South Africa: Cape Town Labour Court, Cape Town

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Cape Town Labour Court, Cape Town >>
2011 >>
[2011] ZALCCT 18
| Noteup
| LawCite
Mouton v Boy Burger (Edms) Bpk (C1051/09) [2011] ZALCCT 18; (2012) 33 ILJ 249 (LC) (5 August 2011)
Download original files |
REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA
RAPPORTEERBAAR
VAN BELANG VIR ANDER REGTERS
DIE ARBEIDSHOF VAN SUID-AFRIKA, KAAPSTAD
SAAKNOMMER: C 1051/ 09
In die saak tussen:
WILLEM MOUTON .............................................................................Applikant
en
BOY BURGER (EDMS) BPK .........................................................Respondent
Verhoordatums: 7-9 Maart; 27-29 Junie; 13 Julie 2011
Uitspraak: 5 Augustus 2011
Opsomming:
Applikant beweer outomaties onbillike ontslag weens vakbondbedrywighede en op grond van ras, weens sy huwelik met ‘n bruin vrou (applikant is ‘n wit man). Bevind dat outomaties onbillike ontslag nie bewys is nie.
UITSPRAAK
STEENKAMP R:
Inleiding
Die feite in hierdie saak beval al die elemente van ‘n moderne Suid-Afrikaanse plaasroman: seks, beweerde rassediskriminasie, die verhouding tussen baas en werker, vakbondbedrywighede, twis tussen pa en seun, druiwediefstal, gebreekte bakkies en plaasimplemente, en die onvermydelike ontslag.
Die applikant se eis
Die applikant, Willem Mouton, sê hy is ontslaan weens twee redes:
Eerstens, weens die feit dat hy vorige verhoudings gehad het met kleurlingvroue en dan hoofsaaklik as gevolg van sy huwelik met Susanna Ruiters (‘n kleurlingvrou en mede-plaaswerker).
Tweedens, weens die feit dat hy deelgeneem het aan vakbondbedrywighede en spesifiek weens die feit dat hy die persoon was wat verantwoordelik was daarvoor dat die vakbond op die werkplek begin organiseer het.
Vir die doeleindes van hierdie saak is dit ongelukkig nodig om daarop te wys dat die applikant, Willem Mouton, ‘n wit man is. Dit is ook onvermydelik dat die ras van die ander rolspelers, soos Ruiters, genoem moet word. Mouton het in Augustus 2004 vir die respondent begin werk na ‘n rusie met sy pa, die boer op die buurplaas, waarna Mouton snr hom die huis belet het. Die respondent is ‘n maatskappy wat ‘n boerdery – hoofsaaklik sitrus en wingerd – bedryf op die plaas Platkloof in die distrik Citrusdal.
Die applikant se saak is dat die verhouding tussen hom en die eienaar van die boerdery, Kobus van der Merwe1, deurgaans goed was totdat hy ‘n verhouding aangeknoop het met en later getroud is met Susanna Ruiters, ‘n bruin vrou en mede-plaaswerker. Volgens hom het die verhouding toe verswak, en selfs verder agteruitgegaan toe hy namens die vakbond Society Development Trade Union werkers op die plaas begin organiseer het. Hy voer aan dat hierdie twee faktore direk of indirek tot sy ontslag gelei het en dat dit outomaties onbillik was. Die respondent, by monde van Van der Merwe, voer aan dat hierdie twee faktore niks met die ontslag te doene gehad het nie; en dat Mouton afgedank is weens wangedrag na drie afsonderlike dissiplinêre verhore.
Bewyslas
Die applikant se saak berus op art 187(1)(d) en (f) van die Wet op Arbeidsverhoudinge2, wat bepaal:
“187. Outomaties onbillike ontslag.—(1) Ontslag is outomaties onbillik indien die werkgewer by die ontslag van die werknemer strydig met artikel 5 optree, of indien die rede vir die ontslag is—
(a)
...;
(b)
...;
(c)
...;
(d)
dat die werknemer stappe gedoen het, of ’n voorneme te kenne gegee het om stappe te doen teen die werkgewer deur—
(i) enige reg uit te oefen wat by hierdie Wet verleen word; of
(ii) deel te neem aan enige verrigtinge ingevolge hierdie Wet;
(e)
...;
( f )
dat die werkgewer onbillik gediskrimineer het teen ’n werknemer, regstreeks of onregstreeks, op enige arbitrêre grond, wat insluit, maar nie beperk is nie, tot ras, geslagtelikheid, geslag, etniese of sosiale herkoms, kleur, seksuele georiënteerdheid, ouderdom, gestremdheid, godsdiens, gewete, geloof, politieke mening, kultuur, taal, huwelikstaat of gesinsverantwoordelikheid.”
Artikels 4 en 5 van die WAV is ook van belang. Dit bepaal:
“4. Werknemers se reg op vryheid van assosiasie.—(1) Elke werknemer het die reg—
(a) om deel te neem aan die stigting van ’n vakbond of federasie van vakbonde; en
(b) om by ’n vakbond aan te sluit, behoudens sy konstitusie.
(2) Elke lid van ’n vakbond het die reg, behoudens die konstitusie van daardie vakbond—
(a) om deel te neem aan sy wettige bedrywighede;
(b) om deel te neem aan die verkiesing van enige van sy ampsdraers, beamptes of vakbondverteenwoordigers;
(c) om vir verkiesing te staan, en in aanmerking te kom vir aanstelling, as ’n ampsdraer of beampte en, indien verkies of aangestel, om dié amp te beklee; en
(d) om vir verkiesing te staan, en in aanmerking te kom vir aanstelling, as ’n vakbondverteenwoordiger en, indien verkies of aangestel, om ingevolge hierdie Wet of ’n kollektiewe ooreenkoms die werksaamhede van ’n vakbondverteenwoordiger te verrig.
(3) Elke lid van ’n vakbond wat ’n lid van ’n federasie van vakbonde is, het die reg, behoudens die konstitusie van daardie federasie—
(a) om deel te neem aan sy wettige bedrywighede;
(b) om deel te neem aan die verkiesing van enige van sy ampsdraers of beamptes; en
(c) om te staan vir verkiesing, en in aanmerking te kom vir aanstelling, as ’n ampsdraer of beampte en, indien verkies of aangestel, om dié amp te beklee.
5. Beskerming van werknemers en werksoekers.—(1) Niemand mag teen ’n werknemer diskrimineer vir die uitoefening van enige reg wat by hierdie Wet verleen word nie.
(2) Sonder om die algemene beskerming verleen by subartikel (1) te beperk, mag niemand enige van die volgende doen of dreig om dit te doen nie—
(a) van ’n werknemer of ’n werksoeker vereis—
(i) om nie ’n lid van ’n vakbond of werkplekforum te wees nie;
(ii) om nie ’n lid van ’n vakbond of werkplekforum te word nie; of
(iii) om lidmaatskap van ’n vakbond of werkplekforum te laat vaar;
(b) ’n werknemer of werksoeker verhinder om enige reg uit te oefen wat by hierdie Wet verleen word of deel te neem aan enige verrigtinge ingevolge hierdie Wet; of
(c) ’n werknemer of ’n werksoeker benadeel as gevolg van vorige, huidige of verwagte—
(i) lidmaatskap van ’n vakbond of werkplekforum;
(ii) deelname aan die stigting van ’n vakbond of federasie van vakbonde of instelling van ’n werkplekforum;
(iii) deelname aan die wettige bedrywighede van ’n vakbond of federasie van vakbonde of ’n werkplekforum;
(iv) versuim of weiering om iets te doen wat ’n werkgewer nie wettig van ’n werknemer mag vereis of ’n werknemer mag toelaat om te doen nie;
(v) openbaarmaking van inligting wat die werknemer wettig aan ’n ander persoon mag of moet gee;
(vi) uitoefening van enige reg by hierdie Wet verleen; of
(vii) deelname aan enige verrigtinge ingevolge hierdie Wet.
(3) Niemand mag ’n werknemer of ’n werksoeker bevoordeel of bevoordeling belowe in ruil vir die nie-uitoefening van ’n reg wat by hierdie Wet verleen word of vir die nie-deelname aan enige verrigtinge ingevolge hierdie Wet nie. Nietemin verhinder hierdie verbod nie die partye by ’n geskil om ’n ooreenkoms aan te gaan om daardie geskil te skik nie.
(4) Enige bepaling in ’n kontrak, hetsy aangegaan voor of na die inwerkingtreding van hierdie Wet, wat regstreeks of onregstreeks enige bepaling van artikel 4 of hierdie artikel weerspreek of beperk, is ongeldig, tensy kontraksbepaling ingevolge hierdie Wet geoorloof is.”
Die applikant beroep hom voorts op die definisie van rassisme in die Wet op die Bevordering van Gelykheid en Voorkoming van Onbillike Diskriminasie.3 Artikel 7 van daardie Wet verbied onbillike diskriminasie op grond van ras:
“7. Prohibition of unfair discrimination on ground of race.—Subject to section 6, no person may unfairly discriminate against any person on the ground of race, including—
(a) the dissemination of any propaganda or idea, which propounds the racial superiority or inferiority of any person, including incitement to, or participation in, any form of racial violence;
(b) the engagement in any activity which is intended to promote, or has the effect of promoting, exclusivity, based on race;
(c) the exclusion of persons of a particular race group under any rule or practice that appears to be legitimate but which is actually aimed at maintaining exclusive control by a particular race group;
(d) the provision or continued provision of inferior services to any racial group, compared to those of another racial group;
(e) the denial of access to opportunities, including access to services or contractual opportunities for rendering services for consideration, or failing to take steps to reasonably accommodate the needs of such persons.”
Hierdie wet is egter nie relevant waar die beweerde diskriminasie in arbeidswetgewing aangespreek word nie. Artikel 5(3) van die Gelykheidswet bepaal:
“(3) This Act does not apply to any person to whom and to the extent to which the Employment Equity Act, 1998 (Act No. 55 of 1998), applies.
Aan die einde van die applikant se saak het die respondent aansoek gedoen om absolusie van die instansie. Ek het die aansoek van die hand gewys en redes daarvoor verskaf op 9 Maart 2011. In die loop van daardie ex tempore uitspraak het ek die kwessie van die bewyslas in sake soos hierdie, waar outomaties onbillike ontslag weens diskriminasie beweer word, onder die loep geneem. Ek sal kortliks weer die relevante beginsels saamvat vir die doeleindes van hierdie uitspraak.
