South Africa: Labour Court Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Labour Court >> 2000 >> [2000] ZALC 108

| Noteup | LawCite

Labuschagne v Elite Group (Edms) Bpk (J4563/99) [2000] ZALC 108 (28 September 2000)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE ARBEIDSHOF VAN SUID-AFRIKA

GEHOU TE JOHANNESBURG


SAAK NO: J4563/99


In die saak tussen:


JOHAN LABUSCHAGNE Applikant


en


ELITE GROUP (EDMS) BPK Respondent


UITSPRAAK


LANDMAN R:


  1. Mnr Johan Labuschagne was in diens van die Elite Group (Edms) Bpk (hierna Elite) wat verskeie beslote korporasies wat geld uitleen, bestuur het. Ongeveer 9 April 2000 het Elite, verteenwoordig deur mnr C Human, n aanbod aan mnr Labuschagne gemaak wat hy aanvaar het. Die ooreenkoms heet: Aanbod aan werknemer - Herstrukturering van Diensooreenkoms (hierna die Labuschagne kontrak). Kragtens die ooreenkoms het Elite onderneem om onder andere R110 000,00 op 1 Mei 2000 te betaal en 10 000 aandele in Elite of n ander houer maatskappy aan hom oor te dra.


  1. Elite weier om die gelde te betaal en om die aandele uit te reik of oor te dra. Mnr Labuschange het aansoek gedoen in die Arbeidshof in gevolge art 77(3) van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes 75 van 1997 om betaling van die gelde en oordrag van die aandele.



  1. Art 77(3) van die Wet bepaal dat:

Die Arbeidshof het konkurrente jurisdiksie met die siviele howe om enige aangeleentheid betreffende n dienskontrak, ongeag of n basiese diensvoorwaarde n bepaling van daardie kontrak uitmaak, aan te hoor en daaroor te beslis.


  1. n Dienskontrak is nie omskryf nie maar met verwysing na die woordomskrywing van n werknemer in art 1 kan dit afgelei word dat, onder andere, sluit dit die gemeenregtelike dienskontrak in. Enige basiese diensvoorwaarde waarna art 77(3) verwys is omskryf in art 1 as: n Bepaling van hierdie Wet of n sektorale vasstelling wat n minimum beding of voorwaarde van diens stel.


  1. Die Labuschagne kontrak is n wysiging van n bestaande dienskontrak. Ek neem aan, omdat die jurisdiksie van die hof nie aangeval is nie, dat die dienskontrak n gemeenregtelike dienskontrak is.


  1. Die applikant het n keuse om die aangeleentheid of deur middel van reël 6 verrigtinge in te stel of reël 7 afhangende of n feite geskil voorsien is aldan nie. In die huidige geval het die applikant n aansoek kragtens reël 7 geloods en Elite het hierop geantwoord. Die aansoek is as n verhoor geplaas en die partye het nie gepoog om die saak op die stukke te betoog nie. Waarom die aansoek as n verhoor geplaas is, is glad nie duidelik nie. Dit behoort nie so te gebeur het nie want partye tot n aansoek mag nie sonder die verlof van die hof n aansoek na getuienis verwys nie. Sien Kalil v Decotex (Pty) Ltd and another 1988 (1) SA 943 (A) en Bocimar NV v Kotor Overseas Shipping Ltd [1994] ZASCA 5; 1994 (2) SA 563 (A).


  1. Elite het soos volg op mnr Labuschagne se aansoek geantwoord:


5.1 Save to admit that a written offer referred to by the Applicant as Annexure JL was extended to the Applicant on or about the 9th of April 1999, the remainder of the contents hereof are denied and the Applicant is put to the proof thereof.


5.2 In this regard it is the Respondents case that during the early part of 1999 Thuthukani Group Limited, which is listed on the Johannesburg Stock Exchange, approached Respondent with an offer to purchase a 60% interest in the said Elite group of Companies.


5.3 At the time the said offer was subject to approval of the said offer by the Johannesburg Stock exchange.


5.4 During this period certain officials of Elite Consultants, one of which was the Applicant, were approached with an offer referred to by the Applicant in terms of Annexure JL in terms of which a certain amount of cash would be paid to such employees and a certain amount of shares from the newly proposed holding Company of the Elite Group (Pty) Ltd would be registered in the name of the said employees.


5.5 Such offer was, however subject to the successful realisation of the offer made by the Thuthukani Group (Pty) Ltd as set out above. This was explained and made clear to the employees, including the Applicant during a meeting held with the Applicant and the other relevant employees on 9 April 1999. In this regard I refer to the attached confirmatory affidavits of Mr Dahrius Breedt as well as Mr Dawid Johannes Christoffel Beukes, attached hereto as Annexures A1 and A2.


5.6 Due to certain unforeseen circumstances the Thuthukani Group Ltd informed the Elite group of Companies during June 1999 that it does not intend to proceed with the proposed transaction. In this regard I which to refer to the attached letter received from Thuthukani Group Ltd as Annexure B.


