South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
1992 >>
[1992] ZASCA 218
| Noteup
| LawCite
S v Mhlango en 'n Ander (592/91, 690/91) [1992] ZASCA 218 (27 November 1992)
Download original files |
Saak nr 592/91 & Saak nr 690/91 E du Plooy
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(APPèLAFDELING)
In
die saak tussen:
WILLIAM MHLANGO Eerste Appellant
SONNYBOY
MOLOI Tweede Appellant
en
DIE STAAT Respondent
Coram: HEFER, F H GROSSKOPF ARR et HOWIE WN
AR
Verhoordatum: Leweringsdatum:
19 November 1992 27 November 1992
2 UITSPRAAK
F H GROSSKOPF AR:
Gedurende die aand van Dinsdag 6 Februarie 1990
het die twee appellante en 'n derde persoon, slegs bekend as Junior ("Junior"),
die
oorledene buite sy huis in Bryanston, Johannesburg ingewag met die oogmerk
om hom te beroof. Die oorledene was 'n 52-jarige bouer
wat op daardie stadium
alleen in die huis gewoon het. Hy het ongeveer 9 uur die betrokke Dinsdagaand in
sy motor by die huis opgedaag.
Daar is hy deur een of meer van die gemelde drie
persone in 'n binnehof by die voordeur van die huis aangerand en neergevel.
Die verdere gebeure blyk hoofsaaklik uit die getuienis van mnr Everett Thladi, 'n werknemer in diens van die oorledene wat ook op die perseel gewoon het. Die verhoorhof het hom as 'n geloofwaardige en betroubare getuie bestempel. Hoewel beide appellante erken het dat
3
hulle die betrokke aand op die toneel van die misdaad was, het elkeen
homself probeer verontskuldig en kan daar nie veel peil getrek
word op hulle
getuienis nie.
Dit blyk uit Thladi se getuienis dat appellant 1 en nog een
van die driemanskap hom by sy kamer kom haal het met die opmerking "kom
sien hoe
jou baas beseer is". Daar was geen sprake daarvan dat die oorledene toe reeds
gedood was nie. Volgens Thladi is hy na die
binnehof geneem waar hy van agter
deur 'n onbekende persoon met 'n stuk yster of sogenaamde ysterstaaf oor die kop
geslaan is. Hy
het ook gepraat van ' n tweede hou wat iemand hom met 'n kierie
of besemstok oor die kop toegedien het. Thladi het geval en sy bewussyn
verloor.
Dit blyk uit sy getuienis dat dit nie appellant 1 was wat hom so geslaan het
nie. Appellant 1 het trouens kort daarna, en
toe Thladi weer bykom, gekeer toe
een van die ander twee rowers voorgestel het dat hulle vir Thladi moet doodmaak.
Thladi het in
die binnehof gesien hoe Junior die oorledene op die grond vasdruk.
Dit blyk dat die
4 oorledene op 'n stadium probeer opstaan het, maar volgens
Thiadi het Junior hom toe twee maal met 'n stuk yster geslaan. Dit was
ook
Junior wat die oorledene se hande en voete met 'n stuk draad vasgebind het.
Hoewel Thladi ook vir appellant 2 met die ysterstaaf
gesien het, is dit duidelik
uit Thladi se getuienis dat dit nie appellant 2 was wat die oorledene met die
yster geslaan het nie.
Thladi het verder in die loop van sy getuienis uitdruklik ontken dat
appellant 1 ooit die ysterstaaf in sy teenwoordigheid hanteer
het, of dat
appellant 1 vir hom of die oorledene met enige voorwerp geslaan het. Appellant 1
het wel op 'n stadium 'n vuurwapen op
Thladi gerig en hom gewaarsku om stil te
bly en nie te probeer weghardloop nie. Dit blyk dat daardie vuurwapen die
oorledene se .22
rewolwer was wat appeliant 1 reeds by 'n vorige geleentheid
onder onbekende omstandighede in die hande gekry het. Appellant 1 het
egter nie
weer daardie aand in Thladi se teenwoordigheid van die vuurwapen gebruik gemaak
nie, en in die besonder het hy
5 nie vir die oorledene daarmee gedreig of op
hom geskiet nie.
Nadat beide die oorledene en Thladi met die ysterstaaf
aangerand was, het appellant 1 vir Thladi gevra waar die oorledene sy geld
bêre. Daarna is Thladi saam met appellant 1 die huis binne. Appellant 1
het kort tevore 'n bos sleutels, waaronder die voordeursleutel
en die
motorsleutels, by die oorledene geneem en die voordeur oopgesluit. Thladi het
toe gesien hoe appellant 2 en Junior die oorledene
in die huis intrek en in die
studeerkamer op die vloer los. Volgens Thladi se getuienis het die oorledene toe
"nie meer beweeg nie".
Die polisie het die oorledene later daardie selfde nag op
die vloer van die studeerkamer dood aangetref. Sy hande en voete was nog
met die
draad vasgemaak en daar was 'n sakdoek om sy mond gebind.