Die algemene bewyslas in gevalle van beweerde onbillike ontslag word uiteengesit in art 192 van die WAV:
“192. Bewyslas by geskille oor ontslag.—(1) By enige verrigtinge rakende ’n ontslag moet die werknemer bewys dat die ontslag plaasgevind het.
(2) Indien die ontslag bewys is, moet die werkgewer bewys dat die ontslag billik is.”
Waar die applikant beweer dat die ontslag outomaties onbillik is, is die kwessie van die bewyslas indringend bespreek deur Davis WnAR4 in Kroukam v SA Airlink (Pty) Ltd:5
“[27] The question in the present dispute concerned the application of this test [en met ‘this test’ verwys hy terug na die toets in die geval van outomaties onbillike ontslag]. The starting-point of any enquiry is to be found in chapter VIII of the Act. Thus, if an employee simply alleges an unfair dismissal, the employer must show that it was fair for a reason permitted by s 188. If the employee alleges that she was dismissed for a prohibited reason, for example pregnancy, then it would seem that the employee must, in addition to making the allegation, at least prove that the employer was aware that the employee was pregnant and that the dismissal was possibly based on this condition. Some guidance as to the nature of the evidence required is to be found in Maund v Penwith District Council [1984] ICR 143, where Lord Justice Griffiths of the Court of Appeal held at 149 that:
‘It is not for the employee to prove the reason for his dismissal, but merely to produce evidence sufficient to raise the issue or, to put it another way, that raises some doubt about the reason for the dismissal. Once this evidential burden is discharged, the onus remains upon the employer to prove the reason for the dismissal.’
“[28] In my view, s 187 imposes an evidential burden upon the employee to produce evidence which is sufficient to raise a credible possibility that an automatically unfair dismissal has taken place. It then behoves the employer to prove to the contrary, that is to produce evidence to show that the reason for the dismissal did not fall within the circumstances envisaged in s187 for constituting an automatically unfair dismissal.”
In die aansoek om absolusie van die instansie het ek bevind dat die applikant ten minste ‘n geloofwaardige moontlikheid [“a credible possibility”] te berde gebring het dat die redes wat hy aanvoer vir sy ontslag, die werklike redes daarvoor kon wees. Die respondent moes hom dus van die algemene bewyslas kwyt om te bewys dat die ontslag billik was. Dit is teen die agtergrond van die getuienis as geheel dat ek nou moet besluit of die respondent hom wel van daardie bewyslas gekwyt het.
In die vroeëre saak van SA Chemical Workers Union & Others v Afrox Ltd6 het die Arbeidsappèlhof ook ‘n nuttige uiteensetting van die bewyslas in soortgelyke sake gegee. Die hof moes beslis of werkers ontslaan is weens hul deelname aan ‘n beskermde staking, soos hulle beweer het; of weens operasionele vereistes, soos die werkgewer beweer het.
Na aanleiding daarvan dat die bewyslas kennelik op die werkgewer berus om te bewys dat die ontslag billik was op ‘n oorwig van waarskynlikhede, doen die hof die volgende tweestap-toets aan die hand:
Die eerste ondersoek is om te bevind wat die ware rede vir ontslag was.
As die rede inderdaad die deelname aan of ondersteuning van ‘n beskermde staking was, en nie operasionele vereistes nie, is dit outomaties onbillik.
Ten einde die ware rede vir ontslag vas te stel, moet die hof die kousale verband ondersoek. Die toets in Afrox is soortgelyk aan die toets wat deur Davis AR voorgestel word in Kroukam. Froneman ARP stel dit só in Afrox:
“[32] The enquiry into the reason for the dismissal is an objective one, where the employer’s motive for the dismissal will merely be one of a number of factors to be considered. This issue (the reason for the dismissal) is essentially one of causation and I can see no reason why the usual twofold approach to causation, applied in other fields of law, should not also be utilised here (cf S v Mokgethi and others 1990 (1) SA 32 (A) at 39D–41A; Minister of Police v Skosana 1977 (1) SA 31 (A) at 34). The first step is to determine factual causation: was participation or support, or intended participation or support, of the protected strike a sine qua non (or prerequisite) for the dismissal? Put another way, would the dismissal have occurred if there was no participation or support of the strike? If the answer is yes, then the dismissal was not automatically unfair. If the answer is no, that does not immediately render the dismissal automatically unfair; the next issue is one if legal causation, namely whether such participation or conduct was the “main” or “dominant”, or “proximate”, or “most likely” cause of the dismissal. There are no hard and fast rules to determine the question of legal causation (cf S v Mokgethi (supra) at 40). I would respectfully venture to suggest that the most practical way of approaching the issue would be to determine what the most probable inference is that may be drawn from the established facts as a cause of the dismissal, in much the same way as the most probable or plausible inference is drawn from circumstantial evidence in civil cases. It is important to remember that at this stage the fairness of the dismissal is not yet an issue (see paragraph [33] below). Only if this test of legal causation also shows that the most probable cause for the dismissal was only participation or support of the protected strike, can it be said that the dismissal was automatically unfair in terms of section 187(1)(a). If that probable inference cannot be drawn at this stage, the enquiry proceeds a step further.
[33] Section 188(1) provides that a dismissal that is not automatically unfair, is unfair if the employer fails to prove that the reason for the dismissal is a fair reason based on (amongst others) the employer’s operational requirements and that the dismissal was effected in accordance with a fair procedure (section 188(1)(a)(ii) and (b)). It is only at this stage that fairness of the dismissal comes into the picture.”
Wat ek dus moet besluit, op ‘n oorwig van waarskynlikhede, is wat die feitelike oorsaak van die applikant se ontslag was. Overgeset synde, sou die respondent steeds die applikant ontslaan het as hy nie aan vakbondbedrywighede deelgeneem het of met ‘n bruin vrou getrou het nie? As die antwoord ja is, is die ontslag nie outomaties onbillik nie. As die antwoord nee is, is die verdere vraag of een of albei van hierdie faktore die hoofrede of mees waarskynlike rede vir die ontslag was. En as die ontslag nie outomaties onbillik was nie, is die vraag steeds of daar ‘n billike rede vir die ontslag was. (Die vraag of die werkgewer ‘n billike proses gevolg het, was nie pertinent deel van die applikant se saak op die pleitstukke of in die voorverhoornotule nie).
Die applikant se saak
Die applikant het self getuig, en daarna die volgende getuies geroep:
Wendy Pekeur;
Johan Muller;
Susanna Mouton;
Izak Faro;
David Horn; and
Nikolaas “Linkie” Brink.7
Willem Mouton
Mouton is in Augustus 2004 in diens geneem deur Van der Merwe namens die respondent. (Dit is gemeensaak dat Van der Merwe, die respondent se besturende direkteur, vir alle doeleindes beskou is as die eienaar van die plaas en die werkgewer). Hy het eers in April 2008 ‘n dienskontrak onderteken. (Dit is heel moontlik op sigself ‘n verbreking van artikel 29 van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes8, maar dit blyk dat Van der Merwe eers op daardie stadium advies gekry het om skriftelike dienskontrakte met die werkers aan te gaan, en die feit dat werkers vir geruime tyd nie skriftelike kontrakte gehad het nie, is nie deel van die geskil voor die hof nie). Mouton het ten tyde van sy ontslag ‘n weeklikse loon van R477, 21 ontvang. Dit was ietwat meer as die meeste ander plaaswerkers wat die voorgeskrewe minimum loon in terme van die toepaslike Loonvasstelling ontvang het. Alhoewel sy posbeskrywing dié van plaaswerker was, het hy ook die trekker bestuur en gif besproei.
Mouton was voorheen by verhoudings met bruin vroue betrokke en is die vader van kinders wat by daardie vroue verwek is. Dit blyk uit sy kruisondervraging en Van der Merwe se latere getuienis dat Van der Merwe hiervan bewus was toe hy Mouton aangestel het.
Mouton het nietemin getuig dat sy verhouding met Van der Merwe versleg het nadat hy in Oktober 2007 met Susanna Ruiters (nou Mouton) ‘n verhouding aangeknoop het. Hy het aanvanklik ‘n gesonde werksverhouding met Van der Merwe gehad en Van der Merwe het selfs aan hom ‘n lappie grond beskikbaar gestel waarop hy vir eie wins rooibostee kon plant. Hy het getuig dat Van der Merwe dit later teruggeneem het sodat hy vir homself ‘n huis op die grond kon bou.
Mouton het verder getuig dat, nadat hy die verhouding met Ruiters begin het, sy verantwoordelikhede stelselmatig van hom weggeneem is sodat hy later nie meer toegelaat is om die trekker te bestuur of gif te besproei nie. Hy skryf dit toe aan die verhouding met Ruiters. Sy weeklikse loon het egter dieselfde gebly en is nie verlaag nie.
‘n Seun is in Januarie 2008 uit die verhouding gebore. Op Valentynsdag, 14 Februarie 2009, is Mouton en Ruiters getroud.
Kort daarna het sy werksverhouding met Van der Merwe, volgens Mouton, ‘n verdere wending ten kwade geneem toe hy begin het om werkers namens die vakbond te begin organiseer. Wat aanleiding gegee het daartoe, is dat die respondent in Maart 2009 begin het om loonaftrekkings van R8,00 per week vir die gebruik van water te maak en werkers se gelde vir die gebruik van ‘n crèche verhoog het. Dit was skynbaar as gevolg daarvan dat die minimumloon in terme van die toepaslike sektorale vasstelling9 verhoog is. Die werkers was van mening dat die aftrekkings teweeggebring het dat meer as 10% van hul lone afgetrek is t.o.v. akkommodasie, wat strydig sou wees met klousule 8(b) van die sektorale vasstelling.
Die werkers het spontaan saamgedrom by die pakstoor op Vrydag, 6 Maart 2009, nadat hulle hul loonpakkette ontvang het, om die aftrekkings te bespreek. Van der Merwe – wie se kantoor in dieselfde gebou is, teen ‘n stel trappe op – het hulle kom toespreek. Mouton en Ruiters10 het die werkers se griewe gelug. Volgens Mouton het Van der Merwe vir Ruiters toegesnou, “Hou jou bek!” en sy vinger in die lug geswaai. Mouton het vir Van der Merwe gemaan om nie so met sy vrou te praat nie en die werkers belowe dat hy vir hulle hulp van buite sou kry.
