South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
1992 >>
[1992] ZASCA 161
| Noteup
| LawCite
S v Jordaan (191/91) [1992] ZASCA 161; [1992] 2 All SA 465 (A) (21 September 1992)
Download original files |
saak nr 191/91
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(APPéLAFDELING)
In die saak tussen:
DINGAAN JORDAAN Appellant
en
DIE STAAT Respondent
Coram: HOEXTER, F H GROSSKOPF ARR et HARMS Wnd AR
Verhoordatum: Lewerinqsdatum:
28 Augustus 1992 21 September 1992.
2
UITSPRAAK F H GROSSKOPF AR:
Die appellant is in die Oranje Rondgaande
Plaaslike Afdeling op Upington deur Steenkamp R en twee assessore skuldig
bevind aan moord (2 aanklagte), roof met verswarende omstandighede
(2
aanklagte), onwettige besit van 'n vuurwapen (2 aanklagte) en onwettige besit
van ammunisie (2 aanklagte). Die appellant is die
doodvonnis op elkeen van die
twee moordklagtes opgelê, terwyl hy tot 12 jaar gevangenisstraf op die
eerste roofklagte en tot
5 jaar gevangenisstraf op die tweede roofklagte
gevonnis is. Die vier klagtes wat verband hou met die onwettige besit van
vuurwapens
en ammunisie is saamgeneem vir doeleindes van vonnis, en die 2 jaar
gevangenisstraf wat die appellant op hierdie aanklagte opgelê
is, moet
saam met die 12 jaar gevangenisstraf op die eerste roofklagte uitgedien word.
Die appellant appelleer teen die skuldigbevindings
en vonnisse op al agt
aanklagte. Vir sover die appellant nie 'n
3
outomatiese reg van
appêl het nie, appelleer hy met verlof van die hof a quo.
In die
hof a quo het 'n beweerde mededader as beskuldigde 2 saam met die
appellant tereggestaan op dieselfde aanklagte, maar hy is slegs aan diefstal
van
'n radiowekker skuldig bevind. Wat die ander aanklagte betref, is hy onskuldig
bevind en ontslaan.
Die appellant is in die eerste plek daaraan skuldig bevind dat hy op Woensdag
15 Augustus 1980 vir mev Rokitta, toe 55 jaar oud, by
haar woning op 'n
besproeiingsperseel op Jooste-eiland buite Upington aangeval het en van haar man
se .22 geweer beroof het. Die
distriksgeneesheer wat haar na die aanval
ondersoek het, het haar beskryf as 'n skraal persoon wat fisies swak was en wat
oud voorgekom
het. Hy het skaaf- en kneuswonde aan haar gesig en polse gevind,
asook krap- en wurgmerke aan haar keel. Sy bevindings het haar getuienis
omtrent
die aard van die aanranding in beginsel gestaaf. Die distriksgeneesheer het dit
as 'n ernstige
4 aanranding beskryf. Die verhoorhof het egter bevind dat mev
Rokitta die nagevolge van die aanval ietwat oordryf het.
Mev Rokitta was nie
in staat om haar aanvaller uit te ken op 'n uitkenningsparade wat op 23 Augustus
1990, agt dae na die roof, gehou
is nie. Na die parade het mev Rokitta in die
kantoor van sers Du Toit gesit toe sers Smit en die appellant in die gang
verbyloop.
Toe het sy die appellant egter spontaan uitgewys as die persoon wat
haar aangeval het. Mev Rokitta se getuienis is dat sy die appellant
op daardie
oomblik uitgeken het aan 'n oorkrabbetjie in sy regteroor, asook aan sy gesig en
sy stem. Daar is egter verskeie onbevredigende
aspekte omtrent hierdie
uitkenning, en alleenstaande sou dit beslis nie voldoende gewees het om die
identiteit van mev Rokitta se
aanvaller bo redelike twyfel te bewys nie. Dit was
trouens ook die bevinding van die verhoorhof. Mev Rokitta se uitkenning van die
appellant as die persoon wat haar beroof het, word egter in 'n belangrike
5
opsig gestaaf deur verdere getuienis wat toon dat die appellant geweet het waar
die betrokke .22 geweer versteek was kort nadat
mev Rokitta daarvan beroof
is.
