South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
1992 >>
[1992] ZASCA 6
| Noteup
| LawCite
S v Van Ransen (474/91) [1992] ZASCA 6 (5 March 1992)
Download original files |
SAAKNOMMER 474/91
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA APPëLAFDELING
In die saak tussen:
SAMUEL VAN RANSEN Appellant
en
DIE STAAT Respondent
CORAM: JOUBERT, MILNE ARR et HOWIE Wn AR
VERHOOR: 21 FEBRUARIE 1992 GELEWER: 5 MAART 1992
1 UITSPRAAK
HOWIE Wn AR: Die huis te Kennedystraat 171, Kenilworth, Johannesburg is die woning van mev Maria Hickman ("die klaagster"). Haar huisbediende, Christinah Radebe ("die oorledene"), het 'n kamer op die perseel bewoon. Gedurende die laat namiddag van 30 Januarie 1988 het appellant, wat op vorige geleenthede daardie maand los werkies vir die klaagster in haar tuin gedoen het, oor die muur rondom die klaagster se tuin geklim en die agterplaas binnegetree. Nie lank daarna nie het die klaagster hom naby die hek raakgesien toe sy uitgegaan het om perskeskille in die vullisdrom te gooi. Sy het vir hom gevra wat hy daar gesoek het. Sonder om 'n woord te uiter, het hy na haar toe gestap en haar begin wurg. Die klaagster, wat toe 78 jaar oud was, het as gevglg van die aanval haar ewewig begin verloor en na die oorledene om hulp geroep. Appellant het egter in die aanranding volhard en sy het op die grond beland. Gelukkig vir haar het sy die voorval oorleef omdat sy kort daarna bewusteloos geraak en stil gelê het waarop appellant haar gelos het. Die oorledene, wat net vier
2
jaar jonger as die klaagster was, het laasgenoemde hoor roep. Toe sy op die
toneel opgedaag het, het appellant haar te lyf gegaan
en haar doodgewurg. Hy het
daarna die huis binnegegaan en klaagster se handsak, draadloos en polshorlosie
gesteel asook verskeie
voedselware.
Appellant is op 13 Februarie 1988 in
hegtenis geneem. Hy het twee maande later in die Witwatersrandse Plaaslike
Afdeling voor O'Donovan
WR en twee assessore op klagtes van poging tot moord,
moord en roof met verswarende omstandighede tereggestaan. Hy is op all drie
aanklagte skuldig bevind. Geen versagtende omstandighede is ten aansien van die
moord bevind nie en hy is die doodvonnis opgelê.
Vonnisse van 8 jaar
gevangenisstraf is op elkeen van die ander klagtes opgelê welke strawwe
beveel is om saam te loop.
Aansoeke tot beide die Verhoorhof en die
Hoofregter om verlof om te appelleer, het misluk.
Appellant se doodvonnis is
mettertyd heroorweeg deur die paneel aangestel kragtens Wet 107 van 1990. Die
paneel het gemeen dat indien
die bepalings van daardie Wet ten tye van die
verhoor gegeld het die doodvonnis waarskynlik opgelê sou gewees
3
het. Derhalwe is gemelde vonnisaangeleentheid nou voor hierdie Hof.
Voor
ons het mnr Jammy (wat nie by die verhoor verskyn het nie) namens appellant aan
die hand gedoen dat die volgende faktore wesenlik
versagtend is: eerstens, die
feit dat appellant nie veel ouer nie as 20 was toe die misdryf gepleeg is;
tweedens, appellant se gebrek
aan enige skoolopleiding en die feit dat hy 'n
patetiese swerwersbestaan gevoer het; derdens dat appellant na die klaagster se
huis
gegaan het met die doel om te steel en nie om geweld te pleeg nie; en,
vierdens, dat appellant by die tersaaklike stadium tot 'n
mate onder die invloed
van sterk drank was.
Namens die Staat het mnr Fourie betoog dat die
Verhoorhof se bevinding dat appellant met dolus directus opgetree het, die aard
van
hierdie moord en die toename in dodelike aanvalle op bejaarde persone in hul
eie wonings, die vergeldings- en afskrikkingselemente
van vonnisoplegging in die
onderhawige geval deurslaggewend maak.
Aangaande appellant se ouderdom' het
sy stiefsuster getuig dat sy self in 1966 gebore is en dat
4
hy ouer was as sy. Sy is nie in hierdie opsig verder ondervra nie. By die
aanvang van appellant se eie getuienis is dit deur sy advokaat
direk aan hom
gestel dat hy op 15 Junie 1967 gebore is. Hy het bevestigend geantwoord. Geen
poging is namens die vervolging aangewend
om laasgenoemde "bewering" te toets of
te weerlê nie en by die betoogstadium ten opsigte van vonnis het die
advokaat namens
die Staat uitdruklik aanvaar dat appellant 20 jaar en 6 maande
oud was toe die moord gepleeg is. In hierdie omstandighede en in die
afwesigheid
van enige ondersoek met betrekking tot die betroubaarheid van óf die
stiefsuster se bewering dat sy in 1966 gebore
is óf die stelling dat
appellant op 15 Junie 1967 gebore is, aanvaar ons dat hy ten tye van die voorval
tussen 20 en 21 jaar
oud was.
Die feit dat hy nooit skoolgegaan het nie word
in ag geneem maar dit beteken natuurlik nie op sig self dat hy onintelligent is
nie.
Hierdie faktor, asook appellant se nederige status in die breë
gemeenskap kan uit die aard van die saak weinig gewig dra in
die besondere
omstandighede van hierdie aangeleentheid behalwe as 'n moontlike
verduideliking
5
vir die feit, waarop ek hieronder terugkom, dat hy hom op geen stadium
bewapen het nie, wat op sy beurt kan beteken dat hy om een
of ander rede gedink
het dat hy sy wederregtelike doel onontdek of sonder geweld sou bereik.
Met
betrekking tot die kwessie van appellant se beweegrede het die Verhoorhof bevind
dat hy na die klaagster se woning gegaan het
met die doel om te steel. Dit blyk
uit al die getuienis wel die geval te gewees het. Appellant het in daardie plan
volhard selfs
na die aanvalle op sy weerlose slagoffers. Hy is nóg deur
hulle teenwoordigheid nóg deur die gevolge van wat hy aan
hulle gedoen
het, afgeskrik. Wat eintlik in sy guns tel, is dat anders as die oorgrote
meerderheid van oortreders in hierdie soort
sake hy geen wapen saamgeneem het
nie. Selfs toe hy in die agterplaas beland het en die klaagster hom gesien het,
het hy geen voorwerp
opgetel om haar mee aan te val nie. Dit is natuurlik
waarskynlik, op grond van sy kennis van die perseel en wie daar gewoon het,
dat
hy moes besef het dat die klaagster verset mag bied of om hulp mag roep, en dat
hy dus reeds vooraf bereid was om die inwoners
6
met sy kaal hande te lyf te gaan. Die Staat dra egter die bewyslas om die
redelike moontlikheid uit te skakel dat toe die klaagster
vir appellant gedaag
het hy besluit het om tot geweld oor te gaan. Die Staat het myns insiens nie in
daardie taak geslaag nie. Dit
is tog n redelike afleiding dat hy eers op daardie
laat stadium besef het dat geweld nodig was om hom in staat te stel om te steel
en daarmee weg te kom.
Die submissie dat appellant onder die invloed van
sterk drank was, berus uitsluitlik op sy eie getuienis. Sy bekentenis aan 'n
polisie-offisier,
wat as deel van die Staatsaak bewys is, maak egter geen
melding hoegenaamd van drank nie. Die beskrywing van die voorval wat appellant
daarin verstrek het, was samehangend en het heelwat besonderhede vervat. By die
pleitverrigtinge in die landdroshof beweer hy vir
die eerste keer dat hy
"bietjie dronk was" en nie alles geweet het wat hy gedoen het nie. Hy het
bygevoeg dat hy "nie te veel gedrink
(het) nie". In sy getuienis by die verhoor
egter beweer hy dat hy nie net 'n bietjie dronk was nie en dat hy eintlik niks
geweet
het wat hy doen nie - "dit is hier en daar wat ek nog kan onthou".
7
Sy getuienis op daardie aspek, asook aangaande die
voorval self, is tereg deur die Verhoorhof as vals
verwerp. Ek stem volkome saam met die belese regter se
opmerking in hierdie verband dat
"... his actions during and after the
assaults in question were purposeful and not
the actions of a man in a state of
drunkenness, even assuming that he had
consumed some liquor".
Drank het dus geen wesenlike rol gespeel
nie.
Weens verwerping van appellant se weergawe (oa dat hy op die betrokke
dag van die oggend af by die klaagster gewerk het), kan nie
bevind word wanneer
hy besluit het om na haar woning te gaan nie, en of die bedoeling om te steel
eers by hom ontstaan het toe hy
moontlik net by haar perseel verbygestap het.
Daar is dus geen bewys van enige wesentlike mate van voorafbeplanning
nie.
Dat daar verswarende omstandighede is ly geen twyfel nie. Hier is weer
eens 'n voorval waar weerlose bejaardes op hulle eie perseel
op gruwelike wyse
aangeval is. In gemeenskapsbelang moet die elemente van vergelding en
afskrikking noodwendig sterk op die voorgrond
tree. Maar nie net dit nie.
Appellant het 'n
8
indrukwekkende lys van vorige veroordelings. Ag daarvan het diefstal of inbrake behels. Sy kriminele loopbaan het op elfjarige ouderdom begin. Tussen Januarie en Augustus 1986 is hy ten opsigte van een diefstal en twee gevalle van huisbraak altesaam 34 maande gevangenisstraf opgelë. Hy is onvoorwaardelik vrygelaat nadat hy 15 maande uitgedien het. Selfs daardie ondervinding het hom nie tot besinning gebring nie. Minder as n jaar na sy vrylating pleeg hy die onderhawige misdrywe. Al het hy slegs een vorige veroordeling vir 'n geweldsoortreding (aanranding met die opset om ernstig te beseer met geskoende voet ten opsigte van welke misdryf R60 of 60 dae in 1982 opgelê is) leer die ervaring dat dit ongelukkig 'n kenmerk van die meeste gereelde inbrekers se loopbane is dat hulle op een of ander stadium tot ernstige geweldpleging teenoor huisbewoners of persone soos nagwagte oorgaan. Die gemeenskap verdien dus beskerming nie net teen appellant se, by hierdie tyd, vaste neiging om in te breek en te steel nie maar veral teen sy bereidwilligheid om ernstige geweld in daardie samehang te gebruik. Die voorkomingselement weeg dus ook swaar
9
in hierdie saak.
Aangesien die kanse van hervorming in die lig van appellant se geskiedenis
uiters skraal blyk te wees, is hierdie 'n geval waar appellant
na my mening
permanent vanuit die gemeenskap verwyder móet word. Dit volg dat niks
minder as lewenslange gevangenisstraf gepas
is nie.
Behoort die uiterste
vonnis opgelê te word? Aandagtig aan die erns van appellant se optrede,
die toename in misdade van hierdie
aard, die feit dat hy met dolus directus
gehandel het en die vasberadenheid waarmee hy in sy aanval op die oorledene en
selfs die
klaagster volhard het (die mediese getuienis bewys dat dit minstens
drie minute moes geneem het om die oorledene dood te wurg) is
die doodvonnis
ongetwyfeld n gepaste straf. Maar die posisie is eintlik die volgende. Indien
lewenslange gevangenisstraf, in die
lig van die kumulatiewe uitwerking van die
tersaaklike faktore in die onderhawige saak, al die oogmerke van vonnisoplegging
sou bereik,
kan die doodvonnis nie die enigste gepaste straf wees nie.
Hierdie is na my mening 'n grenslyngeval.
10
Uiteindelik is dit appellant se jeugdige ouderdom, die afwesigheid van getuienis van voorafbeplanning en die feit dat hy onbewapen die perseel binnegetree het - alles kumulatief oorweeg - wat my tot die slotsom gebring het dat die doodstraf nie die enigste gepaste vonnis is nie. Met spesifieke verwysing na die ouderdomsfaktor, is hierdie saak wesenlik vergelykbaar met dië van S v Dlamini 1992 (1) SA 18 (A). In daardie saak het die Hof gemeen (te 31H) dat selfs waar jeugdige ouderdom nie op sigself n versagtende faktor is nie dit nogtans tersaaklik is by die vraag of die doodstraf gepas is. Dit moet ook noodwendig ter sake wees waar die verdere vraag is of daardie vonnis die enigste gepaste straf is.
Uit hoofde van al die voorgaande meen ek dat lewenslange gevangenisstraf
opgelê moet word.
Bygevolg slaag die appèl. Die doodvonnis word
tersyde gestel en met lewenslange gevangenisstraf vervang.
HOWIE Wn AR
JOUBERT AR) STEM MILNE AR ) SAAM