South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1992 >> [1992] ZASCA 202

| Noteup | LawCite

S v Bartleson en 'n Ander (705/91, 564/91) [1992] ZASCA 202 (23 November 1992)

Download original files

PDF format

RTF format


SAAKNOMMER: 705/91 564/91
H V N

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(APPèLAFDELING)

In die saak tussen:
VICTOR LEE BARTLESON Eerste Appellant
NOEL DONALD SAMUELS Tweede Appellant

en
DIE STAAT Respondent
CORAM: BOTHA, GROSSKOPF F H, ARR

et HOWIE, Wn AR

VERHOORDATUM: 6 NOVEMBER 1992

LEWERINGSDATUM: 23 NOVEMBER 1992

UITSPRAAK

Howie, Wn AR:

Appellante het in die Witwatersrandse Plaaslike Afdeling op 'n aanklag van moord

2

tereggestaan. Nadat hulle deur M J Strydom R en assessore skuldig bevind is soos aangekla, is hulle die doodstraf opgelê. Kragtens art 316 (1) van Wet 51 van 1977, soos gewysig, het appellante later aansoek gedoen om heropening van die verhoor. Die aansoek is toegestaan en getuienis is namens appellante en die Staat gelei. Op die verhooroorkonde soos deur die verdere getuienis aangevul kom appellante tans kragtens art 316 A van die Wet in hoër beroep ten opsigte van beide skuldigbevinding en vonnis.

Die tersaaklike getuienis met betrekking tot die skuldigbevinding was die volgende. Die eerste Staatsgetuie was Sarah Taylor, 'n 59-jarige dame. Sy het 'n winkel bedryf vanuit uit 'n twee-ton bakkie wat op 'n leë erf op die hoek van Clarence Septemberstraat en Granadastraat, Reigerpark, Boksburg geparkeer gestaan het. Klante is by die oop agterkant van die kap bedien. Die agterkant van die bakkie het in die rigting gewys

3

van ' n stopteken op die oorkantste hoek van die aansluiting. Tussen 15h00 en 15h30 op Saterdag 18 Augustus 1990 is die oorledene, Danny van Zyl, op die sypaadjie vlak by die stopteken dodelik beseer. Die oorsake van sy dood was 'n steekwond in die nek en 'n hoofbesering, insluitende 'n fraktuur van die linker temporale been.

Mev Taylor het getuig dat daar kort voor die voorval drie kinders by die mobiele winkel op bediening gewag het. Terwyl sy besig was om een van hulle te bedien, het sy appellante en die oorledene naby die agterkant van die bakkie opgemerk. Sy sien dat eerste appellant twee keer met 'n knipmes na die oorledene steek. Lg hardloop weg in die rigting van die stopteken. Hy word deur appellante agtervolg. Tweede appellant pootjie hom. Hy beland op die grond maar staan weer op. Hy kom nie ver nie. Hy val by die stopteken en word deur eerste appellant beetgekry. sy

4

sien hoedat eerste appellant die oorledene met sy linkerhand vasdruk en sy regterhand hoog lig. Uit vrees kyk mev Taylor nie verder nie. Toe sy weer na die toneel kyk, sien sy dat die oorledene bebloed dood lê waar sy hom laaste gesien het, terwyl appellante ewe rustig hand om die lyf Clarence Septemberstraat afstap. Nadat die oorledene se lyk in ' n ambulans verwyder is, merk sy op dat daar 'n groot klip lê waar die oorledene gedood is. Sy het getuig dat daardie klip vir jare al op die hoek gelê het waar haar bakkie gestaan het en beslis nie op die oorkantste hoek waar die oorledene gelê het nie. Appellante was baie goed aan haar bekend en het geensins beskonke voorgekom nie.

