South Africa: Cape Town Labour Court, Cape Town Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Cape Town Labour Court, Cape Town >> 2014 >> [2014] ZALCCT 45

| Noteup | LawCite

Masjienburo Bka v Van Wyk and Another (C 719/14) [2014] ZALCCT 45 (8 September 2014)

Download original files

PDF format

RTF format


REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA

Rapporteerbaar

DIE ARBEIDSHOF VAN SUID-AFRIKA, KAAPSTAD

UITSPRAAK

SAAKNOMMER C 719/14

In die saak tussen:

MASJIENBURO BKA.......................................................................................................APPLIKANT

en

GERT VAN WYK..........................................................................................EERSTE RESPONDENT

BREEDENET (EDMS) BPK.......................................................................TWEEDE RESPONDENT



Verhoor: 28 Augustus 2014

Uitspraak: 8 September 2014

Opsomming: Handelsbeperking – dringende aansoek om werknemer te verhoed om diens te aanvaar by mededinger – beginsels uiteengesit – uitleg van ooreenkoms.

UITSPRAAK

STEENKAMP R

Inleiding

[1] Die applikant, Masjienburo, wil ‘n handelsbeperking afdwing teen sy voormalige werknemer, Gert van Wyk (die eerste respondent).

[2] Mnr van Wyk het bedank uit sy pos as senior tegnikus. Hy wil op 1 September 2014 diens aanvaar in ‘n soortgelyke pos by die tweede respondent, Breedenet (Edms) Bpk, ‘n direkte mededinger van Masjienburo. Altwee maatskappye word van Worcester af bedryf en verskaf breëband-internetdienste.

[3] Van Wyk het ‘n handelsbeperking-ooreenkoms onderteken. Hy is ook gebonde aan ‘n ooreenkoms om nie enige vertroulike inligting van Masjienburo bekend te maak nie.  Die vraag wat ontstaan is of die respondente gebonde is aan die handelsbeperking; en of dit redelik en afdwingbaar is. Om hierdie vrae te kan beantwoord, moet die bewoording van die handelsbeperking ook onder die loep geneem en uitgelê word.

Agtergrond

[4] Masjienburo doen sake as 'n internet-verskaffer, met inbegrip van breëband koordlose internet diens asook ADSL en Voice-over Internet Protocol (VOIP) aan klante in die Boland omgewing. Die gebied verskyn op 'n kaart op Masjienburo se internet webtuiste en strek rofweg vanaf Bredasdorp in die suide tot by Riversdal in die ooste, Clanwilliam in die noorde en die Weskus in die weste. Masjienburo lewer dienste aan 'n verskeidenheid tipes persone, van privaat huishoudings tot groot ondernemings, en dit behels die oprigting van seinherleitorings en die installasie van internet ontvangs-toerusting. Breedenet verskaf dieselfde dienste, maar dit het ‘n groter handelsgebied en klantebasis.

[5] Mnr van Wyk is op 25 Augustus 2009 as leerling kantoormasjien-tegnikus by Masjienburo in diens geneem, en het 'n aanstellingsbrief onderteken. Die tersaaklike klousule in die brief lui soos volg:

"By diensaanvaarding tree u in die voltydse diens van Masjien Buro en mag u nie sonder die skriftelike toestemming van die maatskappy se hoof amptenaar enige buite-bedrywighede onderneem of beoefen wat potensieel op u pligte inbreuk sal kan maak of ten opsigte waarvan u op vergoeding of inkomste geregtig sou wees of direk in kompetisie met die spesifieke besigheid van Masjien Buro sal wees nie.  U onderneem verder om vir ten minste vir 'n periode van 12 maande nadat u Masjien Buro se diens sou verlaat, nie in direkte kompetisie vir Masjien Buro 'n ander maatskappy sal begin, daarvoor sal gaan werk of 'n direkte of indirekte aandeel in so 'n maatskappy te besit wat skadelik mag wees vir die winsgewendheid van Masjien Buro en/of sy kliënte[1] basis nie."

[6] Van Wyk is tans 'n opgeleide internet-tegnikus wat hom besig hou met die installasie, herstel en onderhoud van seinherleitorings en internet ontvangstoerusting. Hy sal by Breedenet dieselfde take verrig.

[7] Omdat Masjienburo in 'n mededingende bedryf is, in besonder wat betref die internetverskaffingsdiens, en dus waardevolle klanteverhoudings opbou asook vertroulike inligting besit, word van werknemers in Mnr van Wyk se posisie vereis om 'n handelsbeperking te onderteken, soos wat hy inderdaad ook gedoen het. Masjienburo beweer Van Wyk is werksaam in 'n baie mededingende veld, en sy tegniese inligting met betrekking tot die ligging, besonderhede en voorkeure van klante, asook die tegniese besonderhede ten aansien van die ligging van seintorings, is baie sensitief. Om hierdie rede is dit vir Masjienburo van groot belang dat sy werknemers hoegenaamd nie met hom meeding op 'n wyse waar hulle van hierdie inligting gebruik kan maak, of verhoudings met klante kan uitbuit, ten einde hulself of ander persone in staat te stel om op onregmatige wyse met Masjienburo mee te ding en hom skade te berokken ten opsigte van sy klantebasis nie. Dit is om hierdie rede dat Masjienburo daarop aandring dat werknemers handelsbeperkings onderteken, veral werknemers wat in die tegniese vleuel van die onderneming in diens geneem word.

[8] Dit blyk op die stukke dat baie werknemers juis 'n bedreiging vir Masjienburo se onderneming is deurdat hulle by ander werkgewers aansluit en op hierdie manier van beskermbare inligting of klanteverhoudings gebruik maak ten einde Masjienburo skade te berokken.  Dit is om hierdie tipe skade te voorkom dat die handelsbeperking gesluit is. Masjienburo se omstandighede maak dit nodig om 'n verbod te plaas op enige vorm van mededinging wat misbruik kan maak van sy beskermbare belange, en daarom is die doel van die handelsbeperking, volgens Masjienburo, om 'n verbod te plaas op die stigting van 'n maatskappy, die werk vir 'n ander maatskappy en aandele of belange hou in 'n mededingende maatskappy. Of daardie doel wel in die bewoording van die handelsbeperking vervat word, word hieronder bespreek.

