South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1992 >> [1992] ZASCA 216

| Noteup | LawCite

S v Stemmet en 'n Ander (391/91) [1992] ZASCA 216 (27 November 1992)

Download original files

PDF format

RTF format


SAAKNOMMER 391/91 J VD M

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPéLAFDELING)

In die saak tussen:

ROCCO STEMMET Eerste Appellant
PAULUS MALEKA Tweede Appellant
en
DIE STAAT Respondent

CORAM: BOTHA, EKSTEEN, ARR et HARMS, WnAR

VERHOORDATUM: 16 NOVEMBER 1992 LEWERINGSDATUM: 27 NOVEMBER 1992

UITSPRAAK

HARMS, WnAR:

Die twee appellante is in die Oranje-Vrystaatse Provinsiale Afdeling aan die moord op mev H H Stemmet

2

("die oorledene") skuldig bevind en tot 25 jaar gevangenisstraf gevonnis. Hulle appelleer met verlof van die verhoorregter (Van Coppenhagen R) teen hulle vonnis. Aangesien die aard van die misdryf 'n belangrike oorweging by vonnisoplegging was, is dit nodig om vooraf met die tersaaklike feite te handel.

Appellant 1 en die oorledene is op 16 April 1988 met mekaar getroud. Later die jaar is 'n seun uit die huwelik gebore. Die huwelik is op 14 November 1989 deur 'n egskeidingsbevel ontbind. Ten spyte van die egskeiding kon die partye mekaar nie in vrede laat nie. Die oorledene en die kind het na Bethlehem verhuis en ' n woonstel betrek en appellant 1 het ' n huis op Kransfontein in die distrik bewoon wat aan sy werkgewer behoort het.

Gedurende Maart 1990 het hy besluit om die oorledene te vermoor. Hy het vir mnr Johannes Motsoeneng probeer werf om hom by die pleeg van die

3

moord behulpsaam te wees. Die rede wat hy vir die
beoogde doodslag gegee het, was dat hy nie meer
onderhoud aan die oorledene wou betaal nie. Mnr
Motsoeneng het allerlei besware geopper oor waarom die

moord nie onnaspeurbaar kon wees nie, maar appellant 1

het aanhou aandring. Mnr Motsoeneng het die gebeure

aan sy werkgewer, mnr Visagie, gerapporteer en aangesien

dié ook bevel oor appellant 1 gevoer het, het hy hom

ingeroep en aangespreek oor die storie. Appellant 1 het

dit ontken.

Hierna het hy navraag by 'n verpleegster gedoen oor die verkryging en toedien van chloroform en ook oor die vraag of dit iemand se dood sou kon veroorsaak. Hy het toe chloroform by 'n apteker te koop gekry. Die volgende stap was om appellant 2 te werf om hom by die pleeg van die moord by te staan. Appellant 2 was 'n werklose en is geld aangebied om behulpsaam te wees. Appellant 1 het sy motief, soos aan mnr Motsoeneng

4

gestel, herhaal. Ter verdere oorreding het hy appellant 2 na 'n toordokter geneem wat hom meegedeel het van die probleme wat appellant 1 met die oorledene ondervind het en onderneem het dat sy sou toesien dat hulle vingerafdrukke nie deur die polisie gevind word nie. Appellant 2 het daarna te kenne gegee dat hy nie met die transaksie wou voortgaan nie waarop appellant 1 hom vererg het en hom daarvan beskuldig het dat hy 'n bangbroek is.