Mev Taylor se getuienis is in alle wesenlike opsigte deur die tweede Staatsgetuie, Alima Swanepoel, gestaaf. Mej Swanepoel was met die oorledene bevriend. Op die betrokke namiddag kom sy en hy by die mobiele winkel aan. Hulle wag agter 'n paar kinders om bedien

5

te word. Sy hoor iemand sê "Ja Fireboy". ("Fireboys" was die naam van ' n plaas1ike bende.) Toe sy omkyk, sien sy appellante naby hulle. Sy het appellante goed geken. Volgens haar was hulle op 'n vorige stadium lede van 'n bende bekend as "Family Boys" wat dikwels met die "Fireboys", insluitende die oorledene, baklei het. Dié bakleiery is egter vir 'n lang tyd reeds gestaak en die oorledene het opgehou om 'n lid van die "Fireboys" te wees toe hy getrou het. Die getuie sien dat eerste appellant 'n mes in sy hand het. Hy steek na die oorledene. Toe lg na die oorkant van Clarence Septemberstraat wegbeweeg, hardloop sy daardie straat op. Toe sy terugkyk sien sy dat appellante vir die oorledene jaag. Eerste appellant steek na hom en tweede appellant pootjie hom. Die oorledene val en staan weer op. Toe hy verder hardloop steek eerste appellant weer na hom. Hy word 'n tweede keer gepootjie en grond toe gebring. Die getuie besluit om self verder weg te

6

hardloop. Toe sy weer terugkyk sien sy dat die oorledene op die sypaadjie by die stilhouteken lê. Eerste appellant staan by hom. Tweede appellant hardloop van waar die oorledene is terug na die hoek waar die mobiele winkel gestaan het. Hy tel daar die groot klip op waarna reeds verwys is. Hy kruis weer die straat na die oorledene toe en gooi die klip op die oorledene se kop.

Na Alima Swanepoel se mening het appellante nie voorgekom soos mense wat onder die invloed van drank was nie.

Op Sondagoggend 19 Augustus is die ondersoekbeampte, speurder adjudant-offisier Morden, na die toneel. Hy vind die klip langs 'n groot kol droë bloed waar die oorledene die vorige dag gelê het. Daar was iets soos 'n bloedmerk op die klip en hy behou dit as 'n bewysstuk. Die gewig van die klip word later vasgestel op 14,9 kg. Dieselfde oggend arresteer hy eerste appellant by lg se huis. In die appellant se

7

broeksak word 'n knipmes gevind. Op die lem daarvan was daar 'n klein merkie wat soos droë bloed voorgekom het.

Die laaste Staatsgetuie was die distriksgeneesheer te Boksburg, Dr E C P Nothnagel. By ondersoek van die oorledene se lyk vind hy twee meswonde aan die regterkant van die nek, een waarvan dodelik sou gewees het. Onder ander wonde was daar kneus- en skaafwonde op die gesig en 'n groot kneuswond van die regtervoorkop met 'n onderliggende hematoom. Aan die direk teenoorgestelde kant van die kop, d w s agter die linker.oor, was 'n groot laserasie met 'n onderliggende hematoom en die reeds gemelde fraktuur. Na sy mening is die voorkop getref en het die agterkop dan teen iets vasgeslaan. Daardie ontleding - merk mens op - het gestrook met die geweld wat volgens Alima Swanepoel tweede appellant met die klip toegedien het.

Dit is aan Dr Nothnagel gestel dat tweede appellant sou getuig dat die oorledene in die gesig met

8

'n klip die grootte van 'n halwe baksteen gegooi is, waarna hy met die agterkant van sy kop teen die groot klip geval het. Die dokter het oortuigend verduidelik dat die tersaaklike wonde nie by daardie beskrywing ingepas het nie. Op daardie weergawe sou daar minder beserings op die gesig en voorkop gewees het en meer op die linkeragterkop, veral kneuswonde.

