South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1992 >> [1992] ZASCA 71

| Noteup | LawCite

S v Van Vuuren en 'n Ander (300/91) [1992] ZASCA 71 (21 May 1992)

Download original files

PDF format

RTF format


Saak no. 300/91
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING) In die saak tussen:

JOHANNES LODEWIKUS VAN VUUREN Eerste Appellant

SAGARIAS GEORGE VAN GRüNING Tweede Appellant

en

DIE STAAT Respondent

CORAM: E M GROSSKOPF, KUMLEBEN, ARR et VAN COLLER Wnd AR VERHOOR: 5 MEI 1992

GELEWER: 21 Mei 1992

2

UITSPRAAK
E M GROSSKOPF, AR

Die twee appellante het elk in die Transvaalse Provinsiale Afdeling tereggestaan op twee aanklagte van moord, 'n aanklag van roof met verswarende omstandighede, en aanklagte van onwettige besit van 'n vuurwapen en ammunisie. Na 'n verhoor voor HUMAN WR en assessore is hulle op alle klagtes skuldig bevind. Geen versagtende omstandighede is bevind met betrekking tot die twee moordklagtes nie, en hulle is elk op albei klagtes ter dood veroordeel. Die vonnisse met betrekking tot die ander klagtes is nie tans ter sake nie. Aansoeke om verlof om te appelleer is deur die verhoorregter en deur hierdie hof afgewys. Kragtens die Strafregwysigingswet, no. 107 van 1990 (die Wysigingswet), is die appellante se gevalle weer in oënskou geneem deur die paneel wat aangestel is om die vonnisse van sekere ter dood

3

veroordeelde persone te heroorweeg. Die paneel het bevind dat die verhoorhof die doodvonnisse waarskynlik sou opgelê het indien art. 277 van die Strafproseswet, no. 51 van 1977, soos vervang deur die Wysigingswet, ten tyde van vonnisoplegging in werking was. Die appél dien nou gevolglik voor ons ingevolge art. 19(12) van die Wysigingswet.

Nie een van die appellante het getuienis afgelê nie, en die tersaaklike feite blyk uit die staatsgetuienis en uit verklarings en pleitverduidelikings wat die appellante verstrek het. Die feite is soos volg. Die eerste appellant, wat destyds 22 jaar oud was, het in Durban gewoon. Die tweede appellant, destyds 24 jaar oud, het 'n paar nagte by die eerste appellant kom kuier. Die twee van hulle het toe besluit om na die Transvaal te reis per motor. Die presiese rede is nie belangrik nie - die eerste appellant sê in 'n verklaring dat hy die tweede appellant na sy ouerhuis wou neem maar daar is ook getuienis dat hulle banke in Transvaal wou gaan beroof. Hoe dit ook al sy, langs die pad het hulle

4

op 29 Mei 1985 gekuier by mense in die distrik Perdekop in
die omgewing van Standerton. Die eerste appellant het in
daardie omgewing grootgeword en skoolgegaan. Hulle het eers
die middag by 'n familie Kok gekuier. Dit was ongeveer kwart
voor vier. Daarna het hulle gegaan na die plaas van die twee
oorledenes, mnr. en mev. Van Eeden. Mnr. Van Eeden was 71

jaar oud, en mev. Van Eeden 61. Die twee Van Eedens het

alleen op die plaas gewoon met net een jong swartman wat

gehelp het met die paar koeie wat hulle aangehou het. Mev.

Van Eeden was gedeeltelik 'n invalide. Sy het soms met

behulp van 'n driepoot-loopraam beweeg. Die eerste appellant

sê die volgende omtrent die Van Eedens in 'n verklaring:

"Ek ken die mense van my kinderdae af. Ek het voor hulle groot geword. ... Hulle was vir my soos 'n oupa en ouma ... ."

