South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1992 >> [1992] ZASCA 201

| Noteup | LawCite

S v Tshabalala en 'n Ander (101/92, 234/92) [1992] ZASCA 201 (23 November 1992)

Download original files

PDF format

RTF format


Saak nr 101/92 Saak nr 234/92 E du Plooy

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPéLAFDELING)

In die saak tussen:

PETRUS TSHABALALA Eerste Appellant

JOHN MOKOENA Tweede Appellant
en
DIE STAAT Respondent
Coram: HEFER, F H GROSSKOPF ARR et HOWIE Wn AR
Verhoordatum: Lewerinqsdatum:

9 November 1992. 23 November 1992

2 UITSPRAAK

F H GROSSKOPF AR:
Mnr J H Wium het op die plaas Erfstuk in die Senekal-distrik geboer en hy en sy eggenote, mev J M Wium, het ook op die plaas gewoon. Mnr Wium was 64 jaar oud en mev Wium 60 jaar. 0p Woensdag 20 Maart 1991 is hulle in die loop van die voormiddag met ' n bakkie dorp toe en het hulle eers laat-namiddag na die plaas teruggekeer. By hulle aankoms op die plaas is hulle buite die woonhuis deur die twee appellante ingewag en vermoor.

Die appellante was plaasarbeiders in diens van mnr Wium. Appellant 1 het op daardie stadium ongeveer drie maande op die plaas gewerk, terwyl appellant 2 minder as drie weke tevore deur mnr Wium in diens geneem is. Beide die appellante het op die plaas gewoon. Hulle was trouens-die enigste manlike werknemers op die plaas:

3
Nadat mnr en mev Wium daardie Woensdagoggend van die plaas af weg is, het die twee appellante die woonhuis binnegegaan, die sleutel van die geweerkluis gevind, die kluis oopgesluit en verskeie vuurwapens en ammunisie daaruit verwyder. Daarna het elkeen van die appellante homself met 'n pistool bewapen. Dit blyk dat hulle in die eerste plek op soek was na geld. Al geld wat hulle egter gevind het, was 'n sakkie met ou muntstukke wat waarskynlik in die kluis toegesluit was. Hierdie sakkie met muntstukke is later deur appellant 2 aan die polisie uitgewys waar dit in sy hut op die plaas weggesteek was.

Dit blyk dat die appellante baie tyd gedurende die loop van daardie Woensdag gehad het om al die gesteelde artikels van die plaas te verwyder, as hulle wou. Daar was trouens ' n tweede bakkie op die plaas beskikbaar waarmee hulle die gesteelde goed kon weggery het. Hulle het egter niks gedurende die dag van die plaas verwyder nie, maar doodluiters, en gewapen met pistole, gewag dat mnr en mev Wium terugkeer huis toe.

4
Eers nadat die appellante die egpaar gedurende die laat-namiddag buite die huis vermoor het, het hulle die tweede bakkie gesteel, 'n groot hoeveelheid gesteelde goed daarop gelaai en na appellant 2 se huis in Qwaqwa gery. Daar het die polisie hulle nog dieselfde Woensdagnag verras en in hegtenis geneem. Die gesteelde bakkie en ander gesteelde artikels is ook daar in hulle besit gevind. Elkeen van die appellant het 'n pistool byderhand gehad. Onder die gesteelde artikels was daar verder vyf gewere, ammunisie en 'n groot hoeveelheid huishoudelike en persoonlike artikels. Appellant 2 het kort na sy inhegtenisneming daarin geslaag om te ontsnap, maar hy is twee dae later naby die Lesothogrens aangekeer.

Die twee appellante het in die Oranje-
Vrystaatse Provinsiale Afdeling voor Beckley R en twee
assessore tereggestaan. Elkeen van die appellante is
skuldig bevind op twee moordklagtes, twee diefstalklagtes
en twee klagtes wat verband hou met die wederregtelike

5 besit van vuurwapens en ammunisie. Elke appellant is die doodvonnis opgelê op elkeen van die moordklagtes. Verder is hulle tot vyf jaar effektiewe gevangenisstraf op die twee diefstalklagtes gevonnis, en tot 30 maande gevangenisstraf vir die wederregtelike besit van wapens en ammunisie. Die twee appellante appelleer slegs teen die doodvonnisse wat hulle opgelê is.

