South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
1992 >>
[1992] ZASCA 5
| Noteup
| LawCite
S v Qekisi (514/1991) [1992] ZASCA 5 (3 March 1992)
Download original files |
LL Saak No 514/1991
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA APPèLAFDELING
In die saak tussen:
EDWARD QEKISI Appellant
en
DIE
STAAT Respondent
CORAM: BOTHA, VIVIER ARR et HOWIE WN AR
VERHOORDATUM: 18 FEBRUARIE 1992
LEWERINGSDATUM: 3 MAART 1992
UITSPRAAK BOTHA AR:-
2.
Hierdie appèl spruit voort uit die bepalings van artikel 19 van
die Strafregwysigingswet 107 van 1990 ("die Wet"). Die appellant
is in Julie
1989 in die Transvaalse Provinsiale Afdeling deur STRYDOM R en assessore skuldig
bevind aan moord en aan roof met verswarende
omstandighede. Ten aansien van die
moord het die Verhoorhof bevind, na aanleiding van die regsposisie soos dit
destyds gegeld het,
dat daar geen versagtende omstandighede aanwesig was nie, en
gevolglik is die appellant ter dood veroordeel. Vir die roof is hy gevonnis
tot
10 jaar gevangenisstraf. 'n Aansoek om verlof om te appelleer teen die
skuldig-bevindings en die vonnisse is deur die Verhoorregter
van die hand gewys.
Geen versoekskrif om verlof om te appelleer is aan die Hoofregter gerig nie. Na
die inwerkingtreding van die
Wet is die saak voorgelê vir oorweging aan
die paneel wat aangestel is ingevolge artikel 19(1) van die Wet. Ooreenkomstig
artikel
19(10) het die paneel op 28 Augustus 1991 'n bevinding
3. uitgebring
dat die Verhoorhof waarskynlik die doodvonnis sou opgelê het indien
artikel 4 van die Wet (wat artikel 277 van
die Strafproseswet 51 van 1977
vervang) ten tyde van vonnisoplegging in werking was. Gevolglik moet hierdie Hof
nou, ingevolge artikel
19(12) van die Wet, die doodvonnis wat die appellant
opgelê is in heroorweging neem, aan die hand van die nuwe bedeling wat
die
Wet tot stand gebring het. Die beginsels wat toegepas moet word en die
benadering wat gevolg moet word kragtens die wetgewing
wat tans van krag is, is
reeds in talle uitsprake van hierdie Hof uiteengesit. Dit hoef nie hier herhaal
te word nie; dit is slegs
nodig om dit toe te pas op die feite van die
onderhawige geval.
Die feitebevindings van die Verhoorhof wat die grondslag
gevorm het van die appellant se skuldigbevinding aan moord blyk uit die
Verhoorhof
se uitspraak, wat 'n deeglike ontleding bevat van die getuienis wat
voor die Verhoorhof geplaas is. Vir die
4. doeleindes van die huidige
uitspraak kan die tersaaklike feitebevindings kortliks saamgevat word soos volg.
Die oorledene het gewoon
in 'n woonstel in 'n voorstad van Pretoria, en hy was
die eienaar van 'n winkel in dieselfde omgewing. Hy was die slagoffer van 'n
beplande roof wat uitgevoer is deur die appellant en vyf ander jong mans. Hulle
deeglike voorafbeplanning van die roof het onder
meer vorige besoeke behels aan
die oorledene se winkel en woonstel, toe die omgewing bespied en verken is. Op
een van die vorige
besoeke het die appellant en sy makkers inderdaad ook
stelling ingeneem, verskuil, by die oorledene se woonstel, met die oogmerk
om
hom te oorval wanneer hy na 8-uur die aand van die winkel na die woonstel sou
terugkeer, soos sy gewoonte was. Met daardie geleentheid
het die oorledene egter
nie opgedaag nie, en het die roofbende onverrigter sake weer die toneel verlaat.
Tydens die volgende ekspedisie
het hulle nie tevergeefs gewag nie. Die
appellant, wat 'n leidende aandeel gehad het in die
5.
