South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1992 >> [1992] ZASCA 147

| Noteup | LawCite

S v Nhlabathi and Others (682/91) [1992] ZASCA 147 (17 September 1992)

Download original files

PDF format

RTF format


Saak nr 682/91 IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPéLAFDELING) In die saak tussen:
MPIWE NHLABATHI Eerste Appellant
SAMUEL RAPOO Tweede Appellant
FOSI BENJAMIN MALEKA Derde Appellant
en
DIE STAAT Respondent

CORAM: E M GROSSKOPF, VAN DEN HEEVER, ARR et

HARMS, Wn AR VERHOOR: 24 Augustus 1992 GELEWER: 17 September 1992

UITSPRAAK E M GROSSKOPF, AR

2
Die drie appellante het in die Transvaalse Provinsiale Afdeling tereggestaan op klagtes van moord, roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van 'n vuurwapen en ammunisie ingevolge die Wet op Wapens en Ammunisie, no. 75 van 1969. Na 'n verhoor voor WEYERS R en assessore is al drie op 3 November 1989 skuldig bevind op die moord- en roofklagtes. Die derde appellant is ook skuldig bevind op die klagtes van onwettige besit van 'n vuurwapen en ammunisie. Ooreenkomstig die destyds geldende regsposisie het die hof bevind dat daar geen versagtende omstandighede aanwesig was ten opsigte van die moord nie. Al drie die appellante is dus op hierdie klag ter dood veroordeel. Op die roofklag is elk tot nege jaar gevangenisstraf gevonnis. Die derde appellant is op die klagtes ten opsigte van die vuurwapen en ammunisie gevonnis tot, onderskeidelik, twee jaar en een jaar gevangenisstraf.

Sedert vonnisoplegging in die verhoorhof het die Strafregwysigingswet, no. 107 van 1990 ("die nuwe Wet") in

3

werking getree. Die eerste twee appellante se vonnisse is ingevolge hierdie Wet heroorweeg deur die paneel wat vir daardie doel aangestel is. Die paneel het bevind dat die verhoorhof waarskynlik die doodvonnisse sou opgelê het as die wysigings wat deur die nuwe wet aangebring is, ten tye van vonnisoplegging reeds gegeld het. Die appélle van hierdie twee appellante dien dus nou voor ons ingevolge artikel 19(12) van die nuwe Wet. Die derde appellant het verlof om te appelleer teén sy doodsvonnis op die moordklag ontvang ná 'n petisie aan die hoofregter. Ten opsigte van al drie appellante gaan die appél dus slegs om die gepastheid van die doodvonnis, en moet die bepalings toegepas word wat deur die nuwe Wet ingestel is. Die feite was kortliks soos volg.
Die appellante is drie jong mans. Gedurende die aand en nag van 20 tot 21 Januarie 1989 het hulle in Pretoria-Wes rondgeloop. Volgens staatgetuies het hulle gedurende die vroeë deel van die aand by die smokkelhuis van ene Connie Mokonjane gedrink. Die appellante het getuig dat

4

hulle ook op ander plekke gedrink het.
Die oorledene was die hoofsekuriteitsbeampte by die kantore van Perskor in Mitchell-straat, Pretoria-Wes. Die betrokke aand het hy om 10 nm. op diens gegaan. Die laaste wat sy medewerkers hom lewend gesien het was ongeveer 2 vm. Hy was toe buite die gebou by sy motor wat in die straat geparkeer was.
Die drie appellante was in die vroeë oggendure weer op pad na Connie se smokkelhuis toe hulle die oorledene by sy motor gesien het en besluit het om hom te beroof. Oor hoe die rooftog uitgevoer is, is ons alleen op die appellante se weergawes aangewys, en ek kom later daarop terug. Wat vasstaan is dat die oorledene 65 individuele beserings met 'n skerp instrument toegedien is. Dit het blykbaar op die agtersitplek van sy motor plaasgevind. Die meeste van die beserings was gering, en daar was net een wat op sigself dodelik was, hoewel die kumulatiewe effek van die ander ook ernstig was. Sommige van die wonde was blykbaar
5
afweerbeserings wat die oorledene opgedoen het terwyl hy die snylem beetgegryp het of met sy voorarm probeer keer het.
Nadat die oorledene buite aksie gestel was, het die appellante geld, 'n vuurwapen en ander besittings van hom gesteel. Hulle het probeer om met sy motor weg te ry, maar het nie daarin geslaag nie - hulle het net 'n klein entjie gevorder tot teenaan die hek langs Perskor se gebou. Daar het hulle die motor, met die oorledene nog op die agtersitplek, gelos. Hulle het teruggestap na Connie se smokkelhuis. Die eerste en derde appellante het bloed aan hulle klere gehad, en hulle het dit probeer afwas met bier wat hulle by die smokkelhuis gekoop het.
Om die strafwaardigheid van elk van die appellante te beoordeel is dit nodig om te probeer bepaal watter rol elk gespeel het. Soos reeds hierbo gesê, is ons vir hierdie doel alleen op die appellante se weergawes aangewese. Hierdie weergawes was kortliks soos volg.

