South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
1992 >>
[1992] ZASCA 231
| Noteup
| LawCite
S v Madule (59/92) [1992] ZASCA 231 (27 November 1992)
Download original files |
Saak Nr 59/92
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPéLAFDELING)
P A MADULE Appellant
en
DIE STAAT Respondent
CORAM: E M GROSSKOPF, GOLDSTONE, ARR, et VAN COLLER Wn AR
VERHOOR 10 November 1992
GELEWER: 27 November 1992
UITSPRAAK
2 E M GROSSKOPF, AR
Ek het die uitspraak van VAN COLLER WnAR gelees. Met enkele uitsonderings, wat ek hieronder behandel, stem ek saam met wat hy sê oor die aanwesigheid van strafversagtende en -verswarende faktore. Ek verskil egter van hom oor die uiteindelike vraag of die doodvonnis "die gepaste vonnis" ingevolge artikel 277 (2) (b) van die Strafproseswet, no. 51 van 1977, is.
Ter aanvang is dit miskien wenslik om weer te kyk
na die nou reeds geykte beginsels wat by die oplegging van
die doodvonnis toegepas word. In die onderhawige geval is
daar strafversagtende sowel as -verswarende faktore. In S.
v. Nkwanyana and Others 1990(4) SA 735 (A) het hierdie hof
gesê (op bl. 745 C-F):
"And when both mitigating and aggravating factors are present, their respective force or significance will have to be weighed in order to determine whether the death sentence is the proper one. In doing this I agree with the view of E M GROSSKOPF
3
JA in S v Senonohi (supra at pp 18-19) that regard will be had to the main purposes of punishment, namely deterrent, preventive, reformative and retributive. This means that in deciding whether the death sentence is the proper one, consideration will be given to whether these objects cannot properly be achieved by a sentence other than the death sentence (generally a lengthy period of imprisonment). If they can, then the death sentence will not be passed. This is because 'the proper sentence' (unlike 'a proper sentence') must be interpreted to mean 'the only proper sentence'. It follows that the imposition of the death sentence will be confined to exceptionally serious cases; where (in the words of NICHOLAS AJA in S v F 1989(1) SA 669 (A) at 682D, albeit in a different context) 'it is imperatively called for'."
Die doodvonnis moet dus slegs opgelê word in sake van uitsonderlike erns - "where ... 'it is imperatively called for'" in die lig van die oogmerke van strafoplegging, t.w. voorkoming, vergelding, afskrikking en hervorming (sien ook S. v. Senonohi [1990] ZASCA 93; 1990 (4) SA 727 (A) op bl. 734 F-H).
In die onderhawige geval is daar, soos VAN COLLER WnAR opmerk, 'n sterk versagtende faktor in appellant se guns, t.w. dat hy geen vorige veroordelings het nie. Verder is daar sy jeugdigheid. In S. v. Lehnberg en 'n Ander
4
1975(4) SA 553 (A) op bl. 561 A-B het hierdie hof die
volgende gesê:
"Wat die probleem van versagting betref, behoort na my mening tienderjariges in die algemeen as onvolwasse beskou te word, en derhalwe geregtig op versagting, tensy die omstandighede van die saak van so 'n aard is dat 'n Hof homself genoop voel om die doodvonnis op te lê. Vanselfsprekend is daar grade van volwassenheid by tienderjariges, maar uiteraard het geen tienderjarige die rypheid van 'n volwassene nie. Jeugdigheid is onvolwassenheid, gebrek aan lewenservaring, onbesonnenheid, en veral 'n geestestoestand van vatbaarheid vir beïnvloeding, veral deur volwassenes. En 'n persoon van 18 of 19 jaar is, volgens my mening, onvolwasse of hy nog op skool of universiteit is, en of hy reeds 'n jaar of wat gewerk het. Om jeugdiges, sonder meer, met die dood te straf, is om die jeugdige met die maat te meet waarmee 'n rype volwassene gemeet word. En ek dink ook nie dat die regspleging van 'n beskaafde Staat begerig is om, behalwe in buitengewone omstandighede, tienderjariges te laat ophang nie."
