South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1992 >> [1992] ZASCA 203

| Noteup | LawCite

S v Mabaso (371/91) [1992] ZASCA 203 (24 November 1992)

Download original files

PDF format

RTF format


1.

Saak nr 371/91 /MC

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

In die saak tussen:
MASIZA SIMON MABASO Appellant

- en -
DIE STAAT Respondent

CORAM: VIVIER, GOLDSTONE ARR et

HOWIE Wn AR.

VERHOOR: 24 November 1992.

TRANSKRIPSIE VAN REDES MONDELING GELEWER IN DIE OPE HOF OP 24 NOVEMBER 1992 DEUR VIVIER AR WAARMEE GOLDSTONÉ AR EN HOWIE Wn AR SAAMGESTEM HET.

VIVIER AR.

2. VIVIER AR:

Die appellant is in die Streekhof op Empangeni aan diefstal van 'n motorvoertuig skuldig bevind en gevonnis tot vyf jaar gevangenisstraf waarvan een helfte vir vyf jaar op sekere voorwaardes opgeskort is. Sy appèl na die Natalse Provinsiale Afdeling het misluk en met verlof van daardie Hof kom hy nou in hoër beroep teen sy skuldigbevinding en vonnis.

Dit was gemene saak by die verhoor dat die betrokke voertuig, 'n 1987 Toyota Hi-Ace kombi met registrasienommer LPK 055 T, op 28 Augustus 1987 van die eienaar daarvan, die Universiteit van die Witwatersrand, gesteel is, en dat dit op 8 Junie 1988, toe die polisie by Empangeni daarop beslag gelê het, deur die appellant, wat 'n taxi-eienaar is, in sy besigheid gebruik is. Die registrasienommer was toe

3.

NKR 7481.
Volgens adjudant-offisier Struwig, wat namens die Staat getuig het, het dit by nadere ondersoek van die voertuig op 8 Junie 1988 geblyk dat die plaatjie waarop die onderstelnommer verskyn, verwyder en h ander ingelas was, en verder dat die oorspronklike enjinnommer afgeskuur en die nommer 4Y9001085 daarop geslaan is. Die bestuurder van die voertuig, ene Khumalo, het hom meegedeel dat hy vir die appellant werk en hy het 'n registrasiesertifikaat aan Struwig oorhandig waarvolgens die voertuig op 1 Desember 1987 in die naam van ene Petrus Khubeka van Ladysmith onder die nommer NKR 7481 geregistreer is. Volgens die sertifikaat was dit vantevore in die naam van Jeremia Mahlangu onder die nommer OA 3365 geregistreer. Op hierdie sertifikaat word die enjinnommer van die voertuig as 4Y9001058 aangedui. Volgens Struwig het

4.

die appellant 'n paar dae later by sy kantoor op
Empangeni opgedaag en aan hom verduidelik dat hy dle
eienaar van die voertuig is en dat hy dit op 25 November 1987 van Mahlangu vir die bedrag van R18 000 gekoop het. Die appellant het voorts verduidelik dat Mahlangu daarna die voertuig op sy versoek in die naam van Kubeka op Ladysmith geregistreer het omdat hy laasgenoemde se vervoerpermit gebruik het. Die appellant het laastens aan Struwig verduidelik dat hy by die Diepkloof-hostel in Soweto woonagtig was waar hy Mahlangu, wat daar met dle voertuig wasgoed inneem en aflewer, ontmoet het. Die appellant het aan Struwig 'n kwitansie, gedateer 15 Oktober 1987 en geteken deur Mahlangu, vir die bedrag van R18 000, oorhandig. Volgens die kwitansie is die effektiewe datum van die verkoping 25 November 1987. Die handtekening "J Mahlangu" is ooglopend totaal verskillend van dié wat

5.

op die registrasiesertifikaat verskyn wat Khumalo aan

Struwig oorhandig het.

