South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1992 >> [1992] ZASCA 129

| Noteup | LawCite

S v Ndlovu (119/92) [1992] ZASCA 129 (3 September 1992)

Download original files

PDF format

RTF format


SAAKNOMMER: 119/92

SAMSON JOHANNES NDLOVU Appellant

en

DIE STAAT Respondent

VAN COLLER, WnAR :-

SAAKNOMMER: 119/92

J VD M

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

In die saak tussen:
SAMSON JOHANNES NDLOVU Appellant
en
DIE STAAT Respondent

CORAM: KUMLEBEN, VAN DEN HEEVER, ARR

et VAN COLLER, WnAR
VERHOORDATUM: 18 AUGUSTUS 1992
LEWERINGSDATUM: 3 SEPTEMBER 1992

U I T S P R A A K

VAN COLLER, WnAR:

Appellant is in die Witwatersrandse Plaaslike

2

Afdeling deur McCREATH R en twee assessore skuldig bevind aan moord. Geen versagtende omstandighede is bevind nie en hy is op 22 September 1989 ter dood veroordeel. Appellant is ook skuldig bevind aan roof met verswarende omstandighede en op hierdie aanklag, wat die eerste aanklag was, is hy gevonnis tot 12 jaar gevangenisstraf.

Appellant se aansoek om verlof om te appelleer is deur McCREATH R van die hand gewys. 'n Versoekskrif om verlof tot appél gerig aan die Hoofregter is ook van die hand gewys.

Die doodvonnis wat appellant opgelê is, is kragtens artikel 19 van Wet 107 van 1990 ("die nuwe Wet") heroorweeg deur die paneel wat ingevolge die nuwe Wet aangestel is. Die paneel het bevind dat die doodvonnis waarskynlik nie opgelê sou gewees het nie, indien artikel 277 van die Strafproseswet 51 van 1977 soos vervang deur die nuwe Wet, ten tye van

3

vonnisoplegging in werking was. Ondanks hierdie bevinding het die Minister van Justisie die saak ingevolge die bepalings van artikel 19(11)(b) van die nuwe Wet na hierdie Hof verwys. Die saak moet gevolglik deur ons ingevolge die bepalings van artikel 19(12) van die nuwe Wet oorweeg word.
Die feite is kortliks soos volg. Die oorledene, 'n man wat 52 jaar oud was, het te Brits gewoon en aldaar in gebruikte motors handel gedryf. Hy het ook met appellant transaksies gehad. Op 16 Oktober 1988 het die oorledene saam met appellant in 'n motorvoertuig vanaf die huis van ene Mev Adams vertrek. Op 17 Oktober 1988 is die oorledene se liggaam ongeveer 20 treë vanaf 'n grondpad in die omgewing van Pretoria gevind. Volgens die mediese getuienis was uitwendige bloeding as gevolg van afsnyding van die keel die oorsaak van die dood. Daar was ook 'n 24 sentimeter-laserasiewond wat bestaan het uit twee 12

4

sentimeter-snye deur die ribrand tot in die buik. Die liggaam het ook heelwat beserings aan die gesig gehad, naamlik veelvuldige skaafwonde op die voorkop en laserasies op die linkerwang en bolip. Daar was ook twee oppervlakkige steekwonde in die linker nekwortel. Appellant is op 22 Oktober 1988 in Venda gearresteer. Die getuienis wat appellant met die misdaad verbind bestaan uit 'n verklaring wat hy aan luitenant Celliers van die S.A.P. gemaak het, sekere uitwysings deur hom aan luitenant-kolonel Earle van die S.A.P. en 'n pleitverduideliking wat hy in die landdroshof gegee het. Na 'n binneverhoor is hierdie getuienis toelaatbaar bevind. In sy verklaring aan luitenant Celliers sê appellant dat hy die oorledene met ' n stuk yster oor die kop geslaan het en sy keel en maag met 'n mes gesny het. As rede vir die optrede word vermeld dat die oorledene hom geld geskuld het en hom nie wou betaal nie. Hy maak die bewering dat hy

5

wraak geneem het omdat hy die geld nodig gehad het. Volgens die verklaring was R550 verskuldig ten aansien van 'n motorvoertuig en R3500 ten opsigte van 'n bakkie. In sy pleitverduideliking in die landdroshof het appellant gesê dat hy die oorledene twee keer in sy gesig met 'n domkrag geslaan het. Nadat die oorledene op die grond geval het, het ene Jackson, wat saam met appellant sou gewees het, die oorledene se bene vasgehou en hy, appellant, het toe begin om die oorledene keelaf te sny en ook om sy maag met die mes oop te sny. Appellant het beweer dat hy die oorledene doodgemaak het omdat laasgenoemde hom R24050 geskuld het. Hy het nie meer hoop gehad dat die oorledene hom nog sou betaal nie. Hy het verwys na 'n bakkie waarop R3500 verskuldig was en na 'n motor ten aansien waarvan nog R550 verskuldig was. Hy het ook beweer dat die oorledene R18000 aan hom verskuldig was ten opsigte van goudstawe. Hoewel appellant beweer het dat die