Nie een van die twee appellante het tydens die verhoor in die hof a quo getuienis afgelê nie. Appellant 1 het wel vroeër tydens die pleitverrigtinge in die landdroshof op beide moordklagtes skuldig gepleit en erken dat hy vuurwapens in die huis gesteel het. Hy het verder erken dat hy twee skote met 'n pistool op mev Wium afgevuur het. Volgens hom is sy slegs deur die tweede skoot getref. Hy het ook erken dat hy mnr Wium op ' n stadium op die grond vasgedruk het terwyl appellant 2 hom met 'n hooivurk gesteek het. Hierdie verklaring is natuurlik nie teen appellant 2 toelaatbaar nie, maar dit toon aan watter rol appellant 1 by die pleging van die

6

moorde gespeel het.
Appellant 2 se weergawe van die gebeure is vervat in 'n bekentenis wat hy aan 'n landdros gemaak het. Dit blyk uit daardie bekentenis dat hy en appellant

1 vermoed het dat daar geld in die Wiums se geweerkluis gebêre word, en dat hulle besluit het om die geld te gaan steel. Volgens die bekentenis het die appellante die eventuele doodslag van die Wium-egpaar reeds op daardie stadium bespreek. Appellant 2 beskryf verder in die bekentenis hoe hulle die Woensdag die huis betree het, die kluis oopgemaak het en die vuurwapens gesteel het. Volgens appellant 2 het hulle sterk drank in die huis gekry en dit gedrink. Later het hulle besluit om mnr en mev Wium voor te lê. Appellant 2 beweer verder in sy bekentenis dat appellant 1 toe gesê het dat appellant 2 die man moet doodskiet terwyl hyself die vrou sal doodskiet. (Soos blyk uit appellant 1 se erkenning het hy inderdaad vir mev Wium doodgeskiet. Appellant 2 erken weer in sy bekentenis dat hy inderdaad skote op mnr Wium
7 gevuur het, maar voeg by dat hy nie weet of hy hom getref het nie.) Appellant 2 erken verder in sy bekentenis dat hy mnr Wium gevang het toe hy uit die bakkie geklim het, en dat hy hom een keer met 'n hooivurk gesteek het. Volgens appellant 2 se weergawe in die bekentenis het appellant 1 egter 'n groter aandeel as hyself in die moord op mnr Wium gehad. Appellant 2 se bewerings in die bekentenis is natuurlik nie as getuienis teen appellant 1 toelaatbaar nie.

Dit blyk uit ander getuienis dat die appellante inderdaad vir mnr en mev Wium voorgelê het. Toe die bakkie op die werf agter die woonhuis stilhou, het die appellante onmiddellik geld geëis. Direk daarna is mev Wium twee keer met 'n 6,35 mm pistool raak geskiet terwyl sy nog in die kajuit van die bakkie gesit het. Volgens die getuienis van die staatspatoloog wat die regsgeneeskundige lykskouing uitgevoer het, het albei skote haar links bo in die rug getref. Die een koeël het haar linkerlong en hartsak deurdring en haar dood

8
meegebring. Sy is later die nag op die sitplek van die bakkie dood aangetref. Dit is duidelik dat sy koelbloedig vermoor is. Volgens appellant 1 se erkenning is dit hy wat haar die twee skote geskiet het.

Die bebloede lyk van mnr Wium is dieselfde nag 'n ent agter die bakkie in die gras gevind. Digby die lyk het daar ' n bebloede drietand hooivurk en 'n pik gelê. Die staatspatoloog wat die lykskouing uitgevoer het, het verskeie ronde indringende wonde oor die borskas en middellyf van die oorledene, mnr Wium, gevind. Die wonde was in opvallende groepe van drie gerangskik. Daar was ses sulke kombinasiewonde wat klaarblyklik deur die drie tande van die hooivurk veroorsaak was. Sekere van hierdie steekwonde het die longe binnegedring en inwendige bloeding meegebring. Daarbenewens was daar ook afsonderlike ronde indringende wonde wat deur 'n enkele tand van die hooivurk veroorsaak kon gewees het. Die staatspatoloog het egter geen koeëlwonde in die liggaam van mnr Wium gevind nie. Hy het wel uitgebreide

9

skedelbreuke en breinbloeding waargeneem wat volgens hom deur die aanwending van baie geweld veroorsaak moes gewees het. Hierdie beserings is waarskynlik met die pik toegedien. Mnr Wium se uiteindelike dood is deur sowel die hoof- as die borskasbeserings veroorsaak. Hy is klaarblyklik op 'n wrede en gewelddadige wyse om die lewe gebring. Volgens die erkennings wat elke appellant gemaak het, het elkeen van hulle aan die aanval op mnr wium deelgeneem. Nie een van hulle wou egter verantwoordelikheid vir die hoofbeserings en die veelvuldige steekwonde aanvaar nie. In hierdie opsig het die een die skuld op die ander gepak. Daar bestaan egter geen twyfel nie dat dit hulle gemeenskaplike oogmerk was om beide mnr en mev Wium te vermoor, en dat hulle albei ter uitvoering van daardie oogmerk aan die aanval deelgeneem het.