Dit blyk verder uit onbetwiste ballistiese- en ander polisiegetuienis dat
daardie .22 geweer gedurende die nag van Saterdag 18 Augustus
1990 deur iemand
gebruik is om mnr en mev Viviers op Louisvale buite Upington te vermoor.
Dieselfde .22 geweer is 'n paar dae daarna
deur die appellant aan die polisie
uitgewys op 'n plek waar dit versteek was. Indien die getuienis omtrent daardie
uitwysing aanvaar
word, verbind dit die appellant met die roof op mev Rokitta
asook met die moord en roof op die Viviers egpaar.
Die gemelde uitwysing deur die appellant het op Dinsdag 21 Augustus 1990
plaasgevind. Volgens die staatsgetuies het die appellant
vir maj Nieuwoudt en
sekere ander polisiebeamptes na 'n plek ongeveer 60 km buite Upington op die
Olifantshoekpad geneem. Daar langs
die pad by 'n witgatboom het die appellant
eerstens 'n
6 .303 geweer uitgegrawe wat onder die sand begrawe was. Daardie
.303 geweer het aan mnr en mev Viviers se seun behoort en was voorheen
in 'n
kluis in hulle huis gebêre. Na die moord en roof op die Viviers egpaar op
18 Augustus 1990 het hulle seun gevind dat
sy .303 geweer met patrone, asook
ander items wat aan sy ouers behoort het, uit sy ouers se huis verwyder was.
Nadat die appellant
die .303 geweer te voorskyn gehaal het, het hy aan die ander
kant van die witgatboom mnr Rokitta se .22 geweer onder die sand uitgegrawe.
Die
kolf van die .22 geweer was egter afgebreek en nie saam met die res van die
geweer begrawe nie. Die afgebreekte kolf is later
dieselfde dag ver daarvandaan
langs 'n droë rivierlopie ongeveer 1 km van die Rokitta's se huis in 'n
digte doringbos deur die
appellant aan die polisie uitgewys. Die hof a
quo het die polisie se weergawe van die uitwysings aanvaar. Die appellant se
advokaat het sekere punte van kritiek teen daardie bevinding
geopper, maar na my
oordeel bestaan daar geen rede waarom die polisie se
7 getuienis in hierdie
verband nie aanvaar behoort te word nie.
Die appellant het erken dat hy saam
met die polisie met die Olifantshoekpad na die betrokke plek by die witgatboom
gery het. Hy het
egter ontken dat hy die pad soontoe aan die polisie uitgewys
het. Hy het inteendeel getuig dat die polisie hom na daardie plek geneem
het.
Volgens die appellant se weergawe het hy geen geweer daar uitgegrawe nie en het
hy trouens geen geweer op die toneel gesien
nie. Die appellant het verder ontken
dat hy daarna saam met die polisie na 'n droë rivierlopie op Jooste-eiland
buite Upington
gegaan het of dat hy 'n gebreekte geweerkolf daar aan die polisie
uitgewys het. Die hof a quo het die appellant se getuienis as vals
verwerp. Dit ly geen twyfel dat die appellant 'n swak en leuenagtige getuie was
nie. Wat die
uitwysings betref, is sy weergawe myns insiens so inherent
onwaarskynlik dat dit alleen om daardie rede verwerp moet word. Die
polisiebeamptes
wat by die
8
uitwysings betrokke was, het getuig dat hulle gladnie vooraf geweet het
waar die gewere versteek was nie, en dat hulle ook nie oor
enige inligting met
betrekking tot die versteekte gewere beskik het nie. Dit is haas ondenkbaar dat
die polisie die versteekte gewere
of die gebreekte geweerkolf sonder inligting
sou kon opgespoor het. Hulle moes klaarblyklik die hulp gehad het van iemand wat
oor
eerstehandse kennis van die wegsteekplekke beskik het. Daar is geen
getuienis, of selfs enige suggestie, dat die appellant se beweerde
mededader,
wat as beskuldigde 2 saam met hom aangekla was, die polisie in hierdie verband
behulpsaam was nie. Die enigste redelike
moontlikheid wat oorbly,is dat dit
inderdaad die appellant was wat die gewere uitgewys het.
