South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1992 >> [1992] ZASCA 229

| Noteup | LawCite

S v Masotho en 'n Ander (210/91, 718/91) [1992] ZASCA 229 (27 November 1992)

Download original files

PDF format

RTF format


Saak Nr 210/91 Nr 718/91

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(APPeLAFDELING)
Tussen

PHILLEMON MOSOTHO Eerste Appellant

STOFFEL MOSOTHO Tweede Appellant

- en -

DIE STAAT Respondent

CORAM: VIVIER AR et HOWIE, VAN COLLER

Wn ARR.

VERHOOR: 5 November 1992.

GELEWER: 27 November 1992.

UITSPRAAK

VIVIER AR/

2 VIVIER AR:

Die twee appellante, na wie ek onderskeidelik as beskuldigdes 1 en 2 sal verwys, het voor HUMAN WR en twee assessore in die Transvaalse Provinsiale Afdeling tereggestaan op twee aanklagte van moord (aanklagte 1 en 2) en een aanklag van huisbraak met die opset om te roof en roof met verswarende omstandighede (aanklag 3). By die aanvang van die verhoor het beskuldigde 1 op al drie aanklagte skuldig gepleit terwyl beskuldigde 2 op aanklagte 1 en 2 onskuldig gepleit het en op aanklag 3 'n pleit van skuldig aan diefstal aangebied het. Die pleite van die twee beskuldigdes is nie deur die Staat aanvaar nie. Aan die einde van die verhoor is elke beskuldigde op al drie aanklagte skuldig bevind. Elkeen is op beide moordaanklagte die doodvonnis opgelê. Op aanklag 3 is beskuldigde 1 tot 12 jaar

3

gevangenisstraf en beskuldigde 2 tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis. Die beskuldigdes appelleer na hierdie Hof teen hul skuldigbevindings en vonnisse op aanklagte 1 en 2 ingevolge die bepalings van art 316 A van Wet 51 van 1977 en, met die nodige verlof, teen hul skuldigbevindings en vonnisse op aanklag 3.

Die oorledenes was Johan Hendrik Kritzinger, h 85-jarige afgetrede professor in teologie, en sy vrou, die 83-jarige Elizabeth Rachel Kritzlnger. Hulle het alleen in hul huis in Meyerspark, Pretoria, gewoon. Die Staatsaak by die verhoor was dat die twee beskuldigdes gedurende Sondagnag 12 Augustus 1990 by die oorledenes se huis ingebreek het, hulle in hul slaap oorval en aangerand het en daarna van 'n groot hoeveelheid goedere beroof het wat hulle in die oorledenes se voertuig weggeneem het.

Volgens die getuienis van die oorledenes se

4

huishulp, Francina Hlope en haar man, Frans Mkhabela, wat saam in die bediendekamer op die perseel gewoon het, het die oorledenes gewoonlik saans teen elfuur gaan slaap. Die betrokke aand het Frans om ongeveer haifelf daar aangekom en vir mev Kritzinger in die kombuis opgemerk. Hy en Francina het kort daarna gaan slaap en niks verder gehoor nie. Vroeg die volgende oggend het hulle agtergekom dat die oorledenes se voertuig nie in die motorhuis is nie en toe hulle ondersoek instel, het hulle die oorledenes bebloed en erg beseer op hul beddens in hui slaapkamer en alles binne die huis in totale wanorde aangetref. Prof Kritzinger het kort daarna, en sy vrou later die oggend in die hospitaal aan hul beserings beswyk.

Volgens die mediese getuienis het beide oorledenes gesterf as gevolg van veelvuldige erge skedel- en breinbeserings wat veroorsaak is deur 'n

5

piksteel wat die polisie die oggend tussen die oorledenes se beddens gevind het. Die bloedbevlekte metaalgedeelte van die pik is later dieselfde oggend in die tuin voor die huis opgetel. Volgens Prof Loubser, wat die na-doodse ondersoeke op die liggame van die oorledenes gedoen het, is Prof Kritzinger tussen vier en ses houe op die kop met die piksteel toegedien terwyl minstens drie houe met die piksteel mev Kritzinger teen die kop moes getref het. Die wond op mev Kritzinger se hand is waarskynlik deur die metaalgedeelte van die pik veroorsaak. Forensiese toetse het getoon dat bloed van dieselfde bloedgroep as dié van mev Kritzinger aanwesig was op die piksteel sowel as op die metaalgedeelte van die pik.

