South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1992 >> [1992] ZASCA 131

| Noteup | LawCite

S v Rabodinyane (158/91) [1992] ZASCA 131 (3 September 1992)

Download original files

PDF format

RTF format


SAAKNOMMER: 158/91 H V N

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

In die saak tussen:

EDWARD RABODINYANE Appellant
en
DIE STAAT Respondent

CORAM: HEFER, EKSTEEN, ARR,

et HOWIE, Wn Ak

VERHOORDATUM: 25 AUGUSTUS 1992 LEWERINGSDATUM: 4 SEPTEMBER 1992

U I T S P R A A K HOWIE, Wn AR:
Appellant het in die Oranje-Vrystaatse Provinsiale Afdeling op 'n aanklag van moord tereggestaan. Hy is skuldig bevind en die doodstraf opgelê. Kragtens art 316 A (1) van Wet 51 van 1977,

2

soos gewysig, appelleer hy teen die skuldigbevinding en die vonnis.
Die oorledene, 'n 55 jarige vrou, het saam met haar man in 'n huis in Waverley, Bloemfontein, gewoon. Op die oggend van Woensdag 6 Junie 1990, toe sy alleen in die huis was, het iemand toegang tot die huis verkry en haar in haar badkamer aangerand. In die loop van die aanranding het haar aanvaller water in die bad laat loop en, terwyl sy ten volle gekleed was, haar onder die water gedruk waar sy verdrink het. Haar man het net na 1 nm huis toe gekom en haar lyk gevind. Hy het die polisie ontbied.
Appellant, wat vir die voorafgaande vier jaar die oorledene en haar man se tuinhulp was, is daardie middag deur die polisie van Batho woonbuurt na die huis vir ondervraging gebring. Dit is vasgestel dat 'n palmafdruk wat die polisie kort voor sy aankoms van die wasbak in die badkamer gelig het, syne was. Op grond

3

daarvan en na verdere ondersoek, is appellant gearresteer en naderhand aangekla.
Tydens pleitverrigtinge in die landdroshof het hy beweer dat hy die dag voor die moord in die loop van sy werk deur die oorledene gevra is om die twee badkamers in die huis skoon te maak wat hy toe wel gedoen het. In daardie bewering het hy by die verhoor volhard. Dit was dus nie in geskil nie dat gemelde palmafdruk wel syne was. Appellant het egter 'n alibi verweer opgewerp waarvolgens hy op die Woensdag waarop die moord gepleeg is, heeloggend in Batho woonbuurt was siende dat hy nie Woensdae gewerk het nie.

Afgesien van die palmafdruk het die Staat se saak op die volgende getuienis berus. Die oorledene se man het getuig dat sy op die Dinsdagmiddag voor die moord so siek was dat sy moes gaan lê het. Sy het vir die vorige paar jaar voortdurend aan 'n pynlike veltering gely en ook herhalend aan Maltakoors. Haar

4

toestand het die Dinsdagaand tot so 'n mate versleg dat haar man hulle huisdokter ingeroep het wat haar inspuitings gegee het sodat sy kon slaap. Dit was dus onwaarskynlik, aldus haar man, dat sy daardie middag enige aandag aan die skoonmaak van die badkamers sou bestee het. Boonop, het hy getuig, was dit nie deel van appellant se destydse pligte om enigsins binnekant te werk nie en, wat die huis betref, het hy slegs tot die kombuis en die waskamer langsaan toegang gehad. Die getuie sou dit derhalwe "hoog ongewoon" gevind het indien die oorledene appellant sou gevra het om die badkamers skoon te maak. Hy het in elk geval getuig dat hy self op die Woensdagoggend die hele wasbak skoongevee het nadat hy geskeer het. Dit was voordat hy die huis om 8.15 vm verlaat het om werk toe te gaan. By sy vertrek het hy die voordeur gesluit asook die veiligheidshek wat net voor die voordeur geleë was. Die agterdeur by die kombuis was ook gesluit en, soos hulle

5

gewoonte was, met die sleutel in die slot. Daar was twee stelle sleutels vir die voordeur en veiligheidshek. Een was by hom en die ander was op 'n skinkbord bo-op die yskas in die kombuis. Toe die oorledene se man om 1.05 nm teruggekeer het, moes hy die veiligshek en voordeur oopsluit. Die agterdeur was nog toegesluit en die tweede stel sleutels was op sy gewone plek. Geen tekens van enige inbraak hoegenaamd was te bespeur nie.
'n Verkoopsassistente by 'n bottelstoor in Waverley het on ongeveer 10.15 die Woensdagoggend vir die oorledene bedien. , Lg, wat, 'n drankprobleem ontwikkel het as gevolg van haar kroniese velsiekte en die gevolge daarvan, het 'n bottel wyn gekoop. Sy het met 'n R20 noot betaal en is R15,35 kleingeld gegee.