Op 23 Januarie 1989 het die eerste appellant

6
uitwysings van die toneel aan luit. Viljoen van die S A Polisie gedoen. Sy weergawe in daardie stadium was dat die tweede appellant hom aangesê het om wag te hou, en dat tweede en derde appellant die oorledene vasgegryp het en in die voertuig gestoot het. Die tweede appellant het hom met 'n mes gesteek. Die derde appellant het 'n vuurwapen van die oorledene geneem. Hulle is toe weg.
Drie dae na die verklaring aan luit. Viljoen, d.w.s. op 26 Januarie 1989, is die appellante gevra om te pleit in die landdroshof. Die eerste appellant het toe heeltemal 'n ander weergawe gegee. Hy het vertel dat hy besig was om water af te slaan toe die oorledene opgedaag het en 'n vuurwapen op hom gerig het. 'n Stoeiery het ontstaan en in die proses het die appellant die oorledene by sy oop motordeur ingestoot en 'n mes uitgehaal. Hy het die oorledene gesteek en die vuurwapen van hom afgeneem. Hy is toe weg.

By sy verhoor het die eerste appellant weer

7
teruggekeer wesentlik na sy eerste weergawe dat hy niks meer gedoen het as om wag te hou nie. Verder het hy gesê dat hy ná die aanranding deur die tweede appellant aangesê is om die motor te bestuur. Hy kon egter nie daarin slaag nie, en het teen die hek tot stilstand gekom.
Die tweede appellant het, in die verrigtinge voor die landdros, ontken dat hy teenwoordig was by die stekery. Hy het gesê dat hy besig was om bier te drink by Connie se smokkelhuis toe die eerste en derde appellante daar aankom. Hulle klere was bloedbesmeerd. Die eerste appellant het hom gevra om sy mes vir hom te hou. Die tweede appellant het ingestem. Hy het dit later aan die polisie oorhandig. In breë trekke het hy by hierdie verweer gehou in sy getuienis.
Die derde appellant het verskeie weergawes gegee. Op 24 Januarie 1989 het hy ook aan luit. Viljoen uitwysings gemaak. Sy weergawe toe was dat die drie van hulle in die straat geloop het. Hy was 'n bietjie agter die ander twee. Die oorledene het van die gebou na sy motor geloop. Terwyl

8
hy besig was om in die motor in te klim, het die eerste appellant die oorledene binne-in die motor ingestamp. Die eerste appellant het hom met die mes gesteek. Die derde appellant het geloop na die smokkelkroeg, waar die ander twee later by hom aangesluit het.
In sy pleitverduideliking voor die landdros het die derde appellant sy weergawe verander om aan te pas by die bewerings van noodweer waarop die eerste appellant hom in daardie stadium beroep het. Hy sê hy het gesien hoe die eerste appellant water afslaan, en het verder aangestap. Toe hy terugkyk sien hy die eerste appellant stoei met die oorledene op die agtersitplek van die voertuig. Hy vra vir die eerste appellant wat aan die gang was, en die eerste appellant sê die oorledene wou hom skiet. Die derde appellant het geloop. Die eerste appellant het agter hom aangestap met die vuurwapen in sy hand, en dit aan die derde appellant oorhandig om vir hom te hou.

In sy getuienis by die verhoor het die derde

9
appellant weer die suggestie van noodweer laat vaar. Hy het gesê dat die oorledene 'n gesprek aangeknoop het met die eerste en tweede appellante. Hulle het gesels terwyl die oorledene in die motor was en die twee appellante daarbuite. Later het hy gesien dat die eerste appellant bo-op die oorledene was in die motor, besig om die oorledene te steek. Na 'n ruk het die eerste appellant uitgekom en weer by die derde appellant aangesluit.
Dus, om op te som, die eerste appellant het wesentlik twee teenstrydige weergawes gegee, naamlik eerstens, dat hy net wag gestaan het en niks met die stekery te doen gehad het nie, en, tweedens, dat hy wel gesteek het maar in noodweer gehandel het. Die tweede appellant het deurgaans ontken dat hy hoegenaamd teenwoordig was. Die derde appellant het deurgaans gesê dat dit die eerste appellant was wat gesteek het, maar het heeltemal verskillende weergawes gegee oor hoe die stekery ontstaan het.