beplanning van die roof, het oor 'n muur rondom die woonstelperseel
geklim en hom naby die oorledene se motorhuis versteek. Hy was
gewapen met 'n
hamer. Die oorledene het van die winkel gekom en met sy motorvoertuig die
motorhuis binnegery. Net toe hy uitklim,
is hy aangeval deur die appellant en
ten minste een van sy makkers, ene Philly Ncube. Die oorledene het hom verset en
'n worsteling
het plaasgevind. Die appellant het die oorledene toe met die hamer
doodgeslaan. In die worsteling is die kraag van die appellant
se hemp afgeskeur
en het die voorkant van sy hemp met bloed besmeer geraak. Tydens 'n lykskouing
is vasgestel dat die oorledene veelvuldige
wonde en beserings opgedoen het, die
ergste waarvan 'n wond aan die voorkant van die kop was, waar daar 'n
verbrokkeling van die
skedel en die bene van die neus was, met onderliggende
erge besering van die brein. Nadat die oorledene oorrompel is, het die appellant
en sy trawante hom beroof van sy horlosie en 'n bos
6
sleutels. Met die sleutels is die bende vort na die oorledene se winkel,
met die doel om dit oop te sluit en hulle rooftog daar voort
te sit. Hulle kon
egter nie daarin slaag om toegang tot die winkel te verkry nie. Die werklike
buit waarna hulle op soek was, het
hulle dus nie gekry nie.
Die Verhoorhof
het verder bevind dat die appellant, toe hy die oorledene met die hamer
aangerand het, die opset gehad het om die oorledene
te dood. Uit die
Verhoorregter se latere uitspraak aangaande versagtende omstandighede blyk dit
dat die Verhoorhof se bevinding was
dat die appellant se opset dolus
directus was.
Tydens die verhoor was die appellant se verweer 'n alibi.
Met verwysing na sy getuienis het die Verhoorhof bevind dat hy "'n deurdrapte
leuenaar" was en dat sy alibi nie redelik moontlik waar kan wees nie. Nadat hy
skuldig bevind is, tydens die ondersoek na versagtende
omstandighede, is die
appellant deur die
7. Verhoorhof die geleentheid gegun om sy posisie in
heroorweging te neem; sy pro deo advokaat sou tydens 'n verdaging van die
hof die implikasies van sy alibi-getuienis en die erns daarvan aan hom
verduidelik. Na die
verdaging het die advokaat die Verhoorregter meegedeel dat
die appellant voet by stuk hou dat hy geen aandeel gehad het in die misdade
waaraan hy skuldig bevind is nie. By wyse van betoog is daar toe vir oorweging
aan die Verhoorhof voorgelê dat die appellant
24 jaar oud was, dat hy op
skool slegs tot by standerd 4 gevorder het, en dat hy geen verdere opvoeding of
opleiding gehad het nie.
Dit is aangevoer dat "sy jeugdigheid en moontlik
mindere rypheid" versagtende omstandighede uitmaak. Blykens die Ver-hoorregter
se
uitspraak het die Verhoorhof aanvaar dat dieappellant "jonk is en moontlik
minder ryp as iemand van ouer ouderdom as hyself", maar
bevind dat dit nie die
appellant se daad minder laakbaar maak nie. Die Verhoorregter het ook daarop
gewys dat die roof 'n
8.
beplande een was en dat volgens al die getuienis die
appellant die
leidende rol gespeel het (dit verwys
klaarblyklik na beide die beplanning en
die uitvoering
daarvan). Vandaar die bevinding dat daar geen versag-
tende omstandighede teenwoordig was nie.
Nadat die gemelde bevinding uitgebring is, is
vorige veroordelings teen die appellant bewys. Drie
van hulle dateer uit
1982. In die vorm SAP 69 word die
betrokke oortredings soos volg beskryf:
"Roof - kontant - liggaamlike geweld R85,00."
"Verkragting - mes gedreig."
"Aanranding m/o om ernstig te beseer - mes."
Die
appellant was toe ongeveer 17 jaar oud. Vir elk
van die oortredings is hy
gevonnis tot lyfstraf met 'n
ligte rottang - in elk van die eerste twee
gevalle 6
houe, en in die laaste geval 4 houe. Daarbenewens is
die
appellant in 1984 skuldig bevind aan ontsnapping
uit 'n gevangenis en
gevonnis tot 5 maande gevangenis-
9
straf.
Wat ek tot dusver hierbo opgesom het, is die gegewens wat ter sake
is in hierdie appèl, in soverre hulle uit die oorkonde blyk.
In hierdie
Hof was die betoog van die appellant se advokaat egter grotendeels gebaseer op
gegewens buite die oorkonde. Dit hou hoofsaaklik
verband met getuienis wat die
appellant afgelê het in 'n strafsaak wat verhoor is 'n bietjie meer as 'n
jaar na die appellant
se onderhawige skuldigbevinding en vonnis. Dit was in die
saak teen Philly Ncube, wat, soos vroeër gemeld is, deelgeneem het
aan die
aanval op die oorledene. Ncube was nie saam met die appellant en die ander
rowers verhoor nie, omdat hy uit bewaring ontsnap
het.
Uit beëdigde
verklarings wat aan hierdie Hof voorgelê is, blyk die volgende. Ongeveer 8
maande nadat die verhoor van die
appellant afgehandel is, het sy advokaat met
hom 'n onderhoud gevoer in die gevangenis, in die teenwoordigheid van 'n
polisie-
10. beampte. Die appellant was bewus daarvan dat Ncube toe weer in
hegtenis geneem was. Hy het sy advokaat meegedeel dat hy "iets
in sy hart het
wat hy wil skoonmaak"; dat sy alibi by sy verhoor leuenagtig was; en dat hy nou
die waarheid wou openbaar. Hy het
verder te kenne gegee dat hy bereid was om in
die saak teen Ncube getuienis vir die Staat af te lê. Dit het dan toe ook
gebeur.
Kortliks was die strekking van sy getuienis in daardie saak soos volg.
Hy en Ncube en die vier ander deelnemers het saam beplan om
die oorledene te
beroof. Hulle het die oorledene ingewag by sy woonstel. Die appellant het 'n
vuurwapen gehad en Ncube was gewapen
met 'n hamer. Toe die oorledene opgedaag
het, het Ncube hom met die hamer toegetakel. Hy het hom herhaaldelik daarmee
geslaan. Die
appellant het naderhand tussenbeide getree en die hamer by Ncube
afgeneem, omdat hy nie wou gehad het dat die oorledene heeltemal
buite aksie
gestel word nie. So het dit gebeur dat hy, die appellant, die hamer in sy
hand
11
gehad het toe die ander rowers op die toneel gekom het.
(Volledigheidshalwe moet gemeld word dat Ncube in sy getuienis die appellant
se
weergawe van wie die hamer gebruik het, betwis het. Volgens hom het die
appellant die oorledene met die hamer geslaan, terwyl
hy, Ncube, die oorledene
vasgehou het. Ncube is op grondslag van sy eie weergawe skuldig bevind aan moord
en ter dood veroordeel.
'n Appèl teen sy doodvonnis is tans
hangende.)
Namens die appellant is daar aangevoer dat hierdie Hof sonder meer
kennis kan neem van die latere getuienis van die appellant, en
dat die
paslikheid of andersins van die doodvonnis in sy geval beoordeel behoort te word
op grondslag van daardie getuienis. Dit
kan klaarblyklik nie gedoen word nie.
Dit spreek vanself dat die appellant se getuienis in Ncube se saak nie aangewend
kan word om
die feitebevindings van die Verhoorhof in die appellant se saak
eenvoudig ongedaan te maak nie. Met die oog op daardie probleem het
die
12. appellant se advokaat voorts aangevoer dat die
doodvonnis tersyde
gestel behoort te word en dat die saak na die Verhoorhof terugverwys behoort te
word sodat die appellant weer sy
nuwe getuienis kan aflê. In beginsel het
die Hof die bevoegdheid om so op te tree, kragtens artikel 19(12)(b)(iii) van
die
Met, maar alvorens die bevoegdheid ingevolge daardie artikel uitgeoefen sal
word, moet daar aan bepaalde voorvereistes voldoen word,
soos uiteengesit is in
die
ongerapporteerde uitspraak van hierdie Hof in S v
Nofomela
(gelewer op 28 November 1991). Aan daardie vereistes word daar in die huidige
geval hoegenaamd nie voldoen nie. Dit is voldoende
om net op een onoorkome-like
moeilikheid te wys. Behalwe in uitsonderlike omstandighede, moet daar 'n
redelike moontlikheid bestaan
dat die betrokke getuienis by die verhoor
voorgelê sou gewees het indien die huidige regsposisie toe reeds van krag
sou gewees
het, of andersins moet daar 'n redelik aanvaarbare verduideliking
wees waarom
13. die betrokke getuienis nie aan die Verhoorhof voorgelê
is nie. Die omstandighede van die huidige geval is in geen opsig
uitsonderlik
nie; die betrokke getuienis hou hoegenaamd nie verband met die veranderinge wat
aangebring is aan die regsposisie nie;
en die appellant het geen verduideliking
aangebied vir die ommekeer van sy getuienis nie. (In Ncube se saak het die
appellant onder
kruisondervraging as rede vir sy vroeëre valse getuienis
aangevoer dat Ncube nie in die vorige verhoor as 'n medebeskuldigde
aanwesig was
nie. Dit is 'n onsinnige verklaring wat geen verdere bespreking verdien nie.)
Gevolglik ontbreek daar enige voldoende
grondslag vir die terugverwysing van die
saak na die Verhoorhof om verdere getuienis aan te hoor.
Die appellant se
advokaat het ook aangevoer dat die appellant sedert die doodvonnis hom
opgelê is, berou getoon het oor sy optrede,
soos blyk (aldus die betoog)
uit die feit dat hy bereid was om in Ncube se verhoor getuienis af te lê.
In dieselfde verband
is
14.
ons meegedeel dat die appellant sedertdien op 'n godsdienstige vlak tot
bekering gekom het en hom besig hou met Bybelstudie en die
versterking van sy
geestelike lewe. Die genoemde feite.(aangenome dat dit so is) kan egter nie nou
in aanmerking geneem word nie,
aangesien hulle eers ontstaan het nadat die
vonnis opgelê is (S v Nofomela supra). Slegs die uitvoerende gesag
kan nou daaraan aandag skenk.
Die vraag of die doodstraf die enigste gepaste
vonnis vir die appellant is, moet gevolglik oorweeg word aan die hand van die
gegewens
wat blyk uit die oorkonde wat voor hierdie Hof is.
Die
strafverswarende faktore in hierdie geval hang saam met die beplanning, die
motief, die aard en die wyse van uitvoering van die
moord. Soos reeds vermeld,
was daar h besondere deeglike beplanning van die roof. Dit blyk uit die
getuienis dat die beplanning oor
minstens 'n week of twee gestrek het. Dit het
ingesluit 'n verkenning van die oorledene se
15. winkel, sy woonplek, en sy
gewone bewegings tussen die twee plekke. Daar was 'n vorige onsuksesvolle poging
om die roof uit te
voer, toe alle voorbereidsels volledig getref is, maar wat op
niks uitgeloop het nie omdat die oorledene nie opgedaag het nie. Die
appellant
en sy makkers was vasberade en volhardende rowers. Hulle het weer die oorledene
gaan inwag in die privaatheid van sy woonperseel
en hom in sy motorhuis
oorrompel. Dit is moontlik - en ek aanvaar dit ten gunste van die appellant -
dat dit nie vooraf beplan was
dat die oorledene nou juis om die lewe gebring sou
word nie. Maar dit is duidelik dat die appellant hom voorberei het op enige
gebeurlikheid
en gereed was om alles te doen wat nodig sou wees om die oorledene
tot oorgawe te dwing. Hy het hom bewapen met 'n hamer en het nie
geskroom om dit
te gebruik nie. Die aanranding op die oorledene was wreedaardig en is met
koelbloedige gevoelloosheid tot die uiterste
gevolg deurgevoer. Die appellant
het die direkte oogmerk gehad om die
16. oorledene dood te slaan. En hy het
dit gedoen slegs vir sy eie geldelike gewin. By dit alles het hy die leidende
rol gespeel by
sowel die beplanning as die uitvoering van die roof en was hy
dié een van die bende van ses wat dit op hom geneem het om die
oorledene
buite aksie te stel.
As strafversagtende faktore is aangevoer die appellant
se betreklike jeugdigheid, sy gebrek aan opvoeding en opleiding, en sy beweerde
onrypheid. Ek betwyfel dit of oorwegings van hiedie aard werklik as
strafversagtende faktore aangemerk kan word in 'n geval soos
die huidige, gesien
die volgehoue berekendheid en kille planmatigheid wat die appellant se optrede
gekenmerk het. Die appellant se
beweerde onrypheid berus ook nie op enige
feitebasis nie. Hoe dit ook al sy, die aangevoerde strafversagtende faktore
verbleek na
my oordeel ongetwyfeld tot onbeduidendheid, wanneer hulle opgeweeg
word teenoor die strafverswarende faktore soos reeds opgenoem.
17.
Die appellant se vorige veroordelings toon aan dat hy geneig is tot misdade van 'n gewelddadige aard, en dit is ook 'n strafverswarende faktor. Die appellant het egter nog nie voorheen gevangenisstraf oor 'n lang tydperk uitgedien nie, en die moontlikheid dat hy vatbaar is vir rehabilitasie by wyse van so 'n soort straf kan nie uitgesluit word nie. Weeg 'n mens dit egter op teen die bekende oogmerke van straftoe-meting, is ek van oordeel dat 'n lang termyn van gevangenisstraf, selfs lewenslank, nie 'n gepaste straf in hierdie geval sal wees nie. Die noodsaaklikheid om behoorlike uiting te gee aan die aspekte van vergelding en afskrikking, en aan die samelewing se afsku van moorde van hierdie aard, weeg hier swaarder as die vooruitsig van rehabilitasie van die appellant. In die algemeen, met verwysing na so 'n vooruitsig, is daar die volgende gesê in S v Majosi and Others 1991 (2) SASV 532 (A) op 541e:
"... that factor, weighty as it undoubtedly
18.
is, must yield to considerations of retribution and deterrence when the horror of the crime, the callousness of the criminal, and the frequency of its recurrence generally, are such that the perceptions, sensibilities and interests of the community demand nothing less than the extreme penalty."
Die huidige is so 'n geval.
Die appèl word van die hand gewys en die
doodvonnis word bekragtig.
A.S. BOTHA AR
VIVIER AR
STEM SAAM HOWIE WN AR