Nadat die twee appellante 'n rukkie gekuier het,

het hulle in die motor geklim en weggery. 'n Entjie weg het

hulle egter gestop, en toe weer teruggery na die Van Eedens

se woning. Mnr. Van Eeden het uitgekom en gevra wat die

5

moeilikheid was. Die eerste appellant sê toe dat daar fout

is met die motor se petroltoevoer. Wat daarna gebeur het,
word as volg deur die eerste appellant beskryf ("George" is
die tweede appellant):

"Die oom sê toe ons moet die kar na sy skuur naby die huis vat. Die oom het toe sy bakkie uitgetrek en ligte op my motor se enjin laat skyn. Die oom het toe 'n handpomp uit sy motor gaan haal en ons het die petrolpyp afgehaal en skoon geblaas. Toe die oom die pomp gaan bêre het ek die petrolpyp teruggesit. Toe hy die skuurdeur toemaak toe sien ek dat George hom met 'n piksteel slaan. Ek het nie mooi gesien waar die hou hom tref nie. Die oom val toe en George slaan hom nog."

Die tweede appellant se weergawe van die aanranding

op mnr, Van Eeden verskil nie wesentlik nie. Volgens die

mediese getuienis het hierdie aanranding ernstige

hoofbeserings veroorsaak.

Terwyl die tweede appellant die aanranding op mnr.

Van Eeden gepleeg het, het die eerste appellant die huis

binnegegaan waar mev. Van Eeden was. Daar het hy 'n .22

geweer en ammunisie in die hande gekry, die geweer gelaai, en

'n aantal skote op mev. Van Eeden geskiet. Minstens vyf het

6

haar getref in haar lyf of kop. Dit het haar dood veroorsaak. Die tweede appellant het toe ook na die huis gegaan, en die twee appellante het 'n aantal artikels gesteel. Op een of ander tydstip is die telefoon se koord afgesny. Die afleiding is onweerstaanbaar dat die tweede appellant dit gedoen het voordat hy mev. Van Eeden geskiet het, anders sou dit geen doel gedien het nie.

Nadat die twee appellante klaargemaak het in die huis is hulle terug na die motor. Dit het toe geblyk dat mnr. Van Eeden moontlik nog leef. Die eerste appellant het hom gevolglik met die .22 geweer in sy kop geskiet. Die mediese getuienis kon nie uitsluitsel gee of Mnr. Van Eeden nog gelewe het toe die skoot toegedien is nie. Wat egter wel vas staan is dat die aanranding met die piksteel en die skoot in die kop elkeen afsonderlik die dood sou kon veroorsaak het. Inderdaad het mnr. Van Eeden aan sy wonde beswyk.

Die appellante se verdere bewegings is nie van enige belang nie. In die loop van die polisie se gewone

7

ondersoek na die moorde op die twee oorledenes het hulle verklarings van die appellante geneem. Die twee appellante het vertel dat hulle die middag by die oorledenes gekuier het, maar het gesê dat alles in orde was toe hulle vertrek het. Die polisie het geen rede gehad om hul bewerings in twyfel te trek nie. Eers omtrent 'n jaar later, ná ontvangs van verdere inligting, het die polisie weer aandag aan die twee appellante gegee, en het die verklarings gevolg waarop die Staat se saak berus.

Dit is teen die agtergrond van die bogemelde feite dat ons nou, met inagneming van sodanige strafversagtende of -verswarende faktore as wat aanwesig mag wees, moet beslis of die doodvonnis die "gepaste vonnis" in die onderhawige geval is (art. 277(1)(2) van die Strafproseswet, soos saamgelees met art. 19(12)(b)(ii) van die Wysigingswet).

Die strafverswarende omstandighede lê voor die hand. Van 'n morele standpunt geoordeel is dit moeilik om aan 'n verfoeiliker misdaad te dink. Hierdie is eerstens 'n

8

geval waar twee bejaarde en hulpelose mense wat alleen op 'n plaas woon, deur rowers aangeval en vermoor is. Sulke gevalle word altyd as baie ernstig beskou, maar hier is daar nog aanvullende verswarende faktore. Die twee appellante het as vriende na die oorledenes gegaan en hul gasvryheid geniet. Die eerste appellant het voor die oorledenes grootgeword. Die moorde was beplan. In hierdie verband is dit onnodig om te besluit of die appellante by hul eerste aankoms al die opset gehad het om die oorledenes te beroof en te vermoor, aangesien daar geen twyfel kan wees dat hulle inderdaad so 'n opset gehad het toe hulle weer na die opstal teruggekeer het nie. Op daardie stadium het hulle die leuen paraat gehad waarmee hulle mnr. Van Eeden niksvermoedend en hulpverlenend binne hul bereik gebring het. Terwyl die tweede appellant die aanval op mnr. Van Eeden uitgevoer het, het die eerste appellant na die huis gegaan om met mev. Van Eeden af te reken en, so kan afgelei word, ook seker te maak dat sy nie die telefoon gebruik nie. Alles dui op voorafbeplanning.