Die polisie-ondersoek het aan die lig gebring dat die rowers toegang tot die huis verkry het deur 'n groot gat wat in die sitkamervenster geslaan is. Aan

6

die buitekant van die vensterbank, reg onder die gat in die ruit, is 'n handpalmafdruk gekry wat later geblyk het diê van beskuldigde 1 te wees. Beskuldigde 2 se vingerafdrukke is gelig vanaf die deurkosyn van een van die slaapkamers sowel as vanaf die handvatsel-gedeelte van die piksteel. Laasgenoemde vingerafdruk was met 'n bebloede hand gemaak.

Beskuldigde 1 is op Woensdag 15 Augustus 1990 gearresteer waarna hy sekere van die gesteelde artikels aan die polisie gaan uitwys het. Die volgende dag het hy die polisie na beskuldigde 2 geneem by wie sekere ander goedere wat van die oorledenes gesteel is, gevind is. Beskuldigde 2 het op dieselfde dag 'n skriftelike verklaring voor landdros Van Eeden gemaak waarin hy gesê het dat sy neef (beskuldigde 1) die betrokke Sondagaand aan hom voorgestel het dat hulle na die oorledenes se huis moet gaan om "goedere daar

7

te gaan haal". Beskuldigde 1 het gesê dat twee bejaarde mense daar woon. By die huis aangekom, het hulle na die stoor gegaan waar beskuldigde 1 'n pik geneem het waarmee hy 'n venster in die huis stukkend geslaan het. Beskuldigde 1 het ingegaan terwyl beskuldigde 2 buite gewag het. Na 'n rukkie het hy 'n geskreeu in die huis gehoor. Daarna het beskuldigde 1 die voordeur oopgemaak en hulle is saam na die hoofslaapkamer waar hy gevind het dat die oorledenes met 'n piksteel geslaan was. Die vrou het haar bewussyn herwin en weer geskreeu waarop beskuldigde 1 haar weer h slag met die piksteel geslaan het. Beskuldigde 2 het geprotesteer en na buite gegaan. Hy het daarna die motorhuis se deure oopgemaak en hulle is met die gesteelde goedere in die oorledenes se voertuig daar weg. Al wat hy self uit die huis geneem het was h horlosie en h handsak.

8

Op 16 Augustus 1990 het beskuldigde 2 ook sekere uitwysings met 'n gepaardgaande verklaring aan luitenant Bouwer gemaak. Volgens Bouwer het beskuldigde 2 aan hom gesê dat hy vooraf van beskuldigde 1 verstaan het dat die oumense wat in die huis woon "die geld gebêre het". Beskuldigde 2 het aan Bouwer gesê dat hy die pik vir beskuldigde 1 aangegee het nadat laasgenoemde deur die venster geklim het.

Beskuldigde 1 het nie by die verhoor getuig nie. In sy verklaring ingevolge art 112(2) van Wet 51 van 1977 het hy te kenne gegee dat Francina hulle versoek het om sekere goedere naamlik 'n tikmasjien, 'n naaimasjien en 'n halssnoer vir haar uit die oorledenes se huis te neem omdat die oorledenes haar nie genoeg betaal het nie. Sewe-uur die betrokke aand het hy en beskuldigde 2 by die oorledenes se huis aangekom maar

9

Francina het gesê dat hulle later moes terugkom. Hulle het teen middernag teruggekeer en Francina het hom h piksteel gegee om hom teen die honde te beskerm. Sy het vir hulle die huis oopgesluit. Hy het die oorledenes in hul slaapkamer aangetret en toe Prof Kritzinger 'n vuurwapen onder sy kopkussing probeer uithaal, het hy hom met die piksteel geslaan. Daarna het mev Kritzinger opgespring en probeer wegkom en hy het haar drie houe van agter met die piksteel geslaan. Hy het daarna die goedere in die klagstaat vermeld, in die oorledene se voertuig gelaai en daarmee weggery.