[9] Masjienburo maak o.a. daarop staat dat Van Wyk bepaalde kennis het van waar sy seintorings geleë is. Hoewel die respondente ontken dat kennis van die ligging van seintorings vertroulike inligting is, ontken hulle nie dat (op die basis dat dit wel vertroulike inligting is) dit Mnr van Wyk in staat sou stel om die inligting te gebruik ten einde Breedenet in staat te stel om op strategiese plekke waar Masjienburo seinherleitorings opgerig het, eweneens seinherleitorings op te rig nie. Dit sou Breedenet in staat stel om Masjienburo se klantebasis wat in 'n direkte siglyn van die bepaalde posisies geleë is, van Masjienburo af te rokkel. (Soos later sal blyk, is Breedenet nie bewus van die ligging van al Masjienburo se seintorings nie).

[10] Mnr van Wyk het 'n aangename persoonlikheid en maak 'n goeie indruk op klante en almal met wie hy in aanraking kom, veral in die plattelandse opset.  Weer eens op die basis dat die kennis oor seintorings en die ligging van klante vertroulik is, ontken die respondente nie dat hierdie inligting deur Mnr van Wyk gebruik kon word om klante af te rokkel, hetsy deur hulle persoonlik te besoek of deur die inligting aan ander kollegas by Breedenet deur te gee nie.

[11] Op 29 Julie 2014 het Mnr van Wyk bedank met effek 28 Augustus 2014. Hy is van plan om op 1 September by Breedenet diens te aanvaar. Hy ontken dat hy aan die handelsbeperking gebonde is.

Die applikant se argument

[12] Masjienburo voer aan:

12.1 Dat hy 'n beskermbare belang het ten opsigte van die ligging van seintorings, deurdat hierdie inligting hoogs vertroulik en nie algemeen bekend is nie, en deur 'n mededinger gebruik kan word ten einde Masjienburo se klantebasis binne te dring.

12.2 Dieselfde geld die spesifieke geografiese ligging van klante wat van sy dienste gebruik maak, veral wat betref die relatiewe posisie van die klant ten opsige van seintorings vanwaar sy sein ontvang word.

12.3 Die relatiewe posisie van seintorings onderling is ook van soortgelyke belang, aangesien dit 'n vereiste vir koordlose breëband tegnologie is dat die versendingspunte en die seinherleitorings tussen-in elk onderskeidelik deur 'n ononderbroke siglyn verbind word, en nie onderbreek word deur natuurlike obstruksies soos berge of ander versperrings nie.

12.4 Mnr van Wyk het in die loop van sy diens deeglike kennis van die ligging van seintorings, die ligging van klante en ook die besonderhede van klante se adresse en kontrakte opgedoen.

12.5 Daarbenewens, beweer Masjienburo, het Mnr van Wyk ook baie goeie persoonlike verhoudings met die meeste klante of hul verteenwoordigers opgebou. Die bewering is in geskil, en word later behandel.

12.6 Net so, beweer Masjienburo, het Mnr van Wyk kennis opgedoen van die spesifieke toegewings en ander prystransaksies wat aangegaan is met klante, wat hom in staat sal stel om maklik om namens 'n mededinger die Masjienburo te onderbie. Die bewering is in geskil.

Die toepaslike regsbeginsels

[13] Hierdie hof het al by verskeie geleenthede die huidige reg omtrent handelsbeperkings uiteengesit.[2]

[14] Ten einde te slaag in sy interdik, moet Masjienburo bewys dat daar 'n geldige kontrak tussen die partye is wat 'n handelsbeperking bevat, en dat Mnr van Wyk in botsing met daardie handelsbeperking optree of wil optree. Die bewyslas is dan op die respondente om aan te voerdat die handelsbeperking nie afgedwing behoort te word nie omdat dit teen die openbare belang is deurdat dit onredelik is, hetsy met betrekking tot die feit dat dit nie die beskermbare belange van die applikant dien nie, of dat die omvang daarvan ten opsigte van tyd en geografiese strekking te wyd is.

[15] In Basson v Chilwan[3] is hierdie beginsels soos volg opgesom:

" 'n Ooreenkoms is in sy geheel of ten dele aanvegbaar as dit die openbare belang skaad en aldus teen die openbare beleid indruis.  'n Bepaling van hierdie aard wat 'n werknemer of vennoot na beëindiging van die kontrak aan bande probeer lê – en dis al geval wat hier in oënskou geneem moet word – druis teen die openbare beleid in as die uitwerking van die belemmering onredelik sou wees.  Die redelikheid al dan nie van die belemmering word beoordeel aan die hand van die breëre belange van die gemeenskap, enersyds, en van die kontrakterende partye self, andersyds.  Wat die breëre gemeenskap betref is daar twee botsende oorwegings: Ooreenkomste moet gehandhaaf word (al bevorder dit ook onproduktiwiteit; onproduktiwiteit moet ontmoedig word, al verongeluk dit ook 'n ooreenkoms) (vgl Sunshine Records (Pty) Ltd v Frohling and Others 1990 (4) SA 782 (A) te 794D-E).  Wat die partye self betref, is 'n verbod onredelik as dit die een party verhinder om hom, na beëindiging van hul kontraktuele verhouding, vryelik in die handels- en beroepswêreld te laat geld, sonder dat 'n beskermingswaardige belang van die ander party na behore daardeur gedien word.  So iets is op sigself strydig met die openbare beleid.  Origens mag 'n beperking wat inter partes redelik is nietemin, vir 'n rede wat nie aan die partye eie is nie, die openbare belang skaad.  En bes moontlik ook omgekeerd.

Vier vrae moet in die verband gestel word:

Is daar 'n belang van die een party wat na afloop van die ooreenkoms beskerming verdien?

