South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1992 >> [1992] ZASCA 4

| Noteup | LawCite

S v Mokoena (533/91) [1992] ZASCA 4 (2 March 1992)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPELAFDELING)

SAAKNR: 533/91 In die appèl van:

PIETER MOKOENA APPELLANT
v
DIE STAAT RESPONDENT
Coram: HEFER, VIVIER ARR et HARMS WndAR.

Aangehoor: 17 Februarie 1992 Gelewer: 2 Maart 1992

2 UITSPRAAK
HARMS WndAR:

Die appellant het voor die inwerkingtreding van die Strafregwysigingswet 107 van 1990 op, onder andere, 'n aanklag van moord in die Rondgaande Hof te Vereeniging tereggestaan. Hy is skuldig bevind aan moord soos aangekla, diefstal van 'n vuurwapen, gewone aanranding, motordiefstal, die wederregtelike besit van 'n vuurwapen en ammunisie. Ten aansien van die moordklag het die meerderheid van die hof bevind dat daar versagtende omstandighede teenwoordig was. Ten spyte daarvan het die verhoorregter (Coetzee R), in die uitoefening van sy diskresie, die doodvonnis opgelê. Die vonnis vir die ander misdrywe gepleeg, was effektiewe gevangenisstraf van tien jaar.

3

Die verhoorregter het verlof tot appèl teen die doodvonnis toegestaan en hierdie Hof het op 1 Junie 1989 (in saak 385/88) die appél van die hand gewys. Daar is bevind dat die verhoorregter nie versuim het om sy diskresie behoorlik of judisieël uit te oefen nie.

Na die inwerkingtreding van voormelde Wet is die aangeleentheid ingevolge artikel 19(8) deur die paneel vir die heroorweging van vonnisse van sekere ter dood veroordeelde persone oorweeg. Die paneel het op 21 Mei 1991 bevind dat die doodvonnis waarskynlik nie opgelë sou gewees het indien die Wet ten tye van vonnisoplegging in werking was nie. Die Minister van Justisie het, ondanks die bevinding, die saak na hierdie Hof in terme van artikel 19(11)(b) verwys. Dit beteken dat die aangeleentheid deur hierdie Hof as 'n appèl teen vonnis oorweeg moet word en dat die maatstaf deur die gemelde Wet by die oorweging van die oplegging van doodvonnisse ingevoer, op die geval toegepas
4 moet word. Aangesien die feite volledig deur hierdie Hof in die vorige uitspraak behandel is, is dit nie nodig om dit weer eens uiteen te sit nie en word daardie uitspraak vervolgens opgesom.

Die appellant het gedurende die periode 2 -4 November 1986 'n Datsun bakkie van ene Petrus Motloung gesteel. Die oggend van 4 November het hy en twee makkers in die bakkie na n landbouhoewe in die distrik Vanderbijlpark gery met die oogmerk om n roof aldaar te pleeg. By die huis was slegs mev Visser met haar baba en mev Nthebe. Appellant het die voertuig bestuur. Hy het mev Nthebe by die venster gesien uitkyk en haar gewys om nader te kom. Toe sy hom genader het, het hy uit sy voertuig geklim, haar om die nek gegryp, begin wurg en die huissleutels opgeëis. Mev Visser het intussen die huis toegesluit en appellant se meelopers het probeer om die kombuisdeur oop te maak. Toevallig het konstabel Odendaal (die oorledene) in sy polisievoertuig daar gearriveer. Die drie misdadigers het weggehardloop en
5 Odendaal het twee van hulle agterna gesit. Hy het op hulle geskiet maar hulle het ontvlug. By sy terugkeer is hy meegedeel dat die derde (die appellant) iewers moes wegkruip. Odendaal het die appellant in 'n stal gevind. Hy is die stal binne met sy vuurwapen in sy regterhand en het die appellant aan die hemp met die linkerhand gegryp. Hy het die appellant uit die stal na die kombuisdeur geneem, aan die deur geklop en mev Visser versoek om die polisie te skakel.