Beskuldigde 2 het wel by die verhoor getuig en sy weergawe van die gebeure het toe in verskeie opsigte verskil van wat hy voorheen aan die landdros en aan Bouwer gesê het. Hy het getuig dat terwyl hy die betrokke aand saam met beskuldigde 1 vanaf Mamelodi na Meyerspark gestap het, laasgenoemde aan hom gesê het

10

dat hulle op pad was na Francina. Toe hulle by die oorledenes se huis kom, het beskuldigde 1 na Francina se kamer gegaan en hy het 'n lang tyd buite die perseel vir beskuldigde 1 gewag. Beskuldigde 1 het later teruggekeer en gesê dat hy vir Francina gekry het en dat hulle nog besig was om te praat. Beskuldigde 1 is weer terug na die woning. Toe beskuldigde 1 weer by hom kom, het hy 'n piksteel by hom gehad en hy het gesê dat hulle by die huis moes inbreek om Francina se goed te gaan haal. Beskuldigde 2 het geweier en hulle is toe na Francina se kamer sodat hy kon seker maak dat sy wel so 'n versoek gerig het. Toe hulle voor Francina se kamerdeur kom wou beskuldigde 1 nie toelaat dat hy ingaan om met Francina te praat nie. Hulle is toe na die woonhuis waar beskuldigde 1 'n ruit met die piksteel gebreek en deur die opening geklim het. Beskuldigde 2 het buite gewag. Toe hy sy hand deur

11

die gebreekte ruit steek om die gordyn weg te trek sodat hy kon sien wat binne gebeur, het hy sy vinger teen die gebreekte ruit gesny. Die wond het gebloei. Beskuldigde 1 het teruggekeer en hom van binne af gevra om die piksteel aan te gee, wat hy gedoen het. Beskuldigde 1 is weer die huis binne en na h lang ruk het hy 'n vrou hoor skreeu in die huis. Beskuldigde 2 het weggehardloop, maar toe beskuldigde 1 die voordeur oopsluit en hom roep, het hy saam met hom ingegaan. Hy het die oorledenes vol bloed op hul beddens aangetref. Beskuldigde 1 het verduidelik dat hy nie die mense met die piksteel wou slaan nie, maar dat hy die honde wou slaan. Beskuldigde 2 het daarna uitgegaan maar weer teruggekeer toe hy 'n vrou hoor skreeu. Hy het aan beskuldigde 1 gesê dat hulle liewer die plek moet verlaat. Toe die vrou aanhoudend begin skreeu het hy gehoor, maar nie gesien nie, dat

1 2.

beskuldigde 1 haar 'n laaste hou met die piksteel slaan. Hulle het toe die gesteelde goedere in die oorledenes se voertuig gelaai en weggery. Hy het 'n manshorlosie en h handsak uit die huis vir homself geneem.

Die Verhoorhof het die getuienis van beskuldigde 2 as vals verwerp en in sy uitspraak op die talle onwaarskynlikhede en weersprekings in beskuldigde 2 se getuienis gewys. Die Verhoorhof het die getuienis van Francina en haar man dat hulle geen deel aan die gebeure gehad het nie en onbewus was daarvan, aanvaar. Die Verhoorhof het bevind dat die bewese feite slegs een afleiding regverdig, naamlik dat beide beskuldigdes geweet het dat daar twee bejaarde persone in die huis woon en dat hulle daarheen gegaan het met die gemeenskaplike opset om hulle van hul geld en ander besittings te beroof. Hulle het weerstand verwag en aanvaar dat hulle geweld sou moes gebruik om

1 3.

die oorledenes buite aksie te stel ten einde hul doelwit te bereik. Toe huile die huis binnegaan, was een met die piksteel en die ander met die metaalgedeelte van die pik gewapen. Die een het Prof Kritzinger aangeval en die ander sy vrou.

Namens die twee beskuldigdes is in hierdie
Hof betoog dat die Verhoorregter, deur die wyse waarop
hy vir beskuldigde 2 in die loop van sy getuienis
ondervra het, 'n onreëlmatigheid begaan het wat die
nietigheid van die verrigtinge tot gevolg gehad het.
Die standaarde wat deur 'n regspreker gehandhaaf moet
word in sy ondervraging van 'n getuie, insluitende 'n
beskuldigde, en die perke waarbinne sodanige
ondervraging behoort te geskied, is al meermale in
uitsprake van hierdie Hof uiteengesit en is welbekend.
Sien onder andere S v Rall 1982(1) SA 828 (A) op 831A-
832H en die sake daar aangehaal; S v Sallem 1987(4)

1 4.