Die Staatspatoloog wat die nadoodse ondersoek uitgevoer het, was van mening, gebaseer op sy eie rowwe skattings, dat die oorledene tussen 11 vm en 12 nm

6

doodgemaak is. Hy is self na die moordtoneel na ontdekking van die lyk en het 'n stuk van 'n opgesnyde dameskous in die badwater gevind. Hy het by sy ondersoek van die lyk kneusings op die polse gevind wat aangedui het dat die oorledene se hande met iets soortgelyks aan 'n stuk kous vasgemaak was. Hy het getuig dat te oordeel na kneusmerke op die oorledene se nek, 'n fraktuur van haar hioïedbeen en puntbloedings van haar oë, haar keel vir tussen 5 en 10 minute gedeeltelik toegedruk moes gewees het alvorens sy onder die water gestoot is en verdrink het.
Die ondersoekbeampte het getuig dat toe die beskuldigde die Woensdagmiddag gevisenteer is hy presies R15,35 in sy besit gehad het. Toe lg gevra is of hy ooit binne die huis gewerk het, het hy geantwoord dat hy nie in die huis toegelaat was nie behalwe in die kombuis. Hy is toe meegedeel dat sy palmafdruk in die badkamer gevind is. Sy antwoord daarop was dat dit

7

onmoontlik syne kon wees. Op 'n latere stadium van die ondersoek het appellant 'n uiters belangrike demonstrasie uitgevoer met 'n lang stuk riet waaraan hy 'n stuk stywe haakvormige draad vasgemaak het. Die riet en die draad het hy in die motorhuis gekry. Hy het die stel sleutels wat in die kombuis gehou is aan die haak laat hang. Hy het toe die hort j ies van die kombuisvenster van buite oopgestoot en die stuk riet daardeur gesteek. Dit was lank genoeg om die yskas te bereik. Hy het die riet so gehanteer dat hy die sleutels presies op die skinkbord bo-op die yskas laat val het. Dit dien ook gemeld te word dat een van daardie stel sleutels die.motorhuis se sleutel was en dat hy in die loop van sy werk ook toegang tot die motorhuis gehad het.

Appellant het voorts drie uitwysings aan die polisie gedoen. Die eerste was van die vullisdrom wat buitekant naby die bediendekamer gestaan het. Die

8

polisie het reeds voor hierdie uitwysing die oorledene se japon en 'n stuk kous in die vullisdrom weggesteek gevind. Ten tye van die vonds was die japon nat. Die oorledene se man het getuig dat die japon vroeër die dag in die waskamer gelê het. Dit was toe droog en sou saam met ander skoon klere nog gestryk word.
Die tweede uitwysing was van 'n diamantring wat die oorledene se eiendom was. Die ring het die vorige Saterdag in die huis soek geraak. Ondanks deeglike deursoeking van die huis kon sy en haar man dit toe nie vind nie. Appellant was daardie Saterdag op diens gewees maar volgens die oorledene se man sou hy daarvan bewus gewees het indien appellant die huis binnegekom het. Afgesien van die porledene en haar man was appellant die enigste ander persoon op die perseel daardie dag. Die huisbediende was reeds vir 'n geruime tyd al siek en was op geen stadium wat hier te sake is by die oorledene se huis teenwoordig nie. Hoe dit ookal

9

sy, appellant het die polisie na die bediendekamer geneem waar hy op 'n stoel geklim het en die ring van agter 'n hout portretlysie te voorskyn gebring het.
Die derde voorwerp wat uitgewys is, was 'n halwe skêr wat appellant uit 'n erdepot in die studeerkamer gehaal het. Die oorledene se man het dit uitgeken as deel van 'n skêr wat hy vroeër reggemaak het en wat, so kan afgelei word, gebruik is om die gemelde kous in stukkies te sny.
Die ondersoekbeampte het die huis sorgvuldig deursoek en getuig dat hy alles opmerklik netjies en in orde gevind het. Die enigste aanduiding dat iets geneem is, was die oorledene se beursie wat oop en leeg op haar bed gelê het. Die vingêrafdrukdeskundige wat die palmafdruk gelig het, het in sy getuienis verduidelik dat daar veemerke op die wasbak sigbaar was en dat die palmafdruk, wat nog vars was, klaarblyklik bo-oor sodanige merke aangebring is.