Word so 'n belang deur die ander party in gedrang gebring?

Indien wel, weeg sodanige belang kwalitatief en kwantitief op teen die belang van die ander party dat hy ekonomies nie onaktief en onproduktief moet wees nie?

Is daar 'n ander faset van openbare belang wat met die verhouding tussen die partye niks te make het nie maar wat verg dat die beperking gehandhaaf moet word, al dan nie?"

Die regsvereistes vir vertroulike inligting

[16] Ten einde te kwalifiseer as vertroulike inligting, moet inligting aan drie vereistes voldoen:[4]

16.1 Dit moet bruikbaar in die bedryf wees.

16.2 Dit moet nie algemene kennis of algemene besit wees nie. Dus moet dit objektief vasstelbaar aan slegs 'n beperkte aantal persone bekend wees.

16.3 Die inligting moet objektief gesproke van ekonomiese waarde wees vir die persoon wat dit wil beskerm.

[17] Die aard van die inligting is nie ter sake nie.  Mits dit voldoen aan die vereistes van vertroulike inligting, sal dit as vertroulik behandel word.[5]

Die regsvereistes van klantekontakte as beskermbare belang

[18] Dit is aanvaarde reg dat klante-werfkrag ‘n bate van 'n werkgewer is en dat in besonder klantekontakte beskermbaar is deur 'n handels-beperkingsooreenkoms.[6]

[19] Die werkgewer sal 'n beskermbare belang ten opsigte van klantekontakte hê waar die werknemer toegang tot klante het en in 'n posisie is om 'n besondere verhouding met die klante op te bou op so 'n manier dat wanneer hy die werkgewer se diens verlaat, hy maklik die klante sou oortuig om hom na 'n nuwe onderneming te volg. [7]

[20] In Caravantruck het die hof dit soos volg beskryf:

"The need of an employer to protect his trade connections arises when the employer has access to customers and is in a position to build up a particular relationship with the customers so that when he leaves the employer's service he could easily induce the customers to follow him to a new business (Joubert General Principles of the Law of Contract at 149).  Haydn The Restraint of Trade Doctrine (1971) at 108, quoting an American case, says that the 'customer contact' doctrine depends on the notion that

'the employee, by contact with the customer, gets the customer so strongly attached to him that when the employee quits and joins a rival he automatically carries the customer with him in his pocket'.

In Morris (Herbert) Ltd v Saxelby [1916] 1 AC 688 (HL) at 709 it was said that the relationship must be such that the employee acquires

'such personal knowledge of and influence over the customer of his employer ... as would enable him (the servant or apprentice), if competition were allowed, to take advantage of his employer's trade connections ...'."

[21] Beskermbare belange van vertroulike inligting en handelsbetrekkinge of klantekontakte kan uiteraard in samehang werk en hoef nie noodwendig afsonderlik beoordeel behoort te word nie.

Toepassing van die regsbeginsels: feitegeskille in die saak

[22] Die respondente plaas drie kernbewerings deur middel van ontkennings in geskil, wat argumenteerbaar wesenlike feitegeskille skep:

22.1 Hulle ontken dat Mnr van Wyk vaste verhoudings met klante opgebou het.

22.2 Hulle ontken dat Masjienburo vertroulike inligting ten opsigte van die ligging van sy eie seintorings het, en in besonder beweer hulle dat Breedenet kennis van al hierdie seintorings se ligging dra.

22.3 Hulle ontken dat Mnr van Wyk kennis van die spesifieke transaksies het wat aan klante toegestaan is, met verwysing na afslag en dies meer.

Verhoudings met klante

[23] Dit is gemeensaak dat Mnr van Wyk in die loop van sy diens gereeld met klante – wat privaatpersone soos huisbewoners of boere is, of klein en groot ondernemings – kennis gemaak het. Daar word verder erken dat Mnr van Wyk professionele verhoudings met die klante opgebou het, alhoewel dit in sy hoedanigheid as tegnikus is, en nie as verkoopsman nie. Dit is voorts gemeensaak dat Mnr van Wyk 'n aangename persoonlikheid het en 'n goeie indruk maak op klante en almal met wie hy in aanraking kom. Verder maak Masjienburo die bewering dat, soos die gebruik op die platteland is, Mnr van Wyk mettertyd mense persoonlik sou leer ken en met hulle 'n gemoedelike en gemaklike verhouding sou opbou. Hierdie bewering word egter deur die respondente as "blote spekulasie" afgemaak op die basis dat Van Wyk geen persoonlike vriendskappe opgebou het met Masjienburo se klante nie. In die repliserende verklaring sit Masjienburo egter 'n reeks inligting uiteen wat duidelik aantoon dat –

23.1 sommige klante persoonlik Mnr van Wyk se dienste versoek het by tegniese probleme;

23.2 sommige klante sy selfoonnommer gehad het ten einde hom direk te kontak in geval van probleme;

23.3 een klant in besonder, op 'n duidelik gemoedelike wyse, per e-pos met die kantoor kommunikeer het en spesifiek sy hulp versoek het.

[24] Onder die omstandighede aanvaar ek dat Van Wyk wel goeie verhoudings met klante opgebou het en dat daar geen wesenlike feitegeskil oor hierdie aspek bestaan nie. Boonop moet in gedagte gehou word dat Masjienburo se saak nie op klanteverhoudings in isolasie steun nie, maar hulle voer ook aan dat Mnr van Wyk die klante met hom sou kon saamneem op sterkte van 'n verskeidenheid ander inligting en deur mededingende pryse en dies meer aan te bied.

Vertroulike inligting ten opsigte van seintorings

[25] Masjienburo steun op die bewering dat die ligging van sy seintorings vertroulike inligting is.  In die antwoordende verklaring beweer Breedenet soos volg:

"11.2.1 [Breedenet] gee toe dat die ligging van seinherleitorings nie noodwendig algemene kennis is nie. Die ligging van die applikant se seinherleitorings is gewis nie 'n geheim vir die Tweede Respondent nie.

