South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria >>
2016 >>
[2016] ZAGPPHC 898
| Noteup
| LawCite
Statusfin Finansiƫle Dienste (Edms) Bpk v Die Trustees van Tyd tot Tyd van die IET Trust en Andere (13156/2011) [2016] ZAGPPHC 898 (11 October 2016)
Download original files |
DIE GAUTENG AFDELING VAN DIE HOOGGEREGSHOF, PRETORIA
Saak nr: 13156/2011
DATUM: 11/10/2016
Raporteerbaar: Nee
Van belang vir ander regters: Nee
Hersien
In die saak tussen:
STATUSFIN FINANSIËLE DIENSTE (EDMS) BPK Eiser
en
DIE TRUSTEES VAN TYD TOT TYD
VAN DIE IET TRUST Eerste Verweerder
M J C INGWERSEN Tweede Verweerder
M J C INGWERSEN Derde Verweerder
UITSPRAAK
J W LOUW, R
[1] Die eiser verskaf finansiering aan boere vir die verbouing van somergraan gewasse. Die tweede en derde verweerders (pa en seun) was gedurende 2008 die enigste trustees van die IET Trust, ‘n familietrust wat in die Ventersdorp distrik in Noord-Wes Provinsie geboer het en steeds boer. Die trust het op 29 Augustus 2008 by die eiser skriftelik aansoek gedoen vir finansiering vir die verbouing van mielies op die plase Rietfontein (‘n ander Rietfontein as die een waarop die woonhuis geleë is waarin die tweede en derde verweerders woonagtig was), Klippan en Palmietfontein. Voortspruitend uit die aansoek, het die eiser het op 29 Oktober 2008 aan die trust ‘n skriftelike kwotasie voorsien om finansiering te verskaf in die bedrag van R615 960.00. Die derde verweerder het gedurende die voorafgaande onderhandelinge tussen die eiser en die trust voorgegee om namens die trust op te tree en het in die aansoek om finansiering en in die kwotasie wat hy namens die trust aanvaar en onderteken het, gewaarborg dat hy gemagtig is om dit namens die trust te onderteken. Die eiser het die trust op 30 Oktober 2008 skriftelik in kennis gestel dat die aansoek om finansiering goedgekeur is. Die finale terugbetalingsdatum van die lening was 31 Julie 2009.
[2] Dit is gemeensaak dat die eiser die volle finansieringsbedrag aan die trust beskikbaar gestel het deur betalings te maak aan die verskaffers van produkte soos saad, kunsmis en diesel wat benodig is om die mielies te verbou. Dit is ook gemeensaak dat daar ‘n swak oesopbrengs was. Die totale opbrengs, wat aan die eiser gesedeer is, het R231 132.16 beloop. Die eiser se hoofeis is vir betaling deur die trust (as eerste verweerder) en die tweede en derde verweerders, gesamentlik en afsonderlik, van die bedrag van R545 705.75, synde die bedrag wat ingevolge die bepalings van die ooreenkoms deur die eiser se regsadviseur gesertifiseer is as verskuldig te wees. Die tweede en derde verweerders word aangespreek op grond van borgaktes wat deur hulle onderteken is vir die skuld van die trust. Die derde verweerder het sy borgakte onderteken op die dag waarop hy die aansoek vir finansiering onderteken het. Die tweede verweerder het veel later, op 25 Januarie 2010, ‘n borgakte onderteken.
[3] Die derde verweerder het nie verdediging aangeteken nie. Vonnis is by verstek teen hom toegestaan en sy boedel is sedertdien gesekwestreer. Die eiser het ‘n aansoek vir summiere vonnis teen die eerste en tweede verweerders geliasseer. Die eerste en tweede verweerders het ‘n opponerende verklaring geliasseer waarin ontken word dat die tweede verweerder die derde verweerder gemagtig het om namens die trust die finansieringsooreenkoms met die eiser te eiser sluit en die betrokke dokumente te onderteken. Die trustakte bepaal dat besluite van die trust by meerderheidstem geneem moet word. Dit bepaal verder dat die trustees geregtig is om een of meer van hulle te magtig om alle dokumente wat nodig is vir die uitvoering van enige transaksie wat verband hou met die trust se sake namens die trust te teken.
[4] Die eiser het na aanleiding van die opponerende verklaring sy besonderhede van vordering gewysig deur bewerings by te voeg dat die tweede verweerder die derde verweerder uitdruklik, alternatiewelik stilswyend, gemagtig het om die leningsooreenkoms met die eiser aan te gaan. Alternatiewe skuldoorsake is ook bygevoeg. Die eerste is dat indien dit bevind sou word dat daar nie ‘n geldige ooreenkoms tussen die eiser en die trust tot stand gekom het nie, die eiser, deur die leningsbedrag van R615 960.00 voor te skiet, met daardie bedrag verarm is, die trust op sy beurt met daardie bedrag verryk is, en dat die eiser op grond van die condictio sine causa, alternatiewelik die condictio indebiti, alternatiewelik ‘n algemene verrykingsaksie, geregtig is om, met inagneming van die bedrae wat deur die trust betaal is, die bedrag van R545 705.75 van die trust te verhaal, vir betaling van welke bedrag die tweede en derde verweerders as borge aanspreeklik is. Die tweede alternatiewe eis wat bygevoeg is, is dat die tweede en derde verweerders die trust misbruik het deurdat daar geen onderskeid gemaak is tussen die bates van die tweede en derde verweerders en dié van die trust nie en dat die bates van die trust gevolglik uitwinbaar verklaar moet word ten bate van die eiser.
