South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1992 >> [1992] ZASCA 35

| Noteup | LawCite

S v Faasen (275/91) [1992] ZASCA 35 (26 March 1992)

Download original files

PDF format

RTF format


Saak no 275/91

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(APPéLAFDELING)

In die saak tussen:

LEON FAASEN APPELLANT

en
DIE STAAT RESPONDENT
CORAM: HEFER, VAN DEN HEEVER ARR et HOWIE Wn AR.

AANGEHOOR: 17 MAART 1992. GELEWER: 26 MAART 1992.

UITSPRAAK

/HEFER AR

2

HEFER AR:
Die appellant is in die Oranje-Vrystaatse Provinsiale Afdeling skuldig bevind aan verkragting en ter dood veroordeel .Sy appél teen die skuldigbevinding en vonnis is deur hierdie hof van die hand gewys. Sedertdien het die Strafregwysigingswet 107 van 1990 in werking getree en het die paneel bevind dat die doodvonnis waarskynlik opgelê sou gewees het indien art 4 ten tyde van vonnisoplegging in werking was. Ooreenkomstig art 19(12) van die Wet is die saak nou voor hierdie hof wat dit moet beoordeel asof dit 'n appél teen die vonnis is en asof art 4 van toepassing is.

Die volle verhaal van die gebeure op 6 Januarie 1987 toe die verkragting plaasgevind het, is reeds beskryf in 'n uitspraak van hierdie hof. Daarom is ek nie van voorneme om dit te herhaal nie en volstaan ek met 'n bondige opsomming van die feite.

Vroeg die betrokke middag het die appellant

3

die klaagster - die vrou van die onderbestuurder van ' n bank op die dorp -naby die poskantoor op Bethlehem teëgekom. Hoewel sy hom van geen kant geken het nie het hy haar deur valse voorwendsels oorreed om in sy motor te klim. Teen haar sin het hy haar toe ontvoer na 'n plek naby Glen (omtrent 25 km noord van Bloemfontein) . Op pad soontoe het hy gedreig om haar om die lewe te bring indien sy enigiets sou doen om van hom te probeer wegkom en haar gevra om met hom ges lagsomgang te hê. Sy het ingestem omdat, soos sy getuig het, sy bevrees was dat hy haar leed sou aandoen indien sy sou weier en omdat hy beloof het dat hy haar daarna per trein na Bethlehem sou terugstuur. By Glen aangekom, is hulle die veld in waar sy haar gereed gemaak het om aan sy versoek te voldoen. Hy het egter gesukkel om die daad te verrig en haar toe so ernstig aangerand dat sy haar bewussyn verloor het. Soos later sal blyk, moes hy daarna geslagtelik met haar verkeer het. Later is hy terug na die pad waar hy ' n

4

verbygaande motoris, ene Mnr Vosloo, voorgekeer het.
Laasgenoemde is saam met hom na die plek waar die
klaagster gelê het. Hoewel hulle gereël het dat die

appellant by haar sou bly terwyl Vosloo die polisie en 'n

ambulans sou ontbied, het appellant na sy motor

teruggekeer en weggejaag. Vosloo, en later ook lede

van die verkeerspolisie, het hom agtervolg. Na 'n wilde

jaagtog is hy uiteindelik in die middestad van

Bloemfontein vasgekeer en in hegtenis geneem. Later die

aand het Vosloo die plek waar die klaagster gelê het aan

die polisie gaan uitwys. Sy is toe met 'n ambulans na

'n hospitaal in Bloemfontein vervoer waar sy eers deur

die distriksgeneesheer ondersoek en later deur ander

geneeshere behandel is. Haar toestand tydens die

ondersoek en die gevolge van haar beserings word soos

volg beskryf in die vorige uitspraak van hierdie hof:

"Die klaagster was erg beseer en bewusteloos ten tyde van die ondersoek. Haar klere was geskeur en vuil. Haar linker-kaak was gebreek en daar was bloeding by haar neus en mond. Ontlasting het plaasgevind as gevolg waarvan