Die appellant het homself toe losgeruk en die vuurwapen uit Odendaal se hand gepluk. Odendaal het begin retireer en terwyl hy retireer, het die appellant hom in die bors geskiet. Sy hart en lewer is gepenetreer. Odendaal kon, ten spyte van die dodelike wond, nog hardloop en het omgedraai en begin weghardloop. Appellant het een of twee verdere skote op hom gevuur. Daarna het Odendaal oor 'n hekkie gespring maar aan die ander kant geval. Die appellant het hom agtervolg en, waar Odendaal op die grond
6 gelê het, hom deur die kop geskiet. Odendaal se lyk is later op daardie punt gevind. Die appellant het toe in die gesteelde bakkie geklim en weggery. Hy het dieselfde dag die vuurwapen verkwansel en die voertuig verbrand.

Hierdie Hof het in sy vorige uitspraak die volgende relevante bevindings gemaak:

(a) Die appellant se getuienis is tereg deur die verhoorhof
as vals verwerp;
(b) die appellant het hom aan dolus directus skuldig
gemaak;
(c) die appellant is tot geweld geneig. Stawing hiervoor
is daarin gevind dat hy 12 vorige veroordelings het wat 4
vir huisbraak met die opset om te steel en diefstal insluit
(waarvoor 6 jaar gevangenisstraf opgelê is) en drie vir
aanranding met die opset om ernstige liggaamlike leed te
berokken (die laaste is met 'n hamer gepleeg en n vonnis van
18 maande gevangenisstraf is gedurende 1984 daarvoor

7 opgelê). Die wyse waarop die moord gepleeg is en veral die feit dat daar geen rede was om die ontwapende oorledene te skiet en hom daarna te agtervolg en weer te skiet nie, het verdere stawing vir die bevinding gebied;

(d)die misdryf was boosaardig ("vicious"); en
(e)die feit dat die oorledene 'n polisieman was wat in die uitvoering van sy pligte vermoor is, was 'n verswarende faktor. Die volgende benadering van die verhoorregter is goedgekeur:

"The interests of the community must be stressed. Criminals cannot have a licence to kill policemen in the performance of their duties. Respect for the law and for the police will disappear if those murderers are not properly punished. The community will lose respect for the Courts."

Bevindings (b) - (e) is ook vir doeleindes van die nuwe benadering tot die doodvonnis strafverswarende faktore. Ten aansien van versagtende faktore het die appellant se advokaat staatgemaak op die meerderheidsbevinding van die
8 verhoorhof oor versagtende omstandighede. Aangesien versagtende omstandighede a fortiori versagtende faktore daarstel, is dit nodig om die gronde vir daardie bevinding te analiseer. Ten eerste is bevind dat die rooftog wat die moord voorafgegaan het, onbeplan was en dat die gedagte bloot toevallig by die drie opgekom het toe hulle verby die perseel gery het. Hierdie bevinding was gebaseer op iets wat die appellant toevallig aan die einde van sy kruisondervraging op versagting geopper het. Wat egter in die proses oor die hoof gesien is, is dat hierdie getuienis nie versoenbaar is met die appellant se verklaring afgelê tydens sy ondervraging in terme van artikel 112(l)(b) van die Strafproseswet 51 van 1977 en ook nie met sy getuienis op die meriete nie. As mens ook in gedagte hou dat die drie met die pas gesteelde bakkie rondgery het, is dit net nie geloofwaardig dat hulle heel onskuldig op pad na nêrens was toe hulle hierdie huis raak gesien het en uit die bloute besluit het om in te breek nie. Die wyse waarop mev Nthebe uit die huis gelok is, gegryp is en die poging om die
9 kombuisdeur oop te maak, toon n mate van beplanning. Maar selfs word aanvaar dat die idee om te roof n impulsiewe een was, is daardie feit na my oordeel nie 'n versagtende faktor nie. Dit is hoogstens n neutrale faktor.

Die tweede basis waarop bevind is dat versagtende omstandighede teenwoordig was, was die feit dat die moord onbeplan was. Natuurlik het die appellant nie met die oogmerk om te moor na die perseel gegaan nie. Toe die geleentheid hom egter voorgedoen het, het hy dit met beide hande aangegryp. Hy was gewapen; die oorledene was ongewapen; hy het 'n voertuig tot sy beskikking gehad en kon heel veilig ontsnap. Soos hierdie Hof in sy vorige uitspraak reeds gesê het, as die appellant nie verder as die eerste skoot geskiet het nie, was daar moontlik iets vir hom te sê maar sy keuse om die oorledene te agtervolg en, ten slotte, koelbloedig deur die kop te skiet waar hy hulpeloos op die grond gelê het, maak van die gebrek aan beplanning ook n kleurlose feit.

10

Die laaste grond waarop die meerderheid van die verhoorhof bevind het dat daar versagtende omstandighede teenwoordig was, was die beweerde inname van sterk drank deur die appellant. Die appellant het naamlik ter strafversagting getuig dat hy die oggend kort voor hy die misdrywe gepleeg het 'n hoeveelheid bier en jenewer verorber het. Die minderheidsbevinding was dat die appellant nie drank gebruik het soos hy beweer het nie en, in ieder geval, dat sy optrede na die tyd nie tekens van beTnvloeding getoon het nie. Ter ondersteuning van sy bewering dat hy onder die invloed van drank was, het die appellant getuig dat hy homself versteek het nadat Odendaal op die toneel gearriveer het omdat hy gevoel het dat hy nie in staat sou wees om te kan weghardloop nie. Hierdie getuienis is direk teenstrydig met sy getuienis toe hy oor die meriete getuig het. Dáár het hy gesê dat as dit nie vir die vuurwapen was nie, sou hy vir die konstabel kon weggehardloop het. Beïnvloeding deur drank is ook nie versoenbaar met sy selferkende vermoë om

11

die voertuig voor en na di e moord met veiligheid te kon bestuur het nie. Die meerderheid van die verhoorhof het verder bevind dat die vuurwapen gebruik is as gevolg van 'n gevoel van bravade deur die inname van alkohol veroorsaak. Weer eens is die appellant se eie getuienis nie in ag geneem nie. Hy het bloot gesê dat die drank hom die moed gegee het om na die perseel te gaan. Hy is deur sy eie advokaat in besonderhede uitgevra oor sy emosionele toestand ten tye van die gebeure. Toe het hy getuig dat hy verras, verward, vasgevang en verbluf was. Geen sprake van drankbeneweling nie. Hoe dit ook al sy, die wyse waarop die appellant kon wegkruip, homself kon losruk, die vuurwapen afneem, geskiet en die oorledene agtervolg het, spreek alles van nugtere optrede. Ek is dus tevrede dat die staat bo redelike twyfel bewys het dat alkohol geen relevante rol by die pleeg van hierdie misdryf gespeel het nie.

Dit volg uit voorgaande dat daar geen versagtende faktore teenwoordig was nie. Die vraag is vervolgens of, in die lig

12
van die omstandighede, die doodvonnis die enigste gepaste vonnis vir die misdryf is. Die appellant se lys vorige veroordelings is afdoende bewys daarvan dat hy nie vir rehabilitasie vatbaar is nie. Hy is 'n volwasse man wat, ten tye van die misdryf, 34 jaar oud was. Hy het 'n lewe van misdaad gekies. Hy het geen respek vir die lewe of goed van ander nie. In die lig van die feit dat die oorledene in die loop van sy werk as wetstoepasser vermoor is en die koelbloedige wyse waarop hy vermoor is, is vergelding, na my oordeel, die deurslaggewende faktor by vonnisoplegging in hierdie saak en is die doodvonnis gevolglik die enigste gepaste vonnis.

Die appèl word van die hand gewys en die doodvonnis word bekragtig.

HEFER AR ) HARMS WndAR

VIVER AR ) STEM SAAM