South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1992 >> [1992] ZASCA 41

| Noteup | LawCite

S v Sekele (279/91) [1992] ZASCA 41 (27 March 1992)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPéLAFDELING)

saaknr: 279/91

In die saak tussen:
JOHANNES SEKELE APPELLANT
en
DIE STAAT RESPONDENT

Coram: HEFER, VAN DEN HEEVER ARR et VAN COLLER WndAR

Aangehoor: 20 Maart 1992 Gelewer: 27 Maart 1992

2 UITSPRAAK

VAN COLLER WndAR:

Appellant is in die Witwatersrandse Plaaslike Afdeling deur Steyn WndR en twee assessore skuldig bevind aan moord. Geen versagtende omstandighede is bevind nie en hy is op 30 Augustus 1988 ter dood veroordeel. Appellant is ook skuldig bevind aan roof met verswarende omstandighede. Op hierdie aanklag is hy gevonnis tot 15 jaar gevangenisstraf. Appellant het tereggestaan saam met 'n 16-jarige tweede beskuldigde. Beskuldigde 2 is ook skuldig bevind aan moord en roof met verswarende omstandighede. Versagtende omstandighede is in sy geval bevind en hy is op die
3 moordklag tot 12 jaar gevangenisstraf gevonnis en op die roofklag tot 8 jaar gevangenisstraf. Dit is gelas dat die vonnisse saamloop.

Die doodvonnis wat appellant opgelê is, is kragtens artikel 19 van Wet 107 van 1990 ("die nuwe Wet") heroorweeg deur die paneel wat ingevolge die nuwe Wet aangestel is. Die paneel het bevind dat die doodvonnis appellant waarskynlik opgelê sou gewees het indien artikel 277 van die Strafproseswet 51 van 1977 soos vervang deur die nuwe Wet ten tye van vonnisoplegging in werking was. Die saak kom gevolglik voor ons ingevolge artikel 19(12) van die nuwe Wet.

Die nuwe benadering ten aansien van die doodvonnis en die taak van hierdie hof in verband daarmee is in 'n hele aantal beslissings uiteengesit. Dit is onnodig om dit te herhaal. Die vraag wat oorweeg moet word is of, met
4 inagneming van die versagtende en verswarende faktore en die doeleindes van vonnis, die doodvonnis die enigste gepaste straf is vir die moord wat gepleeg is. Indien nie, moet dit deur 'n ander vonnis vervang word.

