South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
1992 >>
[1992] ZASCA 15
| Noteup
| LawCite
S v Mandela (587/91) [1992] ZASCA 15 (6 March 1992)
Download original files |
Saaknommer 587/91
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA APPèLAFDELING
In die saak tussen:
SIPHO MANDELA Appellant
en
DIE STAAT Respondent
CORAM: HOEXTER, NESTADT, et F H GROSSKOPF, ARR
VERHOOR: 17 Februarie 1992 GELEWER: 6 Maart 1992
UITSPRAAK
HOEXTER, AR
2
HOEXTER, AR,
Op 18 September 1989 is die appellant in die Oranje-
Vrystaatse Provinsiale Afdeling deur
waarnemende regter Klopper
en assessore aan moord skuldig bevind. Die
verhoorhof het
bevind dat daar geen versagtende omstandighede is nie.
Ingevolge die destyds geldende reg is die appellant die
doodvonnis
opgelê. Nadat die verhoorregter die appellant se
aansoek om verlof om
te appelleer afgewys het, is 'n versoekskrif
om dusdanige verlof sonder
welslae aan die hoofregter gerig.
Na afhandeling van die verhoor het die
Strafregwysigingswet 107 van 1990 ("die nuwe
Wet") in werking
getree, met die gevolg dat die appellant se geval kragtens
art
19(8) van die nuwe Wet deur die paneel wat ingevolge die nuwe
Wet
aangestel is, heroorweeg is. Ingevolge art 19(10) het die
paneel
bevind dat die doodvonnis waarskynlik op die appellant
opgelê sou
gewees het indien art 277 van die Strafproseswet, 51
van 1977, soos deur die
nuwe Wet vervang, ten tyde van
3
vonnisoplegging in werking was. Dientengevolge en kragtens art 19(12) van die
nuwe Wet word die oorkonde van die onderhawige geval
tans aan hierdie hof
voorgelê.
Dit is onnodig om weer eens die uitwerking van die bepalings
van die nuwe Wet hier uit te stippel. Voorheen was die posisie in 'n
halssaak
dat hierdie hof in 'n doodvonnis kon inmeng slegs indien die verhoorhof by
vonnisoorweging misgetas het. Tans is die posisie
dat hierdie hof 'n eie en
onbevange diskresie moet laat geld. Indien na die oordeel van hierdie hof die
opgelegde doodvonnis nie
die enigste gepaste strafvorm is nie, word die
doodstraf deur 'n ander vonnis vervang.
Dit gaan in die onderhawige
appèl om 'n tronkmoord wat in 'n gevangenis deur die appellant met 'n
tuisgemaakte mes op 'n niks-vermoedende
en weerlose mede-gevangene gepleeg is.
Die beweegrede vir die moord was weerwraak. Etlike weke voor die moord het die
oorledene die
appellant van die besit van wapens verkla. As gevolg daarvan is
die appellant op 6 Januarie 1988
4
weens 'n oortreding van die Gevangenisregulasies deur 'n offisiershof skuldig
bevind en gevonnis tot 30 dae alleenopsluiting met dieëtstraf,
waarvan 15
dae vir 'n tydperk van 3 jaar voorwaardelik opgeskort is.
Op 8 Februarie
1988, en terwyl die oorledene in 'n eetsaal gesit het, het die appellant, wat
staande was, met die mes in sy hand die
oorledene van agter af genader en
aangeval. Die mes het 'n lem van 8 sentimeter gehad. Die punt daarvan was stomp
maar die snykante
was skerp. Die appellant het die oorledene heeltemal
onverhoeds gevang en hom vyf verskillende steekwonde toegedien. Vier van die
wonde wat die oorledene aldus opgedoen het (op die regter voorkop bokant die
wenkbrou; op die regterwang; op die regterblad; en net
onderkant die bopunt van
die borsbeen) was nog op sigself nog gesamentlik lewensgevaarlik. Die orige
steekwond was egter noodlottig.
Aan die regter agterkant van die oorledene se
nek het die appellant 'n steekwond toegedien wat tot 'n diepte van
5
5 sentimeter en tussen die tweede en derde nekwerwels ingedring het. As
gevolg hiervan (1) is die rugmurg totaal vernietig en (2)
is die oorledene weens
longversaking oorlede. Dit is alombekend dat die nek h kwesbare liggaamsdeel is.
Die verhoorhof het tereg
bevind dat die appellant die oorledene aangeval het met
die direkte oogmerk om te dood.