11.2.2 Die rede hiervoor is dat die Tweede Respondent langer as die applikant hierdie tipe besigheid bedryf en voor die applikant seinherleitorings in die Boland omgewing, en selfs verder as net die Boland omgewing, opgerig het."

[26] Mnr van Wyk maak ook die stelling dat Masjienburo slegs 25 seintorings het, terwyl dit foutief is aangesien Masjienburo in die replisenrende eedsverklaring aandui dat dit inderdaad 37 van sy eie seintorings het.

[27] Breedenet het in sy antwoordende eedsverklaring geen poging aangewend om enige besonderhede te verskaf  oor die omvang, inhoud en aard van sy kennis nie, nog minder gee Breedenet inligting oor die wyse waarop hierdie inligting bekom is, deur wie en op watter stadium. Geen rede word verskaf vir die versuim om die torings te identifiseer of individueel te lys nie. Breedenet maak bloot die algemene stelling dat hierdie kennis ontstaan uit die feit dat Breedenet langer in die bedryf sake doen as Masjienburo.  Geen verduideliking word gegee oor hoe die feit dat Breedenet langer sake doen, hom in staat sou stel om die kennis oor die seintorings in te win nie. 

[28] In hierdie verband sê Masjienburo byvoorbeeld die volgende, wat die respondente nie ontken nie:

"Die ligging van die seinherleitorings is nie noodwendig algemene kennis nie, omdat seinherleitorings meestal op afgeleë plaasgrond opgerig word, tussen natuurlike versperrings soos berge en bowendien op 'n eko-vriendelike manier geïnstalleer word."

[29] Onder hierdie omstandighede stem ek saam met Mnr Rautenbach dat die ontkenning dat die inligting vertroulik is, 'n blote ontkenning is wat deur die Hof geïgnoreer kan word. In Sofiantini v Mould[8] het die Hof soos volg in hierdie verband beslis:

"In the case of Room Hire Co (Pty) Ltd v Jeppe Street Mansions (Pty) Ltd 1949 (3) SA 1155 (T) at page 1165 Murray, then AJP, said:

'A bare denial of applicant's material averments cannot be regarded as sufficient to defeat applicant's right to secure relief by motion proceedings in appropriate cases.  Enough must be stated by respondent to enable the court to conduct a preliminary examination ... and to ascertain whether the denials are not fictitious, intended merely to delay the hearing.'

(or for some other purpose)

'The respondent's affidavits must at least disclose that there are material issues in which there is a bona fide dispute of fact capable of being decided only after viva voce evidence has been heard.'

See also the case of Prinsloo v Shaw 1938 AD 570.

If by a mere denial in general terms a respondent can defeat or delay an applicant who comes to court on motion, then motion proceedings are worthless, for a respondent that always defeat or delay a petitioner by such a device.

It is necessary to make a robust, commonsense approach to a dispute on motion as otherwise the effective functioning of the court can be hamstrung and circumvented by the most simple and blatant stratagem.  The court must not hesitate to decide an issue of fact on affidavit merely because it may be difficult to do so.  Justic can be defeated or seriously impeded and delayed by an over-fastidious approach to a dispute raised in affidavits."

[30] In hierdie saak gee Breedenet geen detail oor die spesifieke ligging van Masjienburo se torings, die persoon of persone wat die inligting bekom het, die wyse waarop hulle dit bekom het, en wanneer hulle dit bekom het nie. Instede berus Breedenet hom oënskynlik by 'n stelling van Mnr van Wyk (met wie hy gemeensaak in hierdie geding maak) dat Masjienburo 25 torings het.  Op daardie basis kan aanvaar word dat Breedenet, selfs op sy eie weergawe, van net 25 van die Masjienburo se torings weet.  Dit plaas op sigself reeds 'n vraagteken oor sy weergawe in hierdie opsig, en maak dit gemeensaak dat daar ten minste 12 torings is waarvan Breedenet nie weet nie. Om hierdie rede bevind ek dat die blote bewering dat Breedenet kennis dra van die ligging van die Masjienburo se torings, (op onlogiese wyse gerugsteun deur die blote stelling dat Breedenet langer in die bedryf is), geen bona fide feitegeskil skep nie.

Kennis van spesifieke afslagtransaksies aan klante

[31] Mnr van Wyk ontken dat hy enige kennis gehad het van afslagtransaksies wat aan klante toegestaan is.  In die repliserende verklaring maak Masjienburo dit duidelik dat, selfs al ken Mnr van Wyk nie die spesifieke afslagreëlings wat aan klante toegestaan is nie, hy in elk geval sou kon vasstel wat die maandelikse prys is wat die klant aan Masjienburo betaal, en dan gewoon 'n meer aantreklike transaksie aanbied ten einde die klant af te rokkel. Die prysvoordeel is in elk geval 'n baie klein aspek van Masjienburo se saak, en onder die omstandighede is hierdie feitegeskil ook nie wesenlik nie.

Die vereistes vir 'n finale interdik

[32] Dit is geykte reg dat die applikant 'n saak moet uitmaak dat –

32.1 hy 'n duidelike reg het;

32.2 daar inbreukmaking is op sy reg in die sin dat die respondente onregmatige optree (“een gepleegde feitelijkheid”);

32.3 hy as gevolg daarvan op 'n voortdurende basis skade ly of staan te ly; en

32.4 hy geen alternatiewe remedie het as om hierdie Hof op die basis te nader wat hy inderdaad doen nie.[9]

[33] Waar daar feitegeskille is, kan dit opgelos word aan die hand van die reëls met betrekking tot die vereiste van 'n bona fide geskil soos hierbo uiteengesit.

Onregmatigheid van Mnr Van Wyk se optrede: die bewoording van die handelsbeperking

[34] In die huidige aangeleentheid moet Masjienburo bewys dat Mnr van Wyk die handelsbeperking gaan verbreek, met ander woorde dat sy optrede deur by Breedenet diens te aanvaar, binne die toepassingsveld van die kontraktueel verbode handelinge val, soos behoorlik geïnterpreteer.