5.7 Immediately hereafter a meeting was arranged with the Applicant and the other relevant employees during which they were informed of the situation and the non-realisation if the offer made to them at the time due to the circumstances set out above.



  1. Elite se verweer gedurende die verhoor was dat die Labuschagne kontrak onderhewig was aan n opskortende voorwaarde naamlik die voortbestaan van die Thuthukani kontrak , wat op sy beurt onderhewig was aan n opskortende voorwaarde. Die opskortende voorwaarde in die geval van die Thuthukani kontrak was die afhandeling van n behoorlike ouditondersoek tot die tevredeheid van Thuthukani se direksie. Sien die kennisgewing wat ingedien is. Volgens mnr Human is die oudit deur De Loitte en Touche gedoen. Mnr Human het dit so gestel dat die toestemming van die direkteure van Thutuknani benodig was. Ek sal aanneem dat dit nie n afsonderlike vereiste was nie en dat dit verband hou met die oudit. Die direketure, volgens mnr Human, wou nie beweeg nie.


  1. Mnr Human het al die verskillende kontrake met die werknemers terug geneem en in sy brandkluis gebêre. Hy was onthuts dat enkele werknemers, soos mnr Labuschagne, n afskrif daarvan gemaak het.



  1. Mnr Human het verwys na n skrywe gedateer 5 Junie 2000 wat Thuthukani aan Elite geskryf het. Die skrywe is sekerlik geskryf vir doeleiendes van die huidige litigasie. Die outeur is nie geroep as getuie nie. Die skrywe verwys na the termination of negotiations en na die besluit not to proceed with the proposed transaction. Die skrywe, anders as wat in die Labuschagne kontrak aangeteken is, gee voor dat n kontrak tussen Elite en Thuthukani nie gesluit is nie.


  1. Mnr Human het nie die Thuthukani kontrak voorgelê nie. Mnr Human het getuig dat die houer maatskappy nooit geregistreer is nie.


  1. Mnr Breedt, wat nog steeds n werknemer van Elite is, het getuig dat die pakket, synde die kontrak wat Elite met hom gesluit het, n bonus of n geskenk was. Dit sou gegee word as die deal met Thuthukani deurgegaan het. Die transaksie het toe nie gerealisseer nie. Mnr Breedt het nie getuig van enige opskortende voorwaarde nie.


  1. Mnr Labschagne het getuig dat hy R58 000,00 in n BK belê het. Hy het ook indiens getree van Elite en n maandelikse salaris ontvang. Gedurende kruisondervraging is dit aan hom gestel dat die veronderstelling waarop die Labuschagne kontrak berus het, deur die mat geval het. Mnr Labuschagne het volgehou dat die rede vir die wysiging van die dienskontrak was dat dit Elite se verpligtinge ten opsigte van die geld wat hy in die besigheid ingesit het vervang. Indien die Thuthukani kontrak beskikbaar was sou dit moontlik die onderwerp kon toelig.


  1. Me Venter, wat namens mnr Labuschagne opgetree het, het nie beswaar teen die toelaatbaarheid van die getuienis gemaak nie.


  1. Ek het die regsverteenwoordigers die geleentheid gebied om verdere (skriftelike) vertoeë te lewer. Me De Jongh, wat names Elite verskyn het, doen nou aansoek, dat die Labuschagne kontrak gerektifiseer word. Sy voer aan dat dit nie nodig is om formeel aansoek daarvoor te doen nie. Sien Gralio (Pty) Ltd v D E Claasen (Pty) Ltd 1980 (1) SA 816 (A). Die rektifikasie wat voorgestel is, lees soos volg: Dat onderhewig daaraan dat daar suksesesvol presteer word ingevolge die ooreenkoms tussen Thuthukani ... en Elite...waarvolgens Thuthukani .... n belang in die besigheid van Elite... sal bekom en onderhewig daaraan dat sodanige belang inderdaad bekom word deur Thuthukani ... in die besigheid van Elite ... word die volgende aanbod aan my gemaak...


  1. Me De Jongh se alternatiewe betoog is dat getuienis kan aangevoer word dat die ooreenkoms veroorsaak is deur bedrog of dat dit nietig is as gevolg van dwaling, gebrek aan consenus of die wegval van n onderligende verondersetlling. Daar word op die volgende gesag gesteun: Williams v Evans 1978 (1) SA 117 (C), Munnik and Munnik v Sydney Clow and Co Ltd 1965 (4) SA 313 (TPA); Kok v Osborne and another 1993 (4) SA 788 (EC); Prins v ABSA Bank Ltd 1998 (3) SA 904 (C) en Peters, Flamman and Co v Kokstad Municipality 1919 AD 427. Haar slot submissie is dat as gevolg van die feitelike omstandighede die Labuschagne kontrak nooit gesluit is nie.