[5] Die verwere wat deur die eerste en tweede verweerders gepleit en geargumenteer is, is opsommenderwys -
[a] dat die derde verweerder geen magtiging gehad het om die trust te verbind sonder die toestemming van die tweede verweerder nie;
[b] dat daar ingevolge die voorwaardes van die kontrak algehele risikoversekering uitgeneem is ter versekering van die opbrengs van die oes waarvan die premies betaal is uit die finansiering wat die eiser aan die trust bewillig het; dat daar ‘n geldige eis teen die versekeraar (Santam) was; dat die eis teen Santam aan die eiser gesedeer is; en dat die eiser nalatiglik versuim het om ‘n eis teen Santam in te stel, welke eis enige moontllike uitstaande skuld van die trust teenoor die eiser sou uitgewis het;
[c] dat die eiser se alternatiewe eis gebaseer op ongegronde verryking verjaar het;
[d] dat die trust in elk geval nie verryk is nie.
Die hoofeis
[6] Me Petro Erasmus is ‘n finansiële bemarker in diens van die eiser by die eiser se Rustenburg tak. Sy het getuig dat sy sedert 2000 in diens is van die eiser wat tans bekend staan as Obaro Finansiële Dienste (Edms) Bpk (“Obaro”). Die hoofkantoor van die eiser is in Brits en dit het verskeie takkantore.
[7] Me Erasmus het getuig dat sy na aanleiding van ‘n telefoonoproep wat sy van die takbestuurder van die eiser se Magaliesburg tak, Mnr Jaco Greeff, ontvang het, die tweede en die derde verweerder by hul woonhuis op die plaas Rietfontein besoek het. Sy is deur Mnr Greeff meegedeel dat hy met die tweede verweerder by die kerk gepraat het en dat dié hom meegedeel het dat hulle in finansiering belangstel. Sy het die nommer geskakel wat aan haar voorsien is en die oproep is deur die derde verweerder beantwoord. ‘n Afspraak is gereël vir 29 Augustus 2008. Mnr Greeff het haar na die plaas vergesel.
[8] Toe hulle op die plaas aankom, het hulle die derde verweerder ontmoet. Hulle het saam met hom na die kantoor in die woonhuis gegaan. Daar het sy haar rekenaar en drukker, wat sy saamgeneem het, uitgehaal en begin om die inligting wat sy benodig het, en wat deur die derde verweerder aan haar verskaf is, op die relevante vorms in te vul. Hulle werk is onderbreek deur ‘n middagete wat bedien is. Sy is in die eetkamer aan die tweede verweerder voorgestel. Die persone wat vir die ete aangesit het was Me Erasmus, Mnr Greeff, die tweede en derde verweerders en een of meer gaste van die tweede verweerder. Me Erasmus kon nie onthou hoeveel gaste daar was nie.
[9] Na die ete is Me Erasmus en die derde verweerder terug na die kantoor waar hulle verder gewerk het. Die tweede verweerder het gevra om verskoon te word. Hy en die gas of gaste is toe daar weg. Nadat die dokumente deur Me Erasmus voltooi en uitgedruk is, is dit deur die derde verweerder onderteken. Die dokumente was ‘n aansoek om ‘n kredietfasiliteit (“die aansoek”), ‘n borgakte en ‘n sessie-ooreenkoms wat voorsiening gemaak het vir die sessie van die beoogde oes. Die aansoek was vir ‘n bedrag van R1 837 000.00 vir die aanplant van wit mielies op 420 ha. Die bedrag van die fasiliteit is op ‘n later datum op versoek van die derde verweerder verminder na R615 950,00 omdat hy as gevolg van droogte op daardie stadium besluit het om minder hektare te plant.
[10] Die derde verweerder het die aansoek twee keer op elke bladsy geparafeer en dit twee keer aan die einde onderteken. Me Erasmus se verduideliking hiervoor was dat die derde verweerder waarskynlik die eerste keer met ‘n blou pen geteken het en dat sy hom sou gevra het om weer met ‘n swart pen te teken aangesien alle dokumente met ‘n swart pen onderteken moes word. Die borgakte het voorsiening gemaak vir ondertekening deur die tweede en die derde verweerders. Hulle het dieselfde voorname maar hul identiteitsnommers, wat op die borgakte deur Me Erasmus ingevul is, en wat deur die derde verweerder aan haar verskaf is, verskil uiteraard. Die borgakte is slegs deur die derde verweerder onderteken. Die sessie-ooreenkoms het net vir een handtekening voorsiening gemaak en dit is ook deur die derde verweerder onderteken. Op die aansoek en die sessie-ooreenkoms verskyn die volgende woorde onder die derde verweerder se handtekening:
“(indien die ondertekenaar in ‘n verteenwoordigende hoedanigheid namens ‘n regsentiteit onderteken waarborg hy dat hy ten volle daartoe gemagtig is)”.
Die derde verweerder het verder ‘n kopie van die magtigingsbrief ingevolge waarvan hy en die tweede verweerder as trustees van die trust aangestel is, asook ‘n kopie van die trustakte, aan Me Erasmus verskaf.
[11] Dit is gemeensaak dat die tweede verweerder op 25 Januarie 2010 (ongeveer 6 maande nadat die finansieringsbedrag plus rente terugbetaalbaar was), ‘n borgakte vir die trust se skuld aan die eiser onderteken het. Hierdie borgakte is ook deur die derde verweerder onderteken. Me Erasmus het getuig oor die omstandighede wat tot die ondertekening van die borgakte aanleiding gegee het. Sy het gesê dat dit standaard praktyk van die eiser is dat as daar meerdere trustees is, al die trustees borg moet teken vir die trust se skuld. Sy het egter nagelaat om toe te sien dat die eerste borgakte deur die tweede verweeerder onderteken word. Toe die fout agtergekom is, was sy in die moeilikheid by haar werkgewer. Sy het die derde verweerder geskakel en ‘n afspraak gereël. Haar senior, Mnr. Kobus Viljoen, het haar na die plaas vergesel. Toe hulle op die plaas kom, het die derde verweerder en Viljoen uitgestap na die hoenders. Die trust het op hierdie plaas, wat slegs ongeveer 40 ha groot is, met hoenders geboer. Me Erasmus het aan die tweede verweerder verduidelik dat sy in die moeilikheid was en hom gevra om haar te help om uit die moeilikheid te kom. Sy het getuig dat die tweede verweerder glad nie moeilik daaroor was nie en dat hy die borgakte geteken het nadat hy vrae gevra het. Die besonderhede wat sy op die borgakte ingevul het, het sy van die tweede en die derde verweerders gekry.
