South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1992 >> [1992] ZASCA 16

| Noteup | LawCite

S v Kraqa en 'n Ander (515/91) [1992] ZASCA 16 (10 March 1992)

Download original files

PDF format

RTF format


SAAKNOMMER: 515/91

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA APPëLAFDELING

In die saak tussen:

MZOXOLO GOODMAN KRAQA Eerste Appellant

ABEDNEGO MANDLA Tweede Appellant

en

DIE STAAT Respondent

CORAM: HOEXTER, KUMLEBEN ARR et HOWIE WAR

VERHOOR: 3 MAART 1992

GELEWER: 10 MAART 1992

1 UITSPRAAK

HOWIE WAR: Die twee appellante en twee medepligtiges, almal destyds woonagtig in die Witwatersrandse gebied, het daarvan te hore gekom dat 'n vragmotor op die vroegaand van 6 Oktober 1987 Germiston sou verlaat met 'n vrag aluminium vir Kaapstad bestem. Hulle het saam besluit en beplan om die persone in beheer van die vragmotor van hulle voertuig en die vrag daarop te beroof. Vir hierdie doel het elkeen van die appellante hom met 'n pistool bewapen. Op die betrokke aand het die vier mans in eerste appellant se motor Johannesburg verlaat om die vragmotor voor te keer. Etlike ure later het hulle dit stilstaande langs die nasionale pad tussen Vredefort en Kroonstad teëgekom. By die vragmotor was die bestuurder en sy passasier. Die rowers het by die motor uitgespring en na die vragmotor gehardloop. Die bestuurder en sy passasier het gepoog om hulle uit die voete te maak. Tweede appellant het egter die bestuurder op die

2

padoppervlakte ingehaal en hom met 'n enkele skoot deur sy aorta en albei longe doodgeskiet. Die passasier is in die hande gekry en saam met die bestuurder - wat teen dié tyd sterwend of reeds dood was - tot by 'n punt 80 meter van die pad se grensdraad in 'n landery geneem. Die passasier se hande is agter sy rug vasgemaak en eerste appellant het hom met een skoot deur sy kop tereggestel. Die twee slagoffers se lyke is daar gelaat nadat hulle broeksakke omgedop is en die bestuurder se brandstofgeld teen die bedrag van ongeveer R500 geneem is. Die rowers is onmiddellik terug Witwatersrand toe, twee in die vragmotor en twee in die motor. Gedurende die loop van dieselfde nag het hulle direk na die huis van 'n skrootmetaalhandelaar gegaan en die vrag aan hom verkoop. Hulle het elkeen R500 hiervoor ontvang. Die vragmotor is daarna geabandonneer.
As gevolg van hierdie voorval is appellante en hulle medepligtiges in die Oranje-Vrystaatse Rondgaande Plaaslike Afdeling (Hattingh R en asessore) aan roof met verswarende omstandighede skuldig bevind en gevangenisstraf opgelê. Daarbenewens is eerste

3

appellant aan die passasier se moord skuldig bevind en tweede appellant aan die bestuurder se moord. Daar is bevind dat geen versagtende omstandighede met betrekking tot die twee gevalle van moord bestaan het nie en appellante is elkeen die doodvonnis opgelê. Met die verlof van die Verhoorregter het appellante na hierdie Hof in hoër beroep gekom teen die skuldigbevindings en die bevinding dat daar geen versagtende omstandighede was nie. Die appèl het in alle opsigte misluk.
Appellante se doodvonnisse is mettertyd heroorweeg deur die paneel aangestel kragtens Wet 107 van 1990 wat gemeen het dat indien daardie Wet ten tye van die verhoor gegeld het, die doodvonnisse waarskynlik opgelê sou gewees het. Gevolglik is die aangeleentheid van daardie vonnisse nou voor hierdie Hof.
Eerste appellant, wat 28 jaar oud was ten tye van die verhoor in April 1989, het een vorige veroordeling vir 'n onbeduidende diefstal. Vir huidige doeleindes kan dit buite rekening gelaat word en word hy as 'n eerste oortreder beskou. Tweede appellant - 26

4

jaar oud ten tye van die verhoor - het geen vorige veroordeling nie. Appellante se skoon rekords tel in hulle guns maar daar is geen ander strafversagtende faktore nie.
Die strafverswarende faktore is voor die hand liggend. Hierdie was 'n deeglik beplande strooptog. Die vrag se gewig was meer as 7000 kg en die waarde daarvan tussen R50 000 en R60 000. Dit was struikrowery op 'n groot skaal vir eie gewin.
Die feit dat appellante nie gehuiwer het om hul vuurwapens te gebruik nie, selfs in die afwesigheid van enige weerstand aan die kant van hulle slagoffers, asook die feit dat laasgenoemde tromp-op geskiet is, regverdig die gevolgtrekking as die enigste redelike afleiding (appellante se alibi-verwere is as vals verwerp) dat hulle vooraf besluit het om as een van hulle oogmerke die bestuurder en sy bemanning van kant te maak sodat hulle nooit sou kon getuig nie. Die Verhoorhof se bevinding dat eerste appellant met dolus directus opgetree het was dus geheel en al geregverdig.
Wat tweede appellant aanbetref, het die Verhoorhof die ongemotiveerde bevinding gemaak dat hy

5
met dolus eventualis gehandel het. Die aanduidings wat daar is in die uitspraak van die Hof a quo, is dat daardie bevinding gegrond is op tweede appellant se bewerings in sy bekentenis wat as deel van die vervolging se saak teen hom bewys is, dat die bestuurder, na hy geskiet is, gesê het dat hulle hom nie mag doodmaak nie en dat tweede appellant hom daarna nie 'n verdere skoot toegedien het nie. In al die omstandighede egter sou 'n bevinding van dolus directus in sy geval myns insiens ook onaanvegbaar gewees het. Mnr Jansen (wat nie by die verhoor verskyn het nie) het namens tweede appellant toegegee dat laasgenoemde se graad van aanspreeklikheid en die laakbaarheid van sy optrede nie wesenlik minder was as diê van eerste appellant nie. Na my oordeel is daardie toegewing tereg gemaak.
Albei appellante het koelbloedig vermoor nadat hulle oorgenoeg tyd gehad het om hulle omtrent die beoogde rooftog en gepaardgaande geweld te besin. Hulle was nie jeugdiges of jong mans op die drumpel van volwassenheid nie (S v Dlamini 1992 (1) SA 18 (A) te 31 I) en hul misdryf is met deeglike beplanning en

6

doelgerigtneid uitgevoer.
Appellante dra die verwyt van 'n gruwelike wandaad. Ander wat soortgelyke wederregtelike gedrag mag beoog moet op die duidelikste manier afgeskrik word en die gemeenskap moet teen sodanige misdrywe op die doeltreffendste wyse beskerm word. Ondanks die feit dat appellante eerste oortreders is - en ek veronderstel vir huidige doeleindes dat hul moontlik rehabiliteerbaar is - weeg die behoefte aan voorkoming, afskrikking en vergelding swaarder as die ander tersaaklike oorwegings in die onderhawige saak. Alles in ag genome meen ek dat die doodvonnis die enigste gepaste straf in elke appellant se geval is. Bygevolg word hulle appèlle van die hand gewys.

HOWIE WAR

HOEXTER AR )

) STEM SAAM KUMLEBEN AR)