Die appellant beweer nie dat die uitwysings as gevolg van dwang of onbehoorlike beïnvloeding gedoen is nie; hy ontken eenvoudig enige uitwysing. Bowendien is die versteekte gewere slegs as gevolg van die uitwysings deur die polisie ontdek, en is hierdie dus 'n
9
uitsonderingsgeval waar 'n gedwonge uitwysing in elk geval toelaatbaar sou wees. (R v Samhando 1943 AD 608 te 611-15; S v Sheehama 1991(2) SA 860 (A) te 877 D-H en 878 G/H). Die getuienis dat die appellant die gewere uitgewys het, was dus toelaatbaar. Die appellant het nie enige verontskuldigende verduideliking vir sy kennis in verband met die wegsteekplek van die gewere probeer aanbied nie. In die omstandighede verskaf hierdie uitwysings na my oordeel verdoemende getuienis teen die appellant. Sy uitwysing van die .22 geweer verbind hom nie alleen met die roof op mev Rokitta nie, maar ook met die moord en roof op mnr en mev Viviers. Sy uitwysing van die .303 geweer verbind hom verder met die moord en roof op die Viviers egpaar.
Mnr Viviers was 74 jaar oud toe hy vermoor is, terwyl sy eggenote 62 jaar oud was. Hulle het elkeen aan 'n skietwond in die kop gesterf. Hulle is in die sitkamer van hulle woning met die gemelde .22 geweer vermoor, waarskynlik gedurende die aand. Afgesien van
70
hulle seun se .303 geweer, is daar ook verskeie van hulle eie
besittings uit die huis verwyder. Mev Viviers se Toyota Corolla motor
is
terselfdertyd gesteel. Sowel die motor as sekere van die ander gesteelde items
wat met sekerheid uitgeken kon word, is later deur
die polisie teruggevind op
plekke en onder omstandighede wat die appellant verder by die pleging van die
misdade van 18 Augustus
1990 impliseer.
Die polisie het mev Viviers se
verlate motor op Maandag 20 Augustus 1990 ongeveer 6 km buite Vryburg op die
Delareyvillepad gevind.
Dit blyk uit die getuienis van ene Stoffel Letokwe dat
die appellant gedurende die nag van Saterdag 18 Augustus 1990 met 'n
motorvoertuig
by die getuie se huis in Klosten buite Kuruman opgedaag het en
water gevra het. Letokwe en die appellant het mekaar geken. Volgens
Letokwe het
die appellant vir hom gesê dat hy op pad Johannesburg toe is. Hy het
ontken dat die appellant vir hom gesê
het dat hy by iemand in Klosten kom
kuier het. Die appellant het erken dat hy die
7
betrokke aand by Letokwe se huis in Klosten aangedoen het.
Volgens die appellant sou hy die naweek by 'n vriend, ene Laurie, in Klosten
gaan kuier het, en het hy 'n saamrygeleentheid by vriende van hom gekry wat op
pad Nelspruit toe was. Sy vriend Laurie was egter
nie tuis nie, en die appellant
het toe by Letokwe water gaan vra vir die verkoeler van die motor waarin hulie
gery het. Aangesien
die appellant nie by Laurie kon oorbly nie, is hy volgens sy
weergawe met 'n ander geleentheid terug Upington toe, waar hy vroeg
die
Sondagmôre aangekom het. Die getuie Letokwe kon nie sien met watter
voertuig die appeliant die nag by sy huis in Klosten
opgedaag het nie en hy kon
ook nie sê of die appeilant aileen was of nie. Sy getuienis bied egter
steun vir die afleiding dat
die appellant met mev Viviers se gesteelde motor na
Klosten en verder gery het. Daardie afleiding word verder ondersteun deur die
getuienis dat die appellant die gewere langs die pad tussen Upington en
Olifantshoek, en dus op pad na Klosten en Vryburg, begrawe
het. Hierdie
72
getuienis van die appellant se nagtelike besoek aan Letokwe, asook die getuienis
van die onderskeie plekke waar die motor en gewere
gevind is, is slegs deel van
die omstandigheidsgetuienis. Alleenstaande neem dit die staatsaak nie veel
verder nie, maar wanneer
dit saam met al die ander omstandigheidsgetuienis,
waaronder die uitwysing van die gewere, oorweeg word, regverdig die geheel van
sodanige getuienis na my oordeel die afleiding, as enigste redelike afleiding,
dat die appellant wel die betrokke misdade gepleeg
het.
