South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1992 >> [1992] ZASCA 21

| Noteup | LawCite

S v Mflori (511/91) [1992] ZASCA 21 (12 March 1992)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

SAAK: 511/91 In die appèl van:

DANIëL MALOMI MFLORI Appellant
en
DIE STAAT Respondent

Coram: BOTHA, F H GROSSKOPF ARR et HARMS WndAR.

Aangehoor: 3 Maart 1992 Gelewer: 12 Maart 1992

2 UITSPRAAK

HARMS WndAR:

Die appellant en drie medebeskuldigdes het in die rondgaande hof te Evander voor Van der Merwe R (en twee assessore) op 'n aanklag van moord en een van roof met verswarende omstandighede verskyn. Die appellant en beskuldigde nr 2 is skuldig bevind soos aangekla terwyl beskuldigdes nrs 3 en 4 as begunstigers skuldig bevind is. Aangesien geen versagtende omstandighede met betrekking tot die moord bevind is nie, is die appellant en beskuldigde nr 2 op daardie aanklag ter dood veroordeel. Verlof tot appèl ten aansien van die skuldigbevinding is aan die appellant en ten aansien van die vonnis aan beskuldigde nr 2 deur die verhoorregter na hierdie Hof toegestaan. Daardie appèl is
3 op 14 Mei 1990 (in saak 595/1989) afgewys. Die paneel wat ingevolge artikel 19(1) van die Strafregwysigingswet nr 107 van 1990 ingestel is, het bevind dat, na die paneel se oordeel, die verhoorhof waarskynlik die doodvonnis sou opgelê het indien die bepalings van hierdie Wet ten tye van vonnisoplegging in werking was. Die aangeleentheid dien dus voor hierdie Hof ingevolge artikel 19(12) van die Wet.

Aangesien die tersaaklike feite volledig in die uitspraak van Van der Merwe R sowel as in die vorige uitspraak van hierdie Hof behandel is, word met 'n opsomming van feite wat relevant is by die oorweging van vonnis volstaan.

Die appellant het gedurende 1986 by Cobra Bathrooms as vragmotorbestuurder gewerk. Terwyl hy daar in diens was, het hy deel gehad aan 'n beplanning om 'n vragmotor van die firma met sy ware te kaap en die ware daarna te verkwansel. Hy is gedurende dieselfde jaar ontslaan en het toe by 'n ander besigheid, ook as vragmotorbestuurder, begin werk.
4 Vroegoggend van 13 Junie 1987 het 'n vragmotor van die firma gelaai met 'n vrag sanitêre toerusting vanaf Johannesburg na Kaapstad vertrek. Die bestuurder van die vragmotor was wyle Daniël Mokgetle (die oorledene). Hy was vergesel van twee assistente, naamlik beskuldigdes nrs 3 en 4. Op 'n snelweg in die omgewing van Johannesburg het die appellant en beskuldigde nr 2 hulself as rylopers voorgedoen en is hulle deur die oorledene opgelaai. Suid van Bloemfontein het óf die appellant óf beskuldigde nr 2 'n vuurwapen te voorskyn gebring en die beheer oor die vragmotor oorgeneem. Die appellant het die vragmotor terug Transvaal toe bestuur. Die oorledene is in 'n kompartement waarin die noodwiel normaalweg gehou word, toegesluit. In die omgewing van Heidelberg is die oorledene uit die kompartement gehaal, met 'n harde voorwerp wat skedelbreuk veroorsaak het, geslaan en in die kop geskiet. Sowel die skietwond as die skedelbreuk, of beide, kon die oorsaak van sy dood gewees het. Die vragmotor is toe na Johannesburg toe geneem waar die grootste gedeelte van die besending aan helers verkoop is.
5 Daarna is die vragmotor langs die Kliprivier-Alberton pad aan die brand gesteek. Beskuldigdes nrs 3 en 4 is terug Kroonstad toe waar hulle aan die polisie voorgehou het dat hulle van die voertuig deur onbekende persone beroof is.

Toe die oorledene se lyk gevind is, is twee notas in sy handskrif en 'n pen aan hom gevind. Hy het klaarblyklik in die kompartement die volgende boodskappe geskryf (ek haal die vertaling aan):

"I (am) informing you that I was killed by Dan who was working at Cobra as a driver. He resides at Spruit Khumalo. He was with other one who is unknown to me. I said I was murdered by Dan who had worked at Cobra."
"I inform you that I was murdered by Dan who was working at Cobra last year as a driver. He resides at Spruit Khumalo. He said to me if he cannot killed me he will be known. So he wanted to destroy the whole information about myself. I informed you that I resides at 3352 Mokoena street Thokoza Alberton. My phone no. 9055936."

