South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1992 >> [1992] ZASCA 120

| Noteup | LawCite

S v Mooi (618/91) [1992] ZASCA 120 (28 August 1992)

Download original files

PDF format

RTF format


Saak nr 618/91 E du Plooy

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(APPèLAFDELING)
In die saak tussen:

ISAAC MOOI Appellant
en
DIE STAAT Respondent

Coram: NESTADT, F H GROSSKOPF ARR et HARMS Wnd AR

Verhoordatum: Lewerinqsdatum:

20 Augustus 1992. 28 Augustus 1992.

2

UITSPRAAK

F H GROSSKOPF AR:

Die appellant is in die Suid-Oos Kaapse Plaaslike Afdeling deur Rein Wnd R en twee assessore aan moord en roof met verswarende omstandighede skuldig bevind. Die verhoorhof het verder bevind dat daar geen versagtende omstandighede by die pleging van die moord aanwesig was nie en het die appellant gevolglik die doodvonnis vir die moord opgelê. Daarbenewens is die appellant tot 12 jaar gevangenisstraf vir die roof gevonnis. Verlof om teen die skuldigbevindings en doodvonnis te appelleer is deur die verhoorhof geweier. 'n Petisie aan die hcofregter om verlof om te appelleer was eweneens onsuksesvol. Die paneel ingestel kragtens art 19(1) van die Strafregwysigingswet 107 van 1990 het die geval oorweeg en die saak dien tans voor hierdie hof ingevolge die bepalings van art 19(12) (a) van daardie wet asof dit 'n
3
appèl teen die opgelegde doodvonnis is.
Die oorledene was 'n 76-jarige weduwee wat alleen in 'n huis in Port Elizabeth gewoon het. Op 20 Januarie 1989 het sy die appellant van die straat af in diens geneem om haar gras te sny. Dit is gemene saak dat die appellant die oorledene later daardie dag in haar huis vermoor en beroof het. Die omstandighede waaronder die misdade gepleeg is, blyk uit sekere verklarings wat die appellant na sy arrestasie op 28 Januarie 1989 aan twee polisie offisiere en aan 'n landdros gemaak het. Die toelaatbaarheid van daardie verklarings was nooit in geskil nie. Die appellant het egter in latere verklarings, en in sy getuienis in die hof a quo, van sy aanvanklike weergawe afgewyk en sekere verskoningsgronde vir sy optrede probeer aanvoer. Hierdie latere weergawe van die appellant is deur die hof a quo as vals verwerp en die appellant se advokaat het myns insiens tereg toegegee dat die beweerde verskoningsgronde heeltemal buite rekening gelaat moet word by die beoordeling van
4
die vraag of die doodvonnis die gepaste vonnis vir die appellant is.
Die aanvanklike weergawe van die appellant, wat deur die hof a quo aanvaar is, is dat die tuinskêr waarmee hy die gras gesny het, gedurende die loop van die dag I gebreek het. Die appellant het die gebreekte skêr na die oorledene geneem en by die kombuis aan haar oorhandig. Hy het haar gevolg toe sy 'n ander tuinskêr uit 'n kas in die kombuis gaan haal het. Terwyl haar rug op hom gekeer was, het hy haar skielik van agter gegryp en op die grond neergegooi. Hy het die skêr gevat en haar verskeie male daarmee in die linkersy gesteek. Toe sy probeer opstaan, het hy haar met sy voet op haar bors platgetrap. Daarna het hy 'n mes geneem, 'n stuk elektriese koord van die radio afgesny en haar daarmee om die nek gewurg. Aangesien die oorledene volgens hom nog steeds 'n geraas gemaak het, het hy ook 'n kombuisvadoek en serp om haar nek vasgemaak, Al drie hierdie wurgkoorde is later vasgeknoop om haar nek gevind. Die appellant-het tydens
5
kruisondervraging toegegee dat hy geweet het dat 'n persoon dood sal gaan as iets styf om sy nek gebind word.

Die oorsaak van dood in die onderhawige geval was inderdaad verwurging. Daarna het die appellant die oorledene na die naaste slaapkamer gesleep en die deur toegetrek.

Die appellant beweer dat hy geskok was deur hierdie gebeure, maar sy verdere optrede weerspreek dit. Hy het nie geskroom om die oorledene se trouring van haar vinger en haar polshorlosie van haar arm te verwyder nie. Nadat hy die oorledene in die kamer toegemaak het, het hy met die gang af geloop en ' n koffer in een van die ander slaapkamers gaan haal en ook 'n radio en kos elders in die huis vir homself gevat. Die ring en die horlosie het hy egter kort daarna êrens buite die huis weggegooi toe hy besef het dat dit hom met die pleging van die misdade kan verbind.