Die vraag wat beslis moet word, is of die doodvonnisse wat opgelê is die enigste gepaste vonnisse vir die appellante in die onderhawige geval is. Die

10
strafverswarende faktore is voor die hand liggend.
Persoonlike geldelike gewin was die onderliggende motief
wat die appellante uiteindelik tot die pleging van die
moorde gedryf het. Die diefstal is vooraf beplan terwyl
die doodslag van die oorledenes toe reeds as besliste
moontlikheid deur die appellante voorsien is. Nadat die
appellante die woonhuis betree het, het hulle ongestoord
gevat wat hulle wou hê. As diefstal hulle enigste
oogmerk was, dan was daar eintlik geen rede waarom hulle
nog vir etlike ure vir die Wium-egpaar moes wag nie.
Die appellante moes op een of ander stadium in die loop van die dag besluit het om die egpaar te vermoor, en dit was waarskynlik vir daardie doel wat hulle hulleself met pistole bewapen het. Hulle het die egpaar doelbewus voorgelê en verras, en toe sonder meer genadeloos vermoor. Hulle het trouens vooraf besluit wie vir wie sou skiet. Dit is na my oordeel hoogs onwaarskynlik dat die appellante hulleself bewapen het en die egpaar voorgelê het met die uitsluitlike doel om geld

11

te bekom, en nie ook om hulle te vermoor nie. Indien die appellante verwag het dat die Wiums geld van die dorp af sou saambring, en dit die appellante se enigste oogmerk was om daardie geld te bekom, sou mens verwag het dat hulle die egpaar minstens aanvanklik sou aangehou het en vir geld sou deursoek het. Hulle het egter eers die egpaar vermoor en toe vir geld begin soek. Die inhoud van mev Wium se handsak is byvoorbeeld sommer agter in die bakkie uitgestrooi. As die appellante vermoed het dat daar nog geld iewers in die huis versteek was, en dit hulle oogmerk was om daardie geld te bekom, sou hulle tog eers die Wiums probeer dreig en dwing het om die vermeende bergplek te openbaar voordat hulle hulle doodgemaak het. Die getuienis toon egter dat die moorddadige aanval op die egpaar onmiddellik na hulle aankoms 'n aanvang geneem het. Daarbenewens moet dit in gedagte gehou word dat die Wiums die appellante dadelik sou herken het en dat die appellante die Wiums dus in elk geval uit die weg sou moes ruim indien hulle

12

hulle identiteit wou bewaar.
Die oorledenes was volgens alle aanduidings ongewapen gewees. Hulle was inderdaad redelik bejaarde mense wat weerloos teen die gewapende aanval was. Dit was sinnelose en koelbloedige moorde. Mev Wium is van agter in die rug geskiet terwyl sy nog in die bakkie gesit het. Mnr Wium is op wrede en gewelddadige wyse buite die bakkie aangeval en vermink. Die appellante het klaarblyklik die direkte opset gehad om hulle slagoffers te vermoor.

Dit is moeilik om enige strafversagtende faktore in hierdie saak te bedink. Beide appellante was reeds oor die 30 jaar oud toe die moorde gepleeg is, en beslis nie meer onvolwasse jeugdiges nie. Beide van hulle het vorige veroordelings. Appellant 1 het weliswaar net een vorige veroordeling vir 'n geweldsmisdaad, 'n minder ernstige aanranding. Hy het egter 'n lang reeks vorige veroordelings vir diefstal, waaronder . vier vir diefstal van vee. Dit blyk dat hy

13
reeds termyne van 18 maande en 3 jaar effektiewe gevangenisstraf uitgedien het. Appellant 2 het slegs twee vorige veroordelings. Die jongste een was egter vir poging tot roof waarvoor hy 4 jaar gevangenisstraf opgelê is. Hy is na ongeveer 3 jaar vrygelaat, en 3 maande later pleeg hy die onderhawige reeks misdade. Daar was ook geen sprake van enige berou oor die jongste misdade aan die kant van enigeen van die twee appellante nie. Teen daardie agtergrond blyk nie een van die twee appellante 'n goeie kandidaat vir rehabilitasie te wees nie.
Die hof a quo het die samewerking wat die appellante na hulle inhegtenisneming aan die polisie verleen het, as strafversagtende faktor in hulle guns aanvaar. Die appellante se optrede daarna tydens die verhoor was egter eerder daarop gemik om die verloop van die saak te dwarsboom as om enige samewerking te verleen. Ek noem dit nie as 'n strafverswarende faktor nie, maar slegs om aan te toon dat hulle nie in hulle samewerking