Eerste appellant het getuig en die bewerings teen hom ontken. Hy het gesê dat hy die betrokke Saterdagoggend tot ongeveer 12h30 by sy werk te Bosmont was. Hy drink daarna saam met 'n vriend. Later die middag haal hy die trein huistoe. Hy klim by Oos-Randstasie af en ry met 'n huurmotor tot by die hoek van Clarence Septemberstraat naby sy woning. Daar ontmoet hy vir tweede appellant. Lg huil en is dronk maar vertel nie wat die probleem is nie. Hy neem tweede appellant aan die hand en hulle stap na eerste appellant se huis. Daar drink hulle nog heelwat. In die loop van

9

hulle geselsery erken tweede appellant dat hy iemand met
'n halwe baksteen gegooi het. Hy wil dit toe by die
polisie aanmeld maar eerste appellant oorreed hom
om dit nie te doen nie. Na eerste appellant se mening
was die gooi van 'n halwe baksteen uit selfverdediging
nie belangrik genoeg om aan die polisie gerapporteer te
word nie. Eerste appellant het voorts ontken dat hy die
Saterdagmiddag by of naby die mobiele winkel was, dat hy
tydens arrestasie 'n mes besit of ooit gedra het en dat
hy op enige stadium 'n lid van die "Family Boys" was.
Hy het die oorledene al saam met lede van die "Fireboys"
gesien maar hom nooit ontmoet nie.

Tweede appellant het getuig dat hy op die dag van die voorval vir ongeveer ses uur saam met 'n vriend gedrink het. Toe hulle daardie namiddag uitmekaar gegaan het, was appellant in 'n beskonke toestand. Op pad huis toe gaan hy by die mobiele winkel langs om iets te koop. Daar loop hy die oorledene raak wat met hom

10

skoorsoek. Nie lank daarna nie haal die oorledene 'n mes uit en poog om hom te steek. Tweede appellant hardloop oor die straat maar besef dat hy in sy beskonke toestand nie gaan wegkom nie. Hy tel 'n halwe baksteen op en gooi die oorledene uit selfverdediging daarmee op die regtervoorkop raak. Lg val as gevolg daarvan bo-op die groot klip wat altyd naby die stopteken gelê het. Die appellant draai toe om en gaan huis toe. Hy verwittig sy moeder van die voorval en sy raai hom aan om die polisie in kennis te stel. Op pad na die polisiestasie ontmoet hy eerste appellant. Hy vertel nie vir hom wat gebeur het nie en besluit om saam te gaan na eerste appellant se huis. Daar drink hulle nog verder. Hy vertel eerste appellant van die voorval en hy word teen aanmelding by die polisie afgeraai.

Tweede appellant het beweer dat hy as 'n voormalige lid van die "Family Boys", en die oorledene as een van die "Fireboys", baie jare vantevore rusie met

11

mekaar gehad het maar dat daar daarna geen verdere moeilikheid tussen hulle was nie. Hy het voorts ontken dat eerste appellant ten tye van die voorval teenwoordig was of dat hy self die klip gehaal en op die oorledene gegooi het. Hy kon geensins verduidelik wie die oorledene gesteek het nie. Toe hy in die hof gevra is om te demonstreer of hy die klip kon optel, het hy dit gedeeltelik reggekry maar die klip het toe uit sy hande uitgegly. Na aanleiding daarvan is die verhoorhof namens tweede appellant versoek om mediese getuienis te roep aangaande die vraag of tweede appellant weens 'n vorige brandbesering aan sy regterhand ooit in staat sou gewees het om die klip te hanteer soos deur Alima Swanepoel beweer is. Dr M Barsky, 'n distriksgeneesheer, het hom ondersoek in hierdie verband en daarna getuíg dat ten spyte van die regterhand se gebreklike greep daar geen mediese rede was waarom die appellant nie die klip sou kon opgetel het nie. Basies

12

was haar rede dat solank albei hande gebruik word appellant die nodige beheer en krag het om die klip op te tel.

Die verhoorhof het na opweging van die getuienis voor hom die weergawe van die Staat se ooggetuies aanvaar en appellante se getuienis as vals verwerp.