[35] Dit opper sekere vrae van uitleg van die kontrak, naamlik:

35.1 Dek die kontrak die gebeurlikheid dat Mnr van Wyk by 'n mede-dingende maatskappy gaan werk, waar dit nie sy eie maatskappy is nie?  Hierdie vraag spruit voort uit die woorde “nie...’n ander maatskappy sal begin, daarvoor sal gaan werk of ‘n direkte of indirekte aandeel in so ‘n maatskappy te besit...”. Die respondente voer aan dat dit beteken dat Van Wyk net weerhou word daarvan om te gaan werk by ‘n nuwe maatskappy wat hy self gestig het, en nie by ‘n bestaande mededinger nie.

35.2 Vervolgens moet Masjienburo aantoon dat die omvang van die handelsbeperking van so 'n aard is dat dit die gebied waarbinne die Masjienburo handel dryf, soos op aanhangsel "JK2" tot sy funderende eedsverklaring, alternatiewelik die meer beperkte “GvW2” tot Van Wyk se eedsverklaring, behels. 

35.3 Tesame met hierdie vraag is daar ook die vraag of die kontrak ten opsigte van sy geografiese omvang vaag is, in die mate dat die Hof nie die geografiese toepassingsgebied daarvan kan vasstel nie, en bygevolg ongeldig is.

Uitleg van die kontrak

[36] 'n Handelsbeperking in 'n kontrak word op geen ander wyse as enige ander kontraktuele bepaling uitgelê nie.[10]

[37] Die huidige posisie ten opsigte van die uitleg van kontrakte word soos volg saamgevat in die onlangse saak van Bothma-Batho Transport (Edms) Bpk v S Bothma & Seun Transport (Edms) Bpk[11]:

"In Natal Municipal Pension Fund v Endumeni Municipality 2012 (4) SA 593 (SCA) the current state of our law in regard to the interpretation of documents was summarised as follows:

'Over the last century there have been significant developments in the law relating to the interpretation of documents, both in this country and in others that follow similar rules to our own.  It is unnecesary to add unduly to the burden of annotations by trawling throught the case law on the construction of documents in order to trace those developments.  The relevant authorities are collected and summarised in Bastian Financial Services (Pty) Ltd v General Hendrik Schoeman Primary School.  The present state of the law can be expressed as follows:  Interpretation is the process of attributing meaning to the words used in the document, be it legislation, some other statutory instrument, or contract, having regard to the context provided by reading the particular provision or provisions in the light of the document as a whole and the circumstances attendant upon its coming into existence.  Whatever the nature of the document, consideration must be given to the language used in the light of the ordinary rules of grammer and syntax; the context in which the provision appears; the apparent purpose to which it is directed and the material known to those responsible for its production.  Where more than one meaning is possible, each possibility must be weighed in the light of all these factors.  The process is objective, not subjective.  A sensible meaning is to be preferred to one that leads to insensible or unbusinesslike results or undermines the apparent purpose of the document.  Judges must be alert to, and guard against, the temptation to substitute what they regard as reasonable, sensible or businesslike for the words actually used.  To do so in regard to a statute or statutory instrument is to cross the divide between interpretation and legislation; in a contractual context it is to make a contract for the parties other than the one they in fact made.  The inevitable point of departure is the language of the provision itself, read in context and having regard to the purpose of the provision and the background to the preparation and production of the document.'

... We had cited to us the well-known and much cited summary of the earlier approach to the interpretation of contracts by Joubert JA in Coopers & Leibrandt and Others v Bryant [1995] ZASCA 64; 1995 (3) SA 761 (A) that:

'The correct approach to the application of the golden rule of interpretation after having ascertained the literal meaning of the word or phrase in question is, broadly speaking, to have regard:

to the context in which the word or phrase is used with its inter-relation to the contract as a whole, including the nature and purpose of the contract ...

to the background circumstances which explain the genesis and purpose of the contract, i.e. to matters probably present to the minds of the parties when they contracted ...

to apply extrinsic evidence regarding the surrounding circumstances when the language of the document is on the face of it ambiguous, by considering previous negotiations and correspondence between the parties, subsequent conduct of the parties showign the sense in which they acted on the document, save direct evidence of their own intentions.'

That summary is no longer consistent with the approach to interpretation now adopted by South African courts in relation to contracts or other documents, such as statutory instruments or patterns.  Whilst the starting point remains the words of the document, which are the only relevant medium through which the parties have expressed their contractual intentions, the process of interpretation does not stop at a perceived literal meaning of those words, but considers them in the light of all relevant and admissible context, including the circumstances in which the document came into being.  The former distinction between permissible background and surrounding circumstances, never very clear, has fallen away.  Interpretation is no longer a process that occurs in stages, but is 'essentially one unitary exercise'.

Accordingly it is no longer helpful to refer to the earlier approach."

[38] Die kontrak moet dus in 'n eenmalige oefening uitgelê word met verwysing na al die faktore wat uiteengesit word in die uitspraak, naamlik:

38.1 die gewone betekenis van die woorde in die geskrewe kontrak as uitgangspunt;

38.2 die konteks van die kontrak;

38.3 die aard en doel van die kontrak;

38.4 enige feite wat aan die partye bekend is;

38.5 enige onderhandelinge van die partye, uitgesluit 'n direkte uitdrukking van hulle bedoeling.