[12] Die derde verweerder het getuig dat hy ‘n goeie verhouding met sy pa het. Sy pa maak egter altyd die finale besluite en as hy nee sê, verander hy nie van besluit. Die derde verweerder het voordat hy saam met sy pa begin boer het, in die VSA met mielies geboer. Met sy terugkeer, is hy in die plek van sy ma as trustee van die trust aangestel en het hy en sy pa, met gebruikmaking van die trust as ‘n voertuig, saam begin boer. Afgesien van die hoenders, het die trust op ander plase in die omgewing, by name Klippan en Palmietfontein, met skape en beeste geboer. Die landerye op Klippan is 53 ha groot en wanneer daar tekens van droogte was, is voer soos hawer en radyse daar geplant. Palmietfontien is volgens die derde verweerder se skatting ongeveer 200 ha groot en die landerye daarop ongeveer 100 ha. Die derde verweerder het gedink dat dit goed sal wees om mielie-boerdery by te voeg by die ander boerdery aktiwiteite van die trust. Hy het gesê dat daar nie voorheen op die plase waarop die trust geboer het, mielies geplant is nie. Hy het die moontlikheid om mieles te plant met sy pa bespreek, maar dié het dadelik nee gesê.
[13] Die derde verweerder het getuig dat hy deur Me Erasmus gekontak is vir ‘n afspraak. Sy het hom meegedeel dat sy by Jaco Greeff gehoor het dat hy wil mielies plant. Hy het geweet dat Jaco Greeff die takbestuurder van Obaro op Magaliesburg was. Die derde verweerder het nie getuig dat hy vooraf enige gesprek met Jaco Greeff gehad het nie. Die enigste ander persoon met wie Greeff ‘n gesprek oor finansiering kon gehad het, is die tweede verweerder.
[14] Oor die besoek van Me Erasmus en die ondertekening deur hom van die dokumente, het die derde verweerder getuig dat Me Erasmus inligting van hom gevra het en dat sy ook vir die finansiële state van die trust, die trustakte en inligting oor die boerdery gevra het. Hy het getuig dat hy vir haar gesê het dat hy ‘n trustee van die trust is maar dat hy nie vir haar gesê het dat sy pa ‘n trustee van die trust is nie. Sy getuienis dat hy nie vir haar gesê het dat sy pa ‘n trustee is nie, is duidelik onwaar. Die tweede verweerder se volle name en sy identiteitsnommer is deur Me Erasmus op die borgakte wat by daardie geleentheid deur die derde verweerder onderteken is, ingevul. Die enigste person by wie sy daardie inligting kon gekry, was die derde verweerder.
[15] Op die eerste bladsy van die aansoek word inligting verlang oor “Oeste op hande”. Teenoor “Produk” is die woorde “Geel Mielies Droe Land” ingevul.” Teenoor “Verbou op (plaasnaam)” is “Klaar geoes” ingevul en teenoor “Verwagte oeswaarde” is “R680 000.00” ingevul. Die tweede verweerder het getuig dat hy hierdie inligting vir Me Erasmus gegee het maar dat die mielies waarna hier verwys word, mielies is wat aangekoop is vir hoendervoer. Hy het in kruisverhoor gesê dat die mielies in silo’s was en het nie betwis dat die inligting wat hy daaroor aan Me Erasmus verstrek het, vals was nie.
[16] Die derde verweerder het getuig dat sy pa nie teenwoordig was toe Me Erasmus gedurende Oktober 2008 vir hom die kwotasie vir die verlening van finansiering in die bedrag van R615 950.00 gebring het en hy die kwotasie aanvaar en onderteken het nie. Sy getuienis was dat hy alles agter sy pa se rug gedoen het omdat hy geweet het dat sy pa teen die plant van mielies gekant was. Dit is in kruisverhoor aan hom gestel dat indien hy nie wou hê dat sy pa moet uitvind waarmee hy besig is nie, daar ‘n risiko was dat sy pa vir Me Erasmus sou sien en hom dan op heterdaad sou betrap. Sy onoortuigende antwoord was dat hy nie so daaraan gedink het nie.
[17] Na die toestaan van die lening deur die eiser, het die derde verweerder voortgegaan met reëlings vir die aanplant van mielies op Klippan, Palmietfontein en Rietfontein (waarna in getuienis verwys is as Rietfontein 2 om dit te onderskei van die Rietfontein plaas waar die tweede en derde verweerders woonagtig was). In die geval van Rietfontein 2, het die derde verweerder ‘n huurkontrak in die naam van die trust aangegaan met die eienaar, Mnr Ben Wilken. Die derde verweerder het getuig dat hy vir Wilken, vir wie die tweede verder goed geken het, gevra het om dit vir homself te hou en nie vir die tweede verweerder daarvan te sê nie. Die plaas Klippan het aan die derde verweerder se ma se broer, Mnr Neels Meyer, behoort maar wat nie self op die plaas geboer het nie. Die bestaande reëling was dat die verweerders die plaas kon gebruik sonder betaling van huurgeld en dat hulle net die plaas in stand moes hou. Die derde verweerder het dit nie nodig geag om met Mnr Meyer te praat oor sy plan om mielies op Klippan te plant nie. Die plaas Palmietfontein het aan die Jenko Trust, waarvan ene oom Ben (nie Ben Wilken nie) die trustee was, behoort. Die derde verweerder se getuienis was dat sy pa die lande van die plaas by oom Ben gehuur het. Die ooreenkoms met oom Ben, wat swaar gekry het, was dat daar nie huurgeld betaal word nie, maar dat as “ons” mielies plant, hy die mieliereste vir veevoer kan kry. Hierdie getuienis is natuurlik strydig met die derde verweerder se getuienis dat sy pa gekant was teen die plant van mielies.