Wat die appellant in die onderhawige geval betref,
weet ons wesentlik niks omtrent sy persoonlikheid en
agtergrond nie, behalwe dat hy 'n eerste oortreder is, dat hy
die ernstige misdade gepleeg het waarvan hy aangekla is, en
dat hy twee kinders het. Laasgenoemde is egter ten beste 'n
5
neutrale faktor - die verwekking van kinders is nie op sigself 'n aanduiding van rypheid nie, maar is dikwels eerder die gevolg van jeugdige voortvarendheid en
onverantwoordelikheid. Waar die bewyslas op die Staat berus om die afwesigheid van versagtende faktore te bewys, is daar dus niks, behalwe die pleging van die misdade self, om aan te dui dat die appellant ten spyte van sy jeugdigheid ter dood veroordeel behoort te word nie. Sien S. v. Dlamini 1992(1) SA 18 (A) op bl. 29 J - 30 B, en S. v. Bosman 1992(1) SASV 115 (A) op bl. 119 i - 120 h.
Dit bring my dan by die aard en erns van die misdade. Dit spreek vanself dat die moord op die oorledene 'n snode daad was wat om vergelding roep. Die howe beskou dit altyd as ernstig wanneer 'n bejaarde persoon op 'n betreklik afgeleë plaas vermoor word. Sodanige misdade is egter nie altyd ewe ernstig nie. In die onderhawige geval is daar geen aanduiding dat die misdaad voorafbeplan was nie. Dit was nie 'n geval, soos ongelukkig meermale voorkom, waar
6
'n klompie gewapende mense gaan om 'n rooftog te pleeg nie. Daar is geen getuienis dat die appellant die ysterpyp, waarmee die moord gepleeg is, saam met hom geneem het nie. Sy eie getuienis is dat hy dit by die toneel opgetel het, en daar is niks om hom te weerspreek nie. Dan het hy die oorledene net een hou toegedien. Hierdie hou was natuurlik genoeg om die oorledene se dood te veroorsaak, maar ek vind dit moeilik om bo redelike twyfel te aanvaar dat die appellant die direkte opset gehad het om die oorledene te dood. Ek sou nie verwag dat die appellant sou geweet het wat die verskil in graad is tussen 'n hou wat bewusteloosheid veroorsaak en een wat noodlottig is nie. Natuurlik, ten beste vir hom was dit 'n slegte geval van dolus eventualis, maar ek dink nie dit was enigiets meer nie.
Die appellant se optrede ná die moord was natuurlik afskuwekkend, maar ek meen nie dat dit enigsins van rypheid getuig nie. Dat hy nie deur onbeteuelde bloedlus gedryf was nie, blyk daaruit dat hy die klaagster lewend gelaat het om
7
later teen hom te getuig. Ek kan dus ook nie saamstem dat sy optrede doelgerig en berekenend was nie. Die aanranding op die oorledene kon heel moontlik impulsief geskied het, en die appellant se verdere gedrag kom vir my voor as doelloos en sinneloos. Ek kan dus nie uit sy optrede aflei dat hy ryp vir sy jare was nie.
VAN COLLER WnAR verwys na die saak van Lukas Mofokenq v. Die Staat. Daarin word gesê dat 'n 19-jarige misdadiger nie ter dood veroordeel sal word behalwe in buitengewone omstandighede nie. Dit is geykte reg dat die doodvonnis oor die algemeen opgelê word slegs in sake van uitsonderlike erns. Wanneer 'n hof met tienderjariges te doen het, sou daar dus in die meeste gevalle nie 'n doodvonnis opgelê word nie, al is die moord in ander opsigte 'n besonder ernstige een. Om 'n formule te probeer bepaal oor presies hoe ernstig 'n moord moet wees voordat 'n 19-jarige nogtans ter dood veroordeel kan word is 'n onbegonne taak. Daar bly skaars byvoeglike naamwoorde oor om die graad
8
van uitsonderlikheid uit te druk, veral as die appellant ook nog 'n eerste oortreder is. Hoewel daar ernstige verswarende faktore in die onderhawige saak aanwesig is, meen ek nie dat die moord onder al die omstandighede so uitsonderlik ernstig was dat dit die doodvonnis as enigste gepaste vonnis verg nie.