Op Maandag 9 Maart 2009 het die Moutons ‘n ANC-raadslid, Johan Muller, op Citrusdal gaan spreek. Hy het aan die hand gedoen dat die werkers by die vakbond (SDTU) moes aansluit. Muller sou aan die vakbond op Worcester, skryf en vir die vakbondverteenwoordiger, David Horn, vra om aandag te skenk aan die Platkloof-werkers.
Op Woensdag 11 Maart 2009 het die werkers weer met Van der Merwe vergader. Hy het gevra dat die vakbondlede eenkant moet staan. Hy het ook aan die werkers gevra of hulle weet wat rassisme is, en gesê dat hy nie ‘n rassis is nie, soos blyk daaruit dat hy o.a. bruinmense in senior poste op die plaas aangestel het.
Mouton het ook beweer dat Van der Merwe op hierdie vergadering aan hom gesê het hy “moet sy hotnotskinders vat en fokof”. Van der Merwe het voorts vir hom gesê dat hy hom gaan dissiplineer vir die diefstal van druiwe.
Die eerste dissiplinêre verhoor: wederregtelike neem van druiwe
Op 23 Maart 2009 is ‘n skriftelike kennisgewing aan Mouton uitgereik om op 26 Maart ‘n dissiplinêre verhoor by te woon weens die “wederregtelike neem van druiwe” op 9 Maart.
Die voorsitter van die verhoor was Paul Maritz, ‘n arbeidskonsultant. Maritz het bevind dat daar ‘n reël was dat werkers nie druiwe mag neem sonder toestemming nie; dat Mouton die reël verbreek het; en ‘n finale skriftelike waarskuwing, geldig vir 12 maande, aanbeveel. Die respondent het die aanbeveling aanvaar en op 30 Maart so ‘n waarskuwing uitgereik.
In hierdie verhoor het Mouton ontken dat daar so ‘n reël was en aangevoer dat ander werkers gereeld sakkies druiwe huis toe geneem het.
Tweede dissiplinêre verhoor: nie-uitvoering van pligte
Op 18 Mei 2009 is Mouton in kennis gestel van ‘n tweede dissiplinêre verhoor wat op 21 Mei gehou sou word. Die beweerde misdryf is beskryf as:
Nie-uitvoering van pligte;
Openbaring van swak gedrag;
Gebruik van kru taal teenoor werkgewer.
By hierdie dissiplinêre verhoor het Maritz eweneens as voorsitter opgetree. Hy het die tweede en derde klagte as een behandel, aangesien dit uit dieselfde feite voortgespruit het. Hy het bevind dat Mouton klagte een erken het, en dat die ander klagte ook bewys is. Hy het ‘n verdere skriftelike waarskuwing, geldig vir ses maande, aanbeveel. Die respondent het dit aanvaar en dit dienooreenkomstig uitgereik.
Die klagte het voortgespruit uit ‘n insident toe Van der Merwe aan Mouton opdrag gegee het om ‘n lugpyp (waarmee o.a. bande gepomp word) reg te maak. Die pyp was geknak agter die klamp. Mouton het in hierdie verhoor getuig dat hy dit nie kon regmaak nie; dat dit in elk nie sy verantwoordeliheid was nie; en dat hy die plaasbestuurder, ene Oros, gevra het om dit te doen. Hy het toegegee dat hy in die daaropvolgende konfrontasie met Van der Merwe vir hom gesê het: “Moenie jou gesig so trek nie, jy lyk vrek lelik as jy dit doen.” Hy het ontken dat hy die woorde “fokken lelik” gebruik het.
Derde dissiplinêre verhoor: Invordering en nie-oorbetaling van vakbondgelde
Die derde dissiplinêre verhoor spruit voort daaruit dat Mouton kontantgeld van vakbondlede verhaal het en dit na bewering nie aan die vakbond oorbetaal het nie, ten spyte daarvan dat die werkgewer subskripsies namens die vakbond van lede afgetrek en oorbetaal het. Daar was ook ‘n verdere klag dat hy die wiel van ‘n plaasvoertuig sonder toestemming geneem het.
Op Vrydag 22 Mei 2009 is Mouton in kennis gestel dat hy met volle betaling geskors word hangende ‘n ondersoek oor ernstige wangedrag, nl die invordering van gelde vanaf vakbondlede op die plaas en die nie-oorbetaling van daardie gelde aan die vakbond. Hy is gevra om enige voorleggings oor die skorsing voor 25 Mei om 08h30 aan Van der Merwe te maak.
Dieselfde dag skryf Moonadiah Moosa, die algemene sekrataris van die vakbond, aan Maritz insake die beweerde versuim om gelde aan die vakbond oor te betaal. Sy sê:
“I/S WILLEM:
Geliewe hiermee kennis te neem, verwys ons na ons gesprek rakende bogenoemde persoon en na betraging [sic] gedoen het ons tot die volgende besluite gekom.
Dat die Unie ‘n Konstitusie het wat na gekom [sic] moet word en daarom is die versoek dat die Unie self die saak van bogenoemde sal ondersoek en daar volgens [sic] optree.
Ons is van die mening dat dit ‘n unie aangeleentheid is, en nie die maatskappy.
Ons versoek ook dat die maatskappy nie betrokke sal raak. “
Maritz het op Maandag 25 Mei daarop geantwoord. Hy sê dat daar in beginsel geen beswaar is teen die versoek nie, mits die vakbond besonderhede sou verskaf oor die name van die persone van wie geld verhaal is; die bedrae en tydperke waarvoor dit verhaal is; wanneer dit aan die vakbond oorbetaal is, en bewys daarvan. By ontvangs van die inligting sou Mouton se skorsing opgehef word.
Verdere korrespondensie het gevolg ingevolge waarvan die vakbond voet by stuk hou dat hulle self sou optree; en Maritz steeds vir die inligting vra. Hy voeg by:
“Die werkgewer maak alreeds die toegewing aan u om die ondersoek te loots [sic]. Die werkgewer het ook ‘n reg om enige beweerde ongeruimdhede [sic] wat op of van die werksplek plaasvind en wat ‘n inpak [sic] op die werksplek het, te ondersoek. Hierdie ondersoek is onafhanklik van u dissiplinêre optrede.”
Op 26 Mei het die vakbond vir Maritz in kennis gestel dat Mouton van sewe vakbondlede geld verhaal het, en hul name verskaf. Voorts het die vakbond op Vrydag 22 Mei 2009 die bedrag van R250,00 ontvang wat in die vakbond se rekening inbetaal is.
Op Woensdag 27 Mei 2009 is Mouton se skorsing opgehef.
Die volgende dag, 28 Mei, skryf Maritz weer aan die vakbond. Hy wys daarop die vakbond steeds nie aangedui het vir watter tydperk die gelde verhaal is nie, en dat geen dokumentêre bewys van die inbetaling verskaf is nie. T.o.v. die sewe name wat verskaf is, wys hy daarop dat, behalwe vir een persoon (M Kriege), die werkgewer van dieselfde lede subskripsies verhaal en oorbetaal het aan die vakbond sedert 23 April 2009. Hy wys verder daarop dat die bedrag van R250 nie ooreenstem met die ledegeld betaalbaar aan die vakbond nie; dat die bedrag van R250 vir ‘n tydperk van vier weke nie oorbetaal is nie; en dat daar geen terugvoering is oor die vakbond se interne ondersoek nie. Hy volg op 5 Junie op en stel die vakbond in kennis dat, aangesien daar geen antwoord op sy vorige skrywes was nie, die werkgewer sou voortgaan met ‘n dissiplinêre ondersoek van sy eie.
Op 14 Julie 2009 is Mouton in kennis gestel van ‘n dissiplinêre verhoor wat op 17 Julie gehou sou word. Benewens vyf klagte voortspruitend uit die invordering en nie-oorbetaling van ledegeld aan die vakbond, wat deur die voorsitter as een klag behandel is, is Mouton ook beskuldig van wangedrag deurdat hy die wiel van ‘n voertuig van die werkgewer geneem het “sonder die nodige toestemming en/of meedeling aan die werkgewer en/of sy gedelegeerde.”
Die voorsitter van die dissiplinêre verhoor was Adv Johan Coetsee, ‘n onafhanklike advokaat en oud-landdros wat deeltyds praktiseer.
Adv Coetsee het t.o.v. klag een – die invordering van vakbondgelde – bevind dat lede van die werksmag ontevrede was dat Mouton van hulle ledegeld vir die vakbond verhaal het wat reeds deur die werkgewer afgetrek is. Nadat hy dokumente van die partye vergelyk het, wat Mouton se dagboek en die werkers se loonstrokies ingesluit het, het hy aanvaar dat dit wel so was. Hy het ook aangeteken dat Mouton vir Izak Faro as getuie geroep het, maar dat Faro se getuienis dié van die werkgewer gesteun het. T.o.v. klag 2 het Mouton volgens die notule die klag erken. Ter versagting het hy aangevoer dat die wiel aan die werkgewer terugbesorg is deur die polisie. Nadat ander versagtende omstandighede soos die feit dat Mouton drie minderjarige kinders het, oorweeg is, het Coetsee in ag geneem dat daar ‘n finale skriftelike waarskuwing teen hom van krag was; dat die vertrouensverhouding volgens die werkgewer onhoudbaar geword het weens die element van oneerlikheid wat die misdrywe kenmerk; en die impak van die oortredings op die werkgewer en ander werknemers. Hy het summiere ontslag aanbeveel.
In hierdie verhoor het Mouton getuig dat hy vakbond-ledegeld van nie-permanente werkers verhaal het, aangesien die werkgewer net aftrekkings namens permanente werkers gedoen het.
Wat permanente werkers betref, het Mouton getuig dat hy wel van hulle geld verhaal het vir die week van 8 Mei 2009 (week 19) omdat die respondent nie daardie week geld van hulle afgetrek het nie. Volgens hom was dit in opdrag van David Horn, die vakbond-organiseerder wat op Vredendal woon. Hy het die geld aan Horn oorbetaal. Die weeklikse ledegeld het R7,50 beloop.
Mouton het weer sy dagboek blootgelê, maar sedert die dissiplinêre verhoor is verskeie bladsye uitgeskeur. Die aantekeninge t.o.v. ledegeld wat wel verskyn, bevat die name van 15 vakbondlede en die annotasie: “Totaal verskuldig: R127, 50.”
Mouton het ook getuig dat Van der Merwe kommissie gevra het op die aftrekkings. Laastens het hy beweer dat vakbondlede geïntimideer is deurdat hulle belet is om die winkel op die plaas te gebruik.
