South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1992 >> [1992] ZASCA 233

| Noteup | LawCite

S v Dumpies (442/91) [1992] ZASCA 233 (27 November 1992)

Download original files

PDF format

RTF format


CG SAAKNOMMER: 442/91

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPéLAFDELING)

In die saak van:
ADRIAAN DUIMPIES Appellant
en
DIE STAAT Respondent

CORAM: HEFER, F H GROSSKOPF et VAN DEN HEEVER ARR AANGEHOOR: 23 NOVEMBER 1992 GELEWER: 27 NOVEMBER 1992

UITSPRAAK VAN DEN HEEVER AR

2

Hierdie appél dien voor ons uit hoofde van verlof daartoe deur hierdie hof en gaan slegs oor vonnis.
Appellant is op 30 Augustus 1989 skuldig bevind deur Lategan R en assessore aan moord met versagtende omstandighede en gevonnis tot 15 jaar gevangenisstraf.
Die moord was bisar soos ook die agtergrond waarteen dit gepleeg is. Appellant is vir praktiese doeleindes blind. Hy het een kunsoog en die gesig van die ander is minimaal. Sy verlies is ongeveer 14 jaar voor die gebeure waaroor getuig is by die verhoor veroorsaak in die loop van sy werk as sweiser. Hy het 'n ongeskiktheidstoelae van die Staat ontvang.
In Junie 1988 het hy gebly by Keeromstraat 185, Eersterivier. Volgens Louisa Adams was dit haar moeder se huis, maar het sy, Louisa, die huishouding waargeneem. (Dat sy dit gedoen het, is deur appellant betwis. Hy beweer dat sy in Khayelitsha bly en slegs

3

daar by haar moeder kuier wanneer dit betaaldag vir welsynstoelaes is.) Behalwe Louisa self, indien sy wel daar bly, weet ons van die volgende inwoners: Louisa se houman (of volgens appellant, dan, vorige houman) Solly Adams wat 'n huisbewoner was, hulle kind Goliath Adams, oud ongeveer 15 jaar; Sandra Crotz, die kind van Louisa se suster Sylvia; Miriam Crotz, die dogter van Johannes Coater, ook bekend as Tiger; en appellant. Hy het vroeër vir jare met Sylvia as man en vrou by dié gesin Crotz ingewoon. Hoewel sy reeds van 'n ander man met Sandra swanger was toe hulle verhouding begin, het hy dié kind as sy eie aanvaar. Appellant se verhouding met Sylvia het tot 'n einde gekom en hy is daar weg en sy blykbaar ook inmiddels, maar hy het met tussenposes, die laaste keer ongeveer sewe maande vroeër, weer teruggekom. Hy sê hy het agter "sy kind" aangetrek. Aanvanklik het hy en Goliath in die kombuis geslaap, maar in die begin van Junie 1988 het hy uitgetrek na 'n hokkie buite, wat net die breedte van die deur is en 2
4 meter lank. In die derde week van Junie het Goliath Saands by hom daar aangesluit. Gedurende die vroeë oggend van Donderdag 23 Junie het appellant vir Goliath in die hokkie keelafgesny, waarna hy hom by die polisie wou aanmeld. Op pad het hy 'n aankomende voertuig gestop, wat toevallig juis dié was van polisie op patrollie in die buurt. Hy het 'n bebloede mes aan hulle oorhandig en die adres waar hy iemand gedood het, verstrek. Die polisie het hom opgelaai en is na die perseel. Oorledene het op sy linker sy gelê, maar met sy gesig na bo. Komberse was oor sy kop getrek. Toe dit weggetrek word sien konstabel Du Raan dat bloed nog by sy strottehoof uitpomp. Hy was ten volle geklee. Appellant het na drank geruik, maar nie geslinger of merkbaar abnormaal gepraat nie. Om ongeveer 3 vm is hy na die distriksgeneesheer geneem vir die trek van 'n bloedmonster. Dit het getoon dat die konsentrasie alkohol in sy bloed 0,2 was.