Ten slotte moet ek oorweeg wat 'n gepaste vonnis sou wees. Die vereistes van vergelding en afskrikking moet natuurlik beklemtoon word. Na my mening sal 'n tydperk van 25 jaar gevangenisstraf genoeg hiervoor wees. Dit sal beteken dat die appellant 'n vonnis opgelê word wat langer is as sy hele lewe tot dusver. Die afskrikkingswaarde hiervan kan skaars betwyfel word. Aan die ander kant word die moontlikheid van hervorming of rehabilitasie nie totaal genegeer nie. Op hierdie manier sal daar myns insiens 'n behoorlike balans getref word tussen die erkende doelwitte by strafoplegging.
9
Die volgende bevel word dus uitgereik:
Die appèl word gehandhaaf en die doodvonnis op aanklag 1 tersyde gestel.
In plaas van die doodvonnis word 'n vonnis van 25 jaar gevangenisstraf opgelê wat gelas word om saam te loop met die vonnisse opgelê ten opsigte van aanklagte 2, 3 en 4.
E M GROSSKOPF, AR
GOLDSTONE, AR Stem saam
SAAKNOMMER: 59/92 J VD M
IN DIE HOQGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPéLAFDELING)
In die saak tussen:
PETRUS ANTON MADULE Appellant
en
DIE STAAT Respondent
CORAM: E M GROSSKOPF, GOLDSTONE, ARR et
VAN COLLER, WnAR
VERHOORDATUM: 10 NOVEMBER 1992
LEWERINGSDATUM: 27 NOVEMBER 1992
UITSPRAAK
VAN COLLER, WnAR:
Appellant is op 6 Februarie 1992 te Bethlehem deur Van Coppenhagen R en twee assessore skuldig bevind aan
2
moord, en ter dood veroordeel. Hy is ook skuldig bevind aan huisbraak met die opset om te roof en roof (aanklag 2), verkragting (aanklag 3) en brandstigting (aanklag 4). Op aanklag 2 is appellant tot vyf jaar en op aanklag 3 tot vyftien jaar gevangenisstraf gevonnis. Op die vierde aanklag is appellant gevonnis tot tien jaar gevangenisstraf. Dit is beveel dat vyf jaar van laasgenoemde vonnis, asook die vyf jaar gevangenisstraf ten aansien van die tweede aanklag opgelê, saamloop met die vonnis wat op aanklag 3 opgelê is. Appellant het slegs teen die doodvonnis appél aangeteken.
Die gebeure wat tot die klagtes aanleiding gegee het, het plaasgevind op 23 Julie 1991 op die plaas Bella Vista in die distrik van Petrus Steyn. Aangaande die gebeure het die Staat hoofsaaklik gesteun op die getuienis van mev Anna Maria Keyter. Volgens haar getuienis het sy en haar man, mnr Gabriel Stephanus Petrus Keyter, ("die oorledene") vir ongeveer 30 jaar op
3
die plaas gewoon. Hulle was gedurende Julie 1991 reeds 43 jaar getroud. Die oorledene was toe 76 en sy 73 jaar oud. Die oorledene het hoofsaaklik met beeste geboer en hy het sy boerdery sonder enige hulp behartig. Die geleerde verhoorregter het die getuienis van mev Keyter aangaande die gebeure soos volg in sy uitspraak uiteengesit:
"Op 23 Julie 1991 is die oorledene per motor-bakkie na Heilbron vir besigheid: besigheid wat behels het dat hy ' n huis gekoop het. Sy het alleen op die plaas agtergebly. Om ongeveer vieruur die namiddag het die oorledene teruggekeer en was die beskuldigde, 'n persoon wat sy ongeveer 5 of 6 jaar vantevore net in die verbygaan op die plaas gesien het, saam met die oorledene. Nadat die oorledene die motor-bakkie in die garage gestoor het, het hy die huis ingegaan en hom verklee, terwyl die beskuldigde op die stoep gewag het. Die oorledene het ligte versnaperinge van die hand gewys, en gesê dat hy eers die beeste wou versorg. Sy het gesien hoe die oorledene en die beskuldigde die vee gaan haal en na die kraal, waar die groot vee van die kalwers geskei het, gebring het. Die oorledene en die beskuldigde het daarna die
4
koeie na die sogenaamde 'onderste kamp' gejaag. In die kombuis het sy kos op die koolstoof voorberei. Op 'n stadium toe sy aartappelskille in 'n plastiese emmer met 'n mes wou inkrap, het sy gehoor hoe die sifdeur wat voor die buitedeur van die kombuis aangebring is vinnig oopgaan. Die wyse waarop die deur oopgemaak is was vir haar ongewoon, en sy het opgekyk en gesien hoe die beskuldigde die sifdeur na buite oopmaak, die buitedeur van die kombuis na binne oopmaak, en hoe hy met 'n mes op haar afstorm. Die beskuldigde het gesê dat hy haar met die mes sal steek, en het terselfdertyd die mes wat sy in haar hand gehad het uit haar hand gegryp. Sy het getuig dat sy haar nie kon teësit nie, omdat sy nie oor die krag beskik om haar teë te sit nie. Terloops die klaagster is opvallend 'n tenger vrou en is sy ook aldus beskryf deur dr Robbertze.