Wat die verwydering van die wiel betref, het Mouton getuig dat hy ‘n wiel van ‘n gebreekte plaasbakkie gevat en vir sy vriend, Linkie Brink, geneem het wat met ‘n pap wiel by ‘n buurplaas, Misgund, gestaan het. Brink sou dit die volgende namiddag terugbring. Die volgende oggend het die Suid-Afrikaanse Polisiediens hom (Mouton) egter in hegtenis geneem op ‘n klag van diefstal en hom hom polisiestasie toe geneem. Nadat hy aan hulle verduidelik het wat die situasie was, het hulle die wiel van Brink teruggekry en aan die respondent terugbesorg. Geen strafverhoor het plaasgevind nie en Mouton het teruggekeer Platkloof toe.
Onder kruisondervraging is dit aan Mouton gestel dat Van der Merwe hom meer as die ander plaaswerkers betaal het om hom “op sy voete te help” nadat sy pa ‘n beskermingsbevel teen hom gekry het en Van der Merwe hom oor hom ontferm het. Hy het dit nie ontken nie. Dit is voorts aan hom gestel dat sy pligte stelselmatig verminder is, by name as trekkerbestuurder, omdat hy plaasimplemente en –voertuie gebreek het. Sy antwoord daarop was: “Masjiene kan nie vir altyd hou nie.”
Wat die lappie grond vir tee betref, het Mouton erken dat, toe Van der Merwe dit nodig gekry het om ‘n huis te bou, hy vir Mouton ‘n alternatiewe stuk grond aangebied het.
Mouton kon onder kruisondervraging nie rekenskap gee van die presiese bedrae geld wat hy van vakbondlede verhaal en oorbetaal het nie. Hy het getuig dat hy die geld “nie elke week” inbetaal het nie; dat dit elke week verskil het, omdat vakbondlede sou bykom of bedank; en dat hy nie presies kon sê hoeveel hy ingevorder het nie. Die dagboek is eers tydens kruisondervraging blootgelê, en Mouton het getuig dat sy kinders van die bladsye uitgeskeur het. Toe hy gevra is of hy nou – ten tyde van die verhoor – kon bereken hoeveel geld hy ingevorder het, het hy gesê die vakbondverteenwoordiger, David Horn, sou dit kon doen en hy het die geld aan Horn oorbetaal. Dit was glo meer as die R250 wat volgens die vakbond in hul rekening inbetaal is.
Mouton het erken dat hy die werksbakkie se linker-agterwiel afgehaal het om aan Brink te gee, en nie die noodwiel nie. Hy het hom “verspreek” toe hy in sy getuienis in hoof verwys het na die “spaarwiel”. Hy het erken dat hy die noodwiel, wat pap was, op die bakkie gesit het in die plek van die wiel wat hy afgehaal het om vir Brink te gee.
Wat die plaaswinkel betref, het Mouton erken dit behoort aan Oros se vrou en nie aan Van der Merwe nie. Hy het nietemin volgehou dat net vakbondlede nie meer daar kon koop nie, alhoewel Mnr Cronjé, die respondent se prokureur, dit aan hom gestel het dat Mev Oros besluit het om nie meer op skuld te verkoop aan enigiemand nie.
Wendy Pekeur
Me Wendy Pekeur is die algemene sekretaris van Sikhole Sonke, ‘n vakbond wat veral vroue op plase organiseer. Haar getuienis was interessant uit ‘n sosio-ekonomiese oogpunt maar hoofsaaklik irrelevant vir die doeleindes van hierdie geskil. Sy het in die algemeen getuig oor die probleme wat vakbonde ondervind om op plase te organiseer. Onder kruisondervraging het sy getuig dat haar vakbond nie enige probleme op Platkloof ondervind het nie, maar dat werkers dikwels bang is dat hulle hul voordele sou verbeur as hulle by ‘n vakbond aansluit.
Johan Muller
Johan Muller, ‘n ANC-wyksraadslid, het getuig dat hy in Maart 2009 ‘n gesprek met Mouton gehad het oor klagtes van die werkers op Platkloof. Hy het vir Van der Merwe geskakel, maar Van der Merwe het gesê “hy is nie bereid om met die ANC te praat nie” en sal self enige probleme op sy plaas oplos.
Susanna Mouton (geb Ruiters)
Mev Mouton, na wie ek sal verwys op haar nooiensvan, Ruiters, het op 1 Mei 2005 op Platkloof begin werk. Voordat sy met Mouton ‘n verhouding aangeknoop het, het sy ‘n verhouding met ‘n ander wit man, Alwyn Burger, gehad. Sy het ‘n elfjarige dogter by hom. Hy is op 26 April 2005 oorlede. Sy het getuig dat Van der Merwe die volgende dag by Karnemelksvlei na aanleiding daarvan gesê het: “Nog ‘n hotnotnaaier is vrek.” Drie ander werkers – Stiaan, Mandy en Lien11 – was teenwoordig.
Volgens Ruiters het Van der Merwe nie haar huwelik met die applikant goedgekeur nie: “As hy kon, sou hy dit gestop het.” Sy het getuig dat Van der Merwe vir haar verlof gegee het om voor te berei vir die troue, maar toe aan haar gesê het om te dink aan die kinders wat uit die huwelik gebore sou word. Sy het ook beweer dat, toe haar en Mouton se kind gebore is, hulle hom “agter toe gordyne” gehou het op die plaas.
Volgens Ruiters het Van der Merwe by die vergadering van 6 Maart 2009 vir haar gesê: “Ek skop jou gat. Jy moet jou donnerse bek hou”. Onder kruisondervraging is dit aan haar gestel dat Van der Merwe virhaar gesê het: “Moenie met my bek maak nie.”
By die volgende vergadering op Woensdag 11 Maart het Van der Merwe die vakbondlede en nie-lede geskei en gevra, “Wie is saam met my en wie is saam met Willem?” Volgens haar het Van der Merwe gesê vakbondlede mog nie meer “op die boek”, d.w.s. op krediet, koop by die plaaswinkel nie. Onder kruisondervraging is aan haar gestel dat dit almal gegeld het, nie net vakbondlede nie, en dat Mev Oros – die eienaar van die winkel -- so besluit het, nie Van der Merwe nie.
Wat die druiwe betref, het Ruiters getuig dat “almal” druiwe gevat het in die parstyd en dat Mouton ‘n Spar-sakkie met druiwe vir haar gedra het, en nie vir homself nie. Sy het nie getuig in Mouton se dissiplinêre verhoor nie. Ruiters het om en by April 2009 bedank.
Onder kruisondervraging het Ruiters bevestig dat sy twee maande na haar seun se geboorte weer in diens geneem is deur die respondent op haar versoek.
Izak Faro
Faro werk al sedert 1996 op Platkloof. Wat die neem van druiwe en ander produkte – soos lemoene en patats – betref, het hy getuig dat Van der Merwe aan die werkers gesê het: “Julle mag van alles vat, net nie dit wat ek kan verkoop om julle te betaal nie.”
Faro was teenwoordig by Mouton se eerste dissiplinêre verhoor. Volgens hom is hy nie toegelaat om te getuig nie, maar net om “in te sit”.
David Horn
Horn was die vakbondorganiseerder verantwoordelik vir Platkloof in 2009. Hy het die lidmaatskapvorms vir die vakbond aan Van der Merwe gegee. Hy het egter met Maritz vakbond-aangeleenthede bespreek en nie met Van der Merwe nie. Hy het wel ‘n paar maal met die werkers op die plaas vergader. Hy het ook vir Mouton toestemming gegee om ledegeld van die nie-permanente werkers te verhaal. Volgens hom het hy die bedrae in Muton se dagboek gekontroleer. Van die geld wat Mouton aan hom betaal het, het hy vir petrol gebruik en dit nie in die vakbond se bankrekening inbetaal nie. Hy het namens die vabond ‘n geskil oor organiseringsregte na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) verwys aangesien hy van mening was dat hulle genoegsame verteenwoordiging gehad het sodat die werkgewer met hulle moes onderhandel. Hy het dit egter nie opgevolg nie en is in Augustus 2009 weg uit die vakbond.
Onder kruisverhoor kon Horn geen inligting verskaf oor enige interne ondersoek oor die verhaal van ledegeld deur die vakbond nie. Volgens hom kon ledegeld per hand ingevorder word i.t.v. klousule 15.2 van die vakbond se konstitusie. Hy kon nie verduidelik hoekom daar nie voldoen is aan die volgende klousules nie:
“15.2 (a) Membership fees and levies shall be collected by branch secretaries or such other persons empowered to do so.
(b) All moneys shall be deposited within three days of receipt by the branch secretary to the credit of the branch executive committee.
(c) Remittances to the general secretary shall be accompanied by statements showing the names of members from whom collected, the amount paid in by each member, the names of members, if any, whose membership fees are in arrears and the amount of such arrears. The statements shall also detail any arrears payments made by members.”
Horn het bevestig dat die respondent aanvaar het dat die vakbond voldoende verteenwoordiging gehad het om aftrekorders te prosesseer – omtrent 30% -- maar nie ‘n meerderheid wat hulle geregtig sou maak om ‘n erkenningsooreenkoms met die respondent te sluit en bedingingsregte af te dwing nie.
Nicolaas Brink
Nicolaas Brink, alombekend as “Linkie”, het op die Moutons se plaas, Maanskloof, grootgeword. Hy het bevestig dat sy bakkie een aand ‘n pap wiel gehad het en dat hy vir Mouton gebel het om te help. Mouton het vir hom die plaasbakkie se wiel gebring en hy was van plan om dit die volgende namiddag na uitvaltyd terug te neem. Die volgende dag het die SAPD egter die wiel by hom kom haal.
Die respondent se saak
Die respondent het die volgende getuies geroep:
Paul Maritz
Maritz is ‘n arbeidskonsultant en lid van ‘n werkgewersorganisasie. Hy het die respondent van dienskontrakte voorsien, geadviseer oor arbeidsaangeleenthede en namens die respondent met die vakbond gekorrespondeer. Hy was ook die voorsitter van die eerste twee dissiplinêre verhore.
Maritz het getuig dat hy die respondent geadviseer het dat die vakbond voldoende verteenwoordiging onder die plaaswerkers op Platkloof geniet het, nl sowat 9 uit 27 permanente werkers (dws 30%), om aan hulle organiseringsregte te gee. Slegs as die vakbond ‘n meerderheid sou verteenwoordig, sou die respondent ‘n erkenningsooreenkoms sluit en met die vakbond beding oor lone en diensvoorwaardes.