5

fesies op haar liggaam en klere aanwesig was. Rondom haar oë en oogbanke, aan haar onderbeen, regter-heup, op haar hande en in die omgewing van haar regter-skouer en nek was kneusings aanwesig. Laasgenoemde is deur verwurging veroorsaak. Skoppe of houe kon die ander kneusings veroorsaak het. Professor Van den Heever, 'n neurochirurg, het haar ook by opname ondersoek en oor haar toestand getuig. X-strale het frakture van twee van haar ribbes getoon. Een van die ribbene het haar long deurdring wat bloeding daarop veroorsaak het. Dit was in sigself potensieël 'n lewensbedreiging. Hy het bloeding onder die kopvel bespeur wat traumatiese breinbesering aangetoon het. Die verwurging het die suurstoftoevoer tot die brein tydelik afgesny of beperk. Een van hierdie faktore, of albei, verduidelik hy, het 'n erge mate van verlamming tot gevolg gehad. Sy kon feitlik geen beweging van haar ledemate uitvoer nie. Na sy haar bewussyn herwin het, het haar geestesfunksies (denkvermoë, geheue- en konsentrasievermoë) redelik normaal voorgekom. Haar spraak het in so 'n mate verbeter dat sy vanuit 'n rystoel by die verhoor getuienis kon aflê. Die genoemde verlamming is egter van 'n permanente aard en enige verbetering, volgens die professor, sal slegs marginaal wees. Synde 'n kwadrupleeg, sal sy vir die res van haar lewe versorg moet word. Soos reeds gemeld, na omtrent 14 dae het sy haar bewussyn herwin en 'n maand later is sy na die Bethlehem hospitaal oorgeplaas. Op 19 Augustus 1987 is sy in 'n kliniek vir chroniese pasiënte in Kroonstad opgeneem. Met aanvang van die verhoor op 2 Februarie 1988 was sy nog steeds

6

daar gehuisves." (Volledigheidshalwe dien gemeld te word dat die klaagster getuig het dat die appellant haar met sy lyfband verwurg het voordat sy haar bewussyn verloor het.)
Te oordeel aan die mate van geweld wat die appellant gebruik het en die gevolge daarvan is dit reeds duidelik dat hy swaar gestraf moet word. Die vraag is egter of die doodvonnis die enigste gepaste vonnis is. Ten einde dit te bepaal, wend ek my tot die strafversagtende- en strafverswarende faktore.

Toe hy die misdaad gepleeg het, was die appellant 24 jaar oud. Ten spyte van sy betreklike jeugdigheid was hy op daardie stadium reeds twee maal getroud en geskei en het hy met 'n derde vrou in Bethlehem saamgewoon. Op skool het hy tot standerd 8 gevorder (in 'n skool vir minderbegaafde kinders) waarna hy hom as letterskilder bekwaam het. Kort na sy arrestasie is hy vir waarneming in die Oranje Hospitaal

7

in Bloemfontein opgeneem. Die psigiatriese bevinding was dat hy nie geestesongesteld of geestesgebrekkig is nie maar dat hy "op 'n onder-gemiddelde intellektuele vlak (funksioneer)."

In hierdie hof het appellant se advokaat sy onder-gemiddelde intelligensie, gepaard met die feit dat hy op pad tussen Bethlehem en Glen ongeveer tien blikkies bier gedrink het en sy aanvanklike onvermoë om die geslagsdaad te verrig as versagting aan ons voorgehou. Ek kan egter in geeneen van hierdie faktore afsonderlik of in die gesamentlike effek daarvan enige versagting vind nie. Wat appellant se intelligensie betref, het Dr Fourie, een van die psigiaters wat by die waarneming betrokke was, getuig dat 'n persoon met 'n onder-gemiddelde intelligensie "nie so effektief funksioneer soos 'n persoon met 'n gemiddelde intelligensie nie." Ek kan egter nóg in Dr Fourie se getuienis nóg in enige ander getuienis wat voor die verhoorhof geplaas is nóg op