SA 772 (A) op 791B-792H en S v Maseko 1990(1) SASV 107(A) op 116e-ll9b.
Dit is nie voor ons betoog dat die Verhoorregter oormatig tussenbei getree het of vir beskuldigde 2 oormatig ondervra het nie. Dit is ook nie betoog dat hy inderdaad partydig vir die Staat of bevooroordeeld teen die beskuldigdes was nie. In hierdie saak gaan dit oor die uiterlike beeld van onpartydigheid of onbevooroordeeldheid aan die kant van die Verhoorregter (cf Dairy Board v Imperial Cold Storage and Supply Co Ltd 1977(3) SA 659 (A) op 669B). Die beswaar is wesenlik dat die Verhoorregter deur sy vrae en stellings aan beskuldigde 2 die indruk geskep het dat hy hom met die Staatsaak vereenselwig het en dat hy vooruit die juistheid van die Staatsaak aanvaar en die beskuldigdes se weergawes verwerp het en sodoende nie die vereiste onbevooroordeeldheid en

15.

onpartydigheid openbaar het nie.

Dit is 'n grondbeginsel van ons regspleging en
openbare beleid dat geregtigheid in ons howe nie alleen
moet geskied nie, maar dat dit ook duidelik gesien moet
word om te geskied. Daarom moet die regspreker
toesien dat sy onpartydigheid, sy onbevange oordeel en
sy billikheid vir alle betrokkenes duidelik is. Hy
moet hom gevolglik daarvan weerhou om 'n getuie of h
beskuldigde te ondervra op h wyse wat h ander indruk
kan skep. In S v Rall, supra, het TROLLIP WAR die
eerste van drie grondbeginsels vir regterlike
ondervraging as volg op 831H-832C gestel:-

"(T)he Judge must ensure that 'justice is done'. It is equally important, I think, that he should also ensure that justice is seen to be done. After all, that is a fundamental principle of our law and public

16.

policy. He should therefore so conduct the trial that his open-mindedness, his impartiality and his fairness are manifest to ali those who are concerned in the triai and its outcome, especially the accused (see, for example, S v Wood 1964(3) SA 103 (O) at 105G; Rondalia Versekeringskorporasie van S A Bpk v Lira 1971(2) SA 586 (A) at 589G; Solomon and Another NNO v De Waal 1972(1) SA 575 (A) at 580H). The Judge should consequently refrain from questioning any witnesses or the accused in a way that, because of its frequency, length, timing, form, tone, contents or otherwise, conveys or is likely to convey the opposite impression (cf Greenfield Manufacturers (Temba) (Pty) Ltd v Royton Electrical Engineering (Pty) Ltd 1976(2) SA 565 (A) at 570E-F; Jones v National Coal Board [1957] EWCA Civ 3; (1957) 2 All ER 155 (CA) at 159F)."

In die onderhawige saak is dlt ongelukkig duidelik dat die Verhoorregter sy regterlike plig om te sorg dat geregtigheid in sy hof gesien moet word om

17.

te geskied, nie nagekom het nie. Reeds vroeg gedurende beskuldigde 2 se kruisondervraging deur die advokaat namens die Staat stel die Verhoorregter dit aan beskuldigde 2 dat sy weergawe onmoontlik nie waar kan

wees nie en hy gaan dan soos volg aan :-

"Ek stel dit aan jou dat julle twee soontoe gegaan het doelbewus om die mense te gaan beroof en julle het ook verwag dat hulle teenstand sal bied en dit is daarom wat julle die piksteel saamgevat het in die huis in. Wat sê jy daarvan?"

Kort daarna herhaal die Verhoorregter hierdie aanvallende stelling in die volgende woorde :-

"O! ek sien. Nee, ek sal jou sê waarom jy nooit weggehardloop het nie. Ek moet dit aan jou stel billikheidshalwe, jy het nooit so iets gedoen nie, weggehardloop toe jy sien wat gebeur nie, want julle het 'n gemeenskaplike doel gehad om die oumense te

18.

beroof en te dood." en weer

"Nee, ek moet dit aan jou stel jy sien dat julle twee het die aand soontoe gegaan met die vooropgestelde doel om die oumense te gaan beroof. Julle het vir geld gaan soek en julle het goed geweet dat julle gaan teenstand ondervind en toe is dit daarom dat julle die piksteel saamgevat het en die oumense doodgeslaan het. Dit is die rede."