[18] Die derde verweerder het in kruisverhoor getuig dat sy pa vir Jaco Greeff geken het as ‘n seuntjie wat saam met die derde verweerder op skool was. Hy het aanvaar dat Greeff die dag toe hy saam met Me Erasmus op die plaas was, vir sy pa sou gesê het dat hy die takbestuurder van Obaro in Magaliesburg was. Hy is verwys na Me Erasmus se getuienis dat Greeff by die kerk vir sy pa gesê het dat hulle finansiering soek. Sy antwoord daarop was dat hulle nie in dieselfde kerk is nie. Hy is toe gevra waarom hy nie vir die verweerders se advokaat gesê het dat dit nie die waarheid is nie. Sy antwoord was dat hy die getuienis gehoor het maar dat hy nie die vorige dag toe Me Erasmus getuig het, baie lekker gevoel het nie. Hy is toe gevra of hy self by ‘n kerkgeleentheid so ‘n opmerking teenoor iemand gemaak het. Sy antwoord was “ek sou seker”. Hy het bygevoeg dat hy sou gesê het hy wil mielies plant en het verder bygevoeg dat hy nie kan onthou wie die persoon is vir wie hy dit gesê het nie. Ek vind dit baie onwaarskynlik dat die derde verweerder, indien dit hy was wat navraag oor finansiering gedoen het, nie kan onthou of hy met Greeff of iemand anders gepraat het nie. Dit was ‘n groot projek wat hy na bewering op sy eie aangepak het om ‘n droom te verwesenlik. Sy aanvanklike oogmerk was om 420 ha mielies te plant waarvoor hy vir finansiering ten bedrae van R1 837 000.00 aansoek gedoen het.
[19] Die derde verweerder het in kruisverhoor toegegee dat sy pa vir Me Erasmus tydens hulle ontmoeting op die plaas sou gevra het van waar af sy kom en dat sy sou geantwoord het dat sy van Obaro of Statusfin af kom. Hy is daarna gevra oor sy pa se gesprek met Jaco Greeff. Die getuienis het soos volg verloop:
“So hier kom nou ‘n takbestuurder van ‘n tak aan wat nie veronderstel is om normaalweg hier uit te kom nie. Korrek? --- Dit is reg , ja
Dit lyk snaaks. --- Dit was sy eerste keer. Dit was sy eerste keer wat hy daar was.
Dit lyk snaaks nê? --- Ja, dit is vreemd.
Dit is vreemd. Ja. Goed. So u vader sou hom seker gevra het, my magtig Jaco nou wat … waarmee kan ons jou help? Kom kuier jy ‘n bietjie hier of wat kom maak julle kerels hier? --- Hy sou hom seker gevra het.
Ja. En hulle sou seker die eerlike antwoord gegee het nee, ons is hierso om vir julle (te) help met finansiering. --- Daar is ‘n moontlik … ja hy kon dit gesê het ja.
Dan het u pa mos geweet … dan het u pa mos geweet hulle is daar en hulle is daar om finansiering te oorweeg, nie waar nie? --- Ek … hy kon ook … ja, hy kon.
Wel, op die waarskynlikhede as ons so deur die getuienis gaan, dan sal u met my saamstem, nie waar nie, dat die mees waarskynlike ding is dat weens u vader se interaksie met hierdie twee verteenwoordigers van Statusfin hy geweet het hulle is daar om finansiering te bemark? --- Ja, dat ons praat … wil praat oor mielies.
Ja. Goed. O, nogal oor mielies ook? --- Ja, want mielies word mos geplant in die omgewing.
Goed. So met ander woorde u sê hulle sou … hy sou nie net geweet het hulle praat … julle gaan oor finansiering praat nie, maar julle gaan oor finansiering vir mielies praat, nie waar nie? --- Nee, ek sou dit nie … nee.
Verander u nou u getuienis? --- Nee, ek verander nie die getuienis nie.
Ja? Dit is wat u gesê het. --- Ja, oordat daar mielies geplant word en ‘n koöperasie het so baie dinge in hom in, dit kon oor mielies gewees het.
Ja. ---Maar dit is nie dat dit die … honderd present uitsluitlikis dat jy net altyd…net oor ‘n mielie sal praat nie.
Nee, maar dit sal honderd present oor finansiering wees en miskien oor mielies. Korrek? --- Ja, dit … ja.”
(My beklemtoning)
[20] Hoewel die derde verweerder aan die einde prober terugkrabbel het, is dit uit sy aanvanklike getuienis duidelik dat die tweede verweerder sou geweet het dat die twee verteenwoordigers daar was om te praat oor finansiering vir die plant van mielies. Die derde verweerder is daarna gevra oor die gesprek wat hy later die aand met sy pa gehad het. Hy het toegegee dat hy vir sy pa gesê het dat hy daardie middag met Me Erasmus en Jaco Greeff oor finansiering vir die plant van mielies gepraat het. Hy het egter ontken dat hy vir sy pa gesê het dat hy namens die trust aansoek gedoen het vir finansiering. Hy het gesê hy het maar “om die ding gepraat”. Hy kon nie sê hoe hy daar om gepraat het nie. Dit is weer aan hom gestel dat uit die gesprek wat hy die aand met sy pa gehad het, sy pa sou geweet het dat hy die mense van die eiser gesien het vir finansiering vir mielies, wat hy erken het. Hy is toe gevra of sy pa hom daaroor aangespreek het. Sy antwoord was dat “die kans is goed dat hy met my sou gepraat het oor dit en dat ek nie moet aangaan met dit nie”. Hy weet egter nie wat hy toe daarop vir sy pa gesê het nie.
