South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1992 >> [1992] ZASCA 141

| Noteup | LawCite

S v Lubbe (108/91) [1992] ZASCA 141 (14 September 1992)

Download original files

PDF format

RTF format


Saaknommer 108/91

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA APPèLAFDELING

In die saak tussen:

MARTHINUS LUBBE Appellant
en
DIE STAAT Respondent

CORAM: HOEXTER, VIVIER, ARR et VAN COLLER Wnd AR

VERHOOR: 25 Augustus 1992 GELEWER: 14 September 1992

UITSPRAAK

HOEXTER, AR

2

HOEXTER, AR,
Dit is 'n strafappèl alleen teen vonnis. In die landdroshof te Jeppe, Johannesburg, het die appellant op 'n aanklag van oortreding van art 185 (a) van Wet 87 van 1 977 (onwettige handeldryf in drank) tereggestaan. Die appellant, wat sonder 'n regsverteenwoordiger gestaan het, het skuldig gepleit. Hy is skuldig gevind en hom is 'n vonnis van drie jaar gevangenisstraf opgelê. Sy appèl teen voormelde vonnis is deur die Witwatersrandse Plaaslike Afdeling van die Hooggeregshof afgewys. Met verlof van die hoofregter kom die appellant voor hierdie hof in hoër beroep.
Saam met sy vrou en hul twee jong kinders bewoon die appellant 'n huis in Malvern, Johannesburg. Op 2 November 1989 het die appellant by sy woning sonder 'n lisensie een bottel bier teen 'n prys van R2.20 aan 'n konstabel in die Suid-Afrikaanse Polisie verkoop. Ten tyde

3

van gemelde transaksie was daar in die appellant se woning
die volgende drank wat hy onwettig wou verkoop: 25
bottels x 750 ml lagerbier; 3 groot en drie klein bottels
rietspiritus; 4 bottels x 750 ml vodka; 4 bottels x 375 ml
brandewyn en 14 bottels x 1 liter wyn.

Die appellant is 'n elektrotegnikus wat R2 200 per

maand verdien. Hy onderhou sy gesin en aan sy huis maak hy
afbetalings. Die landdros het in sy redes vir vonnis o a
voorgehou dat die hoeveelheid drank in die appellant se
besit op 2 November 1989 op die gevolgtrekking dui:-

".... dat beskuldigde 'n groot besigheid bedryf het deur drank te verkoop."

Na my mening het die verhoorhof 'n wesenlike mistasting begaan deur as 'n verswarende omstandigheid teen die appellant aan te merk dat hy grootskeeps met drank smokkel. Die hoeveelheid drank in sy besit gevind, so meen ek, is nie

4

sodanig dat dit gemelde afleiding veroorloof nie. Daarbenewens (en met deeglike inagneming van die appellant se vorige veroordeling waarna aanstons verwys sal word) beskou ek die opgelegde vonnis as so buitensporig swaar dat, na my beskeie oordeel, hierdie 'n geval is waar die verhoorhof sy diskresie met betrekking tot straftoemeting nie redelikerwys uitgeoefen het nie. Bygevolg is hierdie hof regtens verplig om met die vonnis in te gryp en om self opnuut oor 'n gepaste straf te besin.
Wat by vonnisoorweging sterk teen die appellant na vore tree is die feit dat op 13 Junie 1989 - d w s minder as vyf maande voor die pleging van die onderhawige misdryf -die appellant weens onwettige handel in drank die volgende vonnis opgelê is: (1) 'n boetestraf van R4 000, by wanbetaling waarvan 18 maande gevangenisstraf; en (2) tesame daarmee, maar vir 'n tydperk van 5 jaar voorwaardelik opgeskort, 'n verdere boetestraf van R3 000 by wanbetaling

5

waarvan 18 maande gevangenisstraf. In hierdie omstandighede dui die pleging van die onderhawige oortreding onmiskenbaar daarop dat die appellant 'n misdadiger is wat nie maklik tot inkeer gebring word nie; en dat by sy jongste vergryp dit nodig is om die erns van dranksmokkel behoorlik by hom in te prent.
Die appellant se advokaat het ons meegedeel dat die appellant daartoe in staat is om 'n boete van om en by R3 000 te betaal. Dit wil my voorkom dat geregtigheid sou geskied indien 'n stewige boetestraf aan 'n opgeskorte vonnis van daadwerklike gevangenisstraf gekoppel word.
Die appèl slaag. Die vonnis deur die verhoorhof word tersyde gestel en deur die volgende vonnis vervang:-

(1) 'n Boetestraf van R3 000, by wanbetaling waarvan 12 maande gevangenisstraf; asook -

6

(2) Gevangenisstraf van 2 jaar in geheel opgeskort vir 'n tydperk van 5 jaar op voorwaarde dat die beskuldigde nie skuldig bevind word aan 'n oortreding van art 154(1)(a) van Wet 27 van 1989 gepleeg gedurende die tydperk van opskorting nie.

G G HOEXTER, AR

VIVIER, AR ) VAN COLLER, Wnd AR ) Stem saam