Die Verhoorregter het volgehou om op hierdie trant gedurende beskuldigde 2 se kruisverhoor aanvallende stellings aan hom te maak en het duidelik aan hom te kenne gegee dat hy sy weergawe nie glo nie. So het hy onder andere aan beskuldigde 2 gestel dat "julle was nie besig daar om die goed van Francina te gaan haal nie. Julle was daar met h heel ander doel"; en "Francina en haar man het lankal geslaap en julle was nooit naby die kamer van Francina gewees die aand nie"; en "maar ek sê net vir jou dit kan nie die

19.

waarheid wees dat beskuidigde 1 ooit vir jou so iets gesê het nie, want hy kon nooit 'n vuurwapen in besit gesien het van Mnr Kritzinger nie." Verder het hy prontuit aan beskuldigde 2 gesê dat sy weergawe "belaglik is"; "opgemaak is"; "'n bogstorie is"; "leuens is" en "nie kan waar wees nie".

Na my mening was die geheelindruk wat die Verhoorregter se ondervraging van beskuldigde 2 redelikerwys gelaat het, dat hy vooraf die juistheid van die Staatsaak aanvaar en die verdediging se weergawe verwerp en hom met die Staatsaak vereenselwig het, en dat hy nie langer die vereiste onpartydigheid en onbevange oordeel gehandhaaf het nie. Verder het die Verhoorregter, na my mening, deur sy ondervraging voormeld, tot die strydperk neergedaal en is sy vermoë om aan die einde van die saak die geskilpunte objektief te beoordeei, ernstig belemmer. (Cf Rall se

20.

saak, supra op 832B-D). Die onreelmatigheid wat die Verhoorregter begaan het deur die wyse waarop hy vir beskuldigde 2 ondervra het, geld eweneens vir sover dit die verhoor van beskuldigde 1 betref. Die aanvallende stellings wat die Verhoorregter aan beskuldigde 2 gemaak het, is net soseer van toepassing op die weergawe van beskuldigde 1 en die Staatsaak teen hom. Ook wat hom betref, was die geheelindruk wat die Verhoorregter se stellings gelaat het, dat hy reeds die saak teen hom beslis het en hom met die Staatsaak vereenselwig het.

Ingevolge die voorbehoudsbepaling tot art 322(1) van die Strafproseswet 51 van 1977 word 'n skuldigbevinding op grond van 'n onreelmatigheid in die verrigtinge slegs tersyde gestel indien "geregtigheid inderdaad nie geskied het nie." In S v Mushimba en Andere 1977(2) SA 829 (A) op 844H het RUMPFF HR daarop

21 .

gewys dat geregtigheid in hierdie sin die resultaat is
van verrigtlnge wat op 'n bepaalde manier geskied het

naamlik volgens die vereistes van die grondbeginsels

van reg en regverdigheid. Die vraag of verrigtinge

onreëlmatig of strydig met die reg was, in so 'n mate

dat die grondbeginsels nie nagekom is nie, sal afhang

van die omstandighede van elke geval en sal altyd 'n

oorweging van openbare beleid wees. In S v Rall,

supra, het TROLLIP WAR, met verwysing na 'n oorskryding

van die perke op regterlike ondervraging, die volgende

op 832H-833B gesê :-

"Now any serious transgression of the limitations just mentioned will generally constitute an irregularity in the proceedings. Whether or not this Court will then intervene to grant appropriate relief at the instance of the accused depends upon whether or not the irregularity has resulted in a failure of justice (see the proviso to s 322(1) of the Criminal Procedure Act 51 of 1977). That in turn depends upon whether or not the irregularity prejudiced the accused, or possibly whether or not this Court's

22.
intervention is required in the interests of public policy (cf S v Mushimba and Others 1977(2) SA 829 (A) at 844H). Of course, if the offending questioning of witnesses or the accused by the Judge sustains the inference that in fact he was not open-minded, impartial, or fair during the trial, this Court will intervene and grant appropriate relief (cf, for example, S v Meyer 1972(3) SA 480(A))."

Die gepaste regshulp wat aan h veronregte

toegestaan sal word, hang van die besondere
omstandighede van elke saak af. In S v Meyer, waarna
TROLLIP WAR in die laasaangehaalde passasie verwys, het
hierdie Hof bevind dat 'n streeklanddros die

beskuldigde so erg en dreigend ondervra het dat die

afleiding geregverdlg was dat hy inderdaad nie

onpartydig en billik was nie en is die verrigtinge

gevolglik nietig verklaar. Sonder om op die meriete

in te gaan, is die skuldigbevinding en vonnis tersyde

gestel en die prokureur-generaal was geregtlg om weer

aan te kla. In Rall se saak waar dit, soos in die

huidige saak, nie aangevoer is dat die Verhoorregter

23.