14
volhard het nie. Appellant 2 het amper deurgaans tydens die verhoor geweier om van die dienste van sy pro Deo-advokaat gebruik te maak. Hy het self sy verdediging waargeneem en probeer voorgee dat hy aan 'n sogenaamde godsdienstige delusie ly. Nadat hy vir psigiatriese waarneming verwys is, is bevind dat hy nie aan enige geestesongesteldheid ly nie. Appellant 1 het aanvanklik, en weer later na 'n lang verdaging, ook geweier dat sy pro Deo-advokaat namens hom optree. Appellant 1 het trouens op 'n sekere stadium tydens die verhoor in navolging van appellant 2 probeer voorgee dat ook hy aan 'n godsdienstige delusie ly, maar hy het later daarvan afgesien. Daarbenewens was nie een van die twee appellante bereid om getuienis tydens die verhoor af te lê nie. Na my oordeel kan daar dus nie te veel gewig aan enige samewerking verleen word nie.

Appellant 1 het tydens die pleitverrigtinge in die landdroshof beweer dat appellant 2 hom beïnvloed en oorreed het om die misdade te pleeg. Appellant 1 hetnie
15

daardie bewering tydens die verhoor herhaal nie, en na my oordeel bied die getuienis geen basis vir so 'n bevinding as 'n redelike moontlikheid nie.

Appellant 2 het in sy bekentenis aangevoer dat hy en appellant 1 daardie betrokke Woensdag sterk drank in die huis gekry het en dat hulle 'n groot hoeveelheid van dié drank in die loop van die dag gedrink het. Hy beweer verder in sy bekentenis dat hy sterk onder die invloed van drank was toe die moorde gepleeg is. Dit is opmerklik dat appellant 1 op geen stadium van die saak enige melding maak van die gebruik of invloed van sterk drank nie. Toe appellant 2 die hof a quo ter strafversagting toegespreek het, het hy nie sy vorige bewerings in hierdie verband herhaal nie. Hy het trouens nie eens aangevoer dat hy op die betrokke dag enigsins onder die invloed van sterk drank was nie. Op 'n vraag van die geleerde verhoorregter het hy geantwoord dat hy wel drank gebruik, maar dat hy nie soveel drink dat hy nie weet wat hy doen nie. Die hof a quo het as

16
strafversagtende faktor in appellant 2 se guns aanvaar dat hy tot 'n mate onder die invloed van drank was. Dit is sekerlik 'n redelike moontlikheid wat nie deur die
staat uitgesluit is nie. Appellant 2 se optrede kort na die moorde toon egter dat hy nie sterk onder die invloed van drank kon gewees het nie. Sy bewerings in sy bekentenis dat hy só dronk was dat hy langs mnr Wium neergeval het, is klaarblyklik 'n growwe oordrywing. Hy het na die pleeg van die moorde al die gesteelde goed op die gesteelde bakkie gelaai en die bakkie vir 'n afstand van ongeveer 180 km vanaf die oorledenes se plaas tot by sy eie huis in Qwaqwa bestuur, en dit terwyl hy beswaarlik enige vorige bestuurservaring gehad het. Later diê aand het appellant 2 ook daarin geslaag om onder die wakende oë van verskeie polisiemanne ongedeerd te ontsnap. Enige invloed wat die drank moontlik wel op hom gehad het, kan na my oordeel in elk geval glad nie teen die strafverswarende faktore in hierdie saak opweeg nie.

17
Hierdie hof het in die laaste tyd in verskeie sake beslis dat die elemente van afskrikking en vergelding by straftoemeting na vore tree wanneer ouer persone onder omstandighede soos die onderhawige by hulle huise vermoor word. (Vgl S v Tloome 1992(3) SA 568(A) op 577 I.) Hierdie is nog so 'n geval, en na my oordeel is die doodvonnis die enigste gepaste straf vir altwee die appellante ten aansien van elkeen van die twee moorde.

Die appèlle van beide appellante teen die opgelegde doodvonnisse word gevolglik argewys.

F H GROSSKOPF AR

HEFER AR

HOWIE Wn AR Stem saam