Die beskuldigde het haar daarna aan die arm geneem, deur die spens na die slaapkamer. In die slaapkamer het die beskuldigde die kaste oopgemaak en deurgekyk. Die beskuldigde het haar daarna, weereens deur die spens, met die gang, na die hoofslaapkamer geneem. Hy het haar eers op die bed gegooi, haar klere en in besonder haar langbroek en damesbroek afgetrek en haar verkrag. Nie tevrede met sy pogings op die bed nie, het hy haar op die vloer neergegooi en voortgegaan om volle geslagsomgang te hê. Na die verkragting, getuig sy, het sy met moeite opgestaan en op
5
die spieëlkas gaan sit en waargeneem hoe die beskuldigde al die goedere, met uitsondering van die radio, in die Aanhangsel tot klagte 2 in die klagstaat uiteengesit, in 'n drasak sit. Die radio/kassetspeler het hy langs die drasak in die gang neergeplaas. Die beskuldigde het vir haar gevra waar vuurhoutjies is, en haar aan die hand die gang afgeneem. In die gang het die beskuldigde die telefoon se gehoorstuk van die drade afgeruk en daarna voortbeweeg na die kombuis. In die kombuis het die beskuldigde haar hand gelos en sy het tot in die sitkamer, waarvan sy die deur gesluit het, gevlug. Sy het haarself gaan verskuil agter 'n bank in die sitkamer. 'n Lang tyd daarna het sy 'n geweldige slag gehoor en toe sy kyk sien sy dat die bank waaragter sy geskuil het besig was om te brand. Toe sy die vlamme van hierdie bank wou blus, het sy die beskuldigde by haar in die sitkamer met 'n brandende karton en papiere gesien. Die beskuldigde het weggestap en sy het gesien dat die hoofslaapkamer brand en dat die voordeur van die huis oopstaan. Sy het uitgegaan en op die stadium toe sy van die stoep afklim het die beskuldigde gesê dat hy haar met die mes sal steek, en nog later dat hy haar sal skiet. Toe sy, die dreigemente ten spyt, aanhou loop, het die beskuldigde haar teen die kop geskop en geklap; dit nadat die hond weggehardloop het toe sy die hond op die beskuldigde aangehits het. Die beskuldigde het omgedraai, na die voordeur gegaan en sy het ontvlug en haar eers verskuil. Sy het later na haar bure, die
6
Lindes, ongeveer 2 kilometer vanaf die opstal gevlug. Sy het die lys van die goedere wat deur die brand verwoes is, Bewysstuk B, bevestig. Die beraming van die skade veroorsaak deur die brand, volgens Bewysstuk B, is meer as R200 000,00."
Die stelling in die uitspraak dat mev Keyter die appellant vyf of ses jaar vantevore op die plaas gesien het, is foutief. Volgens die getuienis het sy hom vyf of ses dae voor die gebeure gesien.
Die ondersoekbeampte in die saak, adjudant-offisier Meiring van die SAP, het op 24 Julie 1991 na die oorledene se plaas gegaan. Hy het getuig dat die plaashuis heeltemal afgebrand het. Hy het die liggaam van die oorledene in die veld gevind nie ver van die opstal nie. Langs die oorledene in die gras was 'n ysterpyp, bewysstuk 14. Dit is 90cm lank met 'n deursnee van 25mm en het l,39kg geweeg. Volgens die mediese getuienis het stompgeweld op die posterior
7
gedeelte van die nek met 'n nekfraktuur en spinaalkoord-besering die oorledene se dood veroorsaak. Dit is gemene saak dat appellant die oorledene met bewysstuk 14 teen die nek geslaan het. Die geneesheer wat die nadoodse ondersoek gedoen het, het getuig dat in die lig van die beserings wat gevind is, hy die mate van geweld wat gebruik is "tussen erg en gewelddadige krag" sou beskryf. Die oorledene sou onmiddellik nadat die hou toegedien is bewusteloos geraak het en binne vyf minute gesterf het. Die geneesheer was van mening dat slegs een hou toegedien is, en dat die toediener langs of agter die oorledene moes gestaan het.
