South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria >> 2016 >> [2016] ZAGPPHC 627

| Noteup | LawCite

Stoltz v Sanlam Life (4370/2015) [2016] ZAGPPHC 627 (13 May 2016)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOë HOF VAN SUID-AFRIKA

(GAUTENG AFDELING, PRETORIA)

 

SAAK NOMMER: 4370 /2015

Datum: 13/5/16

Not reportable

Not of interest to other judges

Revised

 

In die saak tussen:

 

SEUNETTE ELIZABETH STOLTZ                                                                         EISERES

EN

SANLAM LIFE                                                                                              VERWEERDER

 

UITSPRAAK

 

TOLMAY, R:

[1] In hierdie saak het eiseres die verweerder gedagvaar om betaling van 'n ongeskiktheidsvoordeel  uit  hoofde  van  'n  versekeringspolis  wat eiseres by verweerder uitgeneem het. Die eiseres se eis is gebaseer op 'n voorval wat plaasgevind het in Pretoria waar sy by die werk geval het en beserings opgedoen het. Die verweerder het 'n spesiale pleit van jurisdiksie teen die eiseres opgewerp. Die partye het ooreengekom om ingevolge Reel 33(4) eers die spesiale pleit te laat besleg.

[2] Die partye het ooreengekom dat verweerder die beginlas dra. Die verweerder het een getuie, Me Fick geroep en die eiseres het ook getuig.

[3] Dit is gemeensaak dat die verweerder se geregistreerde adres en hoofplek van besigheid, waar die administrasie van die verweerder se besigheid plaasvind, te Strandstraat 2, Bellville, Wes-Kaap, gelee is. Dit is buite die regsgebied van hierdie Hof. Verder pleit die verweerder dat die adres van die verweerder soos aangedui in die dagvaarding, 'n takkantoor is  wat slegs as werksplek vir werknemers, agente en verkoopspersoneel van die verweerder dien maar waar geen lewensversekeringsbesigheid of uitreiking van polisse plaasvind nie. Hierdie bewering is in getuienis van Me Fick die hoof van nuwe besigheid en individuele lewensversekering by verweerder bevestig. Alie besluite word in die Wes-Kaap geneem en alle kontrakte word daar gesluit en na kliente van daar versend. Sy het onder kruisverhoor erken dat die bemarker in Pretoria kliente nader, die klient teken die kontrak in Pretoria, maar die kontrak word in die Wes-Kaap geteken namens die verweerder en na die klient terugversend. Sy het erken dat die voorval waarop die eis gebaseer is in Pretoia plaas gevind het, waar die eiseres op 24 Januarie 2012 by die werk geval het.

[4] Eiseres het getuig dat sy deur 'n bemarker in Pretoria genader is en dat sy die aansoek in Pretoria geteken het. Sy het later die poliskontrak deur die pas ontvang vanaf die Wes-Kaap . Enige betaling wat haar sou toeval sou inbetaal word in haar bankrekening by Capitec Bank, Glenfair, Pretoria. Sy het bevestig dat die voorval waarop die eis gebaseer is plaasgevind het by haar werk te Highveld, Centurion en sy is behandel na die insident by Unitas Hospitaal, Centurion. Haar prokureurs het die eis in Pretoria ingedien en sy is later ingelig dat dit afgekeur is.

[5] Die jursidiksie van hierdie Hof word deur artikel 21(1) van Wet 10 van 2013 bepaal dat:

"21(1) A Division has jurisdiction over all persons residing or being in, and in relation to all causes arising and all offences triable within, its area of jurisdiction and all other matters of which it may according to law take cognisance, ..."

[6] Die verweerder is 'n regspersoon wat buite die regsgebied van hierdie Hof en wel in die Wes-Kaap Provinsie gevestig is. Vir doeleindes hiervan is die verweerder dus in die Wes-Kaap "woonagtig".