Toe die saak heropen is, het mev Mary van
Rensburg en haar kleinseun, Cheslan, namens appellante
getuig. Daarna is Sarah Taylor teruggeroep. Mev van
Rensburg getuig dat sy op die Maandag na die voorval na
mev Taylor se winkel gegaan het en haar gevra het
omtrent die Saterdag se gebeure. Mev Taylor het haar
vertel dat aangesien sy ten tye van die voorval te besig
was, sy nie gesien het wat plaasgevind het nie. Mev van
Rensburg het voorts getuig dat omtrent twee weke na die
voorval Alima Swanepoel Kaar meegedeel het dat toe sy en
die oorledene by die winkel was lg en tweede appellant,
13

wat oorkant die straat gestaan het, vir mekaar geskel het, elkeen verwysende na die ander se bende lidmaatskap. Die oorledene het toe 'n mes uitgehaal en na tweede appellant oorgestap. Alima het na bewering toe weggehardloop en niks verder opgelet nie.

Cheslan van Rensburg was tien jaar oud toe die gebeure plaasgevind het. Hy getuig dat sy ouma hom na mev Taylor se winkel gestuur het om inkopies te doen. Terwyl hy daar in 'n ry wag, die sesde van ongeveer dertien kinders, daag Alima en die oorledene op. Lg skree toe na tweede appellant "Ja jou Family Boy" en haal 'n mes uit. Hy hardloop oor die straat na die oorledene en beveel terselfdertyd dat Alima ander Fireboys gaan haal. Alima verdwyn toe van die toneel en hy, Cheslan, hardloop huis toe om die goedere wat hy by daardie tyd gekoop het aan sy ouma te gee. Hy verwittig haar van 'n bakleiery en hardloop terug na die winkel toe. Hy sien die oorledene lê met 'n oop wond in die

14

nek. Hy sien verder dat tweede appellant 'n halwe baksteen vat en dit in die oorledene se gesig gooi terwyl die oorledene daar bly lê. Kort daarna daag die ambulans op en hy verlaat die toneel.

Sarah Taylor het in haar verdere getuienis gesê dat Cheslan eers na die voorval op die toneel was. Sy het voorts erken dat sy mev van Rensburg meegedeel het dat sy niks gesien het nie. Sy het verduidelik dat haar man haar gesê het dat dit slegs vir haar nodig was om die hof van die gebeure te vertel en dat sy nie verplig was om ook lede van die publiek se vrae te beantwoord nie. Sy het derhalwe vir almal in die omgewing wat met haar gepraat het, vertel dat sy niks gesien het nie. Alima Swanepoel was oorlede teen die tyd dat die verhoor heropen is.

Díe verhoorhof is namens appellante versoek om weens teenstrydighede in Sarah Taylor en Alima Swanepoel se getuienis hulle weergawe te verwerp, Daardie

15

submissies is op appèl herhaal maar hulle hou geen steek nie. Dit is onnodig om vir doeleindes van hierdie uitspraak meer as die volgende te sê. Die twee getuies staaf mekaar oor en weer in alle belangrike opsigte. Die klein verskille wat daar wel bestaan is óf niksseggend nie óf tipies van wat volgens algemene ervaring selfs by eerlike en betroubare ooggetuies teëgekom word. Albei kon, as hulle teen appellante bevooroordeel was, heelwat meer bygevoeg het as wat hulle wel getuig het. Mev Taylor se verduideliking vir die beweerde onkunde waarmee sy nuuskieriges geantwoord het, is heeltemal geloofwaardig en verstaanbaar. Voorts was eerste appellant aan haar en aan Alima Swanepoel goed bekend en kon hulle klaarblyklik met sy uitkenning geen fout gemaak het nie. As sy weergawe die waarheid was, moes hulle hom doelbewus valslik geïnkrimineer het. Ontleding van hulle getúienis teen die agtergrond van die omstandighede van die saak en die ander getuienis op

16

die oorkonde toon dat daardie gevolgtrekking beslis onhoudbaar is. Basies dieselfde benadering geld ten opsigte van hulle getuienis sover dit tweede appellant betrek. Met die verhoorhof se bevinding dat die twee dames goeie en geloofwaardige getuies was,kan geen fout gevind word nie.