Appellant het ook by die verhoor getuienis afgelê. Hy het getuig dat hy vroeër die betrokke dag op die plaas aangekom het en dat hy die oorledene gehelp het om goedere na Heilbron te vervoer. Hy het weer saam met die oorledene teruggekeer na die plaas en hom gehelp met die beeste. Appellant het erken dat hy
8
bewysstuk 14 met albei hande vasgehou het toe hy die oorledene geslaan het en dat hy baie hard geslaan het. Volgens appellant het hy die oorledene geslaan omdat laasgenoemde hom nie die R10,00, wat hy hom aangebied het vir die pleeg van 'n onsedelike daad, wou betaal nie. Hy sou ook tydens die pleging van die daad seergekry het. Appellant het getuig dat hy die oorledene nie wou doodgemaak het nie en dat hy "geskrik was" toe hy geslaan het. Hy het ontken dat hy mev Keyter verkrag het maar het beweer dat hy gemeenskap met haar toestemming gehad het. Die goedere wat hy geneem het, het hy volgens sy getuienis nie geroof nie, maar mev Keyter het dit aan hom gegee. Appellant het ook ontken dat hy die huis aan die brand gesteek het.
Die verhoorhof het appellant se getuienis aangaande die rede waarom hy die noodlottige hou toegedien het, asook sy getuienis op die ander klagtes, as vals verwerp. Sy getuienis dat hy nie bedoel het om
9
die oorledene dood te slaan nie, is deur die verhoorhof as onhoudbaar bestempel. Wat die opset om te dood betref, word die verhoorhof se bevinding soos volg deur die geleerde verhoorregter uiteengesit:
"Ons bevind dat op die totaliteit van die getuienis die beskuldigde bedoel het om die oorledene op die nek te slaan en dat hy besef het dat die geweld waarmee hy die hou toegedien het die dood moet intree."
Appellant is op 3 Maart 1972 gebore en hy was dus ten tye van die pleging van hierdie misdade 19 jaar en 4 maande oud. Hy het tot standerd 6 op skool gevorder en het in 'n landelike omgewing grootgeword. Hoewel appellant nog 'n jong man is, is hy reeds die vader van twee kinders. Appellant het geen vorige veroordelings nie.
Die nuwe benadering ten aansien van die doodvonnis en die taak van hierdie Hof in verband
11
op die nek te slaan nie, kon hy slegs bedoel het om hom teen die kop te slaan. Hy sou beswaarlik die oorledene buite aksie kon stel deur hom op sy rug of skouers te slaan. Indien die aard van die wapen, die plek waar en die geweld waarmee die hou toegedien is in aanmerking geneem word, is dolus directus na my oordeel bo redelike twyfel bewys. Die verhoorhof se bevinding in die verband, is soos blyk uit die gedeelte van die uitspraak aangehaal, nie heeltemal duidelik nie. Selfs indien slegs opset by moontlikheidsbewussyn aanwesig was, was die voorsienbare moontlikheid dat die dood sou intree in elk geval so groot dat dit nie in hierdie saak as strafversagtende faktor in aanmerking geneem kan word nie.
