South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
1992 >>
[1992] ZASCA 119
| Noteup
| LawCite
S v Olifant (115/92) [1992] ZASCA 119 (28 August 1992)
Download original files |
Saaknommer 115/92
/al
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)
In die saak van:
FRANS MOTSAMAI OLIFANT Appellant
en
DIE STAAT Respondent
CORAM: E.M. GROSSKOPF ET GOLDSTONE ARR et KRIEGLER Wnd. AR
DATUM VAN VERHOOR: 17 AUGUSTUS 1992
DATUM VAN UITSPRAAK: 28 AUGUSTUS 1992
UITSPRAAK
KRIEGLER Wnd. AR/
2
KRIEGLER Wnd. AR:
Hierdie saak dien ingevolge die bepalings
van artikel
19(12)(b) van Wet 107 van 1990. Met
ander woorde dit gaan om 'n doodvonnis
wat opgelê
is voor die inwerkingtrede van voormelde wet. Die
vonnis
is op 28 September 1989 in die Oranje-
Vrystaatse Provinsiale Afdeling gevel
vanweë 'n
skuldigbevinding aan moord. Terselfdertyd is 'n
vonnis van
10 jaar gevangenisstraf opgelê weens 'n
gepaardgaande roof met verswarende omstandighede. 'n Paneel het ingevolge artikel 19(11)(a) van voormelde wet bevind dat die doodvonnis waarskynlik nie opgelê sou gewees het nie as artikel 277 van Wet 51 van 1977 ten tyde van vonnisoplegging gelui het soos dit tans lui. Die Minister van Justisie het nietemin ooreenkomstig paragraaf (b) van laasgenoemde subartikel die vonnis vir heroorweging aan hierdie hof laat voorlê.
Die benadering in 'n saak soos die onderhawige en die beginsels wat daarby toepassing vind, is sedert die inwerkingtrede van wet 107 van 1990 in 'n aantal beslissings van hierdie hof uitgestip. In essensie moet hierdie hof opnuut vir sigself uitmaak of die doodvonnis in die omstandighede gebiedend aangewese is. By sodanige oorweging word bo redelike twyfel bewese verswarende faktore oorweeg asook die redelikerwys
3
moontlike aanwesigheid van strafversagtende faktore
waarvoor daar 'n feitebasis bestaan. Sodanige faktore word dan in samehang met die algemene oogmerke van straftoemeting geëvalueer. Die doodvonnis word opgelê - en in 'n saak soos die onderhawige bekragtig - alleen waar dit in die omstandighede gebiedend aangewese is.
Die feitekompleks waarop sodanige
beginsels toegepas moet word, is eenvoudig. Die
oorledene was 'n middeljarige blanke huisvrou. Sy
en haar eggenoot het op 'n kleinhoewe buite Bloemfontein gewoon. Twee dae voor die moord het hulle die appellant in diens geneem om ongeskoolde plaasarbeid te verrig. Die oggend van die moord was hy besig om uie uit te haal op die kleinhoewe. Die oorledene was alleen in die woonhuis: haar eggenoot was by die werk en haar huishulp het in haar verafgeleë kamer siek gelê. In die loop van die oggend val die appellant die oorledene in haar kombuis aan met 'n mes. Hy gryp haar aan die keel en dien haar vier steekwonde toe, drie aan die voorkant van die bors en een agter die linkeroor. Die borswonde is oppervlakkig maar dié agter die oor deursny die linker vertebrale arterie en dring die rugmurg binne tussen die tweede en derde nekwerwels. As gevolg van die beskadiging van die rugmurg was daar dodelike verlamming van onder
4
andere die borskas. Bowendien was daar fatale
bloedverlies vanweë die deursnyding van die arterie.