Eerste appellant is as 'n ongeloofwaardige en
onoortuigende getuie bestempel, nie op grond van sy
houding nie maar weens die gehalte van sy getuienis.
Die toevalligheid dat hy tweede appellant baie naby die
toneel van die voorval sou raakloop onmiddellik na die
voorval, lg se eienaardige verdriet (wat blykbaar, by
implikasie, die rede was waarom hulle hand om die lyf
weggestap het) en die afwesigheid van enige verstaanbare
rede waarom Sarah Taylor en Alima Swanepoêl hom valslik
sou wou beskuldig, regverdig myns insiens die verhoorhof
se gevolgtrekking aangaande hierdie appellant. Daar is
ook geen rede om A/0 Morden se getuienis te betwyfel dat

17

hierdie appellant die Sondag in besit van 'n knipmes was wat iets soos 'n bloedmerk op die lem gehad het nie.

Tweede appellant se getuienis was nog swakker as dié van sy mede-appellant. Hy kon geen verduideliking verstrek hoe die oorledene steekwonde opgedoen het nie. Selfs Cheslan van Rensburg sê dat die oorledene klaar 'n oop wond op die nek opgedoen het voordat tweede appellant hom met 'n stuk baksteen gegooi het. Dít strook met die Staatsgetuienis maar glad nie met die appellant s'n nie. En dat iemand die oorledene gesteek het nadat tweede appellant die toneel verlaat het, is so vergesog dat dit buite rekening gelaat moet word.

Net so onwaarskynlik is die bewering hoe die oorledene teen die groot klip geval het. Daar bestaan geen rede nie om te twyfel dat hierdie klip jare al by die mobiele wínkel se hoek gelê het. Skielik lê dit op hierdie betrokke namiddag op die teenoorgestelde hoek en

18

oorledene val met sy kop daarteen toe hy, al hardlopend, raakgegooi word. Tydens betoog voor ons is gewag gemaak van die feit dat tweede appellant 'n gebrekkige regterhand het. Hy het egter nooit getuig dat hy nie in staat was om die klip op te tel nie. Boonop was sy regterhand sterk en handig genoeg om die beweerde halwe baksteen op te tel en dit met krag na die oorledene te gooi sodat lg presies op die kop getref word. Dit synde die geval, is dit nie verbasend nie dat Dr Barsky gemeen het dat die appellant met die gekombineerde sterkte van albei hande en arms die klip sou kon optel. Laastens dien dit gemeld te word dat tweede appellant ooglopend teenstrydig en onoortuigend getuig het aangaande die vraag of sy missiel 'n klip of 'n halwe baksteen was.

Tweede appellant se getuienis is tereg verwerp.

Mat die getuienis van Mary en Cheslan van Rensburg aanbetref hoef min gesê te word. Mary erken

19

dat appellante by haar aan huis kom kuier het en sy was dus geen onpartydige getuie nie. Hoe dit ook al sy, Sarah Taylor se bewering aan haar dat sy niks gesien het nie was gemene saak en ook aanvaarbaar deur mev Taylor verduidelik. Wat Alima Swanepoel vir Mary van Rensburg na bewering vertel het kon, weens Alima se dood, nie getoets word níe. Cheslan se getuienis bots in verskeie wesenlike opsigte nie net met die Staat se getuienis nie maar ook met tweede appellant se getuienis, veral aangaande die gooi van die oorledene met 'n stuk baksteen. Cheslan gaan selfs so ver as om dit as 'n heel baksteen te beskryf. Laastens is dit ongelooflik dat Cheslan huis toe sou gehardloop het presies op die stadium toe die oorledene op die punt daarvan was om tweede appellant met 'n mes raak te steek.

