South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
1992 >>
[1992] ZASCA 11
| Noteup
| LawCite
S v Xhanti (476/1991) [1992] ZASCA 11 (5 March 1992)
Download original files |
LL Saak No 476/1991
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA APPéLAFDELING
Insake die appél van:
WELILE XHANTI Appellant
teen
DIE STAAT Respondent
CORAM: VAN HEERDEN, SMALBERGER ARR et
HOWIE WAR
VERHOORDATUM: 24 FEBRUARIE 1992
LEWERINGSDATUM: 5 MAART 1992
UITSPRAAK VAN HEERDEN AR:
2.
Die appellant is in Februarie 1989 in die Oos-Kaapse Afdeling skuldig bevind aan moord en roof. Aangesien die verhoorhof nie versagtende omstandighede kon bevind nie, is die appellant op die moordklag ter dood veroordeel. Hierna het hy met verlof van die verhoorregter na hierdie hof teen sy skuldigbevindings geappelleer. Bedoelde appél is op 22 Maart 1990 afgewys.
Na die inwerkingtreding van die Strafregwysigingswet 107 van 1990 is die appellant se geval ooreenkomstig art 19(8) van daardie Wet oorweeg deur die paneel aangestel ingevolge art 19(1). Die paneel het bevind dat indien artikel 277 van die Strafproseswet 51 van 1977, soos gewysig deur eersgenoemde Wet, ten tye van vonnisoplegging in werking was, die doodvonnis waarskynlik nogtans opgelê sou gewees het. Dit bring mee dat hierdie hof die aangeleentheid nou moet oorweeg asof 'n appèl van die
3.
appellant teen sy doodvonnis voor hom dien.
Die omstandighede waaronder
die appellant hom aan moord skuldig gemaak het, blyk volledig uit die uitspraak
wat hierdie hof op 22
Maart 1990 gelewer het (appél 495/1989). Ek meld
slegs die volgende:
1) Die oorledene was 'n dame wat bykans 50
jaar oud
was. Sy het van tyd tot tyd haar kleinhoewe in
die distrik van Port Elizabeth
besoek. Om die hoewe te
bereik, moes sy gebruik maak van 'n grondpad
wat
ongeveer 50 treë weg van 'n teerpad parallel daarmee
loop.
2) Op 3 Junie 1986 het die oorledene die
kleinhoewe besoek. Laatmiddag het
sy in haar bakkie
vandaar vertrek en met die grondpad langs gery. Naby
die
hoewe het sy egter haar voertuig tot stilstand
gebring. Kort daarna is sy
bebloed en swaar verwond
langs die grondpad aangetref. Sy het 'n groot
aantal
steekwonde oral oor haar liggaam opgedoen en het op die
4.
toneel gesterf.
3) Die oorledene was gedwing om haar bakkie tot stilstand te bring omdat versperrings, bestaande uit 'n drom en 'n rol draad, in die pad geplaas was. 4) Die appellant het 'n aantal verklarings gemaak waarin hy erken het dat hy ten tye van die aanval op die oorledene op die toneel was. Sy aandadigheid aan die moord is grotendeels in die lig van die inhoud van die verklarings beoordeel. Hy sê dat hy eh twee makkers, Qolisile en Garvel, die betrokke middag langs die gruispad gelê het. Op 'n stadium nadat die oorledene op pad na haar hoewe by die drietal verbygery het, het hulle die versperrings in die pad geplaas. Met haar terugkeer het die oorledene voor die versperrings stilgehou. Toe sy uit haar bakkie klim, het Garvel haar vasgegryp. Die appellant het hulle toe "na eenkant toe gestoot". Nadat Garvel en Qolisile die oorledene op die grond gegooi het, het die appellant na die bakkie gestap
5.
en ' n beursie uit die paneelkissie verwyder. Hy hoor die oorledene skreeu,
kyk om en sien dat Garvel die oorledene met 'n mes steek.
Daarop hardloop Garvel
en Qolisile na die bakkie. Met Garvel as bestuurder is hulle toe vort.
5) Op
sterkte van staatsgetuienis het hierdie hof op die vorige geleentheid
gekonkludeer dat die appellant die bakkie bestuur het
toe dit van die toneel
weggetrek het en dat die appellant en 'n ander persoon reeds die middag voor die
moord by die grondpad was.