Appellant sleep sy slagoffer na 'n waskamer langs die kombuis, waar hy haar toesluit. Daarop pak hy enkele items mansklerasie en 'n draradio in 'n drasak wat hy in die huis vind, sluit die huis en maak hom uit die voete. ' n Rukkie later verkwansel hy die radio aan 'n vriend van hom op 'n naburige hoewe. Hy kry toe 'n saamrygeleentheid by sy vriend se werkgewer tot waar hy 'n taxi haal. Die moord is eers ontdek toe die oorledene se eggenoot laatmiddag by die huis kom en deur die venster van die waskamer sy vrou se lyk sien lê. Die huis was gesluit en hy moes met die hulp van 'n polisieman diefwering saag, wegbuig en by 'n venster inklouter. Die waskamer se deur is later oopgebreek om toegang tot die lyk te verkry. Die kombuisdeur se sleutel is, ná die appellant se inhegtenisname, 'n geruime afstand daarvandaan gevind as gevolg van 'n uitwysing deur hom. Die waskamer se sleutel is gevind op 'n bed in die huis onder goed wat appellant in sy soektog uit 'n hangkas gepak het.
Die polisie was reeds dieselfde aand op soek na appellant en teen die oggend
van die
5
naasvolgende dag is hy aan die ondersoekbeampte
oorhandig deur sy kollegas van 'n naburige polisiestasie. Appellant het uit die staanspoor sy samewerking gegee en uitwysings gedoen. Onder andere het hy die polisie geneem na die draradio en na 'n woonplek aan die anderkant van Bloemfontein waar hy die drasak met klerasie uitwys. Sy mededelings aan die ondersoekbeampte was sodanig dat hy dieselfde middag voor 'n landdros gebring is. Aan hom verklaar appellant dat hy en sy vrou die oorledene met die mes gesteek en hy haar toe in die waskamer ingesleep het. Volgens die verklaring het hy toe in die oorledene se slaapkamer gesoek na geld, dit nie gekry nie en toe die klere en die draradio geneem. In die verklaring gee hy te kenne dat sy vrou voor die pleging van die misdaad sorghumbier gaan koop het waarvan hul elk drie kartonne gedrink het.
Ongeveer twee weke later word appellant voor die hof gebring en ingevolge artikel 119 van die Strafproseswet 1977 aangesê om te pleit op aanklagte van moord en roof. Hy pleit skuldig aan beide en beken tydens ondervraging dat hy die oorledene met 'n mes gesteek, haar na die waskamer gesleep en toe die draradio en klerasie gesteel het. In teenstelling met sy verklaring aan die landdros die dag van sy arrestasie noem hy nie die
6
aandadigheid van sy vrou nie. Hy erken ook die toediening van slegs twee
steekwonde en gee te kenne dat hy dermate onder die invloed
van drank was dat hy
eintlik nie geweet het wat hy doen nie. Die drank sou hy by 'n naburige winkel
gekoop het in die loop van die
oggend.
By sy verhoor nagenoeg ses maande later
pleit hy op die
moordaanklag skuldig aan strafbare
manslag en voeg ter pleitverduideliking by
dat hy
dronk was as gevolg van ongeveer 10 kartonnetjies
sorghumbier wat
hy die oggend by 'n naburige winkel
gekoop en toe gedrink het. Hy voeg by dat
hy weens
sy dronkenskap nooit die moontlikheid oorweeg het
dat hy die
oorledene kon dood nie en ook nooit die
direkte bedoeling gehad om dit te
doen nie. Hy
pleit nietemin skuldig aan die tweede aanklag van
roof met
verswarende omstandighede.