Struwig het getuig dat hy daarna die korrekte enjinnommer van die voertuig deur middel van h etsingsproses verkry het. Sodoende kon hy vasstel dat die voertuig gesteel was. Verdere ondersoek na die vorige geskiedenis van die voertuig het aan die lig gebring dat die registrasienommer OA 3365 op 13 November 1987 aan Jeremia Mahlangu van Masekostraat 99, Theronsville, Bethlehem toegeken is; dat onmiddellik voorheen, op 30 September 1987, 'n voertuig met die enjinnommer 4Y9001058 geregistreer was onder die nommer NTU 693 in die naam van Jeremia Mahlangu van posbus 64, Nqutu en dat h voertuig met laasgemelde enjinnommer voor 30 September 1987 in Lebowa geregistreer was in die naam van Jeremia Mahlangu van plot 10, Nebo met die registrasienommer LEB 3065. Die getuienis namens

6.

die Staat te dien effekte dat die besonderhede op die LEB 3065; NTU 693 en OA 3365 registrasiedokumente vals was, is nie deur die verdediging betwis nie.

Struwig se verdere getuienis was dat die appellant hom meegedeel het dat Jeremia Mahlangu in Pimville, woonagtig is. Hy het 'n afspraak met die appellant gemaak om hom by die Diepkloof-hostel te ontmoet ten einde Mahlangu op te spoor, maar die appellant het nie die afspraak nagekom nie. By navrae het die personeel in beheer van die hostel nog nooit van Mahlangu gehoor nie. Toe Struwig op h latere geleentheid daarin slaag om die appellant in die hande te kry, het laasgenoemde aan hom te kenne gegee dat hy nie weet waar Mahlangu hom bevind nie en dat hy glad nie sy adres ken nie. Struwig het verder al die adresse op die verskillende registrasiedokumente nagegaan maar vasgestel dat al hierdie adresse vals was.

7.

Die appellant het by die verhoor getuig dat hy vir Mahlangu reeds ongeveer twee jaar lank geken het voordat hy die voertuig in November 1987 by hom gekoop het. Mahlangu het oor 'n tydperk van vier of vyf maande wasgoed by die Diepkloof-hostel waar hy woon, met die voertuig kom haal en aflewer. Die voertuig het op daardie stadium 'n NTU registrasienommer gehad. Hierdie getuienis kan klaarblyklik nie korrek wees nie aangesien die voertuig eers op 28 Augustus 1987 gesteel is. Die appellant het voorts getuig dat, nadat hy die voertuig by Mahlangu gekoop het, laasgenoemde die voertuig op Ladysmith onder die nommer NKR 7481 geregistreer het voordat hy dit aan hom oorhandig het. Terwyl die onderhandelings tussen hom en Mahlangu aan die gang was, was hy twee keer by laasgenoemde se huis in Pimville, en omdat hy goed weet waar Mahlangu woon, het hy nie op 'n kwitansie aangedring toe hy die eerste paaiement van R9 000 in kontant aan Mahlangu oorhandig het nie. Die appellant het ontken dat Struwig hom ooit

8.

in Johannesburg kom spreek het of dat hy hom ooit versoek het om vir hom te gaan wys waar Mahlangu woon.

Die appellant het voorts getuig dat, nadat hy

in Junie 1988 van die polisie verneem het dat dit 'n
gesteelde voertuig is, hy vir Mahlangu met die nuus
gekonfronteer het. Mahlangu het hom verseker dat hy
nie die voertuig gesteel het nie en dat dit sy eie
voertuig was. Nogtans het hy nie vir Mahlangu na die
polisie geneem of, in die jaar wat daarna verloop het,
enige stappe gedoen om die voertuig terug te kry nie,

alhoewel die verlies van die voertuig vir hom 'n

aansienlike verlies van inkomste beteken het. Hy het

nie die koopprys van Mahlangu teruggeëis en hom ook nie

gesê dat hy in die hof op 'n aanklag van diefstal van

die voertuig moet verskyn nie, alhoewel hy vir Mahlangu

nog 'n paar dae voor die verhoor gesien het. Voordat

hy die voertuig by Mahlangu gekoop het, het hy nie

9.

probeer vasstel of die enjin- en onderstelnommers nie mee gepeuter is nie, en of dit met die nommers op die registrasiedokumente ooreenkom nie. Hy besit vyf ander soortgelyke voertuie wat hy in sy taxi-besigheid gebruik.