Die gebeure wat aanleiding gegee het tot die aanklagte teen appellant is kortliks soos volg. Die oorledene, wat 31 jaar oud was, het 'n drankprobleem gehad. Hy was gedurende die tydperk 20 Mei 1986 tot 12 September 1986 in 'n inrigting naby Cullinan behandel. Na sy ontslag het hy egter weer begin drink. Op Sondag 2 November 1986 het die oorledene sy moeder se huis in sy Mazda 323 voertuig teen 6nm verlaat. Op Dinsdag 4 November 1986, om 02h34, het 'n treindrywer 'n persoon tussen die spore van die spoorlyn tussen die stasies Unified en Maraisburg sien lê. Hy kon die trein nie betyds tot stilstand bring nie. Dit het oor die persoon gery maar hom nie geraak nie. Die persoon, wat later geblyk het die oorledene te wees, is later deur
5 die polisie op die spoor gevind. Hy was dood. Volgens die mediese getuienis was verwurging die oorsaak van die oorledene se dood. Die getuienis toon verder aan dat die konsentrasie alkohol in sy bloed 0.25 g/l00ml was. Op 22 Maart 1987 het konstabel Dick van die SAP appellant te Collinsstraat in Brixton in die oorledene se Mazda voertuig aangetref. Hy het vasgestel dat die polisie na die voertuig soek en appellant is in hegtenis geneem. Appellant het, net soos beskuldigde 2, verskeie verklarings asook uitwysings aan die polisie gemaak. Die toelaatbaarheid van die verklarings is betwis. Na 'n binneverhoor is dit toelaatbaar bevind. Volgens die laaste verklaring wat deur appellant gemaak is met verwysings na plekke deur hom uitgewys, het hy die oorledene by sy voertuig in 'n parkeerterrein van 'n winkelsentrum in Brixton gekry. Die oorledene het hom gevra om hom te help om in sy voertuig te klim. Hy het gesien dat die oorledene dronk was. Daarna het hy sy maat
6 (beskuldigde 2) by woonstelle waar hy gebly het gaan roep. Terug by die voertuig het hy gesien dat die oorledene agter die stuurwiel sit en slaap. Hulle het albei in die motor geklim en die oorledene wakker gemaak en aangebied om hom huistoe te neem. Die oorledene het hulle beduie om in die rigting van Honeydew te ry maar hy kon nie wys waar sy woning is nie. Hulle het teruggekeer en by Newlands aangekom, het die oorledene effens reggekom en besluit om self verder te bestuur. Hy het gery tot by 'n plek in Langlaagte waar hy stilgehou het en weer begin slaap het. Daarna is weer gery en appellant het ook 'n perseel te Duikerstraat 104 uitgewys waar volgens hom stilgehou is, en waar die oorledene gaan water soek het. Daarna is verder gery tot by 'n groot hek met die woorde: "We buy all cars and bikes for cash." Die oorledene het sy sitplek afgeslaan en en weer begin slaap. Volgens appellant se verklaring het hulle toe besluit om die oorledene se motor te neem en hulle het sy twee hande styf teen sy nek met sy
7 das vasgebind. Nadat appellant gesien het dat die oorledene dood is, het hulle hom na Maraisburg geneem en op die spoorlyn gelaat.

Beskuldigde 2 het ook uitwysings aan 'n polisie offisier gedoen met 'n gepaardgaande verklaring. Hy meld in die verklaring dat appellant hom geroep het en dat hy die oorledene, wat dronk was, by sy motor by die parkeergronde gekry het. Appellant sou aan hom gesê het dat hy die oorledene wil doodmaak en dat hy die motor wil hê. Daarna het hulle gery. Appellant het bestuur. Beskuldigde 2 het die polisie geneem na Duikerstraak 104 en verduidelik dat daar stilgehou is omdat die oorledene water wou drink. Dit is dieselfde plek wat deur appellant uitgewys is en waar die oorledene ook volgens hom, na water gesoek het. Beskuldigde 2 het verduidelik dat daar verder gery is en dat hulle weer stilgehou het by die hek wat ook deur appellant uitgewys is. Volgens beskuldigde 2 se

8

verklaring het die oorledene op die sitplek gelê. Appellant het die oorledene se das afgehaal en hom daarmee verwurg. Daarna het hulle verder gery en beskuldigde 2 het ook die plek uitgewys waar hulle die oorledene neergelê het tussen die spore "sodat die mense moes dink dis die trein wat hom gestamp het."

Appellant se getuienis in die verhoorhof was dat hy die Mazda 323 by ene Edward geleen het. Hy het die oorledene nie geken nie en nooit enigiets met die oorledene te doen gehad nie. Beskuldigde 2 se getuienis was dat hy op 'n dag wel vir appellant en die oorledene, wat dronk was, by laasgenoemde se Mazda voertuig gesien het. Hy het aan appellant die raad gegee om die oorledene na sy huis te neem. Drie dae later het hy appellant weer in dieselfde motor gesien. Appellant het aan hom gesê dat hy die motor by die oorledene geleen het. Die verhoorhof het appellant en beskuldigde 2 se getuienis as yals verwerp. Dit dien

9

ook vermeld te word dat afgesien van die verklaring en uitwysings wat appellant met die moord verbind, sekere artikels wat aan die oorledene behoort het, in sy besit gevind is.