Die getuienis van die distriksgeneesheer wat die nadoodse ondersoek op die liggaam van die oorledene

6
uitgevoer het, toon onteenseglik aan dat die oorledene ernstige beserings in die loop van 'n gewelddadige en wrede aanranding opgedoen het. Daar was 'n fraktuur van haar borsbeen en frakture van twaalf van haar ribbebene. Haar neus was ook gebreek. Verder was daar frakture van sowel die hioïedbeen as die skildklierkraakbeen, met gepaardgaande beserings om haar nek, wat volgens die distriksgeneesheer op 'n erge vorm van verwurging gedui het. Daarbenewens het sy veelvuldige steekwonde aan veral die linkersy opgedoen, asook ander minder ernstige beserings.

Die appellant was ongeveer 35 jaar oud toe die moord gepleeg is. Dit blyk uit sy lys van vorige veroordelings dat hy 'n geharde misdadiger is wat nie deur lang termyne van gevangenisstraf in die verlede afgeskrik of hervorm is nie, maar telkens weer in misdaad verval het. Pas nadat hy meer as 7 jaar in die gevangenis deurgebring het, is hy in Desember 1986 weer tot 3 jaar gevangenisstraf gevonnis. Binne net meer as 'n maand na

7

sy vrylating in Desember 1988 het hy die onderhawige misdade in Januarie 1989 gepleeg. Hy het in die verlede veral huisbraak en diefstal gepleeg, maar daar is ook 'n

geval waar die huisbraak met roof en verwonding van die slagoffer gepaard gegaan het.

Dit is namens die appellant betoog dat daar wel sekere faktore in sy guns is wat as strafversagtende faktore oorweeg behoort te word. Die feit dat hy geen formele skoolopleiding gehad het nie is in hierdie verband genoem. Daardie gemis beteken egter nie dat hy noodwendig ook dom is nie. Soos reeds genoem, het hy genoeg insig gehad om die gesteelde ring en horlosie liewer weg te gooi as om later in besit daarvan betrap te word. Daar is verder betoog dat die appellant sy volle samewerking by die ondersoek van die saak gegee het en dat hy ook aan die ondersoekbeampte genoem het dat hy jammer is oor wat hy gedoen het. Die leuenagtige getuienis wat die appellant daarna tydens die verhoor afgelê het, en die vals verskonings wat hy toe as

8
regverdiging vir sy optrede probeer aanvoer het, skep egter wesenlike twyfel oor die egtheid van sy beweerde berou. Dit doen ook afbreuk aan sy vroeëre bereidwilligheid om met die waarheid vorendag te kom. Hierdie strafversagtende faktore dra gevolglik weinig gewig teen die agtergrond van die saak in sy geheel.

Dit is nie bewys dat die appellant die roof vooraf beplan het nie, of dat hy met die gebreekte skêr na die kombuis gegaan het met die oogmerk om die oorledene aan te val of te vermoor nie. Hy het trouens die gebreekte skêr by die kombuis aan die oorledene teruggegee. Vermoedelik het hy eers daarna, en toe hyself ongewapen was, op die ingewing van die oomblik besluit om die oorledene aan te val en te beroof. Dit is aspekte wat sy optrede wel minder laakbaar maak. Toe hy egter eenmaal met sy aanval op die weerlose ou vrou begin het, het hy haar, sonder enige provokasie of weerstand van haar kant, wreed en genadeloos aangerand met die direkte opset om haar dood te maak.

9

Die appellant se advokaat het betoog dat hierdie hof die gemeenskapsbelang oorbeklemtoon het in S v Makie 1991(2) SASV 139 (A) te 143 h-i, en S v Sesing 1991(2) SASV 361 (A) te 365 g-h, en dat die doodstraf nie noodwendig die enigste gepaste vonnis is waar bejaarde persone in hulle huise beroof en vermoor word nie. Die beslissings in daardie en ander soortgelyke sake het egter geen algemene reël neergelê dat die doodvonnis noodwendig opgelê moet word waar bejaarde persone in hulle huise beroof en vermoor word nie. Wat wel beslis is, is dat die afskrikkings- en vergeldingselemente by straftoemeting na vore tree wanneer 'n gepaste straf in dergelike soort gevalle oorweeg word. (Vgl verder S v Khundulu and Another 1991(1) SASV 470 (A) te 479 h-i; S_v Shabalala and Others 1991(2) SASV 478 (A) te 483 c-e; S v Tloome 1992(3) SA 568 (A) te 577 I). Dieselfde oorwegings met betrekking tot straftoemeting geld myns insiens ook in die onderhawige geval waar 'n weerlose en bejaarde vrou in haar eie huis in die loop van 'n

10
roofaanval op wreedaardige wyse vermoor is. In die omstandighede van hierdie saak is die doodvonnis na my oordeel die enigste gepaste vonnis vir die moord wat die appellant gepleeg het.
Die appèl word afgewys en die doodvonnis wat die appellant opgelê is, word bekragtig.

F H GROSSKOPF AR

NESTADT AR

HARMS Wnd AR Stem saam.