South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1992 >> [1992] ZASCA 199

| Noteup | LawCite

S v Oack en 'n Ander (597/91) [1992] ZASCA 199 (23 November 1992)

Download original files

PDF format

RTF format


SAAK NR 597/91

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

GARRET RODGER OACK Appellant nr 1
RONALD DENNIS SIMPSON Appellant nr 2
en
DIE STAAT Respondent

CORAM: E M GROSSKOPF, EKSTEEN, VAN DEN HEEVER, ARR

VERHOOR: 5 November 1992

GELEWER: 23 November 1992

UI TSPRAAK

2

E M GROSSKOPF, AR
Gedurende die aand van Kersfees 1989 het Romeo Solomons, Vernon Joubert en 'n klompie ander mense by Romeo Solomons se motor gesit en musiek luister. Die motor was geparkeer voor Vernon Joubert se huis in vickers Crescent, Reiger Park. Die twee appellante wat, ten spyte van verskillende vanne, broers is, het aangestap gekom. Toe hulle by die groepie musiekliefhebbers kom, het daar 'n onderonsie tussen die appellante en ene G-man plaasgevind. Die eerste appellant het G-man 'n klap gegee. Romeo Solomons het besluit om met sy motor weg te ry ten einde, so het hy getuig, in 'n posisie te kom om die motor in Vernon Joubert se perseel in te trek. Die twee appellante het intussen verder gestap. Romeo Solomons het in hulle rigting gery. Altwee appellante was met vuurwapens gewapen, en dit is gemene saak dat een of albei van hulle op Romeo Solomons geskiet het. Volgens Romeo Solomons het een van die skote hom skrams getref. Na die skietery het die appellante hulle

3

uit die voete gemaak. Romeo Solomons het aangery om hulp te kry. Sy swaer, Jacob Herwel (na wie ek as die oorledene sal verwys), was 'n polisieman. Romeo Solomons het hom van die gebeure vertel, en hulle is saam terug na Vernon Joubert se huis, waar hulle Romeo Solomons se motor agtergelaat het. Daarvandaan is hulle verder in 'n voertuig wat deur die oorledene bestuur is. Dit was 'n ongemerkte polisie-voertuig. Hulle het na die appellante gaan soek. Terwyl hulle by 'n huis in Trunk Tree-straat, Reigerpark, navraag doen, het hulle die appellante sien aankom. Daar is 'n mate van geskil oor wat presies daar gebeur het, maar dit is onbetwis dat albei appellante op Romeo Solomons en die oorledene geskiet het. Romeo Solomons en die oorledene het elk minstens vier koeëlwonde opgedoen. Romeo Solomons het die aanval oorleef maar die oorledene het aan sy wonde beswyk.

Weens die gebeure wat ek hierbo opgesom het, het die twee appellante in die Witwatersrandse Plaaslike Afdeling

4

tereggestaan op 'n aantal klagtes. Na 'n verhoor voor LEVESON R en assessore is hulle as volg skuldig bevind en gevonnis:

(a) Weens die skietery op Romeo Solomons in of naby Vickers Crescent is albei skuldig bevind aan poging tot moord en gevonnis tot 10 jaar gevangenisstraf.
(b) Weens die doodskiet van die oorledene is albei skuldig bevind aan moord en ter dood veroordeel.
(c) Weens die skietery op Romeo Solomons in Trunk Tree-weg is albei skuldig bevind aan poging tot moord en gevonnis tot 10 jaar gevangenisstraf, wat egter sou saamloop met die vonnis opgelê ten opsigte van die eerste poging tot moord.
(d) Ten opsigte van mindere klagtes, t.w. die diefstal van die oorledene se vuurwapen ná die skietery, en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, is albei appellante gevonnis tot 'n totale tydperk van twee jaar gevangenisstraf.