Op die toneei het hy 'n verklaring aan

5 speurder-sersant Cloete gemaak. Hy het dieselfde dag 'n verklaring voor 'n landdros afgelê wat ingehandig is by die verhoor as bewysstuk C. Sersant Cloete het aan hom uitgewys dat dit in sommige opsigte nie strook met wat hy mondelings op die toneel aan Cloete gesê het nie, of wat die polisie in die hokkie gesien en die oggend gefotografeer het. Appellant het toe 'n verdere verklaring afgelê, bewysstuk E. Op 16 Augustus 1988 het hy in die landdroshof by verrigtinge ingevolge a 119 van die Strafproseswet nr 51 van 1977 skuldig gepleit op 'n aanklag van strafbare manslag. Sy antwoorde op ondervraging is bewysstuk D. Hy is mettertyd meegedeel dat die prokureur-generaal besluit het om hom in die Hooggeregshof aan te kla vir moord, en toe die saak uitgestel is in afwagting van 'n Hooggeregshof datum, het hy sy vorige erkenning dat hy Goliath se dood veroorsaak het, verloën. Hy het in sy getuienis by die verhoor verduidelik dat persone waar hy verhoorafwagtend aangehou is, hom bang gepraat het vir "die tou", daarom
6 het hy skielik ontken dat hy oorledene se dood veroorsaak het. By die verhoor het hy nog verdere weergawes gegee van die gebeure wat oorledene se dood voorafgegaan het. Nadat hy skuldig bevind is, het hy nie verdere getuienis aangebied nie.
Die verhoorhof het by monde van Lategan R, versagtende omstandighede bevind wat as volg uiteengesit kan word.

1.Sy fisiese gebrek het waarskynlik groot frustrasie veroorsaak.
2.Dit is waarskynlik dat appellant wel geglo het -

(a) dat Solly hom met geld kul;

(b)dat Solly die meisie, Miriam, met wie hy graag 'n verhouding wou gehad het, "self bygekom het";
(c)dat Solly hom wou slaan en soos 'n slaaf behandel het;
(d)dat hy die betrokke aand bedreig

7 word.

3. Sy drankinname het sy selfbejammering as veronregte verhoog en sy oordeelsvermoë aangetas.
4. Sy optrede was impulsief en nie vooraf beplan nie.

Die verhoorhof uiter die siening dat wat

appellant geglo het soos in paragraaf 2 gelys, "gewaande
griewe is, dat dit nie regtig in werklikhede gefundeer
kan word nie" en sê verder

"Dit is egter vir ons terselfdertyd ook tipies van 'n mens wat nie altyd rondom hom kan sien nie dat klein dingetjies soms opgeblaas word in sy eie gemoed vanweë die frustrasie om nie te kan sien en self te ervaar wat rondom hom aangaan nie, dat so 'n mens soms feitlik paranoïes suspisieus oor die motiewe van ander mense kan raak. Ons sou bly gewees het as daar miskien sielkundige of psigiatriese getuienis in hierdie verband aan ons voorgehou kon word want ... dit (is) ... nie ondenkbaar ... dat 'n persoon met so 'n gebrek vanweë die frustrasies om nie te kan sien nie eventueel vol vrese en vol suspisies teenoor almal met wie hy moet saamlewe rondloop."

Na hierdie formele bevinding dat versagtende
8

omstandighede wel bestaan, het Lategan R met oplegging van vonnis gesê

1.dat die hof "die bodem van die vat geskraap het om vir jou versagtende omstandighede te vind";
2."Jy is 'n groot man van 37 jaar oud. Jy het dit gedoen nie omdat jy werklik veronreg was nie, maar omdat jy waanbeelde van veronregting in jou gemoed gedra het. Daar is iets baie ernstig skeef in jou gees en ek is eintlik bang noudat jy bewys het dat jy in staat is om so iets aan 'n kind te doen, dat ek vir jou nie weer te gou loslaat in die gemeenskap nie. Dit spruit uit jou hele benadering vanweë jou gebrek en as jy dan drank daarby neem, dan kan jy dalk weer so iets doen. Ons het getuienis dat jy geneig is tot moeilikheid maak. Daar is baie boosheid in jou optrede. 'n Mens kan vir jou jammer wees omdat jy 'n gesigsgebrek het maar verder dink ek is niemand vir jou jammer nie want jy het werklik die hand wat jou gevoed het, wat jou getroos het en wat jou vertroetel het en jou gehelp het in jou blindheid, gebyt met 'n verskriklike boosheid deur hulle kind dood te maak, iets wat geen reggeaarde mens ooit kan goedkeur nie";
3.dat hy nie die werklike rede waarom hy die seun gedood het openbaar het nie, wat - tesame met die feit dat hy nooit spyt uitgespreek het
9 teenoor oorledene se ouers nie - 'n gebrek aan berou toon.