9

Dat hulle die subjektiewe opset gehad het om die oorledenes te dood kan myns insiens nie betwyfel word nie. Dit blyk uit die aard van die beserings wat toegedien is, en veral die feit dat, toe hulle gedink het dat mnr. Van Eeden miskien die aanval met die piksteel oorleef het, daar toe aan hom nog 'n verdere geweerskoot in die kop toegedien is. En die twee appellante het natuurlik ook besef toe hulle die roof beplan het dat hulle nie kon bekostig om 'n moontlike getuie lewend te laat nie. Kortom dus: die appellante (en veral die eerste appellant) het opsetlik en met voorbedagte rade van die twee ou mense se vriendskap gebruik gemaak om hulle te beroof en te vermoor.

Dit bring my dan by moontlike strafversagtende faktore. Die appellante se advokate het in hierdie verband staatgemaak op die appellante se persoonlike omstandighede en dit is dus dienstig om die twee appellante apart te behandel.

Soos reeds gemeld was die eerste appellant ten tyde

10

van die pleging van die moorde 22 jaar oud. Skolasties het hy nie verder as standerd 7 gevorder nie, hoewel hy oor 'n gemiddelde intelligensie beskik. Hy het twee vorige veroordelings waarvoor hy op dieselfde dag (12 Oktober 1982) gevonnis is, en wat vermoedelik met mekaar verband hou, t.w. een vir tjekbedrog waarby R189,03 betrokke was, en minagting van die hof. Hy het dus geen geskiedenis van geweld nie.

'n Groot volume psigiatriese getuienis is voor die hof geplaas. Voordat die verhoor 'n aanvang geneem het, is die eerste appellant vir observasie verwys ingevolge art. 77 en 78 van die Strafproseswet. Die drie psigiaters wat verslag gedoen het, het verklaar dat hy in staat was om hofverrigtinge te volg en na behore tot sy eie verdediging mee te werk; en dat hy ten tyde van die misdrywe volgens die beskikbare informasie nie deur geestesgebrek dermate versteurd was dat hy nie die ongeoorloofdheid van sy handelinge kon besef het of hom daarvan kon weerhou het nie. Die psigiater wat deur die eerste appellant aangestel is, is

11

egter oorlede voordat hy kon getuig, en 'n vierde psigiater, dr. S.D. Stahmer, het die eerste appellant ondersoek en oor sy toestand getuig. Die twee oorblywende lede van die paneel wat ingevolge art. 79 van die Strafproseswet verslag gedoen het, t.w. prof. J.A. Plomp en dr. C. le Roux, het ook getuig. In die getuienis het daar verskeie meningsverskille ontstaan tussen dr. Stahmer aan die een kant, en, aan die ander kant, die gesamentlike front van prof. Plomp en dr. Le Roux. Dit het veral gegaan oor die vraag of die eerste appellant aan 'n anti-sosiale persoonlikheids-versteuring ly as gevolg waarvan hy wesentlik verminderd toerekeningsvatbaar was (soos bevind deur dr. Stahmer) en of hy bloot trekke van 'n anti-sosiale persoonlikheids-versteuring het wat geen wesentlike invloed op sy toerekeningsvatbaarheid het nie (soos bevind deur die twee ander psigiaters). In sy uitspraak oor versagtende omstandighede het die verhoorhof die getuienis van dr. Stahmer verwerp en dié van prof. Plomp en dr. Le Roux

12

aanvaar. Mnr. Pienaar, wat namens die éerste appellant opgetree het, het betoog dat hierdie bevinding van die hof a quo bereik was op die basis dat die bewyslas op die appellante gerus het om versagtende omstandighede te bewys. Waar die regsposisie nou verander het deurdat dit tans die plig van die Staat is om die bestaan van strafversagtende faktore bo redelike twyfel te negeer (sien S v. Nkwanyana and Others 1990(4) SA 735 (A) op bl. 743 F tot 745 A) behoort ons op appêl (so is verder betoog) die getuienis van dr. Stahmer te aanvaar as juis (minstens op die basis van 'n redelike moontlikheid), en op grond daarvan die eerste appellant se persoonlikheidsamestelling as strafversagtend te aanvaar.