Ten tyde van die voorval was die appellant 37
jaar oud. Hy het twaalf vorige veroordelings op sy kerfstok. Hiervan is agt
veroordelings
weens misdrywe (soos huisbraak en diefstal) waarvan oneerlikheid
'n bestanddeel is. Gedurende 1987 is die appellant weens huisbraak
met die opset
om te steel tot gewoontemisdadiger verklaar. Die appellant se jongste
veroordeling is weens aanranding met die opset
om te beseer waarvoor hy op 19
Februarie 1988 'n vonnis van gevangenisstraf van een jaar opgelê
is.
Daar moet vervolgens gekyk word na watter versagtende en/of verswarende
faktore by beoordeling van die feite van die
6
geval aangemerk moet word. In S v Dladla 1980(1) SA 149 (A) het
hierdie hof by monde van hoofregter Rumpff (op 151 A/B) verwys .
na -
"h soort wraaklus wat in sekere besondere omstandighede as verskonende menslike reaksie en dus as 'n versagtende omstandigheid by 'n geval van moord beskou sou kon word."
In die algemeen gesproke impliseer
provokasie in die geval van 'n
geweldsmisdaad dat die slagoffer se eie
voorafgaande optrede by
sy aanrander een of ander heftige gemoedsaandoening
ontlok as
gevolg waarvan die aanrander die slagoffer te lyf gaan. In
'n
sekere sin het in die onderhawige geval die oorledene se
voorafgaande
optrede op provokasie neergekom. Weliswaar dat die
appellant se toorn en
wrewel daardeur opgewek is. Namens die
Staat het mnr Hiemstra egter betoog
dat in die bepaalde
omstandighede van hierdie geval die appellant se
wraakgierigheid
nie as 'n versagtende f aktor aangemerk kan word nie. Om
die
volgende redes meen ek dat die Staat se advokaat gelyk het.
Wesenskenmerk van provokasie as versagtende faktor is
7
die onmiddellikheid van die boosdoener se reaksie op die slagoffer se
toornverwekkende handeling. Die boosdoener moet onverwyld en
in die hitte van
die oomblik tot sy geweldsdaad oorgaan. 'n Vertraagde vergeldingshandeling met
voorbedagte rade is heeltemal die
teengestelde van daardie momentele verlies aan
of inkorting van selfbeheersing wat die waarmerk van provokasie dra. Waar, soos
hier,
die boosdoener eers na verloop van aansienlike tyd na die uittartende
optrede, en nadat hy behoorlik geleentheid tot bedaring en
besinning gehad het,
sy slagoffer in koelen bloede om die lewe gebring het, kan daar van provokasie
as versagtende faktor nouliks
sprake wees.
Daarbenewens kan toorn aan die
kant van 'n beskuldigde strafversagtend inwerk slegs indien die slagoffer se toornverwekkende daad sodanig is dat die
gemoedsopwelling wat dit by die beskuldigde ontlok na die oordeel van die gewone
redelike mens gebillik is.
Kom ons by die feite van die onderhawige geval dien
eerstens gemeld te word dat die feit dat 'n gevangene
8
in sy tronksel wapens opgaar onmiskenbaar dui op h geweldsoogmerk wat vir
ander tronkinwoners - hetsy mede-gevangenes hetsy bewaarders
- lewensgevaar
inhou. Die oorledene se bekendmaking aan die owerheid was derhalwe lofwaardig.
Ten tweede moet voor oë gehou
word dat die alleenopsluiting wat die
appellant verduur het nie alleen die gevolg van sy eie toedoen was nie maar ook
die uitvloeisel
van h regmatige verhoor. In hierdie omstandighede, so meen ek,
sou die gewone ewewigtige landsburger vir die doodslag wat die appellant
gepleeg
het geen begrip kon toon nie. Dat die appellant ontstoke was toe hy die oorlede
gedood het, is duidelik. Daarvan getuig die
aakligheid van sy wandaad. Om
bostaande redes, egter, was die appellant nie billik ontstoke nie. Bygevolg is
die wraaklus hier ter
sprake nie sodanige "verskonende menslike reaksie" wat as
'n versagtende faktor aangemerk kan word nie.
Uit die aangevoerde getuienis
blyk dit dat sowel die appellant as die oorledene lede van dieselfde bende
was.