8

enige ander logiese gronde 'n verband vind tussen appellant se intelligensie en die misdaad wat hy gepleeg het. En, indien daar so 'n verband bestaan, tel dit eerder teen hom as in sy guns. Dr Fourie het naamlik getuig dat dit sy indruk was dat die appellant 'n persoon is wat, as hy nie "sy sin kan kry nie dat hy dit dan maar op 'n meer konkrete wyse soos met 'n klap oplos." ( Wat die getuie hier in gedagte gehad het, was die getuienis van die vrou met wie appellant saamgeleef het dat hy haar eenmaal tydens 'n woordewisseling geklap het.) Dat appellant 'n persoon is wat sy wil deur geweld op andere afdwing, kan sekerlik nie in sy guns tel nie.
Dat appellant wel tussen Bethlehem en Glen bier gedrink het is gemene saak maar dit kan nie aanvaar word dat hy noodwendig soveel as tien blikkies gedrink het nie. Hy mag wel tien blikkies in die ry oopgemaak het maar volgens die klaagster het hy 'n hoeveelheid daarvan oor homself gemors en oor haar uitgegooi en hoeveel hy

9

inderdaad ingekry het, kan nie vasgestel word nie. In elk geval was hy, volgens Vosloo, kort na die verkragting in staat om, soos later sal blyk, 'n sluwe plan te beraam om uit sy penarie te probeer kom en om op uiters behendige wyse sy kar teen 'n hoë spoed deur die verkeer in Bloemfontein se strate te maneuvreer. Gedagtig hieraan en die feit dat appellant nie 'n totaal ongesoute drinker was nie, kan dit nie aanvaar word dat sy drankinname enige noemenswaardige rol in die pleeg van die misdaad gespeel het nie. Maar, selfs al sou dit aanvaar word, dien dit nie as versagting nie. Die misdaad is nie op die ingewing van die oomblik gepleeg nie. Die beplanning daarvan en voorbereiding daarvoor het reeds op Bethlehem plaasgevind. Dit blyk uit die getuienis van ander Staatsgetuies dat die appellant, voordat hy die klaagster teëgekom het, gepoog het om twee ander dames met valse voorwendsels na sy kar te lok. Op daardie stadium, en toe hy die klaagster met dieselfde

10

voorwendsel oorreed het om in te klim, was hy volkome nugter. Boonop het hy tydens die lang rit, voordat die bier hom kon aantas, meer as voldoende geleentheid vir besinning gehad. Instede daarvan het hy volhard om homself aan sy slagoffer-op te dring en haar urelank te terroriseer voordat hy haar uiteindelik verkrag het.

Dat appellant se frustrasie voortspruitende uit sy aanvanklike onvermoë om die geslagsdaad te verrig waarskynlik bygedra het tot sy bykans dierlike geweld kan aanvaar word. Dit dien egter nie as versagting nie. Dit lê nie in die mond van 'n geweldadige verkragter om sy optrede te probeer verskoon aan die hand van sy eie fisiese onvermoë tot die bevrediging van sy wellus nie. By uitstek kan appellant hom nie daarop beroep nie. Volgens die klaagster was hy nie in staat tot die geslagsdaad totdat sy haar bewussyn verloor het toe hy haar met sy lyfband verwurg het nie. By die verhoor is egter bewys dat hy haar nogtans gepenetreer het en die

11

enigste afleiding is dat hy dit gedoen het terwyl sy bewusteloos was. Word sy daad in hierdie lig beoordeel, is 'n suggestie van sy aanvanklike onvermoë as versagting eenvoudig verspot.
Wat verder as versagting aan ons voorgehou is, is dat appellant berouvol is oor sy optrede en vatbaar is vir rehabilitasie. Wat berou betref, is dit waar dat appellant nie eenvoudig sy slagoffer in die veld laat lê het nie maar dat hy hulp probeer kry het by Mnr Vosloo. Dit is ook waar dat Vosloo getuig het dat appellant hewig ontsteld was en selfs gehuil het toe hy hom langs die pad gestop het. Ek is egter nie bereid om sy optrede as 'n aanduiding van berou te aanvaar nie. Dit blyk naamlik dat appellant Mnr Vosloo om die bos probeer lei het deur te kenne te gee dat iemand wat saam met hom gewerk het hom vertel het dat sy (appellant se) vrou vermoor is en dat hy haar dood in die veld gevind het. Dit was natuurlik 'n leuen en die waarskynlikheid is dat hy onder