Op 3 April 1990 het appellant 1 vir appellant 2 by sy woning opgelaai en het hulle na die woonstel van die oorledene gery. Appellant 1 het toegang deur middel van valse voorwendsels verkry en die oorledene met die chloroform oorweldig. Sy het haar bewussyn verloor en is toe deur beide appellante in die motor se kattebak gelaai. Hulle het na Saulspoortdam, wat buite Bethlehem geleë is, gery. Aangesien die oorledene begin het om haar bewussyn te herwin, is sy deur beide

5

appellante met 'n tou verwurg. Sy is as gevolg hiervan dood. Net om seker te maak dat sy wel dood is, is 'n plastiese sak om haar kop gebind. Appellant 1 is toe weg om die oorledene se klere uit die woonstel te verwyder en het dit aan appellant 2 oorgelaat om 'n klip aan die oorledene se nek vas te bind en haar lyk in die dam te gooi. Dit het hy gedoen.

Appellant 1 het daarna met van die oorledene se persoonlike besittings opgedaag en die twee het hierdie goed in 'n ou kraal verbrand. Dit is gedoen omdat appellant 1 die indruk wou wek dat die oorledene weggeloop het. Om hierdie indruk verder te versterk, het hy 'n nota aan die yskasdeur geheg wat dit te kenne gee en het hy ook 'n brief aan haar ouers gerig (wat voorgee dat dit van haar afkomstig is) waarin sy sou vermeld het dat sy met 'n ander man weggeloop het. Appellant 1 het vermoedelik die seuntjie gedurende die nag versorg maar vroeg die oggend in sy wiegie in die

6

woonstel teruggeplaas waar hy deur 'n vriendin van die oorledene in 'n nat en huilende toestand aangetref is. Appellant 1 het nie appellant 2 betaal nie. Intussen het die polisie vir mnr Motsoeneng versoek om met appellant 1 te praat en tydens die gesprek het eersgenoemde vasgestel dat die moord gepleeg is en is hy versoek om 'n afspraak met appellant 2 te reël vir die betaling van die bloedgeld van R2000,Ó0. Die polisie het die twee booswigte ingewag en by die oorhandiging in hegtenis geneem. Appellant 2 het onmiddellik sy betrokkenheid beken en die nodige uitwysings gemaak. Appellant 1 het geswyg en het eers ter strafversagting getuig.

By oorweging van die vraag of die vonnis wat appellant 1 opgelê is, gewysig kan. word, is betoog dat die hof a guo misgetas het deur, by beoordeling van sy blaamwaardigheid, die aard van die verhouding tussen hom en die oorledene en in besonder sy beweerde liefde vir

7

die oorledene, nie voldoende in ag te neem nie. Wat wel in hierdie verband deur die verhoorhof bevind is, is die volgende:

"Ons neem ook as strafversagtend ten gunste van beskuldigde 1 in aanmerking dat hy lief was vir die oorledene met wie hy voorheen getroud was, en wie die moeder was van hulle seuntjie. Ons aanvaar dat hierdie liefde hom as't ware op sy knieë voor haar gedwing het. Ons aanvaar ook dat hy, dit wil sê beskuldigde 1, die oorledene se verkleinerende en soms spottende op- en aanmerkings as gevolg van sy lae intelligensie nie rasioneel kon verwerk nie."

Ek is van oordeel dat die verhoorhof die appellant se liefde vir die oorledene eerder oor- as onderbeklemtoon het. Soos ek reeds aangedui het, het hy by herhaling voor die gebeure gesê dat sy motief vir die moord was om 'n onderhoudsverpligting te vermy. Dit is eers tydens sy getuienis ter strafversagting dat

8

hy met die bewering vorendag gekom het van sy onsterflike liefde vir die oorledene, dat sy hom verneder het en nie sy liefde beantwoord het nie. Sy getuienis in hierdie verband is onindrukwekkend. Die partye was geskei en appellant 1 is by herhaling versoek om nie met die oorledene in verbinding te treë nie. Die spottery waarna die verhoorhof verwys het, het tydens die huweliksverhouding tussen die partye plaasgevind. Die wyse waarop appellant 1 sy gevoel vir die oorledene tasbaar te kenne gegee het, toon ook nie van enige liefde nie. Hoe dit ook al sy, ek vind geen aanduiding dat daar ' n mistasting in die opsig betoog, was nie. Die vonnis opgelê was swaar maar was bedoel om swaar te wees. Dit is nie betoog (en tereg ook) dat die vonnis skokkend onvanpas was nie. Dit volg dus dat appellant 1 se appél van die hand gewys moet word.