10
Die hof a quo het die tweede en derde appellante se getuienis verwerp as "ongeloofwaardig, onwaarskynlik, en nie redelik moontlik ... waar nie". Wat die eerste appellant betref, sê die hof: "nieteenstaande die feit dat [die eerste appellant] ook sy eie rol probeer afwater het, is die weergawe na ons mening wat hy gegee het in die hof, so na aan die waarheid as wat ons sal kry".
Dat die drie appellante swak getuies was, staan nie te betwyfel nie. Hoekom die eerste appellant as meer betroubaar as die ander twee beskou is, is nie heeltemal duidelik nie. Sy eie teenstrydige verklarings oor of dit hy was wat die mes gebruik het, is al genoeg rede om sy getuienis te wantrou, en daar is ook ander redes waaroor ek nie hoef uit te wei nie. Waar ons nou moet besluit oor die blaamwaardigheid van die verskillende appellante se optrede meen ek nie dat ons geregtig sou wees om die eerste appellant se weergawe bo redelike twyfel te aanvaar teen die ander appellante nie. Dit geld veral vir die tweede appellant - ek

11
meen nie dat dit geregverdig sou wees om op grond van die eerste appellant se getuienis te aanvaar dat dit die tweede appellant was wat inderdaad die mes gehanteer het nie. In hierdie verband is dit belangrik dat die tweede appellant die enigste een was wat nie merkbare bloedkolle op sy klere gehad het nie. Gesien die aard van die aanranding, moet dit 'n groot mate van twyfel werp op die bewering dat dit die tweede appellant was wat al die steekwonde toegedien het. Waar ons 'n moeras van leuens het oor wat werklik gebeur het moet ons aanvaar, meen ek, dat die Staat nie bewys het presies watter rol elke appellant gespeel het nie, hoewel dit natuurlik vasstaan dat hulle almal regtens mede-aanspreeklik was vir die oorledene se dood.
Dit bring my dan by die bepaling van watter strafverswarende en -versagtende faktore aanwesig was. As strafverswarende faktor is daar natuurlik die aard van die moord - 'n niksvermoedende man word aangeval deur drie booswigte wat hom van sy besittings wil beroof. Hy word op

12
'n wrede manier vermoor. Die wreedheid van die aanranding moet egter nie te ver gevoer word nie. Soos reeds gemeld weet ons nie wie die steekwonde toegedien het nie, en daar kan nie bo redelike twyfel aanvaar word dat al drie geweet het met presies hoeveel geweld die oorledene se weerstand te 'bowe gekom sou word nie. Hoewel almal klaarblyklik die oorledene se dood as 'n moontlikheid voorsien het, en dus dolus eventualis gehad het, kan daar nie gesê word watter een van hulle met dolus directus opgetree het nie.

'n Verdere verswarende faktor is dat al die appellante vorige veroordelings het. Ek keer egter weer later hierop terug.

Ter versagting is aangevoer dat die appellante die aand gedrink het. Al drie het getuig dat hulle op verskillende plekke drank gebruik het maar die hof a quo het bevind (myns insiens tereg) dat hulle hul drankinname heelwat oordryf het. Die belangrikste objektiewe getuienis oor hul toestand was die indruk wat getuies gekry het toe die

13

appellante ná die moord by Connie se smokkelhuis gekom het. Connie sê sy weet nie of hulle toe dronk was nie - sy het nie opgelet nie. Sy het egter ook gesê dat as hulle wel dronk was, sy nie verder drank aan hulle sou verkoop het, soos sy inderdaad gedoen het nie. Die getuie Mokanda sê hulle was gedrink, maar hulle was nie dronk nie. Spesifiek wat die eerste appellant betref sê hy: "hy was nie so erg gedrink nie ... net so 'n bietjie gedrink, miskien kan ek sê so driekwart ... hy was in staat om te loop". Die getuie Madula het, spesifiek oor die eerste appellant, gesê "hy was nie so baie gedrink nie ... 'n persoon wat gedrink is, gaan lê en slaap".
Die probleem om vas te stel tot watter mate persone onder die invloed van drank was, is natuurlik altyd moeilik. Woorde soos "gedrink", "dronk" ens. het verskillende betekenisse vir verskillende mense. Daarby is dit seker te veel om te verwag dat werklik betroubare getuienis verkry kan word van persone wat in die vroeë ure van die oggend iemand