[39] Teen die agtergrond van hierdie algemene beginsels het Mnr Rautenbach op die volgende spesifieke toepassings daarvan in ons regspraak gewys:

39.1 Woorde moet hulle gewone grammatikale betekenis hê, maar die Hof sal daarvan afwyk waar dit nie die werklike bedoeling van die partye weergee nie of ten einde 'n weerspreking of 'n absurditeit te vermy, en aan die kontrak 'n sinvolle sake-uitleg te gee. [12]

39.2 Waar moontlik moet effek aan elke woord in 'n kontrak gegee word, en woorde nie op so 'n wyse geïnterpreteer word dat sekere dele daarvan nutteloos is nie.[13]

39.3 Woorde moet uitgelê word binne die konteks van die kontrak as 'n geheel.[14]

39.4 Die kontrak moet uitgelê word binne sy totale konteks, insluitende alle tersaaklike agtergrondfeite.[15]

Toepassing van die uitlegbeginsels

[40] Die partye is dit eens dat die handelsbeperking drie tipes handeling verbied wat met Masjienburo sou meeding:

40.1 Om 'n nuwe maatskappy te begin.

40.2 Om "daarvoor" (wat dit ookal mag beteken) te werk.

40.3 Om 'n belang te hê in "so 'n maatskappy" (wat dit ookal mag beteken).

[41] Dit is verder duidelik dat hierdie drie verbode handelings in 'n disjunktiewe verhouding staan, met ander woorde dat hulle as afsonderlike, alternatiewe oortredings gesien word.  Grammatikaal gesproke volg dit uit die feit dat die drie handelings onderskeidelik deur die voegwoord "of" geskei word.

[42] Dit is natuurlik so dat volgens die letterlike uitleg, waarop die respondente  staatmaak, die frase "daarvoor sal gaan werk" lyk of dit slaan op 'n maatskappy wat deur die werknemer self begin is.

[43] Ek het egter tot die gevolgtrekking gekom dat so 'n uitleg absurd is, en nie besigheidseffek aan die ooreenkoms gee nie. Volgens hierdie letterlike interpretasie sou dit beteken dat die werknemer óf nie 'n mededingende maatskappy mag begin nie, óf nie vir sy eie maatskappy mag "gaan werk nie". Die noodwendige implikasie van so 'n uitleg is dat Masjienburo 'n verbod wou plaas ook op die stigting van 'n maatskappy deur Mnr van Wyk, al werk hy nie daarvoor nie. Gegewe die agtergrondfeite, naamlik dat Mnr van Wyk relatief onlangs eers opgelei is as 'n tegnikus (in 2009), dus 'n relatief junior persoon in die bedryf by aanstelling was en geen blyke gee dat hy 'n groot sake-finansier of derglike speler in die mark is nie, is die kans bitter skraal dat die werkgewer hoegenaamd besorg was dat Mnr van Wyk as tegnikus 'n maatskappy sou stig sonder dat hy daarvoor gaan werk.

[44] Onder die omstandighede van hierdie saak is dit hoogs onwaarskynlik dat dit hoegenaamd 'n rol in die bekommernis van die werkgewer oor euwels waarteen hy sou wou waak, gespeel het. Klaarblyklik was die werkgewer eerder bekommerd oor die moontlikheid dat Mnr van Wyk vir 'n mededingende maatskappy sou gaan werk.  Hy maak ook die punt in die stukke dat dit moeilik sou wees vir 'n jong tegnikus soos Mnr van Wyk om 'n nuwe maatskappy of onderneming wat met Masjienburo meeding, op die been te bring.

[45] Gegewe die uitleg wat die Respondente voorhou, is die tweede deel van die klousule (wat "werk" verbied) in elk geval totaal onnodig. Die verbod op die stigting van 'n maatskappy is reeds in die eerste gedeelte vervat.  As daar reeds so 'n verbod bestaan, sou dit onnodig wees om dan boonop by te voeg dat die werknemer nie vir so 'n self-gestigte maatskappy mag "gaan werk" nie.

[46] Myns insiens is die enigste logiese uitleg van die klousule dat daar drie alternatiewe handelings is wat die werkgewer as mededingende handelings wou verbied, naamlik:

46.1 Die stig van 'n mededingende onderneming; of

46.2 Werk vir 'n ander onderneming wat met Masjienburo meeding; of

46.3 Die hou van 'n belang in so 'n mededingende onderneming.

[47] Die logiese manier waarop die klousule dus gelees moet word (en hoe dit geskryf moes word om dit duidelik te maak), is:

U onderneem verder om vir ten minste vir 'n periode van 12 maande nadat u Masjienburo se diens verlaat, nie in direkte kompetisie met Masjienburo:

  • 'n ander maatskappy sal begin;

  • vir ‘n mededingende maatskappy sal gaan werk;

  • of 'n direkte of indirekte aandeel in so 'n mededingende maatskappy sal besit,

wat skadelik mag wees vir die winsgewendheid van Masjienburo of sy klantebasis nie."

[48] Op hierdie wyse sou die drie voor-die-hand-liggende wyses waarop werknemers met 'n werkgewer kon meeding deur van sy beskermbare belange gebruik te maak, almal gedek word.

Die uitleg van die omvang van die klousule ten opsigte van gebied

[49] Die handelsbeperking dien om mededingende optrede deur die werknemer te verbied. 'n Noodwendige implikasie daarvan is dat hy nie vir 'n mededingende maatskappy moet werk, 'n ander maatskappy moet stig of 'n belang in 'n ander maatskappy moet hê waar so 'n maatskappy direk met Masjienburo meeding nie.

[50] Dit is bekend in die bedryf dat Masjienburo binne 'n sekere afgebakende gebied handel dryf, en dat sy klantebasis dus in daardie gebied gesetel is. Die kontrak is by noodwendige implikasie die gebied waar Masjienburo meeding, hoewel die kontrak nie die gebied in detail beskryf nie. Dit is egter altyd vir kontrakspartye toelaatbaar om eksterne getuienis buite-om die geskrewe kontrak aan te bied om sake waarna daar in die kontrak verwys word, te identifiseer.[16] 'n Kontraksparty mag ook getuienis lei om woorde in die skriftelike kontrak, soos spesiale betekenisse wat in woorde gelees moet word, te bewys.[17]

[51] Masjienburo gee geredelik toe dat die kontrak slegs van toepassing is op daardie gebied waar dit mededingend optree.  Enige ander "bedreiging" van sy klantebasis buite daardie gebied is per definisie onmoontlik.

