South Africa: Labour Court

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Labour Court >>
2002 >>
[2002] ZALC 1
| Noteup
| LawCite
Smalberger v Barret (Handeldrywend as A B Electronics) (C654/00) [2002] ZALC 1 (17 January 2002)
Download original files |
IN DIE ARBEIDSHOF VAN SUID-AFRICA
GEHOU TE KAAPSTAD
In die saak tussen:
Saak Nr. C654/00
ERIKA SMALBERGER Applikant
en
A N BARRET (Handeldrywend as A B Electronics) Respondent
______________________________________________________________________________
REDES VIR UITSPRAAK
Gelewer op 8 Oktober 2001
______________________________________________________________________________
REVELAS J:
1. Erika Smalberger, die applikant, is aan die begin van 1997 deur die respondent permanent aangestel as ‘n administratiewe klerk, na ‘n proef tydperk van twee maande. Die respondent se besigheid het bestaan daaruit om op te tree as agent vir twee selfoon maatskappye en die M-Net Televisiestasie en die verhuur van M-Net dekodeerders.
2. In April van dieselfde jaar is die applikant aangestel as bestuurder van die respondent teen ‘n salaris van R5000 per maand. Die applikant het beweer dat sy ook sekere byvoordele ontvang het en dat die bedrag nog hoër was, maar ek was nie oortuig dat die byvoordele waarna sy verwys het, (die gebruik van ‘n motor en ‘n M-Net dekodeerder), deel uitgemaak het van haar diensvoorwaardes nie.
3. Mnr. Barret, die eienaar van die respondent, het verskeie ander sake ondermenings in Vredenburg gehad wat sy aandag geverg het. Volgens hom het hy die applikant vertrou om na sy besigheid, (A B Electronics), om te sien. Gedurende 1998 het hy ook ‘n ernstige skoueroperasie ondergaan en was lank bedlêend en was baie afwesig by sy kantoor. Gedurende hierdie tyd het hy ook grootliks op die applikant se bydrae en bestuursvermoë staatgemaak.
4. Op 31 Oktober 1999 het die applikant bedank uit die respondent se diens. Sy het beweer dat Mnr. Barret haar onderwerp het aan voordurende seksuele teistering wat haar voortgesette diens by die respondent onuitstaanbaar gemaak het.
5. Die seksuele teistering het na bewering aanvang geneem gedurende Februarie 1998. Die applikant het na ‘n sekere spesifieke insidente van seksuele teistering in haar pleitstukke en getuienis verwys en ander voormalige werknemers van die respondent het ook getuienis gelei van hulle eie soortgelyke ondervindings.
6. Mnr. Barret het ook getuig, hy het ontken dat hy die applikant seksueel geteister het en sy saak was dat die applikant eintlik bedank het vanwee ongerymdhede wat plaasgevind het terwyl sy die besigheid bestuur het. Die respondent se saak was grootendeels daarop gebaseer dat geld verlore geraak het in die besigheid en dat sy werknemers en, onder andere die applikant, daarvoor verantwoordelik was. Dit was gemeensaak dat ‘n kriminele saak, in verband daarmee, wat ‘n jaar nadat die applikant die respondent se diens verlaat het aanhangig gemaak was, deur die Staatsprokureur weggewys is.
7. Die applikant het in haar getuienis in hoof eerstens verwys na ‘n aangeleentheid toe sy en Mnr. Barret in Mei 1998 in Kaapstad ‘n konferensie bygewoon. Dit was gehou was deur ‘n selfoonmaatskappy. Hulle het in ‘n restaurant in Bloubergstrand gaan eet op ‘n sekere stadium en in die parkeerarea het Mnr. Barret volgens die applikant, aan haar hand gevat en haar meegedeel dat daar wel eendag “iets” tussen hulle sal gebeur, verwysende na seks. Sy was geskok oor sy gedrag. Mnr. Barret het ontken dat hy so ‘n voorstel aan die applikant gemaak het.
8. Tweedens het die applikant na ‘n insident verwys toe sy en Mnr. Barret ook ‘n soortgelyke konferensie vir tegniese opleiding vroëer in die jaar in Februarie bygewoon het. Die konferensie het oor twee dae gestrek. Volgens haar sou Mnr. Barret haar versoek het om vir hulle twee ‘n kamer te bespreek wat hulle kon deel. Op haar aandrang het hulle terug gery na Vredenburg, omdat sy ontsteld was oor die voorstel. Die applikant het hierdie insident ook beskou as ongenooide en onvanpaste gedrag. Mnr. Barret het ontken dat hy so ‘n voorstel aan die applikant sou gemaak het.