As mens na appellant 2 se vonnis kyk, val dit onmiddellik op dat die verhoorhof die blaamwaardigheid

9
van beide appellante gelykgestel het. In die uitspraak op verlof tot appél, is dit ook uitdruklik gesê dat dit die uitgangspunt was. Dit is natuurlik so dat kontrakmoord verfoeilik is en dat die doodvonnis gewoonlik die enigste gepaste vonnis daarvoor is. Dit is ook dikwels nie maklik om te bepaal wie moreel meer blaamwaardig is nie: die huurder of die moordenaar. Sien S v Mabaso and Others 1992 1 SASV 690(A)694. In hierdie geval was appellant 2 nie 'n gehuurde moordenaar in die gebruiklike sin van daardie begrip nie. Hy is eintlik as 'n helper ingespan. By die fisiese doding het hy 'n gelyke aandeel aan die verrigtinge gehad en nie alles namens appellant 1 gedoen nie. Hoewel daar dus 'n pariteit wat die aandeel aan die finale doodslag aanbetref, aanwesig was, is ek nogtans van oordeel dat appellant 2 se blaamwaardigheid wesentlik van 'n laer orde is as dié van appellant 1. Ek het reeds daarop gewys dat hy werkloos was en hoe

10

appellant 1 sy onwilligheid oorkom het. Daarbenewens is appellant 1 die beplanner en die verskaffer van die hulpmiddelle. Hy het ook die eerste aggressiewe handeling verrig en die opdrag tot die finale verwurging gegee. Daarteenoor het ons die feit dat appellant 2 teen vergoeding bereid was om die misdryf te pleeg en dat hy geen persoonlike (werklike of gewaande) onreg wou vergeld nie. Dit, in die besondere omstandighede van die geval, is egter nie genoeg om 'n gelykheid in blaamwaardigheid daar te stel nie. Ek is dus van oordeel dat die verhoorhof in hierdie opsig misgetas het en dat hierdie Hof gevolglik bevoeg is om in te gryp en om die gepaste vonnis van meet af te bepaal.

Dit is verder namens appellant 2 betoog dat die verhoorhof gefouteer het deur te bevind dat hy nie ware berou getoon het nie. 'n Bevinding oor berou is 'n feitebevinding en hoewel aanvaar moet word dat appellant 2 spoedig sy aandadigheid erken het en gesê het dat hy

11

nie "lekker" oor die misdryf gevoel het nie, is ek nie oortuig dat die verhoorhof in sy feitebevinding gefouteer het nie. Dit is ook betoog dat appellant 1 se invloed op en beïnvloeding vam appellant 2 nie na behore getakseer is nie en ook dat die geloof in 'n toordokter nie voldoende in ag geneem is nie. Hierdie betoog kan na my oordeel ook nie slaag nie. Die hof a quo het uitdruklik bevind, in die konteks van strafversagting, dat appellant 2 ongekunsteld was, onder die invloed van appellant 1 was en in 'n mindere mate onder die invloed van 'n toordokter gehandel het.

In die lig van voorgaande en met inagneming van al die relevante faktore in hierdie uitspraak en ook in die uitspraak van die hof a quo genoem, is ek van oordeel dat 'n gepaste vonnis vir die misdryf gepleeg deur appellant 2, gevangenisstraf van 15 jaar is.

Die volgende bevel word dus gemaak:

12
a

(a)Appellant 1 se appèl word van die hand gewys.
(b) Appellant 2 se appèl slaag en die vonnis word gewysig om te lees "15 jaar gevangenisstraf".

L T C HARMS WAARNEMENDE APPéLREGTER

BOTHA, AR )

stem saam EKSTEEN, AR )