10

Appellant se alibi verweer het hy eers in die laerhof bekend gemaak. Daar het hy beweer dat hy op die betrokke Woensdagoggend in Batho woonbuurt, saam met vriende, o a ene Themba, kaart gespeel het. Die aanklaer het Themba (sy regte naam is Matthews Lekoma) as 'n Staatsgetuie geroep. Nadat hy in hoofgetuienis beweer het dat appellant tussen 10 en 11 vm by die kaartspel aangesluit het, is 'n geskrewe verklaring bewys wat hy vroeër aan die polisie gemaak het en waarin hy die betrokke tydstip as "omstreeks 12:00 " gegee het.
Appellant het getuig dat hy nie op die dag van die moord by die oorledene se huis was nie. Die polisie getuienis aangaande sy bovermelde demonstrasie en uitwysings het hy as vals bestempel. Hy het sy bewering herhaal dat hy te alle tersaaklike tye met vriende kaart gespeel het. Om hierdie bewering te staaf, het hy ene Jackson Khiba geroep. Lg het getuig dat appellant om

11

ongeveer 11:10 of 11:15 vm by die kaartspel aangesluit het.
Die verhoorhof (Beckley R en assessore) het na sorgvuldige ontleding en opweging van al die getuienis, appellant se verweer as vals verwerp. Daar is bevind dat die enigste redelike afleiding uit die Staat se getuienis was dat dit appellant was wat die oorledene vermoor het.
Wat appellant se getuienis aanbetref, het die Hof a quo bevind dat hy 'n baie swak indruk gemaak het en dat sy relaas met ongerymdbede en onwaarskynlikhede deurspek was. Khiba het ook as onbetroubaar beïndruk. 'n Sorgvuldige deurlees van die oorkonde regverdig daardie gevolgtrekkirgs. Dat die ondersoekbeampte sy getuienis veral aangaande die demonstrasie met die stuk riet sou versin het, is beslis vergesog. Daar is ook geen rede om te dink dat die polisie vooraf kennis gedra het van waar die ring weggesteek was nie. Maar dit is

12

die palmafdruk en die implikasies daaraan verbonde wat vernietigend van die hele verdedigingsweergawe is. Die getuienis dat die oorledene se man die wasbak voor 8 vm die betrokke oggend skoongevee het, staan bo enige verdenking. So ook die vingerafdrukdeskundige se mening dat die palmafdruk daarna aangebring is. Sodra daardie twee feite bo redelike twyfel vasstaan, beteken dit dat appellant daardie oggend in die oorledene se huis was. In so verre die alibi getuicnis daarop gemik was om sy teenwoordigheid in die huis op die betrokke dag uit te skakel, moet daardie verweer noodwendig misluk. Dit is dus tereg verwerp. Dit synde die geval bestaan daar geen verontskuldigende verduideliking nie vir appellant se bewese kennis van die ring, die nat japon, die stuk skêr, die manier om die voordeur se sleutels van buite die huis weer op die yskas terug te plaas en waar die nodige middels om dit reg te kry te vinde was. Uit daardie feite tesame met sy teenwoordigheid in die

13

einste vertrek waar die oorledene vermoor is, lei tot slegs een redelike afleiding. Dit is dat hy, nadat hy reeds op die vorige Saterdag die ring gesteel het, op sy vrye dag teruggegaan het om geld in die hande te kry - wat hy wel gedoen het - en dat hy die oorledene doodgemaak het óf om daardie dieftige oogmerk te bereik óf om haar as 'n potensiële getuie te elimineer. Die skuldigbevinding is dus onaanvegbaar.
Wat die vonnisaangeleentheid betref, is daar voor die hand liggende verswarende faktore. Hierdie was 'n lafhartige aanval op 'n sieklike middeljarige dame wat alleen in haar huis was.
Die afwesigheid van enige aanduidings dat appellant ingebreek het, beteken dat hy bv 'n deur moes ingegaan het. Dit is hoogs onwaarskynlik dat die oorledene hom by die agterdeur sou ingelaat het en dit dan voor sy vertrek weer sou gesluit het. Die afleiding moet wees dat hy by die voordeur in is. Dit op sy beurt