'n Sterk versagtende faktor in appellant se guns is die feit dat hy geen vorige veroordelings het nie. Die hof a quo het ook die jeugdigheid van appellant as 'n strafversagtende faktor in aanmerking geneem. In
12
Lukas Mofokeng v Die Staat, saak nr 214/1991, 'n ongerapporteerde beslissing van hierdie Hof gedateer 14 September 1992, verwys beide Botha AR en Goldstone AR in verband met jeugdigheid as strafversagtende faktor na S, v Dlamini 1992 (1) SA 18 (A) op 31G-H, en sê Botha AR die volgende op bladsye 12 en 13:
"Maar, soos blyk uit S v Dlamini 1992 (1) SA 18 (A) op 31G-H (die passasie word in die uitspraak van my kollega aangehaal), die jeugdigheid van 'n oortreder, al sou dit nie as 'n strafversagtende faktor per se beskou word nie, bring nogtans mee dat die hof traag is om die doodstraf op te lê. Ek aanvaar dat 'n 19-jarige misdadiger nie ter dood veroordeel sal word behalwe in buitengewone omstandighede nie. Ek is egter van oordeel dat daar in die huidige saak wel buitengewone omstandighede aanwesig is. Daardie omstandighede is geleë in die grusaamheid van die appellant se optrede, wat aanduidend is van 'n verwronge en boosaardige geestesgesteldheid."
Dit is vervolgens nodig om na die strafverswarende
13
omstandighede te verwys en te oorweeg of daar in die onderhawige saak wel buitengewone omstandighede aanwesig is. Hierdie is weereens een van die sorgwekkend baie gevalle waar bejaarde mense op 'n plaas aangeval is en 'n weerlose ou man van 76 jaar op lafhartige en koelbloedige wyse vermoor is. Die enigste redelike afleiding wat gemaak kan word, is dat die oorledene aangeval is ten einde hom te beroof. Dit is duidelik dat die aanval beplan was en die verhoorregter sê tereg in sy uitspraak dat die aanval op die oorledene nie 'n impulsiewe daad was nie. Dit kan nie bepaal word presies wanneer die plan om die oorledene aan te val en te beroof by appellant ontstaan het nie, maar dit is ook nie nodig nie. Die f eit dat appellant, nadat hy die oorledene vermoor het, sy vrou verkrag en die plaashuis afgebrand het kan nie in aanmerking geneem word by die oorweging van die vonnis op die moordklagte nie. Appellant is daarvoor afsonderlik gestraf en daar moet
14
gewaak word teen die gevaar van 'n verdubbelling van vonnis. Sien S v S 1991 2 SA 93 (A) op 103H-105B. Hierdie optrede is egter aanduidend van ongevoeligheid en 'n laakbare en kwaadwillige geestesgesteldheid wat wel deeglik relevant is by die oorweging van die vraag of daar in hierdie saak spesiale omstandighede aanwesig is. Dit kan dus vir dié doel in aanmerking geneem word. Mev Keyter is 'n tenger vrou wat 73 jaar oud is. Sy kon vir appellant geen bedreiging hoegenaamd ingehou het nie. Die wyse waarop appellant teenoor haar opgetree het en haar geterroriseer het was gevoelloos en boos. Die getuienis openbaar geen ander motief vir die afbrand van die plaaswoning as sinnelose kwaadwilligheid nie. Hierdie optrede kan nie toegeskryf word aan jeugdige onbesonnenheid nie maar getuig van 'n verdorwe persoonlikheid. Appellant het nie gehandel onder invloede van buite of van 'n ouer persoon nie. Die
15
motief was roof en hier was geen provokasie of ander faktore wat emosies kon laat opvlam nie. Appellant is die vader van 2 kinders en hy is betreklik volwasse. Sy optrede was doelgerig en berekenend wat nie te rym is met onvolwassenheid nie. Die jeugdigheid van appellant in die lig van al die omstandighede is na my oordeel nie opsigself 'n oorweging wat die doodstraf onvanpas sou maak nie.
Ten slotte moet oorweeg word of, met inagneming van die strafversagtende en -verswarende faktore, die doodstraf die enigste gepaste vonnis is. Die moontlikheid van rehabilitasie kan sekerlik nie heeltemal uitgeskakel word nie. Hierteenoor kom die belang van die gemeenskap en die elemente van afskrikking en vergelding by straftoemeting sterk na vore wanneer 'n weerlose bejaarde op 'n afgesonderde plaas in die loop van 'n rooftog vermoor is. Optrede soos dié van appellant is iets wat vir die gemeenskap
16
verderflik is. Na my mening is hierdie 'n geval van sulke uitsonderlike erns dat die doodstraf die enigste gepaste straf is vir die moord wat appellant gepleeg het. Ek sou die appél van die hand wys.
A P VAN COLLER WAARNEMENDE APPèLREGTER