M.b.t. die eerste dissiplinêre verhoor (die druiwe-voorval), het Maritz getuig dat hy vasgestel het dat daar ‘n reël was dat werkers nie druiwe mag wegneem nie; dat Mouton die reël verbreek het; en dat hy van mening was dat ‘n finale skriftelike waarskuwing, geldig vir 12 maande, ‘n gepaste sanksie sou wees. Die werkgewer het daardie sanksie aanvaar en toegepas.
Wat die tweede dissiplinêre verhoor betref, het hy bevind dat Mouton versuim het om die pyp reg te maak en dus ‘n opdrag verontagsaam het. Mouton het ook kru taal teenoor Van der Merwe gebesig. Maritz het ‘n skriftelike waarskuwing, geldig vir 6 maande, aanbeveel en die werkgewer het dit toegepas.
Wat die invordering van ledegeld betref, het Maritz getuig dat van die werkers gekla het dat Mouton geld van hulle verhaal, ten spyte daarvan dat die werkgewer reeds ledegeld aftrek van hul lone. Hy het dit as ‘n dubbele aftrekking beskou en aanbeveel dat dit ondersoek word.
Maritz het met die vakbond gekorrespondeer oor die invordering en oorbetaling van ledegeld. Hy het die algemene sekretaris se verduideliking dat R250 in die vakbond se rekening inbetaal is, en die versuim om besonderhede te verskaf oor die spesifieke bedrae wat van bepaalde lede ingevorder en oorbetaal is, onvoldoende geag. Hy het aanbeveel dat ‘n dissiplinêre verhoor gehou word en het as die inisieerder of “aanklaer” opgetree. Die voorsitter was ‘n onafhanklike advokaat en oud-landdros wat op Piketberg woon, Adv Johan Coetsee.
Maritz het getuig dat nie hy of Van der Merwe enige beswaar gehad teen vakbondlidmaatskap of die aftrekking van ledegeld van lede se lone nie. Die respondent se administratiewe personeel het dit tewens gedoen en die ledegeld aan die vakbond oorbetaal. Hulle beswaar was gerig teen wat hulle beskou het as dubbele aftrekkings deur Mouton en die feit dat nòg hy nòg die vakbond daarvan kon rekenskap gee. Dit het ‘n impak gehad op die werksmag en daarom ook op die respondent.
Wat die sektorale vasstelling en die aftrekking van water- en elektrisiteitskoste betref, het Maritz getuig dat hy vir Van der Merwe aanbeveel het om die aftrekkings vir water te staak, aangesien dit nog nie getoets is of ‘n werkgewer kragtens die vasstelling beide bedrae kon aftrek nie. Van der Merwe het toe die aftrekkings gestaak.
Adv Johan Coetsee
Coetsee is ‘n nie-praktiserende advokaat en oud-landdros. Hy het as voorsitter opgetree in die derde en laaste dissiplinêre verhoor. Hy het die eerste vyf klagte saamgevat en moes dus oor die volgende twee klagte beslis:
“Wederregtelike invordering en terughouding van gelde van werknemers, voorgehou deur hom [Mouton] aan die werkers as verskuldigde unie ledegeld.
Die neem van ‘n voertuig wiel wat aan die werkgewer behoort sonder toestemming.”
Mouton het volgens Coetsee skuldig gepleit op die tweede klag. Daar is voortgegaan met getuienis op die eerste klag.
Van der Merwe het voor hom getuig dat sommige werkers by hom gekla het; dat die dubbele invordering van ledegelde ‘n negatiewe impak het op sy werksmag; en dat die vakbond nie die bewerings weerlê het nie.
Die verrigtinge is toe verdaag sodat Mouton en Van der Merwe hul dokumentasie – d.i Mouton se dagboek en die betaalstrokies – kon vergelyk. Daarna het beide bevestig dat daar ‘n dubbele verhaling was. Mouton se getuie, Izak Faro, het dit ook bevestig. Coetsee het dus bevind dat Mouton wel “wederregtelik” gelde ingevorder het van werknemers en dit nie aan hulle teruggegee het nie.
Ter versagting het Coetsee in ag geneem dat Mouton erken het “hy het foute gemaak” maar dat hy nie die werkgewer skade wou berokken nie; en dat die bakkiewiel deur die SAPD teruggevind en aan die werkgewer terugbesorg is. Verder het hy in ag geneemdat Mouton drie minderjarige kinders het.
Daarenteen het Coetsee die vorige oortreding van die diefstal van druiwe, waarvoor ‘n finale skriftelike waarskuwing geldig was, in ag geneem. Van der Merwe het voorts getuig dat Mouton se optrede die vertrouensverhouding tussen hulle geskaad en inderdaad onhoudbaar gemaak het. Van der Merwe kon Mouton nie langer vertrou nie, aangesien die aanklagte almal op oneerlikheid slaan.
Hy het tot die gevolgtrekking gekom dat summiere ontslag die gepaste sanksie was. Mouton is dan ook op 17 Julie 2009 ontslaan.
Stiaan Hoorns
Hoorns is ‘n toesighouer by die respondent se pakstoor. Hy werk reeds 12 jaar lank vir die respondent.
Hy het getuig dat ‘n mede-werker, Annelien Sass, vir hom gesê het sy’s ongelukkig daaroor dat die werkgewer ledegeld aftrek van die vakbond en dat Mouton ook kontant verhaal. Sy’t vermoed Mouton het van die geld aan Johan Muller, die ANC-raadslid, gegee. Muller het glo ‘n braai by sy huis gehou. Hierdie getuienis is natuurlik hoorsê, en Hoorns het verduidelik dat Sass nie self kon getuig nie, aangesien sy twee dae vantevore ‘n keisersnee-operasie gehad het en nog in die hospitaal is.
Hoorns bly langs Mouton. Hy het gehoor dat Mouton en sy vrou (Ruiters) ‘n woordewisseling gehad het en dat Ruiters gekla het dat Mouton vir Muller druiwe gee. Hy het getuig dat die reël op die plaas is dat jy soveel druiwe kan eet soos jy wil in die wingerd, maar dat jy moet vra voordat jy druiwe kan huis toe vat.
Hoorns was teenwoordig toe die werkers die nuus gekry het dat Alwyn (ook bekend as “Elbie”) Burger, by wie Ruiters ‘n kind gehad het, oorlede is. Mouton het by die pakstoor aan Ruiters gesê: “Liefie, ek het slegte nuus. Elbie is oorlede”. Die meeste ander werkers was in die omtrek, aangesien hulle pas van die bakkie afgeklim het by die pakstoor. Van der Merwe het ook by die trappe afgekom en die nuus gehoor. Hy het nooit gehoor dat Van der Merwe sê, “nog ‘n hotnotnaaier is dood” of iets in dier voege nie.
Hoorns, ‘n bruinman, het nooit enige rassisme van Van der Merwe se kant ervaar in die 12 jaar wat hy by hom gewerk het nie. Hy is nie daarvan weerhou om by die vakbond aan te sluit nie, maar het verkies om nie aan te sluit nie.
Rentia Witbooi
Me Witbooi is ‘n sekretaresse wat die respondent se administratiewe take behartig. Sy het die loonstrokies voorberei en die aftrekkings vir die vakbond gemaak. Sy het een week vergeet om die R7,50 ledegeld af te trek en toe die volgende week R15 afgetrek. Sy het die week toe sy nie die aftrekkings gemaak het nie, aan die werkers verduidelik dat sy dit die volgende week sou aftrek.
Witbooi het ook een week R8,00 i.p.v. R7,50 per lid afgetrek. Dit is omdat Sass aan haar gesê het Mouton verhaal R8 per week van die lede. Die volle bedrag is aan die vakbond oorbetaal. Nadat Maritz aan haar gesê het die korrekte bedrag is R7,50 het sy dit reggestel. Die ekstra 50c per lid is nie verhaal van die vakbond en terugbetaal aan die werkers nie. Die vakbond het dit ook nie oorbetaal aan die werkers nie.
Witbooi het nie gehoor dat Van der Merwe kru taal teenoor Ruiters gebruik nie. Sy’t wel gehoor dat Ruiters vir Mouton sê, n.a.v. die feit dat Mouton nie ‘n jaarlikse loonverhoging gekry het nie: “Dis omdat jy met ‘n hotnotmeid getroud is.”
Witbooi het ook getuig dat Mouton vir Johan Muller druiwe gegee het. Sy is Mouton se ander buurvrou.
Kobus van der Merwe
Soos voorheen aangedui, was Van der Merwe die plaasboer op Platkloof. Hy is die besturende direkteur van die respondent, maar word allerweë beskou as die eienaar en werkgewer.
Van der Merwe het vir Mouton werk aangebied nadat twee predikante met hom kom gesels het en hom gevra het of hy kan help. Mouton is sy pa se plaas belet nadat hy sy pa aangerand het. Van der Merwe het vantevore aan “probleemkinders” ‘n heenkome gebied en hulle gehelp om “op die regte pad te kom”.
Hy het bevestig dat hy aanvanklik vir Mouton grond gegee het om tee op aan te plant. Hy moes dit egter na sy egskeiding gebruik om vir hom ‘n huis te bou, aangesien sy gewese vrou – wat steeds as mede-direkteur van die respondent aangebly het – in die oorspronklike plaasopstal bly woon het.
Van der Merwe het ook bevestig dat Mouton aanvanklik ‘n goeie werker was en dat hy ekstra verantwoordelikhede gekry het soos spuitwerk en om die trekker en vurkhyser te bestuur. Stelselmatig het sy werk egter agteruitgegaan. Hy’t kratte gebreek met die vurkhyser en met die trekker in ‘n sloot beland. Van der Merwe het bereken dat Mouton oor die jare omtrent R115 000 se plaasimplemente en -toerusting gebreek of verniel het. Hy het hom egter nie formeel gedissiplineer nie, maar net streng aangespreek. Hy het Mouton se nalatigheid onder meer daaraan toegespreek dat hy (Mouton) op daardie stadium ‘n verhouding met ‘n ander vrou op ‘n plaas 8km weg gehad het. Hy sou saans na uitvaltyd daarheen stap of draf, die nag daar deurbring en die volgende oggend moeg terugkom.
Van der Merwe het ontken dat Mouton se verhouding of huwelik met Ruiters enigsins relevant was tot sy ontslag. Toe Van der Merwe vir Mouton in diens geneem het, was hy wel deeglik bewus daarvan dat Mouton al van skooldae af verhoudings met bruin vroue gehad het en buite-egtelike kinders by een of meer vroue verwek het.
