South Africa: Supreme Court of Appeal Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1992 >> [1992] ZASCA 81

| Noteup | LawCite

Minister van Wet en Orde v Wilson en 'n Ander (544/1990) [1992] ZASCA 81; 1992 (3) SA 920 (AD); [1992] 2 All SA 238 (A) (22 May 1992)

Download original files

PDF format

RTF format


LL Saak No 544/1990

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA APPèLAFDELING

Insake die appél van:

MINISTER VAN WET EN ORDE Appellant

teen

RAYMOND JOHN WILSON Eerste Respondent

en
MARK MINNIE Tweede Respondent

CORAM: VAN HEERDEN, SMALBERGER, KUMLEBEN,

F H GROSSKOPF ARR et HOWIE WAR
VERHOORDATUM: 12 MEI 1992

LEWERINGSDATUM: 22 MEI 1992

UITSPRAAK VAN HEERDEN AR:

2
Voortspruitende uit gebeure wat vroegaand
van 27 Februarie 1988 in en naby 'n woonstelgebou
("Hayleigh") in Port Elizabeth plaasgevind het, het

die eerste respondent ("die eiser") 'n aksie vir skadevergoeding teen die appellant en die tweede respondent ("Minnie") aanhangig gemaak. Hy het o a beweer dat hy op verskeie wyses deur Minnie aangerand en uiteindelik by die agterkant van 'n polisie-voertuig ingedwing was; dat Minnie, 'n speurder-sersant in die Suid-Afrikaanse Polisie, binne die omvang van sy diensbevoegdhede as 'n polisiebeampte opgetree het; dat hy (die eiser) beserings opgedoen en pyn ondervind het; dat hy van sy vryheid beroof was, en dat sy waardigheid aangetas was. Dienten-gevolge het hy ' n totale bedrag van R9 000 van die appellant en Minnie, gesamentlik en afsonderlik, gevorder.

Wat die verweerskrifte betref, hoef slegs

3 vermeld te word dat Minnie erken het dat hy 'n beperkte mate van geweld aangewend het en die eiser vir 'n tydperk van sy vryheid beroof het omdat hy
eers in noodweer gehandel en daarna 'n arrestasie uitgevoer het, asook dat die appellant ontken het dat Minnie binne die bestek van sy diensbevoegdhede opgetree het.

Ten tye van die gebeure was die eiser bevriend met ' n dame ("Gayle") met wie hy voor die verhoor getrou het. Gayle was 'n gewese vrou van Minnie. Die eiser getuig dat hy en Gayle die betrokke aand saam in sy woonstel in Hayleigh was. Gayle was nie ten volle gekleed nie en was besig om klere te stryk. Hy hoor die deurklokkie lui; maak die voordeur oop en sien 'n man (wat later Minnie geblyk te wees het) by die deur staan. Minnie vra of Gayle daar is omdat hy met haar wil praat. Terself-dertyd beweeg hy deur die deuropening. Die eiser
4 keer hom met sy arm en sê dat Gayle besig is om aan te trek. Daarop slaan Minnie die eiser in sy gesig. Die eiser strompel terug en Minnie slaan en stamp hom herhaaldelik met sy vuis en knie. Gayle probeer keer maar Minnie sê vir die eiser: "Do you know who I am, I'll ... kill you". Vervolgens beskuldig Minnie die eiser dat hy eersgenoemde se vriendin opgebel en twak aan haar oorgedra het. Hy hervat sy aanval met die vuis en knie en sê dan:

"Come, we are going to go to my girlfriend
and you are going to tell her you haven' t

been phoning."