Hierdie hof het ook bevind dat die appellant 'n ten volle bewuste en gewillige deelnemer was aan die beplanning en uitvoering van die roof; dat hy en sy makkers vooraf bespreek het hoe hulle te werk sou gaan om die oorledene van haar bakkie te beroof; dat hulle besef het dat die oorledene haar sou kon verset en alarm sou kon maak deur te skreeu, en dat hulle sou bespreek
6.
het hoe hulle sou optree om enige moontlike weerstand van die oorledene te
oorkom. Kortom, elke deelnemer se rol was goed vooraf beplan.
Die appellant
se getuienis dat hy nie geweet het dat die tweede appellant 'n mes in sy besit
gehad het nie, is deur hierdie hof verwerp.
Dit het gelei tot die afleiding,
buite redelike twyfel, dat die appellant besef het dat die mes gebruik sou kon
word om die oorledene
te oorrompel en stil te maak, met moontlike noodlottige
gevolge. Samevattend is bevind dat die appellant tereg skuldig bevind was
aan
moord omdat hy as beplanner van, en deelnemer aan, die roof voorsien het dat die
oorledene as gevolg van 'n mesaanval sou kon
sterf en onverskillig teenoor die
intrede van hierdie gevolg gestaan het.
Hierdie hof is tans geroepe om met inagneming van verswarende en versagtende faktore te beslis of die doodvonnis ten opsigte van die moord die enigste
7.
gepaste vonnis is. Die verswarende faktore waarop namens die respondent
gesteun is, is die beplanning wat die voorval voorafgegaan
het; die motief van
die appellant, nl suiwer materiële gewin, en die feit dat die oorledene op
'n wrede wyse aangeval is terwyl
sy weerloos in die hande van haar aanvallers
was. Laasgenoemde faktor kan egter nie veel gewig dra nie omdat die appellant
nouliks
die omvang van die geweldsuitoefening sou voorsien het.
Wat
versagtende faktore betref, dien eerstens in aanmerking geneem te word dat die
appellant nie 'n vorige veroordeling ten opsigte
van 'n geweldsmisdaad het nie.
Hy is trouens slegs een keer vantevore aan 'n misdaad skuldig bevind, nl
huisbraak met die opset om
te steel en diefstal. Daarvoor is hy gevonnis tot
lyfstraf. Die belangrikste versagtende faktor is egter dat die appellant nie
fisies
tot die dood van die oorledene bygedra het nie. Soos reeds genoem, berus
sy
8
skuldigbevinding aan moord op deelname aan die rooftog met opset by
moontlikheidsbewussyn betreffende die dood van die oorledene.
Tot welke mate
afwesigheid van direkte opset in so 'n geval gewig moet dra, hang uiteraard af
van die moontlikheidsgraad van doodveroorsaking
wat die mede-deelnemer
gekontempleer het. In die onderhawige geval kan nie buite redelike twyfel bevind
word dat die appellant hom
die dood van die oorledene as 'n sterk moontlikheid
voorgestel het nie. Inteendeel sou hy gemeen het dat sy makkers waarskynlik die
oorledene sou kon beteuel en verhoed om alarm te maak.
Ten slotte dien vermeld te word dat die appellant ten tye van die gebeure slegs 22, of moontlik 21, jaar oud was, en dat die advokaat vir die respondent tereg toegegee het dat nie gekonkludeer kan word dat die appellant nie rehabiliteerbaar is nie.
Na opweging van bogenoemde faktore is ek van
9.
mening dat die doodvonnis nie die enigste gepaste straf is nie (vgl
S v Mthembu 1991 (2) SACR 144 (A) 147), en dat die oogmerke van
vonnisoplegging voldoende gedien sal word indien hy tot 20 jaar gevangenisstraf
gevonnis word.
Gevolglik slaag die appél en word die doodvonnis
opgelê op die eerste aanklag vervang met 20 jaar gevangenisstraf. Dit
word
voorts beveel dat die gevangenisstraf opgelê op die tweede aanklag
samelopend met die termyn van 20 jaar gevangenisstraf
moet wees.
H J O VAN HEEREDEN AR SMALBERGER AR
stem saam HOWIE WAR