Van der Merwe het erken dat hy wel met die Moutons gepraat het oor hul voorgenome huwelik. Hy het geen beswaar daarteen gehad nie, maar het gesê dat daar dikwels wreed opgetree word teen kinders uit gemengde huwelike op plattelandse skole. Hy het self ‘n vriend wat uit so ‘n huwelik gebore is, en dié het aan hom gesê dat hy as ‘n “basterkind” beskou is en baie spot moes verduur op skool.
Hy het die bewerings van rassistiese opmerkings ten sterkste ontken. Hy het daarop gewys dat Ruiters oorspronklik gesê het hy sou die gewraakte opmerking oor Elbie Burger by Karnemelksvlei gemaak het, maar aan Stiaan Hoorns is dit gestel dat dit by die pakstoor gebeur het. Hy (Van der Merwe) het van Burger se dood gehoor nadat hy werkers by Karnemelksvlei opgelaai en by die pakstoor afgelaai het. Hy is op met die trappe, en toe hy weer afkom, sien hy dat Mouton vir Ruiters omhels en haar vertel van Burger se dood. Hy het die gewraakte woorde nooit geuiter nie.
Op die vergadering by die pakstoor op 11 Maart 2009 was daar ‘n geroesemoes oor die water-aftrekkings. Ruiters het baie geraas, en hy het vir haar gesê: “Moenie bek maak nie”. Op advies van Maritz het hy die water-aftrekkings gestaak.
Hy het gesien dat Mouton ‘n sakkie druiwe by hom het, hoewel hy nie die datum kon onthou nie. Hy het toe vir Mouton gesê dat hy hom sou dissiplineer daaroor.
Van der Merwe het ontken dat hy teen die vakbond gekant was. Hy was self jare gelede, in die Sewentigs, lid van ‘n vakbond in die motorbedryf. Hy het wel die werkers toegespreek en gevra dat die vakbondlede eenkant moet staan. Hy het vir hulle gesê hulle is welkom om aan te sluit, maar hy kon nie die nut daarvan insien nie, aangesien hy reeds meer as die voorgeskrewe minimumloon betaal, en dat hulle werksure, behuising, aftrekkings vir werkloosheidsversekering e.d.m. alles in orde is. Hy het getuig dat 90% van die werkers langer as 25 jaar by hom werk en geen griewe gehad het nie. Hy het die verdere onderhandelings met die vakbond aan Maritz oorgelaat. Hy het ontken dat hy ‘n ekstra 50c per week vir “kommissie” van lede sou aftrek. Die aftrekking wat deur Witbooi gemaak is, is aan die vakbond oorbetaal, maar dit is reggestel en is nie verder afgetrek nie.
Wat regmaak van die pyp betref, het Van der Merwe getuig dit was ‘n eenvoudige taak wat Mouton geweier het om uit te voer. Toe hy daaroor aangespreek is, het hy ‘n snedige opmerking gemaak en vir Van der Merwe gesê: “Jy lyk darem fokken lelik as jy jou bek so trek.”
Van der Merwe het bevestig hy het klagtes ontvang van werkers – onder meer Annelien Sass en Stiaan Hoorn – dat Mouton ledegeld by seisoenale sowel as permanente werkers verhaal het. Die vakbondverteenwoordiger, David Horn, het nie opgedaag vir vergaderings nie en die werkers het begin vermoed die geld word vir ander doeleindes aangewend. Maritz het dit toe ondersoek en ‘n dissiplinêre verhoor aanbeveel. Hy (Van der Merwe) het die oggend van die verhoor die eerste keer vir Adv Coetsee ontmoet. Mouton was opstandig in die verhoor en Coetsee het die verrigtinge verdaag sodat hulle na Mouton se dagboek kon kyk en die aftrekkings vergelyk met die betaalstrokies. Hulle het tot die slotsom gekom dat Mouton geld verhaal het wat reeds afgetrek is i.t.v. die betaalstrokies. Mouton se getuie, Faro, het dit bevestig.
Van der Merwe het getuig dat hy van mening is dat die aftrekkings wel ‘n impak op die werkgewer het. Die werkers was ongelukkig en dit het geblyk dat geld onder valse voorwendsels gekollekteer is van mense wat dit reeds nie mildelik het nie.
T.o.v. die neem van die bakkie se wiel het Van der Merwe getuig hy he teen oggend gesien die een regter-agterband is pap en die noodwiel is weg. Hy het onder die werkers gevra waar dit is, en iemand het gesê Mouton het dit gevat. Mouton het hom nie self daarvan verwittig nie. Hy het die SAPD in kennis gestel. Hulle het vir Mouton ondervra en hy het erken hy het die wiel gevat. Die SAPD het die wiel by Linkie Brink op Maanskloof gekry en dit terugbesorg.
Van der Merwe het verder getuig dat die Departement van Arbeid op Mouton se versoek ‘n volledige oudit op die plaas kom doen het. Drie inspekteurs van Vredenburg het die plaas besoek vir omtrent ‘n uur en ‘n half, al die tersaaklike dokumente deurgegaan en vier van die werkers ondervra. Die inspekteurs was met alls tevrede.
Drie weke daarna is nog ‘n inspeksie gedoen. Mouton het blykbaar gekla dat die vorige inspekteurs “omgekoop” is omdat Van der Merwe vir hulle ‘n sakkie lemoene gegee het. Faro het ook gekla oor die plaasbestuurder, Oros, se taalgebruik omdat Oros vir hom gesê het: “Jou kind kom fok nie deur my werf met jou bakkie in die nag nie.” Die inspekteurs het weer bevestig dat alles in orde is.
In antwoord van ‘n vraag deur die Hof het Van der Merwe onderneem om seker te maak dat alle aftrekkings vir water met rente aan die werkers terugbetaal sou word.
Redes vir ontslag
Ten einde die besluit of die applikant in sy eis kan slaag, moet ek besluit wat die ware redes vir sy ontslag was. Is die rede vir die ontslag ras of, in die woorde van art 187(1)(d):
“dat die werknemer stappe gedoen het, of ’n voorneme te kenne gegee het om stappe te doen teen die werkgewer deur—
(i) enige reg uit te oefen wat by hierdie Wet verleen word; of
(ii) deel te neem aan enige verrigtinge ingevolge hierdie Wet”?
As die antwoord ja is, is die ontslag outomaties onbillik. Indien nie, is die vraag steeds of daar ‘n billike rede vir die ontslag was.
Ten einde hierdie vraag te beantwoord, sal ek elke klag in oënskou neem in die lig van die getuienis; en dan spesifiek die kwessies van ras en vakbondbedrywighede ondersoek.
Eerste dissiplinêre verhoor
Al respondent se getuies wat oor die neem van druiwe getuig het – d.i. Van der Merwe, Hoorns en Witbooi – het getuig dat die reël was dat werkers kon druiwe eet in die wingerd, maar dit nie huis toe neem nie. Izak Faro, wat deur die applikant geroep is, se getuienis was dubbelsinnig – volgens hom het Van der Merwe gesê die werkers mag van alles vat, maar nie dít wat hy kon verkoop nie. Net Mouton en Ruiters het getuig dat hulle druiwe kon huis toe vat.
Faro was nie ‘n indrukwekkende getuie nie. Veral sy getuienis oor die inspeksie deur die Departement van Arbeid was by tye onsamehangend. Die respondent se getuies, aan die ander kant, het beïndruk. Hulle het die indruk geskep dat hulle eerlik en reguit praat. Hulle het toegewings gemaak waar dit van pas was – bv Witbooi wat erken het sy het ‘n fout gemaak deur een week nie ledegeld af te trek nie, en Van der Merwe wat erken hy het by geleentheid sy humeur met Mouton verloor en vir hom gesê: “Donner Willem, hou op fokken breek! G’n mens kan dit hou op dié plaas nie.”
By die dissiplinêre verhoor het die voorsitter, Maritz, Van der Merwe se getuienis in dié verband in ag geneem; asook Mouton se eie verteenwoordiger, Kabola, wat bevestig het “dat daar altyd eers gevra word voordat items op die plaas gevat kan word.” Kabola het nie in die verhoor voor my getuig nie.
Op ‘n oorwig van waarskynlikhede het Mouton wel ‘n reël verbreek. Dit is so dat ‘n sakkie druiwe dalk geringe waarde het, veral op ‘n plaas waar dit verbou word; maar die element van oneerlikheid is daar, ongeag die waarde, soos bevestig in Anglo American Farms t/a Boschendal Restaurant v Komjwayo15 en vele gewysdes wat daarop volg. Die sanksie wat deur Maritz aanbeveel en deur die respondent opgelê is, nl ‘n finale skriftelike waarskuwing geldig vir 12 maande, is m.i. nie onbillik nie. Dit speel natuurlik ‘n rol by die uiteindelike ontslag.
Op die getuienis voor my is daar geen rede om te bevind dat Mouton oor die druiwe-voorval gedissiplineer is a.g.v. sy huwelik met Ruiters of sy vakbondbedrywighede nie. Daar is geen bewyse dat die werkgewer inkonsekwent opgetree het en bewus was van ander werkers wat dieselfde misdryf gepleeg het, maar nie teen hulle opgetree het nie.
Tweede dissiplinêre verhoor
Mouton het erken dat hy die opdrag om die lugpyp reg te maak, verontagsaam het. Sy verduideliking dat hy dit nie kon doen nie – of dat Oros dit moes doen – hou nie water nie. Dit was ‘n eenvoudige takie wat bloot behels het dat hy ‘n deel van die pyp moes afsny, dit weer las, en met ‘n klampie of ‘n stuk bloudraad vasmaak. Sy snedige opmerking teenoor die werkgewer – hetsy of hy die woorde “vrek lelik” of “fokken lelik” gebruik het – is ook nie aanvaarbaar in ‘n diensverhouding nie. Die skriftelike waarskuwing van ses maande vir hierdie oortreding is nie onvanpas nie, en daar is geen gronde om te bevind dat dit voortspruit uit Mouton se verhouding of huwelik met Ruiters of sy vakbondbedrywighede nie.
Ras?
Daar is geen twyfel nie dat Mouton se ontslag outomaties onbillik sou wees as die oorwegende rede daarvoor sy verhouding of huwelik met Ruiters was. Ek aanvaar dat die huwelik, sou dit die rede of ‘n rede vir ontslag wees, binne die bestek van art 187(1)(f) van die Wet op Arbeidsverhoudinge val. Dit sou direk of indirek kon toegeskryf word aan ras of huwelikstaat.