Na my mening skep die getuienis van die Van Rensburgs geen redelike twyfel omtrent die

20

aanvaarbaarheid van die Staat se getuienis of die appellante se betrokkenheid nie.

Die aanvaarde getuienis bewys sonder redelike twyfel dat appellante met die gemeenskaplike doel opgetree het om die oorledene aan te val, met direkte opset om hom te dood. Dit is derhalwe onnodig om die submissie namens tweede appellant te oorweeg dat die oorledene reeds deur eerste appellant dodelik verwond was alvorens tweede appellant die klip op sy kop gegooi het.

Die appèl teen die skuldigbevindings kan derhalwe nie slaag nie.

Sover dit die vraag betref of die doodvonnis die enigste gepaste straf is, het appellante, wat ten tye van die voorval onderskeidelik 37 en 27 jaar oud was, albei 'n hele reeks vorige veroordelings wat straf-verswarend werk. Eerste appellant se kriminele geskiedenis begin in 1969. vir huisbraak met die opset

21

om te verkrag en verkragting word hy op sestien jarige ouderdom houe met 'n ligte rottang opgelê. Tussen 1973 en 1986 word hy altesaam 15 jaar gevangenisstraf vir geweldsmisdrywe, oneerlikheidsmisdrywe en sodomie opgelê. In 1973 word hy vir roof tot 2 jaar gevangenisstraf gevonnis waarvan die helfte opgeskort is. In 1976 kry hy 4 jaar vir aanranding met die opset om ernstig te beseer waar hy ' n byl gebruik het, In 1979, vir 'n soortgelyke misdryf, hierdie keer met 'n mes, word hy tot 12 maande gevonnis. Op twee klagtes van gewone aanranding word hy in 1981 'n boete opgelê. In dieselfde jaar, ten opsigte van huisbraak met die opset om te steel en diefstal, word 3 jaar gevangenisstraf opgelê. In 1986 vind die skuldigbevinding aan sodomie plaas asook 'n skuldigbevinding aan diefstal. vir die sodomie word hy tot 4 jaar gevangenisstráf gevonnis en tot 12 maande vir die diefstal. In Junie 1989 word hy onvoorwaardelik

22

vrygelaat.

Bo en behalwe sy vorige veroordelings moet in ag geneem word dat eerste appellant in Maart 1990 - vyf maande voor die onderhawige misdaad - 'n moord gepleeg het ten opsigte waarvan hy tot die dood veroordeel is. Op appél na hierdie hof word die vonnis verander na 25 jaar gevangenisstraf.

Tweede appellant se loopbaan van misdaad begin in 1977 met 'n skuldigbevinding aan diefstal. Hy word gewaarsku en ontslaan. In 1981, ten opsigte van roof en aanranding met die opset om ernstig te beseer met 'n mes, word hy houe met 'n ligte rottang opgelê. In 1982 word hy 12 maande opgelê op elk van twee klagtes van aanranding met die opset om ernstig te beseer waarby 'n bottel en 'n panga onderskeidelik betrokke was. Kort na sy onvoorwaardelike vrylating in 1983 kry hy 'n boete vir gewone aanranding. Vroeg in 1984 word hy vir opsetlike saakbeskadiging beboet. Later daardie jaar

23

word 'n opgeskorte boete ten opsigte van opsetlike saakbeskadiging opgelê. In 1986 word hy 6 jaar opgelê vir huisbraak met die opset om te steel en diefstal.

Ook in hierdie appellant se geval is dit nie net sy vorige veroordelings waarna gekyk moet word nie. Na arrestasie op die onderhawige aanklag word hy in November 1990 op borg vrygelaat. Terwyl op borg pleeg hy roof waarvoor 8 jaar gevangenisstraf in Februarie

1991 opgelê is.

Ander strafverswarende faktore is die feit dat appellante met dolus directus gehandel het en dat die moord 'n lafhartige en uiters wreedaardige aanval op 'n ongewapende slagoffer behels het en dat appellante geen werklike berou getoon of van getuig het nie.