Thladi se getuienis is dat appellant 1 oral in die huis na geld gesoek het. Toe hulle nie geld kon kry nie, het appellant 1, appellant 2 en Junior verskeie
6
artikels, waaronder 'n televisiestel, horlosies, skilderye en ander ornamente, uit die huis geneem. Appellant 1 het Thladi gelas om hulle te help om hierdie goed na buite te dra waar dit in die oorledene se motor gepak is. Daarna het appellant 1, appellant 2 en Junior met die oorledene se motor weggery. Appellant 1 was die bestuurder van die motor. Die polisie het die sleutels van die oorledene se motor en die oorledene se rewolwer in appellant 1 se besit gevind toe hy vroeg die Donderdagoggend in hegtenis geneem is. Appellant 2 is kort daarna gearresteer terwyl sekere van die oorledene se gesteelde goed in sy kamer gevind is. Appellant 1 het die polisie ook na 'n buitekamer geneem wat na bewering deur Junior bewoon was. Die polisie het ook daar sekere van die oorledene se gesteelde goed gevind, maar Junior kon glad nie opgespoor word nie.
Die assistent-distriksgeneesheer wat die lykskouing op die liggaam van die
oorledene uitgevoer het, het bevind dat die oorsaak van
dood hoofbeserings
7
met twee skedelfrakture en breinbloeding was. Hy het die mening uitgespreek dat
beide skedelfrakture deur een hou oor die kop veroorsaak
kon gewees het. Verdere
beserings aan die liggaam van die oorledene het weliswaar daarop gedui dat die
oorledene meerdere houe met
'n stomp voorwerp toegedien is. Daardie houe sou
volgens hom egter nie opsigselfstaande die oorledene se dood kon veroorsaak het
nie.
Appellant 1 het 'n verhouding gehad met ene Martha Roatsomeng, wat tot kort voor die gebeure op Dinsdag 6 Februarie 1990 as huishulp vir die oorledene gewerk het. Sy was beskuldigde 3 by die verhoor. Sy het saam met appellant 1 en appellant 2 voor Sutej R en twee assessore in die Witwatersrandse Plaaslike Afdeling tereggestaan op aanklagte van onder andere moord en roof. Sy is egter onskuldig bevind deur die hof a quo en ontslaan op al die aanklagte waarop sy tereggestaan het. Die twee appellante, daarenteen, is beide skuldig bevind aan moord, waarvoor elkeen die doodvonnis opgelê is.
8
Daarbenewens is hulle albei skuldig bevind aan roof en aan aanranding
met die opset om ernstig te beseer, welke aanranding op Thladi
gepleeg was. Die
appellante is elk tot 12 jaar gevangenisstraf op die roofklagte en tot 12 maande
gevangenisstraf op die aanrandingklagte
gevonnis. Die hof a quo het gelas
dat die 12 maande gevangenisstraf saamloop met die 12 jaar gevangenisstraf.
Appellant 1 is ook skuldig bevind aan die wederregtelike
besit van 'n vuurwapen
en ammunisie, en tot 'n verdere 18 maande gevangenisstraf op daardie klagtes
gevonnis. Die twee appellante
appelleer slegs teen die doodvonnis wat hulle
elkeen opgelê is.
Appellant 1 was ongeveer 36 jaar oud toe hy die onderhawige misdade gepleeg het. Hy het vorige veroordelings vir veediefstal in 1979 waarvoor 'n boete destyds opgelê is. Hy is ook voorheen skuldig bevind aan oortredings onder die Wet op Ontplofbare Stowwe, 26 van 1956, waarvoor hy, naas 'n geringe boete, ook 'n termyn van 18 maande gevangenisstraf opgelê is. Appellant 1 het
9
in die loop van sy getuienis beweer dat hy nie sterk drank
drink nie.
Appellant 2 was ongeveer 31 jaar oud toe hy die onderhawige
misdade gepleeg het. Hy het twee vorige veroordelings vir saakbeskadiging.
Daardie oortredings is vermoedelik by een geleentheid in 1983 gepleeg, en hy is
slegs 'n geringe boete opgelê wat in die geheel
opgeskort was. Ten tyde
van die pleging van die onderhawige misdade het appellant 2 'n vaste werk gehad,
en het hy ook drank oor
naweke verkoop. Appellant 2 het egter getuig dat hyself
geen drank op die betrokke Dinsdag gedrink het nie. Daar is trouens geen
aanduiding dat enigeen van die twee appellante enigsins onder die invloed van
drank was toe die misdade daardie Dinsdagaand gepleeg
is nie.