Dat rassisme steeds ‘n euwel in ons samelewing is, 17 jaar nadat ons met groot hoop die ideaal van ‘n nie-rassige samelewing binne ‘n grondwetlike bestel tegemoetgegaan het, is ‘n ongelukkige feit. Dit is heel waarskynlik so, soos Van der Merwe getuig het, dat rassisme steeds ‘n algelemene verskynsel is, veral op die platteland, en dat kinders uit gemengde huwelike steeds die hoon van hul klasmaats moet verduur. Die feit dat hierdie soort optrede ongrondwetlik, immoreel en onaanvaarbaar is, beteken helaas nie dat dit orals uitgeroei is nie.
Ek stem saam met die sentimente van die Arbeidsappèlhof in Crown Chickens (Pty) Ltd t/a Rocklands Poultry v Kapp & Others:16
“In my view, courts should take a firm stand against acts of racism...
It seems to me that in being required to uphold the Constitution and the human rights entrenched in it, the courts are enjoined to play a particularly critical role in, among others, the fight against racism, racial discrimination and the racial abuse of one race by another. They must play that role fairly but firmly so as to ensure the elimination of racism in our country and the promotion of human rights. This Court is alive to this role and will seek to play it fully, fairly but firmly. The role of the Labour Court and this Court is particularly important in the field of labour and employment. This is so because the decisions of these two courts have a significant impact in almost every workplace throughout the breadth and the length of the country – in offices, in shops, in factories, on farms and elsewhere. Furthermore this is because the Employment Equity Act 55 of 1998 has conferred on the Labour Court and, through appeals, this Court a critical role to play in the promotion of employment equity in this country. To demonstrate the importance of the role that these two courts are required to play in the new constitutional order in this regard, one needs only to refer to the fact that section 49 of the Employment Equity Act – which is one of the most critical pieces of legislation passed after 1994 in this country aimed at redressing the imbalances of the past created by racism – makes the Labour Court the only court that has jurisdiction to determine any dispute about the interpretation or application of that Act. Racism has hindered this country in a significant way from advancing in all kinds of ways that would have enabled it a long time ago to proudly take its rightful place in the family of nations. Had it not been for racism and apartheid, a lot of energy that the majority of people in the country put into fighting racism and apartheid could have been used for the advancement of South Africa in various spheres of the lives of its people both internally and internationally...
The attitude of those who refer to, or call, Africans “Kaffirs” is an attitude that should have no place in any workplace in this country and should be rejected with absolute contempt by all those in our country – black and white – who are committed to the values of human dignity, equality and freedom that now form the foundation of our society. In this regard he courts must play their proper role and play it with conviction that must flow from the correctness of the values of human dignity, equality and freedom that they must promote and protect. The courts must deal with such matters in a manner that will “give expression to the legitimate feelings of outrage” and revulsion that reasonable members of our society – black and white – should have when acts of racism are perpetrated.”
Ek skaar my onomwonde by hierdie uitspraak. Dis egter nie van toepassing op die bewese feite in hierdie saak nie. Op ‘n oorwig van waarskynlikhede is geen verband tussen die huwelik en die ontslag bewys nie.
Mouton en Ruiters se getuienis is sterk aangedik. Dit is moeilik om Ruiters se getuienis dat sy haar en Mouton se tweede kind “agter toe gordyne” moes hou, ernstig op te neem. Sy het toe reeds twee kinders uit gemengde huwelike gehad – een daarvan saam met Mouton – waarvan Van der Merwe wel deeglik bewus was.
Die bewering dat Van der Merwe na Burger verwys het as ‘n “hotnotnaaier” toe hy oorlede is, is ook deurspek met teenstrydighede. Eers sou dit by Karnemelksvlei gebeur het, toe by die pakstoor. Van der Merwe ontken dit. Hoorns en Witbooi, wat albei by die pakstoor was, ontken dit ook. Geeneen van die werkers wat glo teenwoordig was – soos Mandy, Lien of Ellie – is deur die applikant geroep nie. Ek bevind dat dit ‘n versinsel is wat ‘n vraagteken agter die Moutons se getuienis as geheel plaas.
Dieselfde geld die bewering dat Van der Merwe aan Mouton sou gesê het hy “moet sy hotnotskinders vat en fokof” van die plaas af.
Die paternalistiese houding van Van der Merwe, wat die Moutons gemaan het dat hulle aan die kinders moet dink, kan wel gekritiseer word. Hierdie soort paternalisme is steeds wel algemeen op plase in die Wes-Kaap en elders, soos Me Pekeur ook getuig het. Dis egter vir my duidelik dat Van der Merwe geen kwade bedoelings daarmee gehad het nie. Hy het sy bedenkinge uitgespreek n.a.v. die ondervinding van ‘n vriend van hom wat self die hoon van sy skoolmaats moes verduur. Dit mag paternalistes wees, maar dis nie rassisties nie.
Wat ook al Van der Merwe se politieke en lewensagtergrond mag wees, kan ek nie bevind dat hy rassisties opgetree het op sy plaas nie. Geen sulke bewerings is bewys nie. Die feit dat net drie uit sowat 80 lede van die werksmag wit is, dui nie op ‘n poging om blankes te bevoordeel nie. Al die toesighouers op die plaas, behalwe een, is bruin. Me Witbooi – wat ironies genoeg, in teenstelling met haar naam, ‘n bruin vrou is – is in ‘n administratiewe pos aangestel bo drie gekwalifiseerde wit aansoekers.
In elk geval was Van der Merwe wel deeglik bewus van Mouton se vorige verhoudings met bruin vroue, en die feit dat hy kinders by hulle verwek het, toe hy hom ‘n pos aangebied het. Dis darem te dik vir ‘n daalder om nou aan die hand te doen dat hy sewe jaar later vir Mouton sal afdank vir dieselfde rede.
Die applikant se eis dat sy ontslag onbillik was op grond van ras, word van die hand gewys.
Vakbondbedrywighede?
Die vraag of die applikant se vakbondbedrywigede ‘n rede vir sy ontslag was, is ietwat meer genuanseerd. Met die eerste oogopslag mag dit blyk dat dit wel die hoofrede was: Hy is immers afgedank omdat hy o.a. geld vir vakbondlidmaatskap ingesamel het. Dit is egter belangrik om noukeurig te ondersoek of die rede vir ontslag wel binne die bestek van art 187(1)(d) val, soos die applikant beweer.
Eerstens moet die bewoording van die artikel weer bestudeer word. Is die rede vir ontslag:
“dat die werknemer stappe gedoen het, of ’n voorneme te kenne gegee het om stappe te doen teen die werkgewer deur—
(i) enige reg uit te oefen wat by hierdie Wet verleen word; of
(ii) deel te neem aan enige verrigtinge ingevolge hierdie Wet”?
In hierdie geval het die werknemer nie enige stappe gedoen teen die werkgewer of te kenne gegee dat hy voornemens was om teen die werkgewer stappe te doen nie. Hy het wel die vakbond genader, werkers georganiseer om by die vakbond aan te sluit, en ledegeld van hulle afgetrek; maar hy het geen stappe teen die werkgewer gedoen nie. Die ontslag val dus nie binne die bestek van art 187(1)(d) nie.
‘n Verdere vraag sou kon wees of die ontslag binne die algemene bestek van art 187(1) val, m.a.w. of die werkgewer strydig met art 5 opgetree het. Die vraag sou wel gevra kon word of hy ontslaan is a.g.v een van die volgende aspekte wat in art 5(c) vervat word:
“(i) lidmaatskap van ’n vakbond of werkplekforum;
(ii) deelname aan die stigting van ’n vakbond of federasie van vakbonde of instelling van ’n werkplekforum;
(iii) deelname aan die wettige bedrywighede van ’n vakbond of federasie van vakbonde of ’n werkplekforum...”
Dit is egter nie die saak wat gepleit is nie, en die werkgewer is nie gevra om hom teen daardie saak te verweer nie. Die applikant se saak is vervat in sy pleitstukke en dit word herhaal in die voorverhoornotule, naamlik:
“The court is required to determine whether the applicant’s dismissal:
Constitutes an automatically unfair dismissal in contravention of s 187(d) [sic]17 of the LRA as a result of the applicant exercising his right of freedom of association to participate in forming a trade union and to join a trade union and to participate in the lawful activities of the trade union in terms of subsections 4(1) and (2) of the LRA; and
Constitutes unfair discrimination against the applicant directly or indirectly on the grounds of race because of his relationship and marriage to a coloured woman, in cotravention of subsection 187(f) [sic]18 of the LRA.”
Die applikant se saak berus dus vierkantig op subartikels (d) en (f) van artikel 187(1). Ek het reeds bevind dat hy nie slaag op grond van subartikel (f) nie. Wat subartikel (d) betref, is die bewoording van daardie subartikel duidelik: die ontslag is net outomaties onbilik as die rede vir ontslag is:
““dat die werknemer stappe gedoen het, of ’n voorneme te kenne gegee het om stappe te doen teen die werkgewer deur—
(i) enige reg uit te oefen wat by hierdie Wet verleen word; of
(ii) deel te neem aan enige verrigtinge ingevolge hierdie Wet”.
In die onderhawige saak het Mouton geen stappe teen die werkgewer gedoen, of ‘n voorneme te kenne gegee om stappe teen die werkgewer te doen, wat deur subartikel (d) ondervang word nie. Die enigste stappe wat hy gedoen het, is om hierdie verrigtinge teen die werkgewer aanhangig te maak; en dit was kennelik nie die rede vir sy ontslag nie.
Die werkgewer se saak is dat die invordering van ledegeld deur Mouton, terwyl die werkgewer reeds aftrekorders prosesseer, ‘n impak gehad het op die werkplek. Horn was ontwykend toe hy uitgevra is oor die oorbetalings aan hom en kon nie verduidelik hoekom die bedrag wat in die vakbond se rekening inbetaal is, nie klop met dit wat Mouton glo aan hom oorbetaal het nie.