9. Die derde insident waarna die applikant verwys het was ‘n insident gedurende Junie 1998, toe die applikant weer ‘n konferensie met Mnr. Barret moes bywoon, diè keer in Johannesburg. By hulle aankoms by die hotel waar hulle moes oornag, het die applikant ontdek dat alhoewel Mnr. Barret en sy verskillende kamers toegewys is, die kamers in dieselfde wooneenheid was. Dit was beskryf as ‘n “chalet”. Hulle moes eers wag voordat hulle die wooneenheid kon binne gaan, want daar was blykbaar ‘n misverstand met die sleutels van die wooneenheid. Die applikant het getuig dat sy baie ongemaklik was om die nag “tussen vier mure” met Mnr. Barret deur te bring. Later die aand het Mnr. Barret na haar slaapkamer gekom en gesê hy kom nagsê en hy het haar gevra of hy agter haar rug kon kom slaap. Sy het geweier en was ontsteld. Hy het onderneem om “niks” te doen nie. Sy het hom gevra om haar kamer te verlaat en bygevoeg dat hy eerder moet gaan televisie kyk aangesien daar ‘n pornografiese kanaal beskikbaar was as deel van die hotel se gastediens. Ek het verstaan dat sy met hierdie opmerking bedoel het dat hy haar moet uitlos en seksuele afleiding elders moet gaan soek. Sy het getuig dat sy die nag, nadat hy na haar slaapkamer toe gekom het, nie kon slaap nie. Sy het die deur gesluit want sy was bang hy kom terug. Sy het ook oorweeg om te bedank maar het besef dat werk skaars was in Vredenburg en dat sy op haar ouderdom nie maklik sou werk kry nie. Sy het ook nie haar man daarvan vertel nie, sy het later wel haar moeder en ‘n ander werknemer, van die insident vertel.
10. Mnr. Barret se weergawe van die insident was dat hy die applikant bloot net wou goeie nag toewens, maar dat sy hom inderdaad toe uitgenooi het om saam met haar na ‘n pornografiese film te kyk. Hy het ook verwys na busrit vroëer die dag toe die applikant met ander konferensie gangers skertsend grappe van ‘n seksuele aard gemaak het terwyl hy glo niks gesê het nie. Die applikant het erken dat daar wel so ‘n geskertsery was maar dat Mnr. Barret ook deel daarvan was.
11. Die applikant het ook getuig dat gedurende Oktober 1998, Mnr. Barret na haar kantoor gekom het en haar meegedeel het dat hy nie fout kon vind daarmee as ‘n getroude vrou met ‘n ander man as haar eie, seks sou hê nie.
12. Die applikant het ook getuig dat ander vroulike werknemers by haar kom kla het oor Mnr. Barret se beweerde gedrag wat ook op seksuele teistering neergekom het. Mnr. Barret het haar en ander werknemers soms geknyp in die binneboud, soms omhels vroulike werknemers gewoonlik as “Bokkie” aangespreek, en voordurend grappe van ‘n seksuele aard gemaak. Mnr. Barret het erken dat vroulike werknemers, en selfs vroulike kliënte as “bokkie” aangespreek het, maar die res van die bewerings het hy ontken.
13. Die eerste voormalige werknemer van die respondent wat namens die applikant getuig het was Mev. Clezair Vallence. Sy was ‘n verkoopskonsultant van die besigheid. Sy het getuig dat sy na Kaapstad gereis het met Mnr. Barret vir ‘n opleidingskursus. Volgens haar het Mnr. Barret op ‘n staduim aan haar sy kredietkaart oorhandig en gevra om vir hulle ‘n hotelkamer te bespreek. Sy het die versoek, uit die aard van die saak, as van ‘n seksuele aard beskou. Sy het hom net geignoreer. Mnr. Barret het die voorval nie ontken nie maar getuig die voorval as ‘n grap beskou het. In die lig van al die waarskynlikhede en al die ander getuienis beskou ek die voorval as ‘n vorm van seksuele teistering van ‘n werknemer.
14. Mev. Vallence het ook getuig dat sy die applikant van hierdie voorval meegedeel het en dat die applikant aan haar ook vertel het van haar eie soortgelyke ondervindings met Mnr. Barret. Sy het ook getuig dat Mnr. Barret haar ‘n paar keer in die binneboud geknyp het was sy ook aan die applikant geraporteer het. Hierdie getuienis is deur die applikant gestaaf. Sy het ook vertel dat in die kantoor sy vasgestel het dat ‘n persoon op die internet fasiliteit van die kantoor na werksure glo pornografiese kanale bestudeer het. Volgens haar kon dit Mnr. Barret gewees het want werknemers het om vyf uur die kantoor verlaat en Mnr. Barret se verloofde het haar ook meegedeel dat hy tot laat snags op kantoor was.