9
Ofskoon die aangeleentheid nie in die betoogpunte namens die appellant ingelewer, geopper is nie, het hierdie hof nietemin oorweeg of druk deur die bende op die appellant uitgeoefen nie moontlik met die doodslag verband hou nie. Dit was nooit die appellant se saak nie, en die getuienis van die staatsgetuies bevat ook geen regstreekse aanduiding dat die appellant by pleging van die moord aldus beïnvloed is nie. Volledigheidshalwe is dit egter nodig om in hierdie verband kortliks by die getuienis van die staatsgetuie Ralph Duiker stil te staan. Duiker was ook 'n lid van voornoemde bende. Aanvanklik het Duiker getuig dat nadat die oorledene aan die bewaarders inligting gegee het oor wapens in die appellant se besit, daar 'n kringsitting deur lede van die bende gehou is waarby die oorledene se beriggewing aan die owerheid bespreek is, en daar by meerderheidstem oor die lot van die oorledene "besluit" is. Van hierdie storie het Duiker in die loop van kruisondervraging heeltemal afgewyk en toe te kenne gegee dat die
10
verrigtinge by die kringsitting onderbreek is sonder dat enige vaste besluit
oor die oorledene se lot geneem is. Hieraan het Duiker
toegevoeg dat die
oorledene "sonder reëlings" en as gevolg van die appellant "se eie
besluite" om die lewe gebring is. By deurlees
van die oorkonde is dit duidelik
dat m b t die beweerde kringsitting en wat daar sou afgespeel het Duiker baie
bontgepraat het. Sy
relaas hiervan is besonder onbevredigend en staan m i sterk
onder verdenking. In die afwesigheid van enige ander en aanvaarbare getuienis
op
die punt, skep Duiker se getuienis na my mening nie eers 'n redelike
moontlikheid dat die appellant as gevolg van aansporing of
op aandrang van sy
mede-bendelede tot die moord oorgegaan het nie.
Mnr Roberts wat namens die
appellant 'n betoog gelewer het, het toegegee dat daar geen versagtende faktore
in die saak te vinde is
nie. Daardie toegewing tref my as
weloorwoe.
Daarenteen is die verswarende faktore wat teen die appellant
inwerk voor die hand liggend. Die oorledene was die
11
slagoffer van 'n wreedaardige en lafhartige sluipmoord wat met sluheid beplan
en met astrantheid en doelgerigtheid uitgevoer is. Boonop
is die appellant 'n
geharde misdadiger met 'n droewige strafrekord. In die loop van 'n enkele jaar
(1974) het hy vyf veroordelings
opgeloop. Sedert Januarie 1978 kon hy in totaal
beswaarlik meer as twee jaar buite die gevangenis deurgebring het. Ofskoon slegs
twee van sy vorige veroordelings weens geweldsmisdade was, is dit opvallend dat
sy eerste ernstige geweldsmisdaad in die gevangenis
gepleeg is.
Die bestaan
van etlike strafverswarende faktore tesame met die afwesigheid van enige
strafversagtende faktore beteken egter nie dat
die ondersoek afgehandel is nie.
Die uiteindelike vraag bly nog of, met inagneming van die oogmerke van
straftoemeting, die doodvonnis
in al die omstandighede van die geval die enigste
gepaste straf is.
Hierdie is 'n saak waar die gemeenskapsbelang sterk na vore
tree. In die verlede het ons howe telkemale vermaan dat
12
waar iemand in die rustigheid van sy eie woning oorval en vermoor word, veral
die afskrikkings- en vergeldingselemente van strafop-legging
beklemtoning
verdien. Die gemeenskapsbelang tree eweseer op die voorgrond, so meen ek,
wanneer 'n selbewoner in die tronk op grusame
wyse om die lewe gebring word. 'n
Tronkbewoner verkeer onder die oppertoesig en in die veilige bewaring van 'n
staatsinrigting. Dat
'n tronkbewoner uiteraard in die geselskap van menige
boosdoeners en geweldenaars verkeer, bring onvermydelik mee dat vir hom die
gevaar van aanranding en selfs doodslag groter sal wees as wat dit vir die
persoon op vrye voet daarbuite is. Maar die feit dat die
tronkbewoner onder
dwang opgesluit moet sit, beteken hoegenaamd nie dat sy fundamentele reg op die
onskendbaarheid van sy liggaam,
en trouens sy reg op voortbestaan, hom ontneem
is nie.
Met deeglike inagneming van al die omstandighede van hierdie geval is
die doodstraf na my oordeel die enigste gepaste
13
vonnis vir die moord wat die appellant gepleeg het. Die appèl word afgewys en die doodvonnis bekragtig.
G G HOEXTER, AR
NESTADT, AR ) Stem saam F H GROSSKOPF, AR )