Aan die ander kant het Coetsee in ag geneem dat, volgens hom, die geld wat Mouton ingevorder het, nie oorbetaal is aan die vakbond nie. Dit blyk dat hy nie bewus was van die R250 wat in die vakond se bankrekening inbetaal is nie. Mouton het nie voor hom getuig oor die geld wat aan die vakbondverteenwoordiger, David Horn, oorbetaal is nie. Horn het ook nie getuig nie. Die bevinding van oneerlikheid het dus berus op ‘n foutiewe aanname dat Mouton die geld wat hy van werkers verhaal het, vir homself gehou het. Nietemin kon nòg Mouton nòg Horn in hierdie verrigtinge, twee jaar later, behoorlik rekenskap gee van die bedrae wat van lede verhaal is. Geld is klaarblyklik dubbeld verhaal van lede; die werkgewer het al die geld wat hy verhaal het, aan die vakbond oorbetaal; en nòg die vakbond nòg Mouton het die geld wat Mouton verkeerdelik van ten minste die permanente werkers verhaal het, aan hulle terugbetaal. Dit is meer waarskynlik as nie dat die werkers ontevrede was, hulle lot by die werkgewer bekla het, en dat dit inderdaad ‘n negatiewe impak op die werksplek gehad het. Hierdie optrede van Mouton sou ook redelikerwys lei tot ‘n gebrek aan vertroue in hom as werknemer. En ‘n werkgewer word nie verhoed om tee n’n vakbondverteenwoordiger op te tree, selfs binne die uitvoering van sy pligte as sodanig, as die optrede nie bona fide was nie.19
Dit blyk verder dat die vakbond in stryd met sy eie konstitusie opgetree het, en spesifiek met klousule 15.2 daarvan. Dit is ‘n inderdaad in die eerste plek ‘n interne vakbond-aangeleentheid. Die Society Development Trade Union is nie ‘n party tot hierdie aansoek nie. Dit is laakbaar dat die vakbond nie ‘n behoorlike ondersoek gedoen het na die moontlike misbruik van lidmaatskapsgelde deur òf Mouton òf Horn nie; maar ‘n mens sou kon argumenteer dat dit nie ‘n aangeleentheid is waarmee die werkgewer hom behoort te bemoei nie. Soos die algemene sekretaris tereg aangedui het, is dit ‘n vakbond-aangeleentheid. Die lede moes by die vakbond daarop aangedring het dat daar na hul belange omgesien word en dat ‘n behoorlike ondersoek gehou word, nie by die werkgewer nie. Die feit is egter dat die werkers hulle lot by die werkgewer bekla het; en ten spyte van die werkgewer se pogings om by die vakbond vas te stel wat die ware toedrag van sake was, kon of wou die vakbond nie rekenskap gee van die presiese bedrae wat deur Mouton verhaal of oorbetaal is nie. Dit mag weer eens dui op ‘n paternalistiese werksverhouding, waar die werkers hulle op die werkgewer eerder as hul vakbond beroep; maar nadat dit gebeur het, en by gebrek aan enige optrede deur die vakbond, het die werkgewer nie juis ‘n keuse gehad nie – hy moes die ontevredenheid van die werkers aanspreek.
Een van die redes vir Mouton se ontslag was die feit dat hy lidmaatskapsgeld vir die vakbond by lede verhaal het. Dit sou miskien binne die bestek van art 5(c)(iii) kon val, naamlik “deelname aan die wettige bedrywighede van ’n vakbond”. Die insamel van ledegeld namens die vakbond van lede is op die oog af wettig; maar die skynbare wanbesteding daarvan is teenstrydig met die vakbond se konstitusie. In elk geval berus die applikant se saak nie op artikel 5 nie.
Op die getuienis voor my het die applikant hom nie van die bewyslas gekwyt dat die hoofrede vir sy ontslag binne die bestek van artikel 187(1)(d) van die Wet val nie.
Prosedurele aspekte
Dit was moontlik onvanpas van Maritz, die respondent se arbeidskonsultant, om as voorsitter op te tree in twee van die drie dissiplinêre verhore. Die ou gesegde, “wiens brood men eet, diens woord men spreekt,” kom onvermydelik by ‘n mens op. Die prosedurele billikheid van die ontslag was egter nie deel van die applikant se eis nie en ek hoef my nie verder daaroor uit te spreek nie.
Billike rede vir ontslag?
Die enigste oorblywende aspek is die verwydering van die plaasbakkie se wiel. Coetsee het bevind dat Mouton, in die taal van strafregtelike verrigtinge, “skuldig gepleit” het op daardie klag, al die elemente daarvan begryp het en dit ten volle erken het. Hy het nie in ag geneem dat Mouton bloot die wiel aan Linkie Brink geleen het en dat Brink dit die volgende dag sou terugbesorg nie; hy het bloot in ag geneem dat die wiel “deur die polisie teruggevind en aan die werkgewer terugbesorg” is.
Brink het natuurlik nie in die dissiplinêre verhoor voor Coetsee getuig nie, en Mouton het nie die omstandighede verduidelik nie, in die lig daarvan dat ‘n “pleit” van “skuldig” aangeteken is. Hierdie hof moet die klag t.o.v. die wiel in ag neem insoverre dit steeds kan beteken dat daar ‘n verdere billike rede vir die ontslag kon wees, wat tesame met die ander rede vir ontslag – die insameling van vakbond-ledegeld – in ag geneem is. Alhoewel die getuienis nie voor Coetsee gelei is nie, kan ek wel die getuienis van Brink en Mouton voor my in ag neem. Insoverre ek moet bevind of die ontslag billik was – en nie net outomaties onbillik binne die betekenis van art 187 nie – bevind ek my in dieselfde posisie as ‘n arbiter wat die getuienis voor hom of haar van nuuts af aan (of de novo) moet oorweeg.20
Die weergawe soos deur Mouton en Brink verduidelik, is nie onwaarskynlik nie. Deur nie van die werkgewer verlof te vra om die wiel te neem, of hom selfs vroegtydig in kennis te stel nie, het Mouton nietemin onbehoorlik opgetree. Gegewe die omstandighede, is ek nie van mening dat hierdie misdryf op sigself ontslag sou regverdig nie. Daar was geen bedoeling om die werkgewer te benadeel of vir Mouton of Brink om die wiel te hou nie. Die bakkie was in elk geval stukkend; daar was dus geen benadeling vir die werkgewer nie. Vir die versuim om die werkgewer in kennis te stel of verlof te vra, sou ‘n skriftelike waarskuwing heel waarskynlik die gepaste sanksie wees, sou dit die enigste misdryf wees. As al die misdrywe egter kumulatief in ag geneem word – die druiwe-voorval, die nie-uitvoering van pligte en gebruik van kru taal teenoor die werkgewer, die dubbele verhaling van ledegeld, en die neem van die wiel – was die ontslag nie onbillik nie.
Slotsom
Die ontslag van die applikant is nie outomaties onbillik of andersins onbillik nie:
Die applikant se ontslag was nie outomaties onbillik op grond van ras of huwelikstaat in terme van artikel 187(1)(f) van die Wet op Arbeidsverhoudinge nie.
Die applikant se ontslag was nie outomaties onbillik in terme van artikel 187(1)(d), gelees met artikel 4 van die Wet nie.
Die applikant se ontslag was nie onbillik in terme van artikel 188 van die Wet nie.
Koste
Die applikant was onsuksesvol. Ek neem egter in ag dat hy nou sonder werk sit; dat hy waarskynlik regskoste van sy eie moes aangaan21; en dat dit tot ‘n mate verstaanbaar is dat hy sou kon vermoed dat daar o.a. teen hom opgetree is a.g.v. sy verhoudings en vakbondwerksaamhede. Dit moes moed geverg het van Mouton, ’n jong Afrikanerman in ‘n konserwatiewe plattelandse gemeenskap, om die bevooroordeeldheid van die verlede te oorkom en om nie-rassigheid en vryheid van assosiasie daadwerklik uit te leef. Op die feite was dit egter nie die rede vir sy ontslag nie. In reg en billikheid, soos vervat in art 162 van die Wet, behoort geen party in hierdie saak aanspreeklik gehou te word vir die ander party se koste nie.
Bevel
Die applikant se eis word van die hand gewys. Daar is geen kostebevel nie.
_______________________
Anton Steenkamp
Regter van die Arbeidshof
VERSKYNINGS:
APPLIKANT: Adv Roseline Nyman
In opdrag van Brink & Thomas, Kaapstad.
RESPONDENT: Mnr FH Cronjé, Cronjé Ing., Bellville.
1Eweneens ‘n wit man.
2Wet 66 van 1995 (“die WAV”).
3Promotion of Equality and Prevention of Unfair Discrimination Act, Act 4 of 2000 (“die Gelykheidswet”). Die Wet is sover my kennis strek net in Engels gepubliseer.
4soos hy toe was.
5(2005) 26 ILJ 2153 (LAC) 2207 B-F; [2005] 12 BLLR 1172 (LAC) paragrawe [27] – [28].
6(1999) 20 ILJ 1718 (LAC), veral paragrawe [32] – [35].
7Die applikant se advokaat het in haar betoogshoofde na hom verwys as “Lyntjie”. Daar is geen transkripsie van die rekord beskikbaar nie, maar volgens my notas staan hy alom bekend as “Linkie”.
8Wet 75 van 1997.
9Sektorale Vasstelling 13: Plaaswerkersektor, Kennisgewing R 149, Staatskoerant no 28518, 17 Februarie 2006.
10Ek sal na Mev Susanna Mouton by wyse van haar nooiensvan, Ruiters, verwys om enige misverstand tussen haar en Mnr Mouton te voorkom.
11Verkeerdelik in die betoogshoofde van applikant se advokaat aangedui as “Lynn”.
12Verkeerdelik in die betoogshoofde van applikant se advokaat aangedui as “Coetzee”.
13Verkeerdelik in die betoogshoofde van applikant se advokaat aangedui as “Horings”.
14Verkeerdelik in die betoogshoofde van applikant se advokaat aangedui as “Rensha” Witbooi.
15(1992) 13 ILJ 573 (LAC).
16 [2002] 6 BLLR 493 (LAC) paragrawe [34] – [37].
17Dis duidelik ‘n verwysing na art 187(1)(d).
18Klaarblyklk ‘n verwysing na art 187(1)(f).
19NUM & others v Black Mountain Mining (Pty) Ltd [2010] 3 BLLR 281 (LC); BIFAWU & another v Mutual and Federal Insurance Company Ltd [2006] 2 BLLR 118 (LAC).
20Art 158(2)(b); NUM & others v Black Mountain Mining (Pty) Ltd [2010] 3 BLLR 281 (LC).
21Daar is geen getuienis voor my dat die applikant in hierdie geding bygestaan is deur ‘n vakbond of enige ander organisasie nie.