6

oorledene R24050 geskuld het, beloop die totaal van die transaksies waarna hy verwys het R22050. Appellant het in sy getuienis in die hof a quo erken dat hy op die toneel was waar die oorledene gedood is. Hy het egter getuig dat die oorledene deur Jackson vermoor is en dat hy geensins aandadig was nie. Die verhoorhof het appellant se getuienis dat Jackson die oorledene vermoor het as vals verwerp en hom skuldig bevind op grond van die verklarings wat hy gemaak het. Aspekte wat in appellant se getuienis na vore gekom het en tersake is ten aansien van vonnis is die volgende. Volgens appellant het hy en die oorledene mekaar lank geken en hulle het sakeverbintenisse met mekaar gehad. Appellant het getuig dat hy ook voertuie verkoop het en dat die verhouding tussen hom en die oorledene baie goed was. Die oorledene het wel aan hom geld geskuld. Dit blyk verder uit die oorkonde dat appellant standerd ses geslaag het en ten tye van die moord 49 jaar oud

7

was.
Die nuwe benadering ten aansien van die doodvonnis en die taak van hierdie Hof in verband daarmee is al dikwels uiteengesit en behoef geen toeligting nie. Die vraag wat oorweeg moet word is of met inagneming van die versagtende en verswarende faktore en die doeleindes van vonnis, die doodvonnis die enigste gepaste straf is vir die moord wat gepleeg is.

Die strafverswarende faktore in hierdie saak spreek vir sigself. 'n Wrede moord is op 'n weerlose persoon gepleeg. Appellant het opgetree met die direkte opset om dood te maak. Wat vorige veroordelings betref, blyk dit dat appellant in 1971 tot twee jaar gevangenisstraf gevonnis is nadat hy skuldig bevind is aan aanranding met die opset om te vermoor. In 1978 is hy skuldig bevind daaraan dat hy hom as 'n polisie beampte voorgedoen het en dat hy hom

8

teen arrestasie verset het. Die vorige veroordelings het wel lank gelede plaasgevind maar dit kan nie heeltemal buite rekening gelaat word nie.
Wat versagtende faktore betref, is daar deur Mej De Vos, wat namens appellant opgetree het, veral gesteun op die beweegrede vir die moord. Sy het daarop gewys dat volgens die getuienis daar 'n goeie verhouding tussen appellant en die oorledene was tot pas voor die moord. Die feit dat die oorledene aan hom geld verskuldig was, kom voor die waarskynlikste rede vir appellant se optrede te wees. Die getuienis openbaar in elk geval geen ander rede vir appellant se optrede nie. Die redelike moontlikheid dat appellant se optrede veroorsaak was deur 'n gevoel van verontregting kan derhalwe nie uitgeskakel word nie.

Ek gaan akkoord met hierdie argument. Hoewel appellant waarskynlik die omvang van die oorledene se skuld teenoor hom in sy

9

pleitverduideliking in die landdroshof aangedik het, is daar wel 'n feite basis daarvoor dat die oorledene 'n aansienlike bedrag geld, wat appellant nodig gehad het, van hom weerhou het. Die gegriefdheid wat kon bestaan het, was derhalwe nie oor iets onbenulligs nie, en na my mening behoort dit as 'n versagtende faktor in appellant se guns aanvaar te word. Volgens die getuienis as geheel kan die redelike moontlikheid ook nie uitgesluit word dat appellant onmiddellik voor die moord hewig ontsteld was nie. Dat appellant in woede opgetree het en dat hy intens gegrief was, verklaar die wrede wyse waarop die moord gepleeg is.

Dit is vervolgens nodig om te oorweeg of, met inagneming ook van die doelstellings van bestraffing, die doodvonnis die enigste gepaste straf is. Alhoewel die moord 'n baie ernstige en afskuwelike een was, kan hierdie na my mening nie as 'n uiterste geval beskou word nie. Die moontlikheid dat appellant

10

gerehabiliteer kan word, kan nie uitgesluit word nie. Ek is van mening dat 'n lang tydperk van gevangenisstraf die vereistes van afskrikking, vergelding en voorkoming sal bevredig. In die omstandighede van die saak beskou ek 20 jaar gevangenisstraf as 'n gepaste termyn.
Die appél slaag en die doodvonnis word tersyde gestel. 'n Vonnis van 20 jaar gevangenisstraf word opgelê. Hierdie vonnis word teruggedateer na 22 September 1989 en sal saamloop met die vonnis van 12 jaar gevangenisstraf wat ten opsigte van die eerste aanklag opgelê is.

A P VAN COLLER WnAR

KUMLEBEN, AR )
STEM SAAM VAN DEN HEEVER, AR )