Appellant het nie getuienis ter versagting afgelê nie en daar is in die oorkonde nie veel aangaande appellant se persoonlike omstandighede nie. Mnr Du Toit, namens die Staat, het nie beswaar gehad dat enkele aanvullende gegewens deur mnr Mosupye, wat namens appellant opgetree het, aan ons verstrek word nie. Ten tye van die moord was appellant 27 jaar oud. Hy is in Botswana gebore en het slegs vir drie jaar skoolopleiding gehad. In 1981 het hy Suid-Afrika wettiglik binnegekom en in Kramerville gewerk tot Desember 1981. In 1982 het appellant weens siekte teruggegaan na Botswana. In 1984 het hy teruggekeer en werk in Klerksdorp gekry. In 1985 het hy werk gekry in
10 Johannesburg by die SAUK te Auckland Park. Appellant het geen vorige veroordelings nie.

Die oorweging van versagtende en verswarende faktore in hierdie saak word tot 'n mate bemoeilik omdat daar op sekere belangrike aspekte nie werklik positiewe bevindings gemaak kan word nie. Afgesien van die verklarings en uitwysings wat gemaak is, is daar nie ander getuienis aangaande wat werklik gebeur het nie. Die verhoorhof het in sy uitspraak ten opsigte van versagtende omstandighede bevind dat daar vooraf beplanning was in die opsig dat toe appellant die oorledene dronk in sy motor gesien het, "moes hy min of meer onmiddelik besluit het dat hy daardie kar gaan bekom deur die oorledene dood te maak." Die mededeling wat appellant aan beskuldige 2 sou gemaak het, volgens laasgenoemde se verklaring, is natuurlik nie teen appellant toelaatbaar nie, en daar is nie ander getuienis wat bogenoemde bevinding regverdig nie. Dit is nie

11

duidelik wanneer appellant besluit het om die oorledene van sy voertuig en ander besittings te beroof nie. Die bewerings in die verklarings dat die oorledene by Duikerstraat 104 uitgeklim het om water te soek, skep die redelike moontlikheid dat daar toe nog nie besluit is om die motor te steel nie. Dit sou maklik gewees het om net weg te ry met die motor en die oorledene daar te los, wat nie gebeur het nie. Die redelike moontlikheid bestaan dat die besluit om die oorledene dood te maak en te beroof eers geneem is kort voordat hy verwurg is en wel toe hy aan die slaap geraak het voor in die motor. Dat die oorledene weer aan die slaap geraak het, was waarskynlik te wyte aan sy dronkenskap en hy moes toe inderdaad as 'n maklike slagoffer vir appellant voorgekom het. Hierdie omstandighede moes seer sekerlik 'n versoeking om te roof daargestel het. Die feit dat appellant vir ongeveer 5 maande met die oorledene se motor rondgery het sonder om die registrasienommer te verander of om daarvan ontslae te

12

raak, getuig ook nie van professionele optrede nie. Dit kan dus ten gunste van appellant aanvaar word dat hierdie nie 'n geval is waar daar na 'n motor gesoek is ten einde dit te roof en die oorledene in die uitvoering van so ' n plan vermoor is nie.

Alhoewel die misdaad wat gepleeg is 'n baie ernstige een is, is ek van mening dat hierdie nie 'n geval van sodanige uitsonderlike erns is dat die doodvonnis die enigste gepaste straf is nie. Die feit dat appellant op 27 jarige ouderdom geen vorige veroordelings het nie, is 'n aanduiding dat hy van aard nie 'n gewelddadige persoon is nie, en dat hy waarskynlik gerehabiliteer kan word. Die ander oogmerke van bestraffing, te wete voorkoming, vergelding en afskrikking, kan na my mening, bevredig word deur 'n lang tydperk van gevangenisstraf. Ek beskou 18 jaar as 'n gepaste termyn.
13 Die appél slaag en die doodvonnis word tersyde gestel. 'n Vonnis van 18 jaar gevangenisstraf word opgelê. Hierdie vonnis word teruggedateer na 30 Augustus 1988 en sal saamloop met die vonnis van 15 jaar gevangenisstraf wat ten opsigte van die tweede aanklag opgelê is.

VAN COLLER WndAR

HEFER AR ) STEM SAAM

VAN DEN HEEVER AR )