[7] Eiseres se vordering teen die verweerder is op die versekeringspolis wat sy by verweerder uitgeneem het gebaseer en die insident wat tot die eis gelei het, het in Pretoria plaasgevind. Alie betalings in terme van die versekeringskontrak sou ook in Pretoria geskied. Die eiseres het dus geeis op grond van 'n kontrak wat in die Wes-Kaap gesluit is, maar wat in Pretoria uitgevoer sou word. Daarbenewens moes eiseres, om met haar eis te kan slag, ondermeer die voorval wat tot haar ongeskiktheid aanleiding gegee het bewys.[1]

[8] Die feit dat die verweerder dus buite die regsgebied van hierdie Hof gesetel is beteken nie dat die spesiale pleit noodwendig moet slaag nie omrede hierdie Hof daarbenewens ook jurisdiksie uitoefen oor : "all causes arising . . . within,   its area of jurisdiction".  In Spendiff NO v Kolektor (Pty) Ltd[2] is beslis:

" This section confers jurisdiction ... inter alia 'in relation to all causes arising ... within its area of jurisdiction  ...' A cause is said to have arisen in the area of a court's jurisdiction if at common law that court is regarded as the proper forum (Bisonboard Ltd v Braun Woodworking Machinery (Pty) Ltd 1991(1) SA 482 (A) at 486C-J). the common law ratio jurisdiction is relied on was that the appellant's cause of action arose within the area of jurisdiction ... Cause of action includes every fact which is material to be proved to entitle a plaintiff to succeed in his claim. (Evins v Shield Insurance Co Ltd 1980(2) SA 814 (A) at 838G) p 551".

[9] Dit is geykte reg dat 'n Hof in wie se regsgebied die res gestae plaasgevind het, regsbevoeg is om 'n geding aan te hoor, mits natuurlik, soos hier die geval is, die verweerder in die Republiek en nie in die vreemde gevestig is nie. Dit is ook nie nodig dat die res gestae in geheel in in die regsgebied van 'n betrokke hof moet plaasvind nie. In Ongevallekommissaris v Unie & Nasionale Versekerings-maatskappy Bpk[3] is as volg beslis:

"Dat die res gestae nie geheel en al in die regsgebied van die betrokke hof hoef plaas te vind nie, blyk egter duidelik uit die feit dat die ou en gerespekteerde jurisdiksiegrond, die lex loci contractus, beide die plek waar die kontrak gesluit is en die plek waar dit uitgevoer moet word, die locus solutionis, insluit. Op beide van hierdie plekke vind daar slegs 'n gedeelte van die res gestae plaas maar die hof van enigeen van hierdie plekke word gewoonlik as bevoeg beskou om 'n geskil ontstaande uit die kontrak te bereg.

[10] Gevolglik het die eiseres se eisoorsaak ten minste gedeeltelik binne die regsgebied van hierdie Hof ontstaan en is dit voldoende om die jurisdiksie van hierdie Hof in hierdie geding te vestig[4]. Die gevolg daarvan is dat die spesiale pleit nie kan slag nie.

 

[11] Ek maak die volgende bevel:

11.1 Die verweerder se spesiale pleit word van die hand gewys; en

11.2 Verweerder word gelas om die koste te betaal.

 

________________________

R G TOLMAY

REGTER VAN DIE HOë HOF

 

PROKUREUR VIR EISER:                    SALOMé LE ROUX PROKUREURS

ADVOKAAT VIR EISER:                       ADV B GEATCH (SC)

PROKURUER VIR VERWEERDER:     ERASMUS ING

ADVOKAAT VIR VERWEERDER:        ADV L ISPARTA

DATUM VAN VERHOOR:                      29 APRIL 2016

DATUM VAN UITSPRAAK:                   13 MEI 2016


[1] African Guarantee & Indemnity Co Ltd v Coulidge 1922 KPA 2 op 4

[2] 1992(2) SA 537 (A) op p 551 F-J

[3] Ongevallekommissaris v Unie en Nasionale Versekeringsmaatskappy Bpk 1969(3) SA 438 (O) op 440; Thomas v BMW SA (Pty) Ltd 1996(2) SA 106 (K) op 11506

[4] HARMS, Civil Procedure in the Supreme Court par A1-26/27