘n respondent te sekwestreer. So ‘n diskresie moet natuurlik regterlik uitgeoefen word en die geleerde skrywers Meskin in Insolvency Law stel dit verder te 2-51 as volg:
“[The court] may not exercise such discretion in favour of the Respondent unless special circumstances are present justifying its withholding the final order, the onus of establishing such circumstances upon a balance of probabilities being upon the Respondent.”
Sien ook: Millward v Glazer 1950(3) SA 547 (W) te 553A-554A en die sake daar aangehaal
Cyril Smiedt (Pty) Ltd v Lourens 1966(1) SA 150 (O) te 155A-156
[30] Die Respondent se posisie is dat hy, buiten vir die vergoedings-bedrag, oor geen ander bates beskik nie. Hy is 78 jaar oud en het geen pensioen of inkomste nie. Hy is afhanklik van sy eggenote en dié bates wat daar mag wees indien dit verhaal sou word, is die huisraad wat hy aan haar oorgedra het. Indien daardie vervreemding ter syde gestel word, gaan daar bitter min oorbly ter delging van die Applikant se eis nadat kurators, Meesterskoste en koste van die aansoek afgetrek is. Indien die vergoedingsbedrag ook nog in die slag bly, mag die Respondent se vermoë om behuising te bekom ook wesenlik ingeperk word.
[31] Aan die ander kant blyk dit dat daar bitter min ander meganismes is vir die Applikant om die kosterekeninge te verhaal van die Respondent. As daar nie ander bates is om op beslag te lê en te gelde te maak nie, is die nulla bona relaas klaarblyklik die laaste aanduiding van enige verhaling vanuit die Respondent se bateposisie soos dit tans daar staan, gegewe die beskerming van die vergoedingsbevel. Indien die Respondent natuurlik ‘n woning vir hom en sy eggenote in ‘n aftree-oord bekom teen die R500 000,00 wat hy in die stukke voor Louw R aangedui het, dan is die balans van die vergoedingsbedrag nie aan dieselfde beskerming onderhewig nie en wel beslaglegbaar.
[32] Ek het die belange van die Applikant as koöperasie en dié van die Respondent as individu teen mekaar opgeweeg. Dit is weliswaar so dat indien die Applikant nie die kostebevele kan verhaal nie, dit ‘n las op sy ander lede plaas. Hierdie las word egter deur meerdere lede versprei terwyl, aan die ander kant, hoewel dit ter uitvoering van ‘n hofbevel is, val die gehele las van die verhaal van die Applikant se eise op die Respondent alleen (of dan sy boedel) indien daar ‘n sekwestrasiebevel is.
[33] Myns insiens is daar egter ‘n ander uitsonderlike grond wat hierdie sekwestrasie onderskei van die oorgrote meerderheid van ander sekwestrasies: Die grootste (indien nie die enigste nie) boedelbate van die Respondent is, omrede dit gekoppel is aan sy reg tot behuising, deur ‘n bevel van hierdie hof (per monde Louw R) uitgesluit van verhaling van die Applikant se kostebevele. Indien die duidelike of inderdaad enigste gevolge van ‘n sekwestrasiebevel gaan wees om hierdie bedoeling wat in ‘n hofbevel vervat is omver te werp of ter syde te stel, dan meen ek is dit uitsonderlike gronde wat ‘n hof noop om sy diskresie daarteen uit te oefen.Selfs al neem ek in ag dat die uitoefening van die diskresies in die sake gemeld in paragraaf [29] supra alternatiewe vorme of bronne van verhaal ter sprake gehad het, meen ek dat die beperking van die Applikant se reg op verhaal grotendeels reeds oor beslis is en dat die gronde vir daardie beskerming, naamlik die beskerming van die vergoedingsbedrag wat gekoppel was aan ‘n bestaande bewoningsreg, die belange van die Applikant oorskrei.
[34] Indien, in die uitoefening van my diskresie, ‘n sekwestrasiebevel nie toegestaan word nie, is die volgende vraagstuk dié van kostes. Aangesien die hele basis van die sekwestrasie-aansoek die afdwinging van vorige kostebevele was en aangesien die vorige hofbevel van Louw, R juis die oogmerk gehad het om die Respondent se vergoedingsbedrag teen sulke kostebevele te beskerm, sal dit nie deug om nog ‘n verdere kostebevel daarby te voeg nie. Aan die ander kant het die Respondent in persoon verskyn en het hy geen koste aangegaan nie. Ek meen gevolglik dat, nadat alle aspekte deur alle partye in hulle eedsverklarings geopper asook die gesag waarna verwys is in die betoogshoofde nagegaan is, ‘n behoorlike uitoefening van my diskresie sou wees om nie die aansoek toe te staan nie en geen party te belas met die ander se koste nie.
[35] Bygevolg word die volgende bevel gemaak:
1. Die aansoek word van die hand gewys
2. Elke party word gelas om sy eie koste te betaal.
_______________________
N DAVIS
WAARNEMENDE REGTER VAN
DIE HOOGGEREGSHOF VAN
SUID-AFRIKA