Van die beweerde dronkenskap het daar by die verhoor niks tereg gekom nie. Die eienares van die plaaslike winkeltjie, wat vir appellant goed ken, het getuig dat sy die betrokke dag teen ongeveer 12h50 vier sent se lekkers aan hom verkoop het. Sy het geen drank aan hom verkoop nie; hy het nie na drank geruik nie en het heeltemal normaal voorgekom. Die winkeleienares se getuienis is bevestig deur dié van 'n bejaarde swartvrou,
7
voor wie appellant grootgeword het, wat hom daardie dag by die winkel gesien het. Bowendien het die oorledene se huishulp getuig dat appellant ongeveer 12h00 die noodlottige dag met haar by haar kamer gesels het. Daar was toe sover sy kon bespeur geen tekens van drank by hom waarneembaar nie. Ook die koper van die draradio, by wie appellant sowat 'n uur later opgedaag het en in wie se geselskap hy toe 'n geruime tyd deurgebring het, het geen tekens van beneweldheid of die reuk van drank bespeur nie. Toe die appellant mettertyd self getuig was hy -heel voorspelbaar - totaal ongeloofwaardig oor die drankkwessie. Die verhoorhof het sy getuienis dienaangaande dan ook verwerp. Aangesien dit die enigste aangevoerde versagtende omstandigheid was, kon die appellant hom nie van die bewyslas ten aansien van versagtende omstandighede kwyt nie en die gevolglik gebiedende doodvonnis is opgelê.
As die voorgaande feite in oënskou geneem word, val die strafverswarende faktore onmiddellik op. 'n Weerlose vrou is met 'n roofmotief in haar huis deur ' n werknemer met 'n mes toegetakel. Ná die dodelike steekwond toegedien is, is die sterwende slagoffer uit die pad gesleep en toegesluit. Daar is toe planmatig gesoek na geld en, toe niks gevind kan word nie, is 'n aantal items gesteel. Daarop sluit appellant, oënskynlik
8
berekend, die huis, gooi die sleutel weg, verkoop
die radio en wyk uit die buurt.
Daar moet egter ook gelet word op moontlike strafversagting. Die eerste - en stellig die belangrikste - faktor is die opsetsvorm waarmee die moord gepleeg is. Die destydse stand van die reg het nie geverg dat die verhoorhof tussen dolus directus dan wel dolus eventualis onderskei nie. Ofskoon daar dan ook nie 'n onderskeid gemaak is nie, skemer dit uit die uitspraak op die meriete asook dié ten aansien van versagtende omstandighede deur dat die moontlikheid van die mindere opsetsvorm nie uitgeskakel is nie. Daarmee moet saamgestem word. Dit is inderdaad vrywel moontlik dat die vier steekhoue toegedien is met die opset om die oorledene se weerstand uit te skakel in die wete en ongeërg dat sy noodlottig verwond mag word, maar nie met die spesifieke doel om haar om die lewe te bring nie. Drie van die vier steekwonde was oppervlakkig en die dodelikheid van die vierde 'n frats. Hoewel dit met geweld toegedien moes gewees het om deur die kraakbeen tussen die werwels te kon dring, is dit sonderling dat die dood op so 'n wyse teweeggebring word. Dit is dus onwaarskynllik dat die appellant die besondere meganisme beoog het. Dit lyk eerder of die vier steekwonde kort agtermekaar en sonder
9
besondere teikengerigtheid toegedien is. Die feit
dat appellant die oorledene daarna gaan toesluit, dui ook daarop dat hy nie besef het hoedanig hy haar beseer het nie. As hy besef het dat sy dodelik verwond is, sou dit immers geen sin maak om haar weg te sleep en toe te sluit nie. Die afwesigheid van 'n direkte opset om te dood is nou wel nie deurslaggewend by die vraag of die doodvonnis onvanpas sou wees nie, maar dit is nietemin 'n gewigtige faktor.