Daarop kry Minnie die eiser beet by die hare van sy agterkop en sleep hom as' t ware met die trappe af na die grondvloer van Hayleigh waar Minnie sy vinger in die eiser se oog steek. Terwyl Minnie nog steeds die eiser beet het, beweeg hulle ongeveer 50 meter na 'n punt in Clydestraat en vandaar na die
5 ander kant van die straat. Terwyl hulle Clydestraat oorsteek, slaan Minnie die eiser in die ribbes. 'n Waarnemer ("X") vra vir Minnie wat aan die gang is. Minnie antwoord dat die eiser 'n verdagte persoon is waarop X sê dat Minnie onmenslik optree. Laasge-noemde se reaksie is tweërlei. Eerstens dwing hy die eiser om op sy rug op die sypaadjie van Clydestraat te lê en sit hy sy voet op die eiser se nek, en tweedens snou hy vir X toe dat hy (Minnie) 'n speur-dersersant is en dat "if you want a piece of me, come and get it". 'n Klein skare vergader en 'n dame maak die venster van 'n woonstel in Clydestraat oop. Sy leun by die venster uit waarop Minnie vir haar skreeu dat hy speurdersersant Minnie is en dat sy die polisie telefonies moet ontbied. Later sê Minnie vir die eiser: "You can go, I am finished with you now". 'n Omstander sê egter dat die polisie aan die kom is. Kort daarna daag twee vangwaens op. Minnie lig sy
6 voet vanaf die eiser se nek en neem hom na die agter-kant van een van die waens. Op bevel van 'n ander polisieman klim die eiser in die wa. Gayle kom egter aangehardloop, vertel wat gebeur het, en uiteindelik gaan die eiser, Gayle en polisiebeamptes na die eiser se woonstel waar hy 'n verklaring aan konstabel Goosen maak.

Die eiser getuig ook dat Minnie nooit vir hom gesê het dat hy gearresteer word nie, en dat geen rede verskaf is waarom hy in die vangwa moes klim nie.

Gayle het die eiser se weergawe aangaande die aanvanklike aanranding op hom, en die gebeure na haar aankoms by die vangwa, gestaaf. Sy het egter uit die woonstel gehardloop nadat Minnie haar uit die pad gestoot en voortgegaan het om die eiser te slaan.

Goosen het ook ten behoewe van die eiser

7 getuig. Al wat vermeld hoef te word, is sy getuienis dat toe hy by die toneel in Clydestraat opdaag Minnie vir hom gesê het dat hy die eiser na 'n bepaalde polisiestasie moes neem vir sogenaamde daggatoetse.
Die eiser het nog twee getuies wat volgens hulle waarnemers van die gebeure in Clydestraat was, opgeroep. Die landdros het egter bevind dat hulle powere getuies was en vir huidige doeleindes is dit ook nie nodig om na hul weergawes te verwys nie.

Minnie was die enigste persoon wat getuig het nadat die eiser sy saak gesluit het. Hy verhaal soos volg. Die oggend van 27 Februarie 1988 maak sy vriendin ("Bernadine") sekere mededelings aan hom. In die lig van sy eie kennis kom dit daarop neer dat Gayle vir Bernadine geskakel het en gesê het dat sy vir Minnie wou ontmoet. Daarna gaan hy na 'n krieketwedstryd. Bernadine daag later op. Sy is in trane. Sy gee te kenne dat sy vir Gayle geskákel het

8

en dat laasgenoemde gesê het dat indien Minnie haar wou sien dit nie vir Bernadine aangaan nie. Later besluit hy om Gayle op te soek en aldus vas te stel wat aan die gang is. Ene Marais laai hom naby Hayleigh af en beloof om vir hom te wag. Die voor-deur van die eiser se woonstel is oop maar geen lig brand binne nie. Hy klop en 'n persoon wat later vir hom blyk die eiser te wees, kom tot in die ingangs-portaal. Minnie stap binne en vra of Gayle daar is. Die eiser sê: uit! Minnie meld dat hy met Gayle wil praat. Die eiser reageer op twee wyses. Eerstens herhaal hy sy bevel en tweedens slaan hy Minnie op sy mond. Daarop gebruik Minnie beide sy vuiste. Die linkervuis skram weg maar die regtervuis tref die eiser vol in die gesig. Minnie gebruik ook sy knie en stamp die eiser in sy maag. Daarop gryp die eiser hom en 'n ligte struweling ontstaan terwyl hy probeer om een van die eiser se arms agter laasgenoemde se
9 rug vas te pen. Gayle verskyn op die toneel en trag om tussenby te tree. Minnie stoot haar weg waarop sy uit die woonstel hardloop.
Minnie vervolg dat hy die eiser uit die woonstel dwing met die mededeling dat hy hom na 'n polisiestasie neem. Die rede is dat Minnie die identiteit van sy aanrander wil vasstel en 'n klagte teen hom aanhangig wil maak. Terwyl hy die eiser se regterarm agter dié se rug vashou gaan hulle met die trappe na benede en daarvandaan na die plek waar Marais op Minnie sou wag. Marais en sy voertuig is egter nie daar nie. Ter nakoming van 'n bevel van hom gaan lê die eiser op sy maag op die sypaadj ie. 'n Vrou kyk uit by 'n venster van 'n woonstelgebou en Minnie, met verstrekking van sy amp en identiteit, vra haar om die polisie te skakel omdat hy 'n vangwa benodig. Net daarna probeer die eiser opstaan. Minnie sit sy voet op die agterkant van die eiser se
10 nek en sê dat hy moet bly lê totdat die polisie opdaag. 'n Aantal persone versamel en op 'n navraag meld Minnie dat hy besig is met 'n arrestasie. Later daag 'n vangwa op. Hy vra vir Goosen om die eiser na 'n spesifieke polisiestasie te neem, maar noem nie 'n rede vir die versoek nie.