15. Mnr. Barret het ook glo, toe sy ‘n deurskynende bloes aangehad het, vir haar gevra of sy dit vir hom gedra het. Mnr. Barret het getuig dat hy bloot, as ‘n kompliment, aan haar opgemerk het dat dit ‘n mooi bloes was. Mev. Vallence het ook vertel van die seksuele grappe wat Mnr. Barret gemaak het en het self bygevoeg (verwysende na ander werknemers) dat “sometimes we also chipped in, but not as crude”.
16. Mev. Vallence het ook die getuienis van Mev. Taylor, ook ‘n voormalige werknemer, gestaaf. Mev. Taylor het getuig dat Mnr. Barret haar wou uitneem vir ete en haar voordurend gebel het uit Kaapstad waar hy die betrokke dag was, om haar te oorreed om die uitnodiging te aanvaar. Sy het geweier om saam met hom te gaan en hy het sy humeur met haar verloor. Sy was ontsteld en het gehuil ten aanskoue van ander werknemers, insluitende die applikant en Mev. Vallence.
17. Volgens Mnr. Barret het hy wel vir Mev. Taylor uitgenooi vir ete met ‘n bloot vriendskaplike bedoeling. Hy erken dat hy hom vir haar vererg het toe sy geweier het om saam te gaan, maar dit was omdat sy aanvanklik toegestem het maar later in die dag geweier het op advies van die applikant. Dit was ook deel van die respondent se saak dat die vroulike werknemers van die respondent saamgespan het teen Mnr. Barret en uit redelik onskuldige voorvalle, vanweë vrugbare verbeeldings, ‘n saak van seksuele teistering teen hom opgebou het en insidente baie ver oordryf het.
18. Hierdie getuienis van Mnr. Barret het Mev. Taylor ten sterkste ontken.
19. Vir sover dit die ongerymdhede gaan, het ek reeds daarop gewys dat daar ‘n groot gewag gemaak is van hierdie aspek. Geld het weggeraak in die besigheid. Mev. Vallence het ‘n skriftelike waarskuwing gekry waar geld weggeraak het volgens die applikant, wat ook haar senior was by die werk, het Mev. Vallence nie enige iets oneerliks gedoen nie. Sy het ‘n foonkaart verkoop maar nagelaat om geld te vra. Daarom is daar nie ‘n dissiplinêre verhoor gehou nie. Trouens, daar is geen dissiplinêre verhoor teen enige werknemer ingestel deur Mnr. Barret nie. Die applikant het hom gehelp met sy ondersoek na die verlore geld. Die indruk wat ek uit die getuinis as geheel gekry het is dat dit meer waarskynlik is dat die geld verlore gegaan het as gevolg van nalatige bestuur van die besigheid eerder as van enige werknemer se oneerlikheid. Mnr. Barret het gedurende die verhoor beweer dat Mev. Taylor ‘n groot som geld gesteel het. Geen dissiplinêre stappe is teen haar geneem nie en hy wou haar selfs uitgeneem vir ete. Toe die applikant die respondent se diens wou verlaat, het Mnr. Barret haar ook uitgeneem vir ete.
20. Dit is ook aan een van die getuies gestel dat Mnr. Barret sou gesien het dat sy geld uit die kluis verwyder het. Dit is ontken. Wat my egter as eienaardig tref, is dat daar geen klagte gelê was in hierdie verband nie Dit was tog direkte getuienis. Op sy getuienis sou Mnr. Barret die persoon op heterdaad betrap het.
21. Mnr. Barret het ook getuig dat hy gehoor het hoe die applikant vir een van die werknemers sê, dat as hy ‘n diefstal saak teen haar maak (teen die werknemer) dan moet sy ‘n seksuele teistering saak teen Mnr. Barret maak. Dit is ook ontken deur die applikant en die betrokke werknemer. Mnr. Barret het beskryf hoe hy agter sekere rakke gestaan het en die gesprek afgeluister het. Hy het nie die applikant of die werknemer hiermee gekonfronteer nie.
22. Mnr. Barret het my nie beïndruk as ‘n geloofwaardige getuie nie. Sy weergawe oor die insident by die hotel in Johannesburg het die indruk geskep dat hy nie verantwoordelikheid vir sy eie dade wil aanvaar nie en vrouens blameer vir sy eie gedrag.