14

lei tot twee moontlike verdere afleidings. Een is dat die oorledene bereid was om die voordeur in sy teenwoordigheid oop te maak óf nadat sy van die bottelstoor af reeds teruggekom het en weer in die huis was óf met haar terugkoms. In daardie geval sou die feit dat hy aan haar bekend was haar gerus gestel het en in daardie opsig en ook in so verre hy haar gewoontes en die perseel geken het, het hy sy vertrouensposisie as werknemer misbruik. Die ander afleiding is dat appellant haar voorgelê en onverhoeds vasgegryp het toe sy na die huis teruggekeer het. Dit sou getuig van doelgerigte beplanning eh 'n bereidwilligheid om uit die staanspoor gewelddadig op te tree. In ieder geval was die omstandighede waarin hy toegang tot die huis gekry het verswarend.
Dan is daar die feit dat die moord verband gehou het met appellant se bedoeling om te steel. Sy motief was dus eie gewin.

15

Laastens ly dit geen twyfel nie, te oordeel na die manier waarop die oorledene doodgemaak is en die patoloog se getuienis met betrekking tot die duur van die noodlottige aanranding, dat die dolus waarmee appellant gehandel het directus was.
Aan die ander kant is daar verskeie versagtende faktore. Die belangrikste is dat die onderhawige skuldigbevinding appellant se eerste veroordeling is. Die tweede is dat hy 'n stabiele werksrekord het: hy het vir meer as vier jaar sy betrekking by die oorledene en haar man behou. Voorts het appellant, ondanks sy ontkennings by die verhoor, samewerking aan die ondersoekbeampte verleen. Vierdens, ontbreek daar in hierdie saak die onsedelike geweld of uiters wreedaardige optrede wat gewoonlik van die ergste moordaanvalle op vrouens kenmerkend is. Wat daarmee verband hou, is dat geen gevaarlike wapen hier gebruik is nie en dat daar geen aanduiding is dat die

16

moord, in teenstelling met diefstal, vooraf beplan is nie. Trouens, appellant was deurentyd onbewapen.
Wanneer al die bovermelde faktore teenoor mekaar opgeweeg word, is dit ongetwyfeld so dat die doodvonnis 'n gepaste straf is. Die verfoeilikheid van die misdaad waaraan appellant skuldig bevind is, beteken noodwendig dat die strafoogmerke van vergelding en die afskrikking van ander potensiële oortreders sterk op die voorgrond moet tree. Aan die ander kant, soos Mnr du Toit, wat namens die Staat by die verhoor en op appél verskyn het, ruiterlik en realisties toegegee het, is daar aspekte van hierdie saak wat die gevolgtrekking regverdig dat dit nie onder die uiterste gevalle van moord ressorteer nie- Boonop dui appellant se skoon rekord en sy bestendige geskiedenis as werknemer op redelike vooruitsigte van rehabilitasie. Lg faktor is nie in die huidige geval deurslaggewend nie maar dit dra tog wesenlike gewig.

17

Na my mening kan die behoefte aan doeltreffende vergelding en afskrikking in die onderhawige saak tog bevredig word deur die oplegging van langtermyn gevangenisstraf. Die doodvonnis is derhalwe nie die enigste gepaste straf nie. In ag genome al die omstandighede van hierdie geval meen ek dat die pasvermelde oogmerke, asook die element van hervorming, tot 'n voldoende mate gedien sal word deur die oplegging van 'n vonnis van 25 jaar gevangenisstraf.
Die appèl teen die skuldigbevinding word van die hand gewys. Die appèl teen die vonnis slaag. Die doodvonnis word ter syde gestel en vervang met gevangenisstraf vir 25 jaar.

C T HOWIE APPèLREGTER

Hefer, AR : stem saam Eksteen, AR : stem saam