Wat strafversagtende faktore betref, het die verhoorhof in appellante se guns aanvaar dat hulle inhibisies redelik moontlik deur sterk drank beïnvloed kon gewees het, dat hulle onder die indruk was dat die

24

oorledene nog altyd 'n lid van die "Fireboys" was, dat bendemoorde neig om tot 'n bose kringloop van weerwraakoptrede aanleiding te gee en dat die onderhawige moord wel in daardie samehang en op die ingewing van die oomblik gepleeg is.

In die appèluitspraak in eerste appellant se ander moordsaak word verwys na 'n erkenning deur hom dat hy deur die oorledene in daardie saak dood te maak "revenge gepay" het vir die moord van sy eie broer. Hierdie hof kon in daardie saak nie die motief vir eerste appellant se optrede vasstel nie, maar het aanvaar dat daar onmin tussen hom en daardie oorledene moes gewees het wat sy oorsprong gehad het in die rowwe lewensomstandighede in Reigerpark "waar bendes hoogty vier en die lewe goedkoop is" en waar die appellant en die oorledene reeds meer as eenmaal vir mekaar in die gevangenis raakgeloop het. In die onderhawige geval was die verhoorhof blykbaar bereid om die feitestelling wat

25

eerste appellant sé advokaat van die balie gemaak het te aanvaar nl dat eerste appellant se broer deur 'n "Fireboy" in die verlede vermoor is. Daar was egter niks om aan te dui, na my mening, selfs vir doeleindes van 'n veronderstelling ten gunste van eerste appellant, dat daar iets persoonliks tussen hom en die oorledene in hierdie saak was nie of dat hulle ooit mekaar eers raakgeloop het nie. Hy kan selfs nie in die lig van die aanvaarde agtergrond met minder verwyt bejeen word bloot omdat hy vermoed het dat sy slagoffer 'n "Fireboy" was nie. Dit was ook nie asof hy rede kon gehad het om te dink dat die oorledene enigiets hoegenaamd met sy broer se dood te doen kon gehad het nie.

Die bendekonteks bied tweede appellant ook nie werklike gronde vir versagting nie. Op sy eie getuienis het jare al verbygegaan sonder enige moeilikheid tussen hom en die oorledene en op die dag van die voorval self het geen rusie die aanval

26

voorafgegaan nie. Die tweede appellant het ook geen aanvaarbare rede gehad om te dink dat die oorledene steeds 'n lid van die "Fireboys" was nie.

Wanneer al die bovermelde faktore teenoor mekaar opgeweeg word, is die doodvonnis in albei appellante se gevalle beslis 'n gepaste straf. Die feite wat onder die hoof van strafversagtende faktore bespreek is, kan uit die aard van die saak min indien enige wesenlike gewig dra. Hulle vorige veroordelings bestempel hulle as geharde misdadigers wat geen realistiese vooruitsigte van rehabilitasie het nie. Hulle houding word miskien gekenmerk deur die bravade waarmee hulle na die moord hand om die lyf weggestap het. Die gemeenskap moet teen hulle beskerm word. Boonop moet die strafoogmerke van vergelding en afskrikking van ander potensiële oortreders sterk op die voorgrond tree, veral diegene wat bendelede is of deur bendewedywer gemotiveer word. Appéllante se verfoeilike

27

en genadelose optrede regverdig die gevoltrekking dat hulle daad onder die uiterste gevalle van moord ressorteer. Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat langtermyn gevangenisstraf of selfs lewenslange gevangenisstraf nie die reeds vermelde oogmerke van strafoplegging in hierdie saak sal dien nie. Die uiterste vonnis is derhalwe die enigste gepaste straf.

Die appèlle word van die hand gewys.

C T HOWIE,Wn AR
BOTHA, AR ) STEM SAAM

GROSSKOPF F H, AR )