  1. Mnr Labuschagne het ook verdere vertoeë ingedien. Die vertoë is deur n advokaat opgestel. Hy is waarskynlik nie ten volle op hoogte van die getuienis gebring nie, want belangrike aspekte van die saak word nie bespreek nie. Bowendien word die submissie gemaak dat die meeste van die getuienis ontoelaatbaar is sonder om die versuim om beswaar daarteen aan te teken, te bespreek.


  1. Ek is van plan om die saak te besleg op die veronderstelling dat die getuienis wel toelaatbaar is, sonder om te besluit dat dit wel die geval is. In die lig hiervan is dit vir my onnodig om te besluit of die paroolleerstsuk tersprake is en indien wel of die getuienis toelaatbaar sou wees. Sien die breedvoerige bespreking van die leerstuk in die konteks van n opskortende voorwarde in D T Zeffert Hoffman Law of Evidence 4de uitgawe 309-313. Sien ook R H Christie The Law of Contract in South Africa 2de uitgawe 163-165 en A J Kerr The Principles of the Law of Contract 4de uitgawe 339-343.


  1. Ek is oortuig, op die feite, dat die Labuschagne kontrak aangegaan is op die veronderstelling dat die Thuthukani kontrak nie sou wegval as gevolg van die nie nakoming van n opskortende voorwaarde of voorwaardes nie. Ons reg laat Elite nie toe om bloot op n veronderstelling nl dat Thuthukani sou presteer, staat te maak nie. Die Labuschagne kontrak is nie nietig nie. Daar is geen getuienis dat dit die gevolg van n dwaling of bedrog was nie. Mnr Labuschagne se aandag is nie daarop attent gemaak dat aansoek gedoen sou word vir rektifikasie van die kontrak nie. Die rektifkasie wat aangevra word strook nie met die skriftelike en mondelinge getuienis nie. Dit is egter nie nodig om daarmee te handel nie aangesien ek aanvaar, dat die Labuschange kontrak op grond van n opskortende voorwaarde soos hierbo aangedui is, aangegaan is.


  1. Wat is opskortende voorwaardes waaraan die Thuthukani kontrak onderhewig is? Die beste getuienis is nie aan die hof voorgelê nie. Die Thuthukani kontrak is nie ingedien nie. Geen behoorlike rede vir die versuim is aangebied nie. Dit was wel beskikbaar volgens mnr Human. In sy beantwoordende eedsverklaring het mnr Human gesê dat die kontrak onderworpe is aan die goedkeuring van die Johannesburgse Effekte Beurs (hierna die JEB). Mondelings het hy getuig dat die kontrak onderworpe is aan n rekenkundige oudit.


  1. Ek is egter nie tevrede met die getuienis wat gelei is nie. Mnr Human het nie die Thuthukani kontrak bewys nie. Die beste getuienis is nie aan my voorgehou ten opsigte van die kontrak en die beweerde opskortende voorwaardes nie. Bowendien was mnr Human nie n bevredigende getuie nie. Ek is nie bereid om op sy weergawe van die skriftelike kontrak en ander tersaaklike getuienis staat te maak nie.


  1. Op die veronderstelling dat die Thuthukani kontrak onderworpe was aan twee opskortende voorwaardes sal ek ondersoek instel om te bepaal of daar aan die voorwaardes voldoen is. Geen behoorlike getuienis is gelei ten opsigte van die direkteure se besluit aangaande die uitslag van die oudit, indien dit plaasgevind het, nie. Geen getuienis is gelei dat die JEB nie die die transaksie goedgekeur het nie. Inderdaad is daar op n manier gepoog om getuienis te lei dat geen kontrak gesluit is tussen Elite en Thuthukani nie. Op die getuienis kan ek nie bevind dat daar nie aan die voorwaardes voldoen is nie. Ek aanvaar dat Thuthukani nie n belang in Elite bekom het nie. Maar ek weet nie wat die rede hiervoor is nie en dit is nie bewys dat dit te wyte is aan die nie voldoening van n opskortende voorwaarde nie.


  1. Dit mag wees dat die getuienis om Elite se verweer te staaf, bestaan. Maar Elite het nie die getuienis behoorlik voor die hof geplaas nie. In die omstandighede moet vonnis ten gunste van mnr Labuschagne aangteken word.


  1. By gevolg word die respondent gelas om:


      1. R110 000,00 aan die applikant te betaal met rente teen 15,5% per jaar a tempore morae tot datum van betaling;


      1. 10 000 aandele in die Elite Group (Pty) Ltd aan die applikant oor te dra en die aandeel sertifikate aan hom te verskaf;


      1. die koste van die geding te betaal.


GETEKEN TE BRAAMFONTEIN HIERDIE 16de DAG VAN OKTOBER 2000.



A A Landman


Regter van die Arbeidshof


Datum van verhoor: 28 September 2000

Vir die applikant: Me Venter van Snyman, Van den Heever, Heyns

Vir die respondent: Adv M De Jongh in opdrag van Rita Jordaan Prokureurs

5