5

Benewens die doodvonnis is daar dus aan albei appellante effektiewe gevangenisstraf van twaalf jaar opgelê.
Die appellante kom nou in hoër beroep slegs teen die doodvonnisse op die moordklag.
Om te beoordeel of die doodvonnis 'n gepaste vonnis onder die omstandighede was is dit nodig om eers in te gaan op die voorafgaande gebeure. Die appellante het getuig dat die insident in Vickers Crescent begin het deurdat G-man die eerste appellant met sy skouer gestamp het. Nadat die eerste appellant hom geklap het, het die twee appellante verder geloop, en toe 'n vloekery agter hulle gehoor. Daarna het Romeo Solomons, volgens hulle, verskillende kere probeer om hulle met sy motor om te ry, ten spyte van hulle pogings om weg te kom. In noodweer het hulle toe op Romeo Solomons geskiet.

Die appellante se weergawe is deur die verhoorhof verwerp, en dit is sekerlik minstens erg oordrewe. Daar is

6

egter 'n paar fasette daarvan wat myns insiens redelik |

moontlik waar kan wees. Die staatsgetuies se getuienis oor hoe die twis tussen die eerste appellant en G-man ontstaan het is baie vaag. Dit lyk onwaarskynlik dat die twee appellante sonder rede moeilikheid sou soek met 'n groep vriende wat, volgens Vernon Joubert, uit nege mense bestaan het. Dit lyk dus minstens redelik moontlik dat dit inderdaad G-man was wat eerste opgetree het. Dit is gemene saak dat die appellante verder aangestap het nadat G-man geklap was, en dat daar toe 'n oor-en-weer-vloekery was. Die skietery het minstens drie huise verder plaasgevind. Romeo Solomons het getuig dat dit nodig vir hom was om daar te ry omdat hy verder voor wou draai sodat hy in die regte rigting kon beweeg om by die erf in te ry. Hoe dit ook al sy, dit is duidelik dat Romeo Solomons met die motor in die appellante se rigting gery het. Vernon Joubert sê dat nadat die appellante geskiet het, Romeo Solomons met sy voertuig "na hulle rigting gedraai", "na hulle gemik", het terwyl hulle

7

agter 'n bakkie geskuil het. Die appellante sê dit het gebeur voordat hulle geskiet het, en Romeo Solomons sê dit het glad nie gebeur nie. Die verhoorhof het nie ingegaan op hierdie verskil in die weergawes van Romeo Solomons en Vernon Joubert nie. Daar is geen rede hoekom Vernon Joubert sou lieg nie, en 'n mens moet dus aanvaar dat Romeo Solomons minstens die indruk kon geskep het dat hy die twee appellante wou omry, en dat hulle in 'n stadium agter 'n motorvoertuig skuiling gesoek het. Dit kan ook gemeld word dat, volgens Vernon Joubert, sommige lede van hul groep na die toneel van die gebeure gehardloop het toe hulle die skote gehoor het. Gesien van die appellante se perspektief kon hulle wel die indruk gekry het dat hulle bedreig word deur die groep wat buite Vernon Joubert se huis gestaan het.

Om op te som: dit is redelik moontlik dat toe die twee appellante verby die groep gestap het, G-man skoor gesoek het, dat die eerste appellant hom geklap het, dat die twee appellante aangestap het, dat daar 'n oor-en-weer-

8

vloekery was, dat Romeo Solomons in sy motor geklim het en agter die appellante aangery het, dat hulle moeilikheid van hom verwag het, dat hy inderdaad hulle probeer omry het, of dat hulle gedink het hy probeer dit doen, dat hulle op hom geskiet het (hetsy voor, hetsy ná sy werklike of vermeende poging om hulle om te ry) en dat hulle toe weggekom het. Die volgende belangrike insident was toe Romeo Solomons en die oorledene in Trunk Tree-straat na die appellante aanry, stilhou, en uit die motor klim. Dit is gemene saak dat die oorledene in private drag was, en dat die motor nie polisiekentekens gehad het nie. Daar is geen rede om die appellante se getuienis te verwerp dat hulle nie geweet het dat die oorledene 'n polisieman was nie. Hulle kon dus redelikewyse gedink het dat Romeo Solómons versterkings gaan haal het en van plan was om sy aanval voort te sit of om vergelding te soek vir die skote wat op hom geskiet was. Natuurlik, dit sou nie regverdiging bied om eenvoudig op Romeo Solomons en die oorledene los te brand

9

nie, maar hierdie agtergrond kan myns insiens wel as 'n strafversagtende faktor aangemerk word.