[21] Hierdie getuienis van die derde verweerder is onoortuigend. Al die boerdery besigheid wat die tweede en derde verweerders tot op daardie stadium gedoen het, is in die naam van die trust gedoen. Die derde verweerder het gereeld op naam van die trust aankope vir die boerdery gedoen. Sy pa het nie ‘n probleem daarmee gehad nie. Die stroper, planters en ander implemente wat aan die trust behoort, en waarvoor die derde verweerder geheel of gedeeltelik betaal het met geld wat hy in die VSA verdien het, is gebruik om inkomste vir die trust te verdien deur op ander boere se plase plant- en stroopwerk te doen. Die tweede verweerder moes geweet het dat indien daar deur die derde verweerder aansoek vir finansiering vir die plant van mielies gedoen sou word, dit in die naam van die trust gedoen sou word. Hy het geen rede gehad om te dink dat die derde verweerder, wat nie enige bates van sy eie gehad het nie, dit in eie naam sou doen nie. Indien die tweede verweerder so sterk gekant was teen die plant van mielies soos wat die derde verweerder, en ook die tweede verweerder, getuig het, sou mens verwag het dat die tweede verweerder nie slegs sou gesê het dat die derde verweerder nie daarmee moet aangaan nie. Hy sou hom uitdruklik verbied het om dit te doen.
[22] Volgens die tweede en die derde verweerders se getuienis, het die tweede verweerder vir die eerste keer uitgevind van wat die derde verweerder mee besig was toe die tweede verweerder op ‘n dag een van die trust se werknemers met die trekker en ‘n planter gekry het op pad van die stoor op Klippan na Rietfontein 2. Dit was aan die einde van November 2008 toe die derde verweerder sou begin het om te plant. Volgens die derde verweerder was sy pa baie kwaad en moes hy toe met die sak patats uitkom. Hy het vir sy pa gesê dat hy in die naam van die trust finansiering by die eiser gekry het. Daar is vir hom gevra of sy pa nie toe voorgestel het dat, aangesien die derde verweerder sonder sy wete en toestemming opgetree het en die trust op risiko was, die eiser geskakel word om die hele ding te stop nie. Sy antwoord was dat hy vir sy pa gesê het dat hy versekering by Santam verkry het en as daar nie ‘n oes is nie, Santam sal betaal. Hy het dit gesê om sy pa gerus te stel. Dit het egter uit sy verdere getuienis geblyk dat die versekering op daardie stadium nog nie in plek was nie.
[23] Dit blyk uit die tweede verweerder se getuienis dat hy nie, toe hy hiervan uitgevind het, die eiser geskakel het en ingelig het dat hy nie geweet het dat die derde verweerder namens die trust vir finansiering aansoek gedoen het nie, en dat hy as mede-trustee gekant was teen die plant van mielies nie. Hy het ook nie gepoog om die transaksie te kanselleer nie. Dit moet onthou word dat toe die tweede verweerder die werker met die trekker en die planter teëgekom het, daar nog geen mielies geplant was nie.
[24] Die derde verweerder was teenwoordig toe sy pa die borgakte op 25 Januarie 2010 geteken het. Sy pa se reaksie teenoor hom was dat “ons” hom in ‘n blik druk. Hy kon egter nie onthou wat sy pa vir die eiser se verteenwoordigers gesê het nie. Indien sy pa erg kapsie teen die ondertekening van die borgakte gemaak het, soos wat die tweede verweerder getuig het, sou mens verwag het dat die derde verweerder dit sou onthou het.
[25] Die derde verweerder het nie as ‘n getuie beïndruk nie. Hy het oor ‘n belangrike aspek nie die waarheid gepraat nie, naamlik dat hy nie vir Me Erasmus op 29 Augustus 2008 gesê het dat sy pa ‘n trustee van die trust is nie. Hy het dit klaarblyklik gesê om sy weergawe te staaf dat hy alles agter sy pa se rug gedoen het. Hy het egter skynbaar vergeet dat sy pa se besonderhede op die eerste borgakte deur Me Erasmus ingevul is en dat hy die person is wat al die inligting vir die voltooiing van die dokumente aan haar verskaf het. Sy getuienis was dat hy gedink het dat hy gemagtig is om alleen te teken. Hy het in die verlede met sy pa se goedkeuring alleen namens die trust gehandel. Dit is die klaarblyklike rede waarom hy dit nie nodig geag het dat sy pa die aansoek onderteken nie, nie omdat hy die transaksie van sy pa wou wegsteek nie. Die derde verweerder het probeer voorgee dat hy die persoon was wat vooraf met iemand oor finansiering gepraat het, maar kon nie onthou wie die persoon was en kon geen besonderhede van die gesprek gee nie. Hy het dit waarskynlik gesê om weg te kom van Me Erasmus se getuienis dat Greeff deur die tweede verweerder vir finansiering genader is.
[26] Die tweede verweerder is ‘n trustee van die trust sedert die stigting daarvan. Die huidige trustees is die tweede verweerder, sy vrou en die derde verweerder se jonger broer. Die trust begunstigdes is die tweede verweerder, sy vrou en hulle vyf kinders.
[27] Die tweede verweerder het getuig dat hy geheel en al gekant is teen akkerbou. Op ‘n stadium het die tweede verweerder en sy jonger broer hom gevra of hulle mielies kan plant. Sy antwoord was nee. Hy het gesê dat hy geen aandeel in die dokumente gehad het wat deur die derde verweerder onderteken is nie. Die eerste keer wat hy bewus geword het dat daar mielies geplant word, was toe hy die werker met die trekker en die planter langs die pad gekry het wat hom meegedeel het dat hy op pad is om mielies te plant. Hy het daarna vir die derde verweerde gekonfronteer en was baie kwaad. Hy kan nie onthou wat die derde verweerder vir hom gesê het nie. Hy het nie toe vir die eiser enigiets laat weet nie. Hy het getuig dat hy homself net van alles gedistansieer het.