Daar is reeds verwys
na verdere omstandig-heidsgetuienis wat die appellant met die pleging van die
misdade op die Viviers egpaar verbind,
nl die opsporing van sekere ander
gesteelde goed. Die ondersoekbeampte het op Maandag 20 Augustus 1990 sekere
items, soortgelyk aan
dié wat uit die huis van mnr en mev Viviers vermis
is, aan huis van ene Peterine Tiemies in 'n woonbuurt buite Upington gevind.
Dit
is gemene saak dat Peterine Tiemies die appellant se vriendin was en dat hy by
haar
73 gebly het en daar geslaap het. Die ondersoekbeampte het by daardie
huis beslag gelê op 'n duvetoortreksel, 'n duvet, 'n kussingsloop,
'n
kamera en 'n kameraflits. Toe die appellant gedurende die middag van 20 Augustus
1990 gearresteer is, het hy 'n windjak aangehad
wat ooreengestem het met die
vermiste windjak van die oorledene, mnr Viviers.
Anna Titus, wat jare lank as
huishulp vir mev Viviers gewerk het, het die duvetoortreksel en die kamera
uitgeken as die eiendom van
mev Viviers. Volgens Anna Titus se getuienis het sy
self die duvetoortreksel kleiner gemaak. Die kamera het sy herken aan 'n gaatjie
in die kamerasak. Die seun van die oorledenes het ook die Olympus kamera van sy
moeder uitgeken en wel aan sekere los fokusringe.
Dit is sy getuienis dat hy
vroeër 'n Yashica kameraflits, soortgelyk aan die een wat by Peterine
Tiemies gevind is, as geskenk
aan sy moeder gegee het. Bowendien kan dit
beswaarlik toevallig wees dat al die ander artikels wat by Peterine Tiemies
gevind
74
is, met die vermiste artikels ooreenstem. Die appellant kon nie verduidelik hoe die betrokke artikels in Peterine Tiemies se besit gekom het nie. Peterine Tiemies het nie getuig nie, maar haar suster wat in dieselfde huis as sy gebly het, het getuig dat sy gesien het toe die appellant op die betrokke Sondag 'n blou-bont duvetoortreksel, soortgelyk aan die bewysstuk voor die verhoorhof, by hulle huis aangebring het. Wat mnr Viviers se windjak betref, het die appellant valslik ontken dat hy dit aangehad het toe hy deur die polisie gearresteer is.
Die hof a quo het na 'n binneverhoor beslis dat 'n bekentenis wat die appellant op Woensdag 22 Augustus 1990 voor die hooflanddros op Upington afgelê het, as getuienis teen hom toelaatbaar is. Ten tyde van die aflegging van die bekentenis het die landdros die appellant versoek om enige beserings wat hy het, aan hom uit te wys. Daarop het die appellant 'n skaafmerk by sy linkeroog en 'n nerfaf plek op sy regterbors aan die landdros getoon. Die landdros het verder 'n skaafmerk
15
aan die regterkant van sy gesig waargeneem. Die appellant het bygevoeg
dat sy linkeroor toe is. Hy het beweer dat die polisie hom
na sy arrestasie
gedreig het dat hy moeilikheid gaan optel as hy nie die waarheid praat nie. Hy
is toe by ' n sportveld, bekend as
Unieveld, uit 'n polisiemotor geruk en teen
die grond gegooi. Volgens die appellant se mededeling aan die landdros het die
polisie
daar op hom getrap en toe 'n onbekende vloeistof uit 'n botteltjie in sy
neusgate gespuit. Die appellant het die landdros verder
meegedeel dat hy daarna
bewusteloos geword het. Die landdros het aangebied om dié bewerings onder
'n polisie-offisier se aandag
te bring, maar die appellant het die volgende
veelseggende antwoord gegee: "Nee, asseblief nie." Dit kan terloops genoem word
dat
die appellant wel heelwat later 'n aanrandingsaak teen die polisie aanhangig
gemaak het. Nadat die appellant egter vir die landdros
verseker het dat hy nie
onbehoorlik beïnvloed of gedwing was om die verklaring voor hom af te
lê nie, het die landdros
16
voortgegaan om sy bekentenis af te neem. Die hof a quo
het bevind dat enige moontlike aanrandings op die appellant niks met die
vrywillige aflê van die bekentenis te doen gehad het
nie, en die
bekentenis is gevolglik as getuienis teen die appellant toegelaat.