Nadat die appellant by die verhoor getuig het, is die saak uitgestel ten einde die appellant 'n geleentheid te gee om vir Mahlangu aan die polisie te gaan uitwys. Na die hervatting van die verhoor het Struwig getuig dat hy die appellant na Pimville geneem het maar dat hy nie in staat was om Mahlangu se huis aan hom uit te wys nie. Die appellant het nie weer getuig nie.

Die streeklanddros het beslis dat die appellant se verduideliking van hoe hy besit van die voertuig verkry het, nie redelik moontlik waar kan wees nie, Sy verduideliking is as leuenagtig verwerp.

10.

Die streeklanddros steun vir hierdie bevinding onder andere op die feit dat die appellant getuig het dat hy weet waar Mahlangu woon en dat hy reeds twee keer vantevore by Mahlangu se huis was, maar dat hy nogtans daarna nie die plek aan Struwig kon uitwys toe die geleentheid hom gegun is nie. Struwig se getuienis dat hy die appellant heel aan die begin van sy ondersoek gevra het om hom te gaan wys waar Mahlangu woon en dat die appellant toe reeds aan hom gesê het dat hy nie weet waar Mahlangu woon nie, is deur die streeklanddros aanvaar en die appellant se getuienis tot die teendeel verwerp. Na my mening was die streeklanddros heeltemal geregtig om by oorweging van die botsende weergawes van Struwig en die appellant, in ag te neem dat Struwig waarskynlik die appellant sou versoek het om hom na Mahlangu te neem. Mahlangu was by uitstek die persoon wat vir Struwig in sy

11.

ondersoek van die saak kon help. Soos die Hof a quo
kan ek aan geen rede dink waarom Struwig oor hierdie
aspek nie die waarheid sou praat nie. Terselfdertyd
plaas die appellant se getuienis dat hy self nie eens

vir Mahlangu van die verhoor gesê het of hom na die

polisie probeer neem het om sy verduideliking te staaf

nie, sy hele weergawe onder verdenking. Hy het op

geen stadium sy geld probeer terugeis of enige stappe

gedoen om Mahlangu aan die pen te laat ry nie, soos

mens sou verwag van iemand wat uitvind dat h gesteelde

voertuig aan hom verkoop is.

Ek vind dit verder moeilik om te aanvaar dat die appellant, as 'n ervare taxi-eienaar wat vyf kombi's besit, 'n voertuig sou aankoop van 'n betreklike vreemdeling sonder om eers seker te maak dat die voertuig se dokumentasie in orde is en dat die verkoper die eienaar is van die voertuig. Indien hy wel die

12.

enjinnommers op enige van die vorige dokumentasie met dié op die voertuig vergelyk het, sou hy gesien het dat dit nie dieselfde is nie.

In al die omstandighede is ek van mening dat die appellant se verduideliking vir sy besit van die gesteelde voertuig nie redelik moontlik waar kan wees nie en dat hy tereg skuldig bevind is.

Dit laat die appèl teen vonnis. Selfs inaggenome die feit dat die appellant h eerste oortreder is, kan ek nie met die betoog saamstem dat die vonnis, in al die omstandighede van die saak, so buitensporig swaar is dat dit inmenging deur hierdie Hof regverdig nie. Motordiefstal is 'n ernstige misdaad en die diefstal van 'n voertuig vir kommersiële gebruik sowel aa die aantal vals registrasies ten einde die misdaad te verberg moet as verswarend beskou word. Die appèl word afgewys.

W. VIVIER AR.