12

die indruk was dat die klaagster inderdaad dood was en toe 'n plan beraam het om homself te verontskuldig. Daar is derhalwe geen grond vir 'n bevinding dat hy feitlik onmiddellik na sy oortreding berou daaroor getoon het nie. By die verhoor het hy wel herhaaldelik te kenne gegee hoe jammer hy is oor wat hy die klaagster en haar familie aangedoen het en moes die hof selfs op een stadium verdaag word omdat hy sy emosies nie kon beteuel nie. Nogtans was hy op daardie stadium steeds nie bereid om die waarheid te praat nie en het hy die klaagster en haar familie nog verder verkleineer deur valslik te kenne te gee dat die klaagster hom vertel het van haar ongelukkige huwelik en dat sy hom uitgelok en aangemoedig het om haar seksueel te bevredig. Dit is moeilik, om dié minste te sê, om sy getuienis oor sy berou te versoen met sy hardvogtige poging om die klaagster as 'n slet aan die verhoorhof voor te hou. Dr Fourie bestempel appellant se vooruitsigte op

13

rehabilitasie as swak juis weens die afwesigheid van ware
berou en aanvaarding van skuld. Appellant is 'n eerste
oortreder wat natuurlik op sigself prima facie,'n
versagtende faktor is en aanduidend kan wees van 'n
potensiaal vir rehabilitasie. Maar, in die lig van Dr

Fourie se getuienis, meen ek nie dat die vooruitsigte

rooskleurig is nie.

As geheel gesien, is daar dan slegs een

werklike versagtende faktor naamlik dat appellant 'n

eerste oortreder is. Dit moet opgeweeg word teen die

verswarende faktore wat hierbo geskets is, Verder moet

in gedagte gehou word dat, by die oplegging van vonnis,

nie net die belange van die beskuldigde nie maar ook die

belange van die klaer en die gemeenskap in geheel in ag

geneem moet word. Wat die appellant die klaagster en

haar familie aangedoen het, blyk uit die volgende

aanhaling uit die verhoorregter se uitspraak:

"Terwyl klaagster haar nie verset het nie, rand die beskuldigde haar op 'n onnodige, ernstige en wreedaardige wyse aan. Die effek van

14

hierdie aanranding, en soos op gewys, is dat sy ernstige breinskade opgedoen het, dat sy verlam is en aan 'n rolstoel vasgekluister is, dat sy nie beheer oor haar liggaamsfunksies het nie, sy kan nie lees of skryf nie en moet gevoed word daar sy nie self kan eet nie. Sy val in die kategorie van die swakste prognose en sal vir die res van haar lewe verpleegsorg behoef.
Afgesien van hierdie ernstige fisiese en psigiese letsels is haar huwelikslewe verwoes. Sy het haar kind, man en haar huis verloor, so ook haar werk. 'n Mens kan jou moeilik iets ernstiger voorstel behalwe die dood self en dan bly dit nog ' n ope vraag of in haar omstandighede die dood nie vir haar verkiesliker sal wees nie."

Appellant se advokaat het aangevoer dat 'n

lang termyn gevangenisstraf voldoende sal wees. Ek stem
nie saam nie. Gesien die oorweldigende oorwig van
verswarende faktore en die feit dat gevangenisstraf
waarskynlik geen reformatoriese effek sal hê nie, word
die ander oogmerke van strafoplegging deurslaggewend.

In 'n geval soos die onderhawige kan hieraan nie
uitvoering gegee word deur die oortreder na die
gevangenis te stuur nie - selfs al sou dit vir die res
van sy lewe wees. In so 'n gruwelike geval is die

15

doodvonnis myns insiens die enigste gepaste een ten einde andere af te skrik van dergelike optrede, die gemeenskap se afsku daaraan uit te druk en natuurlik as behoorlike boetedoening vir die appellant self.
Die appèl word van die hand gewys en die doodvonnis bekragtig.

J J F HEFER AR.

VAN DEN HEEVER AR )
STEM SAAM. HOWIE Wn AR )