Na aanleiding hiervan het die polisie by die appellant

3

gearriveer en het hy hulle na sy medebeskuldigdes gelei. Hoewel die appellant tydens die verhoor op 'n alibi staatgemaak het, het sy medebeskuldigdes hom en hulself in 'n meerdere of mindere mate by die pleeg van die misdrywe betrek. Beskuldigde nr 2 het erken dat hy die oorledene geskiet het maar het die opdrag daartoe en die toedien van die stompgeweld aan die appellant toegedig. Die alibi is verwerp.

Dit is relevant om te bepaal of die appellant 'n leidende dan wel ondergeskikte rol by die pleeg van hierdie misdrywe gespeel het. Die verhoorhof het bevind dat hy die leier was. Daardie bevinding is deur hierdie Hof in die vorige uitspraak bevestig. Hierdie bevinding word deur, onder andere, die volgende feite gestaaf: Beskuldigdes nrs 3 en 4 het nie vir beskuldigde nr 2 geken nie en die enigste persoon wat ook al die ander die booswigte geken het, was die appellant; die appellant is 'n hoogs intelligente persoon; die appellant is die enigste van die vier
7 beskuldigdes wat reeds vantevore aan die beplanning van 'n kaping deelgeneem het; volgens die oorledene se notas het die appellant die doodsdreigement geuiter; die appellant was die enigste van die beskuldigdes wat die voertuig kon bestuur het en wat dit inderdaad daarna bestuur het; die appellant is die persoon wat die reëling met die heler vooraf getref het; en dit is ter wille van hom wat die oorledene bereid was om langs die pad stil te hou en die twee rylopers op te laai.

Wat verdere strafverswarende faktore aanbetref, val nie veel te sê nie aangesien sulke faktore oorvloedig teenwoordig is. Die moord was nie 'n blote toevallige gevolg van 'n roofpoging nie maar 'n noodwendige element daarvan. Die appellant het vooraf geweet dat die oorledene gedood sou moes word ten einde die identiteit van die boosdoeners weg te steek. Die roof is reeds gedurende die vorige jaar beplan en, in die lig van wat so pas gesê is, die moord ook. Die appellant het die oorledene persoonlik goed geken, maar was, ten spyte
8 daarvan, bereid om hom te laat vermoor. Die oorledene is in doodsangs van Bloemfontein tot in die omgewing van Heidelberg in die kompartement vervoer. Die moord was koelbloedig en met dolus directus gepleeg. Dit was die gevolg van hebsug aangesien die appellant 'n goed opgeleide persoon met 'n goeie betrekking teen voldoende vergoeding ten tye van die moord was.

As mens, aan die ander kant, na versagtende faktore soek, vind mens slegs die enkele feit dat die appellant 'n eerste oortreder was. As mens na die persoon van die appellant kyk, kom geen versagtende faktore na vore nie. Hy het tot by matriek gevorder, was 29 jaar oud ten tye van die pleeg van die misdryf en getroud met twee kinders. Soos reeds gesê, is hy intelligent en daarbenewens was hy in staat om die ander booswigte tot die misdryf oor te haal of te beïnvloed. Beskuldigde nr 2 was bv n dagloner wat deur die appellant van tyd tot tyd in diens geneem is indien daar nie 'n permanente werker beskikbaar was nie. Beskuldigde nr 4 is
9 deur die verhoorhof as onintelligent bestempel.

By beoordeling van die vraag of, in die lig van voorgaande, die doodvonnis die enigste gepaste vonnis vir die moord is, is dit natuurlik so dat, hoewel die afwesigheid van vorige veroordelings 'n belangrike faktor is, dit nie op sigself in die weg van die oplegging van daardie vonnis lê nie. S v Majosi and Others 1991 (2) SASV 532 (A) 541 e - f. Maar, soos in daardie saak (tap) gesê, "(b)ut, once again, that factor, weighty as it undoubtedly is, must yield to considerations of retribution and deterrence when the horror of the crime, the callousness of the criminal, and the frequency of its recurrence generally, are such that the perceptions, sensibilities and interests of the community demand nothing less than the extreme penalty." Ek is oortuig dat daardie oorwegings ook in casu van toepassing is, dat gevangenisstraf in die omstandighede nie gepas sal wees nie en dat die opgelegde vonnis gevolglik die enigste geskikte vonnis is.

10

Die appèl word van die hand gewys en die doodvonnis bekragtig.

HARMS WndAR BOTHA AR ) STEM SAAM F H GROSSKOPF AR)