Hierdie argument gaan myns insiens nie op nie. Die verhoorhof se kritiek op dr. Stahmer het hoofsaaklik daarop berus dat daar geen feitebasis vir dr. Stahmer se menings was nie. Dr. Stahmer het gevolgtrekkings gemaak op grond van beweerde feite waarvoor daar geen getuienis was nie, en soms waar daar teenstrydige getuienis was. Hierdie kritiek, wat

13

ek meen geregverdig was, geld steeds, en is heeltemal
onafhanklik van die ligging van bewyslas. Ek meen dus dat
hierdie saak benader moet word op die aanvaarde getuienis van
prof. Plomp en dr. Le Roux. Prof. Plomp se getuienis in
hierdie verband is soos volg deur hom opgesom:

"... wat ek net wil uitwys is dat daar die basiese verskil is dat dr. Stahmer, die vorige getuie, maak 'n diagnose van 'n geestesafwyking, en ek maak nie so 'n diagnose nie. En soos ek dit interpreteer is volgens hom daardie geestesongesteldheid, naamlik anti-sosiale persoonlikheidsversteuring, voldoende om die beskuldigde se vermoe om volgens sy besef van ongeoorloofdheid te handel nadelig te kan beïnvloed. Maar ek sê dit is nie so nie."

Die verwerping van dr. Stahmer se bevinding van 'n anti-sosiale persoonlikheidsversteuring bring ook mee dat sy mening oor aspekte van hierdie versteuring waarop hy gewys het, soos byvoorbeeld emosionele onrypheid, ook nie aanvaar kan word nie.

Dan is daar betoog dat daar getuienis was dat die tweede appellant 'n sterker persoonlikheid gehad het en die leidende rol gespeel het en die eerste appellant beïnvloed

14

het. Ek kon geen sodanige getuienis vind nie. Nie een van die psigiaters sê dit nie. Weliswaar het die eerste appellant in sy verskeie verklarings toe hy uiteindelik erken het dat hy deelgeneem het aan die misdrywe beweer dat hy onder dwang van die tweede appellant opgetree het. Hy het egter geen getuienis tot hierdie effek afgelê nie (daar sal onthou word dat hy glad nie getuig het nie) en die bewerings in die verklarings is tereg deur die hof a cruo as vals verwerp.

In die lig van wat ek hierbo gesê het, blyk dit dat daar net twee faktore is wat in 'n mate as strafversagtend aangemerk kan word - die eerste appellant se betreklike jeug en sy betreklike skoon rekord. Sy trekke van anti-sosiale persoonlikheidsversteuring, meen ek, het geen betrekking op hierdie saak nie. Daar is geen aanduiding dat hy 'n ingebore geneigdheid tot geweld het nie. Die impulsiwiteit en lae frustrasiedrumpel, wat dikwels by anti-sosiale persoonlikhede voorkom, het uiteraard hier geen rol gespeel nie. Die

15

misdade was nie gepleeg uit impulsiwiteit of as 'n reaksie op frustrasie nie. Dit was beplande, voorbedagte misdade. En insoverre as die eerste appellant se trekke van persoonlikheidsversteuring moontlik daaruit kan bestaan dat hy meer gewetenloos as die meeste mense is, is dit nie na my mening 'n versagtende faktor nie (sien S v. Pieterse 1982(3) SA 678 (A) op bl. 684 B).

Dit bring my dan by die tweede appellant. Soos reeds gemeld was hy 24 jaar oud ten tyde van die voorval. Hy ook het net standerd 7 op skool gemaak, en volgens 'n sielkundige verslag het hy 'n totale I.K. van 77, wat grens aan geestesvertraging. Hy het 'n slegter kriminele rekord as die eerste appellant. Hy het veroordelings vir huisbraak met die opset om te steel (met of sonder 'n daadwerklike diefstal) in 1977, 1979 en 1986 (laasgenoemde was dus ná die moorde in die onderhawige geval). Dan is hy ook gevonnis vir die gebruik van 'n motorvoertuig sonder die eienaar se toestemming, diefstal, dronkbestuur, en bestuur sonder 'n

16

bestuurderslisensie. Hoewel die tweede appellant dus 'n slegte rekord het, het hy hom nie vantevore aan 'n geweldsmisdaad skuldig gemaak nie.