[28] Die tweede verweerder weet van die geleentheid wat Me Erasmus by hulle op die plaas geëet het. Hy het gaste gehad en daar is gladnie aan tafel oor finansiering gepraat nie. In kruisverhoor het hy gesê dat hy nie geweet het dat Me Erasmus en Jaco Greeff van Statusfin was nie. Hy is gevra of hy nie homself aan Me Erasmus voorgestel het nie. Sy antwoord was dat hy haar gesien het, maar dat hy sy eie gaste gehad het en dat hy nie glo dat hy eers haar naam gehoor het nie. Hy het vir Jaco Greeff geken en het hom gevra na sy ouers. Hy het nie geweet dat Greeff die takbestuurder van die eiser Magaliesburg tak was nie. Hy weet nie wat sy kinders doen nie en het nie vir Me Erasmus of Jaco Greeff gevra wat hulle daar maak nie.
[29] Hy is verder in kruisverhoor gevra of hy die derde verweerder later daardie dag weer gesien het. Hy kon dit nie onthou nie. Hy is gevra of hy, toe hy die derde verweerder weer sien, hom gevra het wat die mense daar kom maak het. Sy antwoord was dat hy hom nie met die kinders se besigheid inmeng nie. Hy het dit nie vreemd gevind dat hy nie geweet het waar die mense vandaan gekom het en het ook nie later vir die derde verweerder daaroor gevra het nie.
[30] Nadat die tweede verweerder uitgevind het dat die derde verweerder besig was om mielies te plant en hom daaroor gekonfrontweer het, het die derde verweerder net vir hom gesê dat hy finansiering verkry het. Die tweede verweerder het hom nie gevra by wie hy die finansiering verkry het of namens wie hy dit verkry het nie. Hy is gevra of hy nie daarna gedink het dat dit belangrik was om uit te vind namens wie die finansiering gedoen is nie. Sy antwoord was ja, maar dat die derde verweerder net vir hom gesê het dat hy nie bekommerd moes wees nie aangesien daar versekering uitgeneem is. Hy kon nie onthou of hy uitgevind het by wie die versekering uitgeneem is nie. Toe hy op ‘n stadium uitgevind het dat die finansiering opgeneem is in die naam van die trust, was hy erg ontsteld. Hy het egter nie daaraan gedink om uit te vind by wie die finansiering verkry is of vir hoeveel nie. Hy wou nie weer ‘n argument met die derde verweerder ontlok nie.
[31] Ten spyte van sy beweerde onbetrokkenheid by die mielies, het die tweede verweerder saam met sy vriend Ben Wilken na die stand van die mielies gaan kyk en vir Wilken gesê dat ‘n opbrengs van meer as 5 of 5,5 ton per ha nonsens was en dat hy, die tweede verweerder, ‘n misoes verwag. Die derde verweerder se getuienis was dat Santam se verteenwoordigers, na inspeksies wat hulle gedoen het, van mening was dat die opbrengs 5 tot 5,5 ton per ha sou wees. Die syfer van 5 tot 5,5 ton per ha het die tweede verweerder klaarblyklik by die derde verweerder gekry. Die tweede verweerder is in kruisverhoor verwys na ‘n verslag van Santam se verhoudingsbestuurder in Klerksdorp, ene Gideon Roux, waarin gemeld word dat, nadat die derde verweerder vir Roux geskakel het en meegedeel het dat die opbrengs op Rietfontein 2 slegs 1.7 ton per ha was nadat daar gestroop is, die tweede verweerder die seuns gestop het en hulle opdrag gegee het om ‘n opbrengsbepaling aan te vra op die ander twee plase. Die tweede verweerder moes dus bewus gewees het van Santam se vereistes in hierdie verband. Die tweede verweerder kon nie onthou dat hy dit gedoen het nie nie, maar bygevoeg dat enige bobbejaan enigiets op skrif kon stel. Dit was ‘n belaglike stelling om te maak en is klaarblyklik gemaak met die bedoeling om hom te distansieer van enige betrokkenheid by die verbouing van die mielies. Indien hy nie by die verbouing van die mielies betrokke was nie, was hy nie in die posisie om enige opdragte aan die seuns te gee nie.
[32] Oor sy ondertekening van die borgakte op 25 Januarie 2010 het die tweede verweerder getuig dat Me Erasmus hom geskakel het vir ‘n afspraak en dat die tweede verweerder teenwoordig was toe sy en ‘n man met ligte hare op die plaas aangekom het. Die tweede verweerder het getuig dat hy gekant was teen die ondertekening van ‘n borgakte en dat hy erg kapsie daarteen gemaak het. Me Erasmus het hom gevra om asseblief die borgakte te teken want daar was groot moeilikheid omdat hy nie aanvanklik as borg geteken het nie. Die ander persoon het dit ook gesê. Hy het vir hulle gesê dat as hy toestemming (vir die transaksie) gegee het, hy borg sou teken, maar dat hy nie toestemming gegee het nie. Hulle het vir hom gesê daar sal niks gebeur as hy teken nie, hulle word net gedruk dat die papierwerk moet regkom. Hy het toe die borgakte onderteken. Hierdie getuienis is nie aan Me Erasmus gestel toe sy gekruisverhoor is nie. Soos gemeld, was haar getuienis dat sy aan die tweede verweerder verduidelik het dat sy in die moeilikheid was en hom gevra het om haar te help om uit die moeilikheid te kom en dat die tweede verweerder glad nie moeilik daaroor was nie en die borgakte geteken het nadat hy vrae gevra het.