[52] Dit is gevestigde reg dat selfs waar die handelsbeperking se geografiese gebied heelwat groter is as wat redelik is, die applikant 'n basis daarvoor in die getuienis kan lê dat die Hof 'n handelsbeperking oor 'n kleiner gebied afdwing. [18]

[53] Dit is myns insiens redelik om die kontrak af te dwing in die meer beperkte gebied wat deur die respondente afgebaken is in “GvW2”.

Die tydsduur

[54] Die tydsduur van 12 maande is min of meer 'n standaard tydperk vir handelsbeperkings en is m.i. nie onredelik lank nie.

Masjienburo se beskermbare belang

[55] Masjienburo doen aan die hand dat hy 'n beskermbare belang het ten opsigte van –

55.1 vertroulike inligting ten opsigte van die ligging van seinherleitorings;

55.2 vertroulike inligting ten opsigte van die ligging van klante;

55.3 vertroulike inligting ten opsigte van die besonderhede en adresse van klante;

55.4 vertroulike inligting ten opsigte van spesifieke afslag en ander transaksies ten gunste van klante;

55.5 klanteverhoudings.

[56] Gegewe die vertroulike aard van die  inligting waaroor hy beskik, kan Mnr van Wyk maklik (as hy sou wou) vir Masjienburo skade berokken.  Hy sou klante van Masjienburo kon wegrokkel en op 'n onbillike wyse op die rug ry van die werk wat Masjienburo  tot dusver gedoen het deur sy klantebasis op te bou, gebaseer op navorsing en die oprigting van seinherleitorings wat 'n ononderbroke siglyn na klante en ander seinherleitorings het.

Benadeling

[57] Ek is oortuig dat Masjienburo benadeel kan word deur die respondente se optrede deurdat hy gevaar loop om ‘n deel van sy klante te verloor. Insoverre die belange van Masjienburo teenoor dié van die respondente opgeweeg moet word, weeg die beskerming van Masjienburo se belange swaarder as Van Wyk se belang om nie ekonomies onaktief te wees nie. Hy kan by enige mededingende onderneming buite die beperkte raakgebied van die handelsbeperking gaan werk; en hy kan by ‘n nie-mededingende onderneming binne die raakgebied gaan werk.

Die respondente se ondernemings om nie onregmatig op te tree nie

[58] Die respondente het wel onderneem om nie Masjienburo se klante af te rokkel nie. Dit is baie moeilik om ‘n ogie te hou oor die afdwinging van so ‘n onderneming, veral in afgeleë plaaswêreld. Ons howe weier oor die algemeen om enige gewig aan 'n belofte of 'n versekering deur 'n werknemer dat hy nie sy vorige werkgewer se vertroulike inligting of handelskonneksies sal misbruik nie, te gee. [19]

[59] Insgelyks is daar in Dickenson Holdings Group (Pty) Ltd v Du Plessis[20] op appèl beslis dat selfs 'n ooreenkoms tussen die partye om nie vertroulike inligting openbaar te maak nie, nie 'n verweer teen die afdwinging van 'n handelsbeperking daarstel nie, en dieselfde geld vir 'n onderneming daarna tydens litigasie gegee.

[60] Mnr Rautenbach het ook verwys na Shoprite Checkers (Pty) Ltd v Jordaan[21]:

"The undertakings tendered by Ms Jordaan are impossible to police while she is in the employ of Pick 'n Pay.  It is also not helpful to suggest, as Mr Du Plessis did, that the applicant can police and, if necessary, take action against suppliers who breach their exclusivity agreements with the applicant.  It is exactly in order to avoid this type of harm and the attendant legal costs, that the applicant sought to enter into a restraint of trade agreement with Ms Jordaan."

[61] 'n Applikant wat 'n handelsbeperking wil afdwing waaraan 'n respondent homself verbind het, hoef nie aan te toon dat so 'n respondent inderdaad vertroulike inligting gebruik het nie, maar slegs dat die respondent op onregmatige wyse van sulke inligting gebruik kan maak. [22]

[62] In hierdie saak is dit so dat Mnr van Wyk uit die aard van sy werk besoeke by klante aflê, wat dit vir hom baie maklik sal maak om insgelyks besoeke by Masjienburo se bestaande klante af te lê tot voordeel van sy nuwe werkgewer, Breedenet.  Die partye bedien dieselfde gebied in die Boland, en dit is hoogs onwaarskynlik dat Mnr van Wyk, gegewe sy natuurlike lojaliteit aan sy nuwe werkgewer, nie in die versoeking sal kom om bestaande klante van die Masjienburo te besoek nie.  Vandaar is dit 'n baie eenvoudige stap om die klant se klandisie oor te skuif na Breedenet.

Die onregmatigheid van die optrede van Breedenet

[63] Breedenet het van voor die aanvang van die diensverhouding met Mnr van Wyk reeds geweet van die handelsbeperking waaraan hy onderhewig is, en het verkies om nogtans met die verhouding voort te gaan.  Deur dit te doen het Breedenet in effek dus vir Mnr van Wyk bygestaan of gehelp om sy handelsbeperking te verbreek.

[64] Dit is geykte reg dat 'n werkgewer wat met kennis van 'n handelsbeperking 'n kontrak met 'n werknemer sluit wat hom in staat stel om sy kontrak te verbreek, in effek 'n vorm van onregmatige mededinging pleeg, naamlik deur met die kontraktuele verhoudings van 'n ander party in te meng. [23]

Slotsom

[65] Die applikant, Masjienburo, het daarin geslaag om aan al die vereistes vir ‘n finale interdik te voldoen. Die vrae wat gestel word in Basson v Chilwan[24] moet in Masjienburo se guns beantwoord word.

[66] Wat koste betref, neem die hof in ag dat beide Van Wyk en Breedenet wel deeglik bewusgemaak is van die feit dat hulle op die punt was om die handelsbeperking te verbreek. Breedenet het, as Van Wyk se nuwe werkgewer, met hom saamgespan om dit te doen en as mede-respondent opgetree. Daar is volgens my geen rede, in ag genome die vereistes van reg en billikheid, waarom die respondente nie die applikant se regskoste moet betaal nie.