Die landdros het bevind dat daar weersprek-ings tussen die getuienis van die eiser en dié van Gayle was maar dat hulle nie wesentlik was nie. Hoewel hy hulle blykbaar as bevredigende getuies beskou het, was sy geheelindruk egter dat hulle getrag het om die gebeure 'n bietjie meer dramaties voor te stel as wat "dit dalk in werklikheid was". Wat Minnie se houding in die getuiebank betref, meld die landdros slegs dat hy selfversekerd en vol ver-troue voorgekom het. Nogtans is Minnie se verweer van noodweer verwerp. In eerste instansie bevind die landdros dat Minnie se weergawe van sy beperkte

11

geweldsuitoefening nie te rym is met die veeltal beserings wat die eiser volgens onder andere 'n mediese getuie opgedoen het nie. Tweedens bevind die landdros dat Minnie volgens sy eie weergawe ongenooid die woonstel ingestap het en derhalwe die "aanvaller" was.

Vervolgens konkludeer die landdros dat die appellant en Minnie gesamentlik en afsonderlik teen-oor die eiser aanspreeklik is vir die skade wat hy gely het as gevolg van Minnie se optrede. Ek keer aanstons terug na die redes hiervoor betreffende die appellant se aanspreeklikheid. Op hierdie stadium meld ek slegs dat die som van R2 000 toegeken is as vergoeding vir die pyn en lyding wat die eiser onder-vind het, en 'n identiese bedrag vir aantasting van sy waardigheid. (Die eiser se vordering ten opsigte van vryheidsberowing is voor die verhoor geskik.)

Die appellant het hierna in hoër beroep na

12 die Oos-Kaapse Afdeling gegaan. Dié appèl, wat nie deur die eiser of Minnie bestry is nie, was egter nie suksesvol nie. Die hof van appèl het naamlik ook bevind dat die appellant middellik vir die regsge-volge van die onregmatige optrede van Minnie aan-spreeklik was. Verlof is egter aan die appellant verleen om na hierdie hof te appelleer. Vandaar die onderhawige appèl wat ook nie deur die eiser of Minnie bestry is nie.

Die kernvraag is of Minnie binne die bestek van sy diensbevoegdhede as polisiebeampte, en dus as werknemer van die Staat, opgetree het. Die landdros se bevindinge dienaangaande kan soos volg saamgevat word: Volgens Minnie het hy homself aan diens geplaas toe die eiser hom geslaan het, en het hy daarna as polisiebeampte opgetree ten einde 'n klag teen die eiser aanhangig te maak. Derhalwe het hy van meet af bedoel om as polisiebeampte op te tree en

13

is die appellant in die lig van die beslissing van hierdie hof in Minister of Police v Rabie 1986 (1) SA 117 (A), solidêr aanspreeklik vir die skade wat die eiser gely het.
Op appêl na die Oos-Kaapse Afdeling is betoog dat die landdros nie geregtig was nie om aan die een kant Minnie se weergawe oor sy geweldstoepas-sing te verwerp, en aan die ander kant sy ipse dixit oor sy gesindheid te aanvaar. Hierdie betoog is egter verwerp. In hierdie hof het die appellant weer eens aangevoer dat die landdros nie Minníe se getuie-nis oor sy oogmerke moes aanvaar het nie, en ek meen dat hy dit reg had. By 'n deurlees van die landdros se uitspraak tref dit dat hy nêrens bevind of die eiser wel vir Minnie met die vuis geslaan het nie. En indien dit nie gebeur het nie, kan vanselfsprekend geen gewig geheg word nie aan Minnie se weergawe dat hy homself onmiddellik na die beweerde hou aan diens
14 geplaas het en as polisiebeampte opgetree het.
Dit is onnodig om in besonderhede die botsende weergawes te kontrasteer. Die volgende oorwegings toon m i onteenseglik aan dat Minnie in die algemeen 'n ongeloofwaardige getuie was:

a)Volgens Minnie is hy na die woonstel om navraag te doen oor o a 'n oproep aan Bernadine, maar het hy nooit daarvan melding gemaak nie. Hoe sou die eiser dan kom aan sy getuienis dat Minnie hom van 'n oproep aan Bernadine beskuldig het?
b)Daar was nie 'n rede waarom die eiser vir Minnie sou slaan nie alvorens laasgenoemde voldoende geleentheid gehad het om te reageer op die eiser se bevel - volgens Minnie - dat hy uit die woonstel moes padgee.
c)Dit is hoogs onwaarskynlik dat die eiser in die donkerte na die voordeur van die woon-stel sou gaan in reaksie op 'n klop aan die deur.

15 Hoe dit ook al sy, daar was geen rede nie waarom Minnie die eiser na 'n polisiestasie moes neem om o a sy identiteit vas te stel. Nadat hy die eiser tot oorgawe gedwing het, kon hy tog 'n lig van die woon-stel aangeskakel het.

d)Indien Minnie se weergawe juis is, sou ' n mens verwag dat hy die eiser daar in die woonstel sou meegedeel het dat hy hom weens aan-randing in hegtenis neem. Hy het dit egter op geen stadium gedoen nie.
e)Onthou sal word dat volgens Goosen hy deur Minnie gevra is om die eiser na 'n polisie-stasie te neem vir daggatoetse. Dit is haas ondenk-baar dat Goosen hierdie brokkie getuienis kon versin het en dit is klaarblyklik onvereenselwigbaar met 'n oogmerk van Minnie om 'n aanrandingsklag aanhangig te maak. Trouens, Minnie beweer ook nie dat sodanige klag ter sprake was nie. Volgens hom het hy glád nie

16 aan Goosen 'n rede verstrek waarom die eiser in 'n vangwa gelaai moes word nie - en dit is in sigself uiters onwaarskynlik.

f) Minnie sê dat hy uiteindelik nie 'n aanrandingsklag teen die eiser aanhangig gemaak het nie omdat dit ' n geval van suur druiwe sou wees. Hierdie motivering maak geen indruk nie.

Ek bevind dus dat die eiser se weergawe substansieël aanvaarbaar is en dat Minnie se strydige getuienis verwerp moet word. Dit volg dat die eiser nooit vir Minnie geslaan het nie en dat laasgenoemde van meet af die geweldenaar was. Hy kon hom dus nie, soos hy dit stel, na 'n hou van die eiser aan diens geplaas het nie. Inteendeel toon die waarskynlikhede aan dat tot by die gebeure in Clydestraat Minnie nooit beoog het om 'n klag teen die eiser aanhangig te maak of andersins as 'n polisiebeampte op te tree nie. Daardie waarskynlikhede dui ook daarop dat die
17 volgende gebeur het:
Minnie was gegrief oor die mededelings wat Bernadine aan hom gemaak het. Allig het alkohol wat hy by die krieketwedstryd gedrink het sy inhibisies verminder. Toe die eiser hom toegang tot die woon-stel weier, het hy gevolglik ontplof. Nadat hy die eiser in die woonstel aangerand het, was sy gevoel van gegriefdheid nog nie heeltemal afgestomp nie. Hy wou toe opsluit die eiser na Bernadine neem sodat die eiser 'n verduideliking oor die telefoonoproep aan haar kon gee. Omdat hy Marais se voertuig nie kon vind nie en omstanders begin navraag doen het oor sy optrede teenoor die eiser, moes hy egter 'n verduide-liking bedink. Hy het toe vir die eerste keer laat blyk dat hy 'n polisiebeampte was en dat hy in daar-die hoedanigheid die eiser weens die pleging van 'n misdaad onder bedwang gehad het. Gerieflikheidshalwe noem ek die gebeure tot bostaande verstrekking van 'n
18 verduideliking die eerste fase, en dié daarna die

tweede fase.
Gedurende die eerste fase het Minnie nooit beoog om as polisiebeampte op te tree of voorgegee om sulks te doen nie. In besonder is daar geen sprake dat hy van sy bevoegdhede as polisiebeampte gebruik gemaak het of wou maak nie. Hy het dus nie binne die omvang van sy diensbevoegdhede opgetree nie.