[33] Die tweede verweerder is gevra of hy aan sy regsverteenwoordigers gesê het dat hy mislei is om die borgakte te teken. Hy het geantwoord dat hy dit vir óf sy advokaat óf sy prokureur gesê het. Dit is toe aan hom gestel dat indien hy dit vir een van hulle sou gesê het, dit as ‘n verweer gepleit sou gewees het en dat dit iets was wat hy in die getuiebank uitgedink het. Hy het nie op een van die twee stellings geantwoord nie.
[34] Die tweede verweerder is gevra hoekom hy nie, toe hy gevra is om borg te teken, gesê het dat die eiser na die versekering moet kyk en geweier het om borg te teken nie. Sy antwoord was dat hy geteken het omdat Me Erasmus vir hom gesê het dat sy in die moeilikheid was. Volgens hom het hy nog nie op daardie stadium geweet dat daar probleme met die versekeringseis was nie en het hy eers teen die middel van 2010 daarvan uitgevind het. Toe dit aan hom gestel is dat indien hy nie geweet het van die probleme met die versekering nie, hy nie die borgakte sou geteken het nie, het hy weer gesê dat hy geteken het omdat daar vir hom gesê is dat Me Erasmus in die moeilikheid was en dat sy haar werk gaan verloor. Toe dit aan hom gestel is dat sy nie gesê het sy gaan haar werk verloor nie, het hy saamgestem. Dit was met ander woorde iets wat hy net daar in die getuiebank uitgedink het.
[35] Die tweede verweerder se getuienis dat hy gekant was teen die ondertekening van ‘n borgakte en dat hy erg kapsie daarteen gemaak het toe hy gevra is om die borgakte te teken, is waarskynlik ook iets wat hy in die getuiebank uitgedink het. Toe hy in kruisverhoor gevra is waarom dit nie aan Me Erasmus gestel is nie, was sy antwoord dat hy nie in die hof kon praat nie. Me Erasmus se hoofgetuienis is voor die middagete verdaging op die eerste dag van die verhoor voltooi en haar kruisverhoor het eers na die verdaging begin. Daar was dus ruim geleentheid vir die tweede verweerder om met sy regsverteenwoordigers te kommunikeer en hulle van instruksies te voorsien.
[36] Die tweede verweerder het nie as ‘n geloofwaardige getuie beïndruk nie. Soos hierbo gemeld, het hy getuienis gegee wat hy in die getuiebank uitgedink het. Hy was ontwykend en het gesê dat hy sekere dinge nie kon onthou nie terwyl mens sou verwag het dat hy, in die lig van sy beweerde streng teenkanting teen die plant van mielies, dit duidelik in herinnering sou kon roep. Daar is ‘n poging in herverhoor aangewend om sy gebrekkige geheue aan sy ouderdom van byna 70 toe te skryf, maar my indruk was dat hy helder van verstand is.
[37] Wat verder van belang is, is die onwaarskynlikhede in die tweede verweerder asook die derde verweerder se weergawes. Dit is na my mening totaal onwaarskynlik dat die tweede verweerder nie tydens die middagete op 29 Augustus 2008 sou uitgevind het wie Me Erasmus is en dat sy en Jaco Greeff van die eiser afkomstig was nie. Die derde verweerder het beaam dat sy pa dit waarskynlik vir die mense sou gevra het. As die tweede verweerder geweet het dat hulle van die eiser af is, sou hy geweet het hulle is daar om besigheid te doen. Die derde verweerder het toegegee dat weens die tweede verweerder se interaksie met hierdie twee verteenwoordigers van die eiser, hy sou geweet het hulle is daar om finansiering te bemark vir mielies. En as hy dit geweet het, was hy klaarblyklik tevrede dat die derde verweerder voortgaan om die nodige reëlings vir die finansiering met hulle te tref. Hy moes ook, soos vroeër gemeld, besef het dat die derde verweerder dit in die naam van die trust sou doen aangesien die derde verweerder nie enige bates van sy eie gehad het nie en alle boerdery besigheid tot op daardie stadium in die naam van die trust gedoen is.
[38] Wat die onwaarskynlikheid van die tweede en derde verweerders se weergawe dat die tweede verweerder nie geweet het waarmee die derde verweerder besig is nie, verder ondersteun, is die daaropvolgende gedrag van die tweede verweerder. Nadat hy uitgevind het dat daar in die naam van die trust aanoek om finansiering gedoen is, het hy niks gedoen om uit te vind by wie daar aansoek gedoen is en vir watter bedrag nie. Toe hy gevra is waarom hy nie navraag gedoen het nie, was sy antwoord dat die tweede verweerde hom gerusgestel het dat daar versekering uitgeneem is. Voordat die derde verweerder begin het om te stroop, het die tweede verweerder die mening gevorm dat daar ‘n misoes sou wees. Soos gemeld, blyk dit uit die verslag van Santam se verhoudingsbestuurder dat die tweede verweerder met hom gepraat het en hom meegedeel het dat hy die derde verweerder en sy broer gestop het om verder te stroop en hulle opdrag gegee het om ‘n opbrengsbepaling op die ander twee plase aan te vra. Die tweede verweerder het dus van die versekering geweet en sou op waarskynlikhede bewus gewees het van die probleem rondom die uitbetaling van ‘n versekeringseis op die stadium toe hy die borgakte in Januarie 2010 onderteken het. Indien hy nie daarvan bewus was nie, soos wat hy getuig het, sou mens verwag het dat hy sou geweier om die borgakte te teken en vir die eiser se verteenwoordigers gesê het om betaling van die versekeraar te eis.
[39] ‘n Verdere onwaarskynlikheid dat die derde verweerder agteraf en sonder die kennis van die tweede verweerder met die eiser vir finansiering gereël het, is die feit dat die derde verweerder met Me Erasmus ‘n afspraak gemaak het om hom by die huis op die woonplaas te kom sien. As hy dit agteraf wou gedoen het, is dit hoogs onwaarskynlik dat hy die ontmoeting by die plaas sou gereël het waar sy pa haar sou kon raakloop en navraag doen oor wat sy daar kom maak. Hy sou sekerlik dan die ontmoeting op ‘n ander plek, byvoorbeeld by Me Erasmus se kantoor, gereël het. Die volgende ontmoeting met Me Erasmus in Oktober 2008 het weer op die plaas plaasgevind. Dit is onwaarskynlik dat die derde verweerder dit so sou gereël het as die tweede verweerder nie geweet het waarmee hy besig is nie.