Dit blyk reeds uit die aanhaling uit die uitspraak ten aansien van versagtende omstandighede dat paragraaf 2 hierbo met betrekking tot vonnis 'n ernstige wanvoorligting bevat. Die verhoorhof se teorie oor appellant se beweerde persoonlikheidsprobleme wat noop dat hy lank aangehou moet word omdat hy 'n gevaar in die samelewing beskou moet word -

(1) is nie gegrond op enige deskundige getuienis nie, en nie iets waarvan geregtelike kennis geneem kan word nie;
(2) word nie geregverdig nie, as 'n noodsaaklike afleiding van die aangevoerde getuienis soos bedoel in S v BLOM 1939 AD 188.

Dit was nie nodig vir doeleindes van skuldigbevinding om die getuienis van die staatsgetuies noukeurig te ontleed nie. (Appellant het erken dat hy die seun se dood wederregtelik veroorsaak het en geweet
10 het wat hy doen. ) Die verhoorhof het dit eintlik op geen stadium gedoen nie, en slegs gesê dat die staatsgetuies hom gunstig beïndruk het en appellant 'n reeks verskillende weergawes gegee het van die gebeure van die aand, nie een waarvan hom verontskuldig nie. Die hof was moontlik gesus deur die feit dat appellant 'n swak getuie was.
Dat appellant bont - en baie - gepraat het, is gewis. Afgesien van sy vele verklarings, antwoord hy nooit een vraag met 'n enkele antwoord nie, maar praat aan, en aan, onstuitbaar en te oordeel na protes van die regbank, dikwels ook onhoorbaar. Dat hy self so gekoester is soos die verhoorregter opmerk, en die ander huismense sulke Samaritane was, is egter glad nie 'n uitgemaakte saak nie.

Dit was maar 'n rowwe huishouding, hoewel die lede daarvan wat vir die Staat getuig het, hulle vroom voorgedoen het. Sandra Crotz en altwee die ouers van oorledene het vertel dat appellant in die verlede

11

gewelddadig opgetree het, vir sy vorige houvrou, Sylvia, met 'n mes gesteek het, by sy ander blyplekke ook moeilikheid gemaak het - "steek mes, dan bring die mense hom weer terug" - vir Solly Adams ook teen die nek gesteek het, en hom wou doodmaak. Appellant se SAP 69 toon egter slegs een vorige veroordeling, in 1968 opgeloop, en dit vir besit van dagga. Daarenteen het Solly Adams, nou al bejaard, erken dat hy self meer as eenmaal al gevangenisstraf uitgedien het vir baklei, en Johannes Coater het die hof vertel dat Solly vroeër 'n sjebeen bedryf het, iets wat Solly self heftig ontken het.

Sandra, wat 'n goeie indruk op die verhoorhof gemaak het, het nie die waarheid gepraat nie oor wat die 22ste gebeur het toe sy saam met appellant gestap het om sy ongeskiktheidstoelae vir die maand te gaan haal. Volgens haar was hulle die heel dag in mekaar se geselskap, en het appellant nie drank gekoop nie. Louisa Adams sê egter dat hy al "'n drinkie" ingehad het
12 toe hy terugkom by die huis. Louisa se bewering dat "ek weet nie eintlik hoe is 'n persoon as hy gedrink is nie" is 'n swaar sluk aan die bottel. Ewe swaar is Adams se beweerde onkunde oor wat witpyp is, en sy bewering dat hy en beskuldigde nooit probleme gehad het nie. 'n Paar bladsye verder vertel hy hoe appellant en Sylvia (wat volgens appellant 'n drankprobleem het en nie omgee vir haar kind Sandra nie ondanks die feit dat sy 'n welsynstoelae vir haar ontvang) hom sou wou doodgemaak het. Adams sê "my kind Claude het my gered daar waar hy (d.w.s appellant) die mes teen my nek vasgedruk het". Van groter belang, is dat aldrie hierdie persone ook niks sou weet daarvan dat oorledene ooit gedrink het nie. Appellant het getuig dat oorledene nooit skoolgegaan het nie en van sy vader, Solly Adams, drank en selfs dagga gekry het. Hoewel hulle twee nugter goed klaargekom het, het oorledene as hy drank in het die blinde man geterg en getart en mishandel.