Die tweede fase is meer problematies. Die aanranding het nog voortgeduur in die sin dat Minnie as't ware die eiser se nek met sy voet vasgepen het, en hoewel dit nie blyk dat hierdie optrede pyn ver-oorsaak het nie, is die eiser se waardigheid sekerlik daardeur aangetas. Indien die appellant middellik aanspreeklik is, sou hy dus vir 'n gedeelte van die bevonde skade aanspreeklik wees.

Ons is gevra om die juistheid van die meerderheidsuitspraak in Rabie in heroorweging te
19 neem. Om redes wat volg meen ek nie dat dit nodig is
om aan die versoek te voldoen nie. Dit is in elk geval onwenslik omdat slegs die appellant by die verhoor van die appèl verteenwoordig was.

In Rabie is bevind dat waar ' n persoon as polisiebeampte aangestel word die Staat 'n risiko van onregmatige benadeling van derdes skep; d w s 'n risiko dat die beampte sy bevoegdhede vir sy eie doeleindes kan misbruik deur bv aanranding en onreg-matige arrestasie. Jansen AR het dit nie nodig geag om die perke van aanspreeklikheid weens die skepping van die risiko te omskryf nie maar het vroeër in die uitspraak gesê (op p 134D-E):

"... if there is ... a sufficiently close link between the servant's acts for his own interests and purposes and the business of his master, the master may yet be liable." Dit kom my dus voor dat selfs by 'n toepas-
20 sing van die Rabie-maatstaf die verband tussen onreg-matige benadeling deur 'n polisiebeampte vir sy eie doeleindes, maar met aanwending van sy bevoegdhede, en die risikoskepping so skraal kan wees dat die Staat nie middellike aanspreeklikheid oploop nie.

Ek keer terug na die tweede fase. Minnie het nooit uit eie beweging besluit om die eiser te arresteer of aan te kla nie. Inderdaad het hy nooit die eiser meegedeel dat hy onder arres was nie. En soos reeds gemeld, was dit slegs die aanwesigheid van omstanders wat meegebring het dat hy met vermelding van sy amp versoek het dat die polisie ontbied moes word. Selfs toe wou hy sy fisiese aanhouding van die eiser ongedaan maak. Hy het naamlik op 'n latere stadium, maar voor die aankoms van die vangwaens, vir die eiser gesê:

" (Y)ou can go, I am f inished with you

now."

21

Sy voorneme is egter gefnuik omdat een van die omstanders geskreeu het:

"(N)o wait for the police, they are coming

now."
In Rabie is bevind dat die betrokke polisiebeampte "intended throughout to act as a policeman, in the sense of intending to exercise his authority as a policeman", en dat hy inderdaad dus-danig opgetree het. Per kontras, en soos blyk uit bostaande, wou Minnie nie die eiser arresteer nie en het hy dit nie gedoen nie. En nieteenstaande wat hy laat blyk het, wou hy ook nie sy bevoegdhede as polisiebeampte uitoefen nie. Alles wat hy in Clyde-straat te kenne gegee het, was bloot bedoel as rook-skerm om teenoor andere sy geweldsuitoefening in sy persoonlike hoedanigheid te verbloem. Minnie se gedrag tydens die tweede fase is gevolglik so ver verwyderd van die risikoskepping deur sy aanstelling

22

as polisieman dat die Staat nie daarvoor aanspreeklik gehou kan word nie.
Ten slotte meld ek dat die appellant nie op enige kostebevel aangedring het nie.

Die appêl slaag en die volgende word gestel in die plek van die bevel van die hof a quo:

"Die appél slaag en die bevel van die landdros word gewysig om te lui:

'Die tweede verweerder word gelas om die
som van R4 000 en gedingskoste aan die

eiser te betaal.'"

H J O VAN HEERDEN AR

SMALBERGER AR

KUMLEBEN AR

STEM SAAM F H GROSSKOPF AR

HOWIE AR AR