Dit is
myns insiens nie nodig om al die getuienis wat tydens die binneverhoor
afgelê is, te ontleed nie. Die appellant se weergawe
dat hy ook by
verskeie ander geleenthede deur die polisie aangerand is, is 'n oordrywing wat
nie met die getuienis of die waarskynlikhede
strook nie. Die polisiegetuies se
weergawe met betrekking tot die oorsaak van die appellant se beserings was myns
insiens egter ook
nie besonder oortuigend nie. Volgens sers Smit se getuienis
het hy kort na die appellant se arrestasie toesig oor hom gehou by die
sportveld. Daar het die appellant onverwags, en sonder enige ooglopende rede, op
die grond neergeslaan en rukbewegings begin maak.
Daar was wit skuim om sy
mondhoeke waarneembaar. Dit het vir sers Smit gelyk of
17 die appellant
moontlik 'n epileptiese aanval kon gehad het. Die appellant was daarna
bewusteloos gewees, maar hy is eers heelwat
later daardie dag in die plaaslike
hospitaal opgeneem. Die amptelike hospitaallêer verskaf die volgende
inligting met betrekking
tot die appellant se ongesteldheid: "History of fall
off moving vehicle." Die manlike verpleegkundige wat die appellant in die
hospitaal
opgeneem het, het getuig dat hy daardie inligting bekom het van die
polisiebeampte wat die appellant hospitaal toe gebring het. Dit
is gemene saak
dat sers Smit die appellant hospitaal toe geneem het. Die verpleegkundige het
toegegee dat die betrokke polisiebeampte
die moontlikheid van 'n epileptiese
aanval terloops aan hom genoem het, maar volgens hom het die polisiebeampte
bygevoeg dat hulle
by die appellant se ouers sou gaan uitvind of daar enige
geskiedenis van epilepsie is. Die appellant en sy familie het in die loop
van
hulle getuienis ontken dat die appellant ooit in die verlede enige tekens van 'n
epileptiese aanval getoon
18
het. Die geneesheer wat die appellant later die aand in die
hospitaal ondersoek het, het geen aantekening van enige beserings gemaak
nie, en
hy het ook nie sy diagnose in die hospitaallêer aangeteken nie. In die
loop van sy getuienis het hy egter die moontlikheid
van 'n histeriese aanval
genoem.
Sers Smit het ontken dat hy ooit aan die verpleegkundige gesê
het dat die appellant van 'n voertuig afgeval het. Die staat kon
egter nie
verduidelik by wie anders die verpleegkundige daardie besondere inligting kon
gekry het nie. Daarbenewens staan dit vas
dat die appellant wel sekere beserings
gehad het toe hy op 22 Augustus 1990 by die landdros was om sy verklaring af te
lê.
Na my mening bestaan daar ernstige twyfel omtrent die oorsaak van die
appellant se beserings.