inderdaad partydig of bevooroordeeld was nie, het hierdie Hof bevind dat die Verhoorregter die appellant op h wyse ondervra het wat die toelaatbare perke ver oorskry en h onreelmatigheid daargestel het wat die appellant benadeel het. Hierdie Hof het daarna die Verhoorregter se nadelige geloofwaardigheidsbevindings verontagsaam en op die feite van die saak bevind dat die skuldigbevinding en vonnis tersyde gestel moet word. In S v Sallem, supra, het hierdie Hof bevind dat die landdros verskeie onreëlmatighede begaan het, onder andere deur nie te sorg dat geregtigheid in sy hof gesien word om te geskied nie (op 791B-I). In sy uitspraak het STEYN WAR dle volgende oor die uitwerking van die onreelmatighede gesê (op 792D-H):-

"Dat die meriete nie noodwendig oorweeg word by die bepaling van die effek van bewese onreëlmatighede nie, blyk ook uit die beslissings van hierdie Hof in S v Seheri en

24.

Andere 1964(1) SA 29 (A) op 36B-C, en S v Meyer 1972(3) SA 480 (A) op 484F. Of die meriete in so 'n geval oorweeg sal word al dan nie, sal afhang van die aard en omvang van die bewese onreëlmatighede.

In die onderhawige saak is elkeen van die
voormelde onreelmatighede so ernstig dat
gesonde regspleging (en dus ook geregtigheid)
reeds in elke geval in die gedrang kom.
Maar die kumulatiewe effek van almal van
hulle tesame is deurslaggewend en
vernietigend van die regsgeldigheid van
appellant se verhoor

Dit is na my mening so duidelik dat appellant ernstig en onherroeplik benadeel is en geregtlgheld weens die gesamentlike effek van die bogemelde onreelmatighede nie geskied het nie, dat die openbare beleid dit nie sal duld dat appellant se skuldigbevinding bly staan nie."

In Maseko se saak, supra, het hierdie Hof veral op grond van sekere stellings van die Verhoorregter aan die appellant tydens ondervraging ("ek moet dit aan jou

25.

stel ....), bevind dat die geheelindruk wat by die redelike aanhoorder kon bestaan het was dat die Verhoorregter bevooroordeeld was en hom vereenselwig het met die Staatsaak (op 118c-i) . EKSTEEN AR, wat die uitspraak van die Hof gegee het, gaan dan as volg verder op 118i-119a :-

"Waar die optrede van die Verhoorregter in hierdie opsig saamgeneem word met die ongelukkige openbaring van sy stygende ongeduld waarna ek reeds verwys het, meen ek dat die verrigtinge nie voldoen het aan die vereistes wat deur ons Howe gestel word vir 'n billike en regverdige verhoor nie - 'n verhoor waar reg en geregtigheid nie slegs geskied het nie, maar waar dit ook vir enige aanhoorder daarvan moes geblyk het dat dit wel geskied het. Die openbare beleid vereis dat dit as 'n onreëlmatigheid bestempel moet word wat per se die verrigtinge ongeldig maak. Dit is derhalwe onnodig om die meriete van die saak enigsins te oorweeg en die appellant kan dus ingevolge die bepalings van

26.
art 324 van die Strafproseswet 51 van 1977 weer aangekla word."

In die huidige saak is dit duidelik dat die onreëlmatigheid wat die Verhoorregter begaan het, beide beskuldigdes daadwerklik en wesenlik benadeel het. Die Verhoorregter se voormelde volgehoue aanvallende stellings het al die wesenlike elemente van sy uiteindelike uitspraak op die meriete bevat, en dit moes by die appellante die indruk gelaat het dat die Verhoorregter klaar besluit het en dat daar niks meer is wat hulle aan die saak kon doen nie. Die hele verdere verloop van die verhoor is waarskynlik daardeur nadelig geraak, onder andere beskuldigde 2 se vermoë om sy weergawe behoorlik oor te dra en enige moontlike besluit deur hom of beskuldigde 1 om verdere verdedigingsgetuienis aan te bied. Na my mening is die huidige geval so 'n growwe afwyking van die

27.

vereistes wat die grondbeginsels van reg en geregtigheid aan die verhoor stel, dat beslis moet word dat die beskuldigdes inderdaad nie behoorlik verhoor is nie.

Die appèlle slaag en die skuldigbevindings en vonnisse van elke beskuldigde word tersyde gestel.

W. VIVIER AR.

HOWIE Wn AR)

VAN COLLER Wn AR) Stem saam.