14
in 'n smokkelhuis sien. Ek dink die hele prentjie wat uit die getuienis tevoorskyn kom is dat die drie appellante die aand vir kwaadgeld rondgeloop het. Dat hulle by verskeie plekke gedrink het, kan nie uitgesluit word nie. Dit lyk dan ook heeltemal waarskynlik dat hulle in 'n mate onder die invloed van drank was, hoewel hulle duidelik nie papdronk was nie. Ek meen dat hul drankinname wel 'n versagtende faktor was onder die omstandighede, en veral die omstandigheid dat hier klaarblyklik nie 'n beplande moord of roof was nie. Die drie appellante het waarskynlik op die ingewing van die oomblik, en beïnvloed deur hul drankinname, besluit om die oorledene te beroof. As 'n mens daarby in ag neem dat dolus directus nie aan 'n identifiseerbare een van die booswigte toegeskryf kan word nie is hierdie moord, hoewel wreed en weersinwekkend, nogtans minder ernstig as baie wat voor ons howe dien.

Die vraag is dan wat die uitwerking van die appellante se vorige veroordelings is. Dit is nodig om elke
15

appellant se posisie afsonderlik te oorweeg. Die eerste appellant is 30 jaar oud. As jeugdige het hy 'n skuldigbevinding opgedoen vir aanranding met die opset om ernstige liggaamlike leed toe te dien en is hy gevonnis tot lyfstraf. Daarbenewens het hy veroordelings vir 'motordiefstal en ontsnapping uit bewaring. Die tweede appellant is 27 jaar oud. Hy het 'n aantal vorige veroordelings vir huisbraak, diefstal en ontvangs van gesteelde goedere. Hy het geen rekord van geweld teenoor ander persone nie. Die derde appellant is ook 27 jaar oud, Sy rekord is slegter. Benewens verskeie skuldigbevindings vir diefstal, statutêre heling en een vir besit van dagga is hy in 1979 skuldig bevind aan strafbare manslag gepleeg met 'n mes. Hiervoor is hy tot drie jaar gevangenisstraf gevonnis waarvan twee jaar opgeskort is onder gepaste voorwaardes. Dit was dus klaarblyklik nie 'n baie ernstige geval nie, maar is nogtans strafverswarend waar hy nou weer skuldig is aan die neem van 'n mens se lewe. Dan is hy ook

16

in 1985 skuldig bevind aan besit van 'n vuurwapen sonder 'n lisensie, waarvoor 18 maandê gevangenisstraf opgelê is.
Hoewel die appellante wel vorige veroordelings het, is die veroordelings myns insiens nie van so 'n graad dat dit die deurslag gee ten gunste van die oplegging van die doodstraf onder die omstandighede van die bepaalde geval nie. 'n Lang tydperk van gevangenisstraf sal myns insiens voldoende wees om die doelwitte van straftoemeting te bevredig. Onder die omstandighede meen ek dat 'n vonnis van twintig jaar gevangenisstraf opgelê moet word vir die eerste en tweede appellante. Weens sy slegter rekord meen ek dat dit gepas is om vir die derde appellant vyf-en-twintig jaar op te lê.

Bygevolg slaag die appélle. Die doodvonnisse word ter syde gestel en vervang met die volgende: (a) Die eerste en tweede appellante word gevonnis tot

twintig jaar gevangenisstraf, en die derde

appellant tot vyf-en-twintig jaar gevangenisstraf.

17

(b) Die vonnisse gemeld in paragraaf (a) hierbo sal saamloop met die gevangenisstraf wat opgelê is op die roofklag, en, wat derde appellant betref, ook met die gevangenisstraf wat opgelê is op die twee klagtes ingevolge die Wet op Wapens en Ammunisie, no. 75 van 1969.
(c) Die aanvang van die vonnisse gemeld in paragraaf (a) hierbo word ingevolge artikel 282 van die Strafproseswet, no. 51 van 1977, teruggedateer na 6 November 1989, synde die datum waarop vonnis opgelê is in die hof a quo.

E M GROSSKOPF, AR

VAN DEN HEEVER, AR HARMS, Wn AR Stem saam