Die landdros moes nie die appellant se bewering dat hy die bekentenis vrywillig wil aflê, sonder meer aanvaar het nie. Die appellant het die landdros net
19
tevore vertel hoe hy deur die polisie aangerand was, en hy het hom ook die beserings getoon om sy storie te staaf. Die appellant se klaarblyklike onwilligheid om die beweerde aanranding onder die aandag van 'n polisie-offisier te laat bring, moes die landdros op sy hoede geplaas het. Daardie onwilligheid kan weliswaar verskillende moontlike verklarings hê, maar die landdros het die appellant nie uitgevra na die rede vir sy onwilligheid nie. Een moontlike rede waarom die appellant geen aanrandingklag teen die polisie wou laat ondersoek nie, is omdat hy verdere aanranding van die polisie kon gevrees het. Indien dit die rede vir die appellant se onwilligheid was, kon die bekentenis beswaarlik vrywillig afgelê gewees het. Teen hierdie agtergrond moes die appellant se bekentenis na my oordeel nie deur die hof a quo toegelaat gewees het nie. Die bekentenis is egter nie onontbeerlik vir die staatsaak nie. Selfs sonder die bekentenis is die getuienis teen die appellant na my oordeel so sterk dat daar geen twyfel
20
kan bestaan omtrent die korrektheid van die skuldigbevindings nie. Die
appellant se appèl teen die skuldigbevindings kan gevolglik
nie slaag
nie.
Wat die appél teen die vonnisse betref, het die appellant se
advokaat betoog dat die doodvonnis nie die enigste gepaste vonnis
vir die twee
moorde is nie, en dat die roof op mev Rokitta nie so ernstig van aard was dat
dit 'n vonnis van 12 jaar gevangenisstraf
regverdig nie. Ek sal eerstens met die
vonnis van 12 jaar gevangenisstraf vir die roof met verswarende omstandighede
handel. Soos
blyk uit die getuienis van die distriksgeneesheer was die
aanranding op mev Rokitta ernstig van aard en omvang. Sy was beslis nie
'n
robuuste persoon nie en die verwurging kon net sowel haar dood veroorsaak het.
Die .22 geweer waarvan sy beroof is, is kort daarna
by die pleging van ander
ernstige misdade gebruik. Die afleiding is nie vergesog dat die appellant die
.22 geweer met die oog op
die pleging van ander misdade geroof het nie. Die
appellant is ook nie
21
'n eerste oortreder nie. Hy het 'n lang reeks vorige veroordelings
weens huisbraak en diefstal, en by een van daardie geleenthede
het hy ook
vuurwapens en ammunisie gesteel. In die lig van al die omstandighede is die
vonnis van 12 jaar gevangenisstraf na my oordeel
glad nie onvanpas nie. Ek vind
geen rede waarom hierdie hof met daardie vonnis behoort in te meng
nie.
Vervolgens is daar die appél teen die opgelegde doodvonnisse. Die
appellant se advokaat het enersyds betoog dat die bekentenis
nie toelaatbaar is
om die skuldigbevindings te bewys nie, maar andersyds wou hy hom tog met die oog
op strafversagtende faktore op
die inhoud van die bekentenis beroep. Hy wou aan
die hand van die appellant se bekentenis aantoon dat die appellant die misdade
onder
die invloed van beskuldigde 2, 'n veel ouer en meer ervare persoon,
gepleeg het. Die appellant kan egter nie op twee stoele sit nie.
Daar is reeds
bevind dat die bekentenis ontoelaatbaar is. Volgens die appellant se getuienis
is die wesenlike gedeeltes van die
22
bekentenis aan hom voorgesê, en is dit in elk geval nie die waarheid wat in die bekentenis staan nie. Daarbenewens het die appellant nie tydens die verhoor getuig dat beskuldigde 2 hom in enige opsig beïnvloed het om die misdade te pleeg nie. Maar selfs indien dit in die appellant se guns aanvaar sou word dat beskuldigde 2 moontlik 'n mededader was (wat nie uit die getuienis blyk nie), toon die bewese feite duidelik aan dat dit die appellant was wat feitlik deurgaans die leidende rol by die pleging van die misdade gespeel het. Volgens mev Rokitta se getuienis was sy deur slegs een persoon beroof, en al die getuienis dui daarop dat dit die appellant was. Kort nadat die appellant die .22 geweer in die rooftog bekom het, is dit gebruik om die egpaar Viviers mee te vermoor. Al die getuienis dui daarop dat dit die appellant was wat die moorde gepleeg het. Hy is die persoon wat die verskillende artikels, insluitende die .303 geweer met ammunisie, uit die huis van mnr en mev Viviers verwyder het. Dit is hy wat die twee gewere
23
langs die pad gaan begrawe het, en dit was na alle
waarskynlikheid ook hy wat daarna tot anderkant Vryburg met mev Viviers se motor
gery het om die polisie op 'n dwaalspoor te bring. Die meeste van die gesteelde
goed is kort daarna in die besit van die appellant
se vriendin, Peterine Tiemies
gevind, terwyl die appellant self mnr Viviers se vermiste windjak gedra het. Die
bewese feite regverdig
myns insiens dus gladnie 'n bevinding dat die appellant
moontlik deur beskuldigde 2 beïnvloed kon gewees het om die misdade
te
pleeg nie.