[67] Ek is wel voornemens om die gebied van die handelsbeperking te beperk ooreenkomstig die bespreking hierbo en die gebied afgebaken in GvW2 (oftewel aanhangsewl B tot die gewysigde kennisgewing van mosie). Dit sou myns insiens ‘n billike balans daarstel tussen die afdwinging van Masjienburo se beskermbare belang en die belang van die werknemer om ekonomies produktief te wees.

Bevel

[68] Ek maak dus die volgende bevel:

68.1 Die eerste respondent, Mnr van Wyk, word verbied om vir ‘n typerk van 12 maande vanaf 1 September 2014, en in die gebied aangedui as aanhangsel “B” tot die gewysigde kennisgewing van mosie:

68.1.1 n onderneming in mededinging met die applikant, Masjienburo BK, te stig;

68.1.2 vir tweede respondent (Breedenet) of ‘n ander mededingende onderneming te werk; of

68.1.3 n aandeel of belang in Breedenet of ‘n ander mededingende onderneming te hê.

68.2 Die tweede respondent, Breedenet, word verbied om die eerste respondent, Van Wyk, in diens te neem vir ‘n tydperk van 12 maande vanaf 1 September 2014 en in die gebied aangedui as “B”.

68.3 Die respondente word gelas om die applikant se koste gesamentlik en afsonderlik te betaal.

_______________________

Anton J Steenkamp

Regter van die Arbeidshof

VERSKYNINGS

MASJIENBURO: Frans Rautenbach

In opdrag van .Murray, Fourie & Le Roux, Worcester.

RESPONDENTE: Con Joubert

In opdrag van .Wilna Roux prokureurs,

Worcester.





[1] Ofskoon Masjienburo deurgaans verwys na sy “kliënte” verkies ek steeds om daardie term net vir professionele dienste te gebruik, Ek verwys dus na “klante”.

[2] Bv Esquire System Technology (Pty) Ltd t/a Esquire Technologies v Cronjé & another (2011) 32 ILJ 661 (LC); New Justfun Group (Pty) Ltd v Turner & ors [2014] ZALCJHB 177 (14 Mei 2014).

[3] 1993 (3) SA 742 (A) 767.

[4] Alum-Phos (Pty) Ltd v Spatz [1997] 1 All SA 616 (W) te 623f-624a;

Aranda Textile Mills (Pty) Ltd v Hurn [2000] 4 All SA 183 (E) te 190i-d;

Townsend Productions (Pty) Ltd v Leech [2001] 2 All SA 225 (C) te 272g-273a.

[5] SA Historical Mint (Pty) Ltd v Sutcliffe 1983 (2) SA 84 (C) te 89H-90D;

Meter Systems Holdings Ltd v Venter 1993 (1) SA 409 (W) te 428A-430H.

[6] Branco and Another t/a Mr Cool v Gale 1996 (1) SA 163 (ECD) te 177C-D;

Paragon Business Forms (Pty) Ltd v Du Preez 1994 (1) SA 434 (SECLD) te 445G-J;

Bridgestone Firestone Maxiprest Ltd v Taylor [2003] 1 All SA 299 (N).

[7] Rawlins v Caravantruck (Pty) Ltd [1992] ZASCA 204; 1993 (1) SA 537 (A) te 541C-D.

[8] 1956 (4) SA 150 (E) 154.

[9] LAWSA Vol 11 par 396 en gesag daar aangehaal.

[10] Logista Inc v Van der Merwe 2010 (3) SA 105 (BCC) te par 8-11;

Coopers & Leibrandt v Bryant [1995] ZASCA 64; 1995 (3) SA 761 (A) te 767E-768A.

[11] 2014 (2) SA 494 (SCA) 499-500 para 10-12.

[12] Grand Central Airport (Pty) Ltd v AIG Ltd 2004 (5) SA 284 (W) te 288H-I;

Scottish Union & National Insurance Co. Ltd v Native Recruiting Corp Ltd 1934 AD 485 te 465-466;

Propfokus 49 (Pty) Ltd v Wenhandel 4 (Pty) Ltd [2007] 3 All SA 18 (SCA);

Ekurhuleni Metropolitan Municipality v Germiston Municipal Retirement Fund 2010 (2) SA 498 (SCA).

[13] Owsianick v African Consolidated Theatres (Pty) Ltd 1967 (3) SA 310 (A) te 324G.

[14] Sassoon Confirming & Acceptance Co (Pty) Ltd v Barclays National Bank Ltd 1974 (1) SA 641 (A) te 646C.

[15] Van Rensburg v Straughan 1914 AD 317 te 328;

Scottish Union & National Insurance Co Ltd v Native Recruiting Corp Ltd 1934 AD 458 te 465.

[16] Smit v Oosthuizen 1979 (3) SA 1079 (A).

[17] McLeod & Co. v Dunell Ebden & Co 1868 B 182; Wides v Davidson 1959 (4) SA 678 (W).

[18] Turner Morris (Pty) Ltd v Ridell 1996 (4) SA 397 (E) te 407B-G;

Sunshine Records (Pty) Ltd v Froling 1990 (4) SA 782 (AD) te 795J-796A;

Nampesca (SA) Products (Pty) Ltd v Zaderer 1999 (1) SA 886 (C) te 896B-C.

[19] Forwarding African Transport Services CC t/a FATS v Manica Africa (Pty) Ltd [2004] 4 All SA 527 (D) te 535i.

[21] [2013] ZALCJHB 333 para 42. Sien ook BHT Water Treatment (Pty) Ltd v Leslie 1993 (1) SA 47 (W) te 57D-58E.

[22] International Executive Communications Ltd t/a IIR v Turnley 1996 (3) SA 1043 (W) te 1055E-1057A.

[23] Sien bv Genwest Batteries (Pty) Ltd v Van der Heyden and others 1991 (1) SA 727 (T) 728-9.

[24] Supra.