Dit bring my dan by die gebeure in Trunk Tree-straat. Volgens Romeo Solomons het die oorledene by 'n huis gaan navraag doen. Hy het daar met 'n vrou gepraat. Romeo Solomons het in die motor bly sit. Die oorledene het teruggekom, en toe sien Romeo Solomons die twee appellante van agter aankom. Die oorledene het in die motor geklim en agteruitgery na die appellante toe. Hy het by hulle stilgehou, uitgeklim, en om die motor gestap. Sonder dat 'n woord gesê is, het die appellante losgebrand. Die eerste appellant het die oorledene geskiet, en die tweede appellant die klaer, Romeo Solomons. Daarna is nog 'n hele paar skote geskiet, maar Romeo Solomons kon nie die presiese getal gee nie. Volgens die mediese getuienis het die oorledene vier skietwonde opgedoen en Romeo Solomons ook minstens vier. Die appellante het daarna weggehardloop.

Uit die hof se uitsprake op skuldigbevinding en

10

vonnis is dit duidelik dat Romeo Solomons se weergawe van die gebeure aanvaar, en die van die appellante verwerp is. Daar is geen grondige redes aangevoer waarom hierdie bevinding nie gehandhaaf sou word nie. Dit is dus nie nodig om die appellante se weergawes in besonderheid uiteen te sit nie. Volledigheidshalwe noem ek dit tog kortliks. Dit kom daarop neer dat Romeo Solomons en die oorledene albei uit die motor geklim het, dat daar 'n woordewisseling tussen die oorledene en die appellante was, dat die appellante gesien het dat die oorledene bewapen was en nie besef het dat hy 'n polisieman was nie, dat hy geskiet was in noodweer, dat Romeo Solomons toe in die motor ingeklim het en dat hy geskiet was omdat die appellante gevrees het dat hy weer sou probeer om hulle om te ry. Selfs teen hierdie agtergrond is dit insiggewend om te let op hoe die skietery volgens die appellante verloop het. Volgens die appellante het nr 2 die eerste skoot op die oorledene geskiet. Die oorledene het op sy maag geval. Nr 2 het 'n skoot in die rug van die oorledene geskiet. Nr 2 het

11

toe twee skote op Romeo Solomons geskiet. Daarna het nr 1 ook na Solomons geskiet. Nr 2 het 'n derde skoot na die oorledene geskiet. Volgens hom was die oorledene in 'n half-sittende posisie. Daar moet gelet word dat die twee appellante net van drie skote op die oorledene praat, terwyl die mediese getuienis dit duidelik maak dat hy vierkeer raakgeskiet was. Hoe dit ook al sy, selfs op die appellante se weergawe was die oorledene reeds deur die eerste skoot neergevel, en sou hulle hom op daardie stadium maklik kon ontwapen. Daar kan dus geen twyfel wees dat die daaropvolgende skote op albei weergawes heeltemal onnodig was nie. Daarbenewens getuig hierdie verdere skote ondubbelsinnig van 'n direkte opset om te dood. Die manier waarop die oorledene gedood was, en die gesindheid waarmee dit gedoen is, was dus na my mening tereg deur die verhoorhof as verswarende faktore aangemerk.

Dit bring my dan by die appellante se persoonlike omstandighede. Die eerste appellant was ten tyde van die