1. Ek het die applikant se weergawe in hierdie verband aanvaar aangesien dit meer ‘n waarskynlike weergawe is. Dit is hoogs onwaarskynlik in die omstandighede dat sy Mnr. Barret, in die lig van sy gedrag voorheen, sou nooi om saam met haar na ‘n pornografiese film te kyk. Hierdie getuienis strook ook nie met die indruk wat die applikant op my gemaak het gedurende die lei van haar getuienis nie.
23. Ek moet vermeld dat Mev. Taylor baie omslagtig getuienis gegee het en ek het die indruk gekry dat sy haar getuienis ietwat oordryf het, nie soveel uit simpatie vir die applikant nie maar eerder omdat sy ‘n renons in Mnr. Barret gehad het. Tog aanvaar ek haar weergawe aangaande die gebeure toe Mnr. Barret haar oor die telefoon geteister het, omdat dit gestaaf was deur die applikant en Mev. Vallence wie op my gunstige indrukke gemaak het, wat hulle geloofwaardigheid betref.
24. In die omstandighede, en op die waarskynlikhede aanvaar ek die applikant se weergawe van gebeure in hierdie saak, waar daar soveel feitlike dispute en ontkennings was.
25. Die applikant het nadat sy die respondent se diens verlaat het, ‘n besigheid begin saam met ander werknemers wat eintlik in kompetisie met Mnr. Barret se besigheid was. Hy het getuig dat hy vroëer daarvan gehoor het en dat dit hom glad nie verbaas het dat sy bedank het nie. Die applikant het gesê dat sy die indruk gekry het dat Mnr. Barret wou gehad het dat sy moet gaan. Hy het haar ook vertel dat sy by Departement van Mannekrag moet uitvind hoe hy oor die personeelvermindrings te werk moet gaan, aangesien die besigheid in finansiële moeilikheid was. Verder het die applikant getuig dat sy altyd wou bedank maar finansiëel nie kon nie. Daar was egter ‘n erfinis wat haar moeder toegekom het. Haar moeder het aan haar geld geleen sodat sy kon wegkom van Mnr. Barret.
26. Ek het die applikant gevra of sy sou bedank het indien sy nie finansiëel gesteun was deur haar moeder nie. Die doel van my vraag was om vas te stel of die seksuele teistering die werklike rede vir haar bedanking was. Sy het getuig dat sy seker maar sou voortgaan het om te werk vir Mnr. Barret as sy nie die finansiële steun by haar moeder gekry het nie. Hier moet ook in ag geneem word, dat haar moeder nie baie vermoënd is nie en maar slegs geërf het. Sy sou nie sommer geld leen vir ‘n besigheid wat moontlik riskant kon wees, as daar nie ‘n goeie rede was nie. Sy wou haar dogter help want die het haar bekla by haar moeder oor Mnr. Barret se gedrag. Die applikant het Mnr. Barret gedurig gevra om haar uit te los en hy wou nie. Ek aanvaar dus dat sy bedank het as gevolg van die feit dat haar diensverhouding met Mnr. Barret onuithoudbaar geword het.
27. Dit kan nie in ‘n werkplek geduld word dat ‘n werkgewer ‘n werknemer probeer oorreed om ‘n seksuele verhouding aan te gaan wanneer die werknemer nie belangstel nie. Die diensbeëindiging van die applikant was onbillik omdat dit gegrond was op diskriminasie teenoor die applikant as werknemer vanwee haar geslag. Daar kan nie sprake wees van ‘n voortgesette diensverhouding nie. Die applikant het ook nie gevra vir herindiensstelling nie maar vir kompensasie.
28. Die maksimum bedrag wat toegeken kan word deur die Abeidshof in so ‘n aangeleentheid is kompensasie gelyk aan 24 maande se salaris. Na my mening is hierdie nie ‘n geval waar die maksimum kompensasie toepaslik is nie. Daar is ander faktore wat in ag geneem moet word.
29. Sonder om onsensitief teenoor die applikant te wees, het die seksuele teistering in hierdie geval, nie ‘n uitermatige vorm van teistering aangeneem nie. Die applikant se persoon was nooit grof aangetas nie. Mnr. Barret het homself nie fisies op die applikant afgedwing nie. Die applikant is ook nooit afgedreig, indien sy nie sou toestem om met Mnr. Barret seks te hê nie. Hy het, baie onvanpas, sy wense uitgespreek van tyd tot tyd. Dit was egter nie ‘n daaglikse vervolging van die applikant nie. Hierdie faktore het ek in ag neem. In die omstandighede is kompensasie gelyk aan 8 maande se salaris billik wees. Ek het dan ook so ‘n bedrag, (R40 000) aan die applikant toegeken en die respondent gelas om die applikant se koste in hierdie aangeleentheid te betaal.
__________________
E. Revelas
17 Januarie 2002