[40] In Land and Agricultural Bank of South Africa v Parker & Others[1] het Cameron AR die volgende ten opsigte van familie trusts gesê:
“[37.1] As mentioned earlier, within its scope the rule that outsiders contracting with an entity and dealing in good faith may assume that acts performed within its constitution and powers have been properly and duly performed, and are not bound to inquire whether acts of internal management have been regular, may well in suitable cases have a useful role to play in safeguarding outsiders from unwarranted contestation of liability by trusts that conclude business transactions
[37.2] The inference may in appropriate cases be drawn that the trustee who concluded the allegedly unauthorised transaction was in fact authorised to conduct the business in question as the agent of the other trustees. (In Nieuwoudt,[2] the matter was sent back for evidence to be heard on how the farmer there conducted the ordinary business of farming without being
authorised thereto by his wife, the other trustee.) Such an inference may in a suitable case be drawn from the fact that the other trustees previously permitted the trustee or trustees in effective charge of affairs free rein to conclude contracts. A close identity of interests between trustee-beneficiaries, as in most family trusts, may make it possible for the inference of implied or express authority to be more readily drawn.”
[41] Ons het hier te doen met ‘n familie trust wat boerdery besigheid bedryf en waar dit blyk dat die tweede verweerder in die verlede die derde verweerder toegelaat het om besigheid in die naam van die trust te doen. Die tweede verweerder het waarskynlik ook met die uitdruklike of stilsyende toestemming van die derde verweerder dieselfde gedoen. Hulle het eers van die bepalings in die trustakte dat besluite deur ‘n meerderheid van trustees geneem moet word, bewus geword toe hulle met hul regsverteenwoordigers gekonsulteer het nadat die huidige aksie teen hulle ingestel is. In die lig van al die omstandighede, die waarskynlikhede en onwaarskynlikhede hierbo uiteengesit, asook die onbetroubaarheid van die tweede en derde verweerder se getuienis, is hierdie ‘n geval waar dit na my mening met veiligheid aanvaar kan word dat die tweede verweerder die derde verweerder uitdruklik of ten minste stilswyend gemagtig het om namens die trust met die eiser te kontrakteer vir die finansiering.
Die versekeringseis
[42] Daar is na my mening nie meriete in die verweerders se verweer dat die eiser nalatiglik versuim het om ‘n eis vir die oesverlies by Santam in te dien nie, welke eis aldus die verweerders sou geslaag het en enige skuld van die verweerders sou uitgewis het. Dit het uit die getuienis geblyk dat die derde verweerder bewus was van die polisvoorwaarde dat indien dit by die aanvang van die stropery sou blyk dat die opbrengs swak sou wees, Santam gekontak moes word om ‘n opbrengsbepaling te doen voordat enige mielies weggery word. Ten spyte van die tweede verweerder se waarskuwing van ‘n misoes, het die derde verweerder vir ten minste drie dae voortgegaan om die totale land op Rietfontein 2 klaar te stroop voordat hy Santam versoek het om ‘n opbrengsbepaling op die ander twee plase te doen. Santam het gevolglik die eis gerepudieer. Die eiser is deur sy regsverteenwoordigers geadviseer dat ‘n aksie teen Santam nie sou slaag nie, en hulle het daarna die verweerders se regsverteenwoordigers in kennis gestel dat die eiser nie van voorneme was om ‘n aksie teen Santam in te stel nie en, indien so geadviseer, die trust dit kon doen. Die eiser was klaarblyklik gewillig om enige regte wat die eiser ingevolge die polis gehad het, aan die trust terug te sedeer. Dit is gemeensaak dat die trust nie van die aanbod gebruik gemaak het nie.
Gevolgtrekking
[43] Die gevolgtrekking waartoe ek in die lig van die voorgaande geraak het, is dat die derde verweerder wel die nodige magtiging gehad het om namens die trust die finansieringsooreenkoms met die eiser te sluit en dat die verweerders se verweer dat hy nie die nodige magtiging gehad het nie, verwerp moet word. Dit is gevolglik nie nodig om met die eiser se alternatiewe skuldoorsake te handel nie
[44] Wat die quantum van die eiser se eis betref, steun die eiser op ‘n sertifikaat wat ingevolge klousule 14.1 van die kontrak deur Me Lynette Douglas, ‘n regsadviseur in diens van die eiser, uitgereik is. Daarvolgens het die verskuldige bedrag op 20 September 2010 R545 705.75 beloop. Die korrektheid van die sertifikaat is nie tydens Me Douglas se kruisverhoor betwis nie. Die partye is dit eens dat die toepaslike moratore rentekoers 15,5% per jaar is.
[45] Vonnis word gevolglik teen die eerste en tweede verweerders toegestaan, as een betaal die ander kwytgeskeld te word, vir:
[a] Betaling van die bedrag van R545 705.75;
[b] Betaling van rente op gemelde bedrag teen 15,5% per jaar a tempore morae;
[c] Koste van die geding, insluitend die koste van senior advokaat.
Advokaat vir die eiser: Adv. M P van der Merwe SC
In opdrag van: Couzyn Hertzog & Horak, Pretoria
Advokaat vir die 1e en 2e verweerders: Adv. W A F Strydom
In opdrag van: Magda Kets Prokureur, Pretoria
[1] 2005 (2) SA 77 (SCA)
[2] Nieuwoudt & Another NNO v Vrystaat Mielies (Edms) Bpk 2004 (3) SA 486 (SCA)