12

gebeure 27 jaar oud en 'n eerste oortreder. Dit is 'n sterk versagtende faktor. Dit wil blyk dat hy waarskynlik (of, minstens, heel moontlik) nie 'n geneigdheid tot geweld het nie. Weliswaar het hy met 'n gelaaide, ongelisensieerde vuurwapen rondgeloop, maar 'n mens kan 'n mate van begrip hê vir sy verduideliking dat Reiger Park 'n area is waar geweld hoogty vier, dat hy 'n vuurwapen vir beskerming nodig het, en dat die verkryging van 'n lisensie moeilik en tydrowend is. Ten opsigte van die eerste appellant kan ook gesê word dat sy ouer broer, wat 'n oud-polisieman was, by elke geleentheid waar daar geskiet was, die voortou geneem het, en dat die eerste appellant moontlik meegesleur is deur die gebeure. Weliswaar het Romeo Solomons gesê dat die eerste appellant die eerste skoot op die oorledene geskiet het, maar die twee appellante sê albei dat dit die tweede appellant was. Daar is geen klaarblyklike rede waarom hulle hieromtrent sou lieg nie, en dit is iets waaroor Romeo Solomons moontlik 'n fout kon maak. Ek dink dus dat die eerste appellant hier die

13

voordeel van die twyfel moet kry.
Die tweede appellant was ten tye van die verhoor 31 jaar oud. Hy was 'n oud-polisieman. Hy het 'n paar vorige veroordelings, insluitende vonnisse vir aanranding met 'n gebalde vuis (waarvoor hy berispe en ontslaan is); diefstal (6 maande opgeskorte gevangenisstraf) en die onwettige besit van 'n vuurwapen en ammunisie (R800 boete of alternatiewe gevangenisstraf en nege maande opgeskorte gevangenisstraf). Hy het dus ook nie 'n geskiedenis van beduidende geweld nie. As 'n mens in sy guns veronderstel - daar is nie getuienis hieroor nie - dat hy die boete t.o.v. sy laaste vorige veroordeling betaal het, het hy ook nog nie gevangenisstraf ondergaan nie.

Ek gaan nou oor na die finale vraag, t.w., of die doodstraf die enigste gepaste straf onder die omstandighede van hierdie saak is. Mnr. Stander, wat namens die Staat opgetree het, het in hierdie hof en in die hof a quo aanvaar dat dit nie die geval is by die eerste appellant nie. Ek

14

stem hiermee saam. Soos reeds gemeld, hy is 'n eerste oortreder, en was moontlik beïnvloed deur sy ouer broer, 'n oud-konstabel, wat deurgaans die voortou geneem het. Hierdie faktore geld natuurlik nie vir die tweede appellant nie -trouens hulle neig om teen hom te tel. In sy geval sal 'n mens se beskouing oor die gepastheid van die doodvonnis tot 'n groot mate afhang van die erns waarmee die moord self bejeën word. Moord is altyd 'n verfoeilike daad, en in hierdie geval is dit vererger deur die aanwesigheid van dolus directus. Aan die ander kant, soos ek hierbo aangedui het, was daar 'n aanloop tot die moord, en dit is minstens redelik moontlik dat dit nie die appellante was wat die moeilikheid begin het nie. Hulle het dan ook klaarblyklik nie die aanval op die oorledene beplan nie. Waar die tweede appellant nie 'n man is met 'n geskiedenis van geweld nie, meen ek dat ook wat hom betref hierdie nie 'n geval is wat die doodvonnis verg nie.

Weens die verskil in omstandighede tussen die twee

15

appellante meen ek dat daar ook 'n verskil in die vonnisse moet wees. Bygevolg word die volgende bevel uitgereik.

(a) Die appèl slaag en die doodvonnisse op albei
appellante word tersyde gestel.
(b) Die vonnisse van die hof a quo ten opsigte van die
moordklag (klagte 2) word met die volgende
vervang.

(i) Die eerste appellant word gevonnis tot vyftien (15) jaar gevangenisstraf.

(ii) Die tweede appellant word gevonnis tot vyf-en-twintig (25) jaar gevangenisstraf. (iii) Die gevangenisstraf opgelê in paragrawe (i) en (ii) hierbo sal saamloop met die tydperke van gevangenisstraf wat opgelê is op klagtes 1 en 3, en die aanvang van die gemelde gevangenisstraf word terugdateer na 15 Oktober 1991, die datum waarop vonnis uitgespreek is in die hof a quo.

16

E M GROSSKOPF, AR

EKSTEEN, AR VAN DEN HEEVER,AR Stem saam