Die omstandighede waaronder die oorledene, wat volgens alle aanduidings ongewapen was,in die loop van 'n beplande rooftog by sy eie huis ingewag is en daar vermoor is, kan sekerlik as strafverswarende faktore teen
10
beide die appellante in aanmerking geneem word. Aan die ander kant is
daar egter ook strafversagtende faktore wat in die appellante
se guns in ag
geneem moet word. So is daar geen aanduiding dat die doodslag van die oorledene
vooraf beplan was nie. Die pistool
wat appellant 1 by hom gehad het, is geensins
in die aanval op die oorledene gebruik nie. Die stuk yster of ysterstaaf wat wel
gebruik
is, is deur geen getuie behoorlik beskryf nie, en dit is ook nie op die
toneel van die moord gevind nie. Mens weet dus nie of dit
sonder meer as 'n
dodelike wapen beskou kan word nie. Daar is ook geen getuienis dat enigeen van
die drie booswigte die stuk yster
na die perseel saamgebring het nie. Dit kon
goed moontlik daar op die werf opgetel gewees het. Die oorledene was destyds
besig om
by sy woonhuis aan te bou, en dit is nie onwaarskynlik dat daar stukke
yster sou rondgelê het nie. Dit blyk uit Thladi se getuienis
dat die
oorledene nog gelewe het toe Thladi hom die eerste maal in die binnehof gesien
het. Volgens Thladi se
11 waarnemings het die oorledene nog probeer opstaan.
Die oorledene se dood is waarskynlik veroorsaak deur een of beide van die houe
wat Junior hom daarna toegedien het. Die staat het na my oordeel nie bewys dat
Junior die direkte opset gehad het om die oorledene
te dood nie. Ons weet nie of
hy byvoorbeeld die oorledene wou dwing om te sê waar die geld is, of hom
net tydelik buite aksie
wou stel nie, en of die yster wat hy gebruik het
noodwendig 'n dodelike wapen was nie. Dit blyk wel dat die hou of houe volgens
die
mediese getuienis redelik hard moes gewees hetDie hof a quo het dan
ook bevind dat daar slegs dolus eventualis was. Wat die twee appellante
betref, is daar nog minder sprake van enige direkte opset om die oorledene te
dood. Dit blyk duidelik
uit Thladi se getuienis dat nóg appellant 1
nóg appellant 2 enige aanranding op die oorledene gepleeg het. Hulle
skuldigbevinding
aan moord berus dus op hulle gemeenskaplike oogmerk om te roof,
hulle deelname aan die beplande rooftog en hulle opset by
moontlikheidsbewussyn
12
wat die dood van die oorledene betref. Gesien die bewese
feite in die onderhawige saak is ek van oordeel dat daar
redelike twyfel bestaan of die twee appellante ooit die
dood van die oorledene as 'n sterk moontlikheid voorsien
het. Dit is trouens goed moontlik dat die graad van
voorsienbaarheid
redelik gering was. Die twee appellante
moet myns insiens die voordeel van hierdie twyfel kry.
In hierdie verband kan daar verwys word na die
beslissing van hierdie hof in S v Ngobeni en 'n Ander
1992 (1) SASV 628(A) op 632 d-e:
"Die afwesigheid van direkte opset is wel 'n faktor wat aandag geniet by die vraag of die doodvonnis in 'n bepaalde geval die enigste gepaste vonnis is. Die gewig wat daaraan verleen moet word in 'n geval soos die onderhawige hang uiteraard af van die moontlikheidsgraad van doodveroorsaking wat die mededeelnemer voorsien het (S v Xanti, ongerapporteerde Appèlhof uitspraak gelewer op 5 Maart 1992). Weens die gebrek aan getuienis kan daar nie bo redelike twyfel bevind word nie dat die appellant wat die oorledene nie fisies gedood het nie hom die dood van die oorledene as 'n sterk moontlikheid voorgestel het."
(Vgl ook S v Ntuli 1991(1) SASV 137(A) op 144 a-d.)
13 Die
gesindheid van appellant 1 blyk verder uit die feit dat hoewel hy 'n gelaaide
vuurwapen by hom gehad het, hy dit nie gebruik
het nie. Appellant 1 was
weliswaar die voorbok, maar hy was ook die een wat verhoed het dat Thladi verder
aangerand word. Appellant
2 het op sy beurt duidelik in sy bekentenis genoem dat
hy homself reeds tydens die beplanningstadium sterk teen die doodslag van
die
beoogde slagoffer uitgespreek het.
Ten slotte kan gemeld word dat
rehabilitasie van die twee appellante sekerlik nie uitgesluit kan word nie,
gesien die geringe aard
van hulle vorige veroordelings.
Hoewel roof met gepaardgaande moord in 'n ernstige lig beskou word, is ek nogtans van oordeel dat die doodvonnis vir die voorgaande redes nie die enigste gepaste straf vir die twee appellante op die moordklagte is nie. In die lig van al die omstandighede is ek van mening dat 20 jaar gevangenisstraf 'n gepaste vonnis vir elkeen van die appellante vir die moord is. Die verdere
14
termyne van gevangenisstraf wat die appellante op die ander klagtes
opgelê is, behoort samelopend met die 20 jaar uitgedien
te word.
Die
appèl slaag gevolglik. Die doodvonnisse wat oor elkeen van die twee
appellante uitgespreek is, word tersyde gestel en vervang
met 'n vonnis van 20
jaar gevangenisstraf vir elk van die twee appellante. Die termyne van
gevangenisstraf wat die hof a quo vir elkeen van die appellante op die
ander klagtes opgelê het, sal saamloop met die termyn van 20 jaar
gevangenisstraf.
F H GROSSKOPF AR
HEFER AR
HOWIE Wn AR Stem saam