South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
1992 >>
[1992] ZASCA 175
| Noteup
| LawCite
Minister van Justisie, Ex Parte In Re: S v Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (130/91) [1992] ZASCA 175; 1992 (4) SA 804 (AD); [1992] 2 All SA 472 (A) ; [1992] 2 All SA 478 (A) (28 September 1992)
Download original files |
Saak nr 130/91 IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPéLAFDELING)
EX PARTE:
DIE MINISTER VAN JUSTISIE In re
DIE STAAT
Teen
DIE SUID-AFRIKAANSE UITSAAIKORPORASIE
CORAM: CORBETT, HR, VAN HEERDEN, E M GROSSKOPF, GOLDSTONE,
ARR et HARMS, Wn AR VERHOOR: 18 September 1992 GELEWER: 28 September 1992
UITSPRAAK
2
E M GROSSKOPF, AR
Kragtens artikel 333 van die Strafproseswet, no. 51
van 1977, het die Minister van Justisie die volgende twee
vrae aan hierdie
hof voorgelê vir beredenering en beslissing
vir die toekomstige leiding
van alle howe:-
"(a) Vind artikel 332(1) van die Strafproseswet,
1977 (Wet 51 van 1977) toepassing by
nalatigheidsmisdade?
(b) Is die uitspraak gelewer in R v Bennett & Co
(Pty) Ltd and another 1941 TPA 194 regtens
verkeerd?"
Die agtergrond tot hierdie vrae kan soos volg opgesom word.
Artikel 332(1) van die bogemelde Strafproseswet
("die huidige Wet") lui:
"(1) Ten einde 'n regspersoon strafregtelike aanspreeklikheid op te lê weens 'n misdryf, hetsy statutêr of gemeenregtelik, word -
(a) 'n handeling wat deur of in opdrag of met uitdruklike of stilswyende toestemming van 'n direkteur of dienaar van daardie regspersoon, met of sonder 'n besondere opset, verrig word; en (b) die versuim, met of sonder 'n besondere opset,
3
om 'n handeling te verrig wat verrig moes geword het maar nie verrig is nie deur of in opdrag van 'n direkteur of dienaar van daardie regspersoon, by die uitoefening van sy bevoegdhede of die uitvoering van sy pligte as so 'n direkteur of dienaar of ter bevordering of gepoogde bevordering van die belange van daardie regspersoon, geag 'n handeling (met dieselfde opset, as daar opset by is) deur daardie regspersoon verrig te gewees het of, na gelang van die geval, 'n versuim (en met dieselfde opset, as daar opset by is) aan die kant van daardie persoon te gewees het."
Die uitleg van hierdie bepaling het ter sprake gekom in 'n strafregtelike vervolging van die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie ("die SAUK"). Die SAUK is in die Johannesburgse landdroshof aangekla van 'n oortreding van artikel 44(l)(e)(iv) van die Wet op Gevangenisse, no. 8 van 1959, deurdat die SAUK na bewering wederregtelik en sonder skriftelike magtiging van die Kommissaris van Gevangenisse 'n foto van 'n gevangene gepubliseer het of laat publiseer het. Volgens die klagstaat is die oortreding gepleeg deur 'n
4
dienaar van die SAUK in die uitoefening van sy pligte as so 'n dienaar, of ter bevordering of gepoogde bevordering van die belange van die SAUK. Die SAUK het onskuldig gepleit en is aan die einde van die saak onskuldig bevind en ontslaan. Die landdros het bevind dat die werknemer van die SAUK wat vir die publikasie van die foto verantwoordelik was, onregmatig en nalatig (maar nie opsetlik nie) opgetree het en dat daardie optrede ten minste 'n poging was om die SAUK se belange te bevorder. Die graad van die werknemer se nalatigheid kon egter nie bepaal word nie en is gevolglik as gering beskou. Die landdros het verder bevind dat die wetgewer nie bedoel het dat die geringste nalatigheid van 'n werknemer ingevolge artikel 332(1) op die regspersoon geprojekteer moet word nie, en dat die SAUK dus nie uit hoofde van artikel 332(1) skuldig bevind kon word nie. Daar was ook geen ander basis vir 'n skuldigbevinding nie, en die SAUK is onskuldig bevind en ontslaan.
Die prokureur-generaal het daarop ingevolge artikel
5
310(1) van die huidige Wet die landdros versoek om 'n casus-posisie op te stel. Dit is gedoen. Die casus-posisie het onder meer die vraag geopper of artikel 332(1) toepassing vind waar daar slegs geringe nalatigheid aan die kant van die direkteur of dienaar van die regspersoon bewys word.
Die prokureur-generaal het aan die hand van die casus-posisie appél aangeteken na die Witwatersrandse Plaaslike Afdeling. Die appél is van die hand gewys - sien S v Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie 1991(2) SA 698 (W) ("die SAUK-saak"). Twee uitsprake is gelewer - een deur SPOELSTRA R en een deur STREICHER R. Hoewel dit nie uit die verslag van die uitsprake blyk nie, het M J STRYDOM R met SPOELSTRA R
saamgestem. Die meerderheid en minderheid van die hof het albei bevind dat die appél afgewys moes word, maar het hierdie slotsom langs verskillende weë bereik. STREICHER R het bevind dat mens rea in die vorm van opset nodig is om 'n oortreding van artikel 44(l)(e)(iv) van die Wet op Gevangenisse daar te stel (bl. 707 E tot 709 I). Dit volg
6
dus dat nalatigheid van die persoon wat die foto gepubliseer het nie ter sake was nie. Die regsvraag wat deur díe casus-posisie geopper was, was gevolglik bloot akademies en kon geen invloed op die skuldigbevinding van die SAUK gehad het nie (bl. 710 C-D). Die appêl moes volgens STREICHER R op daardie grond afgewys word.
Die meerderheid van die hof het pertinent die trefwydte van artikel 332(1) behandel, en tot die gevolgtrekking gekom dat dit onmoontlik is om in die bewoording van die artikel in te lees dat die wetgewer 'n bedoeling openbaar om die nalatigheid van 'n direkteur of dienaar van 'n regspersoon sonder meer in strafregtelike verrigtinge aan die regspersoon toe te dig (bl. 703 J tot 704 A). Waar nalatigheid ter sprake is kan die Staat, so word bevind, gevolglik nie steun op die fiksie wat deur die artikel geskep word nie vir sover dit op die skuldelement slaan (bl. 704 C). Die SAUK kon dus nie strafregtelik aanspreeklik wees vir die nalatige optrede van sy werknemer
7
nie, en die prokureur-generaal se appèl is afgewys.
SPOELSTRA R se
gevolgtrekking is strydig met die uitspraak in Rex v Bennett and Co (Pty) Ltd
and Another 1941 TPD 194. In daardie saak is 'n maatskappy in die
landdroshof skuldig bevind aan strafbare manslag gegrond op die nalatige optrede
van sy werknemer.
Op appél na die Transvaalse Provinsiale Afdeling is die
skuldigbevinding gehandhaaf. Vir hierdie doel is staatgemaak op artikel
384 van
die Wet op de Kriminele Procedure en Bewijslevering, no. 31 van 1917 ("die 1917
Wet"), soos vervang deur Wet 23 van 1939.
Artikel 384 van die 1917 Wet is 'n
voorganger van artikel 332 van die huidige Wet, en dit is gemene saak dat daar
geen wesentlike
verskil tussen die twee artikels is nie. SPOELSTRA R het dan ook
aanvaar dat Bennett se saak van toepassing is op die uitleg van artikel
332 van die huidige Wet, maar het, so wil dit voorkom, beskou dat dit verkeerd
beslis was (bl. 702 D tot 704 C). Ek kom later hierop terug. Die strydige
beslissings in Bennett se saak en die SAUK-saak, asook die
8
Minister van Justisie se twyfel oor die juistheid van die beslissing in die
SAUK-saak, het daartoe gelei dat hy bogemelde vrae aan hierdie Hof gestel
het.
Die antwoord op die vrae moet gevind word in die uitleg van artikel
332(1). Die strekking van die artikel is, breed gesproke, dat
onder bepaalde
omstandighede die handelinge of versuime van sekere natuurlike persone aan 'n
regspersoon toegereken word vir doeleindes
van strafregtelike aanspreeklikheid.
Die natuurlike persone wat betrokke is, is direkteure of dienaars van die
regspersoon, of persone
wat in opdrag of met die uitdruklike of stilswyende
toestemming van 'n direkteur of dienaar van die regspersoon optree. Die
omstandighede
waaronder die optrede van die gemelde natuurlike persone aan die
regspersoon toegereken word, is waar 'n direkteur of dienaar optree
by die
uitoefening van sy bevoegdhede of die uitvoering van sy pligte as 'n direkteur
of dienaar of ter bevordering of gepoogde bevordering
van die belange van die
regspersoon. Tot dusver skep die artikel
9
geen probleme vir huidige doeleindes nie.
Die wesentlike geskil in hierdie
saak gaan om die aard van die handelinge of versuime, en die daarmee
gepaardgaande gesindhede, wat
ingevolge artikel 332(1) op die regspersoon
geprojekteer word. Die artikel bepaal dat 'n handeling, met of sonder 'n
besondere opset,
en 'n versuim, met of sonder 'n besondere opset, van 'n
natuurlike persoon geag word 'n handeling (met dieselfde opset, as daar opset
by
is) of 'n versuim (met dieselfde opset, as daar opset by is) van die regspersoon
te wees. Aangesien die artikel hom uitdruklik
ten doel stel om 'n regspersoon
strafregtelike aanspreekliheid op te lê, is dit duidelik dat 'n mens hier
te doen het met handelinge
en versuime wat elemente van misdrywe uitmaak.
Hierdie handelinge of versuime word, saam met enige relevante opset,
geprojekteer
op die regspersoon.
Die basis van die argument ter ondersteuning van die juistheid van die SAUK-saak is dat die artikel net praat van 'n handeling, 'n versuim en 'n opset. Hierdie is dus, so
10
is betoog, die enigste elemente van 'n misdaad wat op 'n regspersoon geprojekteer kan word. Waar 'n misdaadomskrywing 'n skuldlose aanspreeklikheid skep kan die regspersoon aanspreeklik wees vir die natuurlike persoon se misdaad, want al wat geprojekteer hoef te word is die handeling of versuim wat die misdaad uitmaak. En waar mens rea in die vorm van opset deel vorm van die misdaadomskrywing is daar ook voorsiening vir die toerekening van albei elemente, d.w.s., actus reus en mens rea. Maar, en dit is die kern van die argument, waar die misdaad mens rea in die vorm van culpa (of nalatigheid) verg, maak die artikel geen voorsiening dat die natuurlike persoon se culpa toegereken word aan die regspersoon nie. In so 'n geval, so word betoog, kan die artikel dus nie ingespan word om 'n regspersoon aanspreeklik te maak vir die misdrywe van 'n natuurlike persoon nie.
Hierdie argument kan myns insiens nie aanvaar word nie. Dit misken die wese van culpa as 'n vorm van mens rea. In S v Ngubane 1985(3) SA 677 (A) het hierdie Hof die
11
verskille tussen dolus en culpa ontleed. Op bl. 686 E-G word
die volgende gesê:
"Dolus connotes a volitional state of mind. Culpa, it would seem, may entail no state of mind at all. The mere labelling of culpa as a form of mens rea does not necessarily and decisively point to the contrary. The view generally held by our Courts is that culpa is constituted by conduct falling short of a particular standard, viz that of the reasonable man (cf Snyman Strafreq at 196-8, 199-200; Van der Merwe and Olivier Onregmatige Daad 4th ed at 131-152; Van der Walt Delict at [LAW SA] 8 paras 36, 39, 41; Burchell and Hunt vol 1 at 196-200). Although the reasonable man standard may to some extent be individualised in certain circumstances, it remains an objective standard. If failing to meet such a standard of conduct is the essence of culpa, then it seems unrealistic to eguate it to a state of mind at all."
En op bl. 687 E word die Hof se gevolgtrekking kernagtig soos
volg uitgedruk:
"... the concepts of dolus and culpa are totally different. Dolus connotes a volitional state of mind; culpa connotes a failure to measure up to a
12
standard of conduct."
Culpa is dus nie 'n geestesgesindheid of eienskap wat eie is aan die dader en wat op die regspersoon geprojekteer kan word nie. Dit behels 'n oordeel wat ooreenkomstig objektiewe maatstawwe op die handeling toegepas word. In hierdie opsig is culpa soortgelyk aan onregmatigheid. As die feite eers bepaal is, moet die Hof, waar dit relevant is, vasstel of die bepaalde optrede onregmatig en nalatig was. 'n Mens kan dit illustreer met 'n geval waar 'n regspersoon aangekla word van moord as gevolg van 'n handeling verrig deur sy werknemer. Ingevolge artikel 332(1) kan die werknemer se handeling en opset (indien daar 'n opset was) aan die regspersoon toegedig word. Die onregmatigheid van die handeling (bv. dat dit nie in noodweer geskied het nie) is egter nie iets wat aan die dader kleef en aan die regspersoon toegedig kan word nie - dit word beoordeel volgens objektiewe maatstawwe. Dieselfde geld vir nalatigheid. As daar dus by die moordaanklag geen opset
13
aanwesig was nie kan net die dienaar se handeling op die regspersoon geprojekteer word. Die regspersoon sal dan nie aan moord skuldig bevind kan word nie, maar die Hof sal nogtans moet besluit, na gelang van die aard van die handeling en die omstandighede waarin dit plaasgevind het, of daar onregmatigheid en nalatigheid was. Indien wel, sal die regspersoon skuldig wees aan strafbare manslag. Hierdie resultaat volg nie omdat onregmatigheid en culpa van die dader op die regspersoon geprojekteer word nie, maar omdat enige persoon wat hierdie handeling onder hierdie omstandighede pleeg, onregmatig en nalatig optree.
Gedurende argument, en ook in die meerderheidsuitspraak van die SAUK-saak, is daar verwys na die uitdrukking "besondere opset" in artikel 332(1) wat later in die artikel gevolg word deur "dieselfde opset". Vir huidige doeleindes, waar opset nie ter sprake is nie, maak hierdie woordgebruik natuurlik nie saak nie, maar ek meen in elk geval dat die gebruik van die byvoeglike naamwoord
14
"besondere" nie van enlge belang is nie. In die Engelse teks word dit weergegee as "particular" wat sedert 1939 ook in die artikel se voorgangers voorkom. Die bedoeling was klaarblyklik dat, waar 'n misdryf 'n vorm van opset vereis, die opset van die dader op die maatskappy geprojekteer word. Die uitdrukking "besondere opset" skep die indruk dat die wetgewer aan verskillende soorte opset gedink het, en voor ons is betoog dat opsetvorms soos dolus directus, dolus eventualis e.d.m. in die wetgewer se gedagte was. Gesien die regsklimaat in 1939, toe hierdie bewoording ingevoer is, was daar miskien eerder gedink aan die Engelsregtelike verskil tussen "basic intent" en "specific intent" - sien R v Innes Grant 1949(1) SA 753 (A) op bl. 765; S v Johnson 1969(1) SA 201 (A) op bl. 205 F-G; en S v Chretien 1981(1) SA 1097 (A) op bl. 1103 H tot 1104 A. Vir 'n algemene bespreking van "specific intent" in Engelse Reg, sien Smith and Hoqan, Criminal Law, 6e uitgawe, bl. 211 tot 216. Hoe dit ook al sy, die wetgewer het klaarblyklik bedoel om enige relevante
15
opset waarmee die handeling gepleeg is, op die regspersoon te
projekteer.
Weens die voorgaande meen ek dat, by 'n behoorlike vertolking van
artikel 332(1), 'n regspersoon wel aanspreeklik kan wees vir nalatigheidsmisdade
gepleeg deur sy direkteure, amptenare en ander persone genoem in die artikel.
Hierdie gevolgtrekking word gestaaf deur twee verdere
oorwegings. Die eerste is
een van waarskynlikheid. Ek kan aan geen rede dink waarom die wetgewer 'n
regspersoon sou aanspreeklik
maak vir skuldlose misdade en opsetsmisdade, maar
nie vir nalatigheidsmisdade nie. Selfs al sou die bewoording van die artikel
minder
duidelik gewees het sou ek nie maklik oortuig kon word dat die wetgewer
so 'n ongerymde resultaat beoog het nie.
Die tweede stawende oorweging is 'n historiese een. Soos reeds gemeld is artikel 332(1) se voorganger in ons strafreg ingevoer deur 'n wysiging van die 1917 Wet in 1939. In 1941 is daar in Bennett se saak deur 'n volle hof beslis
16
dat nalatigheidsmisdade wel deur die artikel getref word. In die daaropvolgende halfeeu is die juistheid van die uitspraak nooit betwyfel nie en is dit konsekwent deur die howe toegepas. Sien byv. S v Joseph Mtshumayeli (Pvt.) Ltd 1971(1) SA 33 (RAD) op bl. 33-5; S v Louterwater Landgoed (Edms) Bpk en Andere 1972(2) SA 809 (K) op bl. 824 F tot 825 D; en S v Film Fun Holdinqs (Pty) Ltd and Others 1977(2) SA 377 (OK) op bl. 385 E tot 386 B. Sedert 1941 het ons strafreg en strafprosesreg revolusionêre veranderinge ondergaan. Tweekeer, eers deur die Strafproseswet, no. 56 van 1955, en toe weer deur die huidige Wet, is nuwe strafproseswette gepromulgeer. Nogtans is die bepaling wat tans artikel 332(1) is elke keer in wesentlik onveranderde vorm herhaal. Dit is 'n duidelike aanduiding dat die wetgewer die uitspraak in Bennett se saak aanvaar en goedgekeur het. Sien S v Theron 1984(2) SA 868 (A) op bl. 877 E-H.
Ten slotte behandel ek kortliks die uitsprake in
17
Bennett se saak en die SAUK-saak. In Bennett se saak, soos reeds gemeld, was die aanklag strafbare manslag. Hoewel nalatigheid klaarblyklik ter sprake was, is daar nie soos in die onderhawige geval geargumenteer dat 'n maatskappy nie ingevolge die artikel weens nalatigheid skuldig bevind kan word nie. Die appellant se argument in die Bennett-saak was dat die artikel alleen gegeld het waar die dienaar of direkteur se handeling binne die bestek van sy oënskynlike magtiging geval het, of, in die alternatief, waar die regspersoon deur middel van 'n ander direkteur of dienaar as die dader, nagelaat het om die betrokke handeling te verhoed (sien bl. 200). Die hof het bevind dat die woorde van die bepaling nie vatbaar vir so 'n beperkte uitleg is nie. In die loop van sy beredenering het MURRAY R, wat die uitspraak van die hof gelewer het, onder meer gesê dat "where proof of any intent is necessary to constitute a crime, the intent of the physical actor, if a director or servant of a corporation is deemed to be the intent of the corporation itself"
18
(ibid.). Hierdie was 'n algemene stelling gerig op die
vertolking
van die artikel met verwysing na die appellant se
argumente oor die
omstandighede waaronder 'n regspersoon
toegerekende aanspreeklikheid kan
hê. Nadat hierdie
argumente verwerp is, het MURRAY R sy finale slotsom
soos
volg uitgedruk (bl. 200-1):
"In the present case it is clear that Kruger (die werknemer) in carrying out his duties as servant of the appellant company was negligent. His negligence must in terms of sec. 384(1)(a) and (b), as amended, be deemed to be the company's negligence and must be imputed to the company."
Deur "his negligence" het die geleerde regter klaarblyklik bedoel sy nalatige optrede - vgl. die eerste paragraaf op bl. 201 waar gepraat word van "his negligent operations". Daar is sekerlik niks om aan te dui dat MURRAY R gemeen het dat Kruger se nalatigheid afsonderlik van sy handelinge aan sy werkgewer toegereken moes word nie.
In die SAUK-saak, meen ek, met respek, het SPOELSTRA R die passasie op bll. 200-201 van die Bennett-saak
19
wat ek hierbo bespreek het, verkeerd vertolk. Op bl. 702 D
meld hy dat die
begrippe "besondere opset" en "opset" 'n
netelige vraag na vore bring. Hy
haal dan (op bl. 702 F tot
703 B) die gewraakte passasie uit Bennett se saak aan, en
lewer die volgende kommentaar (op bl. 703 C-D):
"Dit is opvallend dat Murray R by die bespreking van die artikel deurgaans slegs na die begrip 'intent' verwys soos wat dit in die artikel gebruik word sonder om dit enigsins verder te bespreek of om aan te dui dat nalatigheid daarby inbegrepe is en waarom dit die geval is. By die toepassing van die artikel op die feite word nalatigheid sonder meer beskou as sinoniem met 'intent' en word die nalatigheid van die werknemer aan die regspersoon toegedig."
Hierdie kommentaar is myns insiens nie geregverdig nie. Ek kan nêrens in die Bennett-saak vind dat nalatigheid sonder meer beskou word as sinoniem met "intent" nie. Die bespreking van "intent" was, soos ek reeds aangedui het, in heeltemal 'n ander samehang. En as die Hof in die Bennett-saak nie presies uitgespel het hoe die artikel in gevalle van
20
nalatigheid toegepas word nie, is dit waarskynlik omdat daar geen argument
daaromtrent was nie.
Deurdat SPOELSTRA R die Bennett-saak verkeerd
gelees het, het hy die probleem voor hom beskou as een wat gaan oor die
vertolking van die begrippe "besondere opset"
en "opset". Met sy gevolgtrekking
dat hierdie begrippe nie culpa insluit nie, moet, met respek, saamgestem
word. Hieruit volg egter nie dat artikel 332(1) nie op nalatigheidsmisdade
betrekking het
nie, soos ek hierbo aangedui het. Ek kan dus met respek nie
saamstem met sy uiteindelike gevolgtrekking nie.
21
Die vrae wat die Minister van Justisie aan hierdie hof gestel het word, weens die voorgaande, as volg beantwoord:
(a) Ja (b) Nee.
E M GROSSKOPF, AR
CORBETT, HR
VAN HEERDEN,AR
GOLDSTONE, AR
HARMS, Wn AR Stem saam