Die vraag tot welke mate daar vooraf beplanning was, speel ook ' n rol
bý die bepaling van straf. Die verhoorhof het geen pertinente
bevinding
dienaangaande gemaak nie. Dit wil egter uit die vonnismotivering ten aansien van
die roofaanklag blyk dat daar aanvaar
is dat appellant die toevallige
afwesigheid van die huishulp ten baat geneem het. Die omringende omstandighede
maak dit inderdaad
'n redelike moontlikheíd. Die appellant was goed
bekend in die buurt; sy teenwoordigheid op die hoewe die betrokke dag was
geen
geheim nie en, ná sy verdwyning, kon daar nouliks enige twyfel oor die
identiteit van die moordenaar gewees het. Boonop
gaan verkwansel hy feitlik daar
en dan die gesteelde radio aan iemand wat hom goed ken. Die blote sinloosheid
van die misdaad wil
dan daarop
10
dui dat dit wel op die ingewing van die oomblik
gepleeg is toe hy besef die huishulp is afwesig met siekte. Appellant het getuig dat hy die oorledene aangeval het met die mes waarmee hy die noodlottige oggend besig was om uie te sny. Ook dit is aanduidend daarvan dat appellant onbesonne tot die aanval oorgegaan het toe hy besef die oorledene is alleen.
Die indruk van impulsiewe optrede word versterk as gelet word op die persoonlikheid van die appellant. Hy is weliswaar nie geestelik minderwaardig nie, maar hy is ongeletterd, ongeskoold, het 'n spraakgebrek en 'n drankprobleem. Oor die jare het hy as plaasarbeider 'n sukkelbestaan gevoer. Ten tyde van die moord het hy die plaaslike winkeleienaar sowat R30,00 geskuld, 'n haas onbereikbare bedrag op sy bestaansvlak. Sy lys vorige veroordelings verskerp die indruk van versukkelde agtergeblewenheid: In 1970 breek hy by 'n stoorkamer in en steel goedere ter waarde van R1,00; drie jaar later steel hy grondboontjies ter waarde van R5,00; in Julie 1976 word hy die eerste keer tronkstraf opgelê weens 'n aanranding met die opset om ernstig te beseer; die daaropvolgende jaar steel hy petrol ter waarde van R9,00; na 'n gaping van 10 jaar word hy in Oktober 1988
11
gevonnis vir huisbraak en die diefstal van 'n radio ter waarde van
R40,00. Drie maande later pleeg hy die onderhawige misdade. Die
beeld is dus
dié van 'n versukkelde kleindief eerder as 'n geweldenaar. Alhoewel daar
weinig sprake van hervorming kan wees
(appellant is reeds in sy veertigerjare)
kan hy tog nie as verdorwe getipeer word nie.
Die gemeenskapsbelang tree sterk op die voorgrond by dié tipe misdaad.
Die afsku waarmee regdenkendes dit bejeën, die
onrusbarende toename in die
voorkoms daarvan en die gevolglike belang van die vergeldings- en
afskrikkingsoogmerke van straf, is
voor die hand liggend en verg geen
beredenering nie. Nietemin kan daar nie gesê word dat alleen die doodstraf
hier vanpas is
nie. Die minder laakbare opsetsvorm, die onbesonnenheid van die
misdaad en die appellant se persoonlike omstandighede dui daarop
dat 'n lang
termyn van gevangenisstraf sal voldoen aan die oogmerke van straftoemeting. As
in aanmerking geneem word dat appellant
reeds sedert Januarie 1989 in hegtenis
is (sedert September van daardie jaar in afwagting van sy teregstelling), sal
die moord wat
hy gepleeg het na behore besoek word met 'n vonnis van 20 jaar
gevangenisstraf, wat nou in werking tree. Ten einde onmenslike akkumulasie
te
voorkom en gedagtig aan die tyd- en opsetsgebondenheid van
12
die moord en die roof, is 'n samelopingsbevel
aangewese.
Bygevolg word soos volg gelas:
1. Die appél teen die oplegging van die doodvonnis slaag. 2. Bedoelde vonnis word tersyde gestel en vervang deur 'n vonnis van 20 jaar gevangenisstraf. 3. Ingevolge die bepalings van artikel 280(2) van Wet 51 van 1977 word gelas dat die vonnisse op aanklagte 1 en 2 saamloop.
J.C. KRIEGLER Wnd. Appèlregter
E.M. GROSSKOPF AR ]
] STEM SAAM GOLDSTONE ]