Aspekte wat wel as strafversagtend in aanmerking geneem moet word,
is die appellant se relatiewe jeugdigheid en die moontlikheid van
sy
rehabilitasie. Die appellant was 20 jaar oud toe hy die moorde in Augustus 1990
gepleeg het. Hy het onder agterlike en moeilike
omstandighede opgegroei. Hy het
die skool verlaat toe hy nog maar in standerd 2 was. Vanaf ongeveer sy twaalfde
jaar het hy as arbeider
op 'n plaas gewerk. Hy het op jeugdige ouderdom reeds
in
24 misdaad verval. Toe hy ongeveer 17 jaar oud was, is hy tot 2 jaar
effektiewe gevangenisstraf gevonnis. Hy is vrygelaat nadat hy
net meer as een
jaar van die vonnis uitgedien het, waarop hy by Upington Wynkelders gaan werk
het. Daarna het hy ook by 'n transportbesigheid
gewerk. Ondanks sy relatiewe
jeugdigheid het hy weliswaar heelwat lewenservaring opgedoen teen die tyd dat hy
die onderhawige misdade
gepleeg het.
Appellant se advokaat het betoog dat die
kans op rehabilitasie goed is, gesien sy jeug en die feit dat hy nie vorige
veroordelings
vir geweldsmisdade het nie. Dit moet egter nie uit die oog verloor
word nie dat die roof op mev Rokitta 'n geweldsmisdaad is wat
'n paar dae voor
die moorde gepleeg is. Hoewel die moontlikheid van rehabilitasie sekcr nie
uitgesluit kan word nie, dui die appellant
se lang reeks vorige veroordelings
daarop dat hy reeds die weg van 'n geharde misdadiger ingeslaan het en dat selfs
tronkstraf hom
nie in die verlede van verdere misdaad weerhou het nie.
25
Die strafverswarende faktore is voor die hand liggend en myns insiens
oorweldigend. Die appellant het in die loop van 'n rooftog vir
eie gewin twee
weerlose ou mense in die nag in hulle eie huis koelbloedig vermoor. Alles dui
daarop dat dit 'n beplande rooftog was.
Die appellant het gewapend soontoe
gegaan, en toe hy sy twee slagoffers in die kop geskiet het, het hy klaarblyklik
die direkte opset
gehad om hulle te dood. Daarna het die appellant ongesteurd
die .303 geweer en ammunisie uit die kluis gesteel, verskeie ander artikels
bymekaargemaak, die motorsleutels bekom en met sy buit daar weggery.
Hierdie hof het reeds by verskeie geleenthede beslis dat die elemente van afskrikking en vergelding by straftoemeting na vore tree wanneer 'n gepaste straf oorweeg moet word in gevalle waar ouer persone in hulle
huise in die loop van 'n rooftog vermoor is. (S v
Khundulu and Another 1991(1) SASV 470 (A) te 479 h-i; S v Makie 1991(2) SASV 139 (A) te 143 h-i; S v Sesing
26
1991(2) SASV 361 (A) te 365 g-h; S v Shabalala and Others 1991(2) SASV 478 (A) te 483 c-e; S v Tloome 1992(3) SA 568(A) te 577 I.) Die onderhawige saak is nog so 'n geval, en na my oordeel is die doodvonnis die enigste gepaste straf vir die sinnelose moorde wat die appellant gepleeg het.
Die appèl teen al die skuldigbevindings en vonnisse word gevolglik afgewys.
F H GROSSKOPF AR
HOEXTER AR
HARMS WND AR Stem saam