Dat daar waarskynlik waarheid steek in dié
13

deel van die appellant se getuienis blyk uit die feit
dat die landdros voor wie appellant nog dieselfde dag,
die 23ste 'n verklaring gemaak het, aangeteken het dat
hy krapmerke aan sy hand en 'n stukkende plek op sy neus
gehad het. Appellant het aan hom verduidelik dat

"die oorledene het my getrap met sy tekkies op my gesig terwyl ek op die grond gelê het".

En die bloedmonster wat dr Fosseus met die na-doodse
ondersoek geneem het, het getoon dat oorledene wat maar
ongeveer 41 kg geweeg het, 'n bottel wyn op eie houtjie
moes verorber het. Die alkohol konsentrasie in sy bloed
was 0,24.

Verdere stawing daarvoor dat appellant gekul

kon gewees het met geld het uitgekom in 'n eienaardige

stuk getuienis van Solly Adams. Die agtergrond waarteen

dit betekenisvol kan wees, is te vinde in appellant se
vertelling dat Solly dikwels geweier het om geld wat hy

vir Solly gegee het om vir hom te hou, terug te gee of

geld by hom gevat het, soos wat oorledene ook gedoen het
14 "dan lag sy pa daaroor". Solly getuig naamlik dat toe sy seun se lyk uit die pakkamer uitgedra word, was sy een voet kaal. Sy seun het sy geld, as hy het, in sy sokkie gehou en "daar waar (appellant) die geld gevoel het in die een skoen, net daar het hy opgehou, toe trek hy nie die ander skoen uit nie". Appellant is nie hieroor ondervra of aangekla ook van diefstal nie. Daar was ook geen rede waarom hy geld van oorledene sou wou neem op dié dag nie, waar hy self pas sy ongeskiktheidstoelae ontvang het. Hy sê hy het R30,00 aan Solly oorhandig om vir hom te hou wat bedoel is om sy skulde mee te betaal.
Een bewering wat konstant gebly het in appellant se storie, is dat dit oorledene was wat die mes in die hokkie ingebring het; en dat hy gedink het dat die seun dit teen hom sou gebruik en deur sy vader 'n opdrag daartoe gekry het. Die verhoorhof het dan ook bevind dat appellant geglo het dat hy bedreig word; sodat die moord op die seun nie summier as een gepleeg

15

uit boosheid, of as wraak op die vader gesien kan word nie.
Appellant is nie ondervra of gekruisvra oor die bewerings dat hy moeilikheid maak en gemaak het wanneer hy onder die invloed van drank is nie. Hy het dit sekerlik nie erken nie. Waar sy SAP 69 sulke bewerings verloën was die verhoorhof se aanvaarding dat dit nodig is om hom vir 'n besondere lang tyd aan te hou ter beskerming van die samelewing, nie geregverdig nie. So ook nie 'n bevinding dat appellant die hand wat hom so beskerm en gekoester het, gebyt het nie. Die waarskynlikhede dui ook daarop dat oorledene geen onskuldige kind was nie, maar ondanks sy jeug 'n maat van die blinde man. Die appellant is in std 2 uit die skool uit, sodat hulle gemeenskaplike belange nie juis intellektueel van aard sou gewees het nie.
Weens die wanvoorligting in die verhoorhof se benadering tot vonnis, staan dit hierdie hof vry om vonnis opnuut te bepaal.

16

Inagnemend die versagtende faktore uiteengesit in veral die tweede en derde van die vier paragrawe hierbo waarin die bewese versagtende omstandighede gelys is, meen ek dat 'n gepaste vonnis een van 10 jaar gevangenisstraf is.
Die appèl slaag in der mate dat die vonnis opgelê deur die verhoorhof op 30 Augustus 1989 gewysig word deurdat die woord en syfer "VYFTIEN (15)" vervang word met "TIEN (10)".

L VAN DEN HEEVER AR

HEFER AR)
) STEM SAAM F H GROSSKOPF AR)