Die tweede appellant is ook vir ondersoek ingevolge arts. 77 en 78 van die Strafproseswet verwys. In sy geval ook het die paneel van die psigiaters (prof. J.A. Plomp, dr. J.P. Verster en dr. J.L. Roos) bevind dat hy in staat was om die hofverrigtinge te volg en sinvol tot sy eie verdediging by te dra; en dat hy ten tye van die misdaad nie dermate deur geestesongesteldheid aangetas was dat hy nie die ongeoorloofdheid van sy handelinge kon besef of om ooreenkomstig 'n besef van die ongeoorloofdheid van sy handelinge op te tree nie. In die geval van die tweede appellant, anders as by die eerste appellant, het die paneel egter 'n positiewe psigiatriese diagnose gemaak dat hy aan 'n anti-sosiale persoonlikheidsafwyking (psigopatie) ly.

Dit is al dikwels deur ons howe beklemtoon dat psigopatie per se nie 'n versagtende omstandigheid is nie.

17

Sien byvoorbeeld S. v. Mnyanda 1976(2) SA 751 (A) op bl. 766 H; S. v. Pieterse, supra, en S. v. Kosztur 1988(3) SA 926 (A) op bl. 938 D. Hoewel hierdie beslissings gelewer is na aanleiding van die regsposisie wat gegeld het voor die inwerkingtreding van die Wysigingswet, is hul ratio ewe seer van toepassing op die bestaan al dan nie van strafversagtende faktore vir die doeleindes van art. 277(2)(a) van die Strafproseswet soos dit tans lui. Om te bepaal of psigopatie 'n strafversagtende faktor uitmaak, sal 'n hof eerstens let op die erns en aard van die psigopatie wat aanwesig is, want psigopatie dra nie altyd dieselfde kenmerke nie. Dan moet die hof ag slaan op die aard van die misdaad en die omstandighede waarin dit gepleeg is. Sien Mnyanda se saak, supra, op bl. 766 H tot 767 in fin.; Pieterse se saak, supra,op bl. 683 H tot 685 D.

Prof. Plomp en dr. Verster het getuienis oor die tweede appellant se persoonlikheidsamestelling gelewer. Prof. Plomp het getuig dat 'n psigopaat 'n persoon is wat ons

18

miskien kan beskryf as gewetenloos. Hy het verder daarop uitgebrei soos volg:

"Hy tree op in sy eie belang. Hy neem nie in ag die

belange van ander mense of hulle gevoelens nie. Hy

is ook nie bereid om sy doelstellings uit te stel

nie. Wanneeer hy iets begeer dan wil hy dit

onmiddellik hê en hy duld nie sulke uitstel nie.

Wanneer hy ook dan verplig word om 'n saak uit te

stel wat hy wil hê dan voel hy frusteerd en net

soos 'n stout kind sal hy dan kwaad word en

enigiets aanvang in daardie woede uit sy frustrasie

uit. Omdat hy nie simpatie en meegevoel of empatie

met sy medemens het nie, is hy dan geneig om ander

mense in sy eie belang te gebruik, en baie van

hierdie psigopate leer dan ook om mense te

manipuleer deur 'n oppervlakkige sjarme waarvoor

ander mense val, om hulle heuning om die mond te

smeer totdat hulle hulle het net waar hulle hulle

wil hê en dan maak hulle misbruik van die persoon

se vertroue. Psigopate kan dan hoofsaaklik soos

ons regsomskrywing in die geestesgesondheidswet

ook aanbied, in twee hoofgroepe ingedeel word, en

dit is dié wat hoofsaaklik onverantwoordelik is en

die ander wat aggressief is. Maar daar mag

natuurlik mengbeelde hiervan ook bestaan. 'n Mens

is nie òf net onverantwoordelike psigopaat òf 'n

aggressiewe psigopaat nie. Daar is mengsels van

hierdie by elkeen van die psigopate. In sommige is

die aggressiewe element miskien meer prominent, in

ander is die onverantwoordelikheids element meer

prominent."

Wat die tweede appellant betref, was prof. Plomp

19

van mening dat hy meer onverantwoordelik as aggressief was.

Wanneer dit by die feite van die onderhawige geval kom, het
prof. Plomp gesê dat die optrede van die twee appellante

"berekende optrede" was - optrede wat getuig het van
deurdagte en logiese denke. 'n Psigopaat het besondere
moeite om sy impulse te beheer waar daar 'n geweldige sterk

emosionele element by is. In die afwesigheid van sodanige

element sou 'n psigopaat wel sy impulse kon beheer, maar hy

sou geneigd wees om aan hulle toe te gee as hy weet "dat sy

kanse om daarmee weg te kom beter is". Ten opsigte van die

feite van die saak sê hy dan:

"... ek weet nie van enige rede waarom hy vir die eerste oorledene, die manlike persoon, kwaad sou wees. Die man het hulle kom koffie bedien, hy het vir hulle gehelp al was dit nie eers vir 'n ware fout aan die motor nie, maar hy het hulle gehelp om die motor reg te stel en hulle was weer reisvaardig gewees. Daar was stof tot dankbaarheid gewees en in plaas daarvan is daar nie woede of haat of jaloesie of sulke emosies wat hom op daardie oomblik kon beïnvloed het nie."

Dr. Verster se getuienis het wesentlik ooreengestem

met dié van prof. Plomp. Sy slotsom was die volgende:

20

"Ek meen in die situasie hier kan 'n mens net kortliks saamvat dit is twee volwassenes, hulle is nie so dom nie, hulle was volgens getuienis nie onder die invloed van alkohol of dagga of wat ook al nie, en hier is tog 'n slinksheid van optrede gewees. So of daar nou werklik anti-sosiale tendense, minder ernstig of meer ernstig, hier was weet ek nie of dit veel verskil gaan maak aan wat gebeur het nie. Dit is nie geestesversteurd of gebrekkig in die sin dat ons kan sê hier is iemand wat toerekeningsvatbaarheid van ingekort is nie."

Weens die voorgaande meen ek dat, hoewel die tweede appellant aan 'n anti-sosiale persoonlikheidsversteuring gely het, dit nie as 'n versagtende faktor aangemerk kan word nie. Die moorde is nie gepleeg vanweë die tweede appellant se onvermoë om sy aggressiewe neigings te beteuel nie. Hulle was voorbedagte en berekende moorde vir gewin. By die tweede appellant, soos by die eerste, is die enigste moontlike effek van sy persoonlikheidsversteuring dat hy meer gewetenloos is as die meeste mense. Soos reeds gemeld beskou ek dit nie as 'n strafversagtende faktor nie.

Die enigste strafversagtende faktore by die tweede appellant was dus sy betreklike jeug, en die feit dat hy geen

21

geskiedenis van geweld het nie. Laasgenoemde faktor dra egter minder gewig as by die eerste appellant, want die tweede appellant het 'n heelwat swakker rekord ten opsigte van misdade oor die algemeen.
Ten slotte moet ek die oordeel vel of, met inagneming van die strafversagtende en -verswarende faktore, die doodstraf die enigste gepaste vonnis is. In hierdie verband dink ek nie 'n mens kan onderskei tussen die twee appellante hie. Die eerste appellant se morele blaamwaardigheid vir die moorde is tot 'n mate erger as dié van die tweede appellant deurdat hy die twee oorledenes vantevore geken het, maar daarteenoor het die tweede appellant 'n slegter rekord. Hierdie is egter na my mening betreklik ondergeskikte aspekte. Die boosheid van albei die appellante se dade was so snood dat die versagtende faktore onbeduidend raak. Na my mening is hierdie 'n geval van sulke uitsonderlike erns dat dit die swaarste straf verdien waarvoor die regspleging voorsiening maak.

22

Die appèl word afgewys en die doodvonnisse bekragtig.

E M GROSSKOPF, AR

KUMLEBEN, AR VAN COLLER, Wnd AR stem

saam