South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
1992 >>
[1992] ZASCA 193
| Noteup
| LawCite
S v Van Rensburg (132/91) [1992] ZASCA 193; [1993] 4 All SA 132 (AD) (12 November 1992)
Download original files |
Saaknommer 132/91
/al IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPéLAFDELING) In die
saak van: ERIC GELDENHUYS JANSE VAN RENSBURG Appellant
en
DIE
STAAT Respondent
CORAM: NESTADT, NIENABER ARR et KRIEGLER WND.AR
DATUM VAN VERHOOR: 18 September 1992
DATUM VAN UITSPRAAK: 12 November 1992
UITSPRAAK
KRIEGLER Wnd. AR/
2
KRIEGLER Wnd. AR:
Hierdie appél gaan oor vonnis.
Appellant pleit in Januarie 1990 voor die Streekhof, Kaapstad skuldig aan 'n
oortreding van
a. 14(1) (b) van die Wet op Seksuele Misdrywe no. 23 van 1957.
Luidens die klagstaat het hy gedurende Augustus 1989 by Bloubergstrand
onsedelike dade met 'n 15-jarige seun gepleeg. 'n Verklaring ingevolge a. 112(2)
van die Strafproseswet No 51 van 1977 ("die Strafproseswet")
word deur sy
prokureur ingedien en 'n formele skuldigbevinding volg. Appellant se lys vorige
veroordelings toon toe onder andere
'n skuldigbevinding weens 'n oortreding van
die einste wetsbepaling skaars vier maande voor die pleging van die onderhawige
misdaad.
(Vir daardie oortreding was die vonnis 'n boete van Rl 000,00 of ses
maande gevangenisstraf plus 18 maande gevangenisstraf wat in
geheel opgeskort is
vir vyf
3 jaar op voorwaarde dat appellant hom onderwerp aan voorgeskrewe
sielkundige behandeling en nie weer skuldig bevind word aan 'n oortreding
van
bedoelde artikel nie.) Die saak word toe uitgestel met die oog op 'n
proefbeampteverslag.
By hervatting van die verrigtinge op 16 Februarie 1990 lewer die proefbeampte
'n voorvonnisverslag waarin sy 'n algeheel opgeskorte
vonnis van gevangenisstraf
aanbeveel, onderworpe daaraan dat appellant voortgaan met die reeds ingestelde
program van psigoterapie.
Sy meen sy gedrag was te wyte aan
persoonlikheidstekorte en 'n gepaardgaande drankprobleem, wat belowend gereageer
het op die destyds
kortstondige terapie. Sy meen ook dat langtermyn behandeling
nodig is maar ontbeer sal moet word in geval van tronkstraf. Die verhoorhof
lê egter 'n vonnis van 18 maande gevangenisstraf op, waarteen appellant in
hoër beroep gaan. In Junie 1990 beslis die
Kaapse
4 Provinsiale Afdeling
dat die verhoorhof gedwaal het deur nie voldoende rekening te hou met die
hervormingsoogmerk van straftoemeting
nie. Bygevolg word die vonnis van die
verhoorhof tersyde gestel en vervang deur dieselfde termyn gevangenisstraf,
waarvan een helfte
egter vir vyf jaar opgeskort is onder andere op voorwaarde
dat appellant hom onderwerp aan 'n voorgeskrewe psigo-terapeutiese regime.
Met
verlof van hierdie hof word daar nou teen laasgenoemde vonnis geappelleer. Die
kernsubmissie namens die appellant in beide howe
benede was dat regstreekse
gevangenisstraf onvanpas was. Die betoogpunte namens appellant in hierdie hof
het dan ook 'n algeheel
opgeskorte vonnis bepleit. Die staatsadvokaat het
daarenteen die oplegging van regstreekse gevangenisstraf ondersteun. Die
advokate
is egter versoek om aanvullende betoog voor te lê ten aansien van
die toepaslikheid en
5
oplegbaarheid van 'n vonnis van korrektiewe toesig
ingevolge
a. 276(1)(h) van die Strafproseswet.
(Bedoelde vonnis en wetsbepaling word hieronder van
nader beskou.) Aan die
versoek is nie alleen
voldoen nie, daar is boonop ooreengekom om 'n
verslag van 'n korrektiewe beampte te bekom wat
ooreenkomstig die bepalings van a. 212(4)(a) van
die Strafproseswet voorgelê is. Die bedoeling
daarmee was om hierdie hof in staat te stel om,
desverkiesend, self 'n vonnis van korrektiewe
toesig op te lê. Die verslag getuig van deeglike
vakkundigheid en bied 'n nugtere beskouing van die
appellant se huidige omstandighede. Dit bied ook
bykomende inligting aangaande die pleging van die
misdaad en appellant se geestesgesteldheid met
betrekking tot sy gemeenskapskadelike gedrag.
Aangesien nóg appellant nóg die klaer by die
verhoor getuig het, is sodanige gegewens
insiggewend.
6 Die geheelbeeld van die misdadiger en sy misdaad, soos dit
uit al die beskikbare bronne blyk, kan soos volg saamgevat word. Appellant
matrikuleer op ouderdom 18 en sluit by die Suid-Afrikaanse Polis ie aan, waar hy
tien j aar deurbring. Op 19-jarige leeftyd begewe
hy hom in 'n huwelik wat slegs
nege maande hou. In dieselfde tyd word hy skuldig bevind aan nalatige bestuur
wat, te oordeel aan
die vonnis, 'n geringe voorval moes gewees het. Die
daaropvolgende nege jaar verloop sonder insident totdat sake in 1989 'n wending
neem. Binne die bestek van 'n enkele week in April 1989 haal hy te Worcester vir
hom etlike skuldigbevindings op die hals, die een
weens dronkbestuur en die
ander weens 'n aantal oortredings van artikel 14(1) (b) van Wet 23 van 1957. Die
dronkbestuurklag word
besoek met 'n boete van Rl 000,00 of ses maande
gevangenisstraf plus 'n bykomende ses maande gevangenisstraf wat in
7
geheel voorwaardelik opgeskort word vir vyf
jaar.
Die onsedelikheidsaanklagte, saamgeneem vir
doeleindes van vonnis,
word bestraf met die reeds
vermelde boete en opgeskorte vonnis. As
gevolg
van laasgenoemde skuldigbevinding verloor hy sy pos
in die
Polisiemag en tree hy in diens van 'n
supermark teen 'n betreklik karige
salaris.
Alhoewel hy by sy ouers inwoon, verkeer hy in 'n
benarde
finansiële posisie. Hy begin met 'n kursus
psigoterapie wat die
proefbeampte reël en die
terapeut voorskryf. Daar word kort daarna besluit
om appellant eerder in te skakel by 'n program wat
aangebied is deur Safeline, 'n organisasie wat
gemoeid is met oortreders van die onderhawige
soort.
Die herhaling van die misdaad ondanks die onmiskenbare waarskuwing van die eerste vonnis dui enersyds op ongeërgheid jeens maatskaplike norme en strafregtelike sanksies. Andersyds dui die
8 proefbeampte se mening daarop dat appellant se
afwykende
optrede te wyte was aan
persoonlikheidstekortkominge wat
waarskynlik
gunstig sou reageer op volgehoue terapie, wat egter
ten tyde
van die herhaling van die vergryp nog te
kortstondig was om enige uitwerking
te kon hê. Op
daardie stadium pleeg die appellant die
huidige
misdaad met die klaer, 'n jong vriend. Dit gebeur
tydens 'n
uitstappie na Bloubergstrand toe
appellant, na 'n paar drankies, die klaer
oorreed
tot betasting en masturbasie, vermoedelik
wedersyds. Die klaer
deins terug en die
bedrywighede word gestaak. 'n Week later word
appellant
gearresteer. Deur wie die saak aanhangig
gemaak is, blyk nie uit die stukke
nie. Afgesien
van sy naam en ouderdom, is niks van die klaer
bekend nie.
Daar is ook niks meer oor die
verhouding tussen die klaer en appellant bekend
of
oor enige moontlike nagevolge wat die voorval vir
9
die klaer meegebring het nie.
Die redes waarom die
proefbeampte algeheel opgeskorte gevangenisstraf aanbeveel onderworpe aan
sielkundige behandeling, asook die
aard en suksesvooruitsigte daarvan, verg
bespreking. Kort voor sy skuldigbevindings in April 1989 is appellant
psigiatries geëvalueer.
Daarvolgens toon hy geen ernstige
persoonlikheidsafwyking of geestessiekte nie maar wel 'n swak selfbeeld, sterk
gevoelens van minderwaardigheid
en emosionele onvolwassenheid. Die gevolg was 'n
onvermoë om aansluiting te vind by persone van sy eie ouderdom en om
normale
seksuele verhoudings aan te knoop, 'n gevoel van toereikendheid slegs by
jonger seuns en die gebruik van alkohol ter onderskraging
van sy selfbeeld.
Nóg homoseksualiteit nóg pedofilie is gediagnoseer. Die
sielkundige onder wie se sorg appellant as
gevolg van die eerste
skuldigbevinding geplaas is, het gemeen dat intensiewe persoonlike
10
psigoterapie mettertyd geslaagd sou wees. Dit was
ook
destyds die mening van die persone by Safeline
wat appellant se behandeling
oorgeneem het. Die
korrektiewe beampte het laasgenoemde bron onlangs
gespreek en rapporteer dat appellant sedert Maart
1990 op 'n twee-weeklikse basis behandeling in
groepsverband ontvang en dat "daar positiewe
ontwikkeling tot aanvaarding en erkenning van die
probleem" is. 'n Verdere drie jaar word nodig geag
"om die probleem op te klaar". Die korrektiewe
beampte se verslag vervolg dan so:
"Gedurende die evaluasie van die appellant gedurende Maart 1992 was daar onsekerheid oor betrokkene se motivering tot verandering en oor die rol wat sy alkoholgebruik speel in die tempo van sy verandering. Op 'n vraag van ondergetekende of die appellant die misdaad as probleem beskou, was die betrokkene onseker en van mening dat hy nie werklik 'n probleem daarmee het nie. Hy voeg egter by dat sy werk hom tans so besig hou dat daar min tyd oor is om betrokke te raak in sodanige aktiwiteite. Daar is dus volgens ondergetekende steeds 'n mate van ontkenning aanwesig by die beskuldigde na twee (2) jaar se behandeling."
11
Daar kan uit die beskikbare gegewens afgelei
word dat appellant se behandeling hoofsaaklik
groepsterapie omvat en daarop gerig is om
aanvaarding en erkenning van die onderliggende
redes vir sy gedragsafwyking by hom tuis te bring.
Dit wil ook uit die aangehaalde passasie hierbo
deurskemer dat appellant nie werklik begryp tot
welke mate sy seksuele handelinge en sy
drankmisbruik afwyk van aanvaarde gemeenskapsnorme
nie. Dit is kommerwekkend dat, ten spyte van die
rampspoedige gevolge van sy gedrag én die
bedreiging van etlike jare gevangenisstraf,
psigoterapie oor twee jaar nog nie werklik tot
appellant se bewussyn deurgedring het nie. Hy
gebruik steeds daagliks (ná 'n besonder lang
werkdag) drank en sy ouers het nie insig in die
probleem nie. Die korrektiewe beampte beveel dan
ook aan dat appellant onderwerp word aan 'n streng
korrektiewe bewind, wat ondermeer behels dat
12 appellant drie jaar lank
geen sterk drank gebruik nie, buite sy werkure in huisarres verkeer en voortgaan
met die sessies by Safeline.
Dit is dan die agtergrond waarteen besin moet
word oor die moontlikheid van 'n vonnis van korrektiewe toesig.
Die eerste
vraag is of sodanige vonnis regtens veroorloof is. Die misdaad is gepleeg en die
skuldigbevinding en vonnis in die streekhof,
asook die vervanging van vonnis
deur die provinsiale afdeling, het alles plaasgevind vóór die
inwerkingtrede van die
Wysigingswet op Aangeleenthede Rakende Korrektiewe
Dienste en Toesig nr. 122 van 1991 ("die Wysigingswet"), wat korrektiewe toesig
as 'n nuwe vonnisopsie instel. 'n Bevestigende antwoord op die eerste vraag is
nie ver te soek nie, naamlik in die uitspraak van
hierdie hof in die analoë
geval van Prokureur-qeneraal, Noord-Kaap v Hart 1990 (1) SA 49 (A).
In
13
daardie saak is gevangenisstraf in die landdroshof
opgelê weens besit van dagga op 'n stadium toe sodanige straf ingevolge
die
bepalings van Wet 41 van 1971 verpligtend was. Terwyl 'n appêl
hangende was, tree 'n wysigingswet (Wet 101 van 1986) in werking
wat voorsiening
maak vir die oplegging van 'n boetestraf vir besit van dagga. Die Noord-Kaapse
Afdeling stel die vonnis tersyde omdat
hy dit as buitensporig beskou en lê
in die plek daarvan 'n boetestraf op plus algeheel opgeskorte tronkstraf.
Hierdie hof verwerp
die prokureur-generaal se betoog op appêl dat die
sogenaamde vermoede teen terugwerkendheid die oplegging van 'n boetestraf
deur
die provinsiale afdeling belet het. Die ratio van die verwerping (te
55C-F) is dat die vernietiging van die verhoorhof se vonnis deur die provinsiale
afdeling tot gevolg gehad
het dat daar ten tyde van die inwerkingtrede van die
wetswysiging regtens geen gevelde vonnis bestaan
14 het nie; dat sodanige
wet, synde straftemperend, in beginsel terugwerkend was; en dat dit die hof van
tweede instansie daarom vrygestaan
het om ten tyde van die oplegging van die
vervangende vonnis die toe reeds inwerkinggestelde boetestraf op te
lê.
Bedoelde gedagtetrant en beginselstelling kan egter nie sonder meer op die onderhawige omstandighede toegepas word nie. Hier was daar immers 'n bykomende trap op die hiërargiese leer van ons strafproses (naamlik die appél na die provinsiale afdeling) en 'n oënskynlik geldige vonnis wat daar, voor inwerkingtrede van die Wysigingswet, opgelê is. Nietemin meen ek dat daar in beginsel geen verskil te trek is nie. Tersydestelling deur hierdie hof van die vonnis wat die provinsiale afdeling opgelê het op grond daarvan dat dit om een of ander rede onvanpas was, sou eweneens beteken dat daar dan regtens van meet
15
af oor vonnis besin moet word én dat die
tans
beskikbare vonnisopsies oorweeg kan word. Een
beskikbare opsie is
korrektiewe toesig. Die
Wysigingswet bepaal (in artikel 50) dat die
inwerkingstelling daarvan op verskillende datums en
in verskillende gebiede kan geskied by wyse van
proklamasie. Die ineenskakeling van die bepalings
van die Wysigingswet is kompleks en word hieronder
naderby beskou. Vir die huidige kan volstaan word
met die stelling dat die nodige wetteregtelike
bepalings, waardeur korrektiewe toesig in casu
veroorloof word, na behore in werking is.
Dit beteken nie dat dit hierdie hof vrystaan
om die bestaande vonnis te vervang deur een van
korrektiewe toesig bloot omdat dit veroorloof is en
geskikter geag word nie. Die geykte benadering tot
ingryping met vonnis geld nadruklik steeds:
"[T]he essential inquiry in an appeal against sentence, however, is not whether the sentence was right or wrong, but whether the Court in imposing it exercised its discretion properly
16
and judicially, a mere misdirection is not by itself sufficient to entitle the Appeal Court to interfere with the sentence; it must be of such a nature, degree, or seriousness that it shows, directly or inferentially, that the Court did not exercise its discretion at all or exercised it improperly or unreasonably. Such a misdirection is usually and conveniently termed one that vitiates the Court's decision on sentence."
(Per Trollip AR in
S v Pillay 1977 (4) SA 531 (A)
535E - G.)
Vervolgens moet dan gevra word of daar gronde
bestaan om met die
tans bestaande vonnis in te
meng. Die antwoord daarop is myns
insiens
bevestigend, en wel op twee gronde wat afsonderlik
en des te meer gesamentlik afdoende is.
Ten eerste het die hof a quo sigself ten aansien
van die feite wanvoorgelig. Daar is naamlik bevind
dat
"die klem deur vonnis moet verskuif van 'n herstrukturering en hulp aan die mens na straf in die eng sin van die woord, naamlik vergelding omdat hy so anti-sosiaal opgetree het en klaarblyklik skade aan die seun toegebring het. Ten spyte van die landdros se terloopse opmerking dat daar nie skade aan die
17
seun toegebring is nie, was daar egter geen werklike sodanige getuienis waarop hy hierdie bevinding kon grond nie. Dit kom my voor dat enige seun van 15 jaar oud wat deur ' n ouer man seksueel gemolesteer word een of ander vorm van sielkundige skade moet ly, maar daar was ongelukkig geen psigiatriese dienste vir die seun aangebied of peiling gedoen op grond waarvan die Hof so 'n bevinding kon maak al dan nie."
Daar was geen feitebasis vir die
bevinding dat die
klaer skade toegebring is nie. Die kritiek op
die
verhoorhof het uit die oog verloor dat daar
besmoontlik tydens betoog
ten aansien van vonnis in
daardie hof (wat soos gebruiklik nie
volledig getranskribeer is nie) 'n toegewing van
die kant van die aanklaer of 'n onbetwiste stelling
te dien effekte deur die verdediging gemaak is.
Bowendien meen ek nie 'n hof beskik oor die nodige
kundigheid om te veralgemeen oor die nagevolge,
indien enige, vir 'n 15-jarige seun van 'n voorval
soos die onderhawige nie. Die advokaat namens
appellant het gelyk dat veel sal afhang van die
18
omstandighede, byvoorbeeld die seun se
persoonlikheid,
agtergrond, geslagsrypheid,
wêreldwysheid en sy verhouding met die
ander party.
Dit blyk dan ook uit die aangehaalde passasie,
gelees in
samehang met die uitspraak as geheel, dat
benadeling van die klaer 'n deurslaggewende rol
gespeel het by die hof a quo se slotsom dat 'n
termyn gevangenisstraf 'n noodsaaklike
vergeldingskomponent van die vonnis is.
Ten tweede het die hof a quo misgetas ten
aansien van die proefbeampte se mening. Onthou sal
word dat sy getuig het dat appellant se
persoonlikheidstekorte en gevolglike
gedragsafwykings langdurige en intensiewe
psigoterapie sou verg. Nietemin bevind die hof a
quo soos volg:
"Die getuienis is dat appellant nie 'n pedofiel is nie. Dit kom voor asof dit nie 'n onbeheerste drang by hom is om seuns seksueel te molesteer nie. Hy het, al is dit dan beperk, nogtans beheer daaroor, en volgens die proefbeampte, verg dit slegs groter inspanning
19
en karakter om homself van hierdie soort van gedrag te weerhou."
Dit is, met eerbied, 'n miskenning van die kern
van
die proefbeampte se mening, naamlik dat appellant
se karakter ontoereikend is, en 'n verontagsaming
van die wese van haar
aanbeveling dat langdurige
terapie ondergaan moet word juis om die gebreke aan
te vul. Ook in die geval van die onderhawige
mistasting blyk dit dus dat die hof a guo se
besluit dat gevangenisstraf aangewese is, uitgaan
van 'n wanvertolking van die getuienis.
Aangesien die tans geldende vonnis as gevolg
van wesenlike wanvoorligtings vernietigbaar is, is
daar geen beletsel teen onbevange besinning oor die
moontlikheid van korrektiewe toesig nie. Daarmee
word nie bedoel dat dit noodwendig die aangewese
strafvorm is nie. Ondanks die hof a quo se
wanvoorligtings mag gevangenisstraf en 'n
daaropvolgende tydperk van sielkundige behandeling
20 onder die dwingende
sanksie van 'n verdere termyn van opgeskorte gevangenisstraf tog vanpas wees.
Hier was bepaald 'n ernstige
vergryp teen openbare sedenorme, 'n vergryp wat
deur die wetgewer so ernstig beskou word dat artikel 22(f) van Wet 23 van 1957 '
n maksimum vonnis van ses jaar gevangenisstraf en 'n boete van R12 000 daarvoor
voorskryf. Dan moet die vorige - en resente -veroordeling
sterk strafverswarend
inwerk ongeag die omstandigheid dat die psigoterapeutiese program toe nog skaars
op dreef gekom het. Die appellant
hét hom nie gesteur aan die opgeskorte
vonnis nie. Bowendien blyk dit uit die streeklanddros se vonnismotivering dat
die insidensie
van hierdie tipe misdryf toeneem. Op die oog af is daar gevolglik
meerdere redes waarom daar met beslistheid teen appellant opgetree
moet word. En
so 'n slotsom het vóór die inwerkingtrede van die Wysigingswet
gewoonlik regstreekse tronkstraf
21 aangedui, veral waar, soos hier, 'n
opgeskorte vonnis oënskynlik in die wind geslaan is.
Ons straftoemeting het egter nou 'n heel nuwe
fase betree.
Korrektiewe toesig is weliswaar 'n
asnog ohbeproefde vonnisopsie maar dit
blyk reeds
uit die magtigende wetgewing dat dit groot
potensiaal inhou.
Wat veral tref, is die
veelsoortigheid daarvan. By nadere ondersoek
word
dit duidelik dat die benaming "korrektiewe toesig"
nie soseer 'n
vonnis beskryf nie maar 'n
versamelnaam is vir 'n wye verskeidenheid
maatreëls
waarvan die enkele gemeenskaplike kenmerk is dat
hulle
buite die gevangenis toegepas word. Die
ingrypende aard van die Wysigingswet
is opvallend
by die blote aanskoue van die aanhef - dit beslaan
meer as 'n
bladsy. Die belangrikste aspek daarvan
is die klemverskuiwing vanaf
gevangenisstraf na
hervorming. Die benaming van Wet 8 van 1959
("die
Hoofwet") word (by a. 33(1) van die Wysigingswet)
22
verander van die Wet op Gevangenisse na die Wet
op
Korrektiewe Dienste, met ooreenstemmende
naamsveranderings in die
woordomskrywingsartikel
(a. 1); die missie van die herbenaamde Departement
van Korrektiewe Dienste in a. 2(1) van die Hoofwet
word herbewoord (by a. 2) om die korrektiewe strewe
te benadruk; die Vrylatings Adviesraad en
vrylatingsrade word (by aa. 7 en 5 onderskeidelik)
herbenaam en die korrektiewe gerigtheid van hul
werksaamhede word uitgelig; en, wat hier van
besondere belang is, 'n splinternuwe hoofstuk VlllA
word (by a. 28) ingevoeg waarin uitvoerig
voorsiening gemaak word vir korrektiewe toesig,
weer eens met toepaslik ooreenstemmende wysigings
(by a. 1) van die woordomskrywings in a. 1 van die
Hoofwet. Luidens laasgenoemde bepaling staan 'n
persoon wat aan korrektiewe toesig onderworpe is
bekend as 'n toesiggeval, terwyl die
woordomskrywing van korrektiewe toesig benadruk dat
23
dit 'n gemeenskapsgebaseerde strafvorm is.
Daar moet dan gekyk word na a. 84(1) om die
omvang van sodanige strafvorm te peil. Dit lui
so:
"84. (1) Elke toesiggeval is onderworpe aan
die monitering, gemeenskapsdiens, huisarres,
indiensplasing, diensverrigting,
slagoffervergoeding en rehabilitasie- of ander programme soos deur die hof of die Kommissaris bepaal of by of kragtens hierdie Wet voorgeskryf, en aan enige ander vorm van behandeling, beheer of toesig, met inbegrip van toesig deur 'n proefbeampte, wat die Kommissaris na oorleg met die betrokke maatskaplike welsynsowerheid mag bepaal ten einde die oogmerke van korrektiewe toesig te verwesenlik."
Vir die doeleindes van die huidige saak kan die
aandag toegespits word op enkele aspekte van
hierdie vonnisopsie. Geeneen van die maatreëls
word in die Wysigingswet omskryf nie, waaruit
afgelei kan word dat die wetgewer dit aan
straftoemeters oorlaat om, binne die raamwerk wat
die generieke terme aandui, na goeddunke inhoud en
beslag daaraan te gee. So, byvoorbeeld, is
24
huisarres 'n onomskrewe en onomlynde
maatreël wat
deur die straftoemeter beskryf en omlyn kan word
met
verwysing na spesifieke ure van die dag en dae
van die week. Die soepelheid
van die maatreël bied
ook ander moontlikhede. Kragtens a. 276A(l)(b)
van
die Strafproseswet (soos ingevoeg by a. 42 van die
Wysigingswet) mag
die termyn van korrektiewe toesig
tot drie jaar beloop. Huisarres vir so
'n
lang termyn sou 'n swaar straf wees; dit staan
egter 'n straftoemeter
vry om monitering en
inskakeling by 'n program van sielkundige
behandeling
vir drie jaar voor te skryf en
huisarres van 'n korter duur. Die
term
"rehabilitasie- of ander programme" is nog breër en
laat ruimte
vir oordeelkundige individualisering om
nommerpas te wees vir 'n bepaalde
persoon in
bepaalde omstandighede. Daarbenewens is dit
opvallend dat daar,
afgesien van die breedheid van
die gespesifiseerde maatreëls, boonop
nog
25
voorsiening gemaak word vir "enige ander vorm van behandeling, beheer of toesig ... ten einde die oogmerke van korrektiewe toesig te verwesenlik." Beide huisarres en 'n rehabilitasieprogram is in casu pertinent op die voorgrond.
Artikel 84(2) sluit aan by die voorgaande,
veral wat betref
die voorbehoud daarby, wat in wese
bepaal dat 'n toesiggeval wat by
hofbeskikking aan
korrektiewe toesig onderworpe is, soos 'n
onveroordeelde
gevangene behandel word wanneer hy
in 'n gevangenis opgeneem word. Dit
beklemtoon dat
korrektiewe toesig 'n eie- en andersoortige
strafvorm is,
én dat diegene wat daaraan onderwerp
word wesenlik verskil van
gevonnisde gevangenes.
Die wetgewer het dus duidelik onderskei tussen
twee
soorte misdadigers, naamlik dié wat deur
gevangesetting van
die gemeenskap afgesonder moet
word en dié wat strafwaardig is maar
nie uit die
gemeenskap verwyder hoef te word nie. Wat meer is,
26
die wetgewer het ondubbelsinnig deur die klemverskuiwing, wat uit die Wysigingswet as geheel spreek, aangedui dat straf, hervormend maar desnoods hoogs bestraffend, nie noodwendig of selfs primêr deur opsluiting in 'n gevangenis haalbaar is nie. Waar die wetgewende gesag so duidelik sy wens uitgespreek het en waar die uitvoerende gesag (blykens die wetsinwerkingstellende proklamasies) paraat is om die nodige administratiewe rugsteuning te verskaf, is dit die plig van regsprekers om die middele wat so vrylik tot hul beskikking gestel is daadwerklik op te neem. In die besonder moet daar ingesien word daar nou gevoelige straf toegemeet kan word sonder gevangesetting, met al die bekende nadele aan laasgenoemde verbonde vir beide die prisonier en die breë gemeenskap. 'n Vonnis van korrektiewe toesig kan tewens so saamgestel word dat dit vir die veroordeelde meer beswaar as korttermyn gevangenisstraf - ingevolge a.
27
276A(l)(b) van die Strafproseswet mag 'n hof immers
korrektiewe toesig vir 'n tydperk van soveel as drie jaar oplê.
In die
onderhawige geval is daar persoonlike faktore wat die nasleepsels van
gevangenisstraf te meer ongewens maak. Appellant het
'n gediagnoseerde
persoonlikheidsgebrek wat manifesteer in homo-seksuele neigings. Om hom met sy
verdagte seksuele oriëntering
maandelank in 'n uitsluitlik manlike omgewing
af te sonder sou slegs as laaste uitweg die gekose vergeldings- en persoonlike
afskrikkingsmiddel
wees. Gesien sy behoefte aan terapie, wat nie in die
gevangenis beskikbaar is nie, sou gevangesetting nie alleen weinig, indien
enige,
hervorming meebring nie, maar dit inderdaad teenwerk.
Maar die aantreklikheid van korrektiewe toesig as vonnisopsie lê nie
alleen in die werklik bestraffende moontlikhede daarvan
nie. 'n Ernstige
28
tekortkoming van opgeskorte (en voorwaardelik uitgestelde) vonnisse ingevolge a.
297 van die Strafproseswet was - en is - die rigiede
sanksie wat vir verbreking
van 'n voorwaarde bestaan. Die strafoplegger bepaal uit die staanspoor die
sanksie vir nie-nakoming. Inwerkingstelling
van sodanige sanksie het dan in die
praktyk probleme opgelewer. Die huidige geval is 'n sprekende voorbeeld. Gestel
die appellant
hou pligsgetrou by die opskortingsvoorwaardes ná hy sy
vonnis van nege maande uitgedien het, totdat hy ses maande voor verstryking
van
die opskortingstermyn volstrek weier om voort te gaan met die terapie. Wat sou
die proefbeampte dan te doen staan? Terugverwysing
na die hof vir
inwerkingstelling van nege maande gevangenisstraf sou op so 'n laat stadium
onrealisties wees, wat dan as enigste
alternatief laat dat insubordinasie deur
die vingers gesien moet word. Die Wysigingswet bied nou 'n oneindig
29
beter meganisme ter afdwinging van
geregtelik
voorgeskrewe dissipline. Artikel 84B skep die
meganisme om 'n
weerbarstige toesiggeval in
hegtenis te neem, in ' n gevangenis aan te hou
vir
72 uur en dan óf voor die hof te bring óf weer
onder
korrektiewe toesig vry te laat. Dit behoort
'n doeltreffende dwangmiddel in
die hande van die
korrektiewe beampte te wees sonder die element
van
oormatige bestraffing wat inwerkingstelling van 'n
opgeskorte termyn
gevangenisstraf ingevolge a. 297
van die Strafproseswet mag meebring.
Daarby
aansluitend bied a. 276A(4) van die Strafproseswet
(hieronder
aangehaal) soos ingevoeg by a. 42 van
die Wysigingswet dan aan die hof die
geleentheid om
opnuut oor vonnis te besin indien die Kommissaris
van
Korrektiewe Dienste die toesiggeval na die hof
terugverwys. Die hof het dus
altyd 'n slag om die
hand: as korrektiewe toesig nie geslaagd blyk te
wees
nie, kan altyd teruggeval word op ander
30
strafvorme. Dit is dus nie alleen 'n soepele strafopsie nie
maar is ook regstelbaar.
Word daar dan na die onderhawige misdaad en, veral,
na die misdadiger gekyk, skyn korrektiewe toesig by uitstek clie geskikte
strafvorm
te wees. Appellant is nog betreklik jonk (hy is nou 32 jaar oud) en
het stewige gesinsbande en 'n stabiele werkspatroon. Sy misdadigheid
is van 'n
besondere aard en vind sy oorsprong in persoonlikheidsfaktore (en 'n
gepaardgaande drankprobleem) wat gunstig gereageer
het op behandeling.
Gevangesetting sal noodwendig die persoonlikheidstekorte nadelig beïnvloed
en onderbreking van die terapie
meebring. Die misdaad was wel ernstig maar daar
was tog strafversagtende faktore aanwesig. Die slagoffer was nie 'n weerlose
kindjie
nie maar 'n seun van 15 vir wie masturbasie waarskynlik geen skokkende
verborgenheid was nie. Daar was ook geen sprake van 'n aanranding
nie; die klaer
is verlei en, toe
31
hy later terugdeins, het appellant dit
aanvaar.
Die omstandighede rym trouens met die
gedragspatroon van 'n persoon met die gebreke wat
die psigiater gediagnoseer en die proefbeampte
beskryf het. Hoewel sy
optrede strafwaardig is,
moet die klem by sy vonnis op remediërende
behandeling eerder as op vergelding val. Die
betoog van appellant se advokaat ten gunste van 'n
algeheel opgeskorte vonnis sou wel die nadele van
gevangenisstraf besweer en voortgesette terapie
potensieer, maar dit voldoen nie aan die
persoonlike (en algemene) afskrikkingsoogmerke van
straf nie. Dit bevredig ook nie die
vergeldingsvereiste wat, vanweë die verontagsaming
van die vorige vonnis, op die voorgrond staan nie.
Sodanige betoog staan, soos dié van die
staatsadvokaat ten gunste van gevangenisstraf, in
die teken van die strakke alternatiewe wat vóór die
instelling van korrektiewe toesig gegeld het.
32
Die volle spektrum bevoegdhede vir die toepassing van korrektiewe
toesig in die onderhawige geval bestaan reeds uit hoofde van 'n
reeks
proklamasies wat kragtens a. 50 van die Wysigingswet in die staatskoerant
afgekondig is. Artikel 35 van die Wysigingswet, waarby
die omskrywings van
korrektiewe beampte en korrektiewe toesig in aa. 1 van die Hoofwet en die
Strafproseswet onderskeidelik ingevoeg
is, het, by Proklamasie no. 78 van 1991
in Staatskoerant no. 13469 van 14 Augustus 1991, die daaropvolgende dag in
werking getree.
Twee gelyktydige proklamasies (nos. 20 en 21 van 1992) verskyn
op 20 Maart 1992 in Staatskoerante 13881 en 13884 van daardie datum,
waardeur
onderskeidelik aa. 41 en 42 en a. 28 van die Wysigingswet onmiddellik in werking
gestel is. Laasgenoemde artikel wysig die
Hoofwet deur die invoeging van
hoofstuk VlllA, waardeur die substantiewe beslag van korrektiewe toesig en
die
33
meegaande meganismes geskep is. Artikels 41 en 42
van die
Wysigingswet dien weer om die nodige
wysigings aan die Strafproseswet teweeg
te bring.
Artikel 41(a) voeg die volgende twee paragrawe in
aan die einde van a. 276(1) van die
Strafproseswet:
"(h) korrektiewe toesig; (i) gevangenisstraf waaruit so iemand na goeddunke deur die Kommissaris onder korrektiewe toesig geplaas kan word." (Die vonnisopsie by paragraaf (i) bied moontlikhede
wat nie tans bespreking verg nie.) Artikel 42 van
die Wysigingswet voeg op sy beurt die nuwe a. 276A
in die Strafproseswet in. Dit lui soos volg:
"276A. (1) Straf word slegs kragtens artikel 276(1)(h) opgelê-
(a) nadat 'n verslag van 'n proefbeampte of
'n korrektiewe beampte voor
die hof
geplaas is; en
(b) vir ' n bepaalde tydperk wat nie drie
jaar te bowe gaan nie.
(2) Straf word slegs kragtens artikel
276(1)(i) opgelê-
(a) indien die hof van oordeel is dat die misdryf die oplegging regverdig van gevangenisstraf, met of sonder die keuse van ' n boete, vir ' n tydperk van hoogstens vyf jaar; en
34
(b) vir 'n bepaalde tydperk wat nie vyf jaar
te bowe gaan nie. (3)(a) Waar
iemand deur 'n hof gevonnis is tot gevangenisstraf vir 'n tydperk van-(i)
hoogstens vyf jaar; of
(ii) meer as vyf jaar, maar sy vrylatingsdatum
ingevolge die
bepalings van die Wet op
Korrektiewe Dienste, 1959 (Wet 8 van
1959), en
die regulasies daarkragtens
uitgevaardig hoogstens vyf jaar in die
toekoms
is,
kan die Kommissaris, indien hy van oordeel is
dat so iemand geskik is
om aan korrektiewe
toesig onderwerp te word, by die klerk van die
hof
aansoek doen dat daardie persoon voor die
hof a quo verskyn ten einde
genoemde vonnis te
heroorweeg.
(b) By ontvangs van 'n aansoek bedoel in
paragraaf (a) plaas die klerk van
die hof, na
oorlegpleging met die aanklaer, die saak vir
'n bepaalde datum op die betrokke hof se rol.
(c) Die klerk van die hof moet vir doeleindes
van die heroorweging van die
vonnis
ooreenkomstig hierdie subartikel-
(i) die oorkonde van die saak binne 'n redelike tyd voor die datum in paragraaf (b) bedoel aan die regterlike amptenaar wat die vonnis opgelê het of, indien hy nie beskikbaar is nie, 'n ander regterlike amptenaar van dieselfde hof, voorlê: Met dien verstande dat indien die getuienis in die saak op meganiese wyse opgeneem is, slegs die gedeeltes van die oorkonde wat deur so 'n regterlike amptenaar as nodig aangedui word, vir die doeleindes van hierdie subartikel getranskribeer word;
(ii) die Kommissaris skriftelik kennis gee van
35
die datum waarvoor die saak op die rol geplaas is en hom
versoek om hom voor daardie datum van 'n skriftelike gemotiveerde aanbeveling
vir voorlegging aan die regterlike amptenaar te voorsien; en (iii)enige
aanbeveling in subparagraaf (ii) bedoel aan daardie regterlike
amptenaar
voorlê.
(d) Wanneer 'n hof 'n vonnis ingevolge
hierdie subartikel
heroorweeg, beskik hy oor
dieselfde bevoegdhede asof hy vonnis
na
skuldigbevinding van 'n persoon oorweeg en die
prosedure wat by
sodanige verrigtinge gevolg
word, is mutatis mutandis by so
'n
heroorweging van toepassing: Met dien
verstande dat indien die betrokke
persoon
skriftelike daartoe instem, die verrigtinge in
hierdie subartikel
beoog in sy afwesigheid
afgehandel kan word: Met dien verstande
voorts dat
hy nogtans by sodanige verrigtinge
verteenwoordig kan word of skriftelik
vertoë
aan die hof kan laat voorlê.
(e) Nadat 'n hof 'n vonnis ingevolge hierdie
subartikel heroorweeg het,
kan hy-
(i) die vonnis of bevel van die hof a quo bekragtig; (ii) die vonnis in korrektiewe toesig omskep op die voorwaardes wat hy goedvind; of (iii) enige ander gepaste vonnis oplê: Met dien verstande dat laasgenoemde vonnis, indien gevangenisstraf, nie die tydperk van die onverstreke gedeelte van gevangenisstraf wat op daardie tydstip nog uitgedien moet word, te bowe mag gaan nie.
36
(4) (a) 'n Hof wat aan 'n persoon 'n straf bedoel in subartikel (1) of (2) opgelê het of sy vonnis omskep het kragtens subartikel (3)(e)(ii), hetsy anders saamgestel al dan nie, kan te eniger tyd, indien dit op grond van 'n gemotiveerde aanbeveling deur 'n proefbeampte of die Kommissaris bevind word dat daardie persoon nie geskik is om aan korrektiewe toesig onderworpe te wees of die opgelegde straf uit te dien nie, daardie straf heroorweeg en 'n ander gepaste straf oplê.
(b) Die prosedure in subartikel (3) bedoel, is mutatis mutandis van toepassing by die heroorweging van 'n straf kragtens hierdie subartikel."
Soos reeds hierbo opgemerk, maak a.
276A(4) 'n vonnis van korrektiewe toesig
regstelbaar. As dit dus sou blyk
dat appellant hom
nie na behore aan die neergelegde regime onderwerp
nie,
sou dit die proefbeampte of die Kommissaris
(wat in feite die korrektiewe beampte sal wees)
vrystaan om appellant weer
voor die streekhof te
bring vir heroorweging van sy vonnis. Kragtens
subartikel (4)(a), saamgelees met paragraaf (b)
daarvan asook met subartikel (3)(d), sou die volle
spektrum vonnisopsies dan opnuut beskikbaar wees.
37
Korrektiewe toesig is dus allerweë in casu die aangewese
strafvorm. Wat die spesifieke komponente daarvan moet wees, is nie heeltemal
duidelik nie. Daar is wel in die korrektiewe
beampte se verslag 'n aantal
voorstelle maar dit sou vir hierdie hof onwys wees om self 'n regime te probeer
saamstel. Ondanks die
wedersydse versoek tot sodanige optrede indien daar op
korrektiewe toesig besluit sou word, meen ek dat die verhoorhof die aangewese
forum is om die betrokke taak te verrig aan die hand van die reeds bestaande
verslae en enige verdere gegewens wat die voorsittende
beampte of die partye mag
wenslik ag.
'n Opmerking oor die prosedure is nodig. Die wetgewer het in a. 276A(l)(a) slegs die substantiewe vereiste gestel dat daar 'n verslag "voor die hof geplaas" word, maar geen prosedure voorgeskryf nie. Daar word, opvallend, geen vereiste ten aansien van bewys gestel nie. Daarmee
38
is skynbaar erkenning gegee aan die gebruik om by vonnisverrigtinge, ondanks die voorskrifte van a. 274(1), na goeddunke en na gelang van die besondere omstandighede, af te sien van streng voldoening aan die reëls van die bewysreg en van die strafproses, wat tot op die stadium van uitspraak op die meriete geld. (Sien met betrekking tot dié praktyk Du Toit: Straf in Suid-Afrika, hoofstuk 3.3, pp 137 -140; Hiemstra: Suid-Afrikaanse Strafproses, 4e uitgawe 609.) Die wetgewer kon egter nouliks deur die gebruik van die aangehaalde woorde 'n afwyking beoog het van nie alleen die voorskrifte van a. 274(1) niemaar ook van gemelde praktyk. In 'n geval waar die feitebasis van die verslag of 'n daarin gestelde opinie of aanbeveling, in 'n wesenlike opsig betwis word, moet die opsteller van die verslag getuienis aflê. Selfs waar daar nie twis is nie, mag straftoemeters dit gerade ag om tog die opsteller te laat getuig. Korrektiewe
39
toesig is so 'n totaal andersoortige vonnisopsie en bied so 'n wye verskeidenheid moontlikhede dat toeligting uit die getuiebank waardevolle insigte kan bied. Bowendien sou 'n ondraaglik dwingende program nie alleen 'n onreg teenoor die toesiggeval wees nie maar ook verbrekingswanger. Daardeur word niemand se belange bevorder nie. Les bes, die verantwoordelikheid om 'n gepaste vonnis te vel, rus altyd op die regterlike beampte en mag nie, selfs by die oplegging van korrektiewe toesig, geabdikeer word nie. Tydens die uitdiening van sy straf is die toesiggeval in groot mate uitgelewer aan die amptenare van die Departement van Korrektiewe Dienste; om die bepaling daarvan ook aan hulle oor te laat, sou pligsversaking wees. Die huidige geval bied 'n goeie voorbeeld van wat bedoel word. Tydens betoog het appellant se advokaat te kenne gegee dat daar aspekte van die korrektiewe beampte se verslag is waarmee nie
40
saamgestem word nie. Een daarvan was 'n aanbeveling dat appellant 16 uur per maand gemeenskapsdiens verrig. Appellant werk tans sulke lang ure dat die 16 uur diens waarskynlik op twee Sondagoggende en twee Sondagmiddae per maand verrig sal moet word. Dit mag by ondersoek ondraaglik blyk te wees. As die meningsverskil ten tyde van die hervatte vonnisverrigtinge in die verhoorhof nog voortbestaan, sal dit dus vir die korrektiewe beampte nodig wees om sy verslag in die getuiebank gestand te doen. Dit sou in elk geval gerade wees om vas te stel of ' n aanbeveling van die korrektiewe beampte ten aansien van huisarres inderdaad beoog dat dit die volle drie jaar van die korrektiewe toesig moet voortduur. Indien wel, mag daar gemeen word dat die las uitermate swaar is. Ek laat my uitdruklik nie daaroor uit nie en opper dit slegs omdat huisarres waarskynlik die wesenlikste komponent van die globale straf sal
41
uitmaak.
Een laaste aspek dien vermeld te word. Die pleging
van die onderhawige misdaad was 'n verbreking van een van die voorwaardes waarop
gedeelte van die vonnis op die vorige onsedelikheidsoortredings opgeskort is.
Bygevolg het sodanige gedeelte vatbaar geword vir inwerkingstelling.
Geen stappe
is egter tot nog toe in dié verband geneem nie. Ofskoon hierdie hof nie
by magte is om in die huidige saak voorskriftelik
te wees oor enige moontlike
implimentering van sodanige opgeskorte vonnisgedeelte nie, word die vertroue
uitgespreek dat gesonde
oordeel dienaangaande sal heers. Inwerkingstelling
daarvan sal natuurlik die hele doel en die effektiwiteit van die huidige vonnis
verydel.
42
Die appél slaag. Die vonnis word tersyde
gestel en die saak word na die verhoorhof terugverwys vir die oplegging van 'n vonnis van korrektiewe toesig ingevolge die bepalings van a. 276(1)(h) van die Strafproseswet 1977.
J.C.KRIEGLER Wnd. APPèLREGTER